Seksuele reinheid en huweliksgeluk kan slegs op die pad van Wysheid verkry word.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-01-23
Text: 
Spreuke 5-7
Reference: 
Leer en laat leer 3
Preek Inhoud: 

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

Mevrou Wysheid en Mevrou Dwaasheid – verlede week het ons veral gekyk na die simboliese betekenis van hierdie dames. Hierdie twee dames verteenwoordig twee lewenspaaie: die pad van wysheid waarop die regverdiges gaan, en die pad van dwaasheid waarop die goddelose gaan. En tereg dat ons aan die simboliese betekenis éérste aandag geskenk het – want dit gaan oor die rigting van jou lewe, dit gaan oor daardie fundamentele keuse vir wie jy jou hart gee, en dit gaan ten slotte oor die uiteinde van jou lewe. Geen onbelangrike saak nie!

Maar daar is nog ‘n ander dimensie aan hierdie dames, en dit is die meer letterlike dimensie. Hierdie dames verteenwoordig op ‘n letterlike vlak die keuse – wat die seun, die leerling, van Spreuke moet maak – tussen ‘n goeie vrou en ‘n slegte vrou, tussen ‘n gesonde seksualiteit en ‘n skeefgegroeide seksualiteit. En veral wanneer dit kom by die slegte vrou draai die Spreukedigter geen doekies om nie. Hy spandeer die grootste deel van drie hoofstukke (die hele Spr. 5, die tweede deel van Spr. 6 en die hele Spr. 7) om die seun teen hierdie slegte vrou te waarsku. Amper ‘n derde van die inleiding (Spr. 1-9) gaan hieroor...

 

Vanwaar hierdie oormatige fokus op die huwelikskeuse en die seksuele reinheid van die leerling van Spreuke? Terloops, hoewel hierdie leerling ‘n seun is, ‘n jongman, verstaan ons hooplik almal dat ons dit nie tot die manlike geslag hoef te beperk nie. Spreuke is uiteraard gerig aan die seun (soos wat ons lees in 5:1, 6:20, en 7:1), maar dit sluit die vroulike geslag nie uit nie! Die doel van Spreuke is ook nie om te sê dat seksuele sonde die eksklusiewe fout van die vreemde vrou is nie – in plaas van ‘n sensuele, verleidelike jongdame kan ons onsself ewegoed ‘n aantreklike, gladdemond casanova voorstel. Die beginsels wat hier vir ons uiteengesit word, geld vir sowel mans as vroue.

Maar... nog steeds bly die vraag: vanwaar hierdie oormatige fokus op die huwelikskeuse en die seksuele – en dít nogal in die inleiding tot die boek Spreuke? Wel, gemeente, Spreuke is gewortel in die praktyk van elke dag. En jy hoef maar net jou oë en jou ore oop te hou om te weet watter groot rol hierdie onderwerp in die daaglikse lewe speel; jy kan maar net om jou heen kyk om te sien hoe verwoestend verkeerde keuses op die gebied van huwelik en seksualiteit is; en as jy getroud is (of was), kan jy maar net na jou eie lewe kyk om te sien hoeveel vreugde óf hartseer jou keuse vir jou gebring het. Ons het hier te make met een van die mees verreikende keuses wat jy ooit in jou lewe gaan maak: die keuse van ‘n lewensmaat; en vervolgens die daaglikse keuse van trou of ontrou aan daardie lewensmaat. Goeie, wyse keuses in dié verband bring vir jou die grootste vreugde en dankbaarheid; verkeerde, dwase keuses bring onbeskryfbare hartseer en verwoesting... Daarom dat die Spreukedigter aan Mevrou Wysheid en Mevrou Dwaasheid hierdie dubbele gelaagdheid gee: simbolies (in die eerste plek), maar vervolgens ook baie letterlik! En dis hierdie letterlike waarna ons vandag gaan kyk...

Tema: Seksuele reinheid en huweliksgeluk kan slegs op die pad van Wysheid verkry word.

  1. Buite
  2. Binne
  3. Binnestebuite

 

1. John Bunyan, die bekende outeur van The Pelgrim’s Progress, het ook nog ‘n ander boekie geskryf, getiteld The Holy War. Dit gaan oor ‘n stad, Mansoul (‘n bedekte verwysing na man’s soul – die mens se siel) – en Mansoul word by verskillende van die poorte, wat toegang tot die stad gee, deur ‘n vyandige mag aangeval: daar is aanvalle by die Oog-poort, by die Oor-poort, by die Neus-poort, by die Mond-poort, en by die Gevoel-poort.

Nou, as ons die vreemde vrou van Spreuke 5-7 dophou, dan sien ons hoe sy die jongman by al hierdie poorte aanval. Sy val hom aan by die Oog-poort, m.a.w sy verlei hom met dít wat hy sien – haar uiterlike, haar skoonheid, haar klere wat haar goed-gevormde liggaam beklemtoon (Spr. 6:25, 7:10 – gaan nie al die tekste noem, net ‘n paar). Sy val hom aan by die Oor-poort met haar woorde – sy vlei hom met haar woorde, sy verlei hom met haar mooipraatjies, sy verlok hom met haar lippe wat van heuning drup (Spr. 5:3, 6:24, 7:5, 15, 21). O ja, sy weet hoe om hierdie man te vang – sy streel sy ego op ‘n manier wat onweerstaanbaar is: “Jy is so wonderlik, so slim, so goed, jy is presies die man wat ek gesoek het” (Spr. 7:15). Met haar aanraking val sy hom ook aan by die Gevoel-poort: sy soen hom, haar lippe is warm, haar vel is sag. Hy kan dit nie weerstaan nie (Spr. 7:13). Haar parfuum waai deur die Neus-poort binne, en sy nooi hom na die geur van mirre, alewee en kaneel waarmee haar bed besprinkel is (Spr. 7:16-17). Sy val selfs die Mond-poort aan (Spr. 7:14) – want sy weet dat die pad na ‘n man se hart deur sy maag loop.

 

Só, broers en susters, word al ons sintuie aangeval wanneer die seksuele verleiding op ons afkom. En die een sintuig sal die een keer sterker aangeval word as die ander sintuig; en vir die een persoon is die een sintuig sensitiewer as vir die ander persoon. Maar sien raak dat die seksuele verleiding in jou hart wil inkom, en die sintuie – dit wat ons sien, dit wat ons hoor, dit wat ons voel, dit wat ons proe, dit wat ons ruik – die sintuie is die toeganspoorte na jou hart! Jou man komplimenteer jou dalk nie meer met jou uiterlike of met jou klere, soos wat hy in die begin gedoen het nie – en skielik is daar ‘n ander man wat op ‘n baie subtiele manier vir jou sê hoe mooi jy lyk, en hoe goed daardie nuwe klere lyk (deur die Oor-poort wil die verleiding in jou hart inkom). Jy kyk TV, en skielik sien jy daar ‘n vrou wat skamel gekleed is – en jou gedagtes gaan op hol (deur die Oog-poort wil die verleiding in jou hart inkom). Jy stap verby ‘n mooi vrou of ‘n aantreklike man – en jy ruik die parfuum, en dit doen iets aan jou (deur die Neus-poort wil die verleiding in jou hart inkom).

Broers en susters, ons moet so goed hiervan bewus wees – hierdie poorte is nie maar net poorte nie (dis nie maar net: ek kyk gou, of ek luister gou, of ek voel gou, of ek ruik gou nie) – nee, deur hierdie poorte verkry die vyand toegang tot die hele stad; deur jou sintuie verkry die verleiding toegang tot jou hart! Dit is hoe die seksuele verleiding op jou afkom. Wees bewus hiervan, ondersoek jouself, weet watter sintuig jou swak poort is (en dit gaan by elkeen van ons verskil), en sit ekstra wagte uit by daardie poort – dit beteken: vermy persone vir wie jy dalk gevoelens ontwikkel; vermy dit om alleen op die internet te wees as jy weet dat jy die verleiding nie kan weerstaan nie; vermy dit om alleen in die kamer te wees as julle-twee nie julle hande van mekaar kan afhou nie. Moenie die waarskuwing van die Wysheid in die wind slaan nie!  

 

Maar die Wysheid waarsku ons ook nog op ‘n ander manier – op ‘n manier wat so tipies aan die Wysheid is. Die Wysheid is immers nie die een om met die vinger te swaai en te sê: dit moet jy doen of dit mag jy nie doen nie. Onthou dit van die Spreukeboek: die Spreukeboek is nie ‘n wetboek nie; dit gee nie primêr wette of reëls nie – dit beskryf lewenssituasies! Nou, ook op hierdie punt van seksuele onreinheid en huweliksontrou beskryf die Spreukedigter vir ons eenvoudig wat die gevolge is wanneer jy hierdie verleiding in jou hart toelaat en daaraan toegee. Die Spreukedigter sê nie: die Here gaan jou straf, of: dis teen die wil van die Here nie. Nee, eintlik word die Here se Naam glad nie eens in hierdie hoofstukke genoem nie. Natuurlik, die vrees vir die Here (Spr. 1:7) is altyd op die agtergond aanwesig, maar dis so tipies van Spreuke (en die ander wysheidsboeke) om eenvoudig te kyk na wat die logiese gevolge van jou dade is. Wat is, in die praktyk van die lewe, die ‘natuurlike’ gevolge wanneer jy aan die verleiding van seksuele onreinheid toegee?

1) Wel, seksuele sonde sal jou in die eerste plek fisies in gevaar bring (5:9 & 11, 6:34-35) – daar is uiteraard die gevaar van allerhande siektes, maar dan is daar ook die lewensgevaar van ‘n jaloerse eggenoot wat wraak soek – Spr. 6:34: “... jaloersheid is ‘n toorngloed in ‘n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie.” As jy jou naaste se man of vrou verlei, gaan óf jou eie eggenoot, óf die ander se eggenoot, óf beide briesend-jaloers wees – en jy wil nie in die pad van daardie woede en jaloesie beland nie. 2) Seksuele sonde sal jou vervolgens ook finansieel ruïneer (5:10, 6:26, 29:3) – dit kos duur om rond te slaap; dit kos duur om ‘n skelmpie te moet onderhou, om nie eens te praat van die kostes wanneer iemand begin om jou af te pers nie. En egskeiding is nie goedkoop nie – behalwe die egskeiding self, is daar die duur pad om twee huishoudings te moet onderhou. Bly daarom weg van hierdie afgrond, “sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid nie in die huis van ‘n uitlander kom nie” (Spr. 5:10). 3) Vervolgens sal seksuele sonde ook jou reputasie verwoes (5:14, 6:33) – met een daad kan jou naam daarmee heen wees, “sy smaad sal nie uitgewis word nie” (Spr. 6:33). 4) En wat van die feit dat seksuele sonde jou gesin uitmekaar skeur (5:16-17)? Ons lees in hoofstuk 5:16: “Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine?” Hierdie vers staan in die middel tussen vers 15 (“Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put”) en vers 17 (“Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie”). Jou reënbak (jou huwelik, jou vrou, jou gesin) is joune, maar met seksuele sonde kry daardie reënbak seer, kraak hy, breek hy, en loop die water uit – jou huwelik breek op, jou gesin breek op. En om dít reg te maak...

Op verskillende maniere wys die Spreukedigter vir ons wat die logiese, natuurlike gevolge is wanneer ons toegee aan seksuele verleiding. En ons sien dit om ons heen, broers en susters – ons sien dit in die samelewing, ons sien dit in die gemeente. Baie pynlik! Dit is eenvoudig nie die moeite werd nie. Oppas daarom vir enige iets of enige iemand wat jou kan verlei – en wanneer jy dreig om wel verlei te word, gaan sit dan eers, en dink mooi na oor die gevolge van wat jy wil doen. Ja, ons ken almal die sewende gebod (“jy mag nie egbreek nie”), benader die saak vanuit ‘n ander hoek: die wysheid vat jou na die praktyk van elke dag, en sê eers: “Oppas!” En vra vervolgens: “Is dit regtig die moeite werd?”

Dit was ‘buite’ (dit wat van buite af kom en ons wil verlei); vervolgens let ons op ‘binne’.

 

2. Die Wysheid wil jongmense bring tot ‘n goeie keuse vir ‘n lewensmaat. Die Wysheid weet hoe belangrik hierdie keuse is. Want (sê Spreuke 18:22) “wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die Here verkry” – en ‘n vrou verwys hier uiteraard na ‘n goeie vrou. Wie wil nie ‘n goeie, verstandige vrou hê nie? Wie wil nie ‘n vrou hê wat iets van Spreuke 31 weerspieël nie? Of aan die ander kant: wie wil aldag, heeldag met ‘n kywende vrou opgeskeep sit? Vyf keer binne ‘n paar hoofstukke hoor ons hoe erg dit moet wees: “Dit is beter om op die hoek van ‘n dak te woon as by ‘n twisgierige vrou en ‘n gemeenskaplike huis” (Spr. 21:9), en “’n aanhoudende gedrup op die dag van ‘n stortreën en ‘n twisgierige vrou is net eenders” (Spr. 27:15; sien ook 19:13, 21:19, 25:24). Hierdie monotone, aanhoudende gekla van een van die twee eggenote, is so skadelik; dit hol die verhouding van binne-af uit. Sodanig dat die ander een ten einde laaste sê: ek gaan slaap maar liewer in ‘n ander kamer, ek gaan bly maar liewer in ‘n ander deel van die huis.

Jongmense, dit is daarom ‘n geweldige belangrike keuse wat julle moet maak – die keuse vir ‘n lewensmaat. Onthou: in teenstelling tot wat die wêreld aan ons voorhou en in teenstelling tot wat ons om ons heen sien, is die keuse wat jy maak ‘n keuse vir die lewe. Dis nie maar ‘n kwessie van: as dit nie werk nie, kan ons maar weer uit mekaar gaan. Nee, wie homself aan ‘n man of ‘n vrou verbind, doen dit tot die dood julle skei. Leer daarom van Mevrou Wysheid watter soort vrou jy moet soek; kry van haar wysheid sodat jy weet waarvoor jy moet kyk. O, vir seker, ‘n mooi vrou of ‘n aantreklike man is nie lelik nie, maar kyk verder, kyk dieper – soek na wysheid in jou toekomstige lewensmaat, soek na verstandigheid, soek na betroubaarheid, soek na die vrees vir die Here. Want “’n goue ring in ‘n vark se snuit, so is ‘n vrou wat mooi is maar sonder beleid” (Spr. 11:22). Skoonheid vergaan, en waarmee bly jy dan agter?

 

Maar wie ‘n goeie vrou gevind het, mag ook regtig van haar geniet – ook op seksuele gebied. Die seksuele is ‘n gawe van die Here, in teenstelling tot wat so dikwels in die kerkgeskiedenis beweer is. So dikwels is die seksuele beskou as ‘n noodsaaklike euwel – iets wat nodig is vir die voortplanting van die menslike geslag, maar wat nie geniet mag word nie. Hierdie siening het gelei tot die beweging van die kloosterwese, waar manne en vroue afstand gedoen het van die huwelik en van seksualiteit; en dit het ook gelei tot die selibaat (en ons weet maar al te goed vanuit die nuus tot watter skandale dít – veral in die Roomse kerk – gelei het).

Maar, gemeente, binne die huwelik is die seksuele deur God as gawe gegee! Maar dan ook net binne daardie veilige ruimte. “Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put... Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie” (Spr. 5:15 & 17). Man en vrou se seksuele energie moet volledig op mekaar gerig wees. Die man is vir sy vrou, en die vrou is vir haar man die bron van seksuele verversing. En dit mag hulle dan ook voluit geniet, soos wat ons in verse 18 en 19 van hoofstuk 5 lees. Pragtig, die bedwelming wat die geliefdes in mekaar mag vind – man en vrou. Binne hierdie veilige ruimte mag al die sintuie – die sintuie wat in die eerste punt deur die seksuele verleiding aangeval is – voluit betrokke wees. So kan die seksuele dors geles word op ‘n manier wat God behaag – in die weg van die Wysheid.

En dan ten slotte nog iets oor ‘binnestebuite’.

 

3. Spreuke praat eintlik uitsluitlik oor die verleiding van die vreemde vrou vir die man en van die huweliksgeluk tussen man en vrou – dus, oor heteroseksuele verhoudings, en oor seksuele oortredings op ‘n heteroseksuele vlak. Homoseksuele verhoudings en al die seksuele oriëntasies wat ons in ons tyd vind, was glad nie op die horison van die Spreukedigter nie. En tog bied Spreuke vir ons die beginsels, sodat ons (as ons ons tyd reg wil verstaan) ook hieroor iets kan (en moet) sê – en ek doen dit versigtig en respekvol; ons mag nie neerhalend praat oor mense wat met ander seksuele oriëntasies worstel nie. Maar ons mag hieroor nie stilbly nie...

In ons tyd, broers en susters, word seksualiteit volledig binnestebuite gekeer. Die norme wat die Skrif bied, naamlik dat God ‘man’ en ‘vrou’ geskape het en dat die huwelik bedoel is vir een man met een vrou staan vandag onder geweldige druk. En dit is nie so verbasend nie – as die vrees van die Here (die absolute beginpunt vir wysheid!) nie meer in ‘n samelewing heers nie, moet ons nie verwag dat die norme wat die Here gemaak het nog eerbiedig sal word nie. As die Here nie meer gevrees word nie, wie bepaal dan die norm? Die mens self. En soos ons sal sien, het dit skrikwekkende gevolge... Die Skrif self noem al iets hiervan, wanneer Paulus in Romeine 1 vir ons wys hoe God – omrede Hy nie meer gevrees word nie – die mens aan sy eie hartstogte oorgegee het, sodat manne en vroue die natuurlike verkeer (die natuurlike seksuele omgang van man met vrou) laat vaar het en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand het: manne met manne, vroue met vroue (Rom. 1:24-27). Homoseksualiteit, dus. Hoe skokkend dit ook mag klink, maar as dit maar net daarby gebly het. Maar die mens het ‘n manier gevind om nog verder as dit te gaan – sodanig dat dit gewoon geword het in ons tyd om te beweer dat jy ‘n vrou is, wat vasgevang is in ‘n man se liggaam; of ‘n man, vasgevang in ‘n vrou se liggaam. Eenvoudige biologie – naamlik dat ek met manlike of vroulike geslagsorgane gebore is, gaan kyk maar net in die spieël – is nie meer bepalend nie. Eenvoudige biologie – waaraan die Wysheid, volgens Spreuke 8, so wonderlik saamgewerk het – word oorboord gegooi. En die mens gryp vervolgens selfs met chirurgie in die biologie in, en verander eenvoudige biologiese feite: manne word vroue gemaak, en vroue word manne gemaak (transgenderisme).

 

En, gemeente, hierdie dinge gebeur nie maar net in ‘n klein minderheidsgroepie waarmee niemand rekening hoef te hou nie. Nee, want hierdie saak van seksuele identiteit het polities geword. Hierdie dinge gebeur op die hoogste vlakke van die wêreldregering – in die Verenigde Nasies, op die agendas van die groot magte van die wêreld, in die geregshowe, op die strate. Jong kinders vat hulle ouers hof toe omdat ouers weier om hulle seun (wat besluit het om ‘n vrou te wees) ‘dogter’ te noem; jong kinders in Engeland kry ‘n lys met meer as 20 seksuele oriëntasies waaruit hulle mag kies – waarmee identifiseer jy?; mense kry dit reg om die geslag, wat op elke persoon se paspoort aangedui word as ‘manlik’ of ‘vroulik’, te verander na ‘n eenvoudige ‘X’; ouers word aangemoedig om hulle kinders te ondersteun wanneer hulle aandui dat hulle eerder die ander geslag wil wees – dus, as ‘n 5-jarige seuntjie sê dat hy ‘n meisie wil wees, dan moet jy hom daarin ondersteun; besighede beland in die hof omdat hulle weier om troukoeke vir homoseksuele paartjies te maak; badkamers word aangepas om voorsiening te maak vir transgender persone. Hierdie dinge gebeur!

En ons as gelowiges, wat graag by die wysheid van die Skrifte wil lewe, gaan al hoe meer die druk hiervan ervaar. Ons gaan hoe langer hoe meer onder druk geplaas word – nie net om te erken dat hierdie verskynsel bestaan nie, maar om hierdie mense se identiteit volledig te aanvaar. En nie net om dit daarbuite, in die samelewing, te aanvaar nie, maar om te aanvaar dat hierdie mense ‘n volwaardige plek in die kerk mag hê – aan die nagmaalstafel, in die ampte, op die preekstoel. Hier lê die episenter van die volgende Christen-vervolging. En as ons daarom die wysheid wat ons vanoggend in die Spreukeboek ontdek het – die wysheid van een man en een vrou in troue huweliksgeluk – as ons hierdie wysheid wil navolg (soos ons behoort te doen), dan gaan ons onsself gereed moet maak vir bespotting en vervolging. Maar laat dit ons nie afskrik nie – die pad van die wysheid kan ons dalk voor die wêreldse hof laat beland, dit kan vervolgens en bespotting vir ons meebring, maar uiteindelik belowe die wysheid vir ons die lewe. “Die gebod is ’n lamp en die onderwysing ‘n lig en die onderwysinge van die tug ‘n weg tot die lewe” – so sê Spreuke 6:23. Daarom die oproep van Mevrou Wysheid in die begin van hoofstuk 7: “onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel; bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart. Sê aan die wysheid: jy is my suster!, en noem die verstand jou vertroueling.”

Gemeente, laat ons baie goed bewus wees van dít wat vanuit die wêreld op ons afkom – weet wat aan die gang is. Gaan nogtans altyd met respek om met mense wat ‘n ander seksuele oriëntasie het (ons spot hulle nie, ons noem hulle nie name nie). Maar hou vas aan die Wysheid – die wysheid wat in Christus sy hoogtepunt vind. Volg Hom na – en as dit beteken dat jy jou kruis op hierdie punt moet opneem, doen dit dan met vreugde. Want die pad agter Hom aan, lei na die lewe. Die pad van die vreemde vrou, daarenteen – of sy haar in die vorm van ‘n vrou, ‘n man, ‘n homoseksueel of ‘n transgender aan jou voordoen, maak nie saak – daardie pad lei na die dood. “Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood” (Spr. 7:27). Wees daarom wys met die Wysheid, en vind die pad na die lewe.

Amen

Liturgie: 

Votum: Sing Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 97:6 en 7

Wet (+ HK, Sondag 41)

Sing Skr. 51:1 en 5

Gebed

Lees:    Spreuke 5

            Spreuke 6:20-7:27      

Sing Ps. 106:12 & Skr. 41:3

Preek

Amenlied Ps. 128:1 en 2

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 128:3 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.