Verbaas jou oor die diepte van Gods genade!

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-10-24
Text: 
Efésiërs 2:8-10
Preek Inhoud: 

Doel:

-    Beindruk raak met Gods geskenk van genade
-    Dieper vertroue op God vir jou redding
-    Gemotiveerd raak om in God te roem.

Bybelgedeelte:

Efésiërs 2:8-9
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Inleiding:

Kinders, wanneer is jou pa en ma lief vir jou?
•    Wanneer jy vriendelik is vir jou boetie en sussie?
•    Wanneer jy gehoorsaam doen wat jou pa en ma sê?
•    Wanneer jy goeie resultate kry by die skool?

Maar wat nou as jy sukkel met jou skoolwerk en nie so goed doen nie – dink jy jou ouers is minder lief vir jou?
En die dag dat jy ongehoorsaam is en straf kry? – is hulle dan nie meer lief vir jou nie?
Wanneer jy jou sussie laat huil of jou boetie seer maak? - Is hulle liefde dan weg, en moet jy dit gaan terugverdien deur goeie gedrag?

Nee!
Jou pa en ma se liefde verdien jy nie.
Jy kry dit. Want jy is hulle kind.
Wanneer jy ongehoorsaam is, kan hulle straf uitdeel; as jy weer nie luister nie, kan hulle selfs kwaad wees vir jou; kan jy hulle verdrietig maak, maar hulle is steeds lief vir jou!

Paulus het vir ons ’n brief geskryf waarin hy heeltyd dieselfde ding herhaal:
Jy is gered omdat God genadig is. Jy ontvang sy liefde nie omdat jy dit verdien nie, omdat jy beter is as ander mense nie, of omdat God meer van jou verwag as van ander mense nie.
Niks daarvan.

Paulus oortuig ons met baie verskillende woorde daarvan dat ons deur genade gered is.

Daarom is die tema:
Verbaas jou oor die diepte van Gods genade!
1 -    Dit is net uit genade: die mooiste geskenk.
2 -    Jy ontvang dit deur geloof (nie deur werke nie)
3 -    Daarom: roem in God alleen!

1    Dit is net uit genade: die mooiste geskenk.

•    Genade – onthou jy nog?

In v 7 lees ons (ek het dit in ’n ander preek uitgelê): God gaan die rykdom van sy genade oor ons in Christus wys in die eeue wat kom.

•    See

Verbeel jou jy staan aan die oewer van die see.
Jy voel die sand tussen jou tone, jy geniet die warmte van die son.
Jy hardloop en duik in die branders: ah, dis sterk golwe, en dis lekker om die water te voel. En die branders gaan maar aan, jy hoor dit tot diep in die nag totdat jy aan die slaap raak.
Die see is so mooi, wie sou nie aan die kus wil bly nie?

Hou daardie beeld vas.
As die genade van God is soos die see, het ons nog maar net die kuslyn en die branders gesien. Dis al klaar mooi vir ons.
Maar ons het nog nie die hele oseaan gesien en gevoel nie. Jy begin eers iets van die wydsheid van die oseaan te ervaar as jy in ’n skip dit deurkruis, as jy met ’n vliegtuig daaroor vlieg, jy het nog nie die walvisse gesien en aangeraak nie, na koraalriwwe geduik en dit bewonder, om nog maar nie te praat van die dieptes van die Mariana Trench, en die diertjies wat daar lewe, wat ons nog nooit gesien het nie!
So is dit met die genade van God.
In die toekomstige eeue gaan ons swem en duik in die diepte van daardie see!
Gods genade vir ons in Christus is só ryk, God gaan die ewigheid neem om dit vir ons te wys!

Maar nou reeds mag ons ons tone in die see steek, die branders voel en bewonder, en op die strand uitkyk oor die see.
Dis nou wat ons doen as ons hierdie brief lees: in steeds weer verskillende woorde praat Paulus van die rykdom van Gods genade.
Nou reeds wil God ons daarvan oortuig, sodat ons hart en ons lewens sal verander.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

•    Dis die konklusie van hoofstuk 2

Hierdie verse is die konklusie van hoofstuk 2. (‘want’)
Wat is die konklusie: al die dinge wat hy genoem het, al die seëninge kry ons uit genade!
Die hele pad van verlossing wys dat God genadig is vir sondaars, dat hy ons sy liefde gee, onverdiende guns.

So is Efésiërs 1 en 2 ’n lang loflied op die genade van God!

Want ons was dood in ons sondes, onwaardig, geestelik dood, tot niks goeds in staat nie. Ons sondes het ons afgesny van die lewe van God.
Niks van wat ons gedoen het, was vir God aangenaam nie. Inteendeel: ons het ons rug op hom gedraai, en die begeertes in ons hart, die planne wat ons maak gaan oor onsself (oor wat ons kan kry, oor ons genot), en al ons dade wys ons opstandige selfsugtige hart.
Voor God was ons dood.

Die enigste manier waarop ons weer kon leef, was deur God se ingrype. 
Maar God het ons lewend gemaak saam met Christus

Genade: wat is dit?
Dis onverdiende goedheid vir onwaardige mense: hulpelose skuldige sondaars.
In vers 5 het Paulus reeds gesê: uit genade is julle gered!
Nou, Paulus kan net nie ophou om oor die genade van God te praat nie. 
Hy herhaal dit en in v. 8 en 9 brei hy daarop uit:
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Vers 8 is die heel duidelikste statement in die Bybel oor die genade van God!
Dis net uit genade dat ons gered is.

Alle ontsnappingspaaie word afgesny!
Alle menslike bydraes word afgewys.
Alle eer is aan God deur Christus.

•    Belangrik, want dwaling sluip in…

Dit is belangrik dat ons dit steeds weer hoor en onthou. Uit genade is julle gered! Onverdiende guns vir onwaardige mense.
Dis belangrik, want op allerhande maniere wil mense hul eie aktiwiteit en bydraes insmokkel. Ons wil onsself ’n rol gee, want dan het ons iets om ons op te beroem. Dan is ons nie heeltemal magteloos nie.
Ons dink dat ons sondes ons nie só sleg maak dat God ons verwerp nie. Ons doen tog ook wel goeie dinge?
Ons bring Gods standaarde af, sodat ons dade beter lyken ons wel die paal haal – maar ons bedrieg onsself.
Of ons sê wel ‘ja, Jesus het vir ons gesterf!’ maar ons speel tog ’n rol: ons moet vir hom kies en hom aanneem – ha, nou het ek tog iets goeds gedoen!

Al hierdie gedagtes het in die loop van die kerkgeskiedenis in die kerk ingesluip.
Aan einde van die Middeleeue was die algemene onderrig in die kerk vol van menslike verdienste en die mense was almal koorsagtig besig om Gods genade te verdien en hulself waardig te maak: deur die sakrament van die mis te vier, deur die bieg (belydenis van sondes aan die priester), en deur boetedoening wat die priester opgelê het, én deur vertroue op die krediete van heiliges.
Ook as jy die genade van God nie volledig ontken nie, maar jy voeg jou eie verdienste êrens toe, dan het die werk en die eer van Christus as enigste redder ontken.

Die Reformasie van die 16e eeu het aarom die regverdiging uit genade alleen opnuut in die Bybel ontdek en dit orals verkondig. 
Mense het selfs hulle lewens daarvoor gegee, so belangrik was dit!

Laat ons God dank dat hy dit so duidelik in die Bybel gesê het, en dat die kerk dit opnuut kon ontdek, sodat ons die elke Sondag weer kan hoor!

•    Fondament vir ons geloofssekerheid

God regverdig ons uit genade: hy spreek ons vry van die skuld wat ons gemaak het, en hy verklaar ons onskuldig.
Hierdie duidelike woorde van Paulus is vir ons gegee, sodat ons geloof ’n onbeweeglike fondament sou hê: vanweë Jesus se gehoorsaamheid aan die wet, sy lyding en sterwe, nie vanweë ons eie dade nie!
Uit genade is julle gered: dit het al klaar gebeur. Jesus het gesê: ‘Dit is volbring!’
Dit is die sekerheid van ons geloof.
Enigiets wat ons moet doen en wat ons wil toevoeg aan die genade van God, verminder nie net die eer van Christus, maar maak ons ook onseker (of gee vir ons ’n valse gerustheid).

•    Die beste nuus ooit, vir enigiemand

Hierdie is die beste nuus ooit.
Baie mense buite die kerk het die indruk, dat om ’n christen te wees beteken dat jy jou goed gedra. Baie mense in kerke probeer hulle beste kant wys, die regte woorde gebruik, ’n vroom front wys.
Maar sodra daar sondes openbaar word, wys mense dan na die kerk: kyk, die klomp hypokriete, sien jy wel? Ek wil nie daarby behoort nie.

Vir mense wat duidelik ’n gemors van hulle lewens gemaak het, is die kerk dikwels nie ’n verwelkomende plek nie. Hulle dink dikwels: ek moet eers my lewe regruk, 

Dit is hartseer, en skadelik vir die kerk en die wêreld.
Hier moet die boodskap van genade uitgedra en uitgeleef word.
Deur genade is ons gered, deur genade alleen.

En dit gee hoop vir mense wat ’n gemors van hulle lewe gemaak het, wat van drank of kokaïen of heroïen afhanklik is, wat in die tronk is, wat hulle huwelike en gesinne vernietig het.
Gods genade is vir alle mense die enigste redding.
En ons moet hulle hartelik en dringend nooi: kom na Christus, jy hoef nie eers te verander nie, kom soos jy is, en Gods genade sal jou red en verander!

En daar is ook hoop vir mense wat aan die buitekant goed lyk (keurige lewe, klere, suksesvol, in eer by die mense, 

Ek kan dit heel eenvoudig vir die kinders probeer sê:
Onthou: God is lief vir jou, sonder dat jy iets vir hom gedoen het. Hy is vol genade – dink maar aan Thomas wat laasweek gedoop is: elke mens word uit genade gered!

Dink aan ’n pa en ma, wat hulle kinders net aandag gee en komplimente gee en bly is met hulle as hulle gehoorsaam is.
Maar sodra hulle ongehoorsaam is en slegte gedrag wys, dan is die ouers nie meer vriendelik nie, hulle gee nooit meer komplimente nie, en hulle afkeuring hang soos donderwolke in die huis rond.
God is nie so nie! Hy het Christus gegee om ons sondes weg te neem, en sy liefde vir ons kan deur niks gekeer word nie!

2    Jy ontvang dit deur geloof (nie deur werke nie).

uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Die manier waarop ons genade ontvang, sluit volledig aan by die karakter van ons redding: dis uit genade. Dis ’n geskenk.
Geloof is die enigste manier waarmee jy die geskenk van genade kan ontvang.
Geloof sluit aan by genade: geloof is nie ’n werk, ’n verdienste wat jy doe nie. Geloof is maar net ontvang. 

Geloof is soos ’n oop hand: dis leeg, en nie vol met jou eie verdienste wat jy vir God aanbied nie!
Geloof is om jou vertroue te plaas op wat Jesus in jou plek gedoen het.

Laat dit by ons almal vashaak: uit genade is jy gered - en die geloof is die leë hand om die genade te ontvang.

•    die geloof in die plek van werke

Die Jode het gedink dat hulle gehoorsaamheid aan die wet hulle aanvaarbaar vir God gemaak het. Die besnydenis is selfs deur Joodse christene aan heidenchristene opgelê: en besnydenis is ’n daad van gehoorsaamheid, wat hulle dan as ’n verdienste beskou het.
Paulus vee dit van tafel.
In Rom 4 doen hy dit op ’n manier wat spesiaal vir Jode oortuigend moes gewees het: deur te wys op Abraham, hulle voorvader. 
Al die Jode was trots daarop dat hulle afstammelinge van Abraham was, en erfgename van die belofte wat God vir Abraham gegee het, en besnede, net soos Abraham.

Paulus wys juis daarop, dat Abraham nie deur werke van die wet geregverdig is nie, maar deur geloof!
Lees maar in Romeine 4: 3-8:
Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.
Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste;
aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke:
‘Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.
Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.’

Wie glo in hom wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Die wet van Moses was nog nie daar nie, en Abraham was nog nie besnede nie, daar was niks dade wat Abraham as werke vorentoe kon geskuif het nie.
God het sy geloof tot geregtigheid gereken.
Omdat Abraham toe nog onbesnede was, en die belofte van God nie deur die wet maar deur die geloof ontvang het, het hy die vader van alle gelowiges geword, onbesnedes en besnedenes.

Hier in Efésiërs 2:8 sê Paulus baie kort: “Uit genade is julle gered, deur die geloof.”
Die geloof is die instrument om die geregtigheid van Christus te ontvang. Dan word die geregtigheid van Christus jou toegereken asof jy self jou hele lewe die hele wet van God gehoorsaam het en onberispelik was! Deur die geloof ontvang jy alles wat Christus jou in die belofte van die evangelie aanbied.

3    Daarom: roem in God alleen!

Wat is die gevolg van die genade van God?

Dit is eintlik twee dinge:
1)    die motief wat ons in vers 9 vind, wil ek in hierdie preek in die kollig plaas:
        “nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
2)    Daar is ’n tweede gevolg: nuwe gehoorsaamheid (“goeie werke”: vers 10): hieroor het ek reeds eerder ’n preek gehou (26 Sept).

•    Roem: hoekom?

Watter effek het Gods genade op ons?
Verander dit ons?

Verander dit hoe ons praat?
Verander dit hoe ons na onsself kyk?
Verander dit ons hart: gee dit sekerheid en vreugde?
Verander dit wat uit ons hart stroom: oor wie kan ons nie ophou praat nie? Wie vereer ons en wie se naam prys ons?

Paulus is hom terdeë bewus daarvan dat mense wat op hul werke (gehoorsaamheid aan die wet) vertrou, hulle daarop beroem.
Hy het dit self gedoen toe hy ’n Fariseeër was.
Neergekyk op die menigte wat die wet nie ken nie (en dus ook nie gehoorsaam nie).
Fariseeërs het op die straathoeke hulle goeie werke vir almal uitgestal, om deur die mense geëer te word. 
Jy kan iets van Paulus se trotse eiewaan lees in Filipense 2, waar hy sy eie goeie dinge noem.

Eie goeie werke lei tot roem in jouself.
Genade lei tot roem in Christus alleen.

Roem in jou eie dade het nie uitgesterf saam met die Fariseeërs nie.
Sodra ons ook maar iets toevoeg aan die werk van Christus, op iets wil wys wat ons doen, dan is dit nie meer alleen uit genade nie, en dan roem ons in onsself.
Dan het ons iets waarvan ons sê: Kyk! Dit het ek dan tog maar gedoen! As ek nie vir Jesus sou gekies het nie, as ek soos die ongelowige heidene was gewees, … - en roem ons in onsself.

Paulus sê dus duidelik: ons is gered deur genade, dis ’n geskenk, jy ontvang dit deur die geloof, nie deur jou werke nie, sodat jy nie sal roem nie.

Dit is dus nodig om die ontkennings wat hy gebruik, na te spreek en ons eie hart te ondersoek:
Nie uit myself nie, dus moenie roem in my self nie!
Roem in Christus! 
Prys God vanweë sy grondelose genade wat hy vry en soewerein vir sondaars gee.

Uit genade is ons gered. Prys die Heer!
Moenie stil bly as jy nie roem in jouself nie. Jy gaan nou roem in die Here!

Dan gebeur iets moois: dit is nou presies die doel van ons verlossing en die doel van die besluit tot uitverkiesing: 
Lees maar weer in hoofstuk 1:
vers 3: Geseënd is die God en Vader van ons Heer Jesus (geseënd = ons prys God) - want hy het ons in Christus geseën: hy het ons uitverkies, ons aangeneem as sy kinders…
… “tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (v. 6)

Roem in Gods genade!
Wanneer ons ons hoop op Christus plaas, dan sal ons kan wees “tot lof van sy heerlikheid.” (v. 12)
En dan in v. 14: die allesomvattende doel van die verlossing: tot lof van sy heerlikheid.

•    Getuig van genade alleen!

Dit waarin ons roem, sal bepaal hoe ons bekend staan, watter seine ons uitstuur in ons omgewing.

Gered uit genade alleen, deur geloof alleen: maak ons dit bekend?
Kom dit heeltyd terug in ons gesprekke, in ons bybelstudies, in ons gebede?

Hoe staan ons bekend in ons omgewing, in ons stad?
Is ons…
•    die kerk wat alles reg weet?
•    die kerk wat goed kan redeneer?
•    die kerk wat omgee?

Dit het waarde… maar dit wys nie die kern nie: die evangelie van genade, tot eer van God.
Of is ons, en wil ons wees:
•    die kerk wat heeltyd oor Jesus praat, en God eer omdat ons uit genade gered is?

Dit is roem in God: dit is mooi!

Laat die genade van God oorneem in jou hart.
Glo dit met jou hele hart: uit genade is ons, is ek gered. Nie deur enigiets wat ek gedoen het nie.
En daarom spreek ek van Christus en roem ek in sy naam.

Amen

Liturgie: 

Psalm 96:1.2.4

Gebed

Lees:
-  Romeine 4:1-8 en 13-25
-  Efésiërs 2:1-10;

Psalm 32:1-2

Preek Efésiërs 2:8-10

Psalm 37:1.17.18.19.21.23;

Geloofsbelydenis;

Kollekte;

Gebed

Psalm 30:3.5.8.