Reken met die koninkryk gedurende die tyd wat jy op aarde is

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-02-28
Text: 
Lukas 16: 9-13
Reference: 
2108A
Preek Inhoud: 

Doel

-    Leer gelowiges hoe om hul geld en besit te hanteer as ’n teken van dissipelskap
-    Onderrig oor hoe ons dade nou ons ewige bestemming bepaal.

Inleiding

Dis nou ’n snaakse verhaal: ’n skelm is ’n voorbeeld vir ons?! Hy is oneerlik!
Is geld nou jou vriend, of ’n gevaar?
Raak jy nie in verwarring deur hierdie gelykenis nie?
Dit klink ook asof ons met ons optrede ’n plek in die hemel kan verdien: “maak vriende met die ‘onregverdige mammon’, en hulle sal jou in die ewige tente ontvang.”

Ons het voldoende redes om hierdie gelykenis nie te ignoreer nie, maar om na die evangelie van die koninkryk te luister.

Reken met die koninkryk gedurende die tyd wat jy op aarde is
1 -    Moenie reken op wat jy in elk geval sal verloor nie
2 -    maar investeer dit in die toekoms.

1 Moenie reken op wat jy gaan verloor nie

Die vorige hs, Lukas 15, gee vir ons 3 gelykenisse oor mense, diere, dinge wat verlore is (skaap, muntstuk, seuns). Jesus gaan soek hulle op. Hy spreek hierdie gelykenisse teen die Fariseërs. Hulle het afwysend gestaan teenoor sondaars wat hulle bekeer het. Hulle kon hulle nie daaroor verheug nie.
Hierdie hoofstuk is ’n voortsetting, maar nou praat Jesus met daardie mense wat tot bekering gekom het: almal wat hom volg. Jesus het hulle aangeneem. 

Nou vertel hy vir hulle ’n gelykenis.

Daar is ’n ryk man wat meerdere plase besit. Hy het ’n slaaf as rentmeester aangestel. Hy is in beheer van die besittings van sy heer terwyl die eienaar ver bly.
Dan kom dit die eienaar ter ore dat die rentmeester skuldig is aan wanbeheer. Hy ontbied hom en hy moet sy boeke wys en verantwoording aflê.
Dis duidelik ‘n saak van wanbeheer, nie van diefstal nie. Die rentmeester het skulde laat ophoop, en die geld is spoorloos. (Dieselfde woord word gebruik vir die verlore seun, wat die geld van sy pa mors en verkwansel). Die rentmeester word nie in die tronk gegooi nie, maar kry tyd om rekenskap af te lê. Hy besef dat die boeke sal uitwys dat hy die besit van sy meester sleg beheer het.
Hy weet hy gaan sy inkomste verloor. ‘Wat maak ek dan?’ dink hy.

1.1    Die crook maak ’n slim plan

Maar hy besef hy het nog tyd voordat hy alles verloor. Sy kundigheid, wat hy nie vir sy meester aangewend het nie, gaan hy skielik gebruik om te oorleef.
Hy kom met ‘n sluwe plan. In die tydjie wat hy nog in beheer is, maak hy handig gebruik van die skulde wat hy laat ontstaan het. Sy wanbeheer word sy redding!
Hy roep die skuldenaars in en verander hulle kontrakte. Hy kan dit nog doen voordat hy by sy heer moet opdaag en verantwoording gee.
Hy roep al die skuldenaars in en gee vir hulle ’n groot skuldvermindering. Vir die een word 1000 liter olie kwytgeskeld, vir ’n ander ’n vergelykbare bedrag in koring. Dit kos hulle niks nie! Die rentmeester verminder die skulde en koop daarmee die lojaliteit van die skuldenaars. Hulle sal in die toekoms natuurlik onthou wie hulle soveel geld gespaar het... Die rentmeester se toekoms is seker!

1.2    Verrassende wending

Jy sou verwag dat die eienaar nog kwater word sodra hy dít hoor. Hy sal hom tog seker nie net sy werk ontneem nie, maar dalk lyfstraf gee of in die tronk gooi?

Dis waar die gelykenis ’n wending neem.
Die eienaar prys die slaaf wat hom benadeel het!

Hoe nou? Hy verloor nou tog nog meer geld?!
Die heer het bewondering dat die slaaf verstandig opgetree het: hy het die skulde gebruik om sy toekoms veilig te stel.

1.3    Hoe jy ‘n gelykenis moet verstaan

Elke gelykenis is ‘n verhaal met herkenbare elemente uit die daaglikse lewe in Israel: ‘n saaier, ‘n visnet, suurdeeg, ens.
Dit lyk ‘n interessante storie wat help om dinge te verstaan, maar dit is vergelykinge om dinge te verhul vir díe wat nie in Jesus glo nie. Mooi luister: geloof is nodig om dit te verstaan!
En die sleutel vir die verstaan van ‘n gelykenis is altyd die verrassing, die skokkende in die verhaal. Ons vind dit in v. 8: die eienaar prys die oneerlike rentmeester omdat hy op ’n slim manier opgetree het!
Dit gee ook die konklusie van die gelykenis: 
“Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.”
Jesus gebruik hierdie gelykenis om vir sy volgelinge te leer wat hulle moet maak met hulle geld en besit terwyl hulle nog op aarde lewe.
Die les vir dissipels, ook vandag, begin in v. 9:
“En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

Daar is ’n paar dinge wat moeilik is om te verstaan.
Die kinders van die lig’ is die volgelinge van Jesus.
Maar hoekom praat Jesus van die ‘oneerlike mammon’? Hoe kan ons dit gebruik op ’n manier wat Jesus goedkeur?

1.4    Ons het alles verbeur

Ons moet hs 16 lees as ’n vervolg van hs 15. Onthou die drie gelykenisse daar: die verlore skaap, die verlore muntstuk + die verlore seuns.
Vir die Fariseërs was die drie gelykenisse ’n vermaning om bly te wees wanneer verlore sondaars tot bekering kom en aangeneem word.
Nou praat Jesus met sy disspels, wat juis daardie verlore sondaars is. Hulle het deur hulle sonde alles verloor, soos die verlore seun al sy geld verkwansel het. Sondaars staan met leë hande voor God.
Dis ook ons posisie: ons het dan wel huise, inkomste, geld, en ander dinge, maar ons moet elke dag besef dat ons nie die reg het om dit te ontvang nie. Ons sondes ontneem ons daardie reg om dit te hê. 
Dis wat Jesus bedoel met die ‘onregverdige mammon.’

Ons moet dus goed besef dat ons leef op geleende tyd en met geleende geld. Ons is nie die eienaars nie, maar rentmeesters. Dis God se geld en goed, en hy plaas dit in ons hande solank as wat hy verkies.

Die dissipels is dus kinders van die lig, wat in hierdie wêreld leef met ’n ander se eiendomme. Ons het reeds die aansegging gekry: dit gaan ons eendag ontval, afgeneem word. Hoe verander dit die manier waarop ons dit hanteer?
Jy sien môreoggend dadelik hoe relevant dit is: jy het inkomste gekry aan die begin van ’n nuwe maand. Jy word wakker in jou bed, in jou huis. Jy klim in jou motor.

1.5    Gebruik geld en besit op ’n slim manier

Jesus sê in die eerste plek dat ons die dinge van die wêreld nie op dieselfde sluwe manier soos die ongelowiges gebruik nie.
Die mense van hierdie wêreld besef dat hulle net een lewe het. Soos wat jy op 4x4 voertuie kan lees: ‘Only one life. Live it!’ En baie van hulle leef en geniet soveel as wat hulle kan, want môre kan dit verby wees.
Daardie besef dryf baie mense en maak hulle baie slim in die hantering van geld, posisies, en ander magsmiddele. Soveel so, dat hulle selfs die wette oortree!

Teenoor daardie mense kan christene nogal agteloos wees met die besittings van hierdie wêreld.

Ons kan dink ‘dis eintlik maar bedenklik om ryk te wees’. Daardie ‘vuil geld’, ons moet maar nie teveel daarvan hê nie. 
Of: geld kan ’n groot verleiding vir jou wees. En die woorde wat Jesus gebruik ‘die onregverdige Mammon’ kan ons daarin bevestig.

Dit gebeur ook dat ons partykeer nie omgee of ons ons geld goed gebruik of nie. 
’n Voorbeeld:
Ons het almal seker reeds geld gegee vir mense wat met hartseer stories kom. Die een man staan by jou hek en sê hy het hierdie nag in die veld geslaap en het geld nodig om Witbank toe te gaan omdat sy ma siek is. Daar is net nog R200 wat hy kortkom… Later verneem jy dat hy by ander huise dieselfde hartseer storie vertel het. ’n Ander samel geld in vir ’n kinderhuis met ’n lys wat 6 maande oud is. Party mense het regtig hulp nodig, en dis goed om hulle te help. Maar ander is skelms.
Maar hoe reageer ons wanneer ons uitvind dat die storie ’n leuen was, en ons ons geld gemors het? Ek het meerdere kere met christene gepraat  wat sê: ‘nou ja, ek is nie verantwoordelik vir wat hulle daarmee maak nie. Ek hoop maar hulle gebruik dit goed.’
Dit is ‘n gemors van geld, en dit ontmoedig jou om wanneer daar regtig iemand is wat in nood is, hulle te leer ken en hulp te bied wat ‘n verskil maak.

Daarom is dit nodig dat jy en ek ons hart ondersoek: wat is my houding teenoor geld? Beskou jy dit as iets wat joune is, waarop jy reg het vanweë jou harde werk?
Of sien jy dit as deel van die tydelike wêreld, wat eintlik minder belangrik is? Of as iets wat selfs sleg en gevaarlik is?

Ons moet eers van ons eie houding bewus word. Dan kan ons die boodskap van hierdie gelykenis beter verstaan, en kan ons verander.

Jesus waarsku dat Mammon ‘n afgod is wat jou hart oorneem: v. 13. Wanneer geld en besit jou in beweging bring en jou verbeelding en planne en motiewe begin beheers, kan jy dink jy’s vry, maar jy het ‘n slaaf geword. Op die einde van die dag dien jy óf ‘n dienaar van Jesus, óf jy is ‘n slaaf van Mammon. Jou hart kan net een heer hê.

Dan bly daar ‘n vraag by ons: wat maak jy nou met geld en besit as jy Christus as Heer volg en dien?
Moet jy dit vermy, omdat jy bang is dat jy die verleiding nie kan weerstaan nie?

Ek dink ons besef seker dat ons geld nie volledig kan vermy nie. Jy kan tog moeilik jou inkomste weier.Jy moet tog ‘n brood koop, skoolgeld of jou eie klasgelde betaal, en ‘n medies hê. 
Maar moet ons dan ons geld en besit sodanig laag waardeer dat ons nie omgee hoe ons dit gebruik nie?
Daar is min mense wat dit regkry. Kloosterlinge kon ‘n gelofte van armoede aflê, maar die kloosters en abdye het groot besittings en baie mag gehad, en die paus in Rome het in weelde geleef!

Jesus hou die kinders van hierdie wêreld as ’n voorbeeld aan ons voor.
In die hantering van hulle tydgenote is die kinders van die wêreld listiger as die kinders van die lig.
Wat verwag Jesus van ons? Sy bevel is duidelik: (v. 9)
En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.

Ons weet reeds dat hierdie besit nie meer ons s’n is nie. Vanweë ons sondes het ons die reg daarop verbeur.
Daarom sê Jesus: gebruik dit om vriende te maak, wat jou in die ewige tente sal ontvang.

2. Investeer dit in die toekoms

Jesus stel dit eintlik baie spesifiek, duideliker as waarmee ons gemaklik is.
Jy moet jou aardse besittinge gebruik om jou toekoms te verseker.

Dit klinks selfs ongereformeerd. Ons saligheid is tog nie afhanklik van iets wat ons doen nie? Ons kan dit tog nie verdien - of bewerk - deur die gebruik van ons geld nie?
Mens dink sommer aan die aflaat in die roomse kerk, wat die Reformasie hartgrondig verwerp het. Jy kan jou saligheid niet koop nie.

Ons moet hierdie verrassende woorde van Jesus probeer verstaan sonder om die skerp punt daarvan af te breek.
Jesus was besig om sy dissipels te leer oor die koninkryk van die hemele. Sy leerlinge is die verlore skape en die verlore seun wat hy gevind het. Jesus het hulle in genade aanvaar. Maar wat sal gebeur wanneer hulle by die hemelpoorte uitkom? Daar is nog ’n pad om te stap. Hulle leef steeds in die huidige wêreld. Hoe gaan hulle as volgelinge van Jesus, as koninkrykskinders in hierdie wêreld leef?

Dis onmoontlik dat die hart en houding van sondaars nie verander as hulle gered word nie. = sondaars gaan verander!
Ons gaan alles in ons lewe op ‘n radikaal verskillende wyse bekyk en gebruik.
Op die verlossing uit genade alleen volg dissipelskap: toewyding van jou hart aan Christus, en gehoorsaamheid aan hom as jou Heer.

Jou veranderde houding sal aan die lig kom in hoe jy geld hanteer. Geld en besit is die currency van die wêreld: dit gee mag, dit bied jou keusevryheid en die illusie van onafhanklikheid. Hoe jy dit hanteer wys aan wie jou hart behoort: Jesus of Mammon.

In die gelykenisse van Jesus word dit duidelik dat jy nie sonder gehoorsaamheid in die ewige koninkryk ontvang sal word nie.
Dadelik in die volgende gelykenis word dit duidelik hoe dit werk.
Almal ken wel die gelykenis van die ryk man en Lasarus.
Dit is presies ’n uitbeelding van wat Jesus bedoel: die ryk man het nie met sy geld, die onregverdige mammon, vriende gemaak wat hom in die hemel sal ontvang nie. Hy het wel parties gehou met sy eie vriende, maar hulle is kinders van die duisternis. Lasarus egter, die kind van die lig, wat by sy deur gelê en ly het, het hy nie eers raakgesien nie en hom nooit enige barmhartigheid bewys nie.
Wanneer die dood kom, bevind die ryk man hom in die vuur van die hel. Hy roep uit na Abraham. Lasarus is by Abraham, maar die ryk man het sy geld nie gebruik om Lasarus te dien nie, en hy vind nou geen barmhartigheid nie. Lasarus is nie daar om hom te ontvang nie. (mooi illustrasie van ons gelykenis!)

Ander gelykenisse wys vir ons ook dat jou dade op aarde jou bestemming na die dood bepaal. 
In die gelykenis van die talente ontvang die meester die getroue slawe in sy fees met die woorde: “well done, goeie en getroue slaaf!” en hy word verwelkom in die fees van sy heer.
Die slaaf wat buitekant gegooi word, is die een wat geweier het om sy Heer te dien. Dit het die toestand van sy hart uitgewys: dit was vol afguns teenoor sy heer. Hy het hom nie liefgehad nie.

Die gelykenis van die skape en die bokke in Mt25 is nog radikaler: dit noem nie eers die geloof nie, maar dit gaan net oor wat die mense (wat gedink het dat hulle by Jesus behoort) gedoen het of nie gedoen het nie.
As jy nog twyfel, gaan lees Matteus 7, die einde van die bergrede: dis nie genoeg om ‘Heer, heer’ te roep nie, maar jy moet sy wil doen. Dis ook die betekenis van die gelykenis van die huise op die rots en die sand: die huis wat na die storm bly staan is ’n beeld van die persoon wat Jesus se wil nie net hoor nie, maar dit doen.

Ons moet nie die redding deur genade alleen nou in die vullisdrom gooi nie. Jesus sê met die woorde ‘onregverdige mammon’ ook dat ons geen regte meer het nie vanweë ons sondes. Ons word net deur genade aanvaar, vanweë die reddende werk van Christus.

Maar die fokus is hier op wat ons die res van ons lewe op aarde doen. Besef jy wel dat jy geen regte meer het nie? 
En verander dit hoe jy jou geld, besit, mag en invloed gebruik?
Gebruik jy dit steeds om jou eie lewe aangenaam te maak? 
Maak jy steeds weer depositos in die bankrekening van hierdie wêreld. En aan die einde van jou lewe gaan jy uitvind: alles het verdamp, niks oor nie!

Of bewys jy barmhartigheid teenoor mense wat hulp benodig, wat nie hulself kan verdedig nie, en wat deur die harde samelewing en die politiek nie raakgesien word nie?

Ons het seker almal reeds ’n tipe moegheid ervaar: ‘moet ek hierdie mense nou aanhou help? Hulle kom nie verder nie!’ Of ons raak moeg dat mense steeds maar weer vra, by jou hek opdaag, met ’n bordjie langs die pad staan. Jy voel skuldig, en jy wil graag van skuldgevoelens ontslae raak en jou lewe geniet.

Jesus wys hier vir ons dat ons moet aggee wat ons met ons geld maak. Moenie moeg word om goed te doen nie.
“Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.” (Heb 13,2) 
Abraham kan vir jou vertel! (Gen 18)

Ons gehoorsaamheid in die gebruik van ons geld wys ons of ons harte gelowig of ongelowig is.
’n Gelowige hart bring vrugte van gehoorsaamheid voort, soos ‘n goeie boom goeie vrugte voortbring.
In ’n tyd van pandemie en ekonomies swaarkry word dit baie vinnig duidelik: grawe jy in en soek jy jou eie beskerming en voorspoed? Of maak die genade van God jou nederig, gasvry, diensbaar, vrygewig? Teenoor almal wat hulp nodig het, in in die besonder vir geloofsgenote?

Jesus wil hê dat sy koninkryk ons waardes verander en ons hart laat oorvloei in barmhartigheid. Besef hoe solied en blywend sy koninkryk is. Die dinge van die wêreld verloor hulle glans en aantrekkingskrag.
Hierdie goed wat ons besit, is so tydelik!
•    dit kan reeds verkrummel terwyl ons nog lewe;
•    dit sal ons ontval wanneer ons hierdie lewe verlaat;
•    en dit sal in vuur vergaan op die dag van oordeel.

Dit het die vermoë om oor te neem en jou hart te beheers.
Maar wanneer jy in geloof jou hart toewy aan Christus en jou geld en besit op die altaar lê en aan hom oorgee, dien dit ‘n nuwe doel.
Nou is jy vry en gewillig om dit in die koninkryk te investeer!

Baie christene het dit reeds ervaar: jou geld kan ‘n middel wees om belangrik te voel, of jy kan mooi dinge koop om ’n ander te beindruk. Lewer jou hart uit aan geld, en jy word ’n slaaf. 
Maar onderwerp jy jou hart aan koning Jesus, dan is jy vry om barmhartig en diensbaar te wees. Dit gee jou ’n intense vreugde én ’n ryk verwelkoming in die hemele. Daar sal mense wees wat op jou wag en jou verwelkom, omdat jy met die liefde van Christus hulle gehelp het toe hulle in nood was.

Amen

Liturgie: 

Votum
Psalm 18:1
Psalm 125:1-4,6,7
Gebed
Skriflesings: Lukas 16:1-14 + Matthéüs 7:12-27
Skrifberyming 16:3-6,8
Preek: Lukas16:9-13
Skrifberyming 17:2,5,6
Sing geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Psalm 72:2,5,10
Seën