Bybelse wysheid is transendent, transkultureel, en transformerend

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-01-09
Text: 
Spreuke 1:1-7
Reference: 
Leer en laat leer 1
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Sopas het hierdie doopouers ‘ja’ geantwoord op die vraag of hulle belowe om hulle kinders in die leer van die Skrif te onderrig en te laat onderrig. Nou, dit is hierdie einste frase uit ons doopsformulier wat die kerkraad gelei het om die jaartema vir 2022 te formuleer: “Leer en laat leer”. Wat wil die kerkraad met hierdie tema bereik? Wel, “leer en laat leer” is ‘n oorhoofse tema – ‘n sambreel-tema, as ek dit so kan stel – vir ‘n klompie sake wat in die laaste jaar op die kerkraad se tafel beland het, en wat ons meen aandag nodig het. Sake soos: 1) die gemeente se betrokkenheid by die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn – het hierdie skool nog die hart en betrokkenheid van die hele gemeente, of is dit slegs die ouers wat betrokke is omdat hulle kinders nou eenmaal daar skoolgaan? Is die skool hier langsaan (asook die GSDP) vir ons nog een van die belangrike “laat leer-plekke” vir die kinders van die gemeente? ‘n Tweede saak wat onder die sambreel-tema val: die toerusting van moontlike toekomstige ampsdraers wat hierdie jaar sal plaasvind – immers, goeie ouderlinge en diakens val nie uit die hemel nie; hulle moet toegerus word, hulle moet geleer word. En dan ‘n derde saak: die betrokkenheid van lidmate by die verskillende Bybelstudies wat in die gemeente plaasvind. Hierdie sake – en daar is nog ander – val onder die ‘leer’ en die ‘laat leer’ van die jaartema, en sal deur die loop van die jaar aandag kry.

Nou, om hierdie tema te ondersteun, wil ek in die komende tyd in die prediking aandag skenk aan die boek Spreuke. Spreuke is immers by uitstek ‘n leerboek, ‘n onderrigboek! Dink aan die talle kere dat die Spreukedigter die leerling oproep: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar” (Spr. 3:1). Kyk ook met hoeveel verskillende woorde die Spreukedigter hierdie doel om te onderrig in verse 2-6 aan ons deurgee: om te ken, om te verstaan (vers 2), om verstandig te maak (vers 3), om skranderheid te gee, om kennis en oorleg te gee (vers 4), om insig te vermeerder, om verstandige gedagtes te verkry (vers 5), om te verstaan (vers 6). Op soveel verskillende maniere wys die Spreukedigter vir ons: as jy wil leer en wil laat leer, gebruik dan hierdie boek!

Maar ons moet nog meer spesifiek wees, want hierdie boek wil veral die jongmense leer; kyk maar na vers 4: “om aan die eenvoudiges (2020-vertaling het ‘onkundiges’, kan dit die beste verstaan as ‘onervarenes’) skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg.” Die Spreukeboek is ‘n jongmens-boek. En by jongmens hoef ons nie noodwendig aan tieners te dink nie – nee, die woord wat in vers 4 met ‘jongeling’ vertaal is, word in die Bybel gebruik vir enige iemand tussen 4 maande en 40 jaar – die jonger generasie, dus. Dis húlle vir wie die Spreukeboek in die eerste plek bedoel is. En dit is voor die handliggend, nie waar nie? Wie nog jonk is, moet nog baie leer. En ek bedoel dit geensins neerhalend nie: die feit dat jy jonk is, beteken eenvoudig dat jy ‘n agterstand het by die ouer mense – hulle loop al ‘n langer paadjie in die lewe, hulle het meer kennis en meer ervaring. Dus, jongmense (kleuters tot veertigers!), gebruik hierdie boek wat die Here in die eerste plek vir júlle gegee het!

En wat van die ouer mense? Kan hulle nou maar selfvoldaan agteroor sit en toeskouers van hierdie preekreeks wees? Nee, nee, luister maar na vers 5: “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry.” Die vyftigers en sestigers en sewentigers word opgeroep om saam met die jongmense hierdie boek deur te werk. Ook al is julle verder op die pad, is julle nie te oud om te leer nie – wie dít dink, is nie baie wys nie. Dis juis die ouer lidmate – hulle wat in vers 5 genoem word – wat in vers 6 uitgedaag word om die kennis en die lewenservaring, wat hulle deur hulle lewe al opgedoen het, te toets aan die moeilike spreuke van die Spreukeboek: “om ‘n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels.” Ouer lidmaat, meet jouself dus aan dít wat die Spreukeboek bied.

En wat is dit presies wat die Spreukeboek vir jonk en oud wil bied? Wel, dit word in verse 2-6 weereens met nog ‘n reeks woorde aangedui: tug, insig, skranderheid, kennis, oorleg, en verstandige gedagtes. Verskillende woorde, elkeen met sy eie kleur en nuanse, maar uiteindelik kom dit alles neer op daardie eerste woord in vers 2: wysheid. Die Spreukeboek wil wysheid bied vir die jongmense, en wil wysheid vermeerder vir die ouer mense. Wysheid – ons almal voel waarskynlik intuïtief aan wat met hierdie begrip bedoel word, maar tog is dit goed om vir ‘n oomblik te kyk wat ‘wysheid’ in die Skrif beteken.

Dis opmerklik dat die Hebreeuse woord vir wysheid (chokma) op verskeie plekke gebruik word om vakmanskap mee aan te dui – die deskundigheid om ‘n vak te beoefen. Dink aan Exodus 31:3, waar daar van Besaleël en Oholiab gesê word dat hulle van die Here wysheid gekry het vir allerhande werk in die vervaardiging van die tabernakel, om kunstige planne uit te dink, en om dit uit te voer in goud en silwer en koper en deur houtsnywerk. Besaleël en Oholiab kry dus wysheid vir die inrigting van die tabernakel. Dieselfde sien ons by die bou van die tempel, wanneer Salomo vir die koning van Tirus vra om vir hom ‘n kunsvaardige man te stuur (letterlik staan daar in die Hebreeus: ‘n wyse man) om goud en silwer en koper te bewerk en om figure uit te sny (2 Kron. 2:7). Ons vind dit ook in Esegiël 28:4 en 5, waar daar gepraat word oor die koopmanswysheid van die mense van Tirus, waardeur hulle baie rykdom verwerf het; en in Genesis 41:39, waar daar van Josef se regeerderswysheid gepraat word. Wysheid in die Skrif het op talle plekke dus te make met vakmanskap, die kundigheid (in Engels: die know-how) vir ‘n spesifieke vak. Die Skrif gebruik vir die vakmanskap van die goudsmid, en die koning, en die handelaar, en die seeman, en die kleremaker, en die salfmenger deurgaans dieselfde woord chokma as wat die Spreukeboek gebruik. In beide gaan dit dus oor kundigheid. Die wysheid van die goudsmid is dat hy weet hoe om goue sierade te vervaardig; die wysheid van die seeman is dat hy weet hoe om die skip deur die storm heen te lei; die wysheid van die koning is dat hy weet hoe om sy volk goed te regeer. So bestaan die wysheid van elke vakman daarin dat hy sy vak ken – hy ken sy materiaal, hy ken sy gereedskap, en hy besit die vaardigheid om met behulp van die materiaal en die gereedskap sy doel te bereik. Hy weet wat hy kan en nie kan doen nie – immers, elke vak het sy eie wetmatighede, sy eie volgorde van werk, sy eie grense waarbinne die vakman moet beweeg.

Geld dit nie maar ook vir die lewe nie, broers en susters? Soos die wysheid van die vakman bestaan in die deskundigheid om sy beroep uit te oefen, so bestaan die lewenswysheid vir elke mens in die deskundigheid om die lewe – en die talle situasies wat in die lewe op ons afkom – te kan bemeester. Wysheid vir die lewe is om, soos die vakman, te weet hoe jy behoort te lewe. Of soos wat Spreuke 14:8 ons leer: “Die wysheid van die skrandere is om sy weg (lewenspad, volgens 2020-vertaling) te verstaan.” Die wysheid wat die Spreukeboek wil leer, is die vaardigheid om die pad van die lewe goed te kan bewandel. Nie êrens daarbo in die wolke nie, nie as ‘n swewende filosofie nie; nee, in die praktyk van elke dag – in hierdie boek kom ons daarom manne en vroue teë, kinders en kleinkinders. Ons mag inkyk in hulle huise, hulle sitkamers, hulle kombuise, en selfs in hulle slaapkamers. In hierdie boek gaan dit oor eet en drink, oor handel en ekonomie, oor ontmoetings en gesprekke, oor konings en bedelaars, oor kriminaliteit en regsake, oor seksualiteit, oor lui wees en baklei. Dít is die gewone lewe waarbinne ons ons weg moet vind. En dit is iets wat ons moet leer. Dit is iets wat ons kán leer. Ons moet die lewe as lewenskuns aanleer! En dit is baie meer as net ‘n swart-wit reg of verkeerd; wysheid is nie dieselfde as reg en verkeerd nie, broers en susters, die lewe sit nie so eenvoudig inmekaar nie. Nee, wysheid is om, soos Paulus bid in Filippense 1:9 en 10, te groei in liefde en kennis en ervaring om die dinge waar dit op aankom te kan onderskei! Hoe kosbaar is die verwerwing van hierdie kuns en hierdie kunde om reg te kan lewe. Kosbaar vir jou persoonlike lewe, kosbaar vir die gemeentelike lewe, kosbaar vir die mense om jou heen!

Nou, hierdie wysheid, wat Spreuke aan jonk en oud wil leer, het drie belangrike dimensies waarna ek in die oorblywende paar minute kortliks wil kyk (en wat baie belangrik is vir die res van ons lees van die boek Spreuke, en wat ons by die res van die reeks preke maar in gedagte moet hou). Drie dimensies: die wysheid wat Spreuke wil bied, is 1) transendent, 2) transkultureel, en 3) transformerend (moeilike woorde en ek sal verduidelik wat elkeen beteken, maar dit is goed om hulle te probeer onthou: transendent, transkultureel, en transformerend – ouers, vra ná die diens by die huis maar vir die kinders of hulle hierdie drie kan onthou).

 

  1. Transendent

Die woord ‘transendent’ dui op dit wat bo die normale, geskape werklikheid uitgaan – dit dui dus ten diepste op God, wat totaal onafhanklik van hierdie materiële heelal en van die wette wat vir hierdie heelal geld, bestaan. God is transendent! Dus, wanneer ek sê dat die wysheid wat die Spreukeboek wil bied transendent is, dan bedoel ek daarmee dat hierdie wysheid by God te vinde is. Wysheid vir die lewe hier op aarde vind ons in die hemel, broers en susters! Kyk hoe pragtig word dit vir ons beskryf in die boek Job (deel van die wysheidsliteratuur van die Bybel), hoofstuk 28: vers 1-2, vers 12-14, vers 20, vers 23, vers 28. Hierdie laaste is presies waarmee die boek Spreuke begin in vers 7: “Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis...” En op presies dieselfde manier eindig die boek ook in hoofstuk 30:30, waar daar van die deugsame vrou gesê word: “’n vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word. Met hierdie vrees van die Here (in die begin en aan die einde) word die boek Spreuke as’t ware omarm en saamgebind. As jy wys wil word, as jy kundig wil word vir die lewe van elke dag (in die slaapkamer, in die kombuis, in die tuin, in die motor, op die sportveld, by die winkel, in die kerk, in die straat), dan begin dit met die vrees van die Here.

Nou, hooplik weet die meeste van ons dit, maar kom ons sê dit tog maar weer vir mekaar: vrees is hier nie om bang of verskrik te wees nie. Nee, vrees dui hier op ontsag vir God. Ontsag en eerbied vir die God wat die Skepper is van hemel en aarde en die Maker van elke mens. Ontsag vir Hom wat Homself aan ons geopenbaar het in sy Woord – veral in sy Woord wat vlees geword het, Jesus Christus – maar wat vir ons nogtans die onbegryplike en heilige God bly. Ontsag vir Hom op Wie alle lewe gefokus is en in Wie alle lewe hulle doel vind. Ontsag vir Hom Wie se glorie en heerlikheid ons in elke geskape ding teëkom. Ontsag vir Hom in Wie se aangesig ons  die lewe en die kwessies wat die lewe meebring, begin verstaan. In die aanbidding van hierdie God en in die nalewing van sy reëls is daar wysheid! Wysheid waardeur ons die wil van God in die konkrete omstandighede van die lewe kan onderskei.

Wysheid is daarom nie heel eerste lewenservaring nie – nee, wysheid is Godservaring, wysheid is Christus-ervaring... in die daaglikse lewe. Dit orden die verhouding van die mens teenoor sy buurman, van die man teenoor sy vrou, van vriend teenoor vriend, van vader teenoor kind, van onderwyser teenoor leerling, van elke mens teenoor die arme, teenoor die vyand, teenoor besittings, teenoor begeertes. Teenoor dit wat die naaste aan ons is. Wysheid herstel God se orde in hierdie wêreld. Wysheid is die evangelie vir elke dag (Dietrich Bonhoeffer). Dus, dit is die eerste: wysheid is transendent – ons kry dit slegs in die weg van ontsag en eerbied vir die Here en sy Woord.

 

  1. Transkultureel

Vervolgens is hierdie wysheid, wat van God kom, ook transkultureel – daarmee bedoel ons dat hierdie wysheid waarde het vir alle fasette van die geskape werklikheid: vir die kultuur, maar ook vir natuur. Ons sien dit pragtig in die persoon van Salomo – daardie jong koning wat van die Here wysheid afgebid en ontvang het. In die verhaal van die twee prostitute en hulle babatjies vind ons vervolgens ‘n fasinerende voorbeeld van hoe hierdie wysheid in die praktyk van die lewe uitgeoefen word – sodanig dat die hele Israel (en ek moet sê: ek ook) bevrees was vir die koning (ontsag vir hom gehad het), want hulle het gesien dat daar goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen (1 Kon. 3:28). Ons sien in hierdie verhaal hoe die goddelike wysheid impak het in die sfeer van die regspraak. Maar ons sien ook hoe koning Salomo met sy wysheid alle lae van die samelewing dien: twee prostitute, die laagste klas in die samelewing, ontvang reg met die wysheid wat Salomo van God ontvang het! En dit is omdat alle mense die beeld van God dra. In die Spreukeboek is dit ‘n basiese uitgangspunt. God is die Maker van alle mense, maak nie saak of hulle ryk of arm is nie. Onderdrukking en onreg is daarom lastering van sy Naam: “Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom” – so leer Spreuke 14:31 ons. Dieselfde geld vir alle dade, gedagtes of woorde wat verdeling en konflik tussen mense bring – dit bring chaos in die samelewing. Maar God se wysheid is helend – dit bring lewe, seën, integriteit, geluk en betekenis in die lewe. Dwaasheid, daarenteen, bring die teenoorgestelde: dood, vloek, korrupsie, geweld, en hartseer.

Maar die transkulturele aspek van die wysheid strek hom nie net uit oor die regspraak nie; nee, dit het te make met alle sfere van die lewe: die biologie (plante, diere, ekosisteme), die ekonomie, die landbou, die politiek, die kultuur, ensovoorts. Ons weet dat Salomo bekend was vir sy versameling en kennis van plante, en bome, vee, visse, voëls (so het ons gelees in 1 Konings 4:33); en uit 1 Konings 10:22-24 kan ons aflei dat hy ‘n koninklike tuin en dieretuin gehad het. En dit was nie maar net vir die skoonheid daarvan nie – nee, oor al hierdie sfere het Salomo spreuke uitgespreek, oor al hierdie sfere het hy die wysheid van die Here toegepas, sodanig dat al die volke gekom het om na die wysheid van Salomo te luister.  

Ja, gemeente, die wysheid van die Here stel ons in staat om in die gewone lewe iets van die tuin van Eden te herstel – nog nie naastenby alles nie, net iets baie kleins, maar tog... dis daar! Die tuin van Eden, waar ons weer van die Boom van die Lewe kan eet, want (leer Spreuke 3:18), “wysheid is ‘n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.”

 

  1. Transformerend

En dan, in die derde plek, is die Bybelse wysheid ook transformerend (transendent, transkultureel, en nou ook transformerend). Daarmee bedoel ek dat die Bybelse wysheid, wat van God kom, ons leer om onsself beter te ken. In ons omgang met die Here en met sy skepping word ons self ook verander. En dan gaan dit nie in die eerste plek oor spesifieke dade of woorde nie; nee, dit gaan oor ons karakters. So belangrik, gemeente! Ons etiek is dikwels ‘n reg-verkeerd etiek: iets is reg of iets is verkeerd, en ons moet doen wat reg is. Maar die Bybelse wysheid gaan oor baie meer as dit: die Bybelse wysheid gaan nie net daaroor of ons reg of verkeerd doen nie, dit gaan oor wie ons is! Bybelse wysheid vorm die karakter van die mens; dit vorm die hart van die mens, soos Spreuke daaroor praat: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spr. 4:23). Bewaak jou hart, vorm jou karakter – o ja, ‘n wyse mens maak foute, ‘n wyse mens sê verkeerde dinge, doen dom dinge. Maar die wyse mens leer ook daaruit, en deur observasie en deur onderskeidingsvermoë groei sy en haar karakter. Die Spreukeboek moedig ons daarom aan om te groei in karakter, in deugsaamheid (virtue in Engels!) deur die voortdurende en ywerige soeke na wysheid. Bybelse wysheid transformeer die mens!

En dit is geen eenvoudige pad nie – Spreuke belowe nie wysheid op ‘n simplistiese manier nie. Nee, die Spreukeboek is baie goed bewus van die kompleksiteit van die lewe. En daarom bly ons ons lewe lank worstel om die wysheid van die Here te verstaan. Agur het ook daarmee geworstel in Spreuke 30:2 en 3: “Ja, ek is te dom om mens te kan wees, en ek het geen menseverstand nie. En ek het nie wysheid geleer, sodat ek kennis van die Heilige sou besit nie.” Ons verstaan nie altyd die weë van die Here nie – en let daarop, die Spreukeboek doen ook geen poging om die weë van die Here te verklaar nie. Die moeilike dinge wat oor ons kom – die hartseer oor die dood van ‘n geliefde, die moeite in ons gesin of in my huwelik, die finansiële nood waarin ons is, my depressie, my slapeloosheid, my liefdesteleurstelling, my onsekerheid oor die toekoms – oor dit alles bied Spreuke geen poging tot ‘n antwoord nie. Daarvoor is daar ander wysheidsboeke in die Skrif: Job, Prediker. Spreuke nooi ons eenvoudig uit om die Here te vrees, om op Hom te vertrou (transendent), om sy genade te ontvang, en om te lewe as koninklike skepsele (transformerend) in die grootse wêreld van die hemelse Vader (transkultureel).

 

Broers en susters, hou hierdie drie dimensies van die wysheid in gedagte wanneer ons in die komende maande ons pad deur die Spreukeboek werk: transendent, transkultureel, en transformerend. U kan gerus in die komende week begin om Spreuke 1-9 deur te lees – dit vorm naamlik die inleiding tot die spreuke soos wat ons hulle ken. En kom ons bid daarmee saam dat die Here in en deur hierdie reeks preke vir ons sy wysheid wil skenk. Hoe het elkeen van ons persoonlik dit nie nodig nie? Hoe het ons gemeente dit nie nodig nie? Hoe het ons land dit nie nodig nie? Selfs in die beste van tye kan die lewe maar kompleks wees. En daarom het ons wysheid nodig – vakmanskap, kundigheid – om hierdie lewe goed te kan lewe. Tot eer van God en tot heil van ons naaste.

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 49:1, 4 en 6 (psalms oor wysheid)

Wet

Sing Ps. 94:6-8

Gebed

Doopsbediening

  • Formulier + vrae
  • Doopsbediening
  • Dankgebed
  • Sing Ps. 100:2 en 4 & Ps. 128:3 en 4

Lees:   1 Konings 3:5-13, 16-28

            1 Konings 4:29-34

Sing Ps. 72:1 en 2 (een van 2 Psalms van Salomo)

Teks:   Spreuke 1:1-7

Preek

Amenlied Ps. 111:2 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 119:5, 37 en 38

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.