Net een ding is nodig

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-05-10
Text: 
Johannes 21:15-19
Preek Inhoud: 

Doel: Ontdek wat regtig tel

Tema: Net een ding is nodig.

1  Genade

Petrus

Petrus is die mees bekende van die dissipels. Hy is die luidrugtigste, die waaghals, die dissipel wat altyd voorop loop, en dikwels dinge in ’n opwelling doen. Vol vuur.
Dis iemand wat jy in die gemeente wil hê. Hy is ’n go-getter, bietjie irritant, maar hy kry dinge gedoen. En niemand twyfel aan sy toewyding aan Jesus. Hy is die mees aktiewe lidmaat. Jy verwag hom eintlik in die kerkraad.

Petrus was impulsief. Op ’n dag het Jesus sy dissipels gewaarsku: julle sal my almal verlaat. En dadelik roep Petrus: ‘Hulle mag dit doen, maar ek sal nooit nie!’
Nie net het hy baie vir Jesus wou doen nie, maar hy het ook neergekyk op die ander, terwyl hy homself hoër geag het: ‘nee, ek sal soiets nie doen nie!’

Daar is ’n uitdrukking: ‘Famous last words!’
Iets wat jy sê sal nooit gebeur nie, gebeur.

Verloëning

Dit het gebeur, in die nag waarin Jesus verraai is en gevange geneem is.
Almal het gevlug, maar Petrus het so stilletjies hom gevolg en was fisies baie naby terwyl Jesus verhoor is. Hy lyk vir ons die moedigste van die dissipels. Hy kon gedink het: ‘maar ek het Jesus darem nie verlaat nie!’

Maar hy was bang. Sodra die deurwagster hom herken, ontken hy. Nee nee!
Tog stap hy na binne, nog nader. En o, in die skemerlig van die kolevuur herken hulle hom weer. Hy skrik. Nee, ek behoort nie by sy dissipels nie!

Dan raak die grond heeltemal te warm onder sy voete, warmer as die vuur. Die familielid van Malgus, wie se oor Petrus nog dieselfde aand afgekap het, herken hom. Nou kan hy nie meer ontken dat hy Jesus ken nie.
Maar tog verloën hy Jesus. Vir die derde keer. En die haan kraai.
Presies soos Jesus gesê het.

Na die opstanding

Intussen het Jesus aan die kruis gesterf. Hy het op Sondag opgestaan. Daar begin iets by die dissipels deurdring dat Jesus teruggekom het uit die dood. Die toekoms met Jesus gaan aan! Alles wat hy gesê het, het werklikheid geword. Nou gaan die koninkryk kom, Jesus sal koning word. En sy dissipels, die ‘inner circle’ gaan seker ’n belangrike plek daarin kry?

Maar wat van Petrus?
Petrus wat homself oorskat het, wat altyd brand van entoesiasme vir die saak van Jesus, het drooggemaak. En dis nie ’n klein foutjie nie. Hy het Jesus verloën: hy wou nie meer by hom behoort nie, en het verkies om sy lewe te red pleks van om dit vir Jesus te gee.
Het Jesus nie iets daaroor gesê nie: ‘wie sy lewe wil behou, sal dit verloor’ nie?

Wat gaan Jesus met Petrus maak? Is daar nog ’n plek vir hom, aan Jesus se regterhand? Nee tog seker? ’n Grootprater wat op die beslissende moment Jesus verlaat het – hy kan tog nie ’n leier wees nie?

2  Liefde

Drie vrae: een vraag

Jesus ontmoet sy dissipels in Galilea, by die bekende meer.
Dit bring dinge in herinnering. Visvang. Die storm op die meer. Die tyd met Jesus.
Jesus maak ontbyt by die see. Hulle werk die hele nag om vis te vang. En dit werk nie!
Dan roep Jesus hulle: gooi jul net uit aan die ander kant van die boot.
O ja. Dis mos dieselfde see? Dit gaan nie ’n verskil maak nie…

Hulle doen dit tog, en vang baie visse, die net kan dit maar net hou.
En dan nooi Jesus hulle, en daar lê al klaar visse op die vuur, en daar is brood! Hy gee vir hulle brood en vis.
Hulle sal dadelik gedink het aan die broodwonder: Jesus het uit vyf brode en twee visse aandete gemaak vir meer as 5000 mense, hier by dieselfde see van Tiberias.
Dis Jesus! Natuurlik.
Dit bring hulle terug by die begin, toe Jesus hulle geroep het: volg my, en ek maak van julle vissers van mense.

Maar hoe gaan hulle dit regkry?
Wat het hulle nodig?
Entoesiasme?
Bereidheid om hard te werk vir Jesus?
Gaan die kerk van Jesus oor die wêreld versprei onder leiding van ’n klomp go-getters?

Nee.
Jesus vra drie vrae.
‘Simon, het jy my waarlik lief, meer as hulle hier?’ - ‘Ja Here, u weet dat ek u liefhet.’
’n Tweede keer: ‘Simon, het jy my waarlik lief?’ Ja Here, u weet dit!

En ’n Derde keer: ‘Simon, het jy my lief?’
Dit gaan nou nie oor die drie verskillende werkwoorde wat Jesus gebruik nie, alhoe sterk: het jy my lief?
Maar wat Petrus bekommer, is dat Jesus drie maal dieselfde vraag vra.
Net soos hy drie maal Jesus verloën het, vra Jesus hom driemaal of hy hom liefhet.

Dis steeds dieselfde vraag. Daar is net een ding wat tel: het jy Jesus lief? Dan mag jy sy skape wei. Petrus mag weer ’n rol speel in Jesus se koninkryk: om sy skape op te pas, klein en groot.

Jou entoesiasme kan indrukwekkend wees. Maar dit is onbetroubaar, dit kan onder druk verdwyn.
Jou harde werk of begaafdheid kan mooi lyk in verhouding tot ander s’n, maar dis nie belangrik nie.
Die resultate van ’n predikant, sendeling, ouderling of diaken is nie wat tel nie. Is jy lief vir Jesus?

Jesus gaan Petrus en die ander dissipels uitstuur om sy skape te roep, uit die Joodse volk en daarbuite.
Daarvoor het hy nie mense nodig wat selfvertroue het en wat wel die ding sal doen nie. Grootpraat en selfoorskatting maak mense juis ’n instrument van die duiwel.

Leef uit genade!
Het jy Jesus regtig lief? Besef jy dat jy net hom nodig het? Dat jy self niks kan regkry, en nie op jouself moet vertrou nie? 
Aan die begin van jou pad met Christus (bekering, regverdiging) moet jy net op Christus vertrou en hom liefhê meer as enigiets in die wêreld.
Maar dit hou aan tot die einde: die res van jou christenlewe moet jy net so goed uit genade lewe, en nie uit eie krag nie.
Het jy Christus lief?

Net dit is nodig.

Jou lewe!

Tot die einde toe. Dit blyk uit Jesus se volgende woorde:
Daar sal ’n tyd kom dat jy nie self jou pad meer kan uitsoek nie, ’n ander sal jou vasbind en jou bring waar jy nie wil wees nie.
Johannes die evangelis vertaal hierdie kriptiese woorde dadelik vir ons: Petrus se diens aan Jesus sal sy dood beteken.

Jesus is lief vir sy skape. Hy het gesterf om hulle te red: die gelowiges. Binne en buite die Joodse volk – hy bring hulle by mekaar.

Laat my skape wei

Ons, lidmate van die gemeentes van die opgestane Jesus, leer ’n geweldig belangrike les. Onthou dit vir die res van jou lewe: of jy ’n lidmaat of ’n ampsdraer is, een ding is nodig: liefde vir Christus.

Christus laat sy skape wei deur die diens van herders.
Maar die herders is self sondaars.
Hulle moet eers gered word, genade ontvang, klein gemaak word, hulself leer verloën, en net op Christus vertrou – voordat hulle die skape van Christus kan laat wei.
Maar Jesus hou aan om sondaars daarvoor te gebruik. Sondaars wat gered is, wat nederig wil wees, wat nie op hul eie kundigheid of harde werk vertrou.

Gemeentelede, laat julle lei deur sondaars wat Jesus uitgestuur het, en wat geleer het om nederig te wees, om uit genade te leef.
Daarna moet jy soek. Hulle sal jou regtig laat wei: dan ontvang jy die voedsel van die woord van Christus, en die water van die lewe. Daardie voorgangers bring jou by Christus.

Dit is dus die oproep vir elke predikant, ouderling en diaken: een ding is nodig. Het jy Christus lief?
Niemand kan mense na Jesus toe bring as hy nie eers self deur Jesus gegryp is en verander is nie.
Dit gaan nie oor my nie, dat ek erken word, dat ek suksesvol lyk nie.
Johannes het gesê: ek moet minder word, hy moet meer word.

Onbekeerlike mense is trots en wil nie gekorrigeer word nie. Dit lewer ’n kerk op van trotse selfvoldane mense, wat veg om invloed te kry. Of baie onsekere, skrikkerige mense wat nie seker is van hulle redding nie, en bang vir verandering. Wat veilig voel by reëls, maar die liefde vir Jesus – waar is dit?

Daar is heelwat om oor na te dink wanneer Jesus vir jou en my vra: het jy my waarlik lief? Is ek alles vir jou?

Petrus het eerder vir Jesus verloën. Sy lewe was toe vir hom kosbaarder as Jesus. 
Kan hy met vertroue nou sê: ‘Ja, Here, ek verseker u: ek het u regtig lief!’ ?

Wie van ons kan dit sê?
As jy dit wil sê, trap jy presies in dieselfde slaggat: jy is vol selfvertroue en jy dink jy kan die ding doen.

Maar dis nie wat Jesus soek nie.
En ons sien in Petrus se antwoord dat hy nou die regte houding het.
Hy sê: Here, U weet…. dat ek u liefhet.
Ek sê dit nie omdat ek in my hart kyk en daar ’n baie sterk liefde vind nie. Daar is nie eers voldoende liefde in my petroltank om die eerste toets te slaag nie.
Om nog maar te swyg van situasies waarin my lewe op die spel staan. Ek kan dit nie op eie krag hanteer nie.

Nee, dis wat ons moet leer: ‘u weet, Here.’
U het self daardie liefde in my hart ontsteek.
Met u spring ek oor ’n muur (Ps 18).
Wanneer u my hart oorwin, en daarin kom woon, dan gee u Gees vir my die liefde wat ek nodig het om u te volg.
En dan kan ek in vertroue op u my aan u oorgee, wat ook al gebeur, watter offers u ook van my sal vra. Ek kan alles deur Jesus Christus wat in my werk.

Tenslotte. Dit is vir ons ook van belang in die tyd van lockdown.
Ons betreur dat ons heelwat aktiwiteite nie saam kan doen nie, of vir ’n hele ruk glad nie kan doen nie.
Van ons voel ook, dat dit onnatuurlik is om Bybelstudie te doen terwyl ons mekaar net hoor, of op ’n skerm sien.

Onthou twee dinge:

  1. Ons leer weer waaroor dit regtig gaan: Het jy Christus lief? – en nie ‘hoeveel aktiwiteite woon jy by’ of ‘sien ons jou genoeg’ nie. Dit gaan nie oor die uiterlike dinge nie en die hoeveelheid aktiwiteit wat ons vir Christus ontplooi nie.
    Dit kan dus goed wees dat ons sekere aktiwiteite vir ’n ruk nie saam kan doen nie. Leer maar weer wat regtig tel. Fokus maar op Christus: het ek hom waarlik lief?
  2. En wanneer jy hom liefhet, sal jy aanhou om Christus se Woord te soek en om mekaar te soek, sodat ons onder leiding van Jesus se herders weiding vind. Dan kan jy verby beperkings of ongemaklike dinge kyk, omdat jy doelgerig daarna soek om Christus te dien en mekaar te dien.

Volg my! - sê Jesus vir Petrus.
My skape luister na my stem. (Joh 10)

Ek is seker dat almal wat Christus waarlik liefhet, middele sal soek én vind om saam met die ander skape Christus te volg.

Amen

Liturgie: 

Seëngroet

Psalm 116: 1,4,5

Gebed

Skriflesing: Johannes 21

Psalm 95:1,4

Preek: Johannes 21:15-19

Skrifberyming 24:2,3

Wet

Psalm 85:1,3,4

Gebed

Kollekte

Psalm 84:3,5

Seën