Gods belofte is ons aansporing om te bid

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2021-01-31
Text: 
Jeremia 29:12-14
Reference: 
VGK Maranata, Joburg, Pretoria
Preek Inhoud: 

Doele
-    Raaksien dat gebed meer is as ons gereëlde gebede. Dit is ’n vurige, opregte soek van God, met ’n nederige hart.
-    Leer bid as ’n deel van God se volk.

Inleiding:

Waar vind jy God? Hoe vind jy hom?
Dalk vind jy dit ’n snaakse vraag. ‘Hier in die kerk natuurlik!’ sal baie van ons dalk sê. ‘Dit is sy huis. God is hier, en hy luister vir ons.’

Op ’n manier is dit reg. Maar wanneer jy nie fisies in die gebou kan wees nie, voel jy dan God is verder weg?

En hoe vind jy God op ’n Woensdagmiddag of Vrydagoggend?
Wat nou as jy daardie tye voel God is ver? Hoe kan dit verander?

Die hoofstuk wat ons gelees het, spreek hieroor. God vertel vir ons hoe hy naby ons wil wees.

Ons luister na die evangelie: Gods belofte is ons aansporing om te bid.
1.    soek die Here nederig
2.    dan jy sal hom vind.

1    Soek die Here nederig

1.1    ’n belofte na die ondergang

Jer29 neem ons ver terug in die tyd: 2600 jaar gelede, na ’n land in die Midde Ooste. En ons gaan hoor wat daar gebeur het, en wat dit vir ons lewens beteken!
Jy kon nie ’n slegtere tyd in die geskiedenis v Israel bedink nie. Die noordelike 10 stamme het ’n eeu eerder verdwyn. Nou het die Babiloniese ryk die oorblyfsel, Juda en Benjamin, vir dekades bedreig en aangeval. Nou is dit verby. Hulle stadsmure is afgebreek, stede lê verwoes, en duisende mense het gesterf aan honger, siekte, en geweld. Van Israel is niks oor nie. Hulle is weggevoer na Babel. Jeremia skryf vir die ballinge ’n brief: 
‘maak julle reg om 70 jaar, 3 generasies in Babel te woon. Bou huise, trou, kry kinders, en bid dat die stad vrede mag hê.’

1.2    Tog ’n belofte!

God se straf was regverdig. Vir dekades, nee eeue, was hulle ontrou.
Maar dit is nie die einde nie. God bly nie stil nie! Hy gee vir sy volk, in hul verslaenheid, hierdie belofte van vs 12-13. God maak weer ’n deur na die toekoms oop: 
‘Julle sal my na my terugkeer en my weer vind! En ek sal julle terugbring na julle land.’
Gee dit dit nie vir jou hoendervleis nie?
Saam met die aankondiging dat hulle 70 jaar in Babel sal bly, sê hy vir hulle: “julle sal na julle land terugkeer”. En meer nog: “julle sal na my terugkeer.”

Hoe kan dit ooit verander?
Hulle verwerping van God moet gestraf word. En God oordeel regverdig.
Die verandering sal kom deur gebed. Hulle sal God soek en hy sal hom deur hulle laat vind.

Jy dink dalk ‘hoekom is gebed nou die oplossing?’
Gebed is tog normaal vir ’n gelowige? Dis tog niks nuuts nie?
Om dit te verstaan moet ons na die toestand van die hart van die volk kyk.

1.3    God op stand-by

Israel was God se volk. Ja. Maar hulle harte het skeefgegroei, van God af weg. Hulle het aangegaan met hulle seremonies en religieuse pligte, maar hulle het nie meer God gesoek nie.

Vir hul daaglikse behoeftes het hulle God nie meer nodig gehad nie:

  • Reën, voedsel, kinders – daarvoor het hulle die vrugbaarheidsgode Baal en Astarte, die afgode van die buurlande aanbid en dankie gesê.
  • Vir politiek het hulle op die weermag en stadsmure vertrou, en wanneer dit nie voldoende was nie, het die koning die guns van Egipte probeer koop om teen Babel beskerming te vind.

God het eintlik oorbodig geword. Maar hulle het hom op stand-by gehou om te help in geval hulle vasgebrand het.
God op standby. Dit laat my dink aan ’n stofsuier. Jy stoor die ding, dis uit die pad, totdat jy dit nodig het. Dan kom dit mooi van pas.

En hierdie houding het duidelik geword in hulle gebede.
Ek het die hele boek Jeremia  nagegaan, en besef: daar is iets kronies afwesig: nêrens lees jy dat die volk gebid het nie!

1.4    God sal genadig wees

De belofte wat Jeremia vir die ballinge gee, is dat hul harte sal verander, en dan sal God ook hulle lot, hulle bestemming, verander.
“Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (vs. 12-13)

Mense se ontrou lei nie daartoe dat God se hande afgekap is nie. Hy is trou aan sy belofte aan Abraham: ‘ek sal van jou ’n groot volk maak, en hulle sal in hierdie land woon.’ 
Israel sal terugkeer en weer God se volk wees. Hulle sal veilig woon en vrede hê.

Dis natuurlik ’n hoopgewende belofte vir ’n nasie wat amper verdwyn het: julle sal oor 70 jaar weer na julle land mag teruggaan!
Maar luister mooi na v. 14. Die terugkeer uit die ballingskap is nog nie die grootste seën nie!
“En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.” (v. 14)
Dit gaan nie oor nasionalistiese gevoelens en ’n eie land nie. Die grootste seën is dat hulle sal terugkeer na God, en dat hy hom sal laat vind. Dit was die kern van hulle identiteit: om volk van God te wees.

Sien jy hoeveel God vir hulle beloof? 
God sal hulle harte verander, sodat hulle hom weer sal gaan soek.
Hulle sal hom vind. En daarna sal hy hulle terugbring in hul land.

1.5    Hoe sal dit gebeur?

Die enigste manier waarop dit moontlik is, is wanneer God mense roep en opwek en hulle harte so aan die brand sit dat hulle gaan bid dat hierdie belofte in vervulling sal gaan.

Kom ons lees Daniel 9, en sien hoe dit inderdaad gebeur het, 70 jaar later.

--- (Lees Daniel 9 saam) ---

Dis nou die jaar 538 voor Christus.
Daniel, die eerste minister in die Babiloniese ryk het trou aan God gebly. 
Hy lees die Woord van God en vind dan hierdie belofte in die boek Jeremia, in hierdie eienste hoofstuk 29!

Hoe reageer Daniël? Twee dinge staan uit:
1)    Hy begin dadelik bid. Hy soek God.
2)    Hy is vol berou en bid namens die volk.

1.6    Hy begin dadelik bid

Sodra Daniël die belofte lees en besef ‘dit is nou 70 jaar gelede dat God hierdie belofte gegee het, dus dit is NOU tyd dat dit sal gebeur’ – wat maak hy?
Hy soek dadelik God se aangesig en BID!
Hy begin pleit vir God se volk: ‘Here, doen asseblief wat u beloof het!’
Hy reageer op die belofte met gebed. Gelowige gebed.

1.7    Hy is vol berou en bid namens die volk.

En luister na sy gebed, wat dit wys van sy houding:
“En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.” (v.3)
Hierdie drie dinge: vas, ’n roukleed aantrek en as op sy kop strooi is tekens van skulderkenning en berou.
Daniël identifiseer met die volk en verootmoedig hom namens die volk en in die plek van die volk. Hy sê:
“ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom…
En ons het nie geluister na u knegte, die profete (v. 5-6)

Daniël self was nie deel van die opstand in die verlede nie, hy was juis gehoorsaam en regverdig, maar hy bid as deel van die volk. Hy verneder hom in die plek van die volk en om hulle ontwil.

Hy erken dat die straf regverdig was. Hy doen net ’n beroep op God se eer en God se diep genade. Jy hoor dit in sy opregte smeekgebed van vs. 17-20: 
(“Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.)
Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.
Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.”

1.8    Dís die gebed wat God beantwoord!

Lees nou weer die belofte van Jer29,12-13. Sien jy dat die gebed van Daniël presies is wat God deur Jeremia beloof het?
“Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” 
Daniel se gebed is die mooiste uitdrukking van daardie houding. 
En die Israeliete wat teruggaan Jerusalem toe, leer dieselfde houding van Nehemia en Ezra. 

Dit is die houding wat God soek en beloon.
God self veroorsaak hierdie verandering van hart wat Hy God beloof het.

In antwoord op hierdie gebed red God sy volk en laat hy hulle terugkeer.

1.9    Hoe is jóu hart?

Nou kyk ons wat dit vir ons beteken. Ons leer dat God ons hart soek.
Die sondige houding van Israel is nie ver nie.
Wanneer jy in die vel van daardie mense kruip en na die basiese menslike behoeftes kyk, raak Jeremia se tyd vir ons herkenbaar. ’n Samelewing waarin mense self reg kom. Of dit goed of sleg gaan, is afhanklik van hoe ons reageer op probleme, of die ekonomie sterk is, of ons bereid is om hard te werk en verstandig te beplan.

In ons samelewing word God ook weggestoot uit die plekke wat saakmaak: die klaskamer, die bestuurskamer, die hof, die woonkamer en die slaapkamer. 
Die kultuur waarin ons leef, beinvloed ook ons, christene.
Dink net hoeveel dinge jy in ’n week kan doen sonder om aan God te dink:
a.    Jy doen inkopies en vir die res van die week is die kos net so beskikbaar.
b.    Die weer, die oeste, padongelukke – alles gebeur maar net, lyk dit.
c.    Siekte en dood oorkom ongelowiges en gelowiges in gelyke mate, lyk dit.
d.    Jy is student, en by die universiteit hoor jy die professor net praat oor verklarings, teorië en meganismes – God is daar nie nodig nie.

Daarom kom die vraag na ons toe: hoe staan jy voor God? Soek jy hom?
Sien jy God steeds raak in jou daaglikse lewe? 
Of hou jy God op standby totdat hy hom nodig het?

Is jou hart oop na God toe?
Soek jy hom omdat jy besef dat jy vir alles van hom afhanklik is?
Verwag jy ook iets wanneer jy bid?
Hou jy aan klop op sy deur totdat hy antwoord?
Of het dit ’n ritueel geword wat jy 3x per dag … net… doen….?

Leer die houding wat God soek: opreg voor hom buig.
Toets jou hart: is dit selfvoldaan, is jou verhouding met God koud en formeel? Of is jou hart aan die brand voor die Here?

As jou hart koud is, dan is die Woord van God vandag vir jou soos ’n elektriese skok wat nuwe lewe kan bring.
Dit is die krag van die Woord van God: dit deurboor koue harte en bring nuwe lewe!

1.10    Bid as deel van die liggaam

Die tweede opvallende ding in Daniël se gebed leer ons hoe ons moet bid.
Wat beteken dit om God opreg te soek? Daniël identifiseer met die volk, hy is deel van die volk, en bid namens hulle.

Dit behoort ook ons gebede te vorm.
Behalwe dat ons opreg ons persoonlike skuld voor God erken, behoort ons ook ons gesamentlike nalatigheid, onbetrokkenheid, en ander sondes te erken. As ons saam nalatig geword het in die verkondiging van die evangelie in ons stad, as ons geen dissipels maak maar tevrede is met die status quo, as die evangelie van Christus nie meer ons gesamentlik as gemeente in beweging bring nie – verootmoedig jou en moenie wag tot dit in die gemeente aangespreek word nie. Erken dit voor die Here in jou persoonlike gebede.
Bid by die huis namens die gemeente.

Is jy voluit deel van die gemeente? As daar dinge is wat jy dink is nie reg nie, dinge wat nagelaat word - hou jy jou afsydig, of gaan buig jy neer voor die Here, in die besef dat jy deel is van die liggaam, en pleit jy vir jouself en vir die ander lidmate, en vir die broeders wat geestelike leiding moet gee?

Dink net hoe dit ook jou belewing van die beperkings wat ons nou weer ervaar, kan verander.
Ons gaan nou vir ’n ruk mekaar nie kan ontmoet en sien nie. Gaan ons wag totdat ons weer terug is by ’normaal’?
Intussen is ons een gemeente deur die Gees van Christus. En al is daardie eenheid dan nie sigbaar in ’n samekoms in hierdie gebou nie, ons eenheid word wel voor God sigbaar wanneer elkeen van ons nederig en vurig by die huis bid. Dan staan ons tog saam voor God se troon! 

2    Dan sal jy hom vind

2.1    Terug, en dan?

Die belofte dat hulle mag terugkeer is geweldig. Dink net hoe hoopgewend dit was gewees vir die volk wat aan die begin staan van 70 jaar ballingskap.
Dis nie die ondergang van Israel nie! Hulle kleinkinders sal terugkeer na die beloofde land!
En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terug-bring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het. (v.14)

God maak dat dit gebeur in antwoord op Daniël se gebed. Die terugkeer het regtig plaasgevind onder koning Kores, en onder leiding van Nehemia.
Dit was ’n  nuwe mylpaal in hulle geskiedenis. Hulle het hul verwondering uitgesing in Psalm 126: ‘Ons is vry!. Dit is soos ’n blye droom! Is dit regtig waar? Wow!’
Hulle mag teruggaan huis toe, hulle het weer ’n toekoms: wat kan jy nog wens?

Die volgende 4 eeue woon die oorblyfsel van Israel weer in die land.
Maar daar het nooit weer ’n goue eeu vir Israel aangebreek soos in die tyd van David en Salomo nie. Ps 126 wys dit ook: alles was nog nie honkiedorie nie: “U gunsvolk sit nou weer in droefnis neer.”

Dit was eintlik maar ’n armsalige groep mense en ’n arm land. Die vervulling was wel tasbaar, maar nie volledig nie. Die eintlike seën was nog buite bereik.

2.2    Die grootste seën: om God te vind

Daarvoor was Jesus nodig.
Sy koms het die koninkryk van die hemele op aarde ingelui.
Hy het bevryding gebring. Sy genesings en ander wonders was tekens van die koninkryk.
Jesus is koning! – dit is die vervulling van die belofte van die land en die volk wat God vir Abraham gegee het
Hy is die koning op die troon van David. Sy vrederyk bring vernuwing, herstel die reg en blydskap. (en die uiteindelike vervulling is in die nuwe Jerusalem; lees maar in Hebr 11 en die boek Openbaring oor die uiteindelike realiteit en heerlikheid van die koninkryk.)
Nog steeds wag ons dus op die volledige vervulling van die belofte.

Maar intussen leef ons wel in hierdie realiteit wat God beloof het in Jeremia: “Ek sal My deur julle laat vind”.
Die verhouding met God is herstel vir almal wat in Jesus glo.

Dis waaroor dit gaan in ons gebede.
Jy mag allerlei dinge vra, maar dit gaan in die eerste plek oor die verhouding met God. Dit is herstel deur Jesus.
Hy het die sonde, wat die verhouding ondermyn en steeds weer gederail het, versoen het deur sy sterwe en opstanding.

Wie deur geloof by Jesus behoort, deel in die verhouding met God.
Dis nie ’n transaksie ver weg in die hof nie. Nee, God is nou jou liefdevolle vader. Hy het al die gelowiges as sy kinders aangeneem.
En daardie aanneming het dadelik gevolge vir jou lewe, elke dag.

Jy lees in Matteus 7 hoe jou verhouding met die Vader van Jesus jou hele lewe verander. Hy is jou Vader, en hy luister en reageer soos ’n vader.
Luister maar: (Mt7,7-12)
 “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. 9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; 10 en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee? 11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! 12 Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.”

Bid. Soek. Klop. Jesus sê dit op drie maniere, en telkens is die boodskap: hou aan om te vra, en jy sal ontvang.
Dit is ’n uitnodiging om jou Vader te nader. Vra gerus! Laat jou gebede ’n uitdrukking en ’n beroep wees op die vaderliefde van God.
Dit is die rede wat Jesus gee: God het die Vader geword van almal wat in Jesus glo. En sy Vader is vrygewig en gee oorvloedig.
Verwag baie wanneer jy bid tot jou Vader.
-    Vir julle wat bid, sal gegee word.
-    Almal wat God soek, sal vind.
-    Almal wat klop, vir julle sal oopgemaak word.

Jesus sê dit vir almal wat hom volg en in sy koninkryk lewe.
Hy vertel vir jou hoe dit radikaal verskil van hoe jy geleef het. Jy word arm van gees: ek kan dit nie regkry nie! Jy roep uit tot jou Vader: help my! Jy kry nuwe begeertes in jou hart, want jy wil God gehoorsaam, en daarvoor mag jy nou met vertroue vra. 

Hierdie oorvloed kom van die Vader, deur Christus.
Deur geloof in hom ontmoet jy die Vader, in al sy genade, geduld, goedheid, en liefde.
“julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”

So het die belofte wat God deur Jeremia gegee het, nou reeds werklikheid geword.
Glo in Jesus.
Hou aan bid. 
Soek hom met jou hele hart en jy sal hom vind.

Amen

Liturgie: 

Seëngroet

Sing: Ps123

Wet + Genadeverkondiging

Sing: Ps103,6-7

Gebed

Skriflesings:
Jereremia 29,1-14,
Daniël 9,1-19;

Sing: Ps126

Preek

Sing: Ps 32,3.4

Gebed + SB28

Sing: SB 50,4-7

Seën