Maak oop jou oë en laat jou verander

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-09-26
Text: 
2 Korinthiërs 3:15-18
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus, brs en srs. Dit kan ons nogal moedeloos maak as ons ons be-ywer om ons aan die reëls van die Bybel te hou. Maar as ons dan op Sondagoggend die wet van die Here aanhoor, moet ons tot die pynlike gevolgtrekking kom dat ons gehoorsaamheid weer totaal misluk het. Die Here sê immers: "Wees heilig, want Ek is heilig." Ons het moontlik baie goeie eienskappe, maar ons is beslis nie heilig nie. Ons het nie lief met heel ons hart en met al ons kragte nie. En daarom begewe ons moed ons as ons steeds aan hierdie dinge herinner word.

Maar besef ons dan wel voldoende wat die ware evangelie vir ons inhou? Die ware blye boodskap? Dit is as volg: soos die Here in sy wet en voorskrifte ons in alle skerpte ‘n heilig lewe voorhou, so mag ek, ja so mag ons almal word. Die skerp wetsprediking laat ons eerstens besef wie en wat ons eintlik is. En hierdie besef is pynlik vir ons almal. Maar dieselfde wet toon vervolgens ook hoedanig ons mag verander. Ons word verander na die standaard van Christus se wet. Ons word verander na mense wat beklee sal word met die luister en glorie van Christus as Wetgewer. En hierdie proses van positiewe verandering mag reeds in hierdie lewe begin. Die tema van vanmôre se prediking is: 

Maak oop jou oë en laat jou verander

Brs en srs, seuns en dogters. Laat ek begin om eers 'n paar dinge duidelik te maak sodat ons die teks beter kan verstaan.

Paulus het in werklikheid meer as twee briewe aan de gemeente van Korinthe geskryf. Dit is in elk geval 3 briewe, en moontlik selfs 4. In die laaste geval is ons teksgedeelte nie afkomstig uit brief 2 nie, maar uit brief 4. Paulus praat van 'n vorige brief wat hy geskryf en wat aan ons bekend staan as die “tranebrief”'. Ons kan meer hieroor lees in 2Kor2v4:

Paulus was baie verdrietig toe hy daardie brief geskryf het. Wat het dan gebeur? By 'n vorige besoek van Paulus aan die gemeente van Korinthe het dit duidelik geword dat daar broeders was - ek neem aan voormalige jode – wat probeer het om die gemeente agter Paulus weg te trek. Paulus is toe deur een van hierdie broeders erg beledig en verneder. Ons weet nie presies wat die persoon aan Paulus gesê het nie. Maar wat ons wel weet is dat dit Paulus besonder hard getref het. En wat vir Paulus uiters teleurstellend was, was dat die gemeente niks hieraan gedoen het nie. Hulle het die gebeure stilswyend aanvaar. En hulle het nagelaat om Paulus te verdedig. Toe Paulus die gemeente verlaat het, was dit met ‘n bitter gevoel. Vervolgens het Paulus toe 'n kort briefie aan die gemeente gerig na aanleiding van hierdie saak. Sy doel was om aan die gemeente te Korinthe duidelik te maak dat dit nie paslik was om daardie betrokke broeder nie aan te spreek nie. Dit was nie reg om te maak asof niks ernstig gebeur het nie. Hulle sou hom ernstig moes bestraf het.

Hierdie briefie, die sogenaamde “tranebrief'” is deur Titus aan die gemeente in Korinthe besorg. Titus het intussen ‘n antwoord gestuur aan Paulus. Hy het hom kortliks ingelig oor die verloop van sake in Korinte. Dit was positiewe berigte. Die betrokke broeder is uiteindelik tog deur die gemeente bestraf. Maar, en dit tipeer Paulus as 'n ware herder, hy dring nou aan dat die gemeente na die teregwysing, ook tot die skenk van vergifnis moet kom. Paulus skryf in 2Kor 2 in die sin van: ‘gemeente, pas op dat die duiwel julle nie verlei om uiteindelik sy sataniese oogmerke te bevorder nie. Moenie toelaat dat die broeder wat julle heel tereg bestraf het, nou daaronder beswyk en hy verder van God afdwaal nie. Die doel van julle bestraffing moet gerig wees op sy behoud en redding. Moenie aan die duiwel ruimte bied nie.’ Paulus sê letterlik: Ons ken die duiwel se planne maar al te goed. En dan wys Paulus daarop dat die duiwel ook probeer het om sy apostelskap in diskrediet te bring. Klaarblyklik het die duiwel probeer om meerdere doelwitte te bereik. Hy het nie slegs probeer om gemeentelede in Korinthe te verlei om as’t ware die betrokke broeder volledig te vermorsel nie, maar ook om Paulus onder verdenking te plaas. Sodat mense sou gaan twyfel aan die betroubaarheid van Paulus se woorde. Moontlik het Titus aan Paulus berig gebring dat die twyfel wat die duiwel gesaai het, reeds begin het om sy wrange vrugte te dra.

Paulus rig hom daarom tot daardie gemeentelede wat oor hom begin twyfel het: "Mense, het ek regtig aanbevelings-briewe nodig om te bewys dat ek namens God spreek? Let gerus op dit wat ek in jullle bewerk het: Hoe julle deur my gesprekke en my uitleg van die Woord van die Here, verander het. Die Heilige Gees het deur my prediking in jullie begin werk. Per slot van sake: is dit nie die beste bewys dat die woord wat ek onder julle gespreek het, van de Here self afkomstig is nie?"

De duiwel is uiters geslepe. Ons mag gerus glo dat hy nie na ons toe sal kom met maklik aanwysbare leuens nie. Nee, hy gebruik mense wat Paulus later in sy brief beskryf as "super apostels". Dis mense wat dinge beweer wat heel godsdienstig klink maar wat haarfyn aansluit by die natuurlike en sondige begeertes van mense. Daarom moet ons ons vandag nie laat verlei om te sê: Paulus het dinge gesê en geskryf oor sake wat ons vandag baie beter verstaan nie. Ja, ons bly vandag ver weg van 'n oud-testamentiese manier om die wet te verstaan. Maar ek weet uit ervaring, gemeente, dat ook ons harte baie ontvankelik is vir ‘n volledig verwronge siening op die werklikheid. En dit is daarom iets wat die Here vandag ook vir ons wil duidelik maak. Dit is hoekom ek opsetlik aandag aan die dwaalleraars in Paulus se dae wil gee. Hulle het immers probeer om met vroom klinkende woorde die Korintiërs op ‘n volledige dwaalweg te plaas.

Paulus sê: "Mense, ek het 'n dienaar geword van die nuwe verbond." Ons weet dit was nie voorheen so nie. In daardie periode was Paulus 'n ekstreme Fariseeër wat die gemeente van Christus vervolg het. Maar onderweg na Damaskus het die Here hom aanvanklik letterlik verblind. Dit het gebeur toe die Here aan hom verskyn in die persoon van die opgestane Here Jesus. Paulus moes toe nie eers 'n preek aanhoor oor die opstanding van iemand wat hy op daardie stadium gehaat het nie. Nee, die persoon self, die Here Jesus, het persoonlik aan hom verskyn. En daarna verloor Paulus sy sig. Die verbindings van sy oë met sy brein word as’t ware verbreek. In ‘n oogwink. Skielik is hy totaal blind. Op daardie manier moes Paulus leer om nie op homself te vertrou nie. En daarna het die Here weer sy oë ge-open. Letterlik en figuurlik. Paulus het ontdek en begin glo dat Jesus van Nazaret werklik die beloofde Messias was wat gekom het om sy volk te red. Dit het Paulus ontdek nadat die Here sy oë vir die waarheid geopen het. Paulus verwoord dit in 2Kor3v5-6: Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament. Dienaar van ‘n nuwe verbond. Mens kan dus sê: Vóór Damaskus was Paulus dienaar van die ou verbond. En ná Damaskus mog Paulus ‘n dienaar word van die nuwe verbond.

Paulus bring hierdie na vore omdat daar in Korinthe klaarblyklik nog meer fanatieke dienaars van die Ou Verbond was. En dit het ernstige gevolge. Paulus ken dit uit jarelange ervaring. Daarom tref hy ter wille van die duidelikheid ‘n vergelyking tussen die ou en die nuwe verbond.

Die ou verbond was gebaseer op die wet. Toe die Here die verbond met die volk gesluit het, by die berg Sinaï, het dit gepaard gegaan met die vertoon van die Here se luister en glorie. Die berg Sinaï het gebewe en geskud. Temidde van 'n oorverdowend geluid. Die mense het van angs probeer wegkruip. En toe Moses die wet van de Here in ontvangs geneem het, het sy aangesig so gestraal dat dit die volk pynlik verblind het. Hulle kon dit nie verduur nie. Daarom het Moses sy aangesig met ‘n kopdoek bedek.
Die wet van die verbond was 'n wonderbaarlike geskenk van die Here aan sy volk. Ons kan dit lees en daaroor sing soos in Psalm 19. Ons lees dit ook in Psalm 119. Hoe lieflik is u wet, o Here!

Die wet was bedoel as ‘n liefdevolle handreiking. Indien mense hulle sou hou aan hierdie reëls dan sou hulle steeds binne die verbond met die Here kon bly lewe. Die doel van die gebooie was net om mense te beskerm. Om hulle vastigheid te gee. Om hulle te versterk. Hoe mooi sou dit nie kon wees as almal die Here God sou gaan dien op presies die manier wat Hy voorgeskryf het nie? En hoe pragtig sou die lewe nie kon wees as almal altyd met respek oor die Here sou spreek nie? Dink daaraan hoe alle moegheid en stress sou kon verdwyn as almal op die 7de dag sou rus en tyd sou neem om ernstig na te dink oor die bevryding uit slawerny? En wat sou die lewe harmonieus wees as alle kinders gehoorsaam sou wees aan hul ouers en die ouers slegs verstandig met hul kinders sou handel? Gestel jy sou nooit hoef te vrees vir ‘n oorveeg of ‘n teregwysing nie. Vir ‘n meisie sou dit volkome veilig wees om alleen in die donker op straat te wees. Dit sou nie nodig wees om of jou huis of jou motor te sluit nie. Niemand sou ooit leuens spreek nie. Ja, so sou dit kon wees as die volk volgens die reëls van die Here sou lewe. Dit sou ‘n samelewing skep waarin jy gelukkig sou kon wees. Het die Here nie self aan Moses gesê: As julle my gebooie in ag neem dan sal jou put nooit opdroog nie, julle oes sal nooit misluk nie, daar sal geen miskraam wees nie en geen vyand sal iets teen jou kan uitrig nie?

Dit was die doel van die gebooie, brs en srs. Dit sou ‘n heerlike lewe moontlik maak binne die verbond met die Here. Daarom is die gee van die wet ook begelei met die luister en glorie van die Here, en nie met die geluid van sweepslae nie.

Vanweë de Here se luister en glorie moes Moses elke keer sy aangesig bedek nadat hy die Here besoek het. Maar, so sê Paulus: Omdat Moses steeds die kopdoek gedra het, kon die Israeliete nie sien dat iets stadigaan verander het nie. Hulle het nie waargeneem dat die glans van Moses se gesig stadigaan verminder het nie. Dit is nie deur Moses veroorsaak nie. Nee, die luister en glorie van die wet het verdwyn, namate die volk hul meer los gemaak het van die God van die wet. Die volk Israel moes raaksien dat die wet uiteindelik nie aan hulle die lewe kon gee nie. Nee, die lewe was afkomstig van Hom wat die wet aan hulle gegee het. Maar hulle het dit nie verstaan nie. Hulle denke oor die wet het verstar. Wat gebeur het, nie letterlik nie, maar figuurlik: die bedekking wat Moses oor sy aangesig gehad het vanweë die skitterende luister en glorie van die Here as wetgewer, daardie bedekking is steeds meer verplaas na die harte van die Israëliete. Die bedekking van Moses se gesig, het stadigaan ‘n bedekking oor hulle harte geword. Hulle het verkeerdelik begin dink dat die wet self die uiteindelike doel was. Hulle het gemeen dat die wet aan hulle die lewe kon gee. Op watter manier? Hulle het gedink en geglo dat indien hulle presies die wetsvoorskrifte hou, hulle daarmee punte kon verdien om die lewe van God te verkry. Die wet was dus slegs ‘n middel waardeur uiteindelik hulle self die lewe kon verdien.

Ons moet goed verstaan, brs en srs: die Here het aan ons die wet gegee om die lewe in die verbond, sê maar die aardse lewe, mooi te maak. En as dit sou blyk, en in werklikheid het dit ook gebeur, dat die Israëliete dit nie kon regkry om hulle aan die wetsvoorskrifte te hou nie, dan sou dieselfde wet verander na ‘n groot roep om hulp van buite af. Want dit wat die wet as beeld van ‘n mooi en harmonieuse lewe aan ons voorhou– dit wil ons immers nie prysgee nie! Daarom tipeer Paulus die wet ook as die tugmeester na Christus toe. Die wet lei jou as’t ware na Christus toe. Hy is die Enige wat ons kan red. Die wet self kan jou nie red nie, al het dit ook met groot luister en glorie na die aarde toe gekom. Die wet beteken selfs vir ons ons doodvonnis. Die wet leer jou dat jy nie uit jouself gehoorsaam kan wees nie, maar ook dat jy nie uit jouself na die Here wil luister nie.

Hierdie voorafgaande dinge het die Israëliete dus nie geweet nie. Waarom nie? Omdat hulle hul blind gestaar het op die glorie en luister van die wet. En die dwaalleraars in Korinthe gebruik presies hierdie kwessie om die gemeentelede nog verder in die moeras te stoot. Hulle het naamlik Paulus probeer monddood maak deur te beweer dat ‘n mens sy lewe maklik veilig kon stel deur jou te hou aan die glorieryke wet van die Here. Is dit nie ‘n duiwelse plan nie? Hulle belowe jou die lewe deur die wet, terwyl die wet glad nie bedoel was om jou die lewe te gee nie. Die wet is gegee om 'n pragtige lewe vir jou af te beeld. Om jou aan te moedig om die regte weg te vind om presies dit te ontvang wat die lewe kan bied, maar nie afkomstig uit jouself nie, maar van die Here. Om dit duidelik te wys was in die ou testament die offerdiens ingestel. Dis nie jyself wat betaal vir jou lewe deur ‘n noukeurige nalewe van die wet nie. Dis ‘n plaasvervanger wat vir jou sondes met sy lewe betaal.

Dis nie 'n saak wat slegs bedoel was vir die Jode in die Ou Testament nie. Omdat ons byvoorbeeld deesdae reeds almal afstand geneem het van hierdie Ou Testamentiese denkrigting. Nee, ook ons kan vinnig op die verkeerde spoor beland dat gehoorsaamheid aan die wet vir jou punte kan verdien. En as jy eenmaal op die spoor beland het, dan word dit spoedig ‘n fyn kuns om ‘n positiewe saldo te handhaaf. Ons maak dan net soos die WeightWatchers in hulle voorskrifte: jy mag gerus sondig teen, sê, reël 16, wat bepaal dat jy geen soetigheid of vettigheid mag neem nie. Dis die wet. Maar, jy mag gerus koffie met koek geniet wanneer jy inkopies doen in Menlyn. Jy mag gerus ‘n lekker bord vis en tjips geniet in Ocean Basket. Mits jy dan die volgende dag ‘n ooreenkomstige minder hoeveelheid kalorië inneem. So maak ons dat ook met die wet van die Here. Gestel dat jy moeite ondervind met ‘n sekere gebod, of jy struikel dikwels daarmee. Of jy struikel dalk selfs met opset. Dan kompenseer jy daarvoor deur ander gebooie meer nougeset te onderhou. Wetsonderhouding word dan ‘n kwessie van balans.

Maar dan mis ons die bedoeling van die wet. Ons bevind ons dan op ‘n volledig verkeerde golflengte. Die golflengte van mense wat volledig Christus miskyk. Ja, jy ken Christus, maar slegs baie beperk. En jy kyk Christus nie reguit in die oë nie. Maar in die geval sien jy nie die liefde in Sy oë raak, waarvolgens Hy jou lewe wil verander nie. Ons moet weet: Christus kyk nie na jou salaris of jou gemiddelde verkoopsyfers nie. Of jou posisie in jou vriendekring nie. Nee, Christus wil deur Sy liefde jou hart verander. Maar dan moet jy reguit na Christus kyk en nie fokus op iets anders nie.

Maar wat gebeur as jy jou kop effens draai sodat jy die Here Jesus direk aankyk? Wat gebeur as ons Hom sien soos Hy in die NT na ons toe kom? Wat gebeur as jy Hom eerbiedig vra: Here, hoe kan ek my lewe behou? Hoe kan ek deel kry aan die heerlike lewe van liefde vir U en vir my naaste? ‘n Lewe soos dit uitgestippel word in U pragtige wet? Wel, as jy met so ‘n vraag die Here nader, dan gebeur daar 'n wonder. Die bedekking, die sluier word van jou hart en aangesig weggeneem. En dan sien jy ineens: ek is vry. Ek het nie meer te make met ‘n harde en onversadigbare meester bo my nie. Christus maak my vry. Simbolies gesien spoel die doopwater die mag van die slawedrywer - die sonde – weg uit die lewe van God se kinders.

Hoe kan dit gebeur? Laat ons luister na wat Paulus daaroor sê. Paulus sê dat as jy reguit na Christus kyk dan sien jy Sy glorie en luister. Daarmee bedoel Paulus nie dat Sy hoof straal soos by Moses nie. Of dat sy oë lig uitstraal nie. Of dat Hy omstraal is deur 'n wonderbaarlike aura wat rondom hom straal soos by die ikone van die Russiese ortodokse kerk nie. Nee, die glorie en luister van die Here hou daarmee verband dat Hy presies dieselfde wet as wat die volk Israel destyds op die berg Horeb ontvang het, nie ongeldig verklaar het nie; maar dat Hy dit vervul het. Kom ek verduidelik dit kortliks: Die Jode het 'n stelsel ontwikkel waarvolgens hulle gepoog het om 24 uur per dag te fokus op die wetsvoorskrifte. Dit was ‘n gesofistikeerde stelsel van ingewikkelde reëls waarvolgens jy jou uiterlik – met toe oë – jou volledig aan die wet kon hou.

Deur hierdie stelsel het Here Jesus 'n dik streep getrek. Hoe? Deur Self volledig gehoorsaam te wees aan die wet van Sy Vader. Hy het die wet vervul en ten volle uitgevoer. Hy het elke aanval van die satan suksesvol afgeweer. Nie deur Hom uiterlik aan alle gebooie te hou nie, maar deur van harte gehoorsaam te wees aan die Wetgewer self. Christus was uit liefde aan die wet gehoorsaam. Elke keer is Hy deur liefde gedryf in sy besluit om gehoorsaam te wees aan sy Vader. En dit was ook uit liefde vir ons dat Hy na die aarde toe gekom het om die enorme stryd met die satan aan te gaan.

Wie dus as Korinthieër, of as lid van die gemeente te Pretoria, homself rig op die Here Jesus, sien 'n mens wat volmaak daardie lewe geleef het onder die spervuur van die satan. Want die satan het heel sy weersinwekkende wapenarsenaal op die Here Jesus afgevuur. Tog het die satan dit nie reggekry om enigsins inbreuk te maak op Sy lewe van liefde nie. Die satan het dit wel reggekry om die liggaam van die Here Jesus te beskadig, maar nie Sy lewe vir sy Vader en vir ons nie. Die Here Jesus het alles oorwin wat dit vir ons onmoontlik gemaak het om ons aan die liefdeswet te hou. Hy het die satan oorwin. En daarom het nou die Here Jesus die luister en glorie van sy Vader ontvang. Kyk daarom reguit na die Here Jesus en jy sien die littekens aan Sy hande. Maar dit is die teken van Hom as Oorwinnaar. ‘n Sterk held. ‘n Magtige Verlosser. Iemand wat miljoene engele tot sy beskikking het om te doen wat hy wil uitvoer. En as ons dit besef dan verdwyn die bedekking van die sluier van ons aangesig en van ons hart. En ons dink selfs nie meer daaraan om self die wet te gaan doen om daarmee die volmaakte werk van die Here Jesus te herhaal nie. Ons verban enige gedagte uit ons hart en verstand dat ons sou kon punte verdien deur byvoorbeeld nie te vloek nie en deur netjies ‘n paar persent van ons inkomste vir die Here te gee. En ons voel ‘n pen wat hierdie dinge diep in ons hart skrywe. Ja, dis reeds vir ons bekende woorde. Ons ken dit selfs uit ons koppe. Maar dit staan nie meer op steen geskryf nie. Nee, dit is nou in ons harte geskryf. Ons benodig nie meer dwang van buite af nie. Ons doen dit nie meer omdat ons dit moet doen nie. Of omdat dit die gewoonte is nie. Of omdat ons bang is vir straf nie. Maar ons wil dit graag doen! Ons word almal mense wie se harte verander het. Soos Paulus dit stel: Ons verander in ooreenstemming met die luister en glorie van die beeld van ons Heer. En ons wil nou die wet uitvoer, nie om daardeur iets by te dra tot ons eie redding nie. Hoe sou ons dit in elk geval kan doen, ons wat steeds sondige mense is? Nee, ons gaan die wet doen, maar dan net soos Christus dit gedoen het - uit liefde! Ja, ons doen dit met val en opstaan. Maar tog groei dit steeds. Al hoe meer, sê Paulus. Hoe skerper en hoe meer dikwels ons na ons Heiland kyk, hoe meer dat ons raaksien wat Hy uit suiwer liefde vir ons gedoen het. En des te meer verheug dit ons en hoe meer dankbaar ons word. Dis nie die wet wat verander het nie, maar dis ons wat verander.

Diegene wat hulle laat ontmoedig deur die steeds herhalende wetsprediking wat ons telkens weer moet aanhoor, kan daarmee verraai dat hulle glo dat hulle dit self moet doen. Maar, sê Paulus dwars teen die dwaalleraars in: "waar die Gees is, daar is vryheid." Dit beteken nie dat ons die wet moet wegdoen nie. Nee, die Gees is die Gees van die Here. En die Gees sê: Kyk, julle mag soos veranderde mense deur die lewe gaan. Ons kan ons kwalik voorstel watter heerlike lewe dit is. ‘n Lewe tussen mense wat van jou hou. Mense wat niks anders beoog as om hulle geluk met jou te deel nie. Sodat ons gesamentlik steeds meer onder die indruk kan kom van die liefde van God.

Moontlik sê jy: Dit is vir my onmoontlik. Nie dat ek onwillig is nie. Ek is wel gewillig, minstens so af en toe. Maar ek is nie daartoe instaat nie. En dan sê die Here deur sy Gees wat by jou inwoon: "Jy kan dit inderdaad nie doen solank jy dit op eie krag wil doen nie. Maar sodra jy dit aan My oorlaat, dan is jy vry. Vry van die gedagte dat jy deur wets-onderhouding, self jou toekoms kan veilig stel. Ek help jou daarom nie eers om dit te probeer om as’t ware, ‘n paar punte te verdien nie. Wel help Ek jou om 'n lewe te lei waarin die reeds verslane satan ook wat jou betref verslaan is. Ek help jou om die Here Jesus te erken as Diegene wat dit reeds lank tevore in jou plek voldoen het. Ek help jou om duidelik die grootheid van Sy liefde raak te sien in Sy oorwinning oor alles waarmee jy tot aan die dag van vandag worstel."

Luister na die woorde van die Gees en sien dan waarom nie slegs jou aangesig sal begin straal nie, maar dat ook jou lewe hoe langer hoe meer de luister en glorie van die Here sal begin vertoon. En onthou dat Hy ook Sy Gees stuur om ons aan mekaar te verbind. Hoe sal die ellendige satan wat deur Hom oorwin is, dan nog ooit die kans kan kry om ons lewens te versuur? En hoe kan ooit die Here Jesus straal van die glorie en luister van sy Vader, sonder dat dit ook op ons lewens sal afstraal? Want ons is deur die Gees nader aan die Here as wat Moses dit ooit was.

Is dit 'n peptalk? Is dit die alom gebruikte mantra: Ja, ons kan!? Nee, dit is nie. Want die Gees van die Here Jesus verbind ons met Hom. Ons bestyg nie eers ‘n berg en kom dan terug met 'n stralende aangesig as gevolg van 'n kort ontmoeting plus ‘n peptalk nie. Nee, ons is deur die Gees verbonde aan Hom wat as die groot Oorwinnaar, ‘n volkome Goddelike luister besit. En hy sê nie: Eers moet jy dit en dat doen en dan ontvang jy deel van my luister en glorie nie. Nee, hy skenk ons Sy Gees en laat ons sien dat die wet reeds lankal vervul is. Die lewe is reeds verdien. Vir die luister en glorie is reeds betaal. Sien dit raak, brs en srs, en maak julle hande oop. Laat alles los wat die hande voorheen vasgehou het, en ontvang ‘n lewe van liefde vir God en ‘n liefde vir die naaste presies soos omskryf in die wet. Sodat ons mag deel word van 'n wonderbaarlike skepping van God. Volkome ingerig volgens die bouplan afgeteken in die wet. En ons mag so word as ons slegs na Christus kyk. Maar dan kyk ons nie na Christus as Eén wat ons nie ken nie. Maar ons kyk na Hom wat ons aan Homself verbind het. Heel persoonlik in de doop. Ons kan Hom elke dag in die oë kyk. So naby is Hy. Ons mag ons koester in Sy luister en glorie. Omdat Hy vir ons die wet vervul en daarmee ons sonde en dood oorwin het. Dit alles hou Hy nou reeds aan ons voor. Heel letterlik. En ek mag reeds aan julle verkondig: As julle jul oë deur Hom laat oopmaak, dan mag julle deel in die luister en glorie van Hom wat die sonde, die duiwel en die dood verpletterend oorwin het. Met slegs een doel: Om vir almal sigbaar te maak hoe groots en vol liefde God is. So groots dat selfs u en ek verander sal word na die beeld van Christus: ware kinders van God, geskep vanuit God se grootse en heerlike liefde.

Amen.

Liturgie: 

Afkondigings
Votum & Seengroet
Psalm 147: 1
Lesing van die wet
Psalm 25: 2,5
Gebed
Skriflesing: 2 Korinthiërs 2: 14 – 3: 18
Psalm 17: 1,2,7
Teks: 2 Korinthiërs 3: 15 – 18
Verkondiging
Psalm 112: 1,2,6
Gebed
Kollekte
Psalm 111: 1,5
Seen