Israel se hoerery en die Here se trou

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-06-06
Text: 
Hosea 1-3
Reference: 
Profete-Projek 7
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Huweliksprobleme - die gelowiges spring hulle nie vry nie. Ook hier in die gemeente ervaar ons dit pynlik-eerstehands. Soms kry ons te make met huwelike wat eenvoudig oor jare heen verbrokkel het; ander kere word ons gekonfronteer met owerspel, selfs herhaaldelike owerspel. Wat die geval ook al mag wees, huweliksmoeites laat gemeentelede, ouderlinge, kerkrade opnuut worstel met vrae soos: Mag die Christen skei? En in watter gevalle mag die Christen skei? En as die Christen mág skei, móét hy/sy dan ook skei? En wat van hertrou - as ek geskei is, mag ek dan weer trou? En onder watter omstandighede presies? En mag ek trou met iemand wat geskei is? Moeilike vrae. En tipies die mense wat ons deurgaans is - ons wil graag klinkklare riglyne hê sodat ons hierdie vrae met 'n duidelike ja of nee kan beantwoord. Maar die praktyk is helaas soveel weerbarstiger as ons klinkklare riglyne. En daarom staan ons dikwels verleë wanneer moeilike huweliksprobleme hulle aan ons voordoen. En laat ons dit maar eerlik vir mekaar sê: ons weet nie altyd hoe om hierdie soort situasies te hanteer nie.

Nou, die doel van vandag se preek is nie om antwoorde op hierdie vrae te gee nie (hoewel ons Skrifgedeelte vir seker die basis bied vir die soort antwoorde wat ons behoort te gee). Maar nee, in plaas daarvan om antwoorde te gee, bring vandag se Skrifgedeelte ons eerder in die nabyheid - in die sfeer - van die Allerhoogste ... en dáár sien ons hoe Hy met sy volk omgaan. "Jou Maker is jou Man", sê Jesaja in hoofstuk 54. Dit is Wie die Here vir sy volk is! En "soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees", vervolg Jesaja in hoofstuk 62:5. Dit is hoe die Here oor sy volk voel! En hoe die Here met sy volk omgaan, is 'n voorbeeld vir ons wanneer Paulus ons leer: "Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het" (Ef. 5:25). "Hierdie verborgenheid", sê hy enkele verse later (hierdie geheim van die verhouding tussen man en vrou in die huwelik), "is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente" (Ef. 5:32). En hierdie geheim vind uiteindelik sy hoogtepunt in Openbaring wanneer die heilige stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel neerdaal, toebereid soos 'n bruid wat vir haar man versier is (Op. 21) - en die bruilof van die Lam aanbreek (Op. 19:7)!

 

Regdeur die Bybel, dus, sien ons dat die Here se verhouding met sy volk vergelyk word met die verhouding tussen 'n man en 'n vrou, en dat die verbond vergelyk word met 'n huwelik. Pragtig - daar is min beelde wat so tot ons harte spreek as die beeld van die huwelik! Maar... daar is ook min beelde wat ons harte so seer kan maak as hierdie einste beeld - dalk omdat jy verlang na 'n huwelik maar dit nooit van die Here gekry het; dalk - en erger nog - omdat jy in 'n huwelik is of was, en daar op jou hart getrap is. Wonderlik mooi en bitterlik seer - die huwelik roep uiterste emosies op waarmee almal van ons, op die een of ander manier, kan assosieer. Dit is hierdie einste emosies wat ons vandag in die profesie van Hosea, die derde van die sogenaamde Skrifprofete, teëkom. Om u iets van hierdie emosies te laat proe, gaan ons nou eers saam die eerste drie hoofstukke van hierdie profesie lees. In hierdie drie hoofstukke word, deur middel van 'n (ware) verhaal oor 'n huwelik, die belangrikste temas van die boek Hosea aan ons bekendgestel. En hierdie temas word dan in die res van die boek (hoofstukke 4-14) in meer diepte uitgewerk.

[lees Hosea 1-3; sing Ps. 78:1, 4, 20]

 

Wat 'n emosionele huwelikslewe moes Hosea nie gehad het nie! Eers die swaar opdrag: "Gaan trou met 'n hoervrou..." (Hos. 1:2; net as verduideliking vir ons jonger kinders wat dalk nie weet nie: 'n hoer is 'n persoon, meestal 'n vrou, wat haar liggaam aan mans verkoop; hulle moet betaal, en dan mag hulle seksuele omgang met haar hê; ons noem so 'n persoon ook 'n prostituut; hoer / prostituut - dit is woorde wat ons mag gebruik, maar tog baie versigtig, ons kan nie sommer enige iemand 'n hoer of 'n prostituut noem nie). Nou goed, Hosea kry die opdrag om met so 'n vrou te trou. Dink jouself dit in? Maar Hosea is gehoorsaam: hy neem Gomer as sy vrou. Vervolgens word daar drie kinders uit die huwelik gebore: Jisreël, Lo-Rugama, en Lo-Ammi - name wat Hosea en Gomer nie self uitgedink het nie, maar wat deur die Hére gegee word, name wat een-vir-een ondergang en verwerping aandui (Hos. 1:4, 6, 9). Maar uiteindelik hou Hosea en Gomer se huwelik dit nie - Gomer verlaat haar man en haar kinders, en val terug in haar ou lewe van hoerery. En dan - ná 'n sekere tyd, ons weet nie hoe lank nie - kry Hosea die byna ondenkbare opdrag: hy moet die vrou vir wie hy lief is, maar wat teruggeval het in owerspel, gaan terugkoop (Hos. 3:1-2). Dit wil voorkom asof Gomer intussen in armoede en slawerny verval het, en Hosea kan haar daarom teen 'n afslagprys (vyftien sikkels silwer en anderhalf homer gars: omtrent die helfte van die normale koopprys van 'n slaaf, volgens Eksodus 21) weer by die mark gaan terugkoop. Hosea vat 'n vrou huistoe wat opgebruik is deur ander mans. En wanneer hulle vanaf die slawemark by die huis kom, moet Hosea haar opdra: jy gaan 'n lang tyd sonder hoerery moet klaarkom, en ek sal ook nie naby jou kom nie (Hos. 3:3). Wat 'n pynlike ervaring moes dit nie vir Hosea gewees het nie!

Maar hoe pynlik ook al, gemeente, ons almal verstaan waarskynlik dat ons nie by Hosea se huwelik kan vashaak nie. Dít is uiteindelik nie waaroor dit gaan nie. Nee, Hosea se huwelik is 'n lewensegte uitbeelding van iets groters: die Here se verhouding met sy volk. En wat hierdie geskiedenis van Hosea en Gomer en hulle kinders doen, is om vir ons op 'n realistiese en lewendige manier die temas aan te reik waarmee ons die Here se verhouding met sy volk - en met ons! - kan verstaan. Daar is drie temas waarna ons sal kyk...

 

1. Die eerste tema wat vir ons aangereik word, is Israel se verskriklike ontrou, soos uitgebeeld in die owerspel van Gomer. Israel (God se eie volk!) tree op soos 'n hoer, 'n prostituut. Daaroor is die Here reg van die begin af duidelik, hoofstuk 1:2: "Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want [en dan gee die Here die rede!] die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word." Later, in hoofstuk 9:1, sê die Here nogmaals vir die volk: "Jy het gehoereer van jou God af weg; jy het hoereloon liefgehad..." Net soos wat Gomer herhaaldelik ontrou was in haar huwelik met Hosea, so was Israel herhaaldelik ontrou in die verbond met die Here. Maar... wat het Israel se ontrou en hoerery dan presies behels? Wel, in die res van Hosea se profesie (hoofstukke 4-14) maak die Here dit vir ons duidelik.

Israel se hoerery het, om mee te begin, met haar godsdiens te make gehad. Nie dat Israel opgehou het om godsdienstig te wees nie. O nee, Israel was uiters godsdienstig, maar hulle het nie meer eksklusief die Here gedien nie; buiten die Here was daar ruimte vir allerhande gode, veral vir die Baäls. Efraim het die altare vermenigvuldig, sê Hosea in hoofstuk 8:11; hulle offer op die bergtoppe en laat rook opgaan op die heuwels, onder die eike en populiere en terpentynbome (Hos. 4:13); hoe meer vrug Israel gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak (Hos. 10:1).

A ha, hier lê vir ons 'n sleutel om Israel se godsdienstige hoerery te verklaar - luister weer na hoofstuk 10:1: "hoe meer vrug Israel gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak." Israel se godsdienstige hoerery (sy aanbidding van die afgode) het dus alles te make gehad met materiële voorspoed. Israel het sy eksklusiewe lojaliteit aan die Here ingeruil vir die afgode wat, na bewering, voorspoed en rykdom vir hulle verseker het - en dit terwyl die Here in hoofstuk 2:7 duidelik sê: dit was Ek wat haar al haar rykdom (die koring en die mos en die olie, die silwer en die goud) gegee het. Maar Israel het gekies vir 'n lewensstyl wat gierigheid en rykdom en genot voorgestaan het, en dit al te dikwels ten koste van hulle medemens. "Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak" (Hos. 4:2; 7:1). En die ergste was dat die leiers van die volk - die priesters, die profete, en die konings - dat húlle die volk voorgegaan het op die pad na die afgode van voorspoed, van mag, en van seksuele uitspattighede.

En daarmee, gemeente, het Israel dít wat hom laat uitstaan het tussen die ander volke, prysgegee. Israel se kontra-kultuur (die feit dat hy nie veronderstel was om die kultuur van die omringende nasies te volg nie, maar om juis daarteen in te gaan), daardie kontra-kultuur (wat gevorm is deur die gebooie en insettinge van die Here) het vir die volk iets vreemds geword: "Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag", sê die Here in hoofstuk 8:12. Israel het sy neus begin optrek vir die wet van die Here! Israel het homself eerder aangepas aan die weg van die nasies, met die gevolg dat hy voortdurend daarop uit was om bondgenootskappe met die omringende volke te sluit. Verskeie male beskuldig Hosea die volk daarvan dat hulle eerder na Assirië of na Egipte kyk, as na die Here: "hulle het opgetrek na Assur - 'n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! - hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf" (Hos. 8:9; 12:2). "So het Efraim dan geword soos 'n onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur" (Hos. 7:11).

Dít, gemeente, is die ontrou van Israel, wat uitgebeeld word in die hoerery van Gomer. Tevergeefs het die Here die verwagting gehad van trou en liefde en kennis van die kant van sy bruid (Hos. 4:1). Dit het nie gekom nie! Godsdienstig, kultureel, materieel en polities het Israel hoe langer hoe meer verstrik geraak in die web van die nasies met hulle afgode. En wat doen die Here dan uiteindelik, na eeue se geduld en vergifnis? Hy skei!

 

2. Dit is die tweede tema wat in die verhaal van Hosea en Gomer se huwelik vir ons aangereik word. Die Here gaan van sy volk skei - dit is sy oordeel oor sy volk. Israel het die verbond met die Here verbreek, die Here was baie lank geduldig met hulle, maar nou moet hulle die gevolge dra. Dit is die boodskap in die name van die drie kinders wat Gomer verwek het. Die eerste kind, Jisreël, is 'n verwysing na die vlakte van Jisreël waar die volk hulle oorloë gevoer het en waar daar dus dikwels bloed vergiet is - dit is 'n aanduiding van die straf en die oordeel van die Here (Hos. 1:4-5). Lo-Rugama, wat 'geen ontferming' beteken, wys dat die Here Hom nie langer oor sy volk gaan ontferm nie. En waarin kom dit uit? Wel, Hosea 1:6, deurdat Hy nie langer hulle sondes sal vergewe nie. En Lo-Ammi, wat 'nie my volk nie' beteken - dit wys dat Israel nie langer God se volk en Hy nie langer hulle God sal wees nie (Hos. 1:9). Hierdie driemaal onheilspellende naamgewing sou uiteindelik tot vervulling kom in die ballingskap van Israel deur die Assiriërs in 722 vC. En dit is nie maar net iets wat ons agterna in die teks inlees nie; nee, Hosea self is daaroor baie duidelik, kyk maar na hoofstuk 10:6: "Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb..." Ja, gemeente, die Here se vertrapte liefde, waarin Hy so lank geduldig was (soveel keer gewaarsku het, soveel keer sy profete gestuur het), kom uiteindelik tot uitbarsting in sy oordeel in die ballingskap.

 

Maar, broers en susters, ons moet raaksien dat selfs in God se oordeel sy liefde sigbaar word! Die Here is bereid om die skeiding van die ballingskap te verduur, as dit maar net tot 'n vernuwing van die verhouding kan lei. Dit word pragtig uitgebeeld in die feit dat Hosea sy hoervrou, wat hom verlaat en met ander minnaars rondgeslaap het, opnuut op die slawemark moet gaan koop. En wanneer hulle by die huis kom, is sy boodskap aan haar in hoofstuk 3:3: "Jy sal 'n lang tyd moet stilsit vir my, nie hoereer nie en aan geen man behoort nie; en so ook ek teenoor jou." En dan verduidelik Hosea in vers 4 wat dit beteken: "Want die kinders van Israel sal 'n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode." Daar het ons die ballingskap! In die ballingskap word Israel gedwing om stil te sit, gedwing om ‘n tyd lank sonder ‘n koning te moet klaarkom, gedwing om homself te weerhou van die sonde, die afgodery, die hoerery. En van sy kant gaan die Here Homself ook van die verhouding onttrek (Hos. 5:15). Daar is dus 'n skeiding, 'n baie pynlike skeiding, maar die skeiding is nie finaal nie! En dit bring ons by die derde tema wat die verhaal van Hosea en Gomer se huwelik vir ons aanreik: die Here se onbeskryflike liefde.

 

3. En dít, gemeente, is eintlik die hooftema van die profesie van Hosea! Die Here se diepe en onbeskryflike liefde is deur die hele profesie van Hosea verweef. O ja, daar is die hoerery (tema #1); o ja, daar kom oordeel (tema #2). Maar uiteindelik wil Hosea ons verstom laat staan oor God se liefde! Luister net hoe gebroke die Here is oor sy ontroue bruid: "Hoe kan ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?... My hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek" (Hos. 11:8). "Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek..." (Hos. 11:4) En die Here wys in die laste klompie hoofstukke dat hierdie liefde nie maar net iets van gister of eergister is nie, maar dat dit sy karakter is regdeur sy verhouding, sy huwelik met sy volk. Hy het vir Jakob gesorg tot hy vir Laban in Padan-Aram gewerk het (Hos. 12:13); Hy was met sy volk toe hulle in Egipte was - daar het Hy hulle liefdevol in sy arms gedra (Hos. 11:1 en 3); Hy het vir sy volk in die woestyn gesorg (Hos. 9:10, 13:5-6); Hy het aan sy volk sy openbaring geskenk (Hos. 8:12); Hy het sy volk in die Beloofde Land ingebring (Hos. 2:8). En elke keer moes die Here ervaar dat sy liefde in sy gesig teruggegooi word, dat sy liefde vertrap word; elke keer moes Hy ervaar dat sy bruid ontrou en ondankbaar is!

En dan sê Hy nogtans: "Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde" (Hos. 11:9). Ja, daar is die geheim! Die Here se liefde vind sy verklaring nie in die volk nie, nie in die feit dat die volk so trou en liefdevol was nie. Nee, Ek is God en nie 'n mens nie! Die rede vir God se liefde lê ten diepste in Homself, sodat Hy in Hosea se pragtige slothoofstuk, hoofstuk 14:5 kan sê: "Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend." Hoor u dit? Vrywillig liefhê! Hoekom is die Here lief vir hierdie volk, vir hierdie hoer? Omdat Hy wil! Die rede lê uitsluitlik in Homself! Dit is die geheim van die uitverkiesing!

En só kom daar hoop op herstel. Op geen ander manier as deur die Here se genade nie. Deur sy vrywillige liefde word Lo-Ammi (nie my volk nie) verander in Ammi (kinders van die lewende God!), en word Lo-Rugama (geen ontferming nie) verander in Rugama (by die Here is daar ontferming en vergifnis) (Hos. 1:10-11). En so word die volk verander in 'n troue vrou, wat nie meer sê "My Baal nie", maar 'n volk wat die Here vol liefde aanspreek as "My man!" (Hos. 2:15). Die volk sal hulle tot die Here bekeer, en hulle sal saam verenig word onder Dawid hulle koning (Hos. 3:5). 'n Troue vrou, bestaande uit Jode en heidene (die kerk!), staan dan in 'n wonderlike huwelik met koning Jesus, die seun van Dawid, ons Koning.

-------------------

Gemeente, hier het ons die drie hooflyne in die boek Hosea: die volk se hoerery, die oordeel in die skeiding, die Here se onbegryplike liefde. Ek stem saam, die profesie van Hosea is nie eenvoudig om te lees nie – baie beelde, baie metafore. Maar as jy hierdie drie lyne in gedagte hou, behoort jy ‘n groot deel van die res van die boek te kan verstaan. Gaan lees dit gerus weer in die komene week. Nou, kom ons probeer om hierdie drie lyne vir onsself uit te werk en konkreet te maak.

Ons is die volk van die Here. Ons is die gemeente vir wie Christus Homself oorgegee het om ons soos ‘n skone bruid voor sy Vader te kan stel. ‘n Vlekkelose bruid! Nou ek weet nie van u nie, maar as ek na my eie lewe kyk en as ek na sekere tendense in die gemeente kyk, dan moet ek erken dat ‘vlekkeloos’ nie die eerste woord is wat by my opkom om hierdie bruid te beskryf nie. Die afgode van voorspoed, eie plesier, en toleransie van die sonde is ook hier aanwesig. O ja, ons wil die Here dien, maar – in die woorde van v/a 95 van die Kategismus – ons het naas die Here ook nog ander dinge waarop ons ons vertroue stel. Ons wil die Here dien, maar intussen lewe ons soms asof ons materiële welstand nie van Hom af kom nie, maar van ons besighede, van ons versekerings, van ons pensioenfondse, en van die ekonomiese toestand in die land en in die wêreld. En ons lewe asof ons sielkundige welstand nie die Here se genadegawe is nie, maar slegs verkry kan word deur ‘n sielkundige, deur medikasie, deur berading, of deur beter omstandighede. Ons raak egoïsties in ons soeke na plesier, sodat die invulling van die Sondag, die seksuele vryhede wat onsself vergun, die tyd vir Bybelstudie saam met ander, oormatige eet- en drinkpartye – dit alles word nie meer bepaal deur die insettinge van die Here nie, maar deur onsself. Die kontra-kultuur wat steeds eie aan die bruid van die Here behoort te wees, die feit dat ons nie die gewoontes en gebruike van hierdie wêreld behoort te volg nie maar ‘n Skrifgefundeerde kultuur behoort te vorm wat anders lyk en raakgesien kan word, dit dreig om verlore te raak. Die gevaar is dat ons onsself al hoe minder van die ongelowige wêreld om ons heen onderskei. In dit alles kan die insettinge van die Here vir ons vreemd raak (dit kan vir ons vreemd begin raak om nog te hoor dat homoseksualiteit sonde is [en ek sê dit met deernis!], dit kan vir ons vreemd begin raak om nog te hoor dat paartjies voor die huwelik hulle hande van mekaar moet afhou, dit kan vir ons vreemd begin raak om te hoor dat jou geld en goed nie joune is nie maar die Here s’n, dit kan vir ons vreemd begin taak om te hoor dat ons nie net enige film kan kyk nie), sodat wanneer ons wel deur iemand hierop aangespreek word, ons ons oë lig en dink: van watter planeet kom jy af?

Broers en susters, laat ons ons bruid-wees ondersoek! Is ons ‘n vlekkelose bruid van Jesus Christus, of het ons op sekere punte in hoerery verval? En as ons inderdaad in hoerery verval het, dan moet ons nie dink dat die straf van die Here nie moontlik is nie! Ons moenie dink dat dit iets van die Ou Testament was nie. Nee, die Here tugtig die wat Hy liefhet, alreeds in hierdie lewe! Dit val my elke keer weer op as ek Sondag 4 van die Kategismus lees: “Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly? Nee, glad nie... Hy wil dit tydelik en ewig met ‘n regverdige oordeel straf. Ewig, ja, dit ken ons – die ewige oordeel. Maar let op, die Here straf ook soms tydelik! Ook in hierdie lewe alreeds kan die Here tugtig – en Hy kan dit op verskillende maniere doen. Hy kan jou dalk deur moeilike tye laat gaan. Of omgekeerd, dalk gee Hy vir jou rykdom en oorvloed, maar ontneem Hy jou van alle lewensvreugde, sodat jy nie meer dankbaar kan geniet van wat jy het nie. Dalk is daar siekte, ongelukke, huweliksprobleme... Let wel, ek sê nie dat enige van hierdie dinge tugtiging moet wees nie, maar soek, kyk, luister, hoor die roepstem van die Here!

En sien sy liefde! Ja, gemeente, sien sy liefde! Sy liefde wat maak dat sy hart in Hom omkeer van pyn wanneer sy kinders ongehoorsaam is. Sy liefde wat maak dat Hy ons elke keer maar weer trek met koorde van liefde. Sy liefde wat gemaak het dat Hy sy ontroue vrou – die kerk – nie teen afslagprys nie, maar teen die duurste denkbare prys gekoop het: die bloed van sy eie Seun. Ja, soms tugtig Hy, soms bring Hy skeiding aan – sodat ons selfs kan vra: maar waar is die Here!? Maar dis sy manier om ons weer te laat besef: wie ons is en wat ons het, kom nie van hierdie wêreld af nie, kom nie van onsself af nie. Dit kom van Hom af. En sodat ons omdraai, ons bekeer en na sy liefdevolle arms terugvlug. Sodat ons saam verenig onder die Koning uit die huis van Dawid, ons Here Jesus Christus. Hy het in die vlakte van Jisreël die stryd aangegaan en sy bloed vergiet, sodat hierdie gemeente genoem kan word – nee, nie in die eerste plek VGK Pretoria nie – maar Ammi (my volk)! En Rugama (ontferming)! Wie wys is – so sluit Hosea af in die heel laaste vers van sy profesie – wie wys is, laat hom op hierdie dinge let. Wie verstandig is, laat hom dit erken. Want die weë van die Here is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders sal daarop struikel.

Amen

 

Liturgie: 

Votum: sing Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 26:1, 5 en 7

Wet

Sing Skr. 33:3

Gebed

  • Inleiding tot die preek

Lees:    Hosea 1-3

Sing Ps. 78:1, 4, 20

  • Preek

Amenlied Skr. 10:3-6

Gebed

  • Sing voor kollekte Ps. 56:4

Kollekte

Slotsang Skr. 33:1 en 2

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.