‘n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-03-20
Text: 
Prediker 4:9-12
Preek Inhoud: 

Die boek Prediker is ‘n aparte Bybelboek.

As mens dit so lees – alles is tevergeefs – alles is sinloos – dan klink dit danig sinies.

Die Prediker skil die lewe af soos mens ‘n perske afskil.

Wat is daar in die lewe wat ewigheidswaarde het?

Wat is daar in die lewe wat nie sal bederf nie?

Hy skil en skil tot hy by die harde pit uitkom.

Die res is sinloos, is sy gevolgtrekking.

 

Ook Prediker 4 is ‘n deprimerende hoofstuk.

Maar tussen hierdie donker gedagtes staan skielik die mooiste woorde, die teks wat die bruidspaar vir hulle huweliksdag gekies het.

‘n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie.

Dit het seker die bekendste woorde uit die Predikerboek geword.

In baie tale het dit ‘n spreekwoord geword.

‘n Ligpunt in ‘n origens donker boek.

Dit laat my dink aan hierdie tyd van die Covid pandemie.

Daar is so baie mense wat siek raak.

Daar is so baie beperkings wat aan sosiale kontakte opgelê word.

Maar midde in hierdie donker tyd sit daar wel hier voor ons ‘n stralende bruidspaar.

‘n Teken van hoop vir die toekoms!

 

Ons tema is: ‘n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie.

 

Kom ons kyk vir ‘n oomblik watter boodskap ons teks, nie net vir Joniel en Lanadene, maar vir ons almal bevat.

Ons teks staan in die konteks van dat dit eintlik sinloos is om te swoeg op aarde.

As mens vir ‘n oomblik nugter daarna kyk, geld dit vir ons almal.

Ons swoeg en strompel voort van dag tot dag.

Ons werk onsself moeg om geld te verdien om aan die lewe te bly.

Ons werk ons lewe om en voor ons ons oë oopmaak het die dag van ons pensioen aangebreek.

En selfs as ons in staat was om voldoende pensioen vir ons oudag op te gebou het, sit ons dan met die vraag:

Wat was die nut van dit alles?

Het ek nou my hele lewe gewerk vir my oudag?

Dikwels gaan jou oudag gepaard met toenemende liggaamlike klagtes.

Watter sin het dit gehad dat ek kapitaal opgebou het?

Maak dit my nou gelukkig?

En dan is daar die geval van mense wat te sterwe kom voordat hulle van al hulle spaargeld kon geniet het.

Hulle laat dit agter vir iemand anders.

 

En wat dan nog triester is, is iemand sy hele lewe lank alleen swoeg.

Sonder ‘n tweede.

Sonder ‘n lewensmaat, sonder familie, sonder kinders.

Daar is geen einde aan sy inspanning nie.

En as hy dit regkry om rykdom te verwerf, raak sy oë nie versadig daarvan nie.

Dit wil sê: die rykdom op sig maak hom nie gelukkig nie.

 

Dit is dus, in kort die konteks.

Nou besef ek dit is nie ‘n baie opbeurende begin vir ‘n troupreek nie.

Tog het dit waarde om dit ook vandag te noem.

As julle lewenspaaie vanaf vandag saam verder gaan, Joniel & Lanadene, moet julle wel besin waarvoor julle gaan lewe, waarvoor julle julleself gaan vermoei en doodwerk vir die res van julle lewe.

Net rykdom gaan nie vir julle geluk bring nie.

As julle die komende vier dekades gaan swoeg en sweet, net om ‘n mooi pensioen op te bou sodat julle van julle oudag kan geniet, dan is julle lewe sinloos.

Laat ek dit nou maar reguit vir julle sê, en ook vir elkeen wat vandag hier is of aanlyn inskakel.

 

Beteken dit dan dat daar geen geluk in hierdie lewe te belewe is nie?

Nee, daar is.

En as Prediker dit sê, dan is dit ook regtig so!

Want die Prediker sê nie gou iets positiefs nie.

Maar wat die Prediker beskou as ‘n onteenseglike voordeel in hierdie lewe, iets wat uitermate positief is, iets wat nie net in die toekoms nie, maar ook in die hier en nou vreugde en vervulling bied, dit is die seën van saamwees.

Twee is beter as een.

Dit is die mees basiese uitgangspunt van die huwelik.

Die Prediker se woorde echo wat die Here in die paradys gesê het:

“Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.” (Gen. 2:18)

Die Prediker noem die voordele van saamwees:

Hulle het ‘n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid.

Hierdie sin wil nie sê dat hulle met twee salarisse meer verdien as met net een nie.

Dis nie wat hier bedoel word nie, want in die vorige vers het die Prediker nog gewaarsku dat rykdom nie geluk bring nie.

Die goeie beloning lê in die saamwees.

Die saamwees op sig is ‘n beloning!

En waar kom dit nie mooier en volmaakter uit as in die huwelik nie!

Man en vrou is geskape om by mekaar te pas.

Om mekaar in elke opsig aan te vul.

Dit was reeds in die paradys so, toe daar nog geen sonde, ellende en teenspoed was nie.

En na die sondeval is dit net nog meer waar.

Want as die een val, kan die ander sy maat ophelp.

Val kan wees letterlik of figuurlik.

Jy kan letterlik val en seerkry, jy kan in ‘n motorongeluk betrokke wees en verlam raak, jy kan ‘n ongeneeslike siekte kry en totaal afhanklik word.

Vandag gee God aan jou ‘n lewensmaat wat by jou gaan bly, deur dik en dun, in voor- en teëspoed, in rykdom en armoede, in gesondheid en siekte.

Ja dit is ‘n rykdom wat julle reeds hier op aarde kan geniet.

Die saamwees in alle omstandighede.

 

Vervolgens gebruik Prediker nog ‘n beeld, wat nog sprekender is.

As twee bymekaar lê, kry hulle warm.

Maar hoe kan een warm word?

Natuurlik kan een warm word.

Tot dusver het julle alleen geslaap en kon julle warm word.

Maar elke getroude mens sal vir julle kan vertel dat bymekaar lê net soveel beter is.

Ook hierdie is ‘n beeld.

Dit gaan oor meer as om in die winter nie koud te kry nie.

Jou lewensmaat sorg vir warmte in jou bestaan.

As jy alleen is, al het jy soveel geld, voel die lewe kil.

Jy verlang na iemand om dit mee te deel, om jou lewe mee te deel, om saam te lag, saam te geniet, saam te huil, saam bekommerd te wees, saam die teenslae van die lewe te bowe te kom.

 

En dan, in verband met die teenslae in die lewe, skakel die Prediker in die volgende vers oor van twee na drie.

Ons moet onthou, hy praat in ons teks nie uitsluitend oor die huwelik nie.

Wel kan ons teks perfek op die huwelik toegepas word, synde die lewenslange band tussen twee mense.

En ook vers 3 kan op die huwelik toegepas word.

‘n Driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.

Mens kan vertaal: lyn, of koord, of tou.

Vergelyk ‘n dun toutjie met daardie dik toue waarmee ‘n skip aan die kade vasgemeer word.

As jy mooi kyk, sal jy sien dat so ‘n dik tou eintlik bestaan uit ‘n klomp dunner toue wat saamgevleg is.

Juis daardeur word dit so sterk.

‘n Driedubbele tou word onbreekbaar.

Op die huwelik toegepas: jy, jou lewensmaat, en die Here.

Dis ‘n driedubbele bondgenootskap wat onverbreekbaar is.

Ja daar is sterk kragte in hierdie lewe wat aan jou gaan trek, en wat aan jou huwelik gaan trek.

Daar mag dae kom wat jy bevrees gaan wees dat jou huwelik maar aan ‘n dun draadjie hang.

Dis nou as dit van ons afhang.

Maar as vandag jou huweliksverbond gesluit word as ‘n driedubbele koord, dan sal dit standhou, dan sal die duiwelse kragte in hierdie wêreld dit nie stukkend kan trek nie.

Wat ‘n voorreg om saam met die Here die toekoms in te gaan!

 

En as dit so is, dan moet die oproep ook vandag klink:

Moenie hierdie driedubbele band verwaarloos nie.

Moenie sukses en promosie en geld en roem en status in jou lewe najaag ten koste van jou lewensmaat, of ten koste van jou band met die Here nie.

As die Here groot bly in jou lewe, as Hy groot bly in jou huwelik, dan sal dit goed gaan.

Hierdie beeld van ‘n driedubbele tou sluit aan by die hoofboodskap van die Prediker se hele boek, soos ons dit heel aan die einde vind:

“Vrees God en hou sy gebooie” (Pred. 12:13).

As jy naby God lewe, dan is jou lewe nie sinloos nie.

 

Daar is baie mense wat reeds op hulle troudag wonder of hulle huwelik gaan standhou.

Daar is baie huwelike wat nie eers ‘n dekade oorleef nie.

Die meeste kinders in Suid-Afrika groei op in enkelouergesinne.

Tog mag ek julle vandag verseker:

Wie in vertroue op die Here sy huwelik begin, mag met sekerheid begin, sekerheid dat dit tot die einde sal hou.

En nie net hou nie, maar ook floreer.

Nie dat daar beproewings, soms sware beproewings gaan kom nie.

Maar julle sal mekaar kan ophelp, as een geval het.

En elkeen van julle gaan val, vroeër of later.

Maar nog belangriker, selfs as julle mekaar nie sal kan ophelp nie, is daar die Here wat julle sal ophelp.

As daar in die Bybel staan: Wat die Here saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

As dit is wat God eis, dan mag ons seker weet dat Hy ook sal gee wat Hy vra.

Hy sal die kragte gee, die volharding, die geduld, en boweal die liefde, wat nodig is vir ‘n lewenslange gelukkige huwelik.

Hierdie driedubbele band sal nie verbreek kan word nie.

 

Joniel en Lanadene, met hierdie boodskap mag ons julle die toekoms instuur.

Hou vas aan julle Skepper, lewe daagliks naby sy Woord, gaan daagliks na julle Verlosser om vergewing te vra, ontvang daagliks uit sy vergewing die krag om ook mekaar te vergewe.

Neem dit dag vir dag.

Moenie vergeet om elke dag julle saamwees te waardeer nie.

Want die Prediker sê, daar is nie veel beters in hierdie lewe nie.

Die najaag van rykdom, die hê van rykdom, dit gaan vir julle nie ‘n groter, ‘n intenser vreugde bied as om saam te wees nie.

Onthou dit!

Saamwees.

Dit is julle grootste rykdom.

 

In die Bybel word die saamwees van Christus en sy kerk met ‘n huwelik vergelyk.

In die eerste plek dink ons dan aan die onderlinge saamwees as broers en susters in die gemeente.

Dink aan Psalm 133:

Hoe goed, hoe mooi, as broers ook werklik saam woon,

in eensgesindheid voor die HERE lewe,

dit is ‘n seën vir altyd.

 

En in die tweede plek dink ons aan die gesamentlike band met ons Hoof, Jesus Christus.

As bruidsgemeente verlang ons om saam met Hom te wees, as Hy weer terugkom.

Daardie saamwees op die nuwe aarde gaan die hoogste geluk wees.

Julle saamwees in die huwelik mag ‘n afspieëling daarvan wees.

Dit is ‘n belangrike opdrag vir julle huwelik.

Julle is twee Christene, gelowiges wat van God die krag kry om julle huwelik te laat werk, om gelukkig te wees en te bly in julle huwelik.

So vorm julle huwelik ‘n bewys dat saamwees nog moontlik is op hierdie gebroke aarde.

Dat daar inderdaad nog iets soos liefdevolle toewyding bestaan.

Die Satan het eensaamheid, haat en afguns op hierdie aarde gebring.

Maar God is liefde, en sy liefde verbind.

So mag ook julle huwelik die hemelse kragte demonstreer in hierdie gebroke wêreld.

God se liefde wat Hy aan ons in Christus bewys het, is sterker as enigiets anders.

Dit sal hierdie wêreld gesond maak.

So mag julle Christelike huwelik die voorbode wees van beter tye wat op koms is vir hierdie aarde.

Moenie dit vergeet nie.

Julle lewe nie net vir julleself in die huwelik nie.

Julle huwelik staan ook in diens van die koms van God se koninkryk.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum en seënbede

Gesang 163

Gebed

Skriflesing: Prediker 4

Ps 63:3

Teks: Prediker 4:9-12

Preek

Ps 150:1,2,3

Huweliksformulier

Bruidspaar beantwoord vrae

Oorhandiging van ringe

Gebed, afgesluit met die sing van die Onse Vader (bruidspaar kniel)

Seën oor bruidspaar (bruidspaar kniel)

Ps 134:4 (bruidspaar kniel)

Ondertekening van huweliksregister