'n Gebed vir alles wat nodig is vir 'n lewe wat aan God se doel beantwoord

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-10-10
Text: 
Spreuke 30:7-9
Reference: 
Biddag vir Gewas en Arbeid
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus. Brs en srs.

Solank ons oor 'n leefbare inkomste beskik, sê maar minstens die vlak van inkome van ‘n gemiddelde blanke Suid-Afrikaner, aanvaar ons baie dinge as vanselfsprekend. Maar sodra ons besteebare inkome verminder, sodat ons minder kan koop as voorheen, dan merk ons skielik dat dinge nie meer so vanselfsprekend is nie. Gesondheid is ook iets wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar totdat ons siek word. Ja, dan kan jou wêreld skielik in duie stort. Of jy kry 'n ernstige motorongeluk. Jy kyk die dood in die oë. En jou lewe verander. Dit voel vir jou, jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Of jy verloor jou werk. Jy kry die gevoel dat jou lewe geen sin meer het nie. Of jy ervaar op skool iets wat alles in ‘n oomblik verander. Jy word beskuldig van iets wat beslis onwaar is. Ja, niemand is seker dat sy lewe môre nog net so glad sal verloop soos vandag nie.

Vandag is dit biddag. Aanstons sal ons as gemeente die Here nader in gebed. En dan gaan ons 'n seën oor ons lewens afbid. Oor alles wat ons besig hou. Dan sal ons aan die Here bely dat alhoewel ons ons nie altyd van Hom afhanklik voel nie, ons tog besef dat dit wel die geval is. Ons is afhanklik! Daarom is dit 'n ernstige en noodsaaklike gebed. Ter voorbereiding op daardie gebed, gaan ons luister na wat die Here in sy Woord vir ons sê. Ons teks kan as volg opgesom word:

Ons teks is 'n gebed vir alles wat nodig is vir 'n lewe wat aan God se doel beantwoord.

Brs en srs. By ‘n teks soos dié van vanoggend/aand, is mens geneig om onmiddellik te fokus op die deel wat redelik eenvoudig is om te verstaan. Agur vra die Here of Hy hom iets sal gee tussen rykdom en armoede. Want in beide van hierdie uiterstes, rykdom en armoede, skuil sekere gevare. En Agur wil daarteen beskerm word. En dit lyk daarom asof Agur vra: Here gee my iets tussen rykdom en armoede. In daardie geval sal hy dan ook voldoende hê vir ‘n redelike lewe. Dan mag Agur tevrede wees en hoef hy hom nie verder daaroor te bekommer nie. Ons kan dit toepas op ons huidige situasie: dit kom min of meer daarop neer dat ons die Here vra om 'n gemiddelde inkomste, terwyl ons dalk tog heimlik hoop op die dubbelle daarvan. Ryk wees is nie nodig nie, maar ons sou ook nie ontevrede wees oor ‘n inkome effens meer as dit wat ons nou het nie. Maar die vraag is natuurlik of Agur ons in hierdie teks werklik leer om te bid vir 'n gemiddelde inkome wat ons lewe relatief gerieflik en vry van finansiële sorge maak.
Kom ons begin by die begin. Agur vra nadruklik twee dinge van die Here. Hy wil graag teen leuens en bedrog beskerm word, en hy wil vir rykdom en armoede bewaar word. Daar is dus twee sake. En Agur vra dit nie slegs vir 'n beperkte periode nie, maar vir sy hele lewe. Tog moet ons verstaan dat Agur nie vra vir ‘n lewenslange waarborg vir 'n gerieflike lewe nie. In sy gebede koop hy as't ware nie 'n versekeringspolis by 'n gesiene Switserse bank, wat lewenslange inkome waarborg nie. Nee, want uit die vraag wat Agur aan die Here stel, blyk reeds dat hy besef dat as die Here nie na hom luister nie, as die Here hom nie gee wat hy vra nie, sy lewe bedreig kan word. Dan kan dit gebeur dat die duiwel hom in sy greep kry en hom sal versoek om ter wille van materiële dinge van God afskeid te neem. Vandaar hierdie dringende pleidooi: “Asseblief, Here, weer leuens en bedrog in my lewe. En gee my geen rykdom of armoede nie.” Dit lyk moontlik na twee sake wat min met mekaar te make het, maar ek sal probeer aantoon dat dit inderdaad wel met mekaar verband hou.
Hierdie dinge sal meer duidelik word as ek eers die tweede bede hanteer. Dis ook die deel wat die beste pas by ons verwagting van ‘n dag van gebed. Dis die bede: Here, gee my nie rykdom nie, maar ook nie armoede nie. Ons verstaan dit dikwels só dat ons daarna moet streef na iets tussenin, wat dit ook al mag wees. Tog is daar meer. Daarom wil ek julle vra om persoonlik betrokke te raak by hierdie bede. Dit is hoekom ek vra: Het jy die afgelope jaar so ‘n verlange ervaar? Of ervaar jy dit tans, reeds vandag? Kom ons kyk eerlik in die spieël. Kom ons vergelyk ons onlangse lewe met die bede tot die Here wat Agur aan ons voorhou.
Ek dink, brs en srs, dat niemand van ons ooit 'n verlange na armoede ervaar het nie, selfs al was dit dan in die geheim. Moontlik kon sommige van ons gedink het dat die lewe van 'n monnik in 'n klooster tog nie so sleg is nie. 'n Monnik besit wel niks nie, maar tog hoef hy hom nie te bekommer oor kos, klere en onderdak nie. Maar 'n verlange na armoede, nee, dit klink vir ons ongewoon! En niemand sou aan die Here durf vra vir ‘n brand wat sy besigheid in puin lê nie. Niemand het die Here ooit gevra vir 'n orkaan of 'n aardbewing wat sy huis vernietig nie. En niemand sou daaraan dink om die Here te vra dat 'n plantsiekte sy kosbare mielie-oes aantas nie. Nee, ons vra nie vir armoede of ellende nie. Dit sou dwaas wees.
Met rykdom is dit 'n beslis anders. Nee, miskien vra ons die Here nie direk vir rykdom nie. Vir ons gevoel is dit onvanpas. Maar tog dink ek, min mense het nog nooit gedroom van 'n groot erfenis nie. Of gehoop vir 'n groot suksesvolle onderneming nie. Of na die suksesvolle afhandeling van ‘n groot besigheidstransaksie of 'n groot bestelling wat baie vir jou sou beteken nie. En wie het nog nooit gedroom van 'n persoonlike voordeel, wat jou meer finansiële ruimte sal bied nie? In kort, die begeerte na rykdom is by ons baie meer prominent as die begeerte na armoede. Laat ons daarom eers kyk na die gevare van rykdom.
Die vraag is waarom die wyse Agur, dienskneg van die Here, bid dat rykdom van hom weerhou mag word. Dit is nie omdat daar as sulks iets verkeerd is met rykdom nie. Heel dikwels lees ons in die Bybel dat rykdom en voorspoed as 'n seën van die Here gesien kan word. Nee, daar is niks verkeerd met rykdom nie. Maar daar is wel iets fout met ons as mense. Rykdom kan ‘n gevaar vir ons inhou. Agur sê hieroor: Dit is moontlik dat as ek alles het wat my hart begeer, ek die Here sal kan verloën deur te sê: "Wie is die Here?" Jy hoef dit nie eers hardop te sê nie, maar dit kan tog ongemerk jou lewenshouding wees. Namate die aantal nulle in jou banksaldo vermeerder, hoe minder word ons gevoel en besef van ons afhanklikheid van die Here. Want in die geval van rykdom ondervind ons in die praktyk dat steeds meer dinge binne bereik kom. Die veelheid van goedere en dienste wat jy kan koop, skep steeds minder die gevoel dat jou geld ooit sal opraak. Selfs as jou kredietkaart iewers nie werk nie, is dit maklik genoeg om die probleem vinnig op te los.
Laat ek u 'n voorbeeld gee wat op 'n heel ander vlak lê, maar wat tog illustreer hoe jou gevoel van afhanklikheid van die Here baie maklik kan afneem.
As ek 'n langpad motorrit aanpak, hoop ek altyd dat die enjin sal bly loop. Want as iets met die enjin verkeerd gaan, dan het ek geen idee hoe om dit weer aan die gang te kry nie. Ek word dus vir 100% afhanklik van hulp van buite af. Maar ek kan my voorstel dat ‘n persoon wat wel kennis dra van enjins, beslis nie dieselfde bekommernisse as ek ervaar nie. Want as probleme opduik, dan kan jy dit self oplos. Gestel jy weet alles van enjins. Die werking van die enjin hou geen geheime vir jou in nie. Jou hart klop dan nie vinniger as jy verby plekke ry waar jy hulp sou kon kry nie. Want jy sou enjin probleme waarskynlik maklik self kan oplos indien dit opduik.
Iets soortgelyk gebeur as jy baie geld besit. Jy kan maklik alles koop wat jy nodig het. En daarmee verskuif die Here God maklik na die tweede plek. Slegs as jy iets nie meer self kan regkry nie, dan doen jy 'n beroep op die Here. Ek dink dat ons dit almal herken, selfs al is jy nie ryk is nie. Ons besit immers almal kundighede op gebiede in ons lewens waar ons in so ‘n mate tuis voel dat ons maklik voel dat ons nie meer in die eerste plek die Here nodig het nie. Wie bid tot die Here as hy hoofpyn het? Jy doen dit nie. Jy neem 'n pynstiller. En slegs as die pyn nie verdwyn nadat jy 6 pille gedrink het nie, en as die dokter ook nie weet hoe om dit hanteer nie, eers dan kyk ons op na die Here. Dit is eintlik presies dieselfde as om te sê: “Wie is die HERE? Ek kan sonder Hom klaarkom. Ten minste in die meeste gevalle.”
Nou gaan ek nog ‘n stap verder. Want Agur bedoel regtig nie dat slegs rykdom ons maklik kan verlei om die Here te vergeet omdat ons meen dat ons Hom nie nodig het nie. Nee, dit is ook belangrik hoe jy jou besit hanteer. En dan besef ons dat ook ander dinge ons kan verlei om presies dieselfde te doen as wat rykdom kan doen. Agur verwoord dit met die woord “verloën”. Dit sluit aan by die eerste bede van ons teks, "Hou valsheid en leuentaal ver van my af” en ”dat ek U verloën nie, en sê: Wie is die HERE?” Derhalwe is die 'verloëning' van die Here nie iets wat jy as gelowige slegs met woorde kan doen nie. Ons is verstandiger as dit. Die gebruik van woorde maak dit veels te opvallend. Nie een van ons sal ook ernstig sê: "Die Here het niks daarmee te doen nie." Maar ons optrede spreek dikwels wel duidelike taal – ons kan maklik daarmee die Here ignoreer. Ons sien dit dikwels uit die manier waarop ons ons besit hanteer. En dit verraai ‘n heel ander ingesteldheid as wat die Here van ons vra.
Ons ken vanuit die Bybel die veel gebruikte beeld van ‘n rentmeester. 'n Rentmeester is iemand wat die eiendom van 'n ander moet bestuur. Wel, wat dink jy van 'n rentmeester wat pronk met die dinge wat aan hom toevertrou is, terwl hy veronderstel is om dit slegs te bestuur? Dis immers nie dinge wat hy self besit nie! Wat dink jy van 'n rentmeester wat die geld van sy heer verkwis op dinge wat slegs sy eie beeld wil verbeter? Dit is onvanpas en sy meester sal dit nie duld nie. Want die rentmeester is slegs aangestel om die eiendom van sy heer te bestuur. Hy is nie veronderstel om daarvan vir eie voordeel te gebruik nie, maar slegs vir die voordeel van sy heer.
As ons hierdie beginsel op onsself toepas, dan besef ons dat die Here aan elkeen van ons Sy besit uitdeel om dit in Sy Naam te bestuur. Aan jonk en oud, siek en gesond. Dit beteken dat ons dit slegs mag gebruik vir die doel waarvoor Hy dit gegee het. Die Here vra dan dat ons ons lewens, ons besit en eenvoudig alles wat ons het, op Hom moet rig. Hy is die Skepper en Gewer daarvan en Hy het reg daarop. En sodra ons ons besit, en in die voetspoor daarvan ook ons lewens, van die Here losmaak, dan doen ons presies wat Agur wil voorkom. Waarteen Agur ons graag wil beskerm. Want volgens Agur het dit noodlottige gevolge vir ons lewens. En nou gaan ek probeer om dit 'n bietjie meer konkreet in te vul. Want ek is bang dat ons dit anders maar net vir kennisname aanvaar en dat ons ons lewens op ‘n verkeerde manier sal voortsit.
Die meeste van ons se verdienste word elke maand outomaties op ons bankrekening gedeponeer. Maar selfs al ontvang ons dit as kontant of as geleeentheids-inkomste of voordeel, dit is steeds dieselfde: Ons kry beskikking oor geld. Of dit nou baie geld of minder is. Die besteding van ons geld is nie 'n saak waarmee die Here niks te make het nie. Ons moet onsself afvra: wie is ons eienaar? Dit is die Here! Hy het ons vir die volle prys gekoop. Hy het Sy lewe vir ons gegee. Ons is dus Sy besit. En dit beteken nie net dat dit wat ons as ons besittings beskou, maar ook ons hele lewe gerig moet wees op die doel wat die Here daarvoor bepaal het. Net soos ons nie vry is om self oor ons lewe te beskik nie, is ons ook nie vry om self oor ons besit te beskik nie. Dit vra nie van ons ‘n gedwonge of krampagtige ingesteldheid nie, laat dit duidelik wees. Die Here beoog slegs ons eie welsyn. Hy het Sy onmeetlike liefde vir ons reeds van ewigheid af beskik. Nie ons moet sterf nie, maar die Seun van God het vir ons gesterf. Sodat ons die ware lewe kan ontvang. God het nie gesê: Hier gee ek jou reeds 'n gedeelte van die lewe nie, kyk maar of jy daarmee genoegsaam kan klaarkom. Nee, die lewe wat ons ontvang, is slegs ‘n ware lewe solank dit met Christus verbonde is. En daarom moet dit ook sigbaar word in ons alledaagse lewe. Ons lewe moet aantoon dat ons God dien. Ons moet ons self die vra voorhou: Toon ons lewe daadwerklik dat ons aan die Here verbonde is? Want dan loof ons die Here met ons lewe en met alles wat Hy ons in daardie lewe gee. Ons, brs en srs, het slegs een doel op aarde en dit is om 'n lewende offer van lof aan God te wees. En dit beteken dat as jy jou inkome bestee buite die Here om, dat jy dan terugkeer na die lewe buite God om. Maar ons moet ieder dag bedenk: die lewe wat die Here gee, is ‘n verloste lewe waarvoor Hy 'n hoë prys betaal het.
Op hierdie manier kry inkome en besteding-syfers onmiddelik 'n geestelike dimensie. Net soos jou gesondheid ook 'n geestelike dimensie het. So-ook die tyd waaroor jy mag beskik. En die vraag word derhalwe: hoe gebruik jy jou liggaam? Hoe hanteer jy jou siekte? Wat maak jy met jou tyd? Dit is alles dinge wat ons nooit van die Here mag losmaak nie. Want as ons dit doen, dan val ons in die strik van rykdom, wat durf vra: "Wie is de Here eintlik?" Dit wil sê: “Ek kan ook sonder Hom klaarkom. Ek het Hom nie nou nodig nie.” Maar so ‘n ingesteldheid beteken wel die einde van jou lewe met God. Want ‘n lewe afsonderlik van die Here, is geen ware lewe nie. En dit is die diepere gevaar van voorspoed en rykdom.

Dit is presies ook die geval met armoede. Nee, niemand verlang na armoede nie. Maar dit kan jou natuurlik wel oorkom. Selfs in wisselende mate. 'n Ramp kan jou lewe onverwags tref. Terwyl jou toekoms vooruitsigte juis so rooskleurig was. Jy het juis jou bestedings-patroon reeds in lyn gebring met hierdie gunstige vooruitsigte. Maar skielik tref ‘n ramp jou. Jy verloor jou werk. Jou huwelik val uitmekaar. Of 'n ernstige siekte verg skielik groot en onvoorsiene finansiële laste.
Agur sê dat ware armoede jou maklik kan verlei tot diefstal. Ja, ons kan maklik verstaan hoekom. Dit is kortliks dit: om ekstra geld te verdien buite sig van die belastingowerheid, is baie meer aantreklik as om ander mense of die diakens te nader vir hulp. Maar daar is ook ‘n meer dieperliggende saak. Ek wil graag ‘n voorbeeld daarvan gee. Dis gebaseer op ‘n Nederlandse situasie. In Nederland dra kinders nie formele skooldrag nie. Ons kan dus maklik aan die kleding wat 'n kind dra,sien of die kind uit 'n welgestelde of arm gesin afkomstig is. ‘n Ma ontdek dat haar kind op skool geboelie word omdat sy klere dra wat by 'n winkel soos Pep gekoop is. Hoe gaan die ma daarop reageer? Maar die ma is vindingryk. Sy weet waar sy etikette van duur handelsmerke kan bekom. En sy heg hierdie etikette van duur ontwerpersklere vas aan haar kind se klere. Probleem opgelos. Ja, gebrek en 'n beperkte begroting kan vreemde situasies veroorsaak. Agur het dit geweet en hy hou rekening daarmee. Gebrek kan maklik veroorsaak dat jy 'n bietjie of selfs baie oneerlik kan optree. Hy veroordeel dit met baie sterk woorde: Hy vra die Here dat armoede hom nie sal verlei om die Naam van die Here oneer aan te doen nie. U wonder waarskynlik of diefstal weens armoede dan so erg is dat dit die Naam van die Here oneer aandoen. Maar onthou, brs en srs: elkeen wat steel, al is dit as gevolg van armoede, sê in werklikheid aan die Here: “Here, U sorg glad nie goed vir my nie. Want wat ek wil hê, kan ek nie koop nie”. Daarom moet ek dit steel. Ek stem beslis nie saam met die klein inkome wat U my gee nie. En dit terwyl die Here self nadruklik allerhande wette in Israel ingestel het met die doel om die gevolge van armoede te bekamp. Hou ook in gedagte, seuns en dogters, dat die Here destyds by jou doop, heel persoonlik aan jou belowe het: “Omdat jy aan my behoort, is jy My kind en daarom sal Ek jou soos ‘n Vader versorg. Maar as jy steel, dan beantwoord jy eintlik Sy belofte met woorde soos: U sorg heeltemal nie goed vir my nie. Want dit wat ek wil hê, kan ek nie koop nie. Daarom moet ek dit steel.” Maar dan doen jy die Naam van die Here oneer aan. Dit is wat Agur bedoel met “leuentaal” in sy eerste bede [Hou valsheid en leuentaal ver van my af]. Hoe jy in so 'n geval met jou eie besit en met die besit van 'n ander omgaan, toon iets wat Here sterk afkeur. Terwyl die Here jou vra dat jy iets van Sy beeld - sy trou en goedheid - moet vertoon, doen jy die teenoorgestelde. Dis nie iets wat die Here in jou bewerk het nie, maar wat sy groot teëstander aan jou doen. Die duiwel kan dan spottend sê: “Kyk, Here, U het nie veel sukses met so-en-so nie, of hoe? Kyk net hoe ontevrede hy is en dat hy U voorskrifte in die praktyk verwerp en sodoende op my manier (die duiwel s’n) probeer om sy probleme op te los.” En daarom is , brs en srs, nie alleen jou woorde leuens en vals nie, maar jou hele lewe word 'n leuen. Omdat jy jou lewe van die Here losmaak. Ons doen dit dus deur ons bewustelik van Hom te distansieer in geval van armoede, of deur dit onbewustelik te doen in die geval van rykdom. Want dan wil jy jou lewe nie meer rig op die eer van die Here nie, maar dan rig jy dit slegs op jouself. En jou lewe toon nie meer 'n regte beeld van ons Skepper nie, maar 'n verdraaide beeld daarvan, omdat ons die Satan toelaat om die mooi dinge wat die Here in ons wil bewerk, bederf.
Geen rykdom en geen armoede nie. Verstaan ons nou, brs en srs, wat Agur ten diepste bedoel met sy dringende bede aan die Here? Agur wil verhoed dat enigiets in sy lewe 'n verhindering sou kon vorm tussen hom en God. Hy wil alles doen om te verhoed dat sy gerigtheid op God sou kon afneem. En daarom vra hy eerbiedig, maar tog dringend om vir hierdie twee uiterstes bewaar te word: “Nie rykdom of armoede nie.” Agur bid nie in die eerste plek vir iets tussenin, sodat hy daarmee ‘n relatief maklike en sorgelose lewe kan hê nie. Nee, hy vra of die Here hom sal weerhou van die gevare van rykdom en armoede. Omdat beide van hierdie uiterstes sodanig sy lewe sou kan beheers dat die Here God nie meer Sy regmatige plek sal inneem in sy lewe nie.
En daarom vra Agur slegs dat die Here hom sal voed met dit wat hy nodig het. Dit bly ‘n vraag of die Here dit wat Hy in sy goedheid gee, voldoende sal wees volgens ons subjektiewe inskatting. Maar daar is geen objektiewe maatstaf wat bepaal wat voldoende presies beteken nie. Nee, Agur vra slegs in sy gebed of dit wat die Here ons vandag gee, voldoende sal wees. Dit is presies dieselfde as in die gebed vir ons daaglikse brood, soos wat die Here Jesus ons dit geleer het. Niks meer en niks minder nie. Ons vra slegs dit wat ons vir vandag nodig het. Ons diepere bede, saam met Agur, is dus dat daar niks in ons lewens sal gebeur wat ons sal verhoed om te erken dat God alleen die oorsprong is van alles wat goed is. Ons vra niks meer en niks minder as onderhoud vir ons lewens wat gerig is op die Here nie. Want Hy het daardie lewe van die dood gered.
Verstaan ons, brs en srs: dat ons in ons gebed maar nie sommer iets lukraak vra nie. Ons laat ons ook nie deur ons gevoelens lei nie. En tog, ook al koester ons nie hierdie gedagtes in ons hart nie: tog dink ons dikwels: as ons gebed nie baat nie, dan skaad dit ook nie. Maar as ons tot die Here bid om vir ons te sorg en daarin ook vra dat ons nie van Hom losgemaak word nie, dan kan ons op die beloftes van die Here pleit. Ek het reeds die belofte van die doop genoem. God het baie persoonlik sy sorg aan ons belowe. Maar dieselfde belofte vind ons ook in die nagmaal. Die Here belowe ons dat Hy ons alles sal gee wat ons nodig het om met Hom te lewe. Om aan Hom verbonde te wees. Dit is iets groots. Iets ongeloofliks. Dis ‘n belofte wat net so stewig staan soos 'n onbeweeglike rots. Die Here weet presies wat ons nodig het. Dis nie vir almal dieselfde nie. Sommige kry 'n groter inkome as ander. Ander moet baie teenslae en teleurstellings deurstaan. Nog ander is siek. Maar die Here weet wat Hy doen. Hy het reeds eerste vir ons Sy Seun gegee. En alles wat vandag in ons lewens gebeur, gebeur binne die kring van God se liefde. En wat ons eintlik vra, is of die Here ons dit sal wys en ons alles sal gee sodat ons in staat sal wees om ons dank uit te leef vir daardie liefde. Daarmee bid ons dat ons in staat sal wees om van harte te kan sing: [Ps 128v1] Wie deur Gods vrees bewoë / trou op die weg wil gaan / waar hom Gods wil voor oë / en klaar getekend staan / die arbeid van sy hande / sal hy met vreug geniet / wanneer die koringlande / met seën hul opbrengs bied.

Amen.

Liturgie: 

Votum & Seëngroet
Psalm 66: 1
Gebed
Skriflesing: 2Korinte 8: 1-15
Psalm 50: 7, 11
Teks: Spreuke 30: 7-9
Preek
Psalm 128: 1,4
Belydenis Sondag 10 HK
Gebed
Psalm 31: 1
Kollekte
Psalm 144: 5,6
Seën