Die eerste geskenk in die nuwe verbond: vergewing van sondes vir almal wat glo

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-07-11
Text: 
Handelinge 2:38a
Reference: 
Vervolgpreek op die preek van 4 Junie oor Hand 2:36-41
Preek Inhoud: 

(Vervolgpreek op die preek van 4 Junie oor Hd2,36-41 (bekering))

•    Inleiding vir kinders: ’n geskenk

Kinders: sê nou jou verjaarsdag is om die draai.
Jou pa en ma het geskenke vir jou gekoop.
Daar is iets wat jy baie na verlang het, wat jy baie graag wil hê!
Jy word vroegoggend wakker, en sluip na die huiskamer toe. Daar sien jy die geskenk wat vir jou wag. Sou dit regtig die kar / pophuis / fiets / rekenaarspeletjie wees wat jy so graag wil hê?
Jy wil so graag die geskenk uitpak en sien wat dit is! Jy kan nie wag nie…
En sodra jy dit uitgepak het, wil jy natuurlik dadelik daarmee gaan speel. As jy van die geskenk hou, kan jy wel die hele dag daarmee speel!

•    Inleiding vr volwassenes: die hoogtepunt van Jesus se lewe

Dit is nou hoe ons na Pinkster moet kyk.
Nou het ons by die hoogtepunt van Jesus se lewe gekom!
Lukas het sy evangelie afgesluit met die belofte van die Vader. Sy tweede boek, Handelinge, begin ook weer daarmee. Jesus sê:
 “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”
Jesus gaan hemel toe. Dan begin die spanning: wanneer sal dit gebeur? “Binne ’n paar dae” het Jesus gesê. Hulle bid en wag saam op daardie dag.
Eindelik gebeur dit dan, op die 50e dag na Jesus se opstanding!

Die tekens is spesiaal: wind, vuur, vreemde tale. Dit wys dat iets groots aan die gebeur is! 
Petrus verduidelik dit: God het Jesus opgewek uit die dood. Hy is die redder wat God gestuur het, en hy is Heer!

•    Nuwe verbond

Ons moet dit in Bybelse terme sien: 
Na sy opstanding en hemelvaart swaai die deur van die hemel oop: ons mag nou leef in die nuwe verbond.
Dit is mos hoekom Jesus mens geword, gely het, en gesterf het aan die kruis: die doel is om ‘n nuwe verbond in sy bloed te maak. 
“Jesus gee die beker aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament (verbond), wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. (Matthéüs 26:27–28).
Die lyding van Jesus, gevolg deur sy opstanding, is die waterskeiding in die geskiedenis. (soos ’n aardverskuiwing) ’n Volledig nuwe periode breek nou aan.

In vers 38 vertel Petrus vir ons die twee groot geskenke wat die nuwe verbond inlui: die vergewing van sondes en die uitstorting van die Gees op gelowiges.
Luister maar:
Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Vandag luister ons na:

Die eerste geskenk in die nuwe verbond: vergewing van sondes vir almal wat glo
1.    dis ’n kosbare geskenk
2.    van ’n sagmoedige Heer

1.    Dis ’n kosbare geskenk

•    Doop: skoonwas

Ek dink al die kinders en ons almal kan verstaan dat die doop ’n teken is van vergewing: soos water vuil verwyder, was Jesus met sy bloed ons sondes af.

Ons almal is gedoop. Ons is vertroud met die woord ‘vergewing’.

Nou lees ons van groot wondertekens op Pinksterdag, en wat is die resultaat….: vergewing?

Dit klink bekend… 

Dit lyk asof die resultate van Pinksterdag maar klein is.

•    Vergewing: groot geskenk?

Uit die daaglikse nuus, uit die media, uit boeke en flieks, kry jy nie juis die indruk dat vergewing nou ook die grootste behoefte van mense is nie. Mense soek liefde, geluk, vrede en veiligheid (afwesigheid van oorlog en misdaad), goeie onderwys vir hul kinders, werk, gesondheid - dinge wat ook regtig nodig is of die lewe aangenaam maak.
Maar ons moenie ’n fout maak nie. Vergewing is ’n groot geskenk!
Want wat is die krisis in ons wêreld?
Die hele storyline van die Bybel wys dat die mensheid is soos ’n trein wat op die verkeerde spoorlyn beland het, sy eie rigting gekies het en met ’n groot spoed op ’n afgrond aanstorm.
Die mensheid het teen God in opstand gekom en is van hom vervreemd.

Versoening met God – vergewing – is meer benodig as ons nasionale veiligheid, politieke stabiliteit, ekonomiese voorspoed en selfs as ’n vaksien teen die Koronavirus.
Al die dinge wat ons, mense, soek en kan regkry, is maar net ’n poging om die leefomstandighede op die trein te verbeter, maar dit verander niks aan die spoed en die rigting van die trein nie: dit op pad na die ewige straf en dood.

•    Beslissend en verrassend

As ons dit raaksien, ontdek ons hoe beslissend en verrassend die geskenk van vergewing is.
Die evangelie van vergewing word orals bekendgemaak: die goeie nuus dat daar redding is in die bloed van Christus deur bekering en geloof in hom. Dit is niks minder as ’n ontsnapping van die ewige helse pyne wat ons deur ons sondes verdien het nie. Dis genade! Wat ’n kosbare geskenk!

Tydens sy lewe reeds het Jesus mense verbaas deur te sê: jou sondes is vergewe. Die Fariseeërs het gemor: ‘niemand kan sondes vergeef nie, net God kan dit doen.’ 
Dis reg! Jesus is Gods eie Seun.
En hy het juis mens geword op aarde om vir sondes te sterf, sodat die sondes vergeef kan word.

Daarom stuur Jesus nou sy apostels, nadat hy opgewek is en in die hemel aan Gods regterhand sit, om vir hierdie wêreldnuus orals bekend te maak: almal wat hulle bekeer en in Gods Seun glo, vergewing ontvang.

•    In die hele wêreld

So spoel daar ’n golf oor die wêreld: die koninkryk van God breek deur. Soos trompetklanke word dit orals aangekondig en versprei die koninkryk.
En hoe?
Nie met geweld en deur wapens nie.
Nie deur dwang nie.
Maar deur bevryding: daar is genade!

God bied jou vergewing aan, hoewel jy teen sy majesteit gesondig het!
Aanvaar dit in geloof. Bekeer jou tot die redder van jou siel!
Jy hoef niks vir hom aan te bied nie. Jy moenie eers verander voordat jy Christus aanneem nie. 
Kom soos jy is, met al jou sondes, en hy sal jou las wegneem.

Dink aan die swaar las van die pelgrim in John Bunyan’s “Christenreis”: hy het die evangelie gehoor en het op pad gegaan na die hemelse stad. Toe hy (in geloof) by Jesus se kruis gekom het, het die pak, wat alhoe swaarder geword het, van sy rug af geval, en in die leë, oop graf van Jesus gerol en daar verdwyn. Van toe af was hy vry. Hy het ’n wapenrusting gekry en moedig die pad na die koninkryk verder gestap.

•    Laat jou las gaan

“Bekeer julle!” het Petrus gesê.
Daar is mense wat dit verkeerd verstaan, en dink dat jy nou heelwat moet doen.
Ja, dit is radikaal, maar dit gaan eerder daaroor dat jy dinge laat gaan, aflê.
Dit is nie ’n addisionele las wat Jesus op jou lê nie, iets wat jy eers moet regkry nie.
Stel jy het in die see geval, en jy is besig om te verdrink. Jy slaan met jou arms, jy trap met jou voete om jou kop bo die water te hou.
Dan gooi iemand ’n reddingsboei (life saver) na jou uit en roep: ‘gryp dit!’
Wat sal jy doen?
Sal jy terugroep: ‘Man, ek sukkel al klaar om te oorleef, ek het al my energie nodig om nie te verdrink nie. Ek het nie tyd en energie oor om ook nog ’n reddingsboei te gryp nie!’?
Nee, die reddingsboei is juis jou redding! Dit kos nie moeite om dit te gryp nie, en vervolgens hoef jy nie meer self te swem om jou kop bo die water te hou nie, die reddingsband doen dit vir jou! En die lewensredder trek jou met die tou nader aan die skip. Jy hoef niks meer te doen nie!
Hou net die reddingsboei vas.
Laat jou las gaan!

Maar moenie dink dat jy dit eeste moet doen voordat jy na Christus kom nie. Nee, dit is een ding: bekeer jou van jou sondes en glo in Jesus, en hy neem die las van jou skouers af. Hy verwyder jou sondeskuld by God.
Jesus het dit heel duidelik vir ons gesê in Mt11,28-30:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Staak jou pogings om vir God aanvaarbaar te wees, om jou kant te bring, om te wys dat jy dinge kan hanteer. Los dit.
Jesus vervang jou swaar juk met sy ligte las: hy het die las van jou sondes klaar weggedra.

2.    Van ’n sagmoedige Heer

•    Nie wraaksugtig nie, maar sagmoedig
“want Ek is sagmoedig en nederig van hart.”

Dit is so opvallend wat op die Pinksterdag gebeur.
Wanneer ’n nuwe president ingehuldig word, word die ambassadeurs en die ministers en die kantoorpersoneel (bv in die Wit Huis) weggestuur en vervang met nuwe mense.
Na ’n staatsgreep word die lede van die ou regering en ander politieke teenstanders selfs uitgemoor, sodat daar geen teenstand meer sal wees nie.

Dink net hoe Jesus kon wraakgeneem het op Jerusalem: dis húlle wat hom gekruisig het! 
In ons tyd sou die hele Sanhedrin en die tempel met ’n droneaanval verwoes word.
Maak die stad en die land skoon: weg met die teenstanders en opstandelinge!

Maar Jesus is nie so nie. 
Hy is sagmoedig en nederig van hart. Hy is gentle and lowly in heart.
Die skoonmaakaksie wat hy loods, is in die harte van mense. Deur bekering en vergewing. Dit beteken nie die einde van hul lewe nie, maar die begin van ’n nuwe lewe!
Jesus nooi sy teenstanders om deel van sy koninkryk te wees!

Toe mense Petrus hoor preek op die Pinksterdag, is hulle diep in hul hart getref, soos met ’n dolk (v. 36-38). Radeloos het hulle gevra: wat moet ons doen?’ Petrus se antwoord: Bekeer julle! Bekering is noodsaaklik om Christus se weldade, die vergewing en die vernuwing deur die Heilige Gees te ontvang.
God soek ’n gebroke hart en nie ’n trotse een nie.
Gebalde vuiste (verset) moet oop hande word.
Dan ontvang jy die redding van Christus.

Vergewing. Ons is gewoond aan die woord.
Dit is nie soos die motor wat voor ons garage geparkeer staan nie. Ag, ons is so daarmee vertroud is, ons klim in en ry daarmee rond, ons dink nie eers daaroor nie.
Sien jy raak hoe besonders vergewing is?
Dit is die eerste van die twee groot geskenke wat God in die nuwe verbond gee.

God gee vergewing van al jou sondes! 
Hy neem die las van jou skouers af.
Jesus maak die kloof wat jou sondes tussen jou en God geslaan het, toe met sy gehoorsaamheid.
Leef in díe verhouding wat God in liefde met jou gemaak het.

Amen

Liturgie: 

Psalm 43:2-3

Lees:
Matthéüs 26:27-28
Matthéüs 11:28-30
Handelinge 2:33-47

Psalm 89:1,2,17

Preek: Handelinge 2:38a

Skrifberyming 18:1,2,5-7

Geloofsbelydenis

Gebed;

Skrifberyming 24:3,6,7