Drink die medisyn teen besorgheid

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-11-14
Text: 
Matthéüs 6:31-33
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Elke dag trek jy aan, word daar kosgemaak, elke week is ons besig met ons daaglikse werk, en heelwat van ons ure spander ons daaraan. Dis belangrik.

En nou sê Jesus: “moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie.”

Hoeveel energie mag ons hieraan dan spandeer?
Kan ons hiervoor bid, of moet dit juis nie?

“Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” 
Maar ons het laasmaand ’n spesiale gebedsdag vir ons werk en kos gehou. Mag dit? Of moet ons maar liewer vir geestelike dinge bid en maar vergeet van ons liggaamlike behoeftes?

Ek wil graag saam met julle ’n antwoord soek in die bergrede.
Dan kan ons leef en bid soos God dit wil.

Tema:    Drink die medisyn teen besorgheid:
1 - Vertrou op God
2 - Soek eers sy koninkryk

1    Vertrou op God

Jesus leer nie vir ons dat ons onverantwoordelik mag wees tov ons werk en ons gesin nie. Hy juis nog in die vorige hs vir ons geleer om te bid: ‘gee ons vandag ons daaglikse brood’.
Dit sluit aan by wat Jesus in v. 32 sê: “julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”
Die verskil is in die plek wat hierdie dinge in jou hart inneem. Wat is jou eerste en hoogste prioriteit?
Vir ongelowiges (heidene) is dit die daaglikse behoeftes, en enigiets anders wat die lewe aangenaam kan maak. Dis aardse dinge, wat gerig is op hulself.
Ongelowiges sien God nie aan die werk in die natuur en kultuur nie. Hulle dink dat alles in hul eie hande is en van hulle inspanning afhanklik is.

•    Kyk na die skepping
Dit is die moeite werd om mooi te luister na die vergelykinge wat Jesus maak in vs. 26-31.
[26] Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
(skip v. 27)
[28] En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; [29] en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. [30] As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?

Jesus gee twee oortuigende voorbeelde.
Kos en klere is die twee basisbehoeftes van die mense wat na die bergrede geluister het. 2000 Jaar later is dit steeds basisbehoeftes.
En ons weet almal: vir hierdie dinge moet jy werk! Jy kry niks verniet nie.
Dit is juis hierdie dinge waarvoor miljoene mense op aarde elke dag moeite doen. Die meeste van daardie mense werk van 9 tot 5 (of selfs na-ure) net om in hul basiese lewensbehoeftes te voorsien.

Hoor nou wat Jesus hieroor sê:
Hoe kry die voëls hulle kos? Mense moet saai en maai en oes.
Maar die voëls “saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie” Tog voed God hulle.
Dan sê Jesus:
Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
Dit is dus ’n vergelyking van minder na meer: As God dus vir die diere sorg, sal hy seker vir die mense sorg, want mense is baie meer werd as diere. Ons na sy beeld gemaak.

’n Tweede vergelyking:
[28] En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; [29] en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. [30] As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?

Mense het nodig om klere te maak deur te werk en te spin. Ons maak meestal nie self ons klere. Maar as jou klere in ’n fabriek vervaardig is, moet ander mense die werk doen, en moet ons werk om daarvoor te kan betaal.
Maar plante en blomme het ’n skoonheid wat mooier is as die mooiste koninklike gewade. En hulle hoef niks daarvoor te doen nie!
Maar kyk wat met die blomme en die gras gebeur. Jy kan dit orals rondom jou in die stad en in jou eie tuin dalk sien: die blomme verwelk en val op die grond, dit verkleur, dit word platgetrap en opgevee. Die blomme is maar baie kort daar, en tog het God dit so mooi gemaak, mooier as enige mens kan aantrek!
Nogmaal ’n vergelyking van minder na meer: die lewensduur van daardie plante en blomme is maar so kort! As God dit so mooi gemaak het, sal hy julle ook beklee, en nog mooier as dit.
As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?

Jesus wys ons dus op die goedheid van ons hemelse Vader, wat vir sy kinders voorsien. Die manier waarop hy vir voëls en plante sorg, gee vir ons sekerheid dat hy definitief vir ons sal sorg.
Dit neem alle angs en besorgdheid en paniekbevange aktiwiteit weg.

Jesus gee vir ons die perspektief van sy koninkryk. Hy ken ons swakheid, en hy spreek sy dissipels (daardie tyd en nou) aan met die woord ‘kleingelowiges’.
Ons kort geloof. Ons perspektief is te klein, ons kyk net na ons omstandighede en na ons aktiwiteit, en ons raak gejaagd. Ons gaan koorsagtig aan die gang omdat alles van ons afhang – so dink ons.

Dank die Here dat hy vir ons sy koninkryk bekendgemaak het. Almal wat in Jesus glo, mag verseker wees daarvan dat God jou Vader is en dat hy vir jou alles sal voorsien.
“Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? [32] Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”

Daar is net twee opsies.
Óf hierdie sigbare wêreld is alles wat bestaan. Dan is jy aan jouself oorgelewer. Jy moet vir jouself veg en self vir alles sorg, en dus raak jy besorgd en angstig.
Óf die wêreld is God s’n, en hy het Jesus gestuur om dit te bevry van die onderdrukking en vernietiging van die sonde. Sy koninkryk maak ’n deur oop na ’n nuwe toekoms. Almal wat in daardie koninkryk leef, kan uit vertroue leef. Jesus neem jou angs en besorgdheid weg. Hy laat jou kyk na Sy Vader in die hemel, wat vir sy kinders sorg.

•    Watter skatte jaag jy na?

Dit word heel duidelik as ons weer na v 25 kyk. Die heel eerste woord van hierdie gedeelte is ‘daarom’.
Dit verwys terug na vs. 19-24, waar Jesus praat oor die twee verskille skatte wat mense najaag.
Die meeste mense jaag skatte op aarde na. 
Jy kan duidelik raaksien hoekom mense so gejaagd en angstig is: daardie skatte sal vergaan. Dit kan gesteel word en dit hou nie.
Maar wie hemelse skatte bymekaar maak, kan rustig leef: daardie skatte verloor jy nooit nie! Die koninkryk van die hemele is die toekoms.
Dis hoekom Jesus in v. 25 sê: daarom sê ek vir julle: moenie besorgd wees oor jul lewe nie.

Jesus sê nie ‘die aardse skatte is minder werd en die hemelse skatte is beter’ nie. Nee, hy plaas die twee skatte teenoor mekaar. Hulle is mutually exclusive!
Hoekom? Omdat die aardse skatte ’n mag is wat mense slawe maak. Jy dien óf die Mammon, die god van besit, óf die Vader van Jesus Christus. 
Daar is nie ’n middeweg nie.

Wie op aardse skatte gerig is, sluit homself toe in die sondige sisteem: jy word oorheers deur jou afgod. En jy sal altyd onseker en angstig wees, want die skatte waarna jy streef, hou nie. Alle aardse skatte sal vergaan.

In ons gedeelte (25-34) wys Jesus dus die gevolge van hierdie teenoorgestelde koninkryke.
Ons is omring deur die koninkryk van hierdie wêreld, met sy aantreklike skatte. Ons word voortdurend genooi en verlei om daardie skatte te begeer en te versamel.
Dis hoekom Jesus wel 5 maal die woord besorgdheid gebruik, en 3 maal vir ons sê: “Moenie besorgd wees nie!”

Daarom sê ek vir julle: moenie besorgd wees oor julle lewe nie (26)
Daarom moet julle nie besorgd wees en sê: ‘Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?’ (31)
Daarom moet julle nie besorgd wees oor môre nie (34)

Dit is ’n aansporing om sy Vader te vertrou.
Dit is ’n ernstige waarskuwing teen die verleiding van die aardse skatte.
En hy maak dit duidelik dat ons ’n keuse moet maak.

2    Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid

Vers 33 is die hoogtepunt van hierdie gedeelte. Dit is ook die oplossing / medisyn wat Jesus gee teen die angstigheid / besorgdheid oor ons daaglikse behoeftes.

•    Koninkryk

Soek eers die koninkryk!
Die bergrede (Mt5-7) is ’n lang preek op die berg, oor die koninkryk van God, die koninkryk van die hemele.

Jesus vertel oor die nuwe wêreld wat God sal bring. 
Daar sal God regeer, en alles nuut maak. 
Die gevolge van die sonde sal dan ophou. Vir altyd.

Almal wat in Jesus glo en hom volg, is oppad na daardie wêreld.
Maar intussen leef ons steeds in ’n sondige wêreld.
Dit is ’n ander sisteem, met sy eie wette, verwagtings en belonings. As jy vir jouself sorg, sal jy gelukkig wees.
Maar dit is opstand teen God.
Wie deur Jesus gered is, mag in ’n nuwe verhouding met God leef. Die vyandskap is verby, die skuld wat jou van God skei, is versoen. Jy het vrede met God.
Van daardie koninkryk is elke gelowige ’n burger.

En nou is ons roeping om die koninkryk van die hemele binne te gaan deur geloof, en daarin te leef in gehoorsaamheid.
Die bergrede beskryf hoe die koninkryksburgers behoort te lewe. 
Die koninkryk vd hemele is onsigbaar, maar is meer solied en werklik as die dinge wat jy kan tas en vashou.
Hou die Woord van God vas, sodat jy in geloof na alles kyk.
Dan kan jy in die voortdurende stryd tussen die twee koninkryke, die regte keuse maak.

Glo in Jesus. Dan is jy ’n burger van die hemelse koninkryk.
Dan is jy na die komende koninkryk van die hemele op pad.
En dan behoort jy vandag reeds met die koninkryk rekening te hou. 

Dis ’n radikale keuse: soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.

•    Geregtigheid

Hoekom praat Jesus van die koninkryk en sy geregtigheid? Wat is daardie geregtigheid wat ons moet soek?

Daarvoor hoef ons maar net die res van die bergrede te lees.
Jesus het juis in hs 5 en 6 die geregtigheid van die konkr aangespreek.
In hs 5,20 vergelyk hy dit met die geregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs:
Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. (Mt 5,20)
In die wêreld rondom ons tel dikwels die buitekant en gaan die oor wat mense van jou dink. Die Fariseeërs het ook so gedink, en ’n geweldige show van hulle wetsgehoorsaamheid gemaak.
Hulle het seker gemaak dat hulle gewoontes om te vas en te bid en liefdadigheid te bewys, vir almal sigbaar was.

Jesus leer in die bergrede dat die geregtigheid van die koninkryk juis nie ‘n vertoning van ’n mooi buitekant is nie, maar ’n saak van die hart. God sien die hart. Volgelinge van Jesus dissiplineer hulle gedagtes en verlangens, en doen alles vir ’n audience of One: God self. Nie vir mense nie.
Jesus wys dat God se standaarde hoër en suiwerder is and mense se standaarde. God soek heiligheid in die hart. 
In Mt5 wys Jesus die diepte vd wet: nie net moord nie, maar ook haat. Die woord en die hart tel! Owerspel is nie net die verbreking van die huwelik nie, maar begeerte in die hart. Ook beveel God waarheid in die woorde wat ons spreek en liefde vir ons vyande.

Die koninkryk self is dus onsigbaar, maar dit word sigbaar in die gehoorsaamheid van die burgers.

Jesus se bevel is kort en duidelik: maak dit jou prioriteit. Soek eers die koninkryk van God.
As jy dit nie jou prioriteit maak nie, sal die aardse lewe met sy sorge en angste oorneem. Dit trek jou in, en as jy dinge nie vanuit God benader nie, sal daardie dinge belangriker en konkreter lyk as God se koninkryk.
Ons moet groot teenstand, die verleiding tot sonde en die krag van die sonde, daarvoor oorwin. Daarom het ons die bevel nodig. Maak erns met jou toewyding aan Christus se koninkryk – anders sal die sonde (en die angs) oorneem!

Daarby kry ons ’n belofte: 
en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Ja, kos en klere is nodig. Maar as jy dit jou doel maak, gaan jy ’n slaaf van aardse skatte word en moet jy jou hele lewe hardloop en angstig wees.

So bring die koninkryk van God, as jy dit eers soek en jou daaraan onderwerp, alles in die regte verhoudings.

Jy kan dit vergelyk met die opvoeding van kinders. Wat kom eerste, en wat kan later aandag kry?
In die opvoeding is dit nodig dat kinders gesag aanvaar en gehoorsaam. Sonder dit help dit nie om aan enigiets anders te werk nie. Gehoorsaamheid aan gesag is ’n voorwaarde om orde in die gesin te kry en vir jou kinders al die ander dinge te kan leer.

So moet nie ons behoeftes ons lewe beheers en eerste aandag kry nie, maar die koninkryk van God.
Dan sal vervolgens alles sy regte plek kry.
Jou liggaam, jou huwelik, jou werkshouding, jou inkomste, jou vriendskappe – dit word alles ondergeskik aan jou diens aan God en dit kry betekenis in sy koninkryk.

Net soos geld sy verslawende mag verloor as jy dit aan Gods koninkryk ondergeskik maak en jou tiendes vir God teruggee, so verloor alle aardse dinge hulle mag om ’n afgod te word as jy díe dinge toewy aan God se koninkryk. God maak jou vry!

•    Bid dus

Moet ons dan wel bid vir kos, klere en ander daaglikse behoeftes?

Virseker!
In die eerste plek het ons nodig om te bid dat God ons sal help om daardie dinge hul regte plek in ons lewe te gee. Jy kan soos volg bid:
‘Here, ek het werk nodig, en kos en onderdak, maar gee my geloof om u koninkryk my prioriteit te maak. Dan sal hierdie aardse ding nie my hart beheers nie.’

Dit is opvallend hoe Paulus juis die gebed noem as ’n wapen teen besorgdheid. Fil4,6-7:
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Gebed is die medisyn teen besorgdheid.
Gebed is smeking en danksegging.
As jy iets kort, begin om God te dank vir al die seëninge wat jy deur Christus al klaar ontvang het.
Danksegging is ’n kragtige wapen teen besorgdheid, angs en selfgesentreerdheid.
Daarby mag jy vrymoedig smeek vir al jou daaglikse behoeftes. God weet mos wat jy nodig het, en hy is van harte bereid om vir jou te voorsien.
Saam met Christus sal hy alle dinge vir jou gee wat jy nodig het om in sy koninkryk te kan lewe.
Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en besorgdheid hoef jou nie meer te kwel nie. Gods vrede is die seën wat jy ontvang as jy op hom vertrou. 

Amen

Liturgie: 

Psalm 121:1

Psalm 65:1,2,4

Matthéüs 6:19-34

Psalm 65:6-9

Matthéüs 6:31-33

Skrifberyming 17

Geloofsbelydenis

Psalm 127:1-2