Dit is God se werk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-06-20
Text: 
Hebreers 13:20-21
Preek Inhoud: 

Preek: Hebreërs 13:20-21

 

Die nagmaalsformulier eindig met ‘n sogenaamde lofverheffing.

Loflied sou mens ook kon sê.

Vanaand se formulier haal Psalm 103 hiervoor aan.

Daarna word nog enkele woorde daaraan toegevoeg, ‘n kort paragraaf van verwondering oor wat God vir ons gedoen het.

“Hy het ons so liefgehad dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het en ons alle genadiglik met Hom skenk ...”

Uit ons teks spreek primêr ook verwondering oor wat God gedoen het.

En so mag ons hierdie Sondag afsluit, vol verwondering vir wat God gedoen het.

Daarom het ek as tema vir vanaand se preek gekies:

 

Tema: Dit is God se werk

 

Ons teks vorm die laaste verse van die Hebreërboek.

Die boek, wat eintlik ‘n uitgebreide bief is, sluit af met ‘n bede, ‘n gebed tot God vir hulle aan wie die brief geskryf is, en dan eindig die boek met die woord “Amen”.

Tussen hakies, die laaste 4 verse van hoofstuk 13 is eintlik ‘n naskrif.

Net soos iemand ‘n brief in ‘n koevert sit en dit toeplak, maar dan skiet hom nog iets te binne, wat hy sommer op die buitekant van die koevert skryf.

Dit was gebruiklik dat die apostel ‘n skrywer gebruik het om sy brief neer te skryf, dat hy die woorde aan hom gedikteer het.

Maar aan die einde het die apostel dan nog enkele opmerkings in sy eie handskrif geskrywe.

Dink byvoorbeeld aan die einde van Paulus se twee brief aan die Thessalonisense:

“Die groete van Paulus, met my eie hand, wat 'n teken is in elke brief; so skryf ek.” (3:17)

Dit is waarskynlik wat ook hier aan die einde van die Hebreërbrief gebeur het.

Verse 22-25 is ’n paar laaste woorde van die apostel.

 

Ons teks, die formele afsluiting van die Hebreërboek, eindig met ‘n indrukwekkende, ‘n heerlike bede.

‘n Bede wat ook baie gepas is om hierdie Nagmaalsondag mee af te sluit.

Dit was ‘n ryke dag, ‘n feesmaal mog ons geniet.

En ons teks herinner ons met watter rykdom ons die lewe weer tegemoet kan gaan, in die week wat wag, en vir die toekoms.

Dit is gepas om na die nagmaalsviering nog tevrede en dankbaar na te dink oor hoe ryk ons in Jesus Christus is, die Gasheer.

 

In ons teks word Christus die groot Herder van die skape genoem.

Ons is deel van sy kudde, die verbondsgemeenskap.

En die skape wat die Vader aan Hom toevertrou het om hulle te red, die sal Hy red.

Met sy eie bloed het Hy daarvoor gesorg dat die verbond ewig is.

Die woord testament in ons teks kan ook met verbond vertaal word.

Die verbond wat verbreek is deur die mens se opstand, ons verbroke verhouding met God, die het Hy met sy bloed herstel.

Sy bloed is waarborg dat die verbond nou ewig sal wees.

Dit in teenstelling tot die verbond met Israel, die ou bedeling, wat nou tot ‘n einde gekom het, soos dit uitvoerig in hierdie brief verduidelik is.

Daardie ou verbond is ook met bloed gesluit – dierebloed – in Abraham se tyd (Gen 15).

Maar daardie verbond in daardie vorm met die volk Israel alleen het nou ten einde gekom.

Deur Christus is daardie verbond vernuwe, verbreed, en ewig gemaak.

Hierdie nuwe verbond sal nie meer verbreek word om plek te maak vir iets anders nie.

Tot op die jongste dag sal daar nou ‘n kerk van Christus wees.

Christus se bloed, sy versoeningsoffer aan die kruis, is sterk genoeg, waarborg genoeg, om hierdie verbond te dra tot die einde toe.

Telkens as ons hierdie verbond van ons kant verbreek, is daar die bloed van Christus, waarop ons nederig en skuldbewus ‘n beroep kan doen, en so na ons God kan terugkeer.

 

Vandag se nagmaalsviering was in hierdie lig dan ook ‘n verbondsvernuwing.

Ons het al ons sondes bely – dink spesifiek aan die nagmaalsformulier.

Ons het belowe om ons sondes agter ons te laat.

Christus het toe aan tafel sy liggaam en bloed geskenk.

Daarmee is die verbond herstel.

Vandag mag ons die kerk weer verlaat met die troos dat die verbond herstel is, dat dit funksioneer, dat God vanuit die hemel vriendelik na ons kyk.

Wat ‘n heerlike wete!

 

Dan begin die eintlike bede in vers 21.

Vers 20 gee die agtergrond, ‘n kernagtige opsomming van die hele Hebreërbrief.

Dit wat God in Jesus Christus gedoen het, waardeur ons in so ‘n bevoorregte posisie geplaas is.

Teen hierdie so inspirerende agtergrond volg dan die bede dat die hoorders toegerus mag word in elke goeie werk.

In ons vertaling staan daar: dat God julle sal volmaak in elke goeie werk.

Die woord ‘volmaak’ funksioneer hier as ‘n werkwoord.

Maar mens kan dit ook vertaal met woorde soos toerus, reghelp, of voltooi (sien o.a. Gal 6:1, 1 Thess 3:10).

En wat so mooi is in die teks, is dat hierdie bede nie ‘n leë bede is, ‘n wens waarvan ons onsself afvra waar ons die krag daarvoor vandaan sal kry nie.

Nee, die skrywer vra dat God julle sal toerus.

Daardie God wat sy Seun as die groot Herder gestuur het, om die verbond, ons band met God, vir ewig moontlik te maak, vir ewig te waarborg.

Wel, as hierdie God dit gedoen het, is die bede dat ons toegerus mag word, nie ‘n leë bede nie!

Ons weet waar om die krag vandaan te haal!

As ons in die week wat kom opgeroep word tot elke goeie werk, om sy wil te doen, om in ons werk, ons dagtaak, dit te doen wat welbehaaglik is voor Hom, dan weet ons hoe om die reg te kry.

Soos ons teks beklemtoon: deur Jesus Christus.

Elke dag van die week, broer en suster, kyk op na die hemelse troon, kyk op na jou Here Jesus Christus, Hy wat die Gasheer vandag aan die nagmaal was.

Kry elke dag die krag wat God verleen in sy Seun.

Dit is nie sommer ‘n krag nie.

Dit is nie soos ‘n battery wat na ‘n rukkie pap raak nie.

Dis nie soos elektrisiteit wat soms werk, en soms nie werk nie.

Dis nie soos die son, wat in die somer kragtig is, maar in die winter maar yl is nie.

Hierdie krag van God, sê ons teks, is die krag wat die Here Jesus uit die dood teruggebring het.

Vandag geld nog steeds, net soos vroeër, dat die grootste krag op aarde sal wees om ‘n dooie mens weer lewendig te maak.

Geen dokter, geen wetenskaplike het dit al reggekry nie.

Dit is God se krag wat Hy in sy Seun se opstanding gedemonstreer het.

En daardie krag werk ook in jou en my.

Die vrug van die nagmaalsviering en die Woordbediening is dat daardie krag aktief raak in jou lewe.

Soos Christus opgestaan het uit die dood, so begin jy ook nou al op te staan in ‘n nuwe lewe.

‘n Lewe waaroor die glans van die nuwe aarde reeds straal, waar daar geen dood meer sal wees nie.

‘n Krag wat jou nie sal verlaat die dag as jy sterf nie.

‘n Krag wat jou direk by jou Heiland sal bring die dag as jy sterf.

‘n Krag wat jou liggaam sal opwek op die jongste dag.

 

Dit is daardie selfde krag wat hierdie week met jou gaan, jou in staat stel en toerus tot elke goeie werk, tot die doen van sy wil, deur so te lewe dat jy welbehaaglik is vir God, dat jou lewe nie as ‘n stank nie, maar as ‘n lieflike geur tot by God se troon opstyg.

Welbehaaglik voor Hom, dit is om gehoorsaam te wees aan God se wil.

Die toerusting, die Goddelike krag wat ons ontvang, is nie om ons eie wil te doen nie.

God gee die krag, en Hy bepaal ook wat dit moet uitwerk in ons lewens.

Naamlik ‘n lus en liefde tot elke goeie werk, die doen van sy wil, te doen wat welbehaaglik is vir Hom.

Onthou, die toegang tot die allerheiligste van die nuwe verbond, dit is tot die hemelse troon, het Christus vir ons verdien nie as ‘n eindstasie nie, maar as die begin van die ware lewe.

Soos Hy na die aarde gekom het om die Vader se wil te doen, “Kyk, ek kom ... om u wil te doen, o God” (Hebr 10:7), so trek Christus ons agter Hom aan, dat ons nou ook die Vader se wil doen.

“Dáár is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.” (Mark 3:35)

Soos Epafras destyds vir die Kolossense gebid het, so bid ek vanaand vir julle, gemeente, ja ek stry vir julle in my gebede: “dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God.” (Kol 4:12)

En om waarlik sy wil te doen, is om te glo dat God dit in jou sal werk!

Ons werk is eers goed genoeg as dit sy werk is.

Ons kan slegs aanneemlik voor God wees, as Hy dit eers moontlik maak.

En Hy het!

Wat ‘n wonder van genade, in ons so swak en onrein!

 

Met krag van bo word ons lewe voortaan gebou, geheilig, toegewy.

En nie net hierdie week nie, maar dat ons volhou tot die einde.

Elke dag mag jy weer met verwondering en aanbidding jou redding en jou krag, jou toerusting, jou heiligmaking, vind by daardie God wat alles doen, wat alles gedoen het en alles sal doen.

Volharding, uithou tot die einde, is nie ons prestasie nie, maar ‘n vrug van hierdie krag, ‘n gawe van die Gees.

Onthou, Hy is die God van vrede, soos ons teks sê.

Daardie God in die hemel is nie jou vyand nie.

In Christus is Hy jou goedgesind.

Jy mag in ‘n staat van vrede met Hom lewe.

 

Broer, suster, moenie twyfel aan wat God doen nie.

Oordink elke ding wat hierdie God vir ons gedoen het in Christus.

Aanbid Hom wat dit gedoen het.

Dit is die doel van die Hebreërbrief:

Dat ons God ken, dat ons direk tot Hom nader danksy Christus se bloed, dat ons Hom vertrou om ons te kan toerus en volmaak voor Hom te stel, dat Hy in ons kan werk wat Hom welbehaaglik is.

O Here God, leer my om U reg te ken as die God, wat Christus die volmaakte lewe teruggegee het, en wat my ook net so die volmaakte lewe kan en sal gee.

 

Ons teks sluit af met ‘n lofprysing, ‘n doksologie.

Aan Jesus Christus kom toe die heerlikheid tot in alle ewigheid!

Na so ‘n inhoudryke, so ‘n indrukwekkende, so ‘n oortuigende brief, is hierdie woorde uit die hart gegrepe.

Wat Jesus Christus as ewiglewende Hoëpriester reggekry het, laat ‘n mens vanself oorgaan tot ‘n loflied.

Hy wat so swaargekry het, gely het, verneder is, gemartel is, begrawe is, Hy het in heerlikheid opgestaan.

Hy het die heerlikheid van die hemelse troon verwerf.

Ja aan Hom kom toe die heerlikheid tot in alle ewigheid.

Dit is die doel van ons lewe.

Die hoogste doel.

Ons lewe om te loof.

“Daarom sal ek met hart en mond die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid.”

Mag hierdie lofverheffing, mag hierdie loflied op sy heerlikheid op jou lippe wees as jy vanaand huis toe gaan, mag dit deur jou are stroom in die week wat kom, mag dit jou gedagtes aanstuur, jou besluite bepaal, jou gevoel tot rus bring, en dankbaarheid in jou laat opwel.

Amen.

 

Voedingsriglyne:

Om hierdie preek te verwerk en uit elke aspek daarvan te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike deurdenking en meditasie.

  1. Die teks is een lang sin. Wie is die onderwerp daarvan?
  2. Mense van vandag verstaan nie altyd meer nie hoekom daar bloed moes gevloei het om mense weer met God te versoen. Hoe sal jy dit aan hulle verduidelik?
  3. Ons het die gewoonte om die week voor die nagmaal as die week van voorbereiding te beskou. Wat sou gepas wees om te doen in die week na die nagmaalsviering?
  4. Probeer aan jou kinders, kleinkinders of onkerklikes verduidelik wat die woord welbehaaglik beteken.
  5. Ervaar jy dat jy ‘n skaap is en Jesus Christus jou groot Herder?
  6. Ons lewe nog in dieselfde verbond as wat God met Abraham gesluit het. In watter opsig het hierdie verbond beter geword, toe Christus dit herstel en vernuwe het?

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 138:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing) 

Nagmaalsviering

          Skriflesing: Hebreërs 10:1-23 & 13:20-25

          Ps 103:3,6,9

Lofverheffing & Gebed

Teks: Hebreërs 13:20-21

Preek

Ps 40:3,4,5

Gebed

Kollekte

Ps 138:3,4

Seën