Hoopvolle verwagting van Christus se oordeelsdag

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-08-15
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37
Preek Inhoud: 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37

 

Op ‘n vir skepsels onbekende tyd sal ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel terugkom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy self beloof het by sy hemelvaart (Hand 1:11).

Hierdie toekomsvooruitsig leef glad nie by baie mense op aarde nie.

Die naam van ons kerk getuig dat dit wel onder ons leef, altans behoort te leef:

Maranata! Kom, Here Jesus!

 

Hy sal kom as Regter oor lewendes en dooies.

Elke mens sal persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn ( 1 Tess 4:16).

Hoe sal ‘n mens hierdie toekomsvooruitsig beskryf?

Is dit optimisties? Of is dit doemdenke?

Hierdie ou wêreld sal aan vuur en vlam prysgegee word.

As mens dit hoor, hierdie sin uit artikel 37, klink dit nie baie positief nie.

Hierdie sin, wat amper 500 jaar gelede geskryf is, moet dit regtig nog ons toekomsprognose beheers?

Is hierdie nie maar net ‘n Middeleeuse idee, ‘n Middeleeuse wêreldbeeld, die feit dat die wêreld in vuur en vlam sal opgaan nie?

Is dit nie maar net ‘n bangmaakstorie uit die Middeleeue nie?

 

Tema: God se Woord roep ons op tot hoopvolle verwagting van Christus se oordeelsdag

 

Gemeente, soos ek al dikwels genoem het ten aansien van die Nederlandse Geloofsbelydenis, ontleen die skrywer, Guido de Brès, elke gedagte uit die Bybel.

Hy skryf nie sy eie mening op, ‘n mening wat dalk nog gekleur is deur die opvattings van die donker Middeleeue nie.

Dikwels neem hy Bybelse sinne woordeliks oor.

Dit geld ook vir hierdie sin, dat die ou wêreld aan vuur en vlam prysgegee sal word.

Ek dink dan aan die gedeelte wat ons uit die Bybel gelees het.

“Maar die teenswoordige hemele en die aarde ... word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” (2 Petr 3:7)

En 2 Petrus 3:10: “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”

Soos ek gesê het, hierdie is nie Middeleeuse doemdenke nie.

Die gedagte dat hierdie ou wêreld aan vuur en vlam prysgegee sal word, kom uit die Skrif.

Kom ons kyk daarom wat Christus hiermee in sy Woord bedoel.

Hierdie op eerste gesig baie somber vooruitsig op die toekoms, op dit wat op die jongste dag gaan gebeur, wat wil Christus ons daarmee leer?

 

Broer, suster, hoe kyk jy na die toekoms?

Is die wete dat Christus gaan terugkom, dat daar ‘n oordeelsdag gaan wees, vir jou net teoretiese kennis, terwyl vir elke dag se lewe jy nie daarmee rekening hou nie?

Is die wete dat Christus se wederkoms ‘n ingrypende, ja katastrofale gebeurtenis sal wees vir die huidige wêreldorde, het dit enige invloed op hoe jy leef, en watter besluite jy vir die toekoms neem?

 

Petrus maak gebruik van drie voorbeelde uit die Ou Testament om ons te waarsku.

Moenie dink God praat net, maar dat niks sal gebeur nie!

Die eerste voorbeeld wat hy noem is: Dink aan die engele wat gesondig het.

Hulle is nie deur God gespaar nie.

God het hulle nie net hulle gang laat gaan nie.

Die tweede voorbeeld: Dink aan hoe God die ou wêreld met die sondvloed gestraf het.

Net Noag en sewe ander is gered.

En die derde voorbeeld: Dink aan hoe God die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand het.

Hy het hulle tot ‘n voorbeeld gestel, vir almal wat in die toekoms hulle goddeloos sou gedra.

Hierdie drie voorbeelde uit die Ou Testament beklemtoon dat die bedreiging van oordeel nie net leë praatjies is nie!

As God waarsku dat iets gaan gebeur, gebeur daar daadwerklik iets in die toekoms!

 

Petrus, wat self Christus se heerlikheid aanskou het, besef des te meer wat ons te wagte staan by die wederkoms.

As Petrus in hoofstuk 1:16 skryf: Ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg, toe ons julle die koms van Christus bekend gemaak het nie, dan dui Petrus hier spesifiek op sy wederkoms!

Dit sal ‘n kragtige koms wees!

As jy dit besef, dat jy oog in oog te staan gaan kom met sy majesteit en heerlikheid, dan sal jy twee keer dink om nou in die hede oor te gaan tot ‘n wêreldse lewenstyl!

As sy wederkoms vir jou ‘n realiteit is, sal dit jou op die regte spoor hou.

 

In hoofstuk 3 skryf Petrus verder oor die realiteit van die wederkoms.

Petrus skenk aan die wederkoms aandag, omdat sommiges aan die belofte van die wederkoms begin twyfel het.

Petrus sien dit as sy taak, hy sal nie nalaat om hulle te herinner nie.

Dit is veral pastorale besorgheid wat hom hiertoe bring.

In hoofstuk 3 noem hy sy lesers vier keer ‘geliefdes’ – daaruit blyk sy pastorale bewoënheid.

Hy waarsku teen mense wat skepties geraak het.

Mense wat hulle afvra wat van God se belofte tereg gekom het.

‘n Belofte wat vir hulle irrelevant geraak het vir elke dag se lewe.

Petrus se antwoord is onomwonde.

God se belofte het nie vertraging opgeloop nie.

Maar God wag nog steeds vir mense om hulle te bekeer.

Dus, die belofte van Christus se wederkoms staan nog steeds.

 

Petrus wys die gemeentelede daarop dat die laaste fase van die geskiedenis begin het.

Wat Petrus hier skryf, stem ooreen met wat hy by sy leermeester, die Here Jesus, self geleer het.

Dink aan Christus se profetiese rede (Mattheüs 24-25).

Die feit dat spotters hulle opwagting gemaak het, is op sig ‘n teken van die tye.

Dit is ‘n bewys dat die geskiedenis in ‘n gevorderde stadium verkeer.

Kenmerkend vir ‘n spotter, as mens na die Ou Testament kyk, is naamlik dat hulle God se komende oordeel openlik in twyfel trek (vgl Jes 28:14-22; Jer 5:11-14; Mal 3:13-15 & 4:1).

Is daar spotters vandag?

Ken jy mense, by jou werk, in jou buurt, dalk selfs Christene, wat die gedagte van ‘n toekomstige oordeelsdag afmaak as ‘n blote bangmaakpraatjie?

 

In Petrus se dae was daar ook al sulke mense, selfs in die kerk.

Hulle het beweer: Alles bly maar net weer dieselfde soos van ouds.

Alles bly maar net soos dit was van die begin af.

Daar het nog niks op aarde verander nie.

Hulle het dus nie veel meer van God se ingrype verwag nie.

Hulle het hulle openlik afgevra of Christus nog wel sal terugkom ...

Dit was iets wat vir hulle irrelevant geraak het.

En, soos Calvyn dit noem, met hierdie ontwikkeling mik Satan vir die keel van die kerk.

Want as Satan dit regkry om die kerk se geloof in Christus se wederkoms weg neem, dan sny hy die kerk se keel af.

As die kerk nie meer die wederkoms verwag nie – Maranata! – as die belofte van die wederkoms irrelevant geraak het vir vandag se lewe – dan gaan die kerk tot niet.

Dan pas die kerk aan by die wêreld, wat nie meer bang is vir ‘n oordeelsdag nie.

 

Destyds is die profete van die Ou Testament ook al gekonfronteer met die feit dat mense nie meer bang was vir God se oordeel, vir die dag van die HERE, nie.

Petrus weerlê egter die lewenshouding van hierdie spotters, sien verse 5-7.

Willens en wetens gaan hulle aan die feite verby.

Want alles was nie altyd dieselfde nie.

 

Dink aan die sondvloed.

Van bo af en van onder op het God die aarde oorspoel met ongekende hoeveelhede water.

Die kosmiese skeidings tussen water en land het Hy opgehef, as uitvoering van sy oordeel.

En so het die toenmalige wêreld ten onder gegaan.

Dus laat dit duidelik wees – want dis wat Petrus wil sê – alles was nie altyd al dieselfde nie, en alles sal nie altyd dieselfde bly soos dit nou is nie.

Deur maar ‘n woord te spreek kan die HERE ook die teenswoordige wêreld op sy fondamente laat wankel!

God sal nie toelaat dat spotters die aarde vergoed in beslag neem nie.

Die huidige wêreld sal in vlamme opgaan.

By sy finale oordeel sal Hy die aarbodem suiwer van alle goddelose mense.

Dan sal Hy nuwe hemele en ‘n nuwe aarde te voorskyn roep, waarin geregtigheid sal woon.

Net soos die generasie voor die sondvloed blind was vir die naderende oordeel, so is die spotters dit nou ook.

Soos die water van die sondvloed die eerste wêreldperiode tot ‘n einde gebring het, so sal die vuur van die komende oordeel die huidige wêreldkonstellasie tot ‘n einde bring.

 

Juis daarom, skryf Petrus, moet die gelowiges nie dink dat God sy oordeel afgestel het nie.

Petrus verwys hier na Psalm 90: Duisend jaar is in God se oë soos die dag van gister, nie meer as ‘n nagwaak nie.

Duisend jaar soos een dag.

Een dag soos duisend jaar.

God se kalender lyk anders as die mense s’n.

Uit menslike oogpunt mag dit lyk of God dinge vertraag.

Maar in God se kalender is daar nie van vertraging sprake nie.

Hy wag geduldig op sy kinders, soos die vader op die verlore seun wat weggeloop het.

Hy het ‘n groot geduld.

Dit is ‘n karaktereienskap van die Ewige.

Gelukkig duur dit lank voordat sy toorn ontbrand (Ex 34:6).

Die feit dat die huidige wêreld vol goddelose mense nog bestaan, is slegs te danke aan sy geduld.

In sy geduld skep God ruimte in die tyd, waarin mense nog die geleentheid kry om hulle te bekeer.

In die dae van Noag het God ook ‘n geduldige houding aangeneem.

100 jaar voor die tyd het Hy hulle al gewaarsku.

Toe het mense ook gedink God se waarskuwing was irrelevant.

Maar uiteindelik was God se woorde wel bepalend, en hulle het dit agtergekom ook.

Wat dus uit menselike oogpunt op vertraging lyk, is in werklikheid ‘n bewys van Goddelike geduld met mense.

God se geduld is ‘n voortdurende appèl op mense.

Hy is lankmoedig en wil nie dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Hier is nie sprake, gemeente, van ‘n heilsuniversalisme nie.

Soos Calvyn dit verwoord, Petrus wys hier nie op God se verborge wil nie, maar op sy geopenbaarde wil.

Die Here se geduld bied alle mense die geleentheid tot omkeer.

God se geduld is egter nie eindeloos nie.

Van uitstel kom afstel.

Daarom, wees gewaarsku, die dag van die Here sal kom, soos ‘n dief in die nag.

 

En net soos die sondvloed die aarde se voorkoms permanent verander het, so sal dit ook op die jongste dag wees.

Hierdie dinge – word daar in vers 11 gesê – sal vergaan.

Hierdie dinge dui op die hele huidige opset van hemele en aarde.

Die aarde en hemele het met die sondvloed drasties verander, want vir sover ons kan nagaan, het die seisoene na die sondvloed ‘n werklikheid geword; die seisoene wat veroorsaak word deur die son en maan.

Die sondvloed het die aansien van die hemele en aarde ingrypend beïnvloed.

En so sal dit ook op die jongste dag wees.

As in vers 11 staan – hierdie dinge sal vergaan, kan mens ook vertaal, hierdie dinge sal verwoes word, of geruïneer word.

Petrus lê klem op die ingrypende, die katastrofale aard van wat gaan gebeur.

Juis om daardie mense skrik te maak, wat met die houding leef asof alles altyd dieselfde was en ook altyd dieselfde gaan bly.

Dink terug aan die sondvloed.

Dit was tereg katastrofaal.

Die koms van die dag van die Here gaan eweneens katastrofaal wees!

Vuur en vlamme wat hemelhoog gaan wees.

Die sterre sal ontwrig word, uit hulle bane raak, na benede dwarrel soos herfsblare.

 

Wat die aarde betref, herinner Petrus aan wat met Sodom en Gomorra gebeur het.

God se oordeel sal wees soos ‘n huis wat tot op die grond afbrand.

Dit moet daarna gesloop word, sodat daar iets nuuts gebou kan word.

Die mensdom se opstand teen God het dus buitengewone gevolge.

Om die aarde daarvan te suiwer, sal ‘n ingrypende proses wees.

Dit sal nog intenser wees as wanneer edelmetale gesmelt word.

Soos mens goud smelt om alles wat nie goud is nie, te verwyder.

Deur die groot hitte word die goud ‘n vloeistof en die vuiligheid wat bo kom dryf word afgeskep.

Maar die terme wat Petrus hier gebruik, is nog ingrypender.

Dis nog ingrypender as wanneer edelmetale gelouter word in die smeltoond

Dit laat mens terugdink aan die profesie van Maleagi, waar God se oordeel twee maal brand laat ontstaan.

Eers tref die vuur die priesters van die tempel om hulle te reinig sodat hulle weer in geregtigheid kan offer.

Vervolgens kom die tweede vuur wat alle goddeloses verteer.

Die vuur werk suiwerend, louterend in God se huis.

Maar na buite toe werk die vuur vernietigend.

Petrus maak duidelik dat ‘n wêreldwye brand nodig is om defnitief alle goddeloosheid te beëindig.

Die apostel kondig ‘n wêreldbrand aan wat alle goddeloosheid sal uitwis.

Dis die manier hoe God ruimte gaan skep vir ‘n nuwe begin, ‘n nuwe wêreld van geregtigheid.

Broer, suster, sien jy daarna uit?

 

Maar, benadruk Petrus, selfs as hemel en aarde wankel, bly God se belofte wel staan.

Dink aan hoe pragtig dit verwoord word in Hebreërs 12:

“Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want ons God is ‘n veterende vuur.” (vers 26-29)

Wêreldwye verwoesting maak plek vir ‘n nuwe begin.

Wat daar aan kontinuïteit is, kom van God af.

Ook wat God in jou lewe doen, wat Hy in jou lewe herstel deur Christus, die vernuwe werk van sy Gees, dit sal standhou!

God self sal vir kontinuïteit sorg, in jou en my lewe, in almal se lewens wat aan Christus behoort!

Die herskeppingswerk waarmee Christus al besig is, die vernuwing van die Heilige Gees, dit sal standhou.

Juis daarom lewe die gelowiges in blye verwagting, al hang die komende oordeel soos ‘n donker wolk aan die horison.

Die gelowiges verlang na die koms van God se dag.

Deur hulle Godvrugtige lewe bespoedig, verhaas hulle juis daardie dag.

Dit klink dalk teenstrydig.

Aan die een kant leer die Skrif dat daardie dag sal kom soos ‘n dief in die nag.

Kan gelowiges daardie dag dan bespoedig?

Gemeente, die Skrif openbaar dat God nie onverbiddelik is nie.

Hy luister na ons smeekbedes.

Hy is die God vir wie ‘n duisend jaar is soos ‘n dag, of omgekeerd.

Hy kan Hom laat verbid.

Die goddeloosheid en onreg op aarde tolereer Hy juis omdat Hy geduldig is en kans gee tot bekering.

 

Maar moenie die uitstel interpreteer as afstel nie.

Daardie dag sal kom, en dan sal ‘n volledig nuwe wêreldorde aanbreek.

Hemel en aarde sal opnuut ‘n onlosmaaklike geheel vorm, soos by die allereerste begin van die skepping.

Dit sal ons stoutste verwagtings oortref.

En die kenmerk van die nuwe hemel en nuwe aarde sal wees dat daarin geregtigheid sal woon.

Dit wat gelei het tot die sondvloed, dit wat gelei het tot die verwoesting van Sodom en Gomorra, naamlik die totale afwesigheid van geregtigheid, dit sal hierdie keer ook lei tot die groot oordeel.

En al wat staande sal bly tydens hierdie oordeel is God se eie werk.

Geen wêreldvernietiging, maar wêreldvernuwing is dan die verrassende ontknoping van die belofte.

 

Is Christus se wederkoms vir jou ‘n realiteit?

Is dit bepalend vir hoe jy lewe?

Verwag jy Christus?

Laat jy dit tot jou deurdring, dat sy wederkoms nie net onopvallend gaan wees nie?

Dit wat Petrus hier skryf, is nie vir misverstand vatbaar nie.

Dit gaan katastrofaal wees vir die huidige wêreldorde.

‘n Sondvloed van vuur.

Gebruik jou tydjie hier op aarde om vlekkloos en onberispelik te word.

Leef uit die genade, maak gebruik daarvan.

Want wie by Christus skuil, gaan nie net die vernietiging van die huidige wêreldorde meemaak nie.

Maar hulle gaan, net soos Noag deur die oordeel van die sondvloed heen, deur die oordeel van die vuurvloed heen gered word.

Hulle sal aanskouers word van ‘n herskape wêreld, wat uit die oordeel gebore sal word.

 

Dit sal gebeur!

Uit die as van die brand sal nuwe lewe voortkom.

Onlangs het ons op die Magaliesberg gaan stap.

‘n Groot deel van die berg hier bo die Moot het hierdie winter afgebrand.

Dit is nogal troosteloos om daardeur te stap.

Net swart, dooie graspolle, en swartgebrande bobbejaansterte.

Geen voëls of ander diere nie.

Soos wat jy stap raak jou skoene vuil van die roet.

Maar gelukkig gaan die berg nie so bly nie.

Dit weet ons seker.

Sodra die lentereëns geval het, sal groen grassprietjies hulle opwagting maak.

En die oorvloedige somerreëns sal die gras en alle bolplante, selfs die bome, weer heeltemal groen maak, laat groei en bloei.

Maar die onkruid sal nie weer opkom nie.

Dit was nie bestand teen die brand nie.

 

So mag ons juis uitsien na die oordeelsdag.

Al die dooies sal uit die aarde opstaan, soos die nuwe groen grassprietjies.

Die gelowiges sal in ‘n oogwink verander in onverganklikheid – onsterflikheid – soos Adam en Eva destyds geskape is voordat hulle in sonde geval het, voordat hulle sterflikheid oor die mensheid gebring het.

Die wêreld beskou die belofte van Christus se wederkoms as kinderspel, ‘n kinderlike sprokie, nie wetenskaplik waar nie.

Tog bly vir elke mens op aarde, ook hulle wat die wederkoms verwerp, tog bly vir hulle die blote gedagte van ‘n naderende oordeel skrikwekkend.

Sê nou maar dit is wel waar wat in die Bybel staan, dan wag daar ‘n huiweringwekkende oordeel op my!

Vir hulle wat aan Christus behoort, hulle staan egter deur sy genade aan die regte kant van die oordeel.

Hulle getuienis word in hierdie wêreld as ongeloofwaardig afgemaak, oudtyds, kinderagtig, fundamentalisties, noem maar op.

Maar op daardie dag sal hulle gerehabiliteer word.

Hulle sal met heerlikheid en eer gekroon word.

Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans as belaglik afgemaak word, die saak van die Seun van God is.

‘n Mens proe hoe Guido de Brès, wat hierdie artikel midde in ‘n groot vervolging geskryf het, uitgesien het na Christus se wederkoms.

Enkele jare later sou hy self vir sy geloof sterf.

Sy siel is egter veilig by Christus, en so ook vandag almal wat in Christus ontslaap.

En so het God deur sy Woord in hierdie erediens jou weer opgeroep tot hoopvolle verwagting van Christus se oordeelsdag.

Ons sing selfs daarvan, soos in hierdie diens.

Dit klink snaaks, om bly en hoopvol te sing oor ‘n oordeelsdag.

Maar dit is waar!

Met reikhalsende verlange sien die kerk op aarde en die kerk in die hemel uit na daardie dag!

 

Amen.

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking en oordenking:

 

  1. Die spotters waarna Petrus in 2 Petr 3:3 verwys, is hulle buite of binne die kerk, of altwee?
  2. Word daar in Kinderbybels oor die oordeelsdag geskryf? Kan jy nog onthou wanneer jy vir die eerste keer van die oordeelsdag gehoor het?
  3. Watter invloed het die oordeelsdag op jou lewe van vandag?
  4. Kan jy jouself indink dat die wêreld na die oordeelsdag nog mooier gaan wees as die paradys destyds?
  5. Hoe kan ons as Maranata-gemeente ons naam meer uitleef?
  6. Watter troos lê daarin dat Christus op die oordeelsdag sowel jou Regter as Middelaar sal wees?

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 14:5-7

Gebed

Skriflesing: 2 Petrus 3

Ps 9:5,8,10,12,13,14,15

Orde van behandeling: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37

Preek

Ps 75:2-6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 23:1-4

Kollekte

Ps 46:4,6

Seën