Simbole

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-10-03
Text: 
Handelinge 2:1-4
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die jongmense van die Klein Jeugvereniging is tans by hulle jaarlikse kampie, maar as alles volgens plan verloop, kyk hulle hierdie diens saam met ons. Die tema vir hierdie jaar se kampie is: simbole. En hulle het gevra of ons in vanoggend se erediens spesifiek hieraan aandag kan skenk.

Nou, in die daaglikse lewe kom ‘n mens voortdurend simbole teë, oral om ons heen. Ons hele verkeersisteem, byvoorbeeld, werk met simbole: wanneer jy ‘n omgekeerde driehoek-bord sien, weet jy dat dit simbool staan vir ‘n toegee-teken (jy moet kyk of daar ander verkeer aankom, maar indien nie, mag jy verder ry); wanneer jy ‘n ronde bord met ‘n ‘P’ en ‘n skuins, rooi streep daardeur sien, dan weet jy dat jy nie daar mag parkeer nie. Verder het die klere wat ons dra baie dikwels met simbole te make: bekende merkklere is immers herkenbaar aan ewe bekende simbole – die drie strepe is Adidas, die ronde regmerkie is Nike. En wat van die sogenaamde ‘emojis’ op ons slimfone? Dis alles simbole: as ek vir jou ‘n boodskap stuur met ‘n laggende gesiggie, dan weet jy dat ek iets vroliks skryf; as ek ‘n hartseer gesiggie met trane bysit, dan weet jy dat ek nie ‘n grappie maak nie. Ja, die wêreld om ons heen is een en al simboliek.

Daarteenoor wil dit voorkom asof die kerk en die geloof maar redelik sober in simboliek is. Moontlik selfs ‘n bietjie kaal – veral in Protestantse kerke sedert die tyd van die Reformasie. Diegene wat die geskiedenis ‘n bietjie ken, sal weet dat daar in die begintyd van die Reformasie sogenaamde beeldestorms was. Tydens hierdie beeldestorms is die eerstydse Roomse kerkgeboue gestroop van alle beelde, en het daar eintlik net ‘n preekstoel in plaas van ‘n altaar in die sentrum van die kerkgeboue oorgebly. Uiteraard ‘n pragtige simboliek – die preekstoel sentraal beteken die Woord sentraal! – maar is daar nie ruimte vir ‘n bietjie meer simboliek nie? Dit is nie verbasend nie dat daar in die laaste dekades in gereformeerde kringe – ook onder ons – al hoe meer stemme opgaan wat pleit vir meer simboliek in die kerk.

Nou, voordat ons te vinnig roep vir vernuwing op hierdie punt, kom ons kyk eers wat ons wél het – en dan sal ons dalk verbaas wees watter simbole ons alreeds het. Vat nou, byvoorbeeld, hierdie kerkgebou (die jongmense by die kampie moet maar kom kyk wanneer hulle weer terug is). Het jy al, byvoorbeeld, die kruis-simbool opgemerk, wat in die mure ingemessel is? Twaalf van hulle. Die kruis: dié simbool by uitstek van die Christelike geloof – Christus wat aan die kruis die vloek gedra het... vir ons (en gaan Google maar ‘n slag hoeveel verskillende vorme van die kruis daar deur die eeue in verskillende lande en kulture ontstaan het).

Of wat van hierdie drie vertikale balke – van ons ouer lidmate sal dalk nog weet wat dit beteken. Die ontwerper se bedoeling met hierdie drie balke, so lees ek, was om daarmee die kenmerke van die kerk van Christus uit te beeld: die Woord, die sakramente en die tug (NGB, art. 29). Hierdie drie kenmerke kom bymekaar (vind sy fokus) in die bediening van die Woord – vandaar dat hierdie drie balke as’t ware die preekstoel omvou. Want uiteindelik gaan die Woord, die sakramente en die tug uiteindelik oor niks anders nie as: die bediening van die Woord, die prediking – dít wat vanaf hierdie kansel gebeur. Pragtige simbool!

Dan is daar natuurlik die simbool van die Alfa en die Omega – die eerste en die laaste letters van die Griekse alfabet (a en z in ons alfabet), waarvan ons vier keer in die boek Openbaring lees: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste, sê die Here.” Wanneer jy die kerkgebou inkom, is dít waarop jou aandag heel eerste gerig word: ons Here, wat aan die begin van alle dinge staan (Hy is die Skepper!), en wat aan die einde van alle dinge steeds daar sal wees (Hy is die Voleinder van alle dinge)! ‘n Pragtige simbool wat ons daar herinner: God is in beheer!

En wanneer ons ná die diens weer uitgaan, dan word ons aandag gerig op die sewe-armige kandelaar wat daar in die agterste muur ingemessel is – ‘n simbool wat ons oproep om nou, nadat ons die Woord gehoor het, uit te gaan en ons lig in die wêreld te laat skyn: “Julle (sê die Here Jesus in Mt. 5:14) is die lig van die wêreld!” En só is daar nog verskeie ander simbole wat in die argitektuur van hierdie gebou ingewerk is. Pragtig hoe ons voorvaders, waarvan sommige nog lewe, nie net gebou het nie, maar baie mooi nagedink het oor ‘n gebou vol met simboliek!

Maar kom ons bring dit ‘n bietjie nader aan die Skrif. Want die kerk van die Here dink nie maar net self simbole uit nie. Nee, heel eerste ontvang die kerk simbole vanuit die Skrif! Die Here het vir ons ‘n aantal pragtige, sprekende simbole gegee. En ons gaan hulle vandag nie net beskryf nie, ons gaan hulle ook bekyk, en een daarvan gaan ons vandag selfs bedien – die doop. ‘n Pragtige simbool wat die Here gegee het – kom ons gaan nou oor tot die bediening van die doop.

********************

Doop

Broers en susters, wat ons hier in die doopvont het, is water. Gewone water uit die kraan in die kombuis – effens warm gemaak deur die koster, sodat die babatjie wat gedoop word nie die skrik op die lyf gejaaf word wanneer daar skielik yskoue water oor sy/haar koppie gegooi word nie. Maar verder is dit gewone water. Nie heilige water, soos wat in die Roomse kerk beweer word nie; nie water wat een of ander magiese krag besit om iets in die dopeling uit te werk nie. Nee, soos wat ons bely in artikel 34 van die NGB: “God het beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop.” Net met gewone water.

Dit gaan dus nie in die eerste plek oor hierdie water nie. Hierdie water dui iets aan, dit is ‘n simbool van iets anders. Maar van wat presies? Hoekom het die Here juis wáter as simbool vir die doop gekies? Wel, die water wys veral op twee dinge. Die eerste – en mees ingrypende – is dat die water ‘n simbool is van verdrinking. Daarom dat volledige onderdompeling by die doop ook ‘n mooi betekenis kan hê – dit wys baie konkreet aan hoe ons ou mens as’t ware in die water verdrink, en hoe die nuwe mens weer uit die water opstaan. Hierdie gedagte vind ons, onder andere, in Kolossense 2:12, waar Paulus sê: “omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” Die doopwater simboliseer dus verdrinking – ons sondige mens verdrink in die doopwater, en ons nuwe mens staan saam met Christus weer op. En die tweede betekenis van die simbool van die water hang hiermee saam, naamlik dat die water ‘n aanduiding is van die afwassing van die sondes. Soos NGB artikel 34 dit verwoord: “God toon ons met die doop dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word ... so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes...”

En dít moet ons voor oë hou, gemeente: wanneer ons net hierna vir Talitha gaan doop, dan is dit maar ‘n paar hande vol water wat ons oor haar koppie gooi – nie genoeg om haar hele lyfie skoon te was nie, en nog minder om haar te laat verdrink. Maar dit hoef ook nie, want dit gaan nie oor hierdie water nie. Dit gaan oor wat hierdie water uitbeeld, wat dit simboliseer. Dus, wanneer ons sien hoe daardie paar hande water oor haar koppie uitgegooi word, dan moet ons verder dink en in die geloof verder kyk: afsterwe (verdrinking) van haar ou mens, en afwassing van al haar sondes. Deur die geloof in Jesus Christus! [nooi ouers vorentoe]

Nagmaal

Dan het ons nóg ‘n simbool van die Here gekry; eintlik is dit twee simbole in een: die brood en die wyn, wat ons aan die tafel van die nagmaal ontvang. Hierdie simbole van brood en wyn moet ons dus verstaan binne die konteks van ‘n maaltyd – die maaltyd van die Here, waarby Hy self die Gasheer is. En by ‘n maaltyd is daar altyd kos! Maar hoekom het die Here besluit om aan hierdie maaltyd vir ons juis brood en wyn as kos te gee? Hoekom nie, byvoorbeeld, aartappels en bier nie? Wel, omdat die simbole na ‘n baie spesifieke werklikheid verwys; die simbole pas by dít waarna dit verwys. Die simbool van die brood verwys na die liggaam van Christus. Net soos wat brood die mees basiese voedsel is wat die menslike liggaam onderhou, so is Christus die hemelse brood wat uit die hemel neergedaal het om die geestelike lewe van die gelowiges te onderhou (NGB, art. 35). So noem Christus Homself ook in Johannes 6:35: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie.” En die simbool van die wyn verwys na die bloed van Christus – die rooi kleur (van sowel die wyn as die bloed) maak hierdie simbool so treffend. By die instelling van die nagmaal het Jesus die beker met die wyn, wat tydens die Paasmaaltyd gedrink is, geneem en gesê: “Drink almal daaruit. Want dit is my bloed ... wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Mt. 26:28). Dus, die brood en die wyn is simbole van die liggaam en bloed van die Here Jesus.

Maar het ons regtig genoeg aan een stukkie brood en een slukkie wyn? Ons kan mos nie daarop oorleef nie? Veral nie wanneer ons die nagmaal net een keer elke drie maande vier nie. Nee, maar ons moet weereens nie in die eerste plek op die brood en die wyn fokus nie. Die krag lê nie in die brood en die wyn nie – net soos die water van die doop gewone kraanwater is, is hierdie ook gewone brood (by Checkers gekoop) en gewone wyn (by die plaaslike drankwinkel aangeskaf). Dít is slegs simbole. Ons moet ons aandag rig op dít waarna die simbole verwys. Dis dan ook die oproep van die nagmaalsformulier: “Om met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons nie net ons oë rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie, maar ons harte ophef na die hemel, waar Jesus Christus ... is.” Kyk na Christus, broers en susters, glo in Hom! Slegs dan werk die Heilige Gees die egte betekenis van die simbole in ons hart en lewens. “Ons dwaal nie – sê NGB art. 35 – as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie, maar met die Gees deur die geloof.” Ons het nou die simbole van die doop (water) en die nagmaal (brood/wyn) gesien – kom ons sing daarvan uit Ps. 105:22.

Handelinge 2:1-4 (lees ook Mt. 3:13-17)

Ons het nou na die simbole van water, brood en wyn gekyk. Op die Pinksterdag gee die Here vir sy kinders nog drie simbole: wind, tonge en vuur. Drie simbole wat verwys na die gawe van die Heilige Gees. Maar hoekom juis hierdie drie: wind, tonge en vuur? Immers, in Mattheus 3 het ons gelees dat die Gees in die gedaante van ‘n duif op die Here Jesus neergedaal het. Dus, daar word die Gees aangedui met die simbool van ‘n duif. Waarom in Mattheus 3 ‘n duif, en in Handelinge 2 wind, tonge en vuur?

Wel, ons het reeds by die water van die doop en die brood en wyn van die nagmaal gesien dat die simbole wat God kies, pas by die saak waarna dit verwys – water, want dit wys op die afwassing van die sondes; brood en wyn, want dit wys op die liggaam en bloed van Christus waarmee ons gevoed word. Net so pas die simbool van die duif by die geleentheid van Christus se doop. Hoekom? Johannes Calvyn, wanneer hy oor hierdie gedeelte skryf, haal Jesaja 42:2 en 3 aan, waar ons oor die Kneg van die Here (Jesus Christus) lees: “Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie...” En dan sê hy vervolgens: “Vanweë hierdie sagmoedigheid van Christus, waardeur Hy vriendelik en saggies roep en elke dag sondaars uitnooi tot die hoop op die verlossing, dáárom het die Heilige Gees soos ‘n duif op Hom neergedaal. In hierdie simbool word vir ons ‘n waardevolle teken aangebied van die soetste vertroosting, dat ons geen vrees hoef te hê om na Christus te kom nie.” Sien u: die simbool pas by die saak wat God op daardie oomblik wil beklemtoon: Christus se sagmoedigheid – daarom die duif! En tot vandag toe is die duif steeds die simbool van vrede, genade, liefde.

Op dieselfde manier moet ons kyk na die simbole wat op die Pinksterdag vir die kerk gegee word. Kom ons vat hulle een vir een.

Wind – die 1953-vertaling praat van ‘n geweldige rukwind, die 2020-vertaling praat van ‘n kragtige stormwind. Die doel van hierdie kragtige wind was om die aanwesiges bevrees te maak, te laat skrik, want ons sal nooit die genade van God kan ontvang as ons nie eers van ons eiewaan en selfvertroue gestroop word nie. Dit is nederigheid en eerbied wat die deur oopmaak vir die Here om in ons lewens in te kom. “Hy slaan, hoewel oneindig hoog, op hul die oog wat needrig lewe. Maar sien van ver die kleinheid aan van grootheidswaan wat hoog wil strewe” (só sing ons in Ps. 138:3).

Vervolgens tonge – dit dui op die spesifieke wérking van die Gees in hierdie situasie, naamlik die spreek in verskillende tale wat net daarna in die apostels tot uiting sou kom. En dit was baie belangrik op daardie oomblik! Want as al die apostels slegs een taal kon praat, dan sou dit ‘n verhindering vir die verspreiding van die evangelie gewees het, dan sou mense gedink het dat die boodskap beperk was tot die Jode. Maar nou kon die boodskap na alle nasies gaan – dit wat eers ‘n straf op die menslike hoogmoed was (die toringbou van Babel en die verwarring van die tale – Gen. 11) word nou verander in ‘n seën. Só word benadruk dat ook die heidene geroep word, en op dié manier het die evangelie ook ons bereik. Die tonge is dus simbool van die tale – bestaande tale, en nie brabbeltaal soos wat deur pinkstergroepe aan ons voorgehou word nie.

En dan is daar nog die vuur – die vuur is ‘n simbool van die effektiwiteit en die krag van die prediking van die apostels deur die werk van die Gees. Die apostels se stemme en hulle boodskap sou, deur die aanwesigheid en die werking van die Gees, wees soos vuur wat die harte van mense aan die brand sou steek, alle sondes daaruit weg sou brand, en hulle sou vul met die warmte wat van bo kom.

Sien u, gemeente, hoe die simbole van die Heilige Gees – wind, tonge en vuur – presies pas by die geleentheid van die Pinksterdag? By Christus se doop voeg God by die Gees die simbool van die duif om te wys met watter sagmoedigheid en liefde Christus sy amp sou uitvoer. Op die Pinksterdag, egter, gee Hy aan die Gees die simbole van wind, tonge en vuur om sodoende mense gereed te maak vir die kragtige verkondiging van die evangelie aan alle nasies en tale. Dít is die werk van die Heilige Gees sedert die Pinksterdag – en ons staan vandag steeds onder die kragtige werking van dieselfde Gees!

Hieruit leer ons, broers en susters, watter beginsel belangrik is wanneer dit kom by Bybelse simbole, en hier kom ons by die kern. Baie belangrik: simbole is altyd verwysend van aard. Daarmee bedoel ek dat dit nie in die eerste plek gaan oor die simbool nie (of dit nou ‘n voorwerp is of ‘n handeling), maar dat dit gaan oor dít waarna die simbool verwys. Simbole wil dus nooit hê dat ons aan húlle moet vasklou nie, maar dat ons moet nadink en onsself moet afvra: wat wil God ons deur middel van hierdie simbool leer? Hoekom juis hierdie simbool? En hoekom juis hierdie simbool op hierdie oomblik? Terloops, dit geld nie slegs vir Bybelse simbole nie, maar ook vir simbole wat ons in die wêreld om ons heen aantref. Veral ons jongmense is baie vatbaar vir gewilde simbole om ons heen, en dit is nie noodwendig verkeerd nie. Maar vra jouself af – veral ook in die geval van simbole in die wêreld van musiek, sosiale media, en sport: waarna verwys hierdie simbool? Gaan Google dit, gaan soek dit op. En miskien is dit ‘n baie onskuldige simbool, maar dalk ook nie....

Twee Bybelse voorbeelde waaroor die jeug by die kampie kan nadink en waaroor die res van ons by die huis kan nadink. In Jeremia 19:1 moet Jeremia ‘n kruik (‘n klei pot) gaan koop, en in vers 10 dra die Here hom dan op om die kruik voor die oë van die leiers stukkend te breek. Wat is die doel van hierdie simboliese handeling? Waarna verwys dit? Lees gerus Jeremia 19:11 daarby. En die tweede voorbeeld – wanneer Paulus in Filippense 3:2 skryf: “Let op die honde...”, dan verstaan ons almal dat dit nie gaan oor letterlike honde, geliefde huisdiere soos wat ons hulle ken nie. Maar wat bedoel hy dan wel? Waarvoor staan die honde in hierdie spesifieke situasie simbool?

Dus, in die Bybel verwys die simbool of die simboliese handeling altyd na die saak waaroor dit in werklikheid gaan. Ontdek daardie saak! En dan sal jy sien dat die simbool altyd pas by die saak waarna dit verwys. Daar is dus ‘n duidelike verband tussen die teken en die saak. Maar ons moet dit ontdek! En die Skrif wys ons daarin die weg.

Sing oor die Heilige Gees: Skr. 13:1 en 2 & Skr. 27:4.

Belydenisse as simbole

Ons het sopas ‘n deel gesing uit die Apostoliese Geloofsbelydenis – en dit bring ons by die laaste aspek van simbole waaraan ons vandag wil raak. Want ons belydenisgeskrifte is ook simbole – in die teologie bestudeer ons hulle in die vak genaamd ‘simboliek’. Nou, hoekom word ons belydenisgeskrifte ‘simbole’ genoem? Om twee redes:

In die eerste plek is hulle simbole omdat hulle – soos alle simbole wat ons tot dusver behandel het – na iets anders verwys, iets anders buite hulleself. En waarna verwys ons belydenisgeskrifte? Hulle verwys na die Skrif. Die belydenisgeskrifte verwoord die heerlike en volmaakte boodskap van die Skrif. En daarom het hulle geen betekenis op hulle eie nie; hulle het geen gesag op hulle eie nie. Wees daarom versigtig om die belydenisgeskrifte te gebruik as jy nie in staat is om dít wat ons daar bely ook vanuit die Skrif self te begrond nie. Want ons belydenisgeskrifte staan nie op hulle eie nie. Dit is juis in hulle verhouding tot die Skrif dat die belydenisgeskrifte betekenis kry.

En in die tweede plek is ons belydenisgeskrifte simbole omdat hulle die uitkenningsteken is vir almal wat dieselfde waarheid bely. Wanneer jy iemand met ‘n Bulls-hemp sien stap, dan verstaan jy onmmiddellik: hy of sy ondersteun die Bulls. Nou, net so is dit met die belydenisgeskrifte: wanneer iemand die belydenisgeskrifte gebruik as sy belydenis, dan weet jy presies waar hy staan. En só het dit veral in die vroeë kerk gefunksioneer. Een van die kerkvaders, Rufinus, skryf hieroor die volgende: “In ‘n burgeroorlog is die wapenrusting van albei partye dieselfde, so ook die taal en die gewoontes van oorlogvoering. Om daarom teen verraad te waak, gee elke generaal aan sy soldate ‘n kenmerkende simbool [daar het jy dit!] of wagwoord, sodat wanneer jy iemand ontmoet waarvan jy nie seker is aan watter kant hy behoort nie, hy deur middel van die simbool/wagwoord bekend kan maak of hy vriend of vyand is.” Pragtig, ons belydenisgeskrifte is simbole, wagwoorde waardeur ons kan herken of ons met ‘n vriend of ‘n vyand te make het. ///

Gemeente, die Here het ons in sy Woord en in die kerklike lewe met baie ryk simbole geseën. Buiten die simboliek in hierdie kerkgebou is daar die doop, die nagmaal, die belydenisgeskrifte. En vanuit die Skrif kry ons honderde ander simbole – dink aan die lam, die vis, die duif, die kruis, die alfa en die omega, die anker, die lig, die môrester, en nog talle ander... Mag hierdie simbole ons help – en so is hulle ook bedoel – om ons elke keer weer terug te bring by die hart van die geloof, by God as ons Vader, by Christus ons Verlosser, en by die Heilige Gees wat in ons woon. Mag die simbole ons help om die Drie-enige God van harte te bely!

Liturgie: 

Votum & seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 63:3 en 6

  • Sing. Skr. 26:1

Wetslesing

  • Sing Skr. 26:10 en 11

Kort gebed

  • Prediking I: Inleiding

Doopsbediening

  • Formulier + vrae

    • Prediking II: betekenis van die simbool van water
  • Doopsbediening & Dankgebed
  • Oproep aan gemeente (staande)
  • Sing Ps. 105:5
    • Prediking III: betekenis van die simbole van brood en wyn
  • Sing Ps. 105:22

Lees:  

Mattheus 3:13-17

Handelinge 2:1-4

  • Prediking IV: simbole by Pinkster

Sing Skr. 13:1 en 2 & Skr. 27:4

  • Prediking V: belydenisse as simbole

Sing Ps. 91:7 en 8

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 118:12 en 14

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.