Die belofte van bevryding deur die Messias, maak hart en tong los om God te dank en eer

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-12-13
Text: 
Jesaja 12
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat is ons antwoord op wat God ons in Jesus Christus se koms op aarde gegee het? En hoe verander hierdie versekering van die Seun wat in die vlees na ons toe gekom het, die gerigtheid van ons lewe?

Ons verhouding met God word nuut, ‘n heeltemaal nuwe verhouding waar ons nie meer op onsself gerig is nie. Ons lewe, ons bestaan gaan op in dank aan God, eerbied en lof aan Hom word ons lewe.

Die Messias se koms soos Jesaja dit profeteer het, in die geskiedenis van God se gang met die wereld plaas ons in ‘n herstelde verhouding met God, waar Hy die as van ons lewe is, waarom ons lewe draai. Dit is die einddoel van God se heilswerk dat hy erken word as die God wat alles is vir syne. Hy is Vader deur my Here, Jesus Christus. Indiwiduele selfgesentreerde voorkeure skuif na die kant. Die kind in die krip is vir ons die weg van God sodat deur Christus se lyding in sy vleeswording Hy sy rykstroon oor ons bevestig, sodat ons Hom gelowig kan ken, loof en dien, en Hy die eer ontvang wat Hom toekom.

Ons skriflesing en teks verkondig aan ons God se ywer vir sy Naam en die ywer vir sy volk. Die vryheid van sy genade en barmhartigheid wanneer Hy sy beloftes aan ons gee deur ons op te soek met die koms van sy Seun na ons toe. Deur lyding onder die sonde en sy toorn oor ons sonde heen bring Hy ons by die rus van die volbringde werk van sy vleesgeworde Woord en die afwending van sy toorn, sodat ons in gemeenskap met Christus leef na sy finale koms toe. 

God is een en sy openbaring in die Skrif is een en ondeelbaar. Die eenheid van God se leiding van sy volk uit Egipte waar Christus as geestelike rots met sy verbondsvolk gegaan het, en deur die woestyn na die beloofde land, en God se leiding van sy ongehoorsame volk deur die profesie van Jesaja, om hulle eindelik in ballingskap te laat gaan, maar ‘n oorblyfsel te laat terugkeer, en sy vervulling van die profesie van die Messias wat kom in die geboorte van Sy Seun in die vlees in die evangelie van die NT, is alles een volmaakte werk van Hom. Die eenheid is saamgevat in die persoon en werk van Jesus Christus. Want die hele Skrif getuig van Christus. Om in die geloof te volhard omdat ons lewe in Christus is, is afhanklik van die werk van God se Gees vir ons en in ons om Christus en sy beloftes in ons harte in te dra. En in al sy werk waarvan ons in die Skrif lees van Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag, en Pinkster werk God haastig met ons na die laaste dag toe wanneer Christus die koninkryk aan die Vader sal oorgee sodat God alles sal wees in almal. 

Die eenheid van die werk van God wil in alle skerpte begryp word, en op ons harte inwerk om ons in God te laat glo en aan mekaar te bind in die lewende Christus, om in die gemeente saam lof en dank te bring aan God en Christus, en tot aan die einde van die aarde. 

Die natuurlike mens van ons tyd is geestelik vermoeid en in ‘n doodsbestaan vasgevang. Hy kan nog op die klank af feesvier oor Christus se koms maar dit is alleen maar gerig op sy eie vervulling. Maar hy kan homself nie help nie. Waar die liefde en kennis van Christus nie jou lewe vul nie bly jy onvervuld in ‘n leë bestaan. Jy word alleen deur die evangelie van Jesus Christus gelawe en na God toe opgetrek en omgekeer om Hom te loof en dank vanuit ‘n lewe wat deur die Gees met Christus vervul is.

Die belofte van bevryding deur die Messias, maak hart en tong los om God te dank en eer

Eerstens: Teen die wanhoop van sy hardkoppige volk in, beloof God om deur die Messias uitkoms te bring

Wie die boek Jesaja van die eerste hoofstuk af lees, weet teen hoofstuk 10, die Here se volk het gefaal. Dit was nie eens ‘n kwessie van val en opstaan, val en opstaan nie. Hulle was lewend dood. Hulle verhouding met God was leeg.

Alles was daarmee heen met hulle.

Klaarblyklik het net ‘n stomp oorgebly.

En tog – daar het ‘n stomp oorgebly. 

Die stomp was die beeld vir die geslag van Dawid en Isai.

In die eerste lied van Jesaja 5:1-7 het Jesaja as profeet alleen gesing, ‘n lied van God se droefheid en terleurstelling en verwyt oor sy wingerd waaraan Hy so hard gewerk het, maar wat geen goeie druiwe wou lewer nie. ‘n Lied van die Heilige God wat sy geregtigheid handhaaf en sy volk straf. Toe was daar vir Israel niks meer om oor te sing nie. Alleen die profeet het gesing, die droefheid van God en sy oordeel oor sy volk uitgedra.

In koning Agas se tyd, dit is die tyd van die lied van hoofstuk 12, ons teksgedeelte, was die toestand van die volk nie beter as in hoofstuk 5 nie, maar nog slegter. Die verhouding met God net ‘n leë dop. Die toekoms en God wat moontlik na sy volk sou kon terugkeer nog meer uitgesluit. 

Maar die profeet bring die volk daarbo uit. Bo hulle eie tyd. Die oog op God se toekoms gerig. 

En met die herinnering aan die uittog uit Egipte en die belofte van God aan sy volk van ‘n takkie uit die stomp van Isai , dit is die aanstaande koms van die Messias, gee Hy vir hulle soveel hoop dat hulle in staat word om agter hom aan die lied van die uitkoms deur die Messias te sing.

Om saam te vat. Die Here het vir die eer van sy Naam en sy heiligheid en geregtigheid en sy uitvoering van sy heilsplan sy volk oorgegee aan die Assiriers en stad en land is verwoes. Dit was alles daarmee heen.

Net ‘n stomp het oorgebly.

Maar in hoofstuk 11 is daar ‘n draaipunt met die voorsegging van die aanstaande koms van God se Messias.

…Hierdie stomp was die oorblyfsel van die huis van Isai en Dawid. …Jy kon kyk na die droë stomp, maar daar is geen lewe nie.

…Maar ……kyk dan hier. Hier kom werklikwaar ‘n takkie te voorskyn uit die wortel van hierdie oenskynlik droë stomp.

En wie anders is hierdie takkie as die Messias en sy koninkryk, die Messias en sy voorspoedige vredeheerskappy? 11:1-5.

In verse 6-10 oortuig ons Vader sy kinders so dat hulle kan feesvier en saamsing. Dit is te danke aan die Messias van God en die werking van die Gees van God in ons. Die Messias is die vrede van God en Hy bring ook die vrede na ons toe. Want Hy koop sy volk los. Hy gee hulle verlossing. Hy versamel hulle en maak hulle bymekaar. En selfs die nasies sal vra na die wortel van Isai. Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here. Die bedeling van Pinkster, die bedeling van die Gees, die herstel van alle dinge tot aan die einde van die aarde sien ons voor ons.

Die toekoms van God se volk is in die hande van die Messias wat vir hulle stry, 11-16. Dit begin in vers 11 en 12 met die beeld van loskoop. En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see; en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde. 

Eers het God sy volk uit Egipte uitgelei deur die hand van Moses. God het hulle in die beloofde land ingebring. Maar deur die koms van die Messias lei Hy die oorblyfsel van sy volk uit Assirie waar hulle in ballingskap sou gaan, en uit Egipte en Patros en Kus en Elam en Hamat en die kuslande van die see en bring hulle terug. Hy hef nie net oor sy volk sy banier op nie, maar ook oor die nasies, dit beteken Hy bevestig sy hoofskap oor die nasies. Deur Hom volvoer God sy saak teen die nasies. Ook vir die nasies is daar nou hoop. Ook vir die nasies is die boodskap dat die Messias die fontein van heil is wat God se toorn afwend van hulle af.

En so sluit vers 16 met die boodskap vol hoop oor die gevolge van die loskoping of verlossing deur die Messias. En daar sal ‘n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het. Van die uittog deur die ballingskap heen tot die terugkeer van ‘n oorblyfsel deur die heilswerk van die Messias tot God se ryk van vrede.

Tweedens: Die dag van die afwending van die toorn van God op sy Messias, sal die volk se wanhoop verander in hoopvolle en dankbare psalmsang

In ons teks, hoofstuk 12 vanaf vers 1 hoor ons die werking van die Gees wat nie net op die Messias sal wees nie, 11:2, maar ook op elkeen waarnatoe God Hom stuur, sodat 11:9: die aarde sal vol wees van die kennis van die Here, hoor ons die jubelwoorde van die profeet van God, maar lei hy ook die volk om God te loof. Hy jubel oor die Messias wat vir sy volk gestry en oorwin het. Hier aanbid Hy God en gaan hy die volk wat in groot donkerte verkeer het, voor om hulle aan die Messias oor te gee. 12:1-6.

Jy kan op hierdie goeie nuus, hierdie beloftes van God, wat nog nie eers in vervulling gegaan het nie, alreeds reageer met ‘n dankbare hart en ‘n loflied tot God. Wanneer die ryk van die Messias aanbreek, en die verlossing voor jou oë gebeur, aanskou jy die fonteine van redding wat oorvloedig water gee. Jy kan aanmekaar skep. Dit raak nooit leeg nie. Dit droog nooit op nie. God se heil is so oorvloedig, jy hoef nooit weer bevrees te wees dat dit op ‘n slegte dag boomskraap sal wees nie.

God se verlossing van sy volk loop uit op hulle lof aan Hom. Soos Israel eens op ‘n tyd lofsange vir God gesing het vir sy roemryke verlossing van sy volk van Egipte, so sal die volk in die toekoms soos een man God vir sy wonderlike verlossing deur die Messsias prys. Jesaja se woorde is asof die hoorders wat onder sy verkondiging gesit het, die verlossing deur die Messias self reeds beleef. Maar in werklikheid beskryf hy die lofprysing deur die toekomstige geslagte in die taal en verstaan van sy eie tyd. Hy gebruik die enkelvoud om daarmee te kenne te gee dat die volk soos een man sal optree. Hulle sal dus verenig wees in hulle lof aan God. So Paulus in Rom 15:6, 6:  En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,  sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

Ons onderskei in ons teks vyf dinge wat sal gebeur op die dag van die Messias se koninkryk:

Die volk sal eerstens God dank oor sy toorn wat Hy van hulle afgewend het, 12:1 Die volk staan in ‘n besondere persoonlike verhouding met die enige God, die God wat hulle verkies het, die God wat aan hulle redding skenk. Hulle het Hom in hulle ongeloof en ongehoorsaamheid vertoorn, soos Jesaja van hoofstuk 1 af dit sonder skroom aan die lig gebring het. Hy het Hom oor hulle vertoorn ter wille van die eer van sy Naam. Jy kan sê hulle was so goed as dood voor sy aangesig. Maar Hy het nie toornig oor hulle gebly nie. Hy het hulle vertroos. Die Messias van God gestuur, sou die toorn van God van sy volk afwend. Jy kan God vertrou vir die beloofde Messias vir uitkoms. 

En so was dit in die voortgang van God se redding van sy volk. Jesus het gekom om sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie. Mark 10:45. Ons is vrygekoop met die kosbare bloed van Jesus Christus, 1 Pet 1:18,19: omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos

Die sondaar is ‘n gevangene deur sy eie skuld. Hy verkeer in die greep van vyande wat hom knel en beheers waar hy nie teen opgewasse is nie. Sy vyande is satan, sonde, dood, die vloek van die wet, die verleiding deur die wereld, sy eie sondige hart.

Jy kan self nie daaruit kom nie. Jy het nie die middele of die sterkte om jouself te bevry nie. Hoe jy ook worstel, jy kom nie van hierdie greep los nie. Jy kan alleen maar vrykom indien daar ‘n losprys vir jou betaal word en jy vrygekoop word. 

Dit het Christus gedoen. Die losprys was Hyself. Sy bloed reinig ons van slawerny van sonde en skuld en dood en neem ons sonde weg.

Dankbaarheid teenoor die Here deur sy volk sal wees omdat Hy in sy toorn sy toorn afgewend het van sy sondige volk en hulle vertroos het (omdat Hy sy trou, die trou van sy verbond aan hulle bewys het).

Die Bybel leer hier egter nie dat die toorn van God sonder meer ongemerk wegval nie vanwee sy liefde nie. Die toorn was nie weggeneem en troos het in die plek daarvan gekom nie. God bly toornig oor sonde. Die toorn van God kom op die skuldige, Hy straf die sondaar. Wanneer dit afgewend word van die sondaar word dit steeds gestraf maar nou aan die Een wat in sy plek die skuld van die sondaar se sonde dra. Alleen so kan Hy die volk vertroos op wie sy skuld voorheen gelê het. God is toornig en met reg, maar sy toorn skuif Hy van my na Christus toe oor. En ek wat verdien dat God se toorn op my gestort word, het in plaas daarvan God se vaderlike vertroosting ontvang. Hy versag ons droefheid, Hy verlig ons lyding, Hy verbind ons hart.

Ons mag vandag die volheid daarvan geniet om deur Hom vertroos te word. Maar nou is ons blydskap nog vermeng met droefheid oor ons sonde en ongeloof omdat ons so dikwels wegkyk van Christus. Spoedig sal ons blydskap egter volmaak wees. Dit sal nie meer aangeveg wees nie wanneer Hy weer kom.

Nou mag ons reeds jubel: ek loof U Here. Want U toorn is afgewend. Ek verdien dat ek gevange was. Dit was My eie skuld. My siel en saligheid het ek aan satan verkoop onder die ryk van sonde. Maar U het my bevry. U is my heil. My sterkte. My vrede en voorspoed. My psalm. Ek kan nie anders as juig in my God. 

So wek jy ook ander op. Want oral moet vertel word wat die Here aan my, aan ons as gemeente gedoen het. Dit moet uitgebasuin word. Die mees aangrypende is dat die Here, die Heilige, die majesteitlike ontsagwekkende God deur sy Seun ons kom loskoop het, en dat Hy in die midde van sy gemeente is. God verwerp ons nie meer nie want ons Heiland en Middelaar is hier. Niks kan sommer maar met ons gebeur nie. Ons hoef vir niks meer te vrees nie. 

Die volk sal tweedens dus jubel omdat God hulle heil is, 12:2. Die helderheid van God se versoende aangesig skyn na die toekoms toe. Ten einde laaste het die lang verwagte uitkoms aangebreek. My redding of heil is God Homself. Dit staan vas. Met ons is God. God is my redding. ‘n Oorblyfsel sal terugkeer na die magtige God. Hoe gelukkig dat ek daarom kan sê: God is my redding. As God jou redder is, is daar vertroue, en is daar geen vrees.

Wat beteken dit om te sê: God is my redding of my heil? God is die outeur, die bewerker van my redding. Los van Hom is dit ondenkbaar. In sy ewige raad het God die Vader sy volk tot lewe en heil verorden. In die tyd het die Seun daardie redding gebring met sy dood aan die kruis van Golgota. En in die gang van die tyd op die pad na Christus se tweede koms pas God die Heilige Gees dit toe in die harte van hulle wat aan Hom behoort, sy gemeente. Dit is die seëninge wat Christus vir hulle verkry het deur sy dood. Om hierdie reddding vir die mense te gee het God opgetree en tree hy steeds op. In hierdie reddingsdaad word ons verlos van die skuld en die besmetting deur ons sonde, en ontvang ons die geregtigheid van die ewige Christus. Die Vader is die Vader van die Seun, ons Here Jesus, en ons Vader deurdat Hy ons deur sy onbeskryflike genade aangeneem het in Christus tot sy eie kinders. So ontvang ons God in die rykste en diepste sin. Wat meer het ons nodig as God wat ons heil is?

Indien God nie ons heil, ons redder is nie, het ons alles om te vrees. Jy is dan alleen, op jouself aangewese, jy leef in die stikdonkerte van ‘n oneindige nag. Alleen hy vir wie God sy redding is, kan met moed en oortuiging leef. Met sekerheid en versekerd kan hy verklaar: Ek vertrou op God en is nie bang nie. Alleen die verlostes het hierdie sekerheid.
Elkeen van ons het ‘n basis of fondament in ons lewe nodig. Daarsonder val jou lewe uitmekaar. En hoe sien ons dit nie rondom ons. Maar ons eie sondige natuur bly ook ons vyand. Ons kan ons nie hiervan distansieer nie. Dit kan iets wees waarop ons ons hart sit. Dit kan ons oënskynlik onskuldige wilskrag en volharding wees, dit kan ons eiegeregtigheid wees, dit kan ons opgesmukte vroomheid wees, dit kan ons trotse nederigheid wees. Alleen die krag en sterkte van ons verbondsgod is tot versterking van ons. Hy is ons rots. Op Hom sal ons bly vertrou, bly glo. Alle ander krag en sterkte is verbeelding.

Die profeet gebruik die taal van die uittog (Eks. 15:2) om die volk te help om te sien en ons te laat sien hoedat Christus hulle alreeds in die woestyn gedra het. Die volk het toe die lied van Moses gesing: Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. Jesaja sien die Messias en wys na die Here Here, dit is die Christus, die hoof van die nuwe verbond waarvan Moses maar ‘n skaduwee was. Hy het ons tot heil geword, want Hy het tot ons gekom.

Derdens, die volk sal weet dat die Messias die heilsame bron is waaruit hulle put, 12:3. In die skroeiende woestyn van Sinai het die volk gemurmureer want daar was geen water. In reaksie het Moses die rots geslaan. Water het daaruit gestroom. Dit was bewys en teken van God se genade in die woestyn ten spyte van hulle ongeloof. 1 Kor. 10:4: en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. 

Soos die dors in die woestyn van Sinai, is die dors na water wat die dors les, die lewende water van God, in die tyd van Jesaja, en ook in ons tyd. Dit is genade van God wat Hy op sy volk uitstort in die Messias wat kom. God het water gegee selfs in die dorre woestyn. Deur fonteine en putte. Om krag en volhoubare lewe te gee. Om verlossing deur Christus te gee. Want deurdat Hy reeds in die geskiedenis, dus ook tydens die uittog deur die woestyn, in alle opsigte vir sy volk gesorg het, kan van die Messias verwag word om by sy koms die geestelike rots te wees waaruit sy volk geestelike drank kan verkry om hulle dors te les. En so het Jesus hulle ook geleer. Joh 7:37-39:  En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.  En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo….

In ons teks word die meervoud gebruik: waters of fonteine. Dit gee die volheid en genoegsaamheid van die seeninge van God weer. En die troos dat die volk die ontvangers daarvan sal wees. Water is ‘n pragtige beeld vir redding en die seeninge wat daarmee gepaard gaan. Dit is lewegewend en verfrissend vir die dorstige in die dorsland. Ons gemeente, kan in ons, dikwels deur droogte geteisterde land ‘n goeie aanvoeling hiervoor hê. Wat ‘n pragtige beeld van God se heil in die Persoon van ons Here Jesus Christus.
Jes. 41:17,18: Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. 
Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne. 

Joh. 4:13,14: Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;  maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. 
Openb. 7:16,17: Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie;  want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee. 

Soos die water in die woestyn voorsien is deur God in sy goedheid, so is sy redding deur die Middelaar ‘n geskenk van sy goedheid. Deur genade alleen is die heil. En daarom in die water in die woestyn kom reeds die volheid van God se heil na die volk. En so in die heil kom die volheid van God se beloftes na ons, ook ons daaglikse lewe met sy sorge oor brood. Alles wat lewe gee vloei uit God se vrye guns aan ons.
Die lewe van die gelowige is vreugde, ook onder die moeilikste en pynlikste beproewende omstandighede, want hy weet die verskriklike skuldlas wat hom van God geskei het, is deur God weggeneem en staan nie meer tussen hom en God nie. En dit alles vanwee die werk van Jesus Christus.

Vierdens sal die volk by hulle dank aan God, en aanroeping van sy Naam, bid om die werk van die Gees onder die volke, 12:4. Die Messias maak syne bymekaar en vergader hulle. Maar hy is ook vir die nasies ‘n banier. Wanneer ons die seën van redding ontvang en geniet is dit ons begeerte om die heerlikheid van die vergewende en verlossende God ook aan ander te gee. Om aan die volke Hom te verkondig. Wanneer ons hart oorstroom word met die skatte van die Here, besing ons tong sy lof. In die dag van Jesaja het die mense mekaar onderdruk en die heilige Naam van Israel se God verag, maar wanneer God redding gee, aan syne, bemoedig en vermaan hulle mekaar om in heilige diens die Naam van God aan te roep. Om sy Naam aan te roep, en geen ander naam nie, erken mens wie Hy is en jy is. Sy Naam is sy wese, wysheid, krag, heiligheid, reg en geregtigheid, goedheid en waarheid. Hierin gaan dit om ware diens aan God.

Die inhoud van die verkondiging en vermaning is die magtige dade van God vir sy volk. Wie Jesus is en waarom Hy na die aarde gekom het, en vlees geword het en wat Hy bereik het deur sy dood. Die leer van die evangelie. 1 Tes. 1:9,10: Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos. 
Die Naam van God word so verhoog. Want Hy Homself is die hoog en heilige een. Laat ons mekaar aanmoedig hierin. Laat ons vir die werk van God se Heilige Gees bid. Laat ons vertel en uitnooi. Die kerk maak God se Naam bekend deur die een geloof in God en sy Christus te verkondig. En mense op te roep om te weet en te onthou dat sy Naam verhoog word. Dit word gedoen deur die goddelik gestuurde verkondiging van die evangelie van redding. Die prediking van die leer van saligheid. God se boodskap aan die nasies uit te dra, met die oog op die weerkoms van ons Heer. 

Vyfdens sal die volk hierdeur God se heiligheid en heerlikheid uitjubel, 12:6,7. Psalmsing, juig en jubel. Deur sang en speel op snaarinstrumente word die Here geprys. So word die heerlike dinge wat plaasgevind het in hierdie lied aan sy toedoen toegeskryf. Daar word beaam Hy is die sterk een, die magtige God, alleen by hom is krag en sterkte. Deur sang word dit uitgedra oor die hele aarde dat Hy wonderlike dinge gedoen het, dat Hy Israel verlos het en sy volk bevry het van bande van slawerny. Niks en niemand kan vergelyk word met die groot redding wat Hy bewerk het toe Hy sy eniggebore Seun opgeoffer het. Hierdie dinge is hoog en verhewe, waar en wonderlik, en oop in die lig om te glo.

Die inwoners van Sion, die stad van God, word voorgestel as ‘n vrou. Dit is die volk wat verlos is. Wanneer die profeet tot haar spreek, rig hy hom tot al God se kinders. Hy beveel om ‘n skril uitroep te gee en in jubel uit te breek, vers 6. In die midde van sy volk woon God in sy tempel, en deur onder hulle te woon toon God Hom as die werklike groot een. In die Ou Testament was God se woning in die tempel en die teenwoordigheid van God was in die woorde en wonders, en in die lyding en offer van Christus. Christus is nie beperk tot ‘n tempel of tot die hemel nie, maar Hy is in die midde van sy volk in sy Woord en Gees, en Christus neem oor en vervul die rol van die Ou Testamentiese tempel in menige opsig. Dit het begin by sy geboorte in die vlees, dit reik na die dag van sy wederkoms wanneer God verheerlik sal word in alles en almal. Die Heilige van Israel is ook die Hoof, die Herder van sy gemeente.

Sy gemeente mag die wereld hierin voorgaan om te jubel en te juig oor God se groot werk om sondaars te verlos. En ons mag leef as verlostes, en die wereld mag God ken deur die groot werk wat Hy aan ons gedoen het en elke dag doen deur Christus en sy Gees.

Amen
 

Liturgie: 

Votum: Psalm 121:1

Groete: Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader deur ons Here Jesus Christus. Amen

Sing: Psalm 124:1,4

Lees van die Wet

Sing: Psalm 97:1,4,6

Gebed

Skriflesing: Jesaja 11, 1 Pet. 1:17-25

Sing: Psalm 66:7,8
Teks: Jesaja 12

Preek

Amenlied: Psalm 66:1,4,6

Gebed

Kollekte

Slotsang: Psalm 138:1,2,3

Seën:
Die Here sal u seën en u behoed, 
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees, 
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. 

SING AMEN