Maak ‘n vrolike geraas, juig voor die HERE!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-10-17
Text: 
Psalm 100
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 100

 

Is jy bly om vandag in die kerk te wees?

Het jy vanoggend opgestaan met ‘n glimlag op jou gesig, omdat dit Sondag is?

Het jy spesiale ontbyt geëet, het jy jou mooiste klere aangetrek, omdat dit Sondag is?

Kon die ander mense jou vreugde sien, toe jy oor die parkeerterrein aangeloop gekom het na die kerkgebou?

Maak die dinge wat hier in die kerk gebeur, jou bly?

Word jy bly van die orrelmusiek?

Het jy dankbaar die seëngroet van die HERE ontvang, aan die begin van die diens?

Maak die psalms wat ons sing, die woorde en die musiek, jou bly?

 

Al hierdie vrae wat ek vra, het te make met Psalm 100.

Want daar word ons opgeroep: “Dien die HERE met blydskap” (vers 2).

En hierdie oproep klink by die tempel, daar waar die Israeliet sy lofoffer moes kom bring.

Het jy vandag na die kerk gekom om ‘n lofoffer te bring; soos wat die woord tereg sê wat ons vir hierdie samekoms gebruik: ‘n ere-diens?

 

Tema: Maak ‘n vrolike geraas, juig voor die HERE!

 

In eerste instansie lyk dit of hierdie Psalm deur die priesters gesing is, met die bedoeling dat die volk daarby inval.

Dit is ‘n lied bedoel, soos die opskrif sê, as begeleiding by die lofoffer.

In Levitikus 7 kan mens oor die instelling van die lofoffer lees.

Dit word ook vertaal met dankoffer of maaltydoffer.

Al met al was dit ‘n feestelike gebeurtenis.

In teenstelling tot die brandoffer is nie al die vleis op die altaar verbrand nie.

Die beste dele is aan die HERE geoffer, maar die res van die vleis was daar vir ‘n feesmaaltyd.

‘n Feesmaal waarvan die HERE die Gasheer was.

Jy is ‘n verbondskind van God, en jy mag by Hom aan tafel sit.

En dit moes ‘n vrolike maaltyd wees.

Want daar is alle rede om vrolik en dankbaar te wees.

Die tempelpoorte staan oop, die priesters staan gereed by die altaar, die HERE se arms is oop om sy volk te ontvang.

Alles spreek daar van versoening, van die HERE se genadige aanwesigheid onder sy volk.

 

Gemeente , vanuit die priesters se mond klink in hierdie Psalm ‘n sewetal oproepe, sewe bevele, aan die volk.

Oproepe aan die volk wat by die tempel saamgekom het om die HERE te loof.

En ons kan onsself voorstel hoe die volk dan by die loflied ingeval het, by die voorsang van die priesters.

Die priesters roep die volk op om by hulle lofsang aan te sluit, ja om dit selfs te oorstem.

Die woorde “Juig voor die HERE” verstaan ons miskien nog nie voldoende nie.

Juig word hier wel baie intens bedoel.

In die Engelse vertaling staan daar: “Make a joyful noise to the LORD”.

Noise – geraas!

Die oorspronklike woord in Hebreeus beteken inderdaad:

Om te skreeu!

Om hardop te skreeu.

Om te skreeu in triomf, byvoorbeeld.

So hierdie is ‘n baie kragtige woord.

En dit is inderdaad wat die ganse aarde moet doen, ja die hele skepping!

Geraas maak, skreeu, juig en jubel tot eer van die HERE!

Dink vir ‘n oomblik aan die geluide van die skepping.

Dink aan die harde geluid van die donderweer.

Dink aan die geraas, die gekletter van haelstene op ‘n sinkdak.

Dink aan die bruisende geraas van die see.

Dink aan die getrompetter van ‘n olifant, die brul van ‘n leeu.

Dink aan die geroep van ‘n walvis, wat kilometers deur die oseane trek.

Dink aan die geraas van ‘n hadeda, die skril geroep van ‘n visarend.

Psalm 100 roep die hele skepping op om juis dit te doen, ‘n vrolike geraas te maak.

En net soos die skepping, so ook die mensdom.

Laat hulle luid roep, ja geraas maak, skreeu in gejuig vir hierdie God!

Dieselfde oproep klink ook in Psalm 66, wat ons nounet gesing het:
“Juig, aarde, juig met blye galme, laat jubels oprys uit die stof!”

Die gejuig moet galm, soos trompette, koperblasers galm dat dit tuit in jou ore.

Nie net oor die tempelplein nie, maar oor alle vlaktes en berge en oseane van die aarde.

 

Want alles en almal is diep onder die indruk van hulle God.

Die ganse aarde word opgeroep: Juig voor die HERE!

Die hele aarde moet Hom dien met blydskap!

Die hele aarde met erken dat die HERE God is.

Daar was baie ander gode in die Ou Testamentiese tyd:

Baäl, Dagon, Kamos, noem maar op.

Maar hulle het nie bestaan nie, hulle was net beelde.

Dis slegs die HERE, Jahwe, dis net Hy wat die lewende God is.

 

Broer, suster, hoor jy ook die galm van die skepping?

Maak dit jou ook lus om ‘n groot geluid te maak tot eer van God?

 

Dan, in die tweede plek, is opvallend is dat die digter spesifiek daarna verwys dat die HERE sy volk gemaak het.

Dit verwys nie net na die skepping van die mens nie, maar spesifiek na sy verbondsvolk.

Dink byvoorbeeld aan Deuteronomium 32, waar Moses die volk herinner:

“Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie”? (vers 6)

En in vers 18 noem Moses God “die Steenrots wat jou verwek het”.

God het hierdie volk gemaak met ‘n spesiale doel.

Daarom word in hierdie Psalm almal, die hele aarde, opgeroep om te erken wat hierdie God met Israel gedoen het.

Die pad van uitredding, van heil, wat Hy juis met hierdie volk besig is om te stap.

‘n Uitredding wat nie eksklusief is nie, maar die hele wêreld op die oog het.

Ja, ‘n heilsplan wat God besig is om werklikheid te laat word deur ‘n Redder wat uit hierdie volk gebore gaan word.

Daarom het hierdie volk ‘n spesiale posisie.

Daarom is juis hulle syne.

Die skape van sy weide.

Pragtige beeld, dit laat ons aan Psalm 23 dink: “Die HERE is my herder ... Hy laat my neerlê in groen weivelde” (vers 1-2).

En Esegiël 34: “julle is my skape, die skape van my weide” (vers 31).

Die beeld van herder en sy skape word op meerdere plekke in die Bybel gebruik.

Hy is die Herder, en dit impliseer dat Hy vir sy skape sorg.

Hulle hoef Hom slegs te volg, dan bring Hy hulle na sy weide, waar daar genoeg is.

 

En dan, in vers 4 zoom die digter nog verder in.

Hy het begin met die hele aarde, toe het hy ingezoom op Israel, sy verbondsvolk.

Nou zoom hy nog verder in op die tempel, met die oproep:

Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang.

‘n Oproep om die HERE op te soek, daar waar Hy Hom op aarde laat vind.

‘n Oproep om God te dien, soos Hy dit self voorgeskryf het, om daar by sy tempel op sy altaar die lofoffer te bring.

En dit vanuit die hart, oftewel met ‘n lofgesang.

 

Want daar is rede om Hom te prys:

Die HERE is goed.

Sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Die Hebreeuse woord vir goedertierenheid is nie so maklik om te vertaal nie.

In die woordeboek vind mens woorde soos: lojaliteit, trou, plig teenoor die gemeenskap.

In Engelse Bybelvertalings word die woord dikwels met twee woorde vertaal: steadfast love.

So is ook in die 2020-vertaling gedoen: troue liefde.

Goedertierenheid is ‘n mooi woord, maar dit word nie eintlik meer gebruik in Afrikaans nie.

Dit is as woord op ‘n manier ‘n intensiewe vorm van die woord goed.

Nie net goed in die algemeen nie, maar buitengewoon goed, lojaal in sy goedheid.

Die Engelse vertalings beklemtoon die blywende aard van hierdie goedheid met die woord steadfast.

En in die 2020-vertaling die woord troue dui ook daarop dat God se goedheid blywend is.

Mens sou hierdie woord ook kon vertaal met: verbondstrou, en dan nie net insidenteel nie, maar volhoudend.

In die Johannesevangelie vind ons die woordepaar: “genade en waarheid” (Joh 1:17).

Dit funksioneer as die Griekse vertaling van die Outestamentiese woorde goedertierenheid en trou.

Met hierdie woorde kyk ons in God se hart.

God is bekommerd oor sy kinders.

Hy is trou aan sy verbond met hulle.

 

Sy goedertierenheid is tot in ewigheid, sy trou van geslag tot geslag.

Woorde wat die Israeliete wat hulle offers kom bring het, nuwe moed gegee het.

Net soos ons, het hulle ook hulle sorge oor die toekoms gehad.

Dikwels het ’n onseker toekoms hulle in die gesig gestaar.

Maar die priesters herinner die volk aan die HERE wat ewig is, wat reeds die toekoms ken.

En dat Hy sy volk goedgesind is.

Hy bly trou van sy kant, van geslag tot geslag.

Sy troue sorg is tot in ewigheid.

Dit is ook die doel van elke Sondag kerk toe kom.

Dat ons, broer en suster, weer daaraan herinner word.

Ons kan so maklik afsak in onsekerheid, in pessimisme oor die toekoms.

Ons vergeet so maklik dat God se troue sorg, sy goedertierenheid, nog steeds daar is.

Die HERE roep ons bymekaar, elke week weer, om ons weer dit in te prent: sy goedertierenheid is met ons.

 

Dit was ook die blye boodskap, die evangelie, wat by die tempel geklink het.

By die tempel het die gelowiges onder die indruk gekom van die pragtige gebou, en die toegewyde priesters, die gewyde atmosfeer.

Dit alles om hulle te herinner aan die HERE se troue liefde.

Om ‘n loflied in die gelowiges se hart te laat opwel.

 

Ons weet nie wie die Psalm geskryf het nie.

Hierdie lied is universeel, in die sin dat dit op alle tye van toepassing is.

Altans, daardie tye wat daar ‘n tempel in Jerusalm gestaan het.

Maar ook in ons tye is hierdie Psalm nog van toepassing.

Ons lofoffer word nie meer in Jerusalem gebring nie.

Fisiese offfers, die slag van diere, gebeur nie meer nie.

God het dit in die Nuwe Testament afgeskaf, dink veral aan ‘n boek soos Hebreërs.

Christus het alle offers vir ons vervul.

Hy het ons brandoffer geword.

Hy het ons spysoffer geword.

Hy het ons dankoffer geword.

Hy het ons sondoffer geword.

Hy het ons skuldoffer geword.

Sonder dat ons dit gevra het, het die genadige Vader daardie offers self vir ons gebring, deurdat Hy sy eie Seun as offer gestuur het.

As ewige Hoëpriester het Christus voldoende geoffer.

 

Tog, soos ons in Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 25 bely, is die inhoud, die betekenis, van hierdie Ou Testamentiese offers nog steeds vir ons relevant.

Want met die kennis daarmee kan ons ons lewe net nog meer, ek haal aan uit die NGB, “in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil” inrig.

Daarom is Psalm 100 nog steeds ‘n lied wat ons sing.

Soos hierdie lied saamgegaan het met die lofoffer in die Ou Testament, so ook vandag.

Christus is ons lofoffer waarmee ons voor God se aangesig verskyn.

Danksy Christus het ons alle rede om ons loflied te sing, om te juig, om ‘n vrolike geraas te maak!

 

In Psalm 100 klink ‘n universele oproep.

Die ganse aarde word opgeroep: Juig voor die HERE!

Die hele aarde moet Hom dien met blydskap.

Maar, soos ons weet, in die Ou Testament was dit maar ‘n minderheid mense uit die heidenvolke wat by Israel ingelyf is, wat saam aanbid het by die tempel.

Hierdie universele oproep het eers in vervulling begin gaan toe die Heilige Gees uitgestort is.

En nou, vandag, klink die loflied inderdaad oor die hele aarde.

Nou word die HERE met blydskap gedien op alle kontinente.

 

So geld ook vandag nog dat Hy ons Herder is, dat ons as skape in sy weide mag lewe.

Ja ons is die ander skape, van wie Jesus in Johannes 10:16 gepraat het.

En ons behoort ook aan sy kudde: “een kudde, een herder”.

En al is die toekoms vir ons dikwels onseker, al kan jy en ek soms wakker lê oor die toekoms, hierdie Psalm sing ons toe:

Onthou! Sy goederierenheid is tot in ewigheid!

Hierdie profetiese woorde is in Christus vervul.

Christus se offerwerk op aarde het die toekoms veilig gestel.

Met sy eie Seun het God bewys dat Hy vir ewig goed, vir ewig goedertieren, vir ewig trou sal wees.

 

Daarom rede genoeg om Sondag na Sondag sy poorte in te gaan met lof.

Soos God die aarde geskape het, soos God sy volk gemaak het, so het Christus sy Nuwetestamentiese gemeente gemaak.

Ja vir die kerk se ontstaan word in die Bybel dieselfde woord gebruik as vir die skepping van die aarde, sien byvoorbeeld Efesiërs 2:10, waar daar oor die gemeente geskryf word:

“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Ja Christus skep sy gemeente.

Hy bring die gelowiges saam. 

En Hy herskep hulle ook deur sy Woord en Gees.

Hy bring ons saam, sodat ons ‘n lofoffer te wees.

Ja onsself, ek en jy, is lewende dankoffers, lewende lofoffers.

Juis daarom, gemeente, laat ons bywoning van die erediens ‘n uiting wees van egte blydskap.

Wanneer jy na die kerk toe kom, laat dit nie net sleur wees nie.

Ouers, doen ekstra moeite om Sondag ‘n spesiale dag te maak.

Sodat as die kinders wakker word, hulle uitsien na die Sondag.

 

En ja, in elke gemeente, ook in ons gemeente, is daar dinge wat nie volmaak is nie.

Ons lofoffer op Sondae is dikwels miskien ‘n gebrekkige lofoffer.

En ja, ons voel soms dat ons rede het om oor iets te kla, wat betref die kerk, wat betref ons mede broeders en susters.

Maar laat die gekla nie die oorhand neem nie, laat dit nie ons ‘default setting’ op Sondag word om te kla nie nie.

Maar laat die blye gejuig en geraas – ja ons opregte blydskap – op Sondag die botoon voer!

Dit moet die bure hier rondom die kerk opval, dat die lidmate met blye gesigte hier by die kerk aankom.

 

Want, ten spyte van dit wat nie goed is nie, weet ons dat God goedertieren is.

Wat skort aan ons lofoffer, word deur Christus volmaak, sodat ons erediens as ‘n lieflike geur tot die hemelse Vader opstyg.

En danksy Christus kyk die Vader met genadige oë neer op ons, as ons hier saam in die kerk is.

Wat ‘n voorreg!

Ja, daar is gee enkele rede om met ‘n lang gesig by die kerk aan te kom nie.

Jy kan maar jubel, jy en jou kinders kan maar vrolik raas!

 

Gemeente, dit was ‘n gewoonte in die vroeg Christelike kerk om Psalm 100 as ‘n môrelied te sing.

Vanoggend sing ons ook hierdie lied, omdat ons bly is, omdat die HERE trou is van geslag tot geslag.

Dink net, duisende jare gelede is die woorde van hierdie Psalm by die tempel gesing.

En toe, nou al weer amper twee duisend jaar gelede, het die vroeë Christene hierdie selfde woorde gesing, as hulle opgestaan het in die oggend.

Omdat hulle dankbaar en bly was vir God se goedertierenheid en trou, soos Hy dit in Jesus Christus bewys het.

En vandag sing ons nog steeds die woorde van hierdie Psalm, omdat ook ons dankbaar en bly is, omdat ook vandag nog steeds die HERE se troue liefde met ons is.

En weet dit, gemeente, hierdie Psalm sal aanhou gesing word, tot op die jongste dag, van geslag tot geslag.

En dan, as die hemelpoorte oopgaan, ja as die hemel op aarde neerdaal, sal die ganse aarde ‘n oorverdowende geraas van jubel en gejuig maak tot die eer van sy Naam!

 

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Vir watter geleentheid is Psalm 100 oorspronklik gedig?
  2. Hoe kan die woord “Juig” in Psalm 100:1 ook vertaal word?
  3. Noem ‘n voorbeeld toe jy ‘n keer van vreugde geskreeu het.
  4. Wat moes destyds by die tempel met die vleis van die lofoffer gebeur?
  5. Hoe kan die woord “goedertierenheid” ook vertaal word?
  6. Wat doen jy / julle gesin om van Sondag ‘n spesiale dag te maak?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 95:1,2

Wet

Ps 95:3,4

Gebed

Skriflesing: Psalm 66

Ps 66:1,2

Teks: Psalm 100

Preek

Ps 36:2

Gebed

Kollekte

Ps 100:1-4

Seën