"Samuel, Samuel!" - God verbreek die profetiese stilte...

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-02-28
Text: 
1 Samuel 3:1, 20-21
Reference: 
Profete-Projek 3
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

In die vorige preek in die Profete Projek het ek gesê dat ons nie net dadelik na Jesaja 1 kan spring nie. Ons moet die lyn volg. Daardie lyn het begin by Moses, en vandag maak ons die oorgang na die volgende groot profeet, Samuel. Nou, dit is ‘n sprong van ongeveer 300 jaar – ‘n behoorlike lang periode. Maar dis nogtans ‘n geregverdigde sprong... – in die eerste plek as ons vasstel dat daar tussen Moses en Samuel nie werklik van enige ander profeet melding gemaak word nie; en ten tweede, wanneer ons sien hoe, in Jeremia se profesie, Moses en Samuel in een asem genoem word. In Jeremia 14 lees ons naamlik hoe Jeremia voorbidding vir die volk by die Here doen, maar dan reageer die Here in hoofstuk 15:1: “Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie...” Die Here sélf verbind dus Moses en Samuel. En dit maak sin, want hulle was manne van soortgelyke statuur: albei was leiers van die volk (Moses was die leier wat die volk uit Egipte uitgelei het, Samuel was die laaste rigter voordat die koningskap begin het); albei was groot profete; albei het priesterlike funksies vervul (hoewel nie een van die twee priesters in die lyn van Aaron was nie). Albei was dus manne wat op kritieke punte in Israel se geskiedenis ‘n belangrike en unieke rol vervul het.  

 

En daarom is dit geregverdig om vandag die oorgang te maak van Moses na Samuel. Maar as ons Samuel goed wil verstaan, dan moet ons darem iets weet van wat in die driehonderd jaar tussen hierdie twee groot figure gebeur het. Wel, baie kortliks: ná Moses se afsterwe het Josua die volk die Beloofde Land ingelei. En – só lees ons in die laaste verse van die boek Josua – tydens die lewe van Josua het die volk getrou die Here gedien (Jos. 24:31). Maar nadat Josua en sy generasie gesterf het, volg daar die sogenaamde Rigtertyd, ‘n periode wat treffend opgesom word in die laaste woorde van die boek Rigters: “... elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (Rig. 21:25). En dit is reg aan die einde van hierdie tyd van verval en van eiewillige godsdiens dat Samuel op die toneel verskyn – nie die beste tyd om gebore te word nie. Dit was werklik ‘n haglike periode in Israel se geskiedenis – en ons besef eers hoe haglik dit in werklikheid was wanneer ons in 1 Samuel 3:1 lees: “... en die woord van die Here was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie.” Onthou: daar was nog nie ‘n Bybel soos wat ons vandag het nie, en daarom het die Here in daardie tyd veral deur gesigte (of: visioene, drome) gekommunikeer. Dus, as daar nie baie gesigte was nie, dan het dit noodwendig beteken dat die woord van die Here ook skaars was. So skaars dat dit Eli, in ons Skrifgedeelte, driemaal vat om agter te kom: O wag, dis eintlik die Here wat na Samuel roep! Dit alles was die gevolg van jarelange verval en ongehoorsaamheid – en ongewoond raak om die Here se woord te hoor – gedurende die Rigtertyd.  

 

Nou, gemeente, veel erger as dit kan die volk van die Here nie oorkom nie – naamlik, dat die woord van die Here skaars raak. Of anders gestel: dat die stem van die Here stil word. Verseker, stilte kan vir ons mense dikwels heerlik en verkwikkend wees. Veral in ‘n wêreld wat 24 uur per dag, sewe dae per week bly raas en skreeu, waar die ekonomie bly draai, waar nuuskanale aanhoudend nuwe nuus uitblêr of ou nuus opnuut verpak, en waar sosiale media net aanhou voer en voer en voer – hoe heerlik kan die stilte dan wees! Maar asseblief net nie hierdie tipe stilte nie... Alles om my heen kan maar stil word, maar tog net nie die stem van die Here nie! Want dít is ‘n dóódse stilte...

Baie jare later beleef Saul persoonlik die vrees en die wanhoop wanneer die Here se stem vir hom stil word. Die Here se Gees, wat by sy salwing as koning oor hom vaardig geword het, het intussen van hom gewyk. En wanneer Saul in 1 Samuel 28 die Here raadpleeg om te hoor hoe hy teen die vyandige Filistyne moet optree, dan antwoord die Here hom nie – nie deur drome nie, nie deur die Urim nie, en nie deur die profete nie (1 Sam. 28:6). En ons weet wat hy dan vervolgens doen: hy gaan raadpleeg die towerheks van Endor, en sy roep vir Samuel uit die dood uit op. En wanneer Samuel vervolgens vra hoekom Saul sy rus versteur, dan antwoord Saul in vers 15: “Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie...” Verskriklik, hierdie stilswye van die Here...

Eeue later moet die profeet Amos hierdie stilswye as ‘n dreigement aan die volk voorhou; Amos 8:11-12: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.” ‘n Baie onheilspellende dreigement! En in Psalm 74, wat vermoedelik kort ná die verwoesting van die tempel gedig is, sien ons hoe hierdie voorspelling waar word. Ons lees in hierdie Psalm hoe die volk wegkwyn onder die toorn van die Here – wat in die eerste plek veroorsaak is deur die verwoesting van die tempel, maar vererger word deur die afwesigheid van die woord van die Here. Kyk maar na vers 9 (wat ons ook saam gesing het): “Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie” (Ps. 74:9). Daar is geen profeet meer nie, en daarom ook geen woord van God meer nie. Dit het stil geword in Israel – nie aangenaam-stil nie; nie verkwikkend-stil nie; nee, dodelik-stil. Nou, broers en susters, dit is hierdie doodse stilte wat al ‘n geruime tyd oor die volk Israel hang wanneer Samuel as jong seun sy plekkie in die tabernakel inneem.

 

“Samuel, Samuel!” Die jong Samuel haas hom na die bejaarde Eli; hy het seker iets nodig. Maar nee, dis nie Eli nie. Gaan lê maar weer, seun, dit was nie ek nie. Drie keer na mekaar gebeur dieselfde. Samuel verstaan nie, want (vers 7) “Samuel het die Here nog nie geken nie...” Maar natuurlik het Samuel die Here geken – sy ma het hom dan van die Here afgebid, en sy het hom daarna ook aan die Here gewy. Sou sy hom dan nie van hierdie Here vertel het nie? Natuurlik! Nee, hier word iets anders bedoel, en dit word vir ons duidelik gemaak in die tweede deel van vers 7: “Samuel het die Here nog nie geken nie (die eerste deel); ook was die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar nie.” Dus, in daardie spesifieke sin het Samuel die Here nog nie geken nie. Hy het nog geen ervaring gehad met die Here se openbaring nie; hy het nog nooit persoonlik ‘n profetiese woord van die Here af ontvang nie. Want onthou, die Here se woord was mos skaars in daardie dae. Maar dit is besig om te verander! In hierdie middernagtelike roep – “Samuel, Samuel” – klink die eerste, genadige bewyse dat die Here besig is om ná eeue die stilte te verbreek.

Maar hoekom? Was daar dan bekering onder die volk? Het die volk die Here begin opsoek? Nee, dit lyk nie so nie. Die teendeel was eerder die geval – ons lees immers in hoofstuk 2 dat die seuns van Eli, die priester, deugniete was; dat hulle die Here nie erken het nie; dat hulle die beste dele van die offervleis vir hulleself gevat het, sodanig dat die volk die offer aan die Here verag het (1 Sam. 2:17). Nee, daar was geen rede by die leiers of by die volk wat gemaak het dat die Here weer sy stem sou laat hoor nie. Dit was uit en uit die Here se genade wat gemaak het dat Hy nie langer stil kon bly nie. Ja, gemeente, dis die Here se karakter – Hy kan die stilswye net vir só lank volhou, dan moet Hy spreek; ons sien dit pragtig in Jesaja 42:14: “Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar...” Uitskreeu! Ja, dit is wat ons moet hoor in daardie middernagtelike roep: “Samuel, Samuel!” Daardie middernagtelike roep is die Here se genadige verbreking van die stilte, en dit is tegelykertyd die begin van ‘n stortvloed van profetiese woorde wat die Here deur Samuel tot sy volk sal spreek (en behalwe vir Samuel was daar ook nog die profeteseuns as ekstra bewys van hierdie stortvloed – gaan luister maar weer na die laaste paar oordenkings). Dus, waar ons in die eerste vers van hoofstuk 3 lees dat die woord van die Here skaars was in daardie dae, lees ons in die laaste verse dat die Here weer in Silo (daar waar die tabernakel, die huis van die Here, gestaan het) aan Samuel begin verskyn het (vers 21). Hy het Hom deur sy Woord aan Samuel geopenbaar, sodat die hele Israel van Dan tot Berseba (van die noorde tot die suide – dus, die hele land) erken het dat Samuel betroubaar was as ‘n profeet van die Here (vers 20). Die Here het nie een van al Samuel se woorde onvervuld laat bly nie (vers 19). Vir basies 200, 300 jaar lank was die kraan van God se openbaring toe, was daar ‘n profetiese droogte – as gevolg van die volk se sonde en hardkoppigheid en afval. En dan – uit pure genade en onbegryplike liefde – draai God die kraan wyd oop en roep Hy uit: “Samuel, Samuel...”

 

En as ons nou Samuel se profetiese loopbaan nagaan, as ons luister na wat die Here presies deur hom tot die volk gespreek het, dan sien ons dat feitlik al sy profesieë daarop gemik was om hierdie nuwe genade nie weer te verloor nie, om nie weer toe te laat dat die Here se stem sou stil word nie.

Die eerste van Samuel se agt profesieë wat in die Skrif vir ons opgeteken is, is die een aan Eli in hoofstuk 3 – ‘n moeilike boodskap, een waarvoor Samuel dan ook terugdeins; ‘n boodskap van oordeel en straf oor Eli en sy huis. Maar die Here is nogtans baie duidelik: die priesterlike lyn wat die volk van die regte spoor laat afdwaal het, sal uitgewis word. Die tweede profesie vind ons in 1 Samuel 7:3, waar Samuel die volk oproep om die afgode te verwyder en hulle tot die Here te bekeer – ja, dis die hart van die probleem, dis die kern waarom die Here in die eerste plek Homself die stilswye opgelê het, naamlik die volk se afgodery. Gaan kyk maar na die voortdurende afval en afgodery in die Rigtertyd – dís waarom dit so stil in Israel geraak het. En Israel, as julle dit nie weer wil beleef nie, bekeer julle dan en verwyder die afgode uit julle midde. Die derde profesie het te make met die instelling van die koningskap in Israel (1 Sam. 8) – ‘n duidelike waarskuwing aan die volk, sodat hulle deeglik besef waarvoor hulle hulself inlaat wanneer hulle ‘n aardse koning oor hulle aanstel. Die vierde profesie is Samuel se profesie aan Saul wanneer hy hom as koning salf (1 Sam. 10:1-8). Die vyfde is die profesie aan die volk waarin hulle vermaan word omdat hulle ‘n aardse koning verkies het, bo die Here wat hulle uit Egipteland laat optrek het (1 Sam. 10:18-19). Die sesde is Samuel se eerste vermaning aan Saul, toe Saul self ‘n offer gebring het in plaas daarvan om vir Samuel te wag: “Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God nie gehou nie...” (1 Sam. 13:13-14). Die sewende profesie is Samuel se opdrag aan Saul om Amalek met die banvloek te tref (1 Sam. 15:2-3). En ten slotte is daar Samuel se tweede vermaning aan Saul omdat Saul die opdrag om Amalek met die banvloek te tref, nie nagekom het nie: “Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme” (1 Sam. 15:16-19, 22-23, 28). En dit is dan dat die Gees van die Here van Saul begin wyk...

Agt profesieë wat in die Skrif opgeteken staan – daar moes waarskynlik baie meer gewees het, maar hierdie is aan ons oorgelewer. En daarin tref vir ons die Here se oordeel oor ongehoorsaamheid, en sy herhaalde oproep tot bekering. Elke keer weer moet Samuel die volk, en die koning as verteenwoordiger van die volk, oproep en vermaan tot gehoorsaamheid. Dit was dikwels dus nie aangename boodskappe nie, nie boodskappe wat noodwendig gespreek het van ‘n glorieryke en heerlike toekoms nie, boodskappe wat nie noodwendig die ore en die harte gestreel het nie. Maar dit was boodskappe waarin nogtans die hart van God sigbaar geword het. Want Hy het geweet hoe verskriklik dit vir die volk sou wees as sy stem, as gevolg van hulle sondigheid en verharding, weer stil sou word. En daarom die hele tyd: bekeer julle, gee ag, wees gehoorsaam, luister. En daarin gee Samuel die toon aan vir al die profete wat na hom sou kom. Vir die volgende vyfhonderd jaar sou dit die toon van die profetiese boodskap wees: bekeer julle, wees gehoorsaam aan die Here se gebooie, luister na die stem van die Here... juis sodat daardie stem nie weer sal stil word nie.

 

Helaas, dit het weer stil geword... want die volk wou nie hoor nie. Vir vierhonderd jaar tussen die Ou en die Nuwe Testament, tussen Maleagi en Johannes die Doper, was daar geen profetiese stem nie. Totdat God finaal die stilte verbreek het toe Hy saam met die laaste profeet van die Ou Verbond – Johannes die Doper – sy eie Seun gestuur het. Toe het die Woord vlees geword en onder ons kom woon het. Die Woord, die Stem van die Here, het hier op aarde kom wandel. Soos wat ons sing in Skrifberyming 24:4: “Geheimenis eers diep en bondig gevestig in Gods diepe wil, sy welbehae word verkondig, die ewigheid is nie meer stil.” God se ewigheid het ‘n stem gekry in Jesus Christus, God se eie Seun! En die engele het dit kom verkondig, kom uitroep: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.” En hierdie Jesus het kom preek, Hy was God se stem in eie Persoon. Hy het met ‘n gesag en ‘n bekoorlikheid gespreek wat selfs sy vyande verwonder het. Soveel so dat toe die Fariseërs en owerpriesters soldate gestuur het om Hom te arresteer, hulle teruggekom het met die boodskap: “Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie” (Joh. 7:46). By ‘n ander geleentheid, toe die skares begin het om Hom te verlaat, het Jesus sy dissipels gevra of hulle Hom ook wil verlaat, en dan antwoord Petrus namens hulle almal: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:68). Jesus se woorde het die krag gehad om die storm stil te maak, om demone uit te dryf, om dooies op te wek, en om manne en vroue wat vasgevang was in hulle sonde tot geloof te bring. God se stem, God se Woord, het vlees geword! Die ewigheid is nie meer stil nie!

 

Maar, gemeente, as die kronieke van die 21ste eeu beskryf sou moes word, hoe sou dit klink? “En die Vrye Gereformeerde Kerke het sy sewentigste bestaansjaar gevier, maar die woord van die Here was skaars in die dae”?! Maar dit is tog nie moontlik nie? Christus het dan gekom, en ons het vandag ‘n volledige Bybel (ons is nie meer afhanklik van gesigte nie), en elke Sondag word daar twee keer uit hierdie Bybel gepreek, en elke Woensdag is daar katkisasies, en elke week is daar Bybelstudies? Dit is tog nie moontlik dat die Here se woord skaars is nie? O ja, gemeente, dit is. Dit is, as elkeen van ons nog steeds doen wat goed is in sy eie oë. Dit is, as ons soos die volk hoor en hoor, en tog nie meer verstaan nie. Dit is, as ons in al hierdie gepreek en gekatkiseer en gestudie nie meer die stem van die Here hoor nie. Sê ek dat dit tans by ons die geval is? Nee, maar ek roep elkeen van ons op om stil te word voor die Here se stem... stil te word... sodat die Here se stem nie stil word by ons nie.

Die wêreld waarin ons leef is so ontsaglik gejaagd, so besig. Dit dryf ons voort, dit sleur ons in in die mallemeule van die jaagtog. Die werk, die kerk, die kinders, die buitemuurse aktiwiteite, hierdie krisis, daardie krisis. En intussen loop ons met fone rond wat piep en skreeu om elke hoek en draai – dan is dit hierdie kennisgewing (‘notification’ vir ons jongmense), dan is daardie boodskap wat inkom, dan is dit hierdie nuwe app, dan is dit daardie nuwe speletjie. Dawid se woorde in Psalm 16: “selfs in die nag as alles sluimer rustig, dan wek opnuut my niere die verlange om God te dank in stille lofgesange”, word in ons tyd: “selfs in die nag as alles skynbaar rustig sluimer, dan word my hart gewek deur Whatsapp-kennisgewings...”  En intussen word die stem van die Here ‘n agtergrond-gezoem in ons ore. Ons hoor, ons hoor, ons hoor – elke Sondag in die erediens, elke dag wanneer ons Bybel lees, elke oordenking, elke Bybelstudie, elke katkisasieklas – maar ons hóór nie meer nie, ons verstaan nie meer nie. Die stem van die Here klink, maar ons kan nie meer hoor en verstaan nie.

 

Vir seker, broers en susters, die geskiedenis van die heil is vandag verder as in die tyd van Samuel. As die Here in Samuel se dae geen gesigte gegee het nie, dan was sy woord noodwendig skaars. Só ‘n stilte hoef ons vandag nie meer te vrees nie. Maar nogtans kan die Here se stem in ons lewens – kerklik en persoonlik – stil word. Dit kan stil word as sy Woord – sy Woord in die vlees, Jesus Christus – nie meer na behore gepreek en onderrig word nie; dit kan stil word as ons nie meer stil word om te luister nie. In Samuel het God die stilte deurbreek – en as bewys het hy ook die sogenaamde profeteseuns gegee, teologiese skole waarin jongmanne aan die voete van Samuel en ander onderrig is. In Christus het God finaal die stilte deurbreek – en Hy het sy dissipels rondom Hom vergader en hulle uitgestuur na die nasies sodat sy stem nooit weer stil sou word nie. Laat ons deeglik ondersoek of daardie stem, wat deur God se voorsienigheid ook ons bereik het, nog klink én nog gehoor en verstaan word. “Samuel, Samuel” – so persoonlik moet dit gehoor word. Só persoonlik het dit geklink in die doop vanoggend: “Calvin, Calvin”. En vul ook maar jou eie naam in. Die Here se stem roep. Laat ons stil word... en hoor. As jul vandag sy roepstem hoor, verhard jul nie maar neig jul oor, merk op die roep van sy ontferming.

Amen

Liturgie: 

Votum: sing Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 135:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis en doopsbediening: Calvin Casili

  • Lees formulier + vrae (in Engels)
  • Doop
  • Dankgebed
  • Sing Ps. 116:1, 5 en 9 (in Engels)

Lees: 1 Samuel 3

Teks: 1 Samuel 3:1, 20-21, 4:1a

Sing Ps. 74:7

Preek

Amenlied Ps. 95:1 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 85:1, 3 en 4

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 24:4 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.