Christus versamel hulle wat van Hom af wegvlug

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-04-18
Text: 
Markus 14:50-52
Preek Inhoud: 

Tema: Christus versamel hulle wat van Hom af wegvlug

 

Ons teks is een van die mees misterieuse verse in die Bybel.

Dit is anoniem, behalwe vir die feit dat ons weet dat dit ‘n jongman was.

As mens dit lees, is die eerste vraag wat opkom: Wie was hierdie jongman?

Duidelik was hy deel van die “almal” waaroor vers 50 praat, almal wat Jesus verlaat en gevlug het.

Aanvanklik het een weerstand gebied, toe Judas en die bende saam met Hom Jesus kom gevange neem het.

Markus noem nie sy naam nie, maar ons weet uit die Johannesevangelie dat dit Petrus was.

Sover ons weet, was Petrus nie meer ‘n jongman nie.

Maar daarna het almal gevlug, Petrus inkluis.

Later het Petrus saam met Johannes Jesus wel op afstand gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, waar hy sy Heiland toe verloën het.

Maar wie was dan hierdie jongman?

Ons weet dat Jesus saam met sy dissipels die tuin van Getsémané binnegegaan het.

Dit lees ons in vers 32.

Getsémané was op die Olyfberg.

Dis waarheen hulle gegaan het direk na die laaste pasga, toe Jesus die nagmaal ingestel het – vers 26.

Die laaste pasga het Jesus saam met sy dissipels gevier, spesifiek die twaalftal.

Dit was toe Judas Iskariot hulle verlaat het en hulle met 11 dissipels oorgebly het.

Die jongman waaroor ons teks praat, was in elk geval nie Judas nie.

Dan bly daar nog 9 dissipels oor.

Markus noem hulle name in hoofstuk 3: behalwe vir Petrus, Johannes en Judas Iskariot noem hy daar ook:

Jakobus, Andreas, Filippus, Bartholomeüs, Mattheüs, Thomas, Jakobus seun van Alfeüs, Thaddeüs en Simon Kananites.

Was hierdie anonieme persoon een van die oorblywende 9 persone, of was dit nog ‘n ander leerling van Jesus, wat Hom gevolg het?

 

Deur die eeue het uitleggers al verskillende name genoem, wie dit sou wees.

‘n Naam wat die meeste na vore kom, is dat dit Markus self was.

Markus wat hierdie evangelie opgeskryf het.

Nou Markus die evangelis was nie een van die twaalf nie.

Daar word egter beweer dat Jesus die laaste pasga aan huis van Markus se ouers gevier het.

Hierdie huis sou in die boek Handelinge ook weer na vore kom, en wel as vergaderplek van die eerste gemeente in Jerusalem.

Ons lees in Handelinge 12, nadat ‘n engel vir Petrus uit die gevangenis bevry het, dat hy na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, gegaan het, waar baie in gebed bymekaar was (Hand. 12:12).

Markus se ma se huis was dus ‘n bymekaarkomplek vir die dissipels.

Markus as jongman sou dan, so volg die redenasie, sodra Jesus met sy dissipels die huis verlaat het rigting Getsémané, hulle gevolg het.

Hy sou uit sy bed opgestaan het, verwysende van die feit dat hy net ‘n linnedoek om sy naakte lyf gehad het.

Ons sou vandag sê hy het net sy pyjama of kamerjas aangehad.

So lui sommige uitleggers se redenasie.

Egter, die Griekse woord wat hier gebruik word, dui nie uitsluitend op nagklere nie, maar dui normaalweg gewoon op iemand se bokleed, gemaak van linne.

Verder, as daar genoem word dat hy naak weggevlug het, sluit dit nie uit dat hy steeds sy onderklere aangehad het nie.

 

Wat verder ook nog as argument gebruik word hoekom dit Markus moes gewees het, is dat dit in geen ander evangeliebeskrywing vermeld word nie.

En as almal van Jesus af weggevlug het, en hierdie jongman die laaste was wat ternouernood ontkom het nadat sy kleed afgeruk is deur die menigte uitgestuur deur die owerpriesters en skrifgeleerdes, hoe kon Markus hiervan geweet het as al die ander dissipels al weg was?

Hoe kon Markus daarvan afgeweet het as dit nie hyself was nie, as hy die enigste een was wat nog daar was?

Hierdie argument word dus gebruik om aan te voer dat dit Markus self was.

Die feit dat hy hierdie insident beskryf het, sou as ‘t ware sy handtekening onder die evangelie wees.

Dit sou ook ‘n skuldbelydenis wees, dat hy, net soos al die ander, nie die moed gehad het om Jesus end uit te volg nie.

 

Maar aan die ander kant, uit die boek Handelinge weet ons dat Markus diegene was wat die apostel Petrus vergesel het, wat as apostel die evangelie verkondig het.

Die Markusevangelie kan mens daarom ‘n weerslag noem van die getuienis van Petrus, wat Markus opgeskryf het.

Dit kan dus ook so wees dat Markus, net soos al die ander feite oor Jesus se lewe op aarde, dat hy ook hierdie insident van Petrus verneem het, en dat Petrus of iemand anders tog ooggetuie hiervan was.

 

Om saam te vat, gemeente, om die anonieme persoon in ons teks met sekerheid te identifiseer, is nie moontlik nie.

En ons sal moet aanneem, dat as Markus wel hierdie persoon se naam geweet het, dat hy dit bewus nie genoem het nie.

Terselfdertyd is dit nie toevallig dat hy hierdie insident opgeteken het nie.

Ook hier het die Heilige Gees hom gelei om dit neer te skryf.

En ons sal dus moet vra na die bedoeling, hoekom hierdie insident in die Bybel staan.

Dit was wel die toppunt van lafhartigheid, die absolute dieptepunt, toe al die dissipels in die uur van waarheid hulle Meester verlaat het, nie een uitgesonderd nie.

Dat een van hulle selfs bereid was om naak weg te hardloop, liewerste dit as om saam met Jesus in hegtenis geneem te word.

So het Jesus se eie profesie honderd persent uitgekom, vers 27:

“Julle sal almal in hierdie nag nog aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.”

Jesus verwys hier na die profeet Sagaria (13:7).

As Hy as profeet deur die HERE gestuur, in hegtenis geneem word, dan gaan die volk verstrooi word, dan word hulle nie meer versamel rondom die woord van die profeet nie.

Net soos wanneer ‘n herder geslaan word, as die herder nie meer daar is nie, dan sal die skape verstrooi word, sonder iemand wat hulle bymekaar hou.

Sonder die HERE se Woord, deur sy profete gebring, sal daar geen eenheid wees nie, sal daar geen volk van God wees nie.

Die mees kenmerkende van God se volk is nie hulle biologiese afkoms, hulle biologiese verbondenheid nie, maar die feit dat hulle rondom die Woord van God versamel word.

Sodra dit wegval, val die kudde uitmekaar.

Net so het dit ook met die dissipels gebeur.

Hulle is verstrooi, elkeen in sy eie rigting.

Van ‘n hegte groep het daardie nag niks oorgebly nie.

Hulle het uitmekaar gespaander.

Hulle kon nie vinnig genoeg wegkom nie.

Hulle was bang.

Daardie jongman, wie dit ook al was, wat naak weggevlug het nadat die gespuis hom aan sy kleed beetgekry het, hy staan simbool vir hoe desperaat almal was om weg te kom.

Hierdie episode herinner aan wat die profeet Amos geprofeer het:

Amos 2:16: “En die dapperste onder die helde sal op die dag naak wegvlug, spreek die HERE.”

Dié dag verwys na wanneer die HERE se oordeel oor sy volk gaan kom.

Dan gaan Hy dit onder sy volk laat kraak, soos ‘n wa kraak wat vol gerwe is, beskrywe Amos, wat ‘n boer was, die uitwerking van God se oordeel.

En ja, selfs die dapperstes gaan dan naak wegvlug.

Presies dit het dus daardie nag in Getsémané gebeur.

Amos se profesie is letterlik vervul.

Die dapperstes, die bittereinders, Petrus en sy mededissipels, wat Jesus deur dik en dun gevolg het, hulle maak nou dat hulle wegkom.

Hulle eie geloof was nie sterk genoeg om hierdie beproewing te deurstaan nie.

Onthou, die toppunt van dapperheid is nie dat jy jou lewe vir ‘n ideaal opoffer nie.

Petrus was meer as bereid om daardie offer te bring.

Hy was bereid om vir sy Heiland te sterf.

Tog was dit nie die toppunt van dapperheid nie.

Maar dit was om slegs en alleen Jesus te volg, waar Hy ook heengaan.

Dit het hier nie net gegaan oor ‘n stryd teen mense, ‘n stryd teen vlees en bloed nie.

Jy mag dink jy is dapper, jy mag dink jou geloof staan sterk.

Maar, soos ek in een van die kommentare gelees het:

Selfs Godvresende mense weet nie hoe hulle sal reageer, voordat hulle nie werklik op die proef gestel is nie.

 

En hierdie was inderdaad ‘n beproewing waarop die dissipels nie voorbereid was nie, waarteen hulle nie opgewasse was nie.

Hulle het nie besef dit gaan hier oor God se oordeel oor sy eie Seun nie..

En soos Jesus al geweet het, noudat God se oordeel neerdaal, nou gaan Hy alleen oorbly om dit te dra.

Geen mens het Hom bygestaan in die dra van daardie swaar las nie.

Geen mens was dapper genoeg daarvoor nie.

Alleen moes Hy die ewige straf dra, om die sondes van die volk te versoen.

 

Hierdie heilsfeit vier ons vandag weer aan die nagmaal.

En ons teks bring ons tot verootmoediging.

As ons daar by Jesus in die tuin van Getsémané sou gewees het, dan sou jy en ek ook gemaak het dat ons wegkom.

Ons sou ook laat spaander het, selfs al skeur hulle die klere van ons lyf.

Liewers naak weghardloop as om saam met Jesus gevange geneem te word.

Ja dit geld ook vir die allerdapperste, soos Petrus wat oomblikke daarvoor nog een van die soldate se oor afgekap het.

Is jy ‘n dapper geloofsheld?

Ken jy die Bybel van hoek tot kant?

Is jy konsekwent in die nakoming van God se wil in jou lewe, meer as enigiemand anders?

Hierdie teks het ook ‘n boodskap vir jou:

Ook jy sal naak wegvlug.

Ook jy sal jou Heiland verloën.

Die oomblik toe die Herder geslaan word, is al die skape verstrooi, nie een uitgesonderd nie.

 

Tog sit ons vandag saam aan die nagmaal.

Hoe is dit dan moontlik?

Dit is slegs en alleen moontlik omdat ons Heiland die straf gedra en die versoening voltooi het, en daarna weer uit die graf opgestaan het.

Soos Hy in vers 28 reeds aan sy dissipels die verskering gegee het:

“Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galilea gaan.” (vers 28)

Die Herder gee weer die leiding, en die skape kan weer volg.

Soos ons tema sê: Christus het hulle weer versamel wat van Hom af weggevlug het.

Ja die Herder het nie vir ewig verdwyn nie.

Na sy opstanding het Hy sy kudde weer bymekaargebring.

En so bring Hy ons as sy kudde ook vandag bymekaar, rondom sy Woord.

Net soos in die verlede, is dit ook vandag die enigste wat ons bymekaar hou: sy Woord.

Die goeie Herder roep, en die skape luister na sy stem.

So het julle vanoggend na sy stem geluister, om na die nagmaal te kom.

Dat die Herder julle na groen weivelde lei.

Hier aan die nagmaal mog ons eet en drink en geestelik versadig word.

 

So bepaal die Woord, die teks vir vandag, ons weer by die betekenis van die nagmaal.

Moet niks van geen enkele mens verwag nie.

Moet niks van jouself verwag nie.

Moet nie op die dapperste van die dapperes in God se volk vertrou nie.

Moet nie jou mening laat afhang van hulle wat mees uitgesproke is, wat die meeste moed het nie.

Hulle sal almal verstrooi word.

Nie een van hulle, nie een van ons, is opgewasse teen die kragte van die duiwel nie.

Maar wie sy saligheid enkel en alleen van die goeie Herder verwag, hy sal gered word.

Wie daardie naakte jongman ook was, of dit een van die dissipels was, of dalk Markus self, laat ons eerlik wees, dit kon net so goed jy of ek gewees het.

Maar ook aan ons is genade bewys.

Na sy opstanding het hulle nie eensaam en alleen en verstrooid gebly nie.

En so geld dit ook vir ons.

Wie sy naakte lyf wil red, moet nie van Jesus af wegvlug nie, maar moet juis na Hom toevlug!

Net soos Adam en Eva, toe hulle in die paradys gesondig het, niks daarby gebaat het om van God af weg te vlug nie.

Ja net soos Adam en Eva en hierdie jongman, is ons as sondige en kleingelowige mense se eerste refleks om van God af weg te vlug.

Maar die Heilige Gees werk in ons die nuwe begeerte om na Christus ons Middelaar en Verlosser toe te vlug.

Ja deur sy Gees en Woord versamel Christus hulle wat van Hom af weggevlug het.

Die verstrooide skape bring Hy weer bymekaar.

Eerstens was dit sy disspels na sy opstanding, en in alle eeue daarna hulle wat deur die apostels se getuienis ook tot geloof gekom het.

Hulle wat by Hom kom skuiling soek, in sy gemeente, waar sy Woord klink.

Hier deel Christus sy soenverdienste uit, vir wie dit met ‘n gelowige hart aanneem.

Christus se gevangeneming, sy lyde en sterwe word plaasvervangend op jou en my naam geskryf.

In Christus is ek ook gevange geneem, het ek ook gely en gesterf.

In Christus het ek ook opgestaan in ‘n nuwe lewe.

Duisend-, duisendmaal o Heer, sy U daarvoor dank en eer!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 32:3,4

Wet

Ps 119:63

Gebed

Nagmaalsformulier 

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloosbelydenis (sing)

Viering van die nagmaal

Skriflesing: Markus 14:27-72

Ps 23:1,2 (2e beryming)

Lofverheffing

Dankgebed

Teks: Markus 14:50-52

Preek

Sb 24:2,3,6

Gebed

Kollekte

Ps 23:3

Seën