Geloof in Christus is jou skild

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-05-09
Text: 
Efésiërs 6: 16
Reference: 
2118B
Preek Inhoud: 

Intro:

Onthou jy nog: wat Paulus gesê het oor die duiwel en sy ryk?
Dit klink nie dadelik baie hoopvol: daar is allerhande duistere magte wat sterker is as ons. En hulle is nog onsigbaar ook.

Hoe gaan jy staande bly teen daardie magtige vyande?

Maar dis nie al wat hy sê nie.
Paulus moedig ons ook aan: wees sterk in die Here Christus!
Hy het vir jou wapens gegee waarmee jy staande kan bly in die stryd.
Terwyl jy die wapens gebruik, kyk na Christus. Vertrou op hom.

Dit kan vir ons ongrypbaar bly.
Die vyande is onsigbaar. Die stryd lyk nie konkreet nie. Wat sien jy nou daarvan?
Hoe werk dit dan, om die wapens op te neem en te gebruik: 
-    die waarheid
-    die geregtigheid
-    en die paraatheid van die evangelie?

Die beelde wat Paulus gebruik het, help ons om dit te verstaan.
In die vorige preke het ek probeer om dit konkreter te maak.

Vandag kyk ons na die geloof, wat is soos ’n skild wat jou beskerm teen brandende pyle.

God help ons. Hy het vir ons die Bybel gegee. Daarin lees jy van mense van vlees en bloed, soos ons, wat aangeval is, bedreig – selfs met die dood -, wat verlei is deur die duiwel, en wat gely het omdat hulle Christus gevolg het.
Die Bybel gee vir ons voorbeelde van geloof.

Ons het Hebr 11 gelees. Daar vind jy die lys van geloofshelde. Gaan blaai maar in die Bybel, veral in die OT, dan vind jy nog meer van daardie helde.
Mense wat swak was, oop vir verleiding, onder groot druk, wat groot gevare in die gesig gestaar het, en tog oorwin het.

Hoe?
Wat het hulle gemeenskaplik? 

Almal het God geglo, hul vertroue op God geplaas.
Almal het hulle hoop op God se koninkryk gebou.
Almal het moedige dade verrig wat ons nie verwag of kan regkry nie.
Maar in geloof was dit moontlik.
In geloof skuil jy by jou magtige Heer!

Tema:    Geloof in Christus is jou skild
a.    Geloof beskerm jou
b.    die pyle
c.    die beskerming

1    Geloof beskerm jou

1.1    In die stryd

Geloof is soos ’n skild. Dit keer die pyle wat jou kan doodmaak.
Dit beskerm jou en hou jou staande, sodat jy kan aanhou veg.

Romeinse soldate gee ’n baie goeie illustrasie van die skild van die geloof.
Elke soldaat het ’n kort swaard gehad vir man-tot-man gevegte. Hulle het ’n speer gehad om op langer afstand te veg. (gooi dit na die vyand voordat hy jou met sy swaard kan aanval).

Maar wat nou as hulle ’n stad wou verower? 
Die vyande is verskans agter die mure. En terwyl die Romeinse soldate nader stamp, is daar talle pyle op hulle afgevuur.Dit het soos ’n reën neergedaal. Die gevaarlikste pyle het ’n prop met brandbare stroop gehad, wat aan die brand gesteek is. Wanneer dit jou geraak het, het dit versprei en jou vel aan die brand gesit. Die pyn was onverdraaglik. 

Daardie pyle kon baie soldate uitskakel of selfs doodmaak, nog vóór hulle nader kon kom om met hulle swaarde te veg.
Pyle was dus ’n gevaarlike wapen!

Maar die Romeinse weermag het iets hierteen gevind.
Die soldaat het ’n massiewe skild gedra. Dit was halfrond en het tot skouerhoogte gekom. 
Val die pyle neer? Jy kon eenvoudig agter jou skild skuil.
Die pyle het bly steek in die leer van die skild en is uitgedoof.
Kinders: hoe sou julle voel agter ’n skild so groot soos ’n deur?

Soldate wat ’n stadsmuur wou bestorm, het saam in ’n groep geloop, met skilde voor, links, regs, en bo oor hulle koppe. Daardie groepie het soos ’n skilpad gelyk. 
Die skild het dit dus moontlik gemaak om veilig nader te kom sodat hulle die vyand met hulle spere en swaarde kon aanval.

Ons geloof in God, jou geloof in Christus is soos ’n skild so groot soos ’n deur. Dit beskerm jou teen die vurige pyle wat die duiwel op jou afskiet.

1.2    Gideon

Kom ons kyk na ’n mooi voorbeeld van geloof wat soos ’n skild was.
Vra ’n bietjie vir Gideon oor wat hom pla. Hy sal vir jou sê:

‘Elke jaar kom die Midianiete en val die land binne. Ons het juis ons oes binnegehaal, en daar is hulle weer! Hulle steel die oes, hulle verniel ons huise, en hulle vermoor almal wat in die pad is. Dit help nie om ons teen hulle te verweer nie.
Hulle is terug! Nou het hulle ook nog die Amalekiete saamgebring. Ek het hulle in die vallei gesien: derduisende soldate. Met kamele. Hulle is so talryk soos sprinkane!

Ek is nie ’n held nie. Ek is ’n boereseun. Wat weet ek van swaarde en spere?
Maar God het my geroep om teen hulle te veg.
Dus het ek almal bymekaar geroep. Ek wou soveel soldate by my hê as wat ek maar kon kry. 32.000 manne het opgedaag.’

‘Klink dit indrukwekkend? 
Nee, dis hopeloos onvoldoende om die Midianiete te verslaan. Hulle het meer as 130.000 soldate! Ons het meer manne nodig!
Maar toe het God weer met my gepraat. ‘Jy het teveel soldate, Gideon!’
Ek was verbaas. Maar ek het gehoorsaam.
‘Stuur almal weg wat bang is’ 
Ek doen dit, en toe het ons nog 10.000 oor.

Dis steeds teveel, sê God.
Toe moes ek hulle laat drink. En almal wat die water opgelek het soos honde, het oorgebly. Kan jy dink: dis nie eers die manne wat die swaard die beste kan hanteer nie. (maar net hoe hulle gedrink het, het God se keuse bepaal).
Ek het net 300 manne oorgehad. Wat kan jy nou daarmee regkry?

En weet jy wat toe gebeur?
Ons het leë kruike gehad, en fakkels. Midde in die nag het ons geraas gemaak en die Midianiete met die vurige fakkels omring.
Toe het hulle gedink hulle was omsingel, hulle was so bang dat hulle mekaar aangeval het, en doodgemaak.
120.000 vyande was dood. Wat ’n oorwinning!’

In geloof het Gideon God gehoorsaam.
God het gewys dat hy self vir hulle veg. Hy het nie Israel se soldate nodig gehad nie. Hy het ’n wonder verrig en vir hulle die oorwinning gegee.

Toe Gideon in God geglo het, het God sy volk beskerm en bevry.
Geloof in God het die mag van God vir hulle beskikbaar gemaak en laat werk.

God se mag is groter as wat ons kan bedink en groter as die mag van vyande, hoe talkryk en magtig hulle ook mag lyk.

2    Die pyle van die duiwel

Hierdie geskiedenis van Gideon en talle ander gelowiges wys vir ons die krag van die geloof.
Dis nie ons geloof self wat sterk moet wees nie. Die krag kom van die persoon af in wie jy jou vertroue plaas: Christus jou Heer. Hy veg vir jou.

Dit is wat ons moet leer en onthou in ons geveg teen die ryk van die duisternis.

Dis belangrik om ons vyand te ken. Hoe word ons aangeval?
Ons het nie 120.000 soldate teenoor ons.
Watter wapens gooi die duiwel teen christene persoonlik en teen die kerk van Christus in die stryd?

‘Vurige pyle’ noem Paulus dit.

Vuur word in die Bybel gereëld gebruik vir beproewing.
God bring beproewings in ons lewe om ons geloof suiwer te maak, soos goud in die smeltoond gegooi word om die besoedelinge te verwyder.

Dit duiwel gebruik beproewings én verleidings om ons te laat val.

2.1    Hy gebruik angs

Soos Gideon bang geword het vir die derduisende soldate, so maak die duiwel jou bang. Jy is bang om alleen te staan in jou groep van jongmense. Jy wil nie outyds of laf lyk nie, dis lekkerder om gewild te wees en bewonder te word. So word daar druk op jou geplaas om met seks te begin, om jou standpunte te verander, om te koop wat ander jongmense ook koop. Ander mense het invloed op die keuses wat jy maak.
Maar nie net jongmense kan gemotiveer word deur angs nie.
Jy kan ’n sonde begaan en daarna bang word dat iemand uitvind. Uit angs lieg, om jou sonde te verberg en jouself teen die gevolge te beskerm.
Angs vir verwerping kan jou laat besluit om nie kleur te beken nie, om te swyg wanneer jy sonde sien, om nie te ly vir Christus nie.

2.2    Verleiding

Die duiwel gebruik nie net angs nie.
Hy verlei jou ook met lekker dinge. Verleiding tot sonde is subtiel, en dit belowe jou altyd iets wat jy geniet. Jy dink jy benodig dit, of dit sal jou lewe mooier of beter maak.

Moses het die verleiding gevoel om in Egipte lekker in die paleis te bly en die lewe te geniet. Dit was heelwat eenvoudiger gewees as om die Israeliete te verdedig, om Farao te konfronteer, en om 40 jaar deur die woestyn te loop. Hy het die offers gemaak deur geloof.

Josef is deur Potifar se vrou verlei. Wat ’n kans vir die slaaf om sy posisie te verbeter as hy die loverboy van die vrou van sy meester geword het. En niemand hoef dit agter te kom nie!

In elke verleiding beloof die duiwel iets wat aantreklik is en jou lewe verbeter.
Maar…. dis altyd leuens.
Dit het reeds in die paradys begin: ‘nee, jy sal nie sterwe wanneer jy van hierdie boom eet nie…’
Eva se sonde het die afhanklike verhouding met God vernietig, en Eva is uit die paradys verdryf; haar een seun het die ander vermoor, en uiteindelik het sy self ook gesterwe.

Dis die vurige pyle van die duiwel wat op ons neerreën.
Wanneer jy dit nie vandag of gister ervaar het nie, wag maar net af, dit sal definitief kom as jy ernstig is om Jesus te volg.

Maar hoe kan jy dit oorwin?

2.3    Hef op daardie skild!

Geloof in Christus is jou skild teen hierdie vurige pyle.
Sy pyle sal jou nie raak en doodmaak nie wanneer jy glo.

Wat is dit dan: glo?

Gideon het God vertrou en gehoorsaam. Dit leer ons dat God die oorwinning gee. Moenie op jou eie mag en getalle vertrou nie. Gehoorsaam in geloof, doen wat God vir jou sê, wees trou in jou huwelik, gesin, werk. Hou aan in geloof, ook wanneer dit nie lyk asof dit jou situasie sal verbeter nie.
Gehoorsaamheid in vertroue: dis geloof.

2.4    Vertroue

Vertroue plaas op hom, wat beteken dit?
Toe die sendeling John Paton die Bybel in die taal van die eilande in die Stille Oceaan vertaal het, kon hy nie ’n woord kry vir ‘vertrou’ of ‘glo’ nie.
Toe een van die eilandbewoners vir hom kuier en in ’n stoel neerplof, het hy gesê ‘dit is so lekker om my hele gewig op hierdie stoel te laat rus’.
Daar het John Paton sy vertaling gevind: om te glo is om jou hele gewig op God te laat rus.

Glo wat hy gesê het. Dit is die waarheid. Elke belofte sal uitkom. Hy het dit in Christus gewys en gewaarborg.

Deur geloof kan jy die leuens van die duiwel deursien en ontmasker:
-    Die mag van die duiwel jaag jou nie meer angs aan nie sodra God jou oë oopmaak vir sy mag. God het jou volledig aanvaar vanweë Jesus: wat mense oor jou dink en of hulle jou aanvaar, verbleek in die lig van jou plek in die hemel!
-    Geloof leer jou die waarheid oor magte en verhoudings: wat groot gelyk het, is baie klein.
-    Geloof is soos ’n verkyker: jy kyk verby, agter die verleidings en die skyn van die wêreld, en jy sien die koninkryk van God, die ewige heerlikheid, die eer wat Jesus vir jou sal gee. Geloof maak dit baie mooier en baie aantrekliker vir jou as enigiets hier op aarde.

So kon Paulus lyding verdra deur dit in perspektief te plaas (vlgs 2Kor4,16-18):
“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.
Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ’n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;
omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

2.5    Meer as net ‘kyk’ – ook krag!

Maar geloof laat jou nie net anderste kyk nie. As dit net dit was, sou jy eintlik nog steeds die krag in jouself moet vind om dan die regte besluit te neem.

Nee, geloof bring die mag van God in beweging teen die duiwel. Nou begin sy krag in jou werk en kan jy dinge regkry wat jy nie self kon regkry nie.
Gideon was geen held. Hy was bang en swak. God het hom moed gegee om vertroue om meer as 30.000 soldate huis toe te stuur en dit met net 300 manne te waag. God het die oorwinning gegee terwyl Gideon en sy manne net die kruike gebreek het en vuur gemaak het.
Dit was duidelik die krag van God!

Wanneer jy in geloof die lyding en verdukking vir Christus aanvaar, wanneer jy ‘nee’ sê teen die verleidings tot sonde, werk God se krag in jou. Die waarheid van Christus bring lig in jou hart en jou denke, die Heilige Gees gee jou suiwere nuwe begeertes in jou hart, en werk die gehoorsaamheid van Christus in jou. So kan jy besluite neem, woorde spreek, dade stel wat moeilik is, maar wat eer bring aan God.

In geloof kan jy die waarheid spreek en die leuen ontmasker.
In geloof kan jy trou en eerlik wees waar korrupsie en owerspel gewoon is.
In geloof kan jy die leuens van ons kultuur deursien en in die waarheid wandel.
In geloof kan jy die kortstondige genieting van die sonde wegskuif en verwerp, omdat jy Christus wil eer en uitsien na die heerlikheid wat hy vir jou sal gee.

2.6    Hulle wys na Christus

Die voorbeelde van gelowiges in Hebr 11 en die res van die Bybel is vir ons gegee as padaanwysers. 
Moenie daardie mense bewonder, en dink ‘ek wil soos Abraham of Noag of Moses wees nie’. Moenie dink ‘maar ek sal nooit so moedig wees soos Noag of vasberade soos Gideon nie. Josua se integriteit is nie vir my haalbaar nie.’
Hulle is padaanwysers na Christus toe.
Deur geloof in hom is jy sterk. Deur die geloof woon hy in jou, en in antwoord op jou geloof werk sy krag in jou.
Dit gaan oor hom.
Jou fokus moet op hom wees.
Dis ook waaroor dit gaan in geloof: dat jy op Christus jou vertroue plaas.

Daardie geloof is soos ’n skild waaragter jy wegduik teen die aanvalle van die duiwel om daarna met die swaard aan te val en uiteindelik te deel in die oorwinning van Christus.

Amen
 

Liturgie: 

Psalm 27:1-2

Gebed

Nagmaalsviering:
   Sing: Skrifberyming 24,1
   Lees: Efésiërs 1:4-6
   Sing: Skrifberyming 24:3
   Dankgebed

Skriflesings: Hebreërs 11:1-19 + Rigters 7:1-9; 19-23;

Skrifberyming: 24:7

Lees: Efésiërs 6:10-18;

Preek: Efésiërs 6:16;

Psalm 94: 6-9.12

Gebed

Kollekte

Psalm 73: 11-12