Om te lewe in God se geregtigheid, lei tot ‘n strewe na sosiale geregtigheid...

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-05-02
Text: 
Amos
Reference: 
Profete-Projek 6
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

“Social justice” (“sosiale geregtigheid” in Afrikaans) – het u al hierdie begrip gehoor? Ek hoop so, want dit is een van die gonswoorde van ons tyd. Nou, op sigself klink dit na ‘n baie aanvaarbare begrip: sosiale geregtigheid, dus dat daar aan almal in die samelewing reg gedoen word; dat elkeen kry wat hom toekom op grond van sy insette en arbeid. Watter Christen sou hom nie hiervoor beywer nie? Maar dit is helaas nie wat die populêre betekenis van hierdie begrip is / geword het nie. Die populêre betekenis – en dit kom vanuit die linkse, Marxistiese politiek, nie net in Suid-Afrika nie maar wêreldwyd – die populêre betekenis van “sosiale geregtigheid” is dat daar ‘n gelyke verdeling van rykdom en status, van voordele en voorregte moet wees. Luister mooi: ‘n gelyke verdeling van rykdom en status, voordele en voorregte – nie net ‘n gelyke verdeling van geleenthede om daardie rykdom en voordele deur middel van persoonlike insette en arbeid te verwerf nie, maar ‘n gelyke verdeling van daardie rykdom en voordele sélf – ook al het jy niks gedoen om dit te verdien nie. En as jy wil weet hoe dit homself prakties uitwerk, wel, kyk dan maar net na Black First Land First se besetting van die Sodwana Bay Lodge in die afgelope week. En hulle plan is om dit te doen met alle huurkontrakte van voor 1994; in hulle eie woorde: “Ons gaan die land regruk... Al hierdie Jan van Riebeeck-huurkontrakte van 1652 moet tot ‘n einde kom.” Dít is wat “social justice” in ons tyd beteken – gelykheid op alle terreine van die samelewing. En dit beteken dat die bevoorregtes van gister moet gee aan die onderdruktes van vandag (onderdruktes in terme van ras, geslag of seksuele oriëntasie).

 

Dus, om die begrip “sosiale geregtigheid” in ons tyd te gebruik, is problematies vir gelowiges – juis omdat daar so ‘n skewe betekenis aan hierdie begrip gegee word. Maar dit beteken nie dat sosiale geregtigheid in die ware sin van die woord nou maar geïgnoreer kan word nie. Sosiale geregtigheid in die egte, Bybelse sin is ‘n saak van groot belang vir die gelowiges. En ons sien hoe belangrik dit is wanneer ons vandag kom by die profeet Amos. Dus, ná Jona kom ons vandag by die profeet Amos. En die tema vir die preek is:

Tema: Om te lewe in God se geregtigheid, lei tot ‘n strewe na sosiale geregtigheid...

 

Die profeet Amos was ‘n bietjie jonger tydgenoot van die profeet Jona, waarna ons verlede week gekyk het. Amos, so lees ons in hoofstuk 1:1, was afkomstig uit Tekoa, ‘n klein dorpie so 8 kilometer suid van Betlehem (sien kaart). Dus, Amos kom uit die tweestammeryk, maar hy word gestuur na die tienstammeryk; kyk maar na vers 1: “die woorde van Amos ... wat hy gesien het aangaande Israel” (sien ook Amos 7:15) – en ‘Israel’ is in die profete deurgaans ‘n aanduiding van die tienstammeryk (terwyl ‘Juda’ ‘n aanduiding is van die tweestammeryk). Dus, Amos, afkomstig uit die tweestammeryk, word gestuur om te gaan profeteer in die tienstammeryk.

Nou, Amos word in hoofstuk 1:1 ‘n skaapboer genoem. Self gee hy vir ons ‘n bietjie meer inligting wanneer hy in hoofstuk 7:14 sê: “Ek was geen profeet en geen profete-seun nie” – dus, dit lyk asof daar intussen ‘n klas van beroepsprofete ontstaan het. Maar, sê Amos, ek was nie een van hulle nie, “ek was ‘n veewagter en kweker van wildevyebome.” Dus, Amos was ‘n boer – ‘n beroep wat hom in daardie tyd in die laer klasse van die bevolking geplaas het. Maar moenie dat sy beroep ons flous nie – hierdie boer was baie goed ingelig oor die politieke en godsdienstige situasie van sy dag, en sy Hebreeuse taalvermoë was puik! Hierdie boer het geweet waarvan hy praat!

Oor wanneer presies Amos geprofeteer het, gee hoofstuk 1:1 vir ons drie stukkies inligting – 1) dit was in die dae van Ussia, koning van Juda; 2) dit was in die dae van Jerobeam, koning van Israel; 3) en dit was twee jaar voor die aardbewing. Nou, hierdie drie stukkies inligting saam plaas ons ongeveer in die jare 765-760 voor Christus. Dit was in die laaste dekade van Jerobeam II se regering en – soos wat ek laasweek gesê het – ‘n tyd van uiterlike vrede en voorspoed in Israel. Wanneer ons al hierdie inligting bymekaarsit, dan het ons dus hier te make met ‘n boer uit Tekoa, wat gestuur word om te preek in die tienstammeryk, in ‘n tyd van groot welvaart.

 

Amos begin sy profesie deur die Here se oordeel uit te spreek oor ses heidense buurlande (sien klein kaartjie & struktuur op die preekblad): Damaskus (die hoofstad van Sirië / die Arameërs), Gasa (hoofstad van die Filistyne), Tirus (hoofstad van Fenisië), Edom, Ammon en Moab (Am. 1:1-2:3). En by elkeen van hierdie oordele word ook die rede vir die oordeel genoem, en in alle gevalle gaan dit oor growwe oortredings van ‘menseregte’ – wreedheid, massamoord, oorlogsmisdade, die verkoop van krygsgevangenes, die uitlewering van volke aan ander volke, die oopsny van swanger vroue, en die mishandeling van lyke. Wrede oortredings! En ek kan my voorstel dat die inwoners van die tienstammeryk na Amos staan en luister het, en gedink het: “Goed so, gee hulle wat hulle verdien, die klomp heidense barbare!” Maar wat hulle nie besef het nie, is dat Amos – hoewel hy hierdie oordele baie ernstig bedoel het – nog besig was om op te bou na die klimaks; hierdie ses buurvolke is nog nie werklik waaroor dit gaan nie, alhoewel die oordeel oor hulle wel werklik is. Want kyk maar: vervolgens kom daar ‘n kort profesie teen Juda “omdat hulle die wet van die Here verwerp het” (2:4) – mmm, dit kom al ‘n bietjie nader; Juda is immers nie ‘n heidense buurvolk nie, Juda is ‘n broedervolk! Die spanning neem toe... En uiteindelik, vanaf hoofstuk 2:6, bereik Amos die klimaks, kom hy uit by die oordeel wat hy eintlik wou uitspreek – die oordeel teen Israel, en dit loop dan weer uit op die vyf Godsprake in hoofstukke 3 tot en met 6 (sien struktuur). U sien hoe besonders bou Amos dit op? Eers Damaskus, Gasa, Tirus, Edom, Ammon en Moab – ja nee, Israel knik, dis verskriklik wat hulle gedoen het, hoe kan ‘n mens so iets doen? Vervolgens Juda – o... maar dit is dan net hier anderkant die grens!? En dan uiteindelik: Israel! Israel, dit gaan oor júlle! Julle knik by die wreedhede van die ander, maar dit gaan eintlik oor júlle wreedhede!

En skielik is die leiers van Israel nie meer so vriendelik met Amos nie – toe hy oor die ánder gepraat het, was hulle die ene ore; maar die oomblik toe hy sy fokus na hulle eie volk verskuif het, het hulle deuntjie vinnig verander. En ons sien dit in die verhalende gedeelte in hoofstuk 7:10-17. Daar hoor ons hoe die invloedryke priester, Amasia, die koning teen Amos waarsku: “die land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie...” (Am. 7:10). En dan jaag hy vervolgens vir Amos weg uit die land: “Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar. Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie...” (Am. 7:12-13). Helaas kan Amos hom nie aan hierdie opdrag steur nie: “... die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel” (Am. 7:15). Of in die treffende woorde van Amos 3:8: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” Amos móét gaan!

 

Maar wat was dit presies waaroor Amos die tienstammeryk en sy leiers aangespreek het? Wel, soos ek verlede week alreeds gewys het, het Israel ‘n tydperk van groot voorspoed en vrede geken onder koning Jerobeam II. Jerobeam het, na aanleiding van Jona se profesie in 2 Kon. 14:25, ‘n aansienlike stuk grondgebied terug verower, en vervolgens het daar ‘n periode van rykdom en voorspoed in die tienstammeryk gevolg. Maar hierdie materiële voorspoed het nie beteken dat alles goed gegaan het in Israel nie; die materiële voorspoed was nie goed vir die geestelike welstand en die sosiale geregtigheid nie. En Amos wys dit baie konkreet aan.

Hy wys in die eerste plek op die hartelose maniere waardeur die rykes hulle rykdom verwerf het. Hulle het ryk geword deur middel van geweld en verdrukking (Am. 3:9-10). Amos wys diegene aan wat, ter wille van hulle eie verryking, die behoeftiges vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei (Am. 8:4). In die tweede plek wys Amos hoe genadeloos baie van hierdie rykes besigheid gedoen het. Omkopery en korrupsie was normaal vir hierdie mense – dit was vir hulle niks snaaks om die efa (maateenheid van ongeveer 22 liter) te verklein en die sikkel (verwys waarskynlik na die gewiggie waarmee ‘n sikkel silwer afgemeet is) te vergroot en bedrieglik te handel met ’n valse weegskaal nie (Am. 8:5). En vers 6 sê dat hulle die armes vir geld gekoop het, en die behoeftiges vir ‘n paar skoene (Am. 8:6). Hulle het genadeloos besigheid gedoen ten koste van die armes. Want – en dit is die volgende wat Amos aantoon – hulle was verslaaf aan geld. Hulle kon nie wag tot die feesdae en die Sabbatte verby was nie: “Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit?” (Am. 8:5) Wat hulle aanbetref was die doel van die sabbat dieselfde as van enige ander dag: geld maak! En ten slotte wys Amos ook hoe korrup die leiers en die rykes in die reg gehandel het. Hy keer hom teen diegene wat die reg in wilde-als verander en die geregtigheid teen die grond gooi (Am. 5:7). Onregverdige regters dwing die armes om ‘n heffing van koring te betaal voordat hulle bereid is om ‘n uitspraak in daardie persoon se guns te maak (Am. 5:11); ja, hulle neem omkoopgeld aan en stoot die behoeftiges van die poorte – die plek waar die regspraak plaasgevind het – af weg (Am. 5:12).

En al hierdie sosiale onreg het tot geweldige rykdom by ‘n deel van die bevolking gelei. Daar was diegene wat winter- en somerhuise besit het, wat huise van ivoor gehad het (Am. 3:15); daar was diegene wat huise van gekapte klippe gehad het, ‘n luukse vir daardie tyd (Am. 5:11). Al hierdie rykdom het hulle gerus en sorgeloos gemaak (Am. 6:1); hulle het op bedde van ivoor gelê en uitgestrek gelê op hulle rusbanke, en die lammers van die kleinvee en die kalwers uit die stal geëet; hulle het liedjies gesing met begeleiding van die harp... en hulle het uit offerkomme wyn gedrink en hulle met die beste soorte olie gesalf (Am. 6:4-6). Sonder enige politieke korrektheid verwys Amos na die ryk vroue as “koeie van Basan” (Am. 4:1) – nie om daarmee iets oor hulle gewig te sê nie, maar as verwysing na ‘n goedgevoerde beesras uit Basan, ‘n vrugbare gebied in Gilead.

 

Gemeente, as daar een profete-boek is wat gaan oor sosiale onreg onder God se volk, dan is dit die profeet Amos. Amos beywer hom vir sosiale geregtigheid (“social justice”) – maar dan is dit ‘n ander soort sosiale geregtigheid as wat in ons tyd die geval is. Die sosiale geregtigheid waarvoor Amos hom beywer is gegrond in die godsdiens van Israel – baie belangrik! En dít is eintlik waar die dinge skeef geloop het. Ja, daar was verskriklike sosiale onreg in Israel, maar daardie sosiale onreg was die gevolg van ‘n lewelose en besoedelde gódsdiens. Duisende mense het daagliks na Bet-el en Gilgal – die twee godsdienstige sentra van die tienstammeryk – gestroom om daar al die godsdienstige rituele en seremonies uit te voer, oortuig dat hierdie rituele en seremonies vir God welgevallig was en aan hulle die reg gegee het om te lewe soos wat hulle wou. Met bytende sarkasme wys Amos hierdie verkeerde denke vir hulle aan: “Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle slagoffers in die môre en julle tiendes al om die derde dag. En laat van wat gesuurd is, ‘n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit, laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel...” (Am. 4:4-5). Hierdie mense het gedink dat omdat hulle die verwagte rituele uitgevoer het (veral by Bet-el en Gilgal), hulle daarmee hulle geestelike verpligtinge nagekom het. Maar God se oordeel is totaal die teenoorgestelde: “Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie” (Am. 5:21-23) God haat godsdiens wat maar net ‘n vertoning is en geen lewende ervaring nie; God haat godsdiens wat nie vervolgens uiting vind in ‘n lewe volgens sy volmaakte wil nie.

 

Nou, gemeente, dit is hierdie kombinasie van godsdienstige skynheiligheid, en wat sy uitwerking gevind het in die sosiale ongeregtigheid van daardie dae, waaroor die Here in hoofstukke 7-9 sy oordeel uitspreek (sien struktuur). In vyf visioene maak die Here duidelik dat Hy Israel se sonde nie langer gaan ignoreer nie. Ja, Israel het dalk geroem in die Dag van die Here – vir hulle was die Dag van die Here die goue era van voorspoed en vrede wat hulle op daardie stadium beleef het, en wat volgens hulle nog lank sou aanhou! En dan sê Amos: “Wee die wat na die dag van die Here verlang! Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie” (Am. 5:19-21). Die Dag van die Here was nie die era van voorspoed en seën wat Israel gedink het nie; nee, die Dag van die Here was vir Israel die oordeel van die Here, wat uiting gevind het in die verwoesting van Samaria en die wegvoering in ballingskap deur die Assiriërs in die jaar 722 voor Christus. Israel, wat homself daarop beroem het dat hy die volk van die Here is, moet uiteindelik hoor dat die Here hulle op gelyke vlak plaas met die mees veragte volke: “Is julle nie vir My soos die kinders van Kus nie, o kinders van Israel?” (Am. 9:7) Dít was waarop hulle godsdienstige skynheiligheid en hulle sosiale ongeregtigheid uiteindelik uitgeloop het.

 

Gemeente, “social justice” is ‘n verdraaide begrip in ons tyd – en tereg moet ons onsself daarteen verset. Maar mag dit nooit so wees dat ons onsself met alle mag teen hierdie liberale “social justice” verset, maar intussen nie die “social justice” van die Skrif uitleef nie. Daardie sosiale geregtigheid wat ons roep om die Bybelse kwartet van kwesbares (die weduwee, die wees, die vreemdeling en die arme) te versorg. Ja, die kwartet van kwesbares: gaan kyk maar hoe dikwels die wet van Moses opdrag gee om hulle te versorg, en gaan kyk vervolgens hoe dikwels die profete die volk daarvan beskuldig dat hulle hierdie kwartet verwaarloos het. Hierdie kwartet van kwesbares is meer as ooit deel van ons samelewing. En jy hoef nie ver te gaan om hulle te vind nie – jy kan maar net in die Moot bly. Hulle is hier om ons – heel eerste in die gemeente self, maar vervolgens ook in die samelewing.

En dit lyk vir my, as ek mooi na Amos geluister het, dat ons versorging (of gebrek daaraan) van hierdie kwartet van kwesbares iets sê oor ons geloof. Dat dit iets sê oor ons godsdiens en die beoefening daarvan. Laat ons onsself en die gemeente ondersoek: is ons geloof en die beoefening daarvan nog lewendig en opreg en eg? Maar hoe weet ons dit? Wel, hoe staan dit met die versorging van die weduwees en die wese en die vreemdelinge en die armes in ons midde? Hoe reik ons uit na hierdie groepe in ons samelewing? Sien u, godsdiens en die uitwerking daarvan het direk met mekaar te make. In die teologie bestudeer ons die dogmatiek (die leer van die kerk) en die etiek (die uitlewing van die geloof) in dieselfde vakgroep – want hulle is twee kante van dieselfde muntstuk; hulle hoort bymekaar! En die Nuwe Testament, as vervulling van die Ou Testament (ook van Amos!), is hieroor baie duidelik: “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, een een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood” (Jak. 2:15-17). Of wat van 1 Johannes 3:17 en 18: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” Of terug na Jakobus, hoofstuk 1:27: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.” Die boodskap is duidelik: ons kan nie sê dat ons Christene is, mense wat God liefhet, maar intussen laat die nood van ons naaste – sowel binne as buite die gemeente – ons koud nie. Dan is daar iets fundamenteels verkeerd in ons geloof.

 

Maar, gemeente, dit is gelukkig nie waar Amos se profesie eindig nie. In die slot (Am. 9:11-15) vind ons die Here se belofte van herstel. Daar is hoop. Die vervalle hut van Dawid sal weer opgerig word. Dit het alles te make met die werk van Jesus Christus – Hy is die Een wat die vervalle hut van Dawid weer sal oprig; Hy is die Koning wat vir ewig op die troon van Dawid sal sit. En kyk dan watter effek hierdie werk van Jesus Christus het – vers 13: die ploeër sal die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; die berge sal van mos drup en die heuwels sal daarvan oorvloei wees; die volk sal weer wingerde plan en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. In Christus kom daar ‘n tyd van oorvloed – só ‘n oorvloed dat die ploeër die maaier en die druiwetrapper die saadsaaier sal inhaal; daar is nie eens genoeg tyd om die oes in te haal nie, dan word daar alweer gereed gemaak vir die volgende seisoen. Gemeente, in Christus is daar genoeg – genoeg vir elke gelowige, genoeg om uit te deel. Laat ons in daardie oorvloed lewe. Ons word nie armer wanneer ons uitdeel nie, ons word nie slegter daaraan toe nie. Inteendeel, ons wys mekaar juis op die stroom van oorvloed in Christus, wat onophoudelik bly stroom. Laat ons liefde vir Hom hande en voete kry in ons sorg vir ons naaste, sodat die Koning uiteindelik kan sê:

Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom (Mt. 25:34-36).

Amen

Liturgie: 

Votum: sing Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 17:5 en 6

Wet & genadeverkondiging

Sing Ps. 32:1-3

Gebed

Lees:   Amos 1:1-2:6

            Amos 7:10-17

            Amos 9:11-15

Preek

Amenlied Skr. 1:3, 5 en 6

Bevestiging

  • Formulier
  • Sing Ps. 115:6 en 8
  • Gebed

Kollekte

Slotsang Ps 68:2, 3 en 9

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.