Laat ons nou die Bybel se lig laat skyn oor die punt van uitverkiesing en verwerping. 

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-10-31
Text: 
Johannes 3: 16-21
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus, broers en susters, seuns en dogters.

U het moontlik reeds 'n video oor die lewe in die diepsee gesien, byvoorbeeld van National Geographic of die Discovery Channel. En dan bedoel ek die lewe op 'n diepte van sê 10 kilometer, waar geen lig in die dieptes deurdring nie. Ons sien daar allerhande vreemde wesens met lang, stekelige tentakels, heeltemal kleurloos en sonder oë. Dis logies, want oë het daar geen funksie nie. Daar is geen lig en daarom is daar niks om te sien nie.

Dit is in sterk kontras met  lewe in 'n koraalrif net onder seevlak. As jy daar snorkel, kan jy nouliks jou oë glo: Jy sien ’n enorme kleureprag, en tallose vissoorte in allerlei vorms en groottes. Dit is dus in geweldige kontras met die lewe in die diepsee. Hierdie kontras met die diepsee geld ook vir ons eie lewens. As ons ons kleurryke lewens vergelyk met die koue, nat, kleurlose lewe in die diepsee, dan is dit soos lig teenoor duisternis.

Ons as mense leef en woon in 'n wêreld van intense lig. Die son, die bron van lig en hitte, neem 'n sentrale plek in; ja, dit is die middelpunt van ons sonnestelsel. Sonder hierdie helder ligbron sou lewe op aarde onmoontlik wees.

Tog word die wêreld van lig waarin ons lewe, getipeer as die “duisternis”. Al die kleurryke dinge in ons lewens gebeur daarom ... ja, in die duister. Maar dit is nie hoe ons dit ervaar nie. Ons ervaar dit juis andersom. Ons ervaar dat dit hier vir ons al hoe “ligter” word. Ons lewens word al hoe geriefliker; ons besit al hoe meer luukse en gemak; en ons bedink steeds dinge wat die lewe vir ons meer aangenaam maak. Ons plaas ons vuil wasgoed in die wasmasjien en ons hoef nie meer groente met outydse metodes in kruike te bewaar nie, maar ons bêre dit eenvoudig in die vrieskas. Daar was bykans 70 jaar geen oorloë meer in die grootste deel van die westerse wêreld nie. Kan ons dit alles werklik duisternis noem? Is dit werklik so dat ons lewens in duisternis verkeer? Dit lyk nie so nie!

Kom ons keer terug na die koue en donker wêreld van die wesens in die dieptes van die oseaan. Dink julle dat hulle enige besef het dat hulle in duisternis lewe? Hulle weet nie van beter nie. Hulle weet nie eers wat lig is nie. Hulle het in die donker grootgeword en dink, by wyse van spreke, dat hul duisternis niks anders as lig is nie. En so is dit ook met ons as mense: Ons glo beslis dat ons in die lig lewe. En ook ons, terwyl ons hier in die kerk sit, sal almal vrymoedig durf getuig dat dit in ons lewens, wat lig betref, beslis heeltemal anders is as in die diepsee. Tog is dit so dat vanuit ‘n buite-menslike perspektief gesien, ons in duisternis lewe. Wat ons lig noem, is eintlik slegs duisternis.

Ek dink dat die meeste van ons sal verstaan dat hierdie buite-menslike perspektief waarvan ons praat, die Bybel is. Dis hoe die Woord van God praat oor 'n lewe sonder Christus. Mense wat sonder Christus lewe, leef in die duisternis. En daarom kan ons sê dat ons gelukkig wel in die lig lewe omdat ons Christus ken. Daarmee sou ons hierdie verhaal kon beëindig. Maar dan sou ons vergeet dat daar magtige wesens is wat belang het by die voortgesette valse voorstelling van die duister as synde die lig. En daarmee saam die ontkenning dat slegs Christus die “bron van lig” is. In die besonder raak dit ons as gelowiges. Dit is Satan wat vir ons eerste voorouers, Adam en Eva, gelieg het dat hulle eers werklik vry en volwaardig sou kon wees as hulle self sou kon beslis oor wat goed is en wat nie goed is nie. En omdat hulle gehoor gegee het aan hierdie leuen, het hulle, saam met al hul kinders, nie vry geword nie, maar is hulle in slawerny gedompel. En dit is presies wat Satan doen: hy gee die teendeel van wat hy belowe. Hy laat jou glo dat jy gelukkig sal wees as jy doen wat jy self wil en dat jy ongelukkig sal wees as jy doen wat God wil. En in hierdie opsig maak satan die keuse vir mense nog eenvoudiger: hy oortuig mense dat God nie bestaan nie. Daarom hoef hulle nie na Hom te luister nie en kan hulle hul eie wil uitvoer. Nog ‘n tegniek van satan is om 'n heeltemal verkeerde beeld van God te skep: 'n God wat slegs liefdevol is en wat op aanvraag aan al ons wense voldoen. En siedaar, so word 'n lewe sonder God of 'n lewe met 'n verkeerde beeld van God voorgestel as ‘n lewe in die lig.

Is ons as gelowiges immuun vir satan se leuens? In elk geval is ons nie immuun as ons die Bybel toegesluit hou nie. Bv as ons wel ‘n Bybel op ons boekrak het, maar dit nie gebruik nie, sal ons vroeër of later begin glo dat ons in die lig wandel, terwyl ons in werklikheid in die pikdonder ronddwaal. Want die Bybel leer ons dat die huidige wêreld deur die duisternis oorheers word. Ons hoef slegs aan die begin van die Johannes evangelie te dink. Daar is sprake van die Woord, dit is die Seun van God. En dan sê Johannes dat in hierdie Woord lewe is, en hierdie lewe is die lig vir die mense. En hierdie lig skyn in die duisternis.

Hier word iets onder woorde gebring wat ons reeds lankal weet: die Here Jesus Christus het op die aarde lig gebring. Hy noem Homself dan ook die Lig van die wêreld. Dit beteken dat ons slegs die duisternis waarin ons lewe kan ontdek as ons Christus in ons lewens toelaat. Met ‘n geslote Bybel sal ons daarom nooit kan ontdek hoe duister dit werklik is sonder Christus nie.

Maar nou gaan ek probeer aantoon dat alhoewel ons die Here ken, ons tog soms nie dinge raaksien nie of dinge verkeerd interpreteer. Ons dink dat iets ‘n spesifieke betekenis het, terwyl dit in werklikheid anders gesteld is. Ek wil dit graag verduidelik aan die hand van verskillende interpretasies wat gehuldig word oor ‘n moeilike onderwerp. Dit is die uitverkiesing. Ons het gesien dat die Dordtse Leerreëls hieroor handel. Ek het dit ook dikwels op katkisasieklas behandel. En die reaksie van die kategisante is hoogs voorspelbaar as dit kom by die keersy van die verkiesing, naamlik die verwerping. Want dan hoor ek reaksies soos: As dit werklik waar is dat God sommige mense verkies en die res verwerp, is dit dan nie onregverdig nie? Hoe kan mense dan nog verantwoordelik gehou word? Sulke gedagtes word oënskynlik ook in Paulus se brief aan die Efesiërs bevestig. Paulus skryf: die geloof, wat nodig is om gered te word, het jy nie uit jouself nie, maar dit is 'n gawe van God. As God jou dus daardie geloof gee, dan sal jy gered word. Maar dit beteken ook dat daardie mense aan wie die Here nie die geloof gee nie, verwerp word. Wie dra dan die skuld van die verwerping? Is God werklik regverdig? Is Hy wel werklik so regverdig soos wat Hy sê dat Hy is?

Nou dink u miskien dat hierdie 'n suiwer teologiese probleem is waaroor ons - in die alledaagse lewe - ons nie hoef te bekommer nie. Maar dit is slegs gedeeltelik waar. In die alledaagse lewe hoor ons dikwels opmerkings wat hul oorsprong vind in verkeerde sienings oor God. Naamlik dat God nie regverdig is as Hy verkies nie. Dink aan die volgende geval.

Jy gaan hospitaal toe vir 'n eenvoudige ondersoek. Jy bekommer jou nie eintlik daaroor nie. Maar na 'n week ontvang jy die uitslag van die ondersoek. Dit is verpletterende nuus: Jy het 'n ernstige gewas. Jou lewe skud op sy fondamente. Jy is immers nog jonk! En as jy dit nie self sê nie, sal iemand anders dit vir jou sê: "hoekom moes dit met jou gebeur?" En binne die familie word gesê: "as daar iemand is wat dit nie verdien nie, dan is dit hy." Die gedagtes ontstaan spontaan. Maar, broers en susters, dit is presies wat baie sê oor die uitverkiesing en die verwerping. Dit is nie eerlik wat God doen nie. God is nie regverdig nie. Sien ons nou dat ons ook in die gewone lewe maklik sulke gedagtes kan koester? Enige 'waarom' vraag kan maklik ontaard in 'n beskuldiging teen God. Ek sê nie dat ons nooit sulke “waarom” vrae mag stel nie. Daar is selfs 3 sogenaamde "waarom” psalms: Psalm 10, 22 en 74. Dit leer ons dat ons gerus “waarom” vrae aan die Here mag stel. Maar dit moet nie 'beskuldigend” van aard word nie. En tog gebeur dit heel dikwels. En dit, brs en srs, gebeur omdat ons meen dat ons in die lig lewe, sodat ons alles kan verstaan en deurgrond. En dan dink ons dat ons met ons denke die Here op 'n teenstrydigheid kan vaspen. Maar daarmee verdoof ons die lig van die Bybel, sonder om dit te besef. Want as ons so met 'n geslote Bybel begin redeneer, kan ons baie vinnig die waarheid verkeerd verstaan. Dit is wat gebeur, en ek moes dit al dikwels aanhoor. So kan dit gebeur dat mense wat skaars nog die Bybel tuis oopmaak, sê dat hulle dit wat hulle in die kerk hoor, nie meer so geloofwaardig vind nie. Ja, dit is verstaanbaar. Want dan hoor jy allerhande dinge in die kerk wat nie geloofwaardig klink nie omdat jou lewe al hoe meer na die duisternis toe afdaal. Jy begin dinge hoor wat jou irriteer. Dit krap jou om want dit is woorde wat jou probeer wakker skud. En jy wil nie wakker geskud word nie. Terselfdertyd vind ons dat mense wat die Bybel toesluit, dikwels voorgee dat hulle presies weet wie God is en wie Hy nie is nie. Immers, omdat God 'n God van liefde is, kan daar geen hel of verwerping wees nie. Maar dan praat hulle soos 'n blinde wat meen dat hy kan sien. Soos iemand wat in die donker leef en dan probeer beskryf wat jy slegs in die lig kan waarneem.

Laat ons 'n oomblik stilstaan by ‘n baie moeilike saak waarna die apostel Paulus in sy brief aan die Efesiërs verwys. Naamlik dat God mense, ja ons, reeds uitverkies het vóór die grondlegging van die wêreld. As ons aanneem dat Paulus nie lieg nie, impliseer dit ook dat God ander mense nie uitverkies het nie. En ons belydenis, die Dordtse Leerreëls noem hierdie nie-uitverkies wees, die verwerping. Wel, dit is heel moontlik dat ook jou hare nou begin regop staan. Ek het al  gereeld ervaar dat mense, insluitende kerkmense, op hierdie punt hulle begin distansieer van die Skrif. En dit het presies te make met die kwessie van duisternis en lig. As jy in die donker na iets kyk, dan lyk dit heel anders as wanneer jy dit in die lig waarneem. Jy kan in die donker vir iets skrik terwyl dit jou in die lig sal laat lag. Jy kan in die donker jou hand versigtig oor 'n skildery beweeg en sê: dit is 'n pragtig, terwyl jy in die lig sien dat dit 'n aaklige voorstelling is, byvoorbeeld die laaste oordeel van Hieronymus Bosch.

Laat ons daarom nou die Bybel se lig laat skyn oor die punt van uitverkiesing en verwerping. 

Die eerste vers van ons teks is een van die mooiste tekste in die Bybel. Ons ken almal Johannes 3:16: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê." Johannes gaan dan voort om die koms van die Seun van God na die aarde toe verder te behandel. En dan sê hy, en dit is baie belangrik: "Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word." Die Seun van God kom nie na die aarde om dood te maak nie, maar om te red. Eintlik staan dieselfde reeds in die Ou Testament. Daar het die Here meer as een keer gesê: Ek beoog nie die dood van die sondaar nie, maar dat hy lewe. Selfs die toorn van die Here is ‘n middel om mense se lewens te red. Dit is goed dat ons daaraan vashou, broers en susters, selfs al het u te make met, byvoorbeeld, 'n kind wat klaarblyklik van die Here af wegdwaal. Die Here beoog die lewe van 'n sondaar. Hy sal alles daarvoor wil doen. Ja, Hy het reeds alles daarvoor gedoen. Ons moet daaraan vashou, want anders kyk ons weer op ‘n verkeerde manier na hoe God reageer op mense wat nie in sy Seun glo nie. Die doel van die stuur van die Here Jesus was eintlik net om mense te red. Want dit is ook sy naam: Jesus, dit wil sê Redder of Verlosser. Ons teks sê dus dat die Here Jesus nie na die aarde toe gekom het om mense te veroordeel nie. Tog is daar wel sprake van 'n oordeel. Maar daardie oordeel kom nie uit die mond van die Here Jesus nie. Die Here Jesus het gekom om mense vry te spreek. Vry van wat? Vry van die oordeel waaraan hulle reeds onderworpe was. Kyk gerus weer na ons teks, vers 18, die laaste deel: “...maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” Die klem moet val op die “is alreeds veroordeel”. Diegene wat nie glo nie, word daardeur veroordeel. En dan verduidelik Johannes presies wat daardie oordeel beteken. Johannes sê: "En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.“ Die oordeel, daardie verskriklike en dodelike vloek wat reeds op die aarde lê, word duidelik sigbaar op die oomblik dat die lig die duisternis binnedring. Waaraan sien ons dit? Sodra die lig die duisternis binnedring, is daar mense wat nie die lig soek nie omdat hulle verkies om in die duister te lewe. Hulle haat selfs die lig, sê Johannes. Die oordeel kom dus nie uit die mond van die Here Jesus nie, maar dit word slegs sigbaar op die tydstip dat die Here Jesus ons geskiedenis binnetree. Omdat op daardie tydstip duidelik word in watter situasie ons as mense ons bevind. Ons leef in duisternis. Ons sien nie uit onsself dat ons lewe sonder Christus geen toekoms bied nie. Ons is waarlik stekeblind.

Maar alhoewel ons, julle en ek, ons ook van ons Verlosser afgekeer het, op presies dieselfde manier as almal, gryp Hy ons weg uit die duisternis. Met geen ander doel as om ons te red nie. Maar wat van al die ander mense? Hulle weet nie beter as om so vinnig moontlik van die lig af weg te kom nie. Net soos ons sou doen as die Here ons nie vasgehou het nie.

Ek wil dit graag illustreer om dit nog duideliker te maak. Gestel ons leef as aardbewoners op 'n baie groot skip. Saam kry mense die idee om oral in die skeepsbodem  gate te steek. Met die gevolg dat die skip stadig begin sink. Maar die mense meen dat dit ons lewens slegs nog meer aangenaam en opwindend maak. Hoe meer die skip sink, hoe meer opwindend dit word. Mense geniet dit uitermate om mekaar se koppe onder water te druk.

Dan kom 'n groot reddingsboot langs die skip vaar. Uit 'n megafoon klink 'n duidelike stem: kom hierheen en word gered. As julle op die skip bly, dan sal julle saam daarmee in die dieptes afdaal. Weet: op die bodem is daar geen lig meer nie. Ook geen warmte en kleure nie. Maar die meeste mense dink dit is onsin en erg oordrewe. Hulle geniet immers steeds 'n goeie lewe op die sinkende skip. Hulle het geen begeerte om die skip te verlaat nie. Hulle gooi selfs klippe na die reddingsboot: Maak dat julle wegkom!

Dit is die werklikheid soos wat hulle dit sien. Dit is steeds goed om op die stadig sinkende skip te lewe. Hulle misken die noodsaak van redding. En dit, sê Johannes,  is presies die oordeel wat oor hulle sal kom. Selfs al is daar ander mense wat sê dat hulle nie op die skip sal kan oorleef nie. Maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Dit is die oordeel wat oor hulle sal kom. Jy bring dus die oordeel oor jouself. Johannes gebruik hier baie sterk taal. Hy sê dat mense wat nie in die Seun van God glo nie, selfs die lig haat. Hulle kan die Here Jesus nie verdra nie. Hulle wil niks met Hom te make hê nie. En die resultaat is dat solank as wat hulle hul van die lig afkeer, hulle nie in staat is om hul eie situasie goed te kan inskat nie. En dit is wat dit beteken om in die duisternis te lewe. Jy is ten volle oortuig dat jy selfgenoegsaam kan lewe. Jy het niemand anders nodig om jou lewe te beskerm en jou lewe te red nie. En daarmee stoot jy die Eén weg wat sy eie kosbare lewe opgeoffer het om jou waarlik te red. Want jy wil niks van Hom weet nie.

Dan begin jy stadig om in ‘n moeras weg te sak. Jy probeer nog om weer vaste grond te bereik, maar die moeras suig en trek jou verder in. Dan kom daar iemand langs wat jou wil red. Maar jy slaan sy hand weg. Jy weier om daardie hand aan te neem en jy weier dat daardie hand jou uit die moeras trek. Die oordeel wat oor jou kom, is presies dit wat jy self verkies het om met jou te gebeur. Dis jou eie keuse. Die Dordtse Leerreëls sê dat die verwerping in werklikheid niks anders is as dat God mense in die situasie los waarin hulle hulself willens en wetens geplaas het nie. Dit is dus nie so dat God mense aangryp en weggooi nie. God oortuig sommige mense dat hulle deur sy Seun gered moet word. Maar hy neem ander mense net so ernstig op deur hulle daardie lewe te gee wat hulle self verkies. Hierin is God nie onregverdig nie, want Hy laat die Lig in die duisternis skyn. Hy verlig die aarde om aan te toon dat lewe nie moontlik is sonder sy Seun nie. Maar baie mense skakel daardie lig af. Hulle hardloop na die ligskakelaar en weet in hul haas nie hoe vinnig hulle dit moet afskakel nie. En kerkmense kan dit ook doen as hulle die Bybel toe hou. Nee, ek dink daar is nie een van ons wat die lig haat nie. Want dan hardloop jy daarvan weg. Maar dit is goed dat ons ook aandag gee aan die teenoorgestelde daarvan – naamlik die mense wat opreg handel. Johannes doen dit in elk geval. Hy sê dat daardie mense wat bereid is om na die Here te luister, dat hulle die lig reg soek. Daarom wil hulle al hoe nader daaraan kom. Hoekom is dit so? Wel, sê Johannes, hulle wil meer en meer deur daardie lig verlig word. Hulle wil hê dat die duisternis soveel as moontlik uit hul lewens verdryf word, sodat dit sigbaar word dat God in hulle lewens werk. Dit is dus nie die geval dat hulle slegs gered wil word en daarom 'n aantal noodsaaklike pligte wil uitvoer, 'n paar keer 'n belydenis uitspreek, 'n paar Psalms sing en hier en daar ‘n paar goeie dinge doen. Maar verder niks met die Here Jesus te make wil hê nie. Nee, dit is onmoontlik. Hulle wil graag gered word en leef daarom al hoe nader aan die Here Jesus. In sy lig. Sodat Sy grootheid en Sy liefde en Sy goedheid in hul lewens sigbaar word. Sodat nie net hulself nie, maar ook ander, wat nog in die duister lewe, sal sien wat die wonderbaarlike redding behels. Omdat dit natuurlik nie beteken om van een lekkende skip na 'n ander lekkende skip oorgeplaas te word nie. Nee, die punt is dat die duisternis, waarin ons ook leef en asemhaal, toenemend uit ons lewens verdwyn. Sodat dit sigbaar word dat die Seun van God inderdaad nie na die aarde gekom het om te veroordeel nie, maar om lewe te gee. As ons hierdie lig rondom ons versprei, kan God nog meer mense oortuig dat dit nodig is om gered te word van iets wel lyk op die lewe, maar wat dit nie is nie. 

Is jy bekommerd oor jou kinders? Onderwaardeer hulle die betekenis van die geloof? Versprei dan die lig rondom jou. Dit doen jy nie alleen met woorde nie, maar ook om daadwerklik te wys dat jy 'n wonderbaarlike en verloste lewe ontvang het. Om in die lig te lewe, toon daardie lewe wat Christus vir ons gebring het. En daardie lewe is nie soos 'n pil wat jy afsluk om jou vir die laaste oordeel te red nie. Die lewe bestaan daarin dat ons 'n verbinding met die bron van lewe verkry. En hoe nader ons aan die bron kom, hoe meer leef ons werklik. So word ons lewe vandag reeds die begin van die ewige lewe. Die lewe wat ons kan verwag as God te midde van ons op die nuwe aarde woon. Die nuwe aarde waar die lig van die son nie meer nodig is nie, want God self is die lig waarin ons lewe. Die lig wat alle duisternis verdryf en waardeur ons die werklikheid kan waarneem soos dit werklik is. Ook die integriteit en majesteit van die skepping met alles wat nog ontdek moet word. 'n Lewe wat op geen manier deur enigiets belemmer word nie, maar wat slegs kan blom en groei in die lig van God self. Wie sou nie so 'n lewe wou ontvang nie? En as jy reeds daardie lewe in belofte ontvang het, en dit is wat jy en ek reeds onvang het, dan wil jy dit tog nie weer verloor nie, of hoe? En dit beteken dat ons nie hulle moet volg wat die lig haat en daarvan wegvlug nie. Maak nie saak hoeveel genot dit sou bring nie. Genot omdat jy deur niks verhinder word of dat iemand seggenskap oor jou voer nie. Dit lyk lekker, maar dit is die vryheid van slawe. Ja, dit is nog veel erger: Dis die vryheid van slawe wat nie besef dat hulle slawe is nie. Soos mense wat in die donker leef maar dink dat hulle in die lig verkeer. Maar ons, laat ons in die teenoorgestelde rigting beweeg. Laat ons in die rigting van die lig beweeg. Die Here Jesus het na ons aarde gekom om die lig te bring. Hy het getoon hoe lief sy Vader die wêreld het. ‘n Liefde so groot dat Hy selfs die lewe van sy enigste Seun daarvoor opgeoffer het. Kom laat ons in daardie rigting beweeg sodat ons naby die Here Jesus kan lewe. En ja, Hy is nou in die hemel. Maar sy Woord en sy Gees is albei hier op aarde. Hulle is in ons midde. En dit is juis die rede, broers en susters, dat ons as kerkraad ook graag wil aandring dat ons nie net soggens nie, maar ook in die middag kerk toe kom. Sodat die Woord van die Here sy lig op ons en op ons kinders kan laat skyn. Sodat ons lewens daardeur verlig word om te wys hoe God in ons lewens werk. Om ons nuut te maak. Ja, om ons so te verander dat ons vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde kan lewe. In die lig van sy majesteit. Kom ons gee alle ruimte dat die lig sal aanhou skyn. Dit is onwys as jy in kerk met die halfduister tevrede is. Dit is onwys as jy die lig vir slegs 50% wil benut. Deur tevrede te wees met ‘n laekrag verligting. Hoe kan jy ooit daarmee tevrede wees? Ja, dan sal jy gaandeweg ook al hoe minder sien. Ook van die wonderbaarlike toekoms wat aan ons belowe is. En hoe kan jy ooit verlang na iets wat jy nie goed kan sien nie? Daarom, wees rigtingvas om nie die doel te mis nie. Jy en ek is geskape om te lewe. Nie om dood te wees nie. Soek dan na die lewe wat die Here vir jou en my gratis uitdeel. En watter soort lewe is dit nie! Om nie by wyse van spreke sonder lig op die bodem van die oseaan te lewe nie, maar in die lig waar jy jou nou al in die warmte van God se liefde kan koester. Waar jy veilig kan verkeer in die onophoudelike sorg van 'n hemelse Vader wat reeds sy liefde aan ons bewys het voordat ons gebore is. Kyk net na jouself en dan na die Seun van God. Sonder Hom is jy bestem vir die dood; by Hom het jy 'n lewe sonder einde. Sien dit, brs en srs, in die lig van Hom wat die wêreld so liefgehad het dat Hy die hoogste prys daarvoor betaal het om vir jou en my die kosbare lewe te gee.

Amen.

Liturgie: 

Votum & Seëngroet
Psalm: 66: 1

Gebed

Skriflesing: Johannes 1: 1-14 en Dordtsche Leerreëls 1,6
Psalm 33: 5,7

Teks: Johannes 3: 16-21
Preek
Psalm 27: 1,4

Gebed

Belydenis SB 71

Kollekte

Psalm 18: 1,10

Seën