Die goue reël van Christus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-08-08
Text: 
Mattheus 7:1-12
Preek Inhoud: 

In ons tyd, veral as gevolg van die Corona pandemie, is daar baie komplotteorieë, samesweringsteorieë, wat die rondte doen.

Covid-19 en sy impak het baie komplotteorieë na beide kante toe welig laat begin opkom.

 

‘n Komplotteorie word meestal gedefinieer as ‘n teorie wat die heersende verklaring van ‘n gebeurtenis verwerp, en in plaas daarvan ‘n geheime groep of organisasie verantwoordelik hou vir die uitvoer van ‘n geheime komplot.

 

Deur die eeue het daar tallose komplotteorieë ontstaan.

Die vergassing van 6 miljoen Jode in Auschwitz is ‘n propagandaverhaal en het eintlik nooit plaasgevind nie.

Dit is ‘n mite ...

Dan is daar die bekende komplotteorie dat die ruimtevaarder Neil Armstrong en sy kollega nooit op die maan was nie, maar dat dit slegs nageboots is in Hollywood.

 

Ook op kleiner skaal kan daar komplotteorieë ontstaan.

Op skool kan daar oor ‘n kind geskinder word, dinge vertel word wat totaal onwaar is, waardeur al die ander kinders agterdogtig en vyandig kan raak teenoor so ‘n kind.

In die kerk kan ‘n komplotteorie ook die kop opsteek.

As byvoorbeeld beweer word dat iemand ‘n geheime agenda in ‘n sekere rigting dryf, sonder dat daar met daardie persoon gepraat word en die bewerings aan die feite getoets word.

 

Die oudste komplotteorie is ongetwyfeld dit wat die Satan in die paradys vir Eva gesê het (Gen 3:1-6), naamlik dat God nie vir hulle die waarheid vertel het nie, maar dat God verborge motiewe gehad het met die boom van kennis van goed en kwaad, naamlik dat God die mens wou kleinhou, onderworpe hou, terwyl die mens eintlik in staat was om self god te wees.

Dit was die slang se komplotteorie, bedoel om Eva oor te haal tot ‘n sekere daad.

 

En dan, die grootste komplotteorie van alle tye is seker dit wat ons in Mattheüs 28:11-15 lees.

Dat die owerpriesters aan die soldate wat by die graf waggehou het en Jesus se opstanding gesien het, baie geld gegee het om te sê:

Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.

Hierdie verhaal, lees ons dan, “is versprei onder die Jode, tot vandag toe.”

Hierdie voorbeeld wys vir ons welke ernstige gevolge ‘n komplotteorie kan hê.

Dit kan die verskil beteken tussen ewige lewe en ewige dood.

 

In ons teks ontvang ons in hierdie verband onmisbare onderwys van ons hoogste Leraar, Jesus Christus.

Die goue reël, soos dit bekend geword het, is seker die beste medisyne teen komplotteorieë.

 

Tema: Die goue reël van Christus

1 Moenie oordeel nie

2 Wees nederig en barmhartig

 

1 Moenie oordeel nie

In vers 1 waarsku Christus ons om nie te oordeel nie.

Met hierdie vers bedoel Christus nie dat daar geen regters mag wees nie.

Hierdie vers beteken ook nie dat ons geen enkele afkeuring mag uitspreek oor die verkeerde wat op aarde gebeur nie.

Daar is norme en waardes, soos die Skrif openbaar, waarvolgens ons goed en kwaad moet onderskei.

En daar is ‘n oordeel op koms.

Hierdie wêreld sal geoordeel word.

Maar, en dit is waarvoor Jesus ons hier waarsku:

Wie vrees vir die oordeel, moet self nie oordeel nie.

Nie omdat oordeel verkeerd is nie, maar omdat ons self ook aan die verkeerde kant van die oordeel staan.

Ons is ook sleg.

Met oordeel bedoel Jesus hier spesifiek om veroordelend te wees teenoor jou naaste.

Is dit nie waarin ons almal baie goed is nie?

Ons is so vinnig geneig om ons naaste te veroordeel.

En ja, in hierdie slegte wêreld is daar genoeg om kritiek op te hê.

Maar nietemin, leer Jesus, moet ons baie versigtig wees om te veroordeel.

En dit omdat ons self ook in God se oë verwerplik is, omdat ons self ook onder sy oordeel staan.

 

Vers 2 openbaar die konsekwensie van ‘n veroordelende houding.

As julle oordeel, sal julle ook geoordeel word.

Die strafmaat wat jy op ander toepas, sal ook op jou toegepas word.

Die norm wat ons aanlê om ons naaste te evalueer, met dieselfde norm sal God ons oordeel.

En daarom, dit is die implikasie van Jesus se woorde: Dit is verstandiger om nie jou naaste te oordeel nie.

Jy kan eerder moeite doen om die vonnis wat bo jou eie kop hang, af te weer.

Soos daar in Jakobus staan: “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie” (Jak 2:13).

 

In verse 3-5 gaan Jesus met dieselfde onderwerp verder.

Waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

Splinter en balk dui op iets wat verkeerd is.

Dus, as jy dit nodig vind om jou broeder êrens op te wys, moet jy dit nie doen met ‘n veroordelende houding nie, maar met ‘n hart vol genade, met die besef dat jy niks beter is nie.

Jy sal eers werklik jou naaste kan help om die splinter uit sy oog te kry, as die balk uit jou eie oog is.

Die balk dui veral daarop dat jy jou vir jou broeder vererg.

As daardie balk van ergernis uit jou oog uit is, kan jy met nederige en liefdevolle oë kyk, en dan kan jy baie beter fokus om jou naaste met sy splinter te help.

Eie sondebesef maak ‘n mens barmhartig.

 

Dan in vers 6 praat Jesus oor honde en varke.

As mens hierdie gedeelte vinnig deurlees, mag dit lyk asof Jesus nou op ‘n nuwe onderwerp oorgaan.

As Hy verskillende uitsprake maak wat nie veel met mekaar te make het nie.

Maar dit is nie so nie.

Ook in vers 6 gaan dit nog oor presies dieselfde tema, naamlik Jesus se onderrig oor nederigheid, ootmoed, en dat ons nie moet oordeel nie.

Ons lees: Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie.

Met die woord heilig verwys Jesus hier na die offergawe wat deur die priesters by die tempel geheilig is, aan God toegewy is.

Die mense het die beste van hulle vee gebring, wat geoffer is.

Daardie beste vleis is aan die Here gewy.

Maar, sê Jesus, daardie vleis gooi jy nie vir die honde nie.

Honde was in daardie tyd nie troeteldiere nie, maar aaseters wat deur die strate geswerf het.

‘n Groot kontras.

Honde is veronderstel om die slegste vleis te kry, nie die beste nie.

En dan tweedens sê Jesus: Gooi julle pêrels nie voor die varke nie.

Weer ‘n groot kontras.

As daar een wese is wat nie die skoonheid van ‘n pêrel sal kan waardeer nie, is dit ‘n vuil en dom vark.

Al wat hulle daarmee sal doen, is om daarop te trap, dit te vertrap.

En dan staan daar nog in vers 6 ten slotte: en omdraai en julle verskeur nie.

Nou hierdie verskeur dui nie op die varke dat hulle dit sal doen nie.

Dit dui op die honde.

Ons het hier met ‘n Griekse stylfiguur te make, wat ‘n chiasme genoem word.

Die woord chiasme dui op die Griekse letter chi, wat lyk soos ‘n X.

Die eerste deel van die sin – wat handel oor die honde – moet verbind word met die laaste deel van die sin – die deel oor verskeur.

En die middelste twee sinsdele moet aan mekaar verbind word – dit handel oor die varke.

In elk geval, die betekenis is dan: As jy die beste vleis vir ‘n trop straathonde gooi, gaan hulle nog soek.

Daarmee wek jy net hulle aptyd na meer.

Hulle sal omdraai en jou kom verskeur.

 

Kom ons kyk nou wat Jesus met hierdie beeldspraak bedoel.

Om die beste vleis vir straathonde te gooi, om pêrels vir varke te gooi, is handelinge wat sal boomerang.

Dit sal teen jou keer.

Dit sal jou benadeel.

Die honde gaan nog meer soek, hulle sal jou selfs kom verskeur.

En as jy jou pêrels vir die varke gooi, gaan hulle dit nie oppas nie, hulle sal dit vertrap.

Jy sal jou kosbare pêrels verloor.

Nou, dieselfde geld vir as jy jou naaste veroordeel.

Dit sal ook boomerang.

Dit is iets wat net tot jou eie nadeel sal lei, tot jou eie veroordeling.

Met die streng maat waarmee jy jou naaste oordeel, daarmee sal jy self geoordeel word.

Dus, waarsku Jesus, pasop!

 

Soos ek genoem het, die oordeel op sigself is nie verkeerd nie.

Die oordeel is reg, dit is ‘n deug, dit is soos pêrels en die beste vleis.

Maar hou die pêrels liewers vir jouself.

Hou dit wat geheilig is, heilig.

Pas die oordeel liewers op jouself toe.

Daarby vind jy veel meer baat as om jou naaste te oordeel.

Dus weer eens, en dit was die boodskap van die eerste punt: Moenie oordeel nie.

 

2 Wees nederig en barmhartig

 

Gemeente, waar Jesus se onderrig van vers 1-6 veral in negatiewe vorm was – waarskuwings, nou vanaf vers 7 skakel Jesus oor na die positiewe – Hy gee aanmoedigings.

Moenie oordeel nie, maar bid.

Vra, soek, klop!

Ja, ek en jy staan onder die oordeel.

Maar daar is uitkomkans.

Julle Vader in die hemel gee goeie dinge aan die wat dit van Hom vra!

As selfs ‘n aardse vader, wat sondig is, goeie gawes aan sy seun sal gee, hoeveel te meer nie julle hemelse Vader nie.

Gemeente, is dit nie so nie?

Ouers is meestal minder krities op hulle eie kinders as op ander mense.

Van jou eie kinders kan jy baie meer verdra as van ander mense.

Ouers is huiwerig om hulle eie kinders te veroordeel.

Ouers soek die beste vir hulle kinders, en hulle ongeregtighede is ouers al gou geneig om met die mantel van die liefde te bedek.

Nou as dit die geval is by sondige ouers, hoeveel te meer nie by julle hemelse Vader nie!

As ons hemelse Vader aan ons, slegte mense, goeie gawes gee, laat ons ook bereid wees om dit aan mekaar te gee.

 

So ja, ons staan onder die oordeel.

Maar wie vra, wie soek, wie klop, sal verhoring vind.

Die Vader sal ‘n plan maak om die oordeel af te wend.

En soos ons weet, in sy onbegryplike genade het Hy sy eie geliefde Seun gestuur om die oordeel af te wend, om die oordeel op sy skouers te laai!

 

Ons teks sluit af met wat bekend geword het as die goue reël.

Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.

Die eerste verse van ons teks – vers 1 en 2 – en die laaste vers – vers 7 – vorm mekaar se spieëlbeeld.

Dieselfde boodskap staan in vers 1 en 2 in negatiewe vorm, en in vers 7 is dit ‘n positiewe opdrag, ‘n aanmoediging.

Hierdie opdrag laat ons dink aan die gebooie.

As jy nie wil hê ander moet by jou steel nie, moenie self steel nie.

As jy wil hê ander moet jou goed oppas, wees ook versigtig met ander se goed.

As jy nie wil hê ander moet owerspel pleeg nie, moenie dit self doen nie.

As jy nie wil hê ander moet jou haat nie, moenie dit self doen nie.

As jy nie wil hê ander moet oor jou skinder nie, moenie dit self doen nie.

As jy wil hê ander moet jou naam en reputasie hooghou, doen dit self ook met ander.

 

Gemeente, dink net hoe sou die wêreld gelyk het as almal hulle aan hierdie goue reël van Christus gehou het.

Hierdie kort opdrag is in wese die oplossing vir alle haat en nyd, alle agterdog en onmin, alle oorlog op aarde.

Hierdie goue reël lê veranker in die liefdesgebod, die samevatting van die wet.

“Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Matt 22:37-40)

Dieselfde woorde gebruik Jesus in ons teks: “want dit is die wet en die profete”.

Die goue reël is dus die samevatting van die hele wet en die profete – dit was in Jesus se tyd die aanduiding van die Ou Testament.

Christus het nie gekom om die wet en die profete te ontbind nie, maar te vervul.

Die goue reël is daarom die vervulling van die wet.

 

Die goue reël druis volledig teen ons sondige geaardheid in.

Hoe maklik is dit nie om onreg raak te sien, en dit uit te skreeu, as dit teen ons gedoen word nie.

Maar hoe moeilik erken ons nie as ons teen ‘n ander onreg gedoen het nie.

Voorbeelde genoeg, by elke mens, by elke gesin, in elke land, oor die hele wêreld.

Maar deur die krag van die Gees van Christus kry ons die vermoë om steeds meer volgens die goue reël te leef.

 

Gemeente, ek het die preek begin deur te wys op al die komplotteorieë, samesweringsteorieë, wat deesdae die rondte doen.

Veral in hierdie tyd van die Covid-19 pandemie is daar uiteenlopende teorieë.

Ook in ons gemeente is daar uiteenlopende opinies, hoe hierdie pandemie gehanteer moet word.

Het die owerheid goeie bedoelings met al die inperkingsmaatreëls, of het die owerheid ‘n verskuilde agenda daarmee?

Word die erns van Covid-19 oordryf deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie?

Is dit eintlik maar net nog ‘n griepvirus?

Werk die inentings?

Beskerm dit teen ernstige siekte en dood?

Of is dit ‘n wêreldwye plan van groot farmaseutiese besighede om baie geld te maak?

Is dit dalk selfs so dat die inenting gevaarlik is, self siekte veroorsaak?

Is dit dalk so dat die inentings onvrugbaar maak, as deel van ‘n komplot van mense soos Bill Gates om die wêreldbevolking te verminder?

Of nog erger, is daar dalk microchips in die inentings, bestuur deur ‘n klein groepie invloedryke mense, die sogenaamde illuminati, en bedoel om die hele wêreldbevolking dop te hou en onbewus te beïnvloed?

 

Gemeente, wat is waar en wat is onwaar in hierdie pandemietyd??

Vir ‘n groot deel tas ons nog in die duister, omdat alles rond hierdie virus nog so jonk en onbekend is.

Wat egter wel duidelik is, as mens die media volg, Internet, Youtube, Twitter, Facebook en dies meer, is dat die goue reël van Christus so dikwels totaal geïgnoreer word.

Daar word oor ander mense gepraat, daar word verregaande beskuldigings geuit, sonder dat mense met mekaar in gesprek gaan.

Ja, ons verkeer tans in ‘n onduidelike situasie, en debat en diskussie is noodsaaklik.

Die goue reël behels egter dat mens ‘n ander se standpunt so gunstig moontlik moet weergee, al stem jy nie met hom saam nie.

In die Bergrede het Jesus ook gesê: “Julle moet jul vyande liefhê ... want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? ... En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan?” (Matt 5:44-47)

Dit is bekend oor een van die heidense Romeinse keisers, in die tyd van die vroeë kerk, dat hy hoë agting gehad het vir die goue reël van Christus (Marcus Aurelius Severus Alexander (1 Oktober 208 – 19/22 Maart 235).

Hy het dit selfs laat skryf op die muur van sy binnekamer.

En hy het die Christene in sy ryk hiervoor geprys.

 

Broers en susters, laat ons so ‘n lig wees in ‘n donker wêreld, juis deur self die goue reël uit te leef.

Laat ons ook hulle met wie ons nie saamstem nie, se standpunte eerlik weergee.

Dis maklik om teen ‘n karikatuur te veg.

Dit vra meer om jou ook in ‘n ander se skoene te verplaas.

Dit sal voorkom dat die ander se foute uiteindelik in ons opinie ‘n balk in hulle oog word, terwyl ons dink dat ons self nie eers ‘n splinter het nie.

 

Die kernwoorde waarmee ons ons teks kan saamvat is: nederigheid, ootmoed, barmhartigheid.

Laat ons nederig en barmhartig wees.

Laat dit ook ons spreke kenmerk wat betref hierdie virus wat die mensheid so onkant gevang het.

Net die tyd sal leer – waarskynlik – wat die langtermyn effekte van die virus gaan wees, asook alle behandelings wat voorgestel word.

Wees nederig.

Ons is maar mense.

Ons begrip is beperk.

Boonop is ons sondig, en so gou geneig om ander te oordeel.

Om swaar oor ander te oordeel, en lig oor onsself.

Laat ons besef: Die maat waarmee jy meet, daarmee sal jy gemeet word.

Moet liewers nie ander veroordeel nie, oordeel jouself.

Onthou: Elkeen van ons staan onder God se oordeel.

 

Maar danksy Christus is daar genade.

Genade vir jouself, maar ook vir die ander.

Daarom, gemeente, as ons die goue reël nakom, sal hierdie pandemie geen blywende onenigheid, geen verwydering tussen ons veroorsaak nie.

As elkeen in die wêreld Christus se goue reël nastreef, sal alle komplotteorieë verdwyn.

Nie net dit nie, ook alle haat, nyd, oorloë, manipulasie, uitbuiting, woekerwins, noem maar op, dit alles sal verdwyn.

Die goue reël is die voorbode van die herskepping, van Christus se volmaakte koninkryk, wat op koms is.

Met val en opstaan, en bemagtig deur Christus se Gees, mag en moet ons al in hierdie wêreld ligdraers wees, in die toepas van hierdie goue reël.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 145:1,2

Wet

Ps 40:6

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 7

Ps 112:1,4

Skriflesing: Lukas 6:27-38

Sb 16:1-3

Teks: Mattheüs 7:1-12

Preek

Sb 16:5-7

Gebed

Kollekte

Ps 145:5,8,10

Seën