Vrede en harmonie tussen broers en susters is ‘n geskenk van Bo

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-11-21
Text: 
Psalm 133
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 133

 

Hoeveel families is daar nie waar daar spanning en onenigheid heers.

Selfs in Christenfamilies, waar onenighede nie opgelos word nie, en soos ‘n onweerswolk bly hang.

Vrede en harmonie tussen broers is allesbehalwe vanselfsprekend.

As daar iemand was, wat dit kon geweet het, was dit Dawid.

Dink aan die onenighede in sy eie familie.

En dink ook aan al die onenighede in die volk, waarmee hy as koning te make gekry het.

Hoe ouer ‘n mens word, hoe meer besef mens dat blywende eenheid, blywende vrede, slegs kan bestaan as dit van bo af neerdaal.

En so raak Dawid in Psalm 133 poëties oor die voorreg om as broeders saam te woon.

En net so mag ons vandag poëties raak oor die eenheid wat ons vandag hier in die kerk met nagmaal mag ervaar.

Inderdaad, dit is uit en uit ‘n gawe wat van bo af neerdaal, van ons Here Jesus Christus.

 

Tema: Vrede en harmonie tussen broers en susters is ‘n geskenk van Bo

 

Psalm 133 gebruik twee beelde, twee metafore, om hierdie unieke situasie te skilder.

Die eerste beeld verwys na die kosbare olie op die hoof van Aäron.

Waarom hierdie beeld?

Aäron is met heilige olie gesalf, die dag toe hy as hoëpriester gewy is.

Hierdie salf is gemaak van die fynste en kosbaarste speserye: fyn mirre, geurige kaneel, kalmoes, kassie, olyfolie.

‘n Salfmenger moes hiervan ‘n salfmengsel maak.

Met hierdie heilige salfolie is die tabernakel gesalf, asook die ark, die tafel van die toonbrode, die tempelgereedskap, die kandelaar, die reukaltaar, die brandofferaltaar, die waskom.

Dit alles is met die salfolie geheilig, dit wil sê spesiaal toegewy vir die tempeldiens.

En so ook is Aäron en sy seuns met hierdie selfde salfolie gesalf.

Soos die HERE voorgeskryf het in Exodus 30:

“Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte.”

So is die priesters, geslag na geslag, hiermee gesalf en vir hulle diens in die tempel gereedgemaak.

Hierdie salfolie mog vir geen ander doel gebruik mog word nie.

 

Oor die eerste plegtige salwing van Aäron lees ons in Levitikus 8.

Aäron se lang baard het selfs daarvan vogtig geraak.

By sy salwing was dit deurtrek van ‘n heerlike geur.

Die kosbare salfolie, wat oor sy hoof gegiet is, het in sy baard afgedrup.

Dit het afgedrup op sy liggaam en op sy klere.

So is sy heiligheid, die toegewydheid aan sy amp, sintuiglik afgebeeld.

So is afgebeeld – en die mense kon dit sien en ruik – hoe die HERE hom vir sy amp gereed gemaak het.

As die volk na die tabernakel gekom het om te offer, kon hulle hierdie kosbare reuk orals ruik.

Dit het hulle herinner dat alles hier deurdrenk was van die HERE se teenwoordigheid.

Net so, skryf Dawid, versprei die eenheid tussen die stamme van Israel ‘n lieflike geur.

Hierdie eenheid is daar omdat hulle saam toegewy is aan die diens van die HERE.

Eenheid wat nie deur mense gemaak is nie.

As dit aan ons mense lê, staan die eenheid steeds onder spanning, word dit keer op keer verbreek.

Maar die feit dat ons vandag nagmaal vier, is ‘n sigbare bewys van die eenheid wat Christus onder ons vestig.

Want as jy saam nagmaal vier, bely jy: Elke ander persoon wat vanoggend saam met my gevier het, is my broer en suster in Christus, en so mag, ja moet ek hom of haar aanvaar.

Uit myself sou ek nie lus wees om met hierdie groep mense saam aan tafel te gaan nie.

Uit myself sou ek my eie gang gaan en nie bekommerd wees oor die res nie.

Maar Christus werk die gewilligheid, selfs die verlange om dit te doen.

Christus maak dat ons versigtig, ja liefdevol is met mekaar.

Dat ons nie ons broer of suster veroordeel nie, maar eerder ons eie sondigheid raaksien.

 

In hierdie psalm uit Dawid ‘n diepe gevoel van dankbaarheid, dat dit sover kon gekom het.

Want vir eeue was God se volk verdeeld.

Elke stam het maar net sy eie gang gegaan, elkeen het gedoen wat goed was in sy oë – dink veral aan die Rigtertyd.

Vir eeue is die volk verswak deur onderlinge rusies en bakleiery.

En toe Dawid aan bewind gekom het, was daar nog steeds diepe verdeeldheid.

‘n Groot deel van die volk het hom as ‘n vyand beskou.

Tog is dinge so gelei dat daar eenheid gekom het.

En na soveel eeue kon dit uiteindelik werklikheid word, wat die HERE op die oog gehad het in sy wet, wat Hy aan Moses gegee het, naamlik dat die twaalf stamme in harmonie in die beloofde land saamleef.

Dawid het homself aktief ingespan om die tempeldiens in Jerusalem te vestig.

Dat die stamme saamkom in Jerusalem, die plek wat Hy gekies het om sy Naam daar te vestig.

 

Dawid is goed daarvan bewus dat hierdie eenheid tussen die stamme ‘n gawe van bo is.

Die beeld van die salfolie wys dit uit.

Soos die olie van bo af gegiet is op die hoof van die hoëpriester, so daal die lieflike eenheid van Bo af neer.

Psalm 33 as bedevaartslied is ‘n gawe en opdrag.

Wat die volk in Jerusalem ontvang het, moes hulle met hulle saamvat na hulle dorpe en woonplekke.

Juis daar moes die eenheid hande en voete kry.

Hierdie eenheid daal ook vandag van Bo af neer.

Hierdie eenheid is vir ons ook ‘n gawe en ‘n opdrag.

Neem hierdie eenheid saam huis toe.

Hierdie eenheid, hierdie vrede en harmonie, mag nie in die kerk agterbly nie.

Laat dit afloop as lieflike geur ook in julle families, in julle gesinne, in die verhouding van jou met jou kollega’s, in al julle onderlinge verhoudings.

 

En dan, die tweede beeld wat Dawid in die psalm gebruik, is die dou van Hermon, wat neerdaal op die berge van Sion.

Waarom gebruik hy hierdie beeld?

Hierdie beeld is ontleen aan die natuur.

As daar, na maande van droogte, weer reëndruppels val, dan ruik mens dit letterlik.

Dit is sigbare seën, dit is voelbare seën.

Net so gebruik Dawid ‘n pragtige beeld uit die natuur.

Die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion.

Nou is dit so dat so ‘n beeld uit die natuur die kragtigste tot jou spreek, as jy die natuur van daardie streek self ken.

Dus om hierdie beeld van Dawid te kan aanvoel, moet ons ons verplaas in die klimaat van Israel.

In Israel se klimaat is dou baie belangrik, die vogtige lug wat snags vanaf die Middellandse See inwaai en as dou op die land val.

Kom ons begin by die berg Hermon.

So hoog, dat daar op sy top in die winter altyd sneeu lê.

Die wintermaande is die nat maande in Israel, net soos in die Kaap.

Hermon is geleë in die noorde van Israel, dit is ‘n vrugbare gebied met relatief hoë reënval.

En omdat die berg Hermon so hoog is, vang dit baie vog op wat vanaf die Middellandse See landinwaarts waai.

Dit geld ook vir die somermaande.

En juis in die warm en droë somermaande is hierdie dou van groot waarde.

Die dou van Hermon was ‘n beeld van oorvloed.

Nêrens in Israel het dit so swaar gedou as aan die voet van Hermon nie.

Hierdie landstreek is buitengewoon vrugbaar danksy die dou wat Hermon veroorsaak.

 

Nou kom ons by die berge van Sion.

Sion was die berg waarop Jerusalem gebou is, met daaromheen nog verskeie ander berge.

Sion is egter baie meer na die suide van Israel geleë.

En hoe meer suid mens gaan in Israël, hoe droër en dorrer word dit.

Die land eindig heeltemal in die suid in die Negev woestyn, waar dit amper nooit reën nie.

In die omgewing van Jerusalem, op Sion, het dit ook gedou, maar selde soveel as wat dit op Hermon gedou het.

As Sion egter ‘n keer dou so dik soos die dou van Hermon gekry het, was dit ‘n beeld van oordadige seën.

En dit is dus die metafoor wat Dawid hier gebruik.

As die berge van Sion ‘n nag sulke swaar dou gekry het, dou so veel as die dou van Hermon, was dit ‘n groot seën.

Dit het die dorre natuur weer laat opleef.

Dit het krag gegee vir plant en dier, om die genadelose son te kon trotseer.

 

Dou is in die Bybel meer as een keer ‘n metafoor, ‘n simbool van die HERE se seën oor sy volk.

Behalwe in hierdie Psalm, vind ons dit ook byvoorbeeld in Hosea 14, waar die HERE vir sy volk sê:

“Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos die van ‘n olyfboom en sy geur soos die Libanon.”

Dit alles danksy die dou wat van bo af neerdaal.

 

En om nou by die betekenis van hierdie beeld te kom:

As al die stamme van Israel saamkom in Jerusalem, en daar in eenheid voor God se aangesig verskyn, voor sy ark op die groot feesdae, en dit in onderlinge harmonie – hierdie saamwees is wat Dawid in hierdie bedevaartslied vergelyk met  die dik dou van Hermon.

En net soos die dou daal die broederliefde, die eenheid en harmonie, van Bo af neer.

Van die HERE af.

Hierdie seën wat van Bo af neerdaal, ontvang die volk daar waar die HERE sy naam op aarde gevestig het.

Die plek waar die HERE sy volk ontmoet het, in Jerusalem, by sy tempel.

Hier gebied die HERE die seën.

Hier daal sy seën van bo af neer.

En dit is ‘n ongekende ryk seën.

Hier kry God se volk nuwe kragte.

Hiernatoe is hulle opgeroep om te kom, vir die groot feeste.

Hiervandaan kon hulle weer teruggaan huistoe, oorlaai met seën.

 

Die slot van die psalm lig die sluier hoe dit moontlik is: Daar, in Sion, gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid.

Sion is die lewensbron vir God se volk.

Vanuit hier vloei die seën, die seën wat lei tot eenheid en harmonie tussen broers.

Ja die seën wat lei tot die ewige lewe.

 

Hierdie twee beelde – die salfolie en die dou – dui beide dus op iets wat baie kosbaar is.

Die dou in Israel is kosbaarder as goud.

Daarsonder sou plant, mens en dier nie kon oorleef nie.

En die salfolie was net so kosbaar.

Dit was ‘n simbool dat die HERE onder sy volk gewoon het.

Opvallend is dat beide dou en salfolie van bo af neerdaal.

Dit is ‘n motief in die Psalm wat herhaal word.

Alle goeie dinge daal van bo af neer:

Die salfolie wat afloop oor die hoëpriester.

Die dou wat neerdaal op die berge.

En so die seën van die HERE wat neerdaal van bo.

En so daal vrede en harmonie tussen broers en susters ook van Bo af neer.

Dit is ‘n geskenk van Bo.

 

Daarom is Sion ‘n begeerlike plek.

Hier word seën uitgedeel.

Ja selfs die lewe tot in ewigheid.

So sluit die psalm af.

En hierdie is in sy volste rykdom vervul toe Christus uit die dood opgestaan het, in Sion.

In Hom het die belofte van die ewige lewe heeltemal werklikheid geword!

En die opgestane Christus het in die nuwe bedeling Sion oneindig uitgebrei.

Sion is nie meer net daar waar die tempel is nie.

Sion is nou orals waar twee of drie saam in die Naam van die opgestane Here bymekaar kom.

Daar waar vrede en harmonie heers.

En so mag ons gemeente ook Sion genoem word.

Spesifiek ‘n plek waar Christus se seën van bo af neerdaal.

 

Wat ‘n voorreg is dit nie om te weet dat ons deel is van ‘n gemeenskap van heiliges, dat ons ‘n eenheid mag wees.

Hier in die kerk is ons mense wat ook na ander se belange omsien.

Hoe goed en hoe lieflik is dit nie!

En dit is moontlik omdat juis hier die seën van bo af neerdaal, en ons in staat stel om so met mekaar te lewe.

Hier ontvang ons die wysheid van bo, wat ons leer om vredeliewend te wees, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins, soos Jakobus skryf in hoofstuk 3:17.

Buite, waar die wysheid van bo nie is nie, is daar afguns en selfsug, wanorde en allerhande gemene dade (Jak 3:16).

 

Die HERE laat sy seën van bo af neerdaal.

Sy Seun het van Bo gekom, en noudat Christus op die hemelse troon sit, daal sy gawes van Bo af neer.

En vervolgens verwag Hy van ons dat ons van al sy skatte en gawes gebruik sal maak.

Hy vra nie wat Hy nie eers gegee het nie.

Maar as Hy gegee het, verplig Hy ons in sy verbond dan ook.

Dat ons met vreugde en gewillig dit wat ons ontvang het, gebruik om ook die ander te dien.

Soos ons in Efesiërs 4:3 lees: Laat ons “ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”

Of in 2 Korinthiërs 13:11: “hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.”

 

Laat ons haastig wees om te vergewe, diep onder die indruk van hoeveel Christus ons op ‘n daaglikse basis vergewe.

Christus maak dit moontlik.

Sy skatte en gawes is soos die salfolie van ouds wat oor ons uitgegiet word.

So versprei sy kerk ‘n aangename geur, ‘n hemelse geur.

Sy skatte en gawes is soos die dou wat op die land neerdaal.

Daarsonder sal ons lewe droog wees, en sal broederlike harmonie ver te soeke wees.

 

Maar so is dit nie onder ons nie.

Hier, in sy gemeente, is die lieflike geur van Christus orals aanwesig.

Wie hier binnekom, merk dit.

Soos destyds as mense na die tabernakel gekom het om te offer, hulle die kosbare reuk van die salfolie orals kon ruik.

Dit het hulle herinner dat alles hier deurdrenk was van die HERE se teenwoordigheid, sy seën.

So werk Christus eenheid en harmonie in sy liggaam.

‘n Lieflike geur.

Wie hier binnekom, ervaar: Hier deel Christus sy seën uit.

Hier proe mens al die lewe tot in ewigheid!

En dit is nie vanselfsprekend nie.

Wees suinig hierop.

Hoe goed en lieflik is dit as broers ook saamwoon!

Koester dit.

Sion is ‘n gawe van God.

In Nuwe Testamentiese terme: die gemeenskap van die heiliges is ‘n geskenk van Christus.

Vrede en harmonie tussen broers en susters is ‘n geskenk van Bo.

Laat ons as gemeente, saam en elkeen persoonlik, bly vertrou op hierdie geskenk van Bo.

Christus is die dou, ja die lewende water, die water van die ewige lewe, wat elkeen wat dors het, verniet mag ontvang (Openb 22:17).

Amen.

 

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Jakobus 3:13-18 & Efesiërs 4:1-16

Teks: Psalm 133

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Verduidelik die simboliek van die beelde kosbare olie en dou van Hermon.
  2. Wat is die grootste geskenk wat van bo van God af neergedaal het?
  3. Hoe kan ons die eenheid met die ander broers en susters, wat lid is van ander gemeentes in ons kerkverband, meer vorm gee?
  4. Watter faktore kan ‘n demper plaas op die vrede en harmonie in ons gemeente?
  5. Is daar gemeentelede wat jy probeer vermy? Hoekom?
  6. Bid vir hulle wat nie meer deel van die gemeente is, en nie meer saam met ons nagmaal vier nie.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 122:1

Wet

Ps 34:6-8

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing) 

Viering van nagmaal

          Skriflesing: Jakobus 3:13-18 & Efesiërs 4:1-16

          Sing: Ps 85:3

Lofverheffing & dankgebed

Teks: Psalm 133

Preek

Ps 133:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 122:2

Seën