Die voorreg om te lewe in die verbond

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-02-07
Text: 
Psalm 25:10
Preek Inhoud: 

Die kerkraad het vir hierdie jaar weer ‘n tema gekies.

Verlede jaar was ons tema diakonale gemeente.

Ons het gekyk na wat die diakenamp inhou.

Ons het gekyk na wie volgens die Skrif geroep word om in die diakenamp te dien.

Ons het gesien dat nie net die diakens maar ook die gemeente ‘n diakonale opdrag het.

Ons het gekyk na die vrugte van die Gees, wat onmisbaar is om met die regte ingesteldheid in die gemeente en samelewing diensbaar te wees.

Agteraf het geblyk dat verlede jaar se tema baie relevant was.

Met die uitbraak van die Corona pandemie was daar baie meer diakonale hulp nodig in ons gemeente, asook na buite toe.

 

Vir hierdie jaar het die kerkraad as tema gekies: Lewe in die verbond.

Die verbond is ‘n woord, ‘n realiteit wat ons reg deur die Skrif vind.

Ook daardie hoofstukke in die Bybel waar die woord verbond nie voorkom nie, word net soveel bepaal deur die werklikheid van die verbond.

 

 

Tema: Die voorreg om te lewe in die verbond

1 Oorsprong van die verbond

2 Lewe in die verbond

 

1 Oorsprong van die verbond

Kom ons kyk eers na die woord self.

Die woord verbond is afgelei van die woord band.

Dit dui op die feit dat daar ‘n band is tussen twee persone, tussen twee partye.

Die Hebreeuse woord kan mens vertaal, na gelang die konteks, met: afspraak, ooreenkoms, verpligting, of verbond.

In die Skrif vind ons verskillende soorte verbonde.

Daar is ooreenkomste wat mense met mekaar gesluit het, ooreenkomste wat vrywillig van beide kante aangegaan is tussen gelykwaardige partye.

Daar is ook ooreenkomste wat deur een party op ‘n ander afgeforseer is.

Dink aan ‘n Grootkoning wat met sy leër ‘n klein volk oorwin het, en nou daarmee ‘n verbond sluit en belastingplig aan hierdie volk oplê.

Dit is ‘n onvrywillige verbond, ‘n verpligting waar die een party so gou moontlik onderuit sou wou kom.

Ook oor die HERE lees ons dat Hy verbonde gesluit het in die Skrif.

In Genesis lees ons dat Hy ‘n verbond met Noag gesluit het na die sondvloed.

Hy het ook ‘n verbond met die skepping gesluit.

Dan is daar die bekende verbond wat Hy met Abram gesluit het.

Dit was so ‘n belangrike gebeurtenis dat Abram se naam toe verander is na Abraham.

Hierdie verbond was so heg dat God Abraham selfs sy vriend genoem het (Jesaja 41:8)!

Hierdie verbond het God deur die eeue vernuwe, meer spesifiek toegespits op nuwe omstandighede.

Dieselfde verbond het Hy weer bevestig met Isak en Jakob, Abraham se nakomelinge.

Daarna het Hy dieselfde verbond opnuut gesluit met die volk Israel.

Dink aan die gebeure by die berg Sinaï.

Daar is die verbond vernuwe onder leiding van Moses.

Ook Moses behandel die HERE as ‘n vriend, Exodus 33:11:

“Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek.”

Uit die boeke van Moses leer ons baie oor hierdie verbond.

Die HERE het ongevraagd hierdie verbond met Israel gesluit.

Hy het dit nie gedoen omdat Israel enige meriete in hulleself gehad het nie, hulle was juis ‘n klein en onaansienlike volk.

Dit was ook ongelykwaardige partners.

Die HERE groot en almagtig, die volk klein en kwetsbaar en sondig.

Die feit dat die HERE eensydig hierdie verbond gesluit het, wil nie sê dat Hy dit op sy volk afgeforseer het en dat dit vir die volk net nadele ingehou het nie.

Inteendeel, die HERE het sy volk eers uit Egipte bevry.

Hy het hulle oorlaai met geskenke.

En eers nadat Hy die verbond gesluit en sy kant rojaal gebring het, ja die volk in staat gestel het om ook hulle kant te bring, eers toe het Hy ook iets van hulle verwag.

In die doopsformulier bely ons dat die verbond ‘n belofte en ‘n eis inhou.

Mens kan ook sê dat die verbond bestaan uit ‘n belofte, ‘n bevel en bedreiging.

Die belofte kom altyd eerste.

Maar ook die bevel en bedreiging is aanwesig.

 

Deur die eeue het God van sy kant hierdie verbond staande gehou, ondanks gereelde afval van Israel se kant.

Ons teks kom uit die tyd van koning Dawid.

Ook met Dawid het God sy verbond vernuwe.

Ook by Dawid het dit met ryke seëninge en beloftes begin.

In hierdie verbond mog Dawid lewe.

In dieselfde verbond lewe ons vandag ook nog.

In dieselfde verbond het Timothy ‘n plek ontvang, en dit is vandag met die doop bewys.

Juis daarom kan ons steeds so baie leer uit hierdie Psalm, as dit gaan oor die lewe in die verbond.

Dit bring ons by die tweede punt:

 

(Tema: Die voorreg om te lewe in die verbond

1 Oorsprong van die verbond)

 

 

2 Lewe in die verbond

Hierdie psalm is ‘n gebed, want dit begin met die woorde:

HERE, tot U hef ek my siel op.

Hierdie uitdrukking verwys na hande ophef, dit was die gebedshouding vroeër.

Dawid hef nie net sy hande op nie, ook sy siel reik uit na die HERE in hierdie gebed.

Aan die een kant hoor mens sekerheid in hierdie psalm.

Soos vers 2 sê: op U vertrou ek.

Aan die ander kant hoor mens onsekerheid.

Dawid voel onseker teenoor sy vyande.

Vers 2: Laat my vyande nie oor my juig nie.

En hy is nie net onseker omdat hy vyande het nie.

Hy is ook onseker oor homself.

Selfs die sondes van lank gelede, uit sy jeug, pla hom nog, agtervolg hom nog.

Hy vra vir die HERE in vers 7:

Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie.

Nou ongetwyfeld het Dawid al in die verlede vergewing gevra vir die sondes van sy jeug.

En soos ons uit die Bybel weet, en Dawid het dit net so goed geweet: by die HERE is vergewe ook vergeet.

Dink aan wat Dawid self in ‘n ander psalm geskryf het:

So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Psalm 103:12).

Desondanks gaan Dawid nou, blyk uit Psalm 25, deur ‘n periode van onsekerheid en aanvegting.

Alles oorweldig hom weer.

En daarom voel hy die behoefte om na die HERE te vlug.

Om sy siel tot die HERE op te hef.

Ja waarheen kan mens beter vlug, as die moeites van die lewe jou oorweldig, as dinge vir jou te veel word?

Waarheen kan mens beter vlug, as na die HERE!

 

Hierdie psalm laat ons pragtig sien hoe die lewe in die verbond met die HERE die anker jou lewe kan wees.

Al is dit eerbiedig, Dawid praat oop met die HERE.

Keer op keer vra hy vir die HERE om hom asseblief te vergewe:

Vers 6: HERE, dink aan u barmhartigheid.

Vers 7: Dink nie aan die sondes van my jonkheid.

Vers 16: wees my genadig.

Vers 18: vergeef al my sondes.

Ook vra hy keer op keer die HERE se hulp teenoor sy vyande:

Vers 2: laat my vyande oor my nie juig nie.

Vers 19: aanskou my vyande, want hulle is talryk, en hulle haat my met ‘n gewelddadige haat.

U het tog ‘n verbond met my gesluit, ek is mos belangrik vir U!

 

Mens hoor hier ‘n mens praat wat onseker is.

Wat homself kwetsbaar voel.

Terselfdertyd sien ons hoe Dawid, as kind van die HERE, sy rus vind in God se beloftes.

In sy sieleworsteling is dit die HERE se Woord wat vir Hom rus gee.

Vers 3: almal wat U verwag, sal nie beskaamd staan nie.

Vers 5: Lei my in u waarheid.

Vers 8: die HERE is goed en reg.

Vers 9: Hy sal die ootmoediges lei.

En dan ons teks: Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond bewaar.

Hierdie fokus op die HERE en sy verbondsbeloftes bring rus in Dawid se hart.

Vers 15: My oë is altyddeur op die HERE.

Hy sal my voete uit die net uitlei.

 

‘n Uitdrukking wat ‘n prominente plek in hierdie psalm het, wat herhaalderlik voorkom, ook in ons teks, is die uitdrukking: die weë, oftewel, die paaie van die HERE.

Dawid maak duidelik dat hy deel is van hulle wat die HERE se voorskrifte wil hou.

En dit is sy begeerte om ook in die verbond te bly.

Sy vyande is hulle wat nie op die weë van die HERE loop nie.

Maar Dawid gaan nog dieper.

Eers het hy gevra vir verlossing van sy vyande.

Maar daar is nog ‘n groter gevaar, as om deur die vyand oorweldig te word.

Dit is die gevaar, dat hy self van die weë van die HERE sou afdwaal.

Dawid erken eerlik in sy gebed, dat daar ook tye was wat hy nie op die HERE se weë gebly het nie.

En as die HERE hom nie vasgehou en gelei het nie, dan sou hy aan sy vyande gelyk geword het.

Dan sou hy ook behoort het tot hulle wat troueloos is.

Hoe sal hy dan nog vir die HERE kan bid en vra om hom te kom bevry,

as hy self, van sy kant, die verbond verbreek het?

As hy net soos sy vyande geraak het?

Hy vra vergewing vir die sondes van sy jong dae.

Vir daardie kere wat hy net soos sy vyande die HERE se weë verlaat het.

En nou, uit eie dure ervaring, bely hy met nog meer oortuiging:

HERE, u paaie is reg.

Vers 10: Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou.

 

Hierdie laat mens terugdink aan Psalm 1, waarin dit ook oor weë, paaie gaan.

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Die HERE se wet, sy Torah, dit is sy hele wil soos dit in sy Woord geopenbaar is, dit is die weë, die paaie van die HERE.

Wie daarop bly, met hom sal dit goed gaan, in voor- en teëspoed.

Dawid bely God se verbondstrou.

Hy pleit op God se verbondstrou.

Ten spyte van daardie kere wat Dawid van die pad afgegaan het, wat sy lewe ontspoor het, tog het die HERE trou gebly aan sy verbond!

In hierdie psalm besef Dawid, en dit maak hom diep dankbaar, dat danksy die verbond hy ‘n spesiale plek in God se hart het.

In vers 14 staan daar: “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees.”

Die Hebreeuse woord vir verborgenheid kan ook vertaal word met vriendskap.

Ons hoor hier dieselfde as die Bybel oor Abraham en Moses sê, dat God hulle vriend was.

Hierdie vriendskap is nie vir ieder en elk nie, maar soos vers 14 sê, vir die wat in sy verbond opgeneem is en wat Hom vrees.

 

In hierdie psalm bid Dawid nie net vir homself nie.

Mens kom agter dat sy worsteling, sy angste, vervleg is met die van al die HERE se kinders, sy verbondsvolk.

Hy eindig dan ook hierdie psalm met ‘n gebed vir Israel.

Vers 22: o God, verlos Israel uit al sy benoudhede!

Of Dawid al koning oor Israel was toe hy hierdie psalm geskryf het, is nie seker nie.

Waarskynlik wel, want hy praat hier oor sy jeug asof dit lank gelede is.

Dan verstaan mens ook beter hoekom sy angste en benoudhede vervleg is met die van Israel.

As koning gee hy die voorbeeld aan die volk, hoe hulle met hulle benoudhede na die HERE kan gaan.

Hy stel homself nie as ‘n onaantasbare koning voor, wat geen foute maak nie.

Hy bely openlik sy eie sondes, hy wys ook die onsekerhede in sy hart.

Die volk moet nie op hom as hulle koning steun nie, maar die HERE moet die anker in hulle lewe wees.

En nie die koning se woorde nie, maar die HERE se Woord moet hulle kompas wees.

 

Geliefde gemeente, die Heilige Gees het dit so gelei dat hierdie gebed van Dawid, Psalm 25, ‘n plek gekry het in die Bybel.

So kom dit dat tot vandag, ook in die 21e eeu, kinders van God se volk hierdie psalm ken.

En nie net ken nie, maar ook gebruik, om hulle eie emosies, angste, onsekerhede, voor die HERE te verwoord.

Dit is soos die Heilige Gees dit bedoel het.

Die psalms help ons om oor ons geloofslewe te praat.

Om al ons bekommernisse voor die HERE se troon te bring in gebed.

Psalm 25 is ‘n psalm wat ons graag sing.

‘n Psalm wat ons help om op die HERE se paaie te bly.

Al is daar sondigheid in ons lewe, al is daar moeites wat ons nie altyd op ‘n voorbeeldige en Godvresende manier hanteer nie, al gly ons voet soms van die HERE se pad af.

In sy verbondstrou hou die HERE ons vas op sy weg tot die einde.

 

Om in die HERE se weë te wandel is ‘n uitdrukking wat ons dikwels in die Ou Testament vind.

En in die Nuwe Testament kom hierdie uitdrukking ook weer terug.

Dit is nie toevallig dat juis die eerste Christene die mense van die Weg genoem is nie – sien Handelinge 9:2.

Die Christelike kerk was die voortsetting van God se verbondsvolk, daardie res uit God se volk, wat in die Ou Testament trou in sy weg gewandel, gelewe het.

En tot op vandag, in die 21e eeu, is die kerk die voortsetting daarvan.

Jy mag saam met jou medegelowiges die pad van die HERE loop.

Vir jou en my geld dat ons struikel op hierdie pad, soms selfs van die pad afgly,  soms selfs ‘n afdwaalpad kies.

Maar in sy verbondstrou trek die HERE sy kinders terug.

Dit het Hy veral gedoen toe Hy sy eie Seun na die aarde gestuur het.

Deur sy Middelaarswerk het Hy die verbond herstel.

So is Christus vir ons die Weg, die Waarheid en die Lewe.

 

Die HERE het aan Dawid belowe dat sy nageslag vir altyd sal regeer.

Dit was nie net ‘n aardse belofte, ‘n belofte wat status aan die Davidiese koningshuis moes verleen nie.

Dit het stelselmatig duideliker geword dat God se belofte nog veel en veel grootser was.

Uit Dawid se nageslag sou die Een gebore word wat op die hemelse troon sou plaasneem.

Weer eens nie omdat Dawid self van hoë of adelike afkoms was, of omdat hy so goed was nie.

Alles wat Dawid was en gehad het, was ‘n verbondsgeskenk.

En so mog Dawid met die HERE wandel in sy verbond.

 

Daartoe roep ons teks ons dan op.

Die HERE se paaie is goedertierenheid en trou.

Laat ons dit ook bely.

Om naby die HERE te lewe en sy getuienisse – ‘n ander woord vir sy gebooie – te bewaar, dit is ‘n goeie lewe.

Ja meer as goed – dit is goedertieren.

Dit is die beste lewe wat mens op aarde kan hê.

En dan getuig die HERE se paaie van sy trou.

Trou is ook ‘n tipiese verbondswoord.

Van sy kant hou die HERE die verbond, Hy is trou daaraan.

Die HERE is ‘n betroubare Vriend vir die wat Hom vrees.

Wat ‘n besondere gedagte, broer, suster, dat God jou Vriend is!

Danksy Christus, leef jy in dieselfde genadeverbond as Abraham, Moses en Dawid.

Die HERE neem jou in sy vertroue, soos ‘n vriend.

 

En so klink die oproep ook na ons toe, noudat ons in hierdie uitermate bevoorregte posisie geplaas is dat ons in sy verbond mag lewe.

Laat ons nou ook van ons kant die verbond bewaar!

Hom hartlik liefhê!

Laat ons ons lewe volgens sy gebooie inrig.

Laat ons in hierdie verbond lewe, en slegs in hierdie verbond.

Laat ons nie ook ‘n verbond met die sondige wêreld sluit nie.

Laat ons by alles wat op ons afkom, vra: hoe sal dit my verbond met God affekteer?

Die keuse van ‘n lewensmaat, dit staan nie los van jou verbond met God nie.

Die keuse van ‘n beroep ook nie.

Jou stokperdjies, dit wat jy met jou tyd doen, dit wat jy met jou geld koop, alles vorm onderdeel van jou verbond met God.

Nie net op Sondag word die verbond met God onderhou nie.

Elke dag van die week.

Elke Sondag vernuwe ons weer die verbond met ons God, as ons voor sy aangesig verskyn.

Deur die week lewe ons vanuit hierdie verbond.

 

En wees bewus daarvan, die Satan probeer hierdie verbond die heeltyd voorstel as ‘n keurslyf, as ‘n straf, as iets waarin ons vasgevang is.

Hy het dit al met Adam en Eva gedoen.

Ja met Adam en Eva het die HERE al sy verbond gesluit.

Hy het hulle eerstens oorlaai met gawes: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet” (Gen 2:16).

Wat ‘n oorvloed!

En vervolgens het die HERE van hulle kant ook toewyding aan die verbond verwag: “maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie” (Gen 2:17).

Maar toe kom Satan, en verdraai God se woord, asof die verbond, die lewe met die HERE, eintlik ‘n straf is:
“En hy [die slang] sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Gen 3:1)

Hoor u hoe Satan insinueer asof daar geen enkele beloftes in die verbond is nie?

Geliefde gemeente, so doen die Satan nog steeds met ons.

Moenie daarin trap nie.

Veral ons jongmense kan soms verlei word om te dink dat die lewe in die verbond vervelig, eentonig is, weinig uitdaging, dat dit net die heeltyd opdragte is, ja onaangenaam.

Laat ons as ouers juis daarvoor waak om die verbond nie so voor te stel, dat die kinders net die heeltyd te make kry met die moets en moenies nie.

Natuurlik moet die bevele en die bedreigings daar wees!

Maar dit begin altyd met die belofte, ja met die verwondering oor wat God vir ons gedoen het.

Laat ouers aan hulle kinders oordra hoe bevoorreg, hoe besonder, ja hoe kosbaar dit is om in ‘n verbond met die HERE te lewe!

Laat die jeug hulle ouers se verwondering raaksien!

Hier lê ook ‘n pragtige taak gereed vir Timothy se ouers, maar nie net sy ouers nie.

Ook sy oupas en ouma, ooms en tannies, ja heel die verbondsgemeenskap.

Laat ons veral praat met ons kinders oor hoe goed die HERE is.

En Hy is goed, sonder twyfel!

Psalm 25 loop oor daarvan:

Die HERE is goed en reg! (vers 8)

Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou! (vers 10)

 

Geliefde gemeente, kom ons beaam dit deur uit hierdie psalm nou te sing.

Vers 4: “God is goed in al sy handel, en sy pad is enkel reg”.

En Vers 5: “Ja, God weg is goedheid, klaarheid”.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 81:1,11,12

Gebed

Doop

Sb 14:1

Skriflesing: Psalm 25

Ps 25:2,3

Teks: Psalm 25:10

Preek

Ps 25:4-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 25:10

Kollekte

Ps 111:3-5

Seën