Ons word gered danksy God se ontferming en nie vanwee enige regverdiging van onsself nie.

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-02-07
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 3
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

God het die mens goed geskape. Maar die goedgeskape mens het diep geval. Nou wat kan jy nog van hierdie vervalle mens verwag? Wel: Geen goeds – dit is die som van hierdie Sondagafdeling.

In moderne verwysingsraam, vra mense waarom is die val nie betyds voorsien nie, en waar is die fout in God se skepping, kon Hy nie daar iets aan gedoen het nie? Het Hy die sondeval dalk bedoel? Is dit ingebou in die skepping? Of kon God nie onmiddellik intervensie toegepas het om alles terug te bring op die regte spoor nie?

God word in staat van beskuldiging geplaas omdat Hy koning mens so verkeerd sou gemaak het. Hy word aangekla. Soms redeneer mense oor die goeie wat van die begin af met die kwaad sou wedywer oor wie uiteindelik oorwin: goed of kwaad? Of hulle reddeneer oor ‘n medelydende maar hulpelose God wat nie werklik iets vir die mens in sy nood kan beteken nie.

Maar wie met sulke bespiegelings en wilde veronderstellings kom, neem sy vertrekpunt in die lewensgevoel en filosofie van ons dag en nie in die openbaring van God in die Skrif nie. Die Skrif leer ons aangaande die diepe val van die mens en die verskriklike implikasies daarvan, maar ook dat ons almagtige en barmhartige God se reddende hand vanuit die hemel reik om vir ons uit die diepte te haal en nuut te maak.

In Sondag 3 word drie sake behandel:
1.    Die hoë plek vanwaar die mens in sonde geval het
2.    Hoe hy geval het
3.    Die diepte van sy val en die omvang van God se goedheid

Die mens was goed en ewebeeld van God gemaak Gen.1, maar in Rom 3 lees ons almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. God se Woord leer ons dat Hy die mens selfs baie goed na sy ewebeeld, gemaak het, om in liefdevolle verhouding met God in ewige saligheid te lewe en Hom te loof en te prys, maar dat die mens geval het in verdorwenheid deur sy eie ongehoorsaamheid en so alle moontlikheid om aan sy doel te beantwoord afgesny het. ….In Gen. 1:26-31 lees ons: Die mens was gemaak na God se beeld. Na sy gelykenis. Om alles te onderwerp en te heers oor alles wat God gemaak het. Man en vrou het Hy hulle gemaak. Hulle geseën om vrugbaar te wees en te vermeerder en die aarde te vul. So ‘n besondere skepsel met ‘n besondere roeping en taak – niemand kan dit na-maak nie. God het ‘n volmaakte verhouding met die mens gestel. Daar was geen sweem van kwaad teenwoordig nie.

God het die mens as ‘n persoonlikheid geskep, ‘n teenoor in die sin van in ‘n verhouding staan tot ‘n ander. Alles het Hy na hulle aard gemaak maar die mens na sy beeld. Sodat God met hom omgaan, en hy met God. Gesig tot gesig, hart tot hart. Mens aangelê en afgestem op sy Skepper. Om God se liefde te beantwoord. Hy is nie maar ‘n afbeelding van God nie. ‘n Klein passiewe beeldjie van gietmetaal op ‘n vertoonkas as deel van ‘n uitstalling nie. Maar hy is geskep as verteenwoordiger van God. Gestuurde van God. …By die heidene word hulle afgodsbeeld op ‘n plek staangemaak om te vertoon dat die afgod aanwesig is. Dit beeld uit dat die afgod van belang is op hierdie of daardie plek. Mens as beeld van God is nie ‘n fisiese afbeelding van God wat onsienlik is nie, maar in sy doen en late beeld Hy as’t ware God in sy werking uit. Want die mens is geskape om voluit op sy opdraggewer betrokke te wees. Om gehoorsaam aan Hom te wees. Hom lief te hê. In verskillende verhoudings en take vir sy opdraggewer op aarde te dien. Dit is hoe God die mens geskep het. Die rede vir die sonde van die mens mag daarom nie by God gesoek word nie.

En toe die mens in sy opstand teen God uit die heerlike verhouding met God geval het, was daar ‘n breuk in die verhouding, en afval, vyandskap, maar het die rekenskap wat God van hom gevra het, nie weggeval nie maar hy het verantwoordelik gebly.

Die kwaad het natuurlik ‘n begin gehad. Dit was nie oorspronklik daar nie, dit was nie ingeskape nie. Maar dit het in God se goeie skepping ingekom. Die ontaarding, die bederf van die goeie, die uitmekaarval van alle goeddoen in elke verhouding waarin Adam en Eva gestaan het, was die gevolg.

Christus het gesagvol gesê, Matt 19:8: in die begin was dit nie so gewees nie. En ons lees reeds in die Ou Testament in Prediker 7:29: Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek. En ons lees dat die gevalle engele het ontrou geword aan hulle oorsprong, in Judas, vers 6.

Van die boom van die kennis van goed en kwaad in die paradys word wel die moontlikheid van kwaad gestel, maar nie die aanwesigheid daarvan nie. Maar kyk hoe het Adam en Eva geval. Hulle kon hulle verweer het, maar satan het wantroue in God by Eva gebring. Hulle het die liefdesverhouding waarin hulle met God was verbreek, en so elke ander verhouding. Want Eva het ingegaan op die misleiding van satan: sy het haar ore geleen aan satan wat haar wys gemaak het dat God haar inperk. Dit is ‘n baie groot raaisel dat sy wat met God  in vertroue omgegaan het die leuen en misleiding gevolg het en dat Adam ook geswig het voor die verleiding. Dit was in werklikheid ‘n onmoontlike keuse wat hulle gemaak het. Om van die hoogste punt van ‘n lewe in gemeenskap met God, in die dieptes van die verdorwenheid neer te stort deur teen God en hulleself in te gaan om ‘n onheelbare breuk in die goeie verhouding met God te maak. 

En so gemeente word ook die verband gelê tussen ons eerste voorouer en ons. Rom. 5:12-21, 1 Kor 15:22: Want soos hulle almal in Adam sterwe… Adam het die hele menslike geslag verteenwoordig. Elke mens kom uit Adam. En al die verhoudings waarin ons staan is deur die verdorwenheid aangetas.

Hoe diep het Adam geval. Die kwaad sit so diep. Geen mens is in staat tot enige saligmakende goeddoen nie. Dit sit so diep dat geen mens iets kan doen om dit beter te maak nie. DL3/4:3: Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle verdorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.

Kyk na God se barmhartigheid aan ons, Hy dra geen skuld aan ons verdorwenheid nie, maar ons verdorwenheid is so groot dat ons nie daar kan uitkom tensy Hy ons red. En hierdie redding kan niks anders wees as om heeltemaal weer gebore te word. En nou staan ons verwonderd voor die omvang van God se redding van die gevalle mens deur die Verlosser Jesus Christus. Dit is sy Evangelie wat ons wegroep uit ons verdorwe verlede. Sodat ons nie weer na ons verdorwe natuur terugkeer nie, maar mag leef in die koninkryk van die lig.

Paulus plaas dan ook die tweede Adam, Christus, in Rom. 5, langs die eerste Adam. Van die tweede Adam leer jy ook die eerste reg ken in die diepte van sy ellende. Die skitterende geregtigheid van Jesus Christus teenoor die ongeregtigheid van Adam. Maar jy ken nou ook die oorspronklike goeie van die skepping. Dat mense wat in ware geregtigheid en heiligheid deur God herskep is om Hom reg te ken, Hom van harte lief te hê en in ewige saligheid sy lof te bring, met ‘n nuwe hart hulle aan Hom toewy. Hierdie geregtigheid en heiligheid van God se herskepping, die nuwe lewe in Christus word deur die Heilige Gees aan ons geskenk. Christus wat sê die sondedoen was van die begin nie so nie, waarborg dat alle skuld soos mis verdwyn voor die helder strale van die son van sy geregtigheid. 

Omdat die kwaad nie tot die geskape werklikheid behoort nie, maar daarop inbreuk gemaak het, kan God, maar ook alleen Hy ons daarvan verlos. Alleen die ontfermende God wat ons in die begin goed gemaak het, se reddende hand kan ons herstel deur ons sonde te straf aan sy Seun en dit vir ons toe te reken asof ons reggemaak het met Hom. Geen erfskuld is vir die tweede Adam te groot om uit te wis nie.

Maar as ons in die verlede, dit is in die verdorwenheid net niks goeds kon doen nie en tot alle kwaad geneig was, wat behels dit dat God ons nou as gelowige gemeente oproep om goed te doen? Hoe kan dit dat ek en jy in staat is om maar een goeie daad te doen? Wel dit word vir ons duidelik in Paulus se brief aan Titus, waarin Paulus hom opdra om die gemeente op Kreta te herinner aan wat God in Christus vir hulle gedoen het en die gevolg van daaruit vir hulle optrede in die samelewing. Veral hoofstuk 3 word die christelike lewensstyl aan die gemeente van Christus op Kreta deur Paulus voorgehou as ‘n lewe op grond van die goeddoen van verlossing deur Christus sodat alles wat hulle doen, gekenmerk word deurdat hulle goeddoen in die samelewing. In die eerste deel van die brief word Titus deur Paulus opgedra om self ‘n goeie voorbeeld te wees omdat Jesus Christus ‘n volk vir Hom vergader wat voluit bereid is in die doen van goeie dade. 2:7: Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. 2:14: Jesus Christus wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. 3:8: Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.

Die opdrag aan Titus om die gemeente op te roep om goed te doen in hoofstuk 3 staan veral teenoor die samelewing buite die gemeente. Die owerheid en die stadsgemeenskap waarvan die gelowiges deel was. Hulle moes hulle skik na owerheid en gesag, Christen wees teenoor die onchristelikheid. Hulle staan nou deur hulle verlossing in Christus teenoor die mens wat in sy sonde verlore is en uitgeval het uit die gemeenskap met God, en wat die samelewing bedreig. God het mense goed gemaak en na sy ewebeeld, maar deur die sonde is hulle nie bereid om onderdanig te wees nie, gehoorsaam, bereid tot elke goeie werk nie en alles te doen wat goed is nie, en is hy ‘n vyand van die rus en vrede wat gevind word daar waar verloste mense saam en vir mekaar die goeie soek. Die gelowiges moet bereid wees tot elke goeie daad (wys op kwaliteit van ons optrede), staan in vers 1, en hulle moet hulle toelê op indrukwekkend goeie dade, staan in  vers 8, maar ons word gered danksy God se ontferming, sy goedheid en nie vanwee ons regverdige dade nie (dit wil sê iets wat ons in staat is om te doen nie), want dit is God se reddingsdaad, vers 4 en 5 wat ons goeddoen dra en kenmerk.

Daar is alleen maar gevangenskap onder die mag van die sonde. Dit is aftakeling en ontbinding van die menslike lewe wat God goed gemaak het na sy ewebeeld, na die regte kennis van hom in geregtigheid en heiligheid, die liefde en saligheid en lof aan God.

Dus: ons word gered danksy God se ontferming en nie vanwee enige regverdiging van onsself nie. Ja ons wil voorgaan in indrukwekkend goeie dade, vanwee God se goedheid in ons Verlosser. Ons is vanwee ons wedergeboorte deur die Heilige Gees bereid tot elke goeie daad.

Titus moet die Christene vermaan om ‘n sagmoedige houding teenoor alle mense te hê. Van niemand kwaad te spreek nie, vredeliewend en vriendelik te wees, teenoor alle mense. Nadruk word gelê op sagmoedigheid in die omgang met alle mense. Dit gaan om deur die Gees beheerste gedrag in alle omstandighede.

In sy verlede tyd was die mens wat nou met die koms van die Verlosser deur die werk van die Heilige Gees weergebore word, onverstandig, ongehoorsaam, verdwaald, verslaaf aan verskillende begeertes en luste, kortom verlore. Hy het in boosheid en afguns gelewe (of as jy wil in kwaadwilligheid en naywer). Die verlore mens se hart is verkeerd, daarom al die slegte vrugte van verwording wat hy dra. 

En dit kom van die haat wat hy in sy hart omdra. 

Hierdie mens is haatlik en het mekaar gehaat. Hierdie mens haat mekaar omdat hy haatlik is omdat hy nie uit God gebore is nie. 

Sonder wedergeboorte is jy gelyk aan jou aard. So is jou groot passie die liefde vir jouself. Jy haat God en jy haat jou naaste in jou verdorwenheid. 

In ‘n dam vol vuil water van haatlikheid het die goedertierenheid van God ons Verlosser, en sy liefde vir die mens verskyn. Toe die goedheid van God ons Verlosser en daarmee saam staan hier, sy menseliefde, dus toe Hy met sy goedheid en menseliefde aan ons verskyn het, het Hy ons verlos, nie op grond van enigiets wat ons gedoen het of kon doen nie, maar op grond van sy ontferming deur die afwassing van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.

God het gekom in en ten spyte van ons haat. God het die haatlikes lief. Mense wat deur eie skuld prooi geword het van die sonde en nou magteloos uitgelewer is aan die mag en verwording, kom verlos Hy uit hulle verslawing aan die sonde en skuld.

Die gelowiges van Kreta het voor hulle bekering nie anders opgetree as die heidene in hulle omgewing nie. En al was Hy ‘n wetsgetroue jood, was Paulus self ook ‘n sondaar sonder voorbehoud, daar was geen prinsipiele verskil tussen sy vroere gedrag en die huidige optrede van die godlose samelewing van Kreta nie. 

Ons kan saam bely gemeente, vers 3, ook ons was vroeër onverstandig (ons het die evangelie van Christus nie geken nie), daarom ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, daarom verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 

Maar ons harte is deur God verander. In vers 4 gee Paulus die keerpunt. En toe --- (lees dit) --- die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het — het ‘n nuwe era aangebreek. Daar was die verlede van die verlorenheid en sonde met sy haatlikheid. Maar daar is nou die wending: TOE, die verskyning van die Verlosser in sy liefde vir die mense. 

Wat het gebeur, waaroor gaan die TOE…van vers 4? God se goedheid en mensliewendheid het verskyn, in die Verlosser wat gekom het. Soos by die verskyning van God se genade en heerlikheid word hier van die openbaarwording van Jesus Christus gepraat. Hy is persoonlik God se goedheid en mensliewendheid. Paulus benadruk God se goeie guns, God se goedheid. Wat Hy bewys het in Jesus Christus. Hy is Redder van Naam.

Vers 5 maak duidelik wat God beweeg het om verlossend op te tree. Nie die regverdige dade van die mense nie, hulle dade in geregtigheid nie, want hulle is verdorwe, maar sy ontferming het Hom beweeg. Paulus was die voorbeeld van God se ontferming: 1Tim 1:12-15: En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof.  En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is.  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

Ons word gered tot goeie werke deur die bad of kan ons sê ook die afwassing van die wedergeboorte en die vernuwende krag van die Heilige Gees. Afwas is hier tot redding en wys op die Heilige Gees se werk van heiliging, wedergeboorte, vernuwing – een werk. Soos ons reeds in Eseg 36:25-27 lees: Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. 

Dit gaan hier om die Heilige Gees en sy werk as reddingsmiddel. God het ons gered deur sy Heilige Gees, wat ons geestelik reinig deur ons opnuut gebore te laat word, dit wil sê ons lewe heeltemaal nuut maak. In hierdie handeling gaan dit deurgaans om die evangelie van Jesus Christus se persoon en werk. Sonder Hom kan die Gees nie gegee word aan mense tot opregte geloof nie. Dit is wat Petrus met pinkster verkondig het in Jerusalem. Hand 2:33: Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. God verlos ons deur Jesus Christus. Hy is ons redder. En die werk van die Heilige Gees met hierdie boodskap van die Evangelie staan in ons teks sentraal.

Goddelike redding het in vers 7 ten doel dat ons, geregverdig deur God se genade erfgename is van die ewige lewe. In ooreenstemming met ons hoop. Maar regverdiging deur God se genade staan teenoor ons regverdige dade. So lees ons ook in Rom 3:21-26: Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,  die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.  Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God  om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. 

Ons stel nou ons vertroue in die beloftes van God se Woord (vers 8). Ons regsposisie het verander. Ons is nou erfgename van die ewige lewe met God. Ons is nie meer verdorwe, vervalle nie, dood in sonde nie. Maar wederbaar tot erfgename van die lewe in Christus. Lewend vir God, dood vir die sonde. Die wat in God glo dra sorg om indrukwekkend goeie werke voor te staan, werke wat goed en nuttig is vir alle mense.

Gemeente, ons kan dit so saamvat: goeie dade uit ‘n wedergebore hart, uit geloofsoortuiging, deur die regverdigmaking deur Christus en die vernuwing deur die Heilige Gees is ‘n getuienis van die ontferming van God oor ons. Christus se geregtigheid en heiligheid dra ons nou in ons om.

Ons is nie in staat om iets goeds te doen nie, alleen die kwaad. Christus het vir ons versoening verkry. Hy is ons geregtigheid en die Heilige Gees werk daarmee in ons die wedergeboorte wat die sonde afwas en die nuwe lewe gee. Deur sy genade alleen word ons regverdig en word erfgename van die ewige lewe. 6,7. Dit is die werklikheid van wat God in ons lewe gedoen het. Die verlede tyd waarin dit gestel word vestig ons aandag daarop dat God het dit gedoen. Sy daad deur Jesus Christus en sy Gees kan nie ongedaan gemaak nie. 

Ons eie sonde en haatlikheid is in die verledetyd. Ons is in onsself nog geneig tot alle kwaad, maar ons vind ons geregtigheid buite onsself in Christus. Deur die Heilige Gees in Christus ingeplant, word ons hoe langer hoe meer aan Christus gelykvormig. Nie omdat ons nou een of ander vermoë verkry het nie, maar omdat ons beklee word met Christus.

Teenoor uitdagende verdenking van God van ongeregtigheid en mensehaat deur die filosowe, kom God met die evangelie van ontferming van Jesus Christus en die vernuwing deur die Heilige Gees, in sy goedheid en menseliefde verlossend na ons toe. En so mag ons, wedergebore deur die Gees, vertrouwend op Christus, leef as verloste kinders van God.

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader en ons Here Jesus Christus. Amen

Sing: Psalm 68:12,13

Lees van die wet

Sing: Psalm 69:12,13,14

Skriflesing: Rom. 5:12-21, Ef 4:20-24, Titus 3:1-8

Sing: Psalm 8:3,4,5

Kategismus: HK Sondag 3

Amenlied: Psalm 51: 1,3,6

Dankgebed en voorbidding

Geleentheid om die Here te dien met kollekte

Slotsang: Psalm 92:2,6,7

Uitspreek van die seën:
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee.

SING AMEN