Die HERE se koningstroon staan vas vir ewig

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-03-21
Text: 
Psalm 93
Preek Inhoud: 

Die Psalms is ‘n unieke Bybelboek.

Die Heilige Gees het verskillende digters geïnspireer.

Onderdeel van daardie inspirasie in die Psalmboek is ook hoe hulle God se openbaring persoonlik verwerk het in hulle lewens, en in die lewe van God se volk.

Daarom is die Psalms so ‘n geskikte boek om te leer wat lewe in die verbond behels.

Dit leer ons om na God se raad en wil te luister, maar ook om dit te verwerk, en dan om dit ons eie te maak en te besing.

Daar is baie psalms wat deur Dawid gedig is.

Maar Dawid was nie die enigste digter nie.

Daar was baie meer wat deur die Heilige Gees geïnspireer is.

Baie van hulle se name ken ons nie meer nie.

Die Psalmboek is eintlik ‘n samevoeging van verskillende liederebundels.

Psalm 93 staan in die 4e bundel, wat strek van Psalm 90 – 106.

Die meeste van die psalms in hierdie bundel is nie van Dawid afkomstig nie, maar van onbekende digters.

So weet ons nie presies wie Psalm 93 gedig het nie.

Wel het die Heilige Gees hierdie persoon gebruik om ‘n indrukwekkende gedig te skryf, met ‘n baie diep betekenis vir mense van alle tye.

 

Tema: Die HERE se koningstroon staan vas vir ewig

  1. Omdat sy troon vasstaan, staan die wêreld ook vas
  2. Omdat sy troon vasstaan, staan sy getuienisse ook vas

 

  1. Omdat sy troon vasstaan, staan die wêreld ook vas

In die eerste plek besing hierdie psalm die koningskap van die HERE.

Hy is bekleed met hoogheid en sterkte.

Die woord bekleed is beeldspraak.

As sy klere hoogheid en sterkte is, word bedoel dit is die karakter van sy heerskappy.

Hoogheid kan ook vertaal word met majesteit.

‘n Tipiese woord vir ‘n koning.

 

Vervolgens noem die digter dat ook die wêreld vasstaan.

Dat dit so is, het alles te make met die feit dat die HERE se troon vasstaan.

Daar word soms beweer dat ‘n psalm soos hierdie gebonde is aan die wêreldbeeld van daardie dae -

die kosmiese opvatting dat die aarde op pilare in die oseaan staan.

Nou ook as dit so is, wil dit nie sê dat die digter vasgevang is in die wêreldbeeld van daardie tyd nie.

Ons wêreldbeeld vandag word ook vir ‘n groot mate bepaal deur die kennis wat tans tot ons beskikking is.

Maar dit is nie onmoontlik dat ook ons wêreldbeeld in die toekoms weer gaan verander nie.

As daar byvoorbeeld nuwe ontdekkings oor die aarde, oor ons sonnestelsel, oor ons sterrestelsel, oor die ruimte gemaak word.

Of as dinge ontdek word waarvan ons tans nog geen vae benul het nie.

Toe die bejaardes onder ons bevoorbeeld jonk was, het die wêreld nog nie geweet van gene nie.

Vandag het genetiese navorsing onmisbaar geword.

Maar soos ek genoem het, die digter was nie gebonde aan sy wêreldbeeld nie, want nadat hy geskryf het “die wêreld staan vas”, volg die belydenis dat die HERE se troon vasstaan van ewigheid af.

Die feit dat die wêreld vasstaan, is afhanklik van die feit dat die HERE se troon vasstaan.

In die taal van die Kategismus sal ons dit God se voorsienigheid noem.

God se onwankelbare troon was al daar, selfs nog voordat die wêreld geskape is.

Met hierdie belydenis styg die digter uit bo die wêreldbeeld, bo die beperkings van sy eie tyd.

Net so is ons as gelowiges nie vasgevang in die wêreldbeeld van die hede nie, as ons bly glo in die vasstaande troon van die HERE.

As ons bly glo in die bestaan van God.

As ons bly glo in die feit dat die HERE al daar was van ewigheid af, en tot in ewigheid daar sal wees.

Alle dinge in die heelal vind in Hom sy ontstaan, en is vir hulle voortbestaan van sy troon afhanklik.

Dit is dus, in die eerste plek, wat hierdie psalm bely.

Die wêreld staan vas, omdat die HERE se troon vasstaan.

Dit is inderdaad werd om ‘n lofsang oor te sing!

 

Vanaf vers 3 klink die lofsang nog ‘n oktaaf hoër, nog uitbundiger.

Die digter span ‘n skitterende metafoor in.

Magtige golwe van die oseaan het opgebruis ja alle seë saam.

Hier aan die Suid-Afrikaanse kus kan ons hierdie beeld goed verstaan.

Magtige golwe wat op die rotse stukkend breek.

Toe ek klein was en ons by Tsitsikamma vakansie gehou het, het ek my verwonder oor die skouspel van die golwe.

Ek het gewonder hoe lank daardie rotse nog gaan standhou teen die kragte van die oseaan.

Die digter vergelyk God se troon met sulke rotse.

En die golwe van die oseaan dien as metafoor vir die bruising van die volkeresee.

Magtige koninkryke staan op teen God se troon.

Keisers, konings, presidente maak groot geraas hier op aarde.

Soms lyk dit of die hele wêreld begin wankel deur toedoen van mense.

Dink aan die twee wêreldoorloë in die vorige eeu.

Die opstandige mensdom probeer uit alle mag om God se wêreldorde omver te gooi.

Maar magtiger as branders se gedreun, is HEER u troon wat alles ondersteun.

Geslagte kom, geslagte gaan.

Wêreldryke kom, wêreldryke gaan.

Soos ons gesing het:

Wat dring en dryf die wilde heidendom,

dat volke raas in opgewondenheid?

Gedugte konings staan gereed alom,

en wêreldgrotes raadslaag vir die stryd,

om God almagtig na die kroon te steek ...

Desnieteenstaande, deur alle eeue heen bly sy troon staan.

Sy troon is daar van ouds af.

En God self is daar van ewigheid af.

Die HERE is geweldig, almagtig in die hoogte.

 

Wat ‘n lofsang, gemeente!

Soos ‘n Halleluja-koor op volle sterkte.

Ons weet nie wie die digter was nie, maar ons kan ons voorstel hoe dit daar by die tempel moes geklink het – ‘n see van stemme, trompette, simbale.

Want inderdaad, hierdie uitbundige lofsang het by die tempel geklink.

Daarmee sluit die digter af.

Hierdie psalm besing nie bloot die almag van een of ander God in die hemel nie.

HERE is sy Naam, Jahweh, Israel se Verbondsgod!

En in die laaste vers sing die digter van nog iets wat nie sal wankel nie, wat tot in lengte van dae sal voortduur, naamlik:

“U getuienisse is baie betroubaar”.

Dit bring ons by die tweede punt:

 

2. Omdat sy troon vasstaan, staan ook sy getuienisse vas

Net soos sy troon rotsvas staan, so ook sy getuienisse.

Wat vir die HERE se troon geld, geld ook vir sy getuienisse.

Soos die branders van die oseaan onophoudelik teen sy troon aanbeuk, so verduur sy getuienisse ook die aanhoudende aanslag van die sondige afvallige wêreld.

Daar was nog nie ‘n tyd op aarde na die sondeval waarin God se getuienisse, sy gebooie, sy wil, nie bevraagteken, bekritiseer, belaglik gemaak is nie.

In elke nuwe eeu word daar geprobeer om aan te toon dat sy gebooie nou ouderwets geraak het.

Elke nuwe generasie leef asof sy gebooie onbelangrik is, asof sy gebooie die lewe net onaangenaam maak.

Asof God se wil vir die mensdom irrelevant geraak het.

“Daar is geen God!” en rustig stap hy aan – soos ons in Psalm 10 oor die goddelose gesing het.

Geen God, geen gebod.

Dit kenmerk soveel mense se lewens op aarde.

 

Maar is dit al wat op aarde klink?

Nee, by die tempel klink ‘n ander geluid.

‘n Loflied, nie net op God en sy troon nie, maar ook op sy gebooie:

U getuienisse is baie betroubaar!

Wat beteken dit?

Wel, ons ken die woord betroubaar in verband met dinge wat lank hou, soos ‘n betroubare motor.

Ons gebruik die woord betroubaar vir iets wat werk soos dit veronderstel is om te werk.

Daar is konsistensie, ‘n vaste patroon.

Dis nie dat dit die eendag werk, en die volgende dag nie wil werk nie.

Nou so is die HERE se gebooie ook betroubaar.

Wie hulle daaraan hou, sal die vrugte pluk.

God het sy gebooie aan sy volk gegee sodat hulle ‘n gelukkige, gesonde, stabiele, welvarende lewe in die beloofde land kon lei.

Soos daar ‘n rooi stoplig is wat ons waarsku vir gevaar, so ook sy gebooie.

Wie rooi stopligte ignoreer, gaan seerkry.

Dit is ‘n wetmatigheid.

Sodra mense van sy gebooie afwyk, kom daar ongelukkigheid, seerkry, rampspoed.

Die digter praat uit ervaring.

So lank die volk by God en sy gebooie bly, is hulle verseker van ‘n goeie lewe.

Sodra hulle van sy getuienisse begin afwyk, kom daar verseker ongeluk en swaarkry.

Sy getuienisse is baie betroubaar, hulle bly waar, hulle bly aktueel.

Dis nie dat in ‘n nuwe eeu dinge anders gaan werk nie.

As mense meen dat hulle anders kan begin lewe, byvoorbeeld die 4e gebod nie meer ernstig neem nie, of die 5e, 6e, 7e, 8e, noem maar op, watter gebod ook, vroeg of laat gaan hulle die gevolge agterkom.

Of daardie mense in die tyd van die digter gelewe het, lank gelede, of dat hulle nou lewe, die gevolg, die uitkoms van die afwyk van God se gebooie bly dieselfde.

En net so bly dieselfde seën rus op die nakom van sy gebooie, in watter eeu of land en deur watter mense ook al.

                                                    

Dus ja, Psalm 93 klink nie orals op aarde nie.

Maar dit klink wel by God se huis.

Daar besef die mense wel hoe standvastig en betroubaar God se troon is en ook sy getuienisse.

Daar lewe hulle wel gehoorsaam aan sy gebooie.

Soos die psalm afsluit: “Heiligheid pas by u huis, HERE”.

Heiligheid is ‘n woord wat dui op toewyding aan God en sy diens.

Dit kenmerk die mense wat by sy huis bymekaarkom.

Hulle lewe anders.

En ook vir hulle geld dat hulle sal standhou tot in lengte van dae – net soos God se troon en sy getuienisse – die laaste woorde van hierdie psalm.

In die digter se tyd was God se huis sy tempel.

Maar toe die tempel tot ‘n val gekom het, het God se huis wel op aarde bly bestaan.

En dit sal bly bestaan, tot in lengte van dae.

Soos ons in die Heidelbergse Kategismus bely:

“Die Seun van God vergader, beskerm en onderhou vir Hom ‘n gemeente ... van die begin van die wêreld af tot die einde toe”.

Ja dit is God se werk!

Die feit dat daar altyd ‘n skare sal wees wat lofsing by God se huis, dit is te danke aan die feit dat God se troon vasstaan, en dat sy getuienisse vasstaan, dat hulle die tyd verduur.

Kinders leer in ‘n gehoorsame opvoeding ontsag hê vir sy gebooie.

Ou mense kry opnuut ontsag as hulle – dikwels deur skade en skande – uit lewenservaring agtergekom het hoe betroubaar die gebooie van die HERE inderdaad is!

 

Die psalm gebruik die Naam HERE vir God – vier hoofletters.

Dit is die God wat met sy kinders ‘n verbond gesluit het.

Die God wat sy volk bevry het en hulle in staat gestel het om sy gebooie na te kom.

Die God wat alles aan sy kinders gee wat Hy van hulle vra.

Ja die God wat selfs sy eie Seun gegee het, toe Hy sien dat sy volk elke keer weer in hulle sondigheid van Hom afgedwaal het.

In Christus word hierdie psalm weer bevestig, weer waar bewys.

Christus het op die troon plaasgeneem, en Hy regeer vir ewig.

Christus het sy Heilige Gees uitgestort, sodat sy gemeente steeds sal bly bestaan, steeds sy lof sal besing, steeds in die pad van sy getuienisse sal bly wandel.

 

Ja soms ervaar jy hoe die storms van die lewe oor jou heengaan.

Hoe die branders teen jou lewenshuis breek.

Angs vir die dood, angs vir die toekoms, vrees dat jy jou werk mag verloor, vrees dat jou huwelik op die rotse gaan loop, jy hou jou hart vas oor jou kinders of kleinkinders.

Dan is daar die storms van die sondige wêreld wat ook gelowiges nie spaar nie.

Die drang na wêreldgelykvormigheid.

Die druk om ‘n gehoorsame lewe aan sy Woord op bepaalde punte op te gee, ter wille van tydelike gewin.

Om ons heen is daar kerke wat toegegee het aan die druk van die tyd.

Kerke na links, maar ook kerke na regs.

Dit is so verleidelik vir voorgangers om te begin preek wat die mense graag wil hoor.

Om die skerp puntjies van God se gebooie af te veil.

Ja die geweld van die oseaan se golwe spaar ons nie.

Dit voel soms of dit ons onderstebo slaan, van ons voete afslaan, ons laat tuimel dat ons nie meer weet waar bo en onder is nie.

Tog mag ons as gelowiges vashou aan Jesus se versekering:

Elkeen wat na my woorde, my getuienisse luister en dit doen, is ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.

En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

Ons lewensfondament is op die rots van sy getuienisse, wat standvastig is omdat Christus se troon standvastig is.

Daarenteen is hulle wat sonder God en sy gebod lewe, hulle wat sy gebooie aanpas aan die eise van die tyd, sonder fondament.

Hulle lewenshuis is op sand gebou.

Die reën het geval, die waterstrome het gekom, die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en sy val was groot!

 

Sonder Christus sou ons ook ten onder gegaan het in die golwe.

Die golwe van die wêreldsee wat teen God se troon in opstand kom.

Maar Christus is die rots van ons behoud.

Vir die ongelowiges is hy ‘n rots van struikeling (Rom 9:33), ‘n rots waarteen hulle stukkend breek, soos die branders teen die kus.

Maar vir elkeen wat by Hom skuil is Hy ‘n rots om op te bou.

“Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is 'n ewige rots.” (Jes. 26:4)

Ja die HERE se koningstroon staan vas vir ewig.

En omdat sy troon vasstaan, staan ook die wêreld vas.

En omdat sy troon vasstaan, staan ook sy getuienisse vas.

 

En daarom sing ons vandag nog steeds Psalm 93, net so uitbundig soos die volk destyds by die tempel.

Dit is ‘n psalm waarby uitbundige musiek pas, soos die pragtige melodie waarop ons dit sing.

Dis ‘n psalm waarby orrel, trompette en simbale pas.

Die lofgeluid van hierdie psalm moet bo die geraas van die branders van die see uitstyg.

Dit moet bo die geraas van die afvallige wêreld uitstyg.

Dit moet ongelowiges, as hulle dit hoor, in hulle spore laat vassteek, hulle monde laat oophang, as hulle so ‘n oorweldigende Halleluja-koor hoor.

Dit moet hulle iets laat proe en ervaar van God se grootheid en majesteit.

Ja so evangeliseer ons met Psalm 93.

Dit moet ontsag inboesem by ‘n wêreld wat nie meer in God of gebod glo nie.

Dit moet die vensters oopmaak na ‘n groter perspektief vir mense wie se lewens beperk is tot hulle eie kortstondige horison.

En Psalm 93 is nie die enigste nie.

Dink ook aan Psalm 95: “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!”
 

Ken ons kinders al Psalm 93?

As hulle dit sing, klink die waarheid so helder uit kinderstemme.

Uit die mond van kinders en suigelinge berei God vir Homself lof (Matt 21:16).

Dit het Hy in die tyd van die digter gedoen, eeue gelede.

Dit het Hy in die tyd gedoen toe die Here Jesus op aarde was.

Toe die tempel ‘n rowerspelonk geword het, toe het Christus die loflied op die tempelplein weer teruggebring, die loflied uit kinderstemme.

En so sing kinders Psalm 93 vandag nog steeds.

Die een geslag dra die loflied oor op die volgende, tot in lengte van dae.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 10:3

Wet

Ps 10:9

Gebed

Skriflesing: Psalm 8 & Mattheüs 7:24-29

Ps 2:1,2,5

Teks: Psalm 93

Preek

Ps 95:1-4

Gebed

Kollekte

Ps 93:1-4

Seën