Die diakens - koördineerders van die feesvreugde, veral binne (maar óók buite) die gemeente van Christus!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-09-19
Text: 
Handelinge 6:1-7
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons kom maar net nie weg van die ongemak rondom die diaken-amp nie. En dis enersyds 'n ongemak by gemeentelede (want hoeveel keer moes ons nie al hoor: "ons het nog nooit 'n diaken-besoek gekry nie..." of "ek het in die laaste tien jaar nog nie 'n diaken hier by my huis gesien nie"), maar dit is andersyds ook 'n ongemak by die diakens self (want wanneer hulle wel afsprake wil maak, moet hulle dikwels van gemeentelede hoor: "Hoekom? Ons het mos nie finansiële probleme nie!?"). Dit is dus 'n wedersydse ongemak. Dit het tot gevolg dat die diakens hulleself al hoe meer begin beperk tot die finansiële kant van hulle amp (iets wat noodwendig met diskresie moet gebeur [die diakens kan nie gaan rondbasuin wie in die gemeente finansiële ondersteuning ontvang nie], maar wat ongelukkig daartoe lei dat hulle werk grotendeels in geheimhouding gehul is). En die gevolg is dat die gemeente hulle slegs in aksie sien wanneer die kollekte opgeneem word of wanneer die tafel vir die nagmaal gereedgemaak word. En dít alles dra by tot die beeld wat die gemeente van die diaken-amp het (en dit is dikwels ook die beeld waarmee ons kinders opgroei): die diakens is die manne-met-die-sakkies; en wanneer ons nagmaal vier, is hulle die assistente / die helpers. U voel hooplik aan dat ons op dié manier in 'n bose kringloop van persepsies beland waaruit ons, ter wille van die welstand van die gemeente, so spoedig moontlik moet kom. Ons wil vanaand - met behulp van die Skrif en die bevestigingsformulier - 'n poging hiertoe doen.

Tema: die diakens - koördineerders van die feesvreugde, veral binne (maar óók buite) die gemeente van Christus!

 

Wanneer ons kom by die deel oor die diakens in die formulier vir die bevestiging van ampsdraers, dan moet ons baie mooi die volgorde in die formulier raaksien. 'n Mens sou verwag dat in 'n formulier vir die bevestiging van diakens heel eerste die diakens aangespreek word, nie waar nie? Maar dis nie wat hier gebeur nie. Nee, die formulier - in navolging van die Skrif - begin by die wortel van alle diakonaat (net vir diegene wat nie weet nie: die Griekse woord diakonos beteken eenvoudig 'dienskneg'; diakonein = 'om te dien'). Die wortel van alle diakonaat / diensbaarheid lê in die werk van Jesus Christus. En dis presies hoe die formulier begin: "Ten opsigte van die diens van die barmhartigheid leer die Skrif dat dit voortvloei uit die liefde van Christus; Hy het in die wêreld gekom om te dien en het Hom ontferm oor baie wat in nood verkeer het." En dan volg daar drie Skrifverwysings. Markus 10:45: "Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie" [in Grieks: albei kere werkwoord diakonein]. Vervolgens Lukas 22:27: "Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien" [weer: tweemaal werkwoord diakonein]. En dan in Johannes 13:15, ná die voetwassing, sê die Here Jesus: "Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen." Nou, die laaste van hierdie twee Skrifverwysings (Luk. 22 en Joh. 13) is beide uitgespreek in die nag waarin Jesus verraai is, daar by die tafel van die eerste nagmaal. Dit is nie onbelangrik nie - want daar kom ons by die sentrum van Christus se werk, daar is die beslissende uur, toe Christus Homself voorberei het om sy finale dienswerk, sy finale diakonia te verrig. Dáár, by daardie laaste paasmaaltyd - wat terselfdertyd die eerste nagmaalstafel was - kom sit die formulier ons neer en sê: Kyk, Christus se liefde en diensbaarheid (diakonia) vir ons! Dit begin by die nagmaalstafel - Christus se liggaam en bloed, gegee en vergiet vir ons sondes!

Is die diakens maar net assistente - helpers! - wat die nagmaalstafel gereed moet maak omdat die ouderlinge of die predikant hullself te belangrik ag om dit te doen? Dink weer, gemeente! Sien die diepe simboliek van die feit dat juis die diakens, in navolging van die diakonaat / diensbaarheid van Christus, die tafel gereed maak. Aan die nagmaalstafel - waar Christus se liefde en selfoorgawe so helder skitter – dáár het die werk van die diakens sy oorsprong. Daarom bring juis húlle die tafel in gereedheid.

 

Goed, die formulier begin dus met die liefde en diensbaarheid van Christus - daar het ons die wortel van alle diakonaat. Dan sou mens verwag dat die formulier vervolgens oorgaan na die diens van die diakens. Maar nee, nog steeds nie. Eers word die geméénte aangespreek; luister maar: "In navolging van sy Heer het die eerste christelike gemeente toegesien dat niemand onder hulle behoeftig is nie. Aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het." Hierdie keer is daar 'n verwysing na nog twee Skrifgedeeltes, nl. Handelinge 2 en 4 (ons het dit saam gelees). Dus, voordat ons by Handelinge 6 kom (ons teks, wat volgens baie vir ons vertel van die instelling van die diaken-amp), vat die formulier ons eers terug na Handelinge 2 en 4 - want in daardie gedeeltes sien ons die aktiwiteite van die geméénte.

In Handelinge 2 lees ons van die direkte, spontane beoefening van gemeenskap tussen die broers en susters van die eerste gemeente. Die Heilige Gees werk só in daardie eerste gemeente dat alle eiendom gemeenskaplik was en niemand gebrek gely het nie. Ware Christelike gemeenskaplikheid - nie die kommunisme wat ons in die 20ste eeu gesien het (en waaronder miljoene gesterf het) en wat eintlik vandag nog steeds na vore kom in ons land nie. Die ware Christelike “kommunisme” sê: alles wat myne is, is joune (vrywillig, nie gedwonge nie!); die moderne kommunisme, daarenteen, sê: alles wat joune is, is myne (en as jy dit nie vrywillig gee nie, sal ek dit met geweld vat). In Handelinge 2 werk die Gees eersgenoemde - broers en susters wat vrywillig sê: alles wat myne is, is joune, sodat elkeen van ons genoeg kan hê. Wanneer ons van Handelinge 2 na Handelinge 4 beweeg, dan sien ons daar weer dieselfde. Maar daar is tog iets ekstra: wanneer die getalle in die eerste gemeente toeneem, dan begin die apostels 'n rol speel in die liefdesbetoon (die liefdesbetoon word nou aan die voete van die apostels neergelê). Heeltemal verstaanbaar as jy daaraan dink dat die gelowiges intussen toegeneem het tot 'n gemeente van waarskynlik meer as 10,000 mense. Maar die klem in hierdie eerste hoofstukke val nogtans op die betrokkenheid van die gemeente - dit was vir hulle 'n saak van eer om daarvoor te sorg dat niemand in die gemeente gebrek ly nie.

 

Hierdie ereplig van die eerste gelowiges word in die bevestigingsformulier vervolgens deurgetrek na vandag: "Die Here roep óns nou ook op tot gasvryheid, offervaardigheid en barmhartigheid" - met 'n verwysing na Mattheus 25, Romeine 12 en Hebreërs 13 - "en om sorg te dra dat die swakkes en hulpbehoewendes oorvloediglik deel in die vreugde van God se volk." Die vreugde van God se volk - dan volg daar 'n aantal verwysings na Ou Testamentiese Skrifgedeeltes: Deuteronomium 14, 16 en 24. Baie interessant, want in al drie hierdie verwysings na Deuteronomium gaan dit oor die feeste wat in Israel gevier moes word - in Deuteronomium 14 gaan dit oor die fees van die oes, in Deuteronomium 16:11 oor die fees van die weke (ook genoem die pinksterfees), in Deuteronomium 16:14 oor die loofhuttefees, en in Deuteronomium 24 oor die insameling van die oes in die algemeen. By al hierdie geleenthede moes die Israeliete fees vier, bly wees - en bly-wees is iets wat 'n mens sáám doen! Saam met die swakkes, die vreemdelinge, die weduwees, die wese, en die armes moes Israel - en moet ons! - fees vier! En wanneer ons fees vier, is ons nie suinig nie, maar dan gee ons oorvloedig!

En as ons hierdie Ou Testamentiese beginsel in gedagte hou, dan verstaan ons ook wat Lukas bedoel wanneer hy in Handelinge 2:46 skryf dat die gelowiges hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet het. Dít was die sfeer warin die eerste gemeente hulle brood gebreek en gedeel het; dít was die sfeer waarin die eerste gelowiges vir mekaar gesorg het. Dit was die vervulling - deur die Heilige Gees van Pinkster! - van die Ou Testamentiese feesvreugde. Sodat die formulier vervolgens kan sê: "In die gemeente van Christus mag niemand ongetroos onder die druk van siekte, eensaamheid, ouderdom of armoede lewe nie." Dit is die norm wat aan die gemeente voorgehou word; dit is die klimaat, die sfeer waarin ons kerk behoort te wees. Almal - veral ook die armes, die siekes, die eensames, die bejaardes - behoort saam te deel in die vreugde van God se oorvloed! Dit is die taak van die gemeente, in navolging van haar Heer!

 

En dán - uiteindelik! - kom die bevestigingsformulier uit by die taak van die diakens. Eers moes ons hoor Wie Christus is, vervolgens wat dit beteken om as sy gemeente diensbaar te wees. En dít bring ons by die taak van die diakens; die formulier sê dit so mooi: "Met die oog op dié diensbetoon het Christus diakens aan sy gemeente geskenk (en dan volg daar 'n verwysing na Fil. 1:1 en 1 Tim. 3:8-13 - eintlik die enigste twee Skrifgedeeltes wat eksplisiet na die diakens verwys). Maar luister weereens noukeurig hoe die formulier dit stel: "met die oog op dié diensbetoon..." Watter diensbetoon? Die diensbetoon van die diakens? Nee, die diensbetoon van die gemeente! Die gemeente word primêr aangespreek! En met die oog hierop: dus, die diakens word nie gegee as vervanging van die diensbetoon van die gemeente nie, maar juis om die diensbetoon van die gemeente in goeie bane te lei, te koordineer. Húlle is koordineerders van die feesvreugde in die gemeente van Christus.

Nou, dis op hierdie punt dat die formulier ons na Handelinge 6 verwys - en dan moet ons dit lees teen die agtergrond van Handelinge 2 en 4, waarin dit gegaan het oor die direkte, vrywillige, spontane diensbetoon van die eerste gelowiges aan mekaar. As dit alles so vrywillig en spontaan was, hoekom is hoofstuk 6 dan nodig? Wel, daar het binne 'n baie kort tyd 'n baie groot gemeente ontstaan (soos ek reeds genoem het, moet ons reken dat daar ten minste tienduisend lidmate in die gemeente in Jerusalem was). En dit was nie 'n gemeente met 'n massiewe kerkgebou en 'n sentrale dienssentrum nie. Nee, al waaroor die gemeente beskik het, was die huise van die gelowiges, en verder praat Handelinge 6 van die 'tafels' in hierdie huise. Hierdie tafels was die tafels waar die gemeenskaplike maaltye gehou is, maar dit was waarskynlik ook die tafels waar die nagmaal gevier is. Dus, hierdie 10.000+ lidmate het in kleiner groepies by mekaar se huise aan tafel gegaan om daar gemeenskap te beoefen. Maar op 'n sekere oomblik het die gevaar van diskriminasie begin dreig - sekere groepe is by die bediening van hierdie tafels oor die hoof gesien. Vir die apostels was hierdie saak so belangrik dat hulle nie maar net 'n klompie assistente of medewerkers aanwys wat aan húlle ondergeskik sou wees nie; nee, hulle stel voor om aparte ampsdraers vir hierdie werk te verkies. Want die karakter van die kerk was op die spel - die 'murmurering' van Handelinge 6:1 het die 'blydskap' (die feesvreugde) van Handelinge 2:46 bedreig. As hulle niks aan hierdie probleem sou doen nie, sou die kerk ontaard in 'n klomp strydende groepe en partye - elkeen uit op sy eie belang. Maar dank die Here vir hierdie wyse optrede van die apostels, want as gevolg daarvan word die diensbetoon van die gemeente in goeie bane gelei, en kan ons in hoofstuk 6:7 lees: "En die Woord van God het toegeneem..." Die Woord en die verspreiding van die Woord is bedreig deur die onmin in die gemeente, maar deur die verkiesing van die diakens is die onmin bestry en kon die Woord sonder verdere verhindering groei! Die Woord kon voortgaan!

 

Nou goed, broers en susters, wat is dan die konkrete werk van die diakens?

Wel, dit vind ons in die volgende woorde van die bevestigingsformulier: "Daarom is dit die taak van die diakens om te sorg vir die ordelike voortgang van hierdie diensbetoon in Christus se gemeente." Die diakens se taak is dus nie om die diensbetoon in die eerste plek sélf te verrig nie, maar om die gemeente se diensbetoon ordelik te laat voortgaan, om dit te koördineer, om dit te stimuleer. En hoe doen hulle dit? Wel, luister maar na die formulier: "Deur huisbesoek af te lê, moet hulle hulself vergewis of daar nood by die gelowiges is en hulle moet die gemeente tot mededeelsaamheid oproep." Ja, huisbesoek! Die diaken en huisbesoek - dit is so 'n logiese kombinasie. Want in huisbesoeke leer jy mense ken, word verhoudings gebou en versterk - verhoudings wat deur Christus begin is en wat elke keer aan die nagmaalstafel gevier word, moet in die dikwels harde realiteit van elke dag prakties en konkreet beoefen word. En dit gebeur veral by die huisbesoek.

Die diakens doen huisbesoek - in die eerste plek om hulleself daarvan te vergewis of daar nood by die gelowiges is. Die diaken, wanneer hy by jou op besoek kom, wil weet of jy nood het. En dan moet ons 'nood' nie versmal tot slegs finansiële nood nie. Daar is allerhande nood: die formulier noem die nood van siekte, van eensaamheid, van ouderdom, van armoede. En dít kan die diakens slegs agterkom wanneer daar 'n verhouding tussen julle bestaan, 'n band. Jou nood gaan jy slegs met jou diaken deel wanneer julle 'n verhouding opgebou het, nie waar nie? Daarom, diakens, sorg dat julle in die huise kom; bemoedig en vertroos met die Woord van God, soos die formulier sê. Die diakens is nie die manne-met-die-sakkies nie, hulle is die manne-met-die-Woord! ‘n Woord in jou nood! En wanneer jou diaken kom, bou ‘n band met hom – sodat jy uiteindelik jou nood aan hom kan toevertrou.

Maar, en dit is ewe belangrik, die diakens doen ook huisbesoek om die gemeente tot mededeelsaamheid op te roep, sê die formulier. Dus, die diaken kom doen by jou huisbesoek om te ontdek watter gawes jy en jou gesin het. In die gemeente is daar geweldig baie energie en gawes wat nooit behoorlik ontgin word nie – energie en gawes wat gebruik kan word om die nood waaroor dit sopas gegaan het, te kan aanspreek. Dus, as jou diaken jou bel, moet hom dan nie met 'n kluitjie in die riet stuur deur vir hom te sê dat jy geen finansiële nood het nie en dat hy daarom nie hoef te kom nie - hy weet waarskynlik dat jy nie finansiële nood het. Sy doel is om jou en jou gesin se gawes te kom ontdek. Watter gawes het jy? Nee, ek vra nie of jy baie geld het nie; my vraag is watter gáwes jy het, en dis baie wyer as geld. Die diaken kom om dit te ontdek – en wanneer hy dit ontdek het, behoort sy volgende vraag te wees: en hoe gebruik jy daardie gawes? En dit kan wees dat jy jou gawes al optimaal benut; daar is moontlik selfs sommige lidmate wat hulle gawes oorbenut, ten koste van hulle huwelik en gesin – oppas daarvoor! Maar as jy jou gawes nog nie optimaal in die gemeente gebruik nie, is dit die diaken se taak om vir jou te wys waar jy jou gawes kan gebruik: Ken jy daardie lidmaat? Hy / sy kan jou gawes goed gebruik. Jy het die tyd en die moontlikhede - daardie broeder sal 'n besoek waardeer. Daardie bejaarde suster het 'n lekkende kraan – ek sien jy het die gawes, wil jy dit nie vir haar gaan regmaak nie? Daardie jongman sukkel met sekere vrae – ek het ontdek dat jy goed met jongmense kan werk, wil jy nie 'n slag met hom daaroor gesels nie? Daardie kommissie kort dringend 'n penningmeester – jy het die gawes, sal dit oorweeg om jouself beskikbaar te stel?

 

Só koördineer, mobiliseer en stimuleer die diakens die gemeente in hulle diensbaarheid. Só beywer hulle hul met woord en daad dat die gemeenskap – dáárdie gemeenskap wat deur die Heilige Gees in die gemeente gewerk en aan die nagmaalstafel geniet word – sigbaar kan word. En so sal ons in liefde jeens mekaar en alle mense toeneem, só sluit die formulier hierdie gedeelte af. Jeens mekaar en alle mense – en dan word daar nog 'n klompie Skrifgedeeltes genoem (1 Thes. 3:12, 2 Pet. 1:7 en Gal. 6:10). Wanneer jy hierdie Skrifgedeeltes gaan lees, dan sal jy ontdek dat daar rondom die nagmaalstafel konsentriese sirkels is. Aan die nagmaalstafel vier ons die liefde van Christus vir ons. En van daaruit word die beweging van die liefde voortgeplant, van binne na buite. Eers in die gemeente – daaroor het dit nou vir die grootste deel van die preek gegaan. Maar vervolgens ook daarbuite. Dit is daarom ook goed dat u weet dat die diakens vier keer per jaar uitreik na buite – óf deur middel van 'n skenking, óf deur middel van verskillende aksies. Aksies waarby u, hooplik, in die toekoms ook meer betrokke kan raak. Ja, die diensbaarheid begin in die gemeente, by die huisgenote van die geloof. Maar dit stop nie daar nie. Dit kring uit na ons omgewing – ook húlle mag deel in die liefde van Christus!

------------------

Broers en susters, u is vandag gevra om name op te gee van broeders wat geskik geag word vir die amp van ouderling of diaken. Die kerkraad wil u vra om vanjaar spesifiek na te dink oor broeders wat geskikte diakens kan wees. En dan kyk ons nie in die eerste plek na ouderdom nie; ons dink ook nie: “o, hy was al ouderling, dus sal dit ‘n verlaging wees wanneer ons hom nou diaken maak”; ons dink ook nie: “hy’s nog jonk, laat hom maar ‘n paar jaar diaken wees, dan sal hy moontlik gereed wees ouderling te word nie”. Nee, ons kyk na die gawes wat die Here gee vir die amp van ouderling, en ons kyk na die gawes wat die Here gee vir die amp van diaken. Twee selfstandige ampte – die een is nie die helper of assistent van die ander nie. Twee ampte – elkeen met sy eie werksveld, sy eie fokus. Sodat die feesvreugde in die gemeente van Christus kan groei en almal daarin kan deel.

Dink daarom oor broeders wat geskik is vir die amp van diaken – gaan lees weer 1 Timotheus 3. En dink na: by wie sien ek hierdie gawes? Wie is alreeds diakonaal, ook al is hy nog nie ‘n diaken nie? Wie is alreeds diensbaar in die voetspore van ons Here Jesus? Die kerkraad ontvang graag daardie name, met motivering. Sodat ons kan saamwerk om die amp van die diaken in ere te herstel.

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 125:1-3 en 7

Gebed

Doopsbediening

  • Formulier + vrae
  • Doopsbediening
  • Dankgebed
  • Sing Ps. 105:4 en 5

Lees:   Handelinge 2:44-47

            Handelinge 4:32-37

Sing Ps. 37:13, 15 en 16

Teks:   Handelinge 6:1-7

            Lees deel in bevestigingsformulier oor diakens

Preek

Kollekte

Amenlied Ps. 146:5, 7 en 8

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Slotsang Ps. 133

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.