Christus se wonderteken aan ‘n melaatse bevestig die krag, betroubaarheid en aktualiteit van God se Woord

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2021-01-24
Text: 
Mattheus 8:1-4
Preek Inhoud: 

Ons het vanoggend aandag geskenk aan die wetgewing oor melaatsheid in Levitikus.

Levitikus 13 en 14 is lang hoofstukke met uitgebreide instruksies, juridies asook medies baie tegnies.

Dit is nie maklike hoofstukke nie, maar wie die tyd neem om dit rustig deur te lees, dalk met die hulp van ‘n kommentaar, word ryklik beloon.

Hierdie hoofstukke is tans baie aktueel, met die hoogs aansteeklike Covid-19 pandemie wat die wêreld getref het.

Dit laat baie vrae by ons opkom.

Juis ook geloofsvrae.

Almal van ons ken teen hierdie tyd iemand wat aan die Covid-19 virus oorlede is.

Ook is daar reeds baie Christene oorlede.

Daar kom vrae by ons op.

Hoekom laat God toe dat gelowiges ook sterf aan hierdie virus?

Hoekom beskerm God hulle nie?

Hoekom genees Hy hulle nie, mog hulle die virus opgedoen het?

Hoekom het God in elk geval toegelaat dat die virus die mensdom getref het?

Hoe hou dit verband met sy voorsienigheid?

Hierdie is alles vrae wat gelowiges voor ons ook al gevra het.

Dan nie met betrekking tot Covid-19 nie, want dit is nog maar ‘n onlangse siekte wat die mensdom getref het.

Maar dieselfde vrae is gevra tydens die Spaanse griep, ‘n eeu gelede.

Dieselfde vrae is gevra oor die pes in die Middeleeue.

En dieselfde vrae is in die Bybelse tyd ook oor melaatsheid gevra?

Hoekom het melaatsheid ook die kinders in God se verbond getref?

 

Tema: Christus se wonderteken aan ‘n melaatse bevestig die krag, betroubaarheid en aktualiteit van God se Woord

  • God se Woord bevat wetgewing en wonders
  • God se Woord openbaar Christus se kragtige optrede en betroubaarheid van sy beloftes vir hede en toekoms

 

  • God se Woord bevat wetgewing en wonders

Vanaand het ons begin deur nog twee gedeeltes uit die Ou Testament te lees.

Daaruit blyk duidelik dat melaatsheid in die hande van die HERE was.

Hy was in beheer daarvan.

Hy kon Moses opdrag gee om sy hand in sy mantel te steek, en toe hy dit weer uittrek, was dit vol melaatsheid.

En Hy kon net so maklik ook die melaatsheid weer wegneem.

Dit was bedoel as ‘n teken om die Israeliete te beïndruk.

Want die mense van daardie tyd het baie goed geweet dat melaatsheid ‘n blywende siekte was, waarvan mens nie een twee drie ontslae geraak het nie.

Ook in die geval van Mirjam het die HERE haar skielik met melaatsheid getref.

Nie net die eerste tekens van melaatsheid nie, maar melaats oor haar hele lyf, melaats soos sneeu.

Maar ook in haar geval het die HERE onverwags vinnige genesing weer geskenk.

 

Nou as mens hierdie gedeeltes so lees, en jy vergelyk dit met die wetgewing in Levitikus, dan klink dit op ‘n manier teenstrydig.

As Israel naamlik so ‘n God gehad het, wat in ‘n handomdraai melaatsheid kon genees, hoekom was al daardie wette oor melaatsheid nog nodig?

Maatreëls met betrekking tot die verspreiding van die siekte, oor isolasie, kwarantyn, bedekking van die lugweë, dit vind ons alles in Levitikus 13 terug.

In Levitikus 14 kan mens lees oor die sorgvuldige proses om iemand weer rein te verklaar.

Alles met as doel om die siekte soveel as moontlik te isoleer.

Waarom hierdie uitgebreide juridies en medies tegniese hoofstukke in Levitikus?

Hoekom kon die HERE nie net, by wyse van spreke, die volgende instruksie daarin opgeneem het nie:

As ‘n Israeliet die tekens van melaatsheid getoon het, dan moes hy na Moses gaan, of later as Moses nie meer geleef het nie, na die priester, en dan sou die priester onder aanroeping van die naam van God gesond gemaak.

So eenvoudig is dit mos!?

Israel het ‘n God gehad wat wonders kon doen.

En die gedeeltes wat ons gelees het, bewys dat hierdie God ook wonders met betrekking tot melaatsheid kon doen.

Melaatsheid, dit was mees gevreesde siekte van die oudheid.

Melaatsheid was erger as kanker.

Melaatsheid was nie net dodelik en ongeneeslik nie, melaatsheid het ook gesorg dat die pasiënt direk van sy geliefdes geïsoleer moes word.

Dit is een van die ergste dinge, as ‘n mens alleen moet doodgaan, sonder dat daar geliefdes om jou heen is om jou te troos.

En dan het daar meestal ‘n stadige dood in isolasie geword.

‘n Dood wat voorafgegaan is deur die verlies van jou ledemate, wat afgevrot het.

 

Maar hierdie lyk dus baie teenstrydig.

Die God wat almagtig is, wat in ‘n handomdraai sy volk se melaatsheid kan genees, Hy vaardig tog detail instruksies uit vir melaatsheidspasiënte, in die verwagting dat hulle ‘n stadige en geïsoleerde dood gaan sterf.

Die God wat sy volk teen enige plaag kan beskerm, Hy kondig tog maatreëls van kwarantyn af wat moet sorg dat die res van die gemeenskap teen besmetting gevrywaar word.

Waarmee is God nou eintlik besig, vra mens jouself af.

Wil Hy sy volk nou red van melaatsheid of nie?

Hy, wat Moses en Mirjam genees het, kon dit tog veel makliker vir sy volk gemaak het?

Hy was in staat om elke geval te genees, of nie?

Hoekom het Hy nie daardie spesiale behandeling aan elkeen gegee nie?

 

Dieselfde vrae kan ons vandag vra.

As God Covid-19 in ‘n handomdraai kan genees, hoekom moet ons as Christene ook isoleer?

Hoekom kan ons nie gewoon eredienste hou, sonder gesigsmaskers, sonder ontsmetting?

Die Here sal ons moes beskerm!?

 

Geliefde broers en susters, ons stuit hier op ‘n realiteit in die Bybel, wat ons nie kan wegsteek nie, en wat vir verduideliking vra.

Dit is ‘n realiteit wat ons nie net in die Ou Testament vind nie, maar ook in die Nuwe.

Ook in die Nuwe Testament het die Here Jesus melaatse mense genees, maar lank nie almal nie.

Hoekom is dit so, dat God sy kinders in hierdie lewe nie direk van alle gebrokenheid verlos nie?

Hoekom neem God, wat daartoe in staat is, nie in hierdie lewe alle siekte, armoede, beproewings en dergelike dinge van sy kinders af weg nie?

Dit is duidelik uit die Skrif dat Hy dit nie doen nie.

Hy gee eerder maatreëls, soos in Levitikus, om sy kinders te help om so goed as moontlik met die gebrokenheid om te gaan.

 

Geliefde gemeente, dit het alles te make met die groter verhaal van die Bybel, van die Evangelie.

En daarom bring ek ook nie vandag vir u ‘n ‘health and wealth-Gospel’, oftewel in Afrikaans, ‘n voorspoedsteologie, ‘n welvaartsevangelie nie.

Ek bring u wel die troos van die egte Evangelie.

En dit is die groter boodskap, naamlik dat God, in Christus, nie vir sy kinders hier op aarde ‘n lekker en gesonde en ryk lewe belowe nie, maar dat Hy wel beloof om ons van die diepste oorsaak van ons ewige honger en kommer te verlos.

Soos die ou spreekwoord sê, Hy belowe nie ‘n rustige vaart nie, maar wel ‘n behoue aankoms!

Hy het sy Seun gestuur om die diepste oorsaak van alle siektes en epidemies weg te neem.

Dit is die mens se opstand teen sy God, dit is ons sonde.

Maar al die gevolge van die sonde word nou nog nie weggeneem nie.

Daar is wel die belofte in die Bybel dat daardie dag sal aanbreek, waarop alles herskep gaan word, die dag waarop alle gevolge van die sonde, alle siekte en dood en oorlog en haat en nyd en alles wat skeefgeloop het, wel permanent weggeneem sal word.

Ons sien uit na daardie dag!

Maranata!

Ons sien uit na Christus se wederkoms!

Maar in die hier en nou gee die HERE ons sy Woord as ‘n kompas op ons pad.

Met sy Woord, ja ook met ‘n boek soos Levitikus, help Hy ons om tog in hierdie gebroke bestaan kop bo water te hou, en aan te gaan met goeie hoop.

 

Met hierdie gesindheid mag ons tans ook deur die periode van afsondering gaan.

Die Corona Pandemie eis baie slagoffers wêreldwyd.

En die periode van afsondering – lockdown – vra ook offers.

Dink aan impak op die ekonomie.

Maar as kinders van die HERE is ons nie wanhopig nie.

Ons weet, in Christus, dat alle dinge, ook hierdie periode, uiteindelik sal meewerk ten goede!

 

Ja in die hede het God ook al mag oor melaatsheid, oor dodelike siektes.

Hy kon Moses in ‘n oogwink melaats maak, maar ook weer genees.

Ook in Mirjam se geval het die HERE haar melaats gemaak, maar ook weer genees.

Later in die Ou Testament lees ons oor die profeet Elisa wat Naäman die Siriër kon genees van melaatsheid.

Hy moes net Elisa se opdrag uitvoer om homself sewe maal in die Jordaan te gaan was.

Daarenteen het God vir Elisa se kneg Gehasi met melaatsheid getref.

Dit was tekens dat Elisa ‘n man van God was en daarom buitengewone bevoegdhede gehad het.

Ook in die Nuwe Testament sien ons by die Here Jesus dat sy genesing van melaatses dien as bewys vir sy gesag.

Daarna gaan ons nou in die tweede punt kyk.

 

(Tema: Christus se wonderteken aan ‘n melaatse bevestig die krag, betroubaarheid en aktualiteit van God se Woord

  • God se Woord bevat wetgewing en wonders)

 

  • God se Woord openbaar Christus se kragtige optrede en betroubaarheid van sy beloftes vir hede en toekoms

Die gedeelte wat ons nounet gelees het uit Mattheüs, volg na die bekende Bergrede.

Met die genesing van ‘n melaatse bewys Jesus dat Hy bevoegdheid het om namens God te spreek.

 

Nadat Jesus van die berg afgedaal het en groot menigtes agter Hom aan, kom daar skielik ‘n melaatse.

Nou hierdie melaatse het duidelik die wet van Moses oortree.

Pleks van dat hy afstand gehou het van ander mense en hardop ‘onrein, onrein!’ geroep het, kom hy direk op Jesus af en val op sy knieë voor Hom.

Christus toon egter sy barmhartigheid.

Pleks van hom weg te jaag, steek Jesus sy hand uit en raak hom aan.

Wat ‘n kontras!

Geen social distancing, maar liggaamlike kontak!

Die skare sou gesidder het by hierdie tafereel!

Maar hiermee het Jesus dus as ‘t ware die melaatsheid by hom oorgeneem.

Hy beantwoord die geloof van hierdie man in Hom:

Ja, Ek wil dat jy gesond word.

Word gereinig!

En dadelik, staan daar, is hy van sy melaatsheid gereinig.

Hierdie was ‘n buitengewoon skouspelagtige wonder.

Hierdeur is Jesus in die oë van die skare direk geplaas in die kategorie van profete soos Moses, Elia en Elisa.

En dit was die bedoeling van hierdie wonder, dat die skare sou besef dat sy woorde gesag dra!

 

Nou wat daarna dan volg, is net so aktueel.

Jesus gee hom naamlik die opdrag: Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskrywe het.

Ons moenie hierdie verkeerd verstaan asof die man nooit vir die res van sy lewe met iemand oor sy genesing mog praat nie.

Dis nie wat hier staan nie.

Jesus en die man wat genees is was in elk geval omring deur ‘n menigte mense.

Maar Jesus het bedoel: Voordat jy jouself nie aan die priester gaan vertoon het en voordat jy nie die voorgeskrewe offer gebring het nie, mag jy met niemand hieroor praat nie!

Nou hierdie opdrag van Jesus bring ons weer terug by die hoofstukke in Levitikus.

Dis duidelik dat Jesus die wet van Moses nie oorboord gegooi het nie.

Jesus honoreer die bedoeling van Moses se voorskrifte.

Dit was naamlik die priester wat die finale diagnose moes maak of iemand genees was.

Nie dat Jesus sy eie wonder gewantrou het nie.

Die man moes na die priester gaan.

En die priester kon gerus die strengste diagnose uitvoer.

Jesus was oortuig dat die priester niks van die siekte aan die man sou terugvind nie.

En daarna, as die man deur die priester medies en juridies weer rein, gesond verklaar is, dan mog hy natuurlik dit aan almal vertel!

As hy egter oppad na die priester alreeds vir ieder en elk sou vertel, sou hy ontsteltenis veroorsaak sover hy gaan.

Mense sou dalk dink die man is nie goed in sy kop nie.

Mense sou dink dis net ‘n storie ...

Mense sou bang raak omdat hy nog voor die wet nog steeds in die staat van melaatsheid verkeer het.

Vandaar dus Jesus se opdrag: Gaan eers na die priester sonder om dit aan iemand te vertel, en gaan bring eers jou offer wat Moses voorgeskryf het.

Daarna sal dit vir almal objektief duidelik wees: Hierdie man is genees!

Ja nadat die priester dit bevestig het, sou dit ‘n onweerlegbare getuigenis van Jesus se gesag wees vir al die mense!

 

Geliefde broers en susters, hierdie geskiedenis wys so mooi vir ons dat Jesus gekom het, nie om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul.

Jesus het nie as ‘t ware met ‘n knuppel die hoenderhok ingevaar, en alle reëls en gewoontes in Israel oorboord gegooi nie.

Hy het Homself onder die wet gevoeg.

Terselfdertyd het Hy ver bo die wet uitgestyg!

Die wet van Moses was bedoel om melaatsheid so ver moontlik in te perk.

Isolasie, kwarantyn, social distancing, beskerming van die lugweë, noem maar op.

Maar die wet van Moses kon melaatsheid nie genees nie.

Christus vervul egter die bedoeling van die wet deur melaatsheid ook daadwerklik te genees!

 

Daarmee gee Jesus ‘n voorsmakie van hoe dinge in sy koninkryk gaan wees!

Later het Jesus aan sy dissipels ook die mag gegee oor melaatsheid, toe Hy hulle oor heel Israel uitgestuur het, om die blye boodskap van die koms van die Messias aan te kondig.

Ons lees in Mattheüs 10, twee hoofstukke verder, waar Jesus vir sy dissipels sê:

Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.

Hierdie tekens was bedoel om geloofwaardigheid toe te voeg aan hulle boodskap oor die koms van die Messias.

En so, aan die begin van die Nuwe Testament, het Christus hierdie bevoegdhede ook aan die apostels gegee.

Dink aan die wondertekens wat Petrus en Paulus gedoen het, waaroor ons in Handelinge lees.

Dit alles was ‘n voorsmakie van hoe die koninkryk van die hemele, wat op koms is, hoe dit alle dinge op aarde gaan genees en herstel!

Hierdie mag om wondertekens te verrig, was dus bedoel om geloofwaardigheid te verleen aan die apostoliese getuienis.

Toe die apostoliese generasie uitgesterf het, het hierdie wondertekens ook opgehou.

Maar wat voortgegaan het en wat ons ook bereik het, is die getuienis van die apostels en profete.

En ons weet dat hulle getuienis waar en standvastig is!

Die wondertekens van daardie tyd dien as bewys daarvoor.

En ons word opgeroep om hierdie getuienis van apostels en profete vas te hou, daarin te glo, daaruit troos te put, totdat Christus terugkom!

 

En, ons mag volg in die voetspore van Jesus.

Eerstens deur die wette wat God aan Moses gegee het, te eerbiedig.

Nie dat dit ons kan red nie, maar hulle is bedoel om ons lewe te beskerm.

En tweedens om net soos Christus die bedoeling van God se wette te laat skitter, naamlik liefde en barmhartigheid op aarde te betoon.

Deur die eeue sien ons hoe ook Christene juis uitgereik het na die melaatses.

In ons eie land het die eerste sendelinge in Genadendal uitgereik na die melaatses.

Een van die sendelinge en sy vrou het letterlik gaan woon in die melaatsekolonie.

Die melaatsekolonie was toe, in die vroeë 18-honderds, in ‘n afgeleë gebied genaamd Hemel en Aarde, in die kontrei van wat vandag bekend staan as Hermanus.

Later is die melaatsekolonie verplaas na Robbeneiland, en ook toe het die sendelinge saamgegaan.

En in hulle voetspore, ja in ons Heiland se voetspore, mag ons vandag volg, deur as Christene juis liefde en barmhartigheid te toon aan almal wat getref word deur die Corona Pandemie.

Daar is sommige van ons gemeentelede wat op die frontlyn besig is, daardie gemeentelede wat in die mediese professie werksaam is.

Laat ons hulle op die hande dra.

Laat ons ook self help waar ons kan, nie in die laaste plek deur die maatreëls in ag te neem, steeds met die bedoeling voor oë, naamlik om ander, veral die kwesbares, asook onsself te beskerm.

Hierdie pandemie is ook een van die tekens van die tye wat Jesus aangekondig het.

In die sin is dit juis hoopgewend!

Ons leer daaruit dat die einde van hierdie gebroke wêreld in sig is.

Ons leer hieruit dat mense rondskarrel, gryp na houvas soos die mediese wetenskap, maar dat hulle desondanks nie opgewasse is teen die golwe van ellende wat oor die aarde spoel nie.

Self sal die mensheid nie ‘n paradys op aarde kan vestig nie.

Ons sien uit na die dag waarop Christus sal terugkom, wanneer Hy sy koninkryk permanent op aarde gaan stig,

‘n Koninkryk waarin daar geen pandemies meer sal wees nie!

Kom ons beantwoord nou die prediking met Psalm 51, die enigste psalm waar melaatsheid letterlik genoem word:

“Net soos die lyder, van melaatsheid vry,

verlangend na die teer gemeenskapsbande,

besprinkel word deur priesterlike hande -

ontsondig, HEER, ontsondig so ook my!”

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 103:2

Gebed

Skriflesing: Exodus 4:1-8 & Numeri 12:9-11

Ps 105:15

Skriflesing: Mattheüs 8:1-4

Ps 66:2

Teks: Mattheüs 8:1-4

Preek

Ps 51:4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 103:8,9

Kollekte

Ps 46:3,4

Seën