Die geloof in Jesus Christus is nie ‘n religie nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-10-24
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 7
Preek Inhoud: 

In die alledaagse spraakgebruik het die woord geloof ‘n subtiele betekenisverandering ondergaan.

Altans, so wil dit voorkom.

In werklikheid is dit ‘n wesenlike verandering.

Mense sal byvoorbeeld vra: watter geloof hang jy aan, of: wat is jou geloof?

Hiermee word dan dieselfde bedoel as: Aan watter religie behoort jy?

Of in Engels: To which faith do you belong?

Of: What is your believe-system?

 

Hierdie tipe spraakgebruik het die woord geloof sinoniem gemaak aan die woord religie.

Nou die woord religie is ‘n woord wat uit die ou Latyn afkomstig is, wat beteken: respek vir dit wat heilig is.

Dit is ‘n woord wat ons nie in die Bybel vind nie.

Dit het byvoorbeeld verwys na die tempels van die gode.

Vandag word hierdie twee woorde – religie of geloof – in die alledaagse spraakgebruik as dieselfde beskou.

Daar word dan beweer: Daar bestaan verskillende gelowe op aarde, soos die Christelike geloof, en die Islam, die Hindoeïsme, noem maar op.

Mense behoort – òf deur eie keuse, òf van huis uit – aan ‘n sekere geloof.

Elke ‘geloof’ word beskou as ‘n religieuse sisteem, ‘n versameling van opvattings oor ‘n hoër wese, en oor die dieper wese van die mens, oor die onstaan van die aarde, ensovoorts, en dit gewoonlik gebaseer op ou geskrifte, wat as heilig beskou word.

Op hierdie manier word die Christelike geloof dus op een lyn geplaas met die ander religies op aarde, een van die opsies waaruit mense kan kies.

So behoort die mensdom aan verskillende religies, wat deur die eeue ontwikkel het, wat ‘n neerslag vorm van die mensheid se diepste gedagtes oor die wese van die lewe.

 

Tema: Die geloof in Jesus Christus is nie ‘n religie nie, maar die enigste geloof

 

Vanaand, na aanleiding van Sondag 7, gaan ons kyk na die geloof.

Wat is geloof?

Wat is ‘n ware geloof?

Maar, ons gaan ons nie laat lei deur die algemene spraakgebruik nie.

En ons moet oppas dat die wêreldse spraakgebruik nie ook ongemerk in ons gedagtes ingesmokkel word nie.

Want dit is die allerbelangrikste waarmee Sondag 7 begin, wat op sy beurt op die Skrif se openbaring gebaseer is:

Die Christelike geloof is nie ‘n religie nie.

Dit is nie die versameling van ‘n klomp gewyde gedagtes of opinies wat ‘n mens huldig nie.

Maar die geloof is enkel gefokus op ‘n Persoon.

Dit is geloof in Jesus Christus.

Dit is behoort aan Jesus Christus.

Dit is, soos antwoord 20 sê, ingelyf wees in Jesus Christus.

Ingelyf as woord verwys na Jesus se gelykenis van die wingerstok, waar die lote ingeplant word op die stam, wat Jesus Christus is.

 

En as daar in antwoord 21 staan: Die geloof is ‘n vasstaande kennis, dan staan dit ook nie los van Jesus Christus nie.

Want daar staan: Dit is dat ek alles aanvaar wat God in sy Woord geopenbaar het.

En sy Woord is sinoniem aan Jesus Christus.

Hy is die Woord.

Ons hang aan sy lippe, as ons Bybel lees.

En as daar in antwoord 21 staan: Die geloof is ‘n vaste vertroue, ook dan is dit nie die vertroue op ‘n religieuse sisteem nie, maar dit is die vertroue op ‘n Persoon – weer eens Jesus Christus.

 

In geen religie bestaan so ‘n fokus op ‘n persoon nie.

Ewige lewe, oorwinning van die dood, is in geen religie ‘n geskenk van een persoon aan ‘n ander nie.

In die Islam word die ewige lewe verwerf deur die mens self, wat aanhanger van die betrokke religie is, deurdat hy bepaalde take tydens sy lewe moet uitvoer, die sogenaamde 5 pilare van die Islam, met as doel om die ewige lewe te verwerf:

  • Hy moet erken dat Allah God is, en dat Mohammed sy profeet is.
  • Hy moet bid.
  • Hy moet aalmoese gee.
  • Hy moet vas.
  • En Hy moet ‘n pelgrimstog na Mekka onderneem.

Ewige lewe is dus nie ‘n geskenk nie, maar iets wat verwerf word.

In Hindoeïsme word ewige lewe bereik deur al die verskillende gode te vereer, en deur dit te doen wat hulle van die mens verlang, en dit nie te doen nie wat hulle verbied.

In Boeddhisme word verligting – ‘n soort ewige lewe of ewige geluk – bereik deur meditasie, om deur liggaamlike en mentale oefening en inspanning bo die gebrokenheid van hierdie wêreld uit te styg.

En so kan mens aangaan.

Elke religie is ‘n versameling van heilige opdragte, waardeur die mens wat daarvolgens lewe, die ewige lewe, oftewel die ewige geluk, kan bereik.

 

Maar wat dit betref is die Christelike geloof wesenlik anders.

Johannes Calvyn het die geloof vergelyk met die hande wat jy uitsteek om ‘n geskenk te ontvang.

Geloof is dus eintlik niks nie, maar die geskenk is alles.

Deur ‘n vroom heilige lewe kan jy nie die ewige lewe verdien, of bereik nie.

Dit is miskien wel ‘n ywer vir God – soos Paulus in Romeine 10:2 skryf – maar dit bring jou niks nie.

In feite, en dit verduidelik die apostel Paulus in die Romeinebrief, in feite het die Jode van die geloof ook ‘n religie gemaak.

‘n Sisteem van gebooie en verbode, waarmee ‘n mens, deur die nakoming daarvan, die ewige lewe kan verdien.

Ja, die Jode was geweldig ywerig.

En u kan van my aanneem dat aanhangers van ander religies ook geweldig ywerig is.

Dikwels word moslims vir ons as Christene ten voorbeeld gehou, omdat hulle so ywerig en toegewyd is aan hulle godsdienstige pligte.

Maar, skryf Paulus, aan die einde van die dag baat dit die mense niks nie.

Hy skryf oor hierdie religieuse Jode, vers 3: Hulle het hulle eie geregtigheid probeer oprig.

En deur dit te doen het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.

Ons weet uit die Evangelies hoe nougeset die Jode – soos die Fariseërs – was in die nakoming van die wet.

Aan die wetboek van Moses het hulle nog honderde wette en reëls toegevoeg, net om te seker te maak hulle godsdienstige lewe bly op standaard.

 

Maar, en dit is die boodskap van die Romeinebrief aan die Jode: Hierdie geweldige inspanning is onvoldoende.

Dit voldoen by verre nog nie aan die eis van God se geregtigheid nie.

En dieselfde geld natuurlik ook vir al die ander godsdienste op aarde.

Hoe ywerig en toegewyd hulle ook aan hulle religie is, soos die Tibetaanse monnike met hulle asketiese lewenswyse in die Himalayas – dink aan iemand soos die Dalai Lama, dit voldoen nie aan God se eis nie.

En tot op vandag die geweldig noukeurige godsdienstige lewenswyse van die ortodokse Jode.

Calvyn het ook ‘n keer gesê: Die mens is ‘n religieuse fabriek.

Daarmee het hy bedoel: Die mensheid is konstant besig om religies te fabriseer, nuwe maniere om die ewige lewe te bereik.

Self-vervaardigde sisteme om op eie krag vrede op aarde te bewerkstellig.

Sedert menseheugenis het die mensheid self ‘n toring na die hemel probeer bou.

Die HERE het sy volk gewaarsku om nie ook in hierdie slaggat te trap nie:

“Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Die is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?”

Nee: “Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (Deut 30:11-14)

En net vir die duidelikheid: Hierdie woord, hierdie gebod waaroor God praat, is nie ‘n religieuse sisteem wat Hy openbaar waardeur sy volk deur die strikte nakoming daarvan, self die ewige lewe sal kan verdien nie.

Hierdie gebod was nie – soos die HERE self sê – te swaar nie.

Nee, dit was eenvoudig net om die HERE hulle God van harte lief te hê.

Om in die verbond ‘n liefdesband, ‘n vertrouensband, met Hom as Persoon te hê.

 

Paulus haal hierdie selfde woorde weer aan in Romeine 10, wat ons vanaand gelees het:

“Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?” (vers 6-7).

Nee, inteendeel: “Naby jou is de woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.” (vers 8)

En dan dui hierdie woord van die geloof dus nie op ‘n religieuse stelsel, wat Christus kom openbaar het, waardeur ons die ewige lewe kan verwerf, as ons in ons lewe soveel moontlik volgens daardie stelsel van gebooie en verbode lewe nie.

Nee, al wat gevra word is – sien vers 9: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word”.

Jy sal dus gered word van die dood, jy sal die ewige lewe ontvang, enkel en alleen deur te glo dat Iemand anders uit die dood opgestaan het.

As jy daarin glo, en jy vra daardie Persoon om jou ook van die dood te red, dan sal dit gebeur!

So eenvoudig is dit!

Daarom kon die moordenaar langs Jesus aan die kruis gered word, al het hy nie meer die kans gehad om te bewys dat hy ‘n beter lewe begin lei het nie.

Die enigste wat vir hom genoeg was om die ewige lewe te kry, was om by die Persoon Christus vir genade te pleit.

En net so was dit die geval deur alle eeue, tot op vandag vir jou en my.

Glo in Jesus Christus en jy sal gered word.

Glo dat God Hom gestuur het om alles te verwerf, alles te verdien, wat verwag word om vir jou die ewige lewe te verwerf.

En daarom is die Christelike geloof nie ‘n religie van menselike prestasie nie.

Daarom is die Christelike geloof ‘n band, ‘n verhouding met ‘n Persoon, ‘n ingeplant wees in Jesus Christus.

 

Geliefde gemeente, dit is die allerbelangrikste boodskap wat vanaf hierdie kansel klink.

Het jy ‘n ware geloof in Jesus Christus?

Oftewel: Vertrou jy enkel en alleen op Hom?

Vertrou jy 100% dat Hy die enigste Weg na die ewige lewe is?

Vra jy vir God in die hemel dat Hy jou die ewige lewe sal skenk, met enkel en alleen ‘n beroep op dit wat Jesus Christus gedoen het?

Hoe maklik is dit nie?

Hoe gratis is dit nie?

Hoe eenvoudig is dit nie?

Inderdaad, dit is nie ‘n ingewikkelde religieuse sisteem, ‘n oerwoud van bepalings en dieper insigte, waarin ‘n religieuse leier jou die weg moet wys nie.

Dit is bloot vashou aan jou Redder en Middelaar, soos ‘n drenkeling vashou aan die hand wat hom uit die water uit optel.

 

Maar aan die ander kant, dit is wel moeilik vir hom wat op homself vertrou.

Vir hom met selftrots, wat dink hy kan self sy pad oopkap na die ewige lewe.

En ja, van nature is ons almal so.

Ons is almal fabrieke wat afgode produseer, eiewyse gedagtes, eiewyse godsdienste om onsself te red en – veral – ook om onsself te handhaaf.

Maar aan die voet van die kruis hoef ‘n mens niks te doen nie.

Hy hoef net alles van Hom te verwag, Hy wat aan die kruis gehang het, wat begrawe is, maar wat die dood oorwin het, wat opgestaan het, wat opgevaar het, en wat nou vanuit die hemel regeer.

“Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” (Rom 10:11)

“Elkeen wat sy Naam aanroep, sal gered word.” (Rom 10:13)

 

Gemeente, aan die katkisante verduidelik ek hierdie Blye Boodskap met die volgende voorbeeld:

Op ‘n vel papier is daar twee kolomme: ‘n kolom vir debiete en ‘n kolom vir krediete.

In elke ander religie word aan die einde van die dag gekyk watter kolom die langste is.

Watter kolom wys die grootste bedrag?

Is die krediete meer, of is die debiete meer?

Is die skulde meer, of is die inkomste meer?

Daarvolgens sal bepaal word of ‘n mens die ewige lewe verwerf.

Het ‘n moslim die vyf pilare van die Islam in sy lewe getrou nagekom, dan sal hy toegelaat word in die paradys.

Ja, die Koran sê ook dat God, Allah, genadig is.

Maar sy genade bestaan daarin dat Hy vir Mohammed gestuur het om die Koran op te skryf, en so presies aan die mense te verduidelik hoe hulle die paradys kan verwerf, deur self daardie opdragte uit te voer.

Dit is wat bedoel word met die feit dat Allah genadig is.

Hy het die mense die pad gewys terug na die paradys, wat hulle egter self moet loop.

Verstaan u, dit is ‘n ander soort genade, wesenlik anders.

En dieselfde geld ook vir die gode van die Hindoeïsme.

En dieselfde geld ook vir Buddha.

Hierdie godsdienste leiers het ‘n sisteem agtergelaat vir die mensheid.

En deur die noukeurige nakoming van daardie religieuse sisteem, kan die mensheid dit bereik waar elkeen so na verlang, naamlik ewige geluk, oorwinning van die dood, ewige lewe.

 

God, die Vader van Jesus Christus, se genade is egter van ‘n totaal ander orde.

Hy het nie net sy wet geopenbaar sodat die mense deur die nakoming daarvan die ewige lewe kan verwerf nie.

Hy het ook Iemand gestuur, sy eie geliefde Seun, wat vir ons daardie wet nagekom het.

En nou kan ons die ewige lewe verwerf, op grond van sy verdienste.

 

Om weer terug te kom by die papier met twee kolomme, debiete en krediete.

Ons lewe, ons papier lyk soos volg:

‘n Elle lange lys debiete, maar aan die kredietkant niks nie.

Dan, as ons die Vader vra om ons te vergewe, deur Christus se verdienste ons toe te reken, lyk die papier soos volg:

Geen debiete hoegenaamd meer nie, net die opmerking – voldaan deur Christus – en ‘n elle lange lys krediete, maar dan krediete wat Christus verwerf het, en dan staan daar onderaan die papier:

Erfgenaam van die ewige lewe.

Dit staan al daar op die heel eerste dag wat ons tot geloof gekom het.

Dit staan nie eers daar aan ‘n einde van ‘n lewe waarin ons ons bes geprobeer het om ‘n vroom lewe te lei nie.

 

Wat wel gebeur, is dat Christus se Gees in ons uitgestort het.

Deur die Gees leer ons nou self ook om goeie werke doen.

Die Gees – soos Calvyn dit verwoord het – is ons Onderwyser in die skool van Christus.

Hy leer ons nou ‘n toegewyde lewe lei volgens die gebooie.

Maar ons bly nie op die skool danksy ons prestasie nie, maar omdat Christus ons skoolgelde betaal het, die skool wat ons voorberei op die ewige lewe.

Hierdie goeie werke wat ons in hierdie skool met val en opstaan begin doen, is egter nie bydraend tot ons saligheid nie.

Soos ek genoem het, reeds vanaf die begin, voordat ons nog enige goeie werk gedoen het, het daar al onder aan die papier gestaan: erfgenaam van die ewige lewe!

En dan moet ons ook eerlik erken, dat hierdie krediete wat ek op Christus se skool leer verwerf, nie my eie prestasie is nie, maar die vrug van die Gees se werk in my lewe.

En ook sal ons moet erken, dat al doen ons nou inderdaad goeie werke, selfs ons beste werke nog met sonde bevlek is.

 

Om saam te vat, die Christelike geloof is nie ‘n religieuse sisteem met aanwysings hoe om self die geluk te vind, hetsy nou op aarde, hetsy in die ewigheid nie.

Die Christelike geloof gaan oor ‘n geskenk, ‘n Geskenk met ‘n hoofletter.

Soos antwoord 21 dit verwoord: God die Vader het dit aan my geskenk!

Hy het my vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk, en dit uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus.

 

Vanaand se preek het u nie aanwysings gegee hoe om as godsdienstige mens in die week wat kom reg te lewe nie.

Vanaand se preek het jou en my weer opgeroep om Christus te omhels, ingeplant te bly op Hom, ja in Hom te glo.

Binnekort gaan daar jongmense belydenis van hulle geloof aflê.

Die vraag wat hulle moet beantwoord is:

Weet ek dat ek ‘n kind van God is.

Is ek oortuig dat ek in sy Seun Jesus Christus glo.

Dit wil sê, glo ek vas dat Hy al my sondes vergewe.

Glo ek vas dat sy verdienste vir my die ewige lewe verwerf.

As ‘n mens hierdie vrae nie van hart kan beantwoord nie, kan hy of sy nie geloofsbelydenis doen nie.

As ‘n mens nie seker is of Christus se heil ook vir hom bedoel is nie, kan hy nie geloofsbelydenis doen nie.

Hierdie seker wete kom daar as jy vir Christus, vir sy Vader, van harte liefhet.

Dit is die wese van die geloof.

Die Heilige Gees werk hierdie liefde in ‘n mens se lewe.

Deur sy Woord leer jong mense hulle Verbondsgod ken, en vertrou, en liefhê.

En ja, as ‘n jongmens ‘n wêreldse lewe lei, as hy byvoorbeeld verslaaf is aan drank, of dwelms, of as ‘n jongmens nie kerk toe kom nie, en daarom geweier word om geloofsbelydenis af te lê, is die rede nie omdat hy nie genoeg goeie werke doen nie.

Maar hierdie wêreldse gewoontes is ‘n indikasie dat hy nie vir Christus van harte liefhet nie.

Want wie Hom van harte liefhet, kry die krag deur sy Gees om met hierdie wêreldse gewoontes te breek.

 

En gemeente, as julle vervolgens – in Christus se skool waar die Gees jou Leermeester is – in die week wat kom jou bes gaan doen om volgens die wette van sy Woord te lewe, doen dit vanuit hierdie vertrekpunt:

In Christus het ek reeds alles, en ek hoef self niks meer vir my saligheid by te dra nie.

Dan, en slegs dan, is jou godsdienstige lewe vir God aangenaam.

Sola Gratia, Solus Christus!

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Wat beteken dit om in Christus ingeplant te wees?
  2. Ken jy iemand wat ‘n ander religie aanhang?
  3. Volgens die Koran is Allah ook genadig. In watter opsig verskil sy genade van God die Vader se genade?
  4. Hoe laat jy in jou lewe blyk dat jy God liefhet?
  5. Hoe kon die moordenaar aan die kruis op die laaste nippertjie die ewige lewe verwerf?
  6. Hoekom kan jy nie tot die laaste nippertjie in jou lewe wag om te geloof te kom nie?

 

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 103:2,3

Gebed

Skriflesing: Romeine 10

Ps 50:4-6

Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 7

Preek

Ps 50:7,8,11

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 27:1-5

Kollekte

Sb 10:2,3,5,6

Seën