Ons heilige koning, die Here van die leerskare regeer deur sy woord te vervul

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-11-22
Text: 
Jesaja 6
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus

Konings en staatsleiers se optrede het die aandag van die burgers van ‘n land. Hulle suksesse maar veral hulle tekortkominge en oortredings gaan nie ongemerk verby nie. Opvallend is dat konings en staatsleiers vir ‘n tyd lank onthou word vir die dinge wat hulle gedoen het, of nie gedoen het nie, maar dat hulle almal van die toneel verdwyn, dat elkeen een of ander tyd vervang word. Wanneer hulle regeer is hulle neiging om alles te beheer, maar hulle hele inspanning om te heers verdwyn saam met hulle, vinniger as wat hulle aan bewind gekom het.

En met ‘n krisis so groot van omvang soos wat die wereld vandag beleef, sien jy ook hoe klein en beperk is hierdie manne se vermoëns werklik om suksesvolle oplossings te gee. 

En tog is daar ontkenning dat die grootste krisis waarin die wereldbevolking hom bevind, dat God wat die Koning en Here is wat oor alles vir ewig regeer, nie gehoor word nie en nie geken word nie, en alles van sy leiding in die wereld verwag word nie.

Die Here van die leërskare, word in Jesaja se visioen, juis aan ons geopenbaar as die Koning, eerstens van sy volk, maar ook in sy skepping waarin sy heerlikheid hemel en aarde vul. En sy koningwees oor sy volk en oor die volke en sy regering om sy raadsplan uit te voer, strek van die begin tot die einde en dit omvat die hele wereld. Van sy troon gaan sy Woord uit en werk sy Gees kragtig om God se doel met alles te bereik. Om sy geregtigheid uit te voer en so sy heiligheid en heerlikheid te handhaaf.

Middelpunt van elke dag, middelpunt van ons lewe elke dag is nie die krisis wat ons lewens bepaal nie, is nie die gebeure in die wereld, maar is God op sy troon, in sy troonsaal. Weet ons hoe hoog hy is, gee ons Hom ons gespitste ore en ons helderkykende oë en ons harte wat ootmoedig en begrypend is oor die afmetings van sy geregtigheid en vol is van vreugde en dankbaarheid. Dan leef ons as mense wie se hart en mond en hande rein is omdat Hy ons geheilig het en heilig maak.

God se oordeel is beslissend. Sy plan voer Hy end-uit teen alle teenstand in. Met sy Woord wat Hy stuur, en in die besonder deur sy Heilige Gees wat Hy uitgestort het met Pinkster. Dit bring die eindes van die aarde en die vervulling van alles tot by ons. En… ons sien die onmiddelike krisis van die tyd waarin ons leef in die perspektief van die Heilige God op sy troon.

Ons sien ons teks in die groter konteks van God se troon en sy heiligheid in die boek Openbaring.

Ons heilige koning, die Here van die leerskare regeer deur sy woord te vervul
•   
In die roeping van en opdrag aan sy profeet
•   In ondergang van sy volk en die redding van ‘n oorblyfsel

In die roeping van en opdrag aan sy profeet

God het in die tyd van Ussia aan Jesaja verskyn deur hierdie roepingsvisioen waardeur God hom voorberei het op die besonder moeilike werk wat hy sou hê as God se Gesant of Boodskapper. Hy moes die Woord aflewer, maar die Here sou self met sy Woord werk, in die ondergang en ballingskap van sy volk maar ook in die redding van ‘n oorblyfsel.

Nou, in die sterfjaar van koning Ussia van Juda, het Jesaja sy visioen gehad – die visioen van sy heilige God wat die verhewe koning is wat op sy troon sit en regeer oor alles en almal.

Ussia het reg gedoen voor God, maar hy het hom in sy grootheid verhef en het onregmatig in die tempel geoffer. Hy is toe met melaatsheid geslaan waaraan hy eindelik gesterf het. Sy seun Jotam het hom opgevolg. Die mense sou dit bespreek het. Hoe sal dit nou onder Jotam, sonder sy pa, verder gaan? Hoe moet die bedreiging van die moondheid Assirie beoordeel word? Hoe sal dit die vrede en voorspoed van Juda raak?

Jesaja teken koning Ussia se sterwe aan, die staatkundige bedeling van Juda, die huis van Dawid, om vandaar direk die visioen te beskryf, dit is juis nou in hierdie jaar van die wisseling van die konings dat die volk voor die eintlike Koning in sy heiligheid kom. Want dit is Hy wat oor alles sy geregtigheid handhaaf en oordeel. Hy oordeel konings en volke. Wat ook sy volk oordeel en straf. Hy bring krisis en neem krisis weg. Hy voer sy raad uit. Die ellende en bedreiging omdat die volk hulle God verag het en Hom in sy liefde terleurgestel het, hoofstuk 5, bring sy oordeel oor sy volk. Daar is ‘n lewensbelangrike saak wat hulle moet hoor, die profeet gaan vir hulle konfronteer met God se geregtigheid en oordeel. In die lig daarvan is hulle menings en hulle gesprek oor die koning wat heengegaan het en die welvaart en vrede in Juda irrelevant. Hulle situasie is sleg want hulle het God nie in sy geregtigheid geken nie en hulle vertroue nie op Hom geplaas nie. Terwyl hulle toekoms in sy hande is, en Hy sal hulle ongeloof straf.

Die volk van God moes baie goed ingelig word oor waar Jesaja se prediking vandaan kom, hulle moes luister na God se Boodskapper wat voor God was en vanaf die troon van die Koning, die Here van die leerskare self gestuur is na hulle toe. Jesaja sien die magtige Koning sit op sy hoë en verhewe troon. God is verhewe, Hy is hoog, 5:16. Die some van sy kleed het die tempel gevul. Die tempel kan Hom nie omvat nie. 

Ons kom hier onder die indruk van soveel onmeetlikheid.

Op die troon sit God die Heer van Israel. Jesaja word geroep deur die koning oor Israel. Op die koningskap van God word groot nadruk geplaas. Hy word in vers 1 Adonai genoem, Verhewe gebieder, dit is Heerser, en vers 5 die Koning, die Here van die leerskare. Dus, die koning en sy ryk.

Jesaja se oë het die Koning, die Here van die leerskare gesien, en tog gee hy geen besonderhede weer nie. ‘n Mens kan God se heerlikheid nie omvat nie. En die srafs het hulleself met hulle vlerke bedek.

Die some van sy kleed alleeen het al die vloeroppervlak van die tempel gevul. 

Hy is ‘n ontsagwekkende koning. 

Ook die serafs is in die visioen indrukwekkend. Hulle is voortdurend in beweging en roep mekaar toe… Heilig. Heilig. Heilig. Is die Here van die leerskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol. Die driemalige herhaling van heilig beteken ontsaglik heilig.  Sy hof van serafs omring die koning op sy troon. Die serafs wat self vol ontsag, en eerbied, was, se vier van 6 vlerke het hulle bedek. Ons is bewus van God se oorweldigende majesteit, sy verhewenheid, dat Hy die heilige bo alles is, dat Hy bo alles uitstyg, dat Hy met niks te vergelyk is nie. Alles wat sondig is in sy nabyheid, kan nie standhou nie.

Die geluid van die serafs wat geroep het, was so kragtig dat die mure van die tempel of paleis van God gedreun het, die swaar deure in hulle kosyne het gebewe. Die plek het vol rook geword. 

God gee aan Jesaja hierdie visioen sodat Hy God in sy heerlike heiligheid aanskou, en Hom in sy hoogheid eer, dat hy van homself in sy sonde en ongeregtigheid voor God se heiligheid bewus is, as sondaar maar ook as profeet van die volk van God wat volhard in sonde. Al wat hy kan sê is: wee my, verlore is ek, ek is onrein van lippe en woon onder ‘n volk onrein van lippe.

Jesaja word voorberei. Nie om maar ‘n praatjie te maak met mense wat gemeenskaplike belangstellings het nie, of wie se menings oor dinge ooreenstem nie. 

God gee hom ‘n spannende, en geweldige boodskap om aan sy volk te preek. Dit word sy lewenstaak. Vir jare lank sou hy dit bring. Daarom moes Jesaja nie net woorde aframmel oor God en sy geregtigheid nie, maar in ‘n tyd wat feitlik die hele Juda geen vertrouensvolle verhouding met God meer gehad het nie, is dit belangrik dat Jesaja uit persoonlike sien en hoor en verstaan van God se hoogheid en heerlikheid aan God se volk kan verkondig dat Hy die koning is, dat Hy die heilige is, dat Hy in geregtigheid oordeel en straf, en ook red. Anders sou sy boodskap dat God die prediking gaan gebruik om teenstand by sy volk te bewerk en straf teen hulle te werk, vir Jesaja te veel kon wees.

Hy sou God se openbaring onverkort bring aan sy mede inwoners van Jerusalem en Juda. Want dit gaan oor God se verhouding met sy volk wat Hy uitverkies het en oorlaai het met sy seëninge, en wat sy liefde beantwoord het met ontrou. Gemeente, Is ons getrou aan God se Woord? God se werkwyse verander nie. Die Heilige Gees as die Boodskapper van God bring ons alles wat Christus geleer het. En Hy gebruik verskillende middele om dit te doen.  Die gereelde prediking. Die versorging en onderrig deur die ampsdraers aan die gemeente. Sendelinge op die sendingterrein. Vaders en moeders in die huis. Die gemeenskap van die heiliges om mekaar te bemoedig maar ook te vermaan. Maar altyd is dit God se saak. Van ons word verwag om nie God se Woord te buig nie, maar ook om te bid en te soek om God se Woord onverkort te hoor.

Ons is wereldwys, ons is kundig oor die sake van ons dag, maar ken en eer ons ons Koning? Is ons voorbereid deur die kennis van ons God en sy geregtigheid deur en ter wille van sy Seun, om God se boodskap te hoor en van Hom en sy heiligheid teenoor alle mense te getuig. Ten spyte van teenstand wat ons mag ervaar. In ‘n samelewing wat nie wil hoor en sien en verstaan dat God sy heiligheid handhaaf deur sy geregtigheid nie, maar ‘n samelewing wat soek na selfvervulling en selfhandhawing. Ons ken Hom die Heilige, wat sy Woord uitstuur. Deur sondaars. Dit is nie ‘n neutrale woord nie, waar jy minagtend kan wegloop sonder gevolge nie. Ons het dit reeds verneem van die gelykenis van die Here en sy wingerd, hoofstuk 5. Hoe sy wingerd op sy volhardende liefde reageer het. 

Hy bereik sy doel met sy Woord. Die situasie waarin ons in ons land en die wereld verkeer, bestuur en lei Hy deur uitvoering van sy raad deur die kragtige werk van sy Heilige Gees. God sal nie verander nie, sy Woord sal nie verander nie. Maar dink ons vanaf ons kennis en ervaring voor ons Koning oor die situasie van ons dag, oor die bedreigings en krisis.

Om God se Woord te bring was vir die profeet nie ‘n vanselfsprekende saak nie. Hy staan so skuldig as sondaar voor die heilige God.

5. Wee my…………ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! 

Jesaja was natuurlik persoonlik skuldig voor die heilige God vanwee sy sonde. Maar hy was ook deel van die Here se verkore volk, ‘n sondige, opstandige volk. Hy kan hom nie losmaak van sy aandeel aan hulle sonde nie. Hy dra gesamentlike verantwoordelikheid. Al verset hy hom teen hulle sondes. 

Hoe sal hy dit oorleef, aangesien hy die koning, die Here van die leerskare, die heilige God gesien het? God se heiligheid verteer hom.

Maar God verteer hom nie. God verskoon hom ook nie. Jesaja se mond word nie toegeskroei nie. Maar sy sonde, sy ongeregtigheid word weggeneem, simbolies met ‘n gloeiende kool van die altaar, sodat sy mond vir die uitspreek van God se Woord kan oopgaan. 

Die vuurkool wys na die offer wat gebring word op die altaar. God verdra nie sonde nie, maar Jesaja se skuld word weggeneem en sy sonde versoen. Sodat hy gereinig, geheilig vir God, met vrede in sy hart en vrymoedigheid God se Woord kan bring. 

Ons kan tog so moeites vanwee die sonde hê elkeen in ons diens aan God. Ons beleef die oorblyfsel van die sonde in ons eie lewens. Ons stry daagliks teen die sonde. Soms struikel ons. Maar in Christus mag ons weet die sonde leef nie meer in ons nie, maar Christus deur sy Gees. God het ons met Homself versoen deur die offer van Christus en ons mag nou vir Christus diensbaar wees.

Sien hoe werk God in sy roeping van sy profeet. Die Here het sy werktuig gemaak. Jesaja is bereid om te gaan nadat God hom geopenbaar het as die Heilige God wat sy sonde wegneem. God het gevra: Wie sal ek stuur en wie sal gaan? Hy kon sonder skroom hierop antwoord: Hier is ek, stuur my…

Ons heilige koning, die Here van die leerskare regeer deur sy woord te vervul
In ondergang van sy volk en die redding van ‘n oorblyfsel

Die opdrag is moeilik. Jesaja word gestuur om te preek tot die volk, hy sou dan wel aangehoor word, maar sy prediking sal nie ter harte geneem word nie, steeds sal die volk hulle verhard….9. In die Hebreeus het God se opdrag byna ‘n kortaf klank. Gaan sê aan hierdie volk… Nie vriendelik die volk van my liefde nie, die beskrywing van die liefde van ‘n eienaar vir sy wingerd nie. Nee, want hierdie ongehoorsame volk sal hulle nie van hulle ongehoorsaamheid deur Jesaja se prediking wil laat bekeer nie. Hierdie boodskap en die uitwerking daarvan in die volk se gesindheid teenoor hulle Koning in die hemel is ‘n draad wat deur die Skrif loop.

So het Jesus die Fariseers en skrifgeleerdes herinner aan wat Jesaja oorgekom het. Matt 13:13-15: Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. 

Christus was die hoogste profeet en leraar maar selfs sy prediking word nie deur die meeste aanvaar nie. Die volk se ongeloof op Jesaja se prediking was voorspel van wat sou volg met die koms van God se seun na die wereld. Jesaja het goed geweet waarvoor hy sy lewe in diens van God se Woord sou gee. Sy opdrag was om met sy prediking vers 10 die hart van die volk vet te smeer, hulle ore swaar te maak, hulle oë te bestryk sodat hulle nie sien en nie hoor en nie verstaan nie. Sodat hulle hul nie bekeer en gesond word nie. Hulle sou nie as God se volk behoue bly nie. 

Die volk het ‘n hoë roeping, dure plig, en ‘n heilryke bestemming met hulle God. Maar ook swaar oordeel as hulle die heiligheid van die God, wat sy verbond met hulle gesluit het, nie ag nie. In Levitikus lees ons oor hoe hulle lewe in geregtigheid moet wees.  In al die bepalings en wette het God die beginsels vir hulle verhouding met Hom vasgelê. Op grond van sy geregtigheid, gaan Hy die onreg (dit is die sonde in die onderlinge verhouding met sy volk) keer en wegneem. Hy staan nie as passiewe toeskouer nie. 

Daar word nie pertinent na God se raad in ons teks verwys nie, maar die hele geskiedenis met sy volk word deur Hom bepaal en volgens sy meesterplan gelei tot die doel wat Hy gestel het: die saligheid van sy uitverkorenes. En vernietiging van sy vyande. Al is dit dan ook dat dit alleen ‘n oorblyfsel, ‘n stomp, ‘n spruit is wat terugkeer uit ballingskap soos ons in die boek Jesaja lees (1:9, 4:3, 7:3, 10:20-22, 11:11,16, 28:5).

Jesaja het nie sy gevoelens vir sy volk verswyg nie, soos ons in hoofstukke 15, 16, 22, 24 lees. Tog het hy bo sy verdriet bly staan. Hy het die Here se Woord oor sy volk getrou bedien. Hy het die las van ballingskap en verdwyning van Israel in die Here bly dra.

Jesaja sal spreek, oproep tot geloof, maar sprekend meedeel dat sy woord om op te roep by hulle geen aanvaarding en ingang sal vind nie. Dat wat God toelaat – verharding en ongeloof – dat Hy dit ook veroorsaak. God laat nie passief nie maar welbewus toe en beskik. Hulle verharding op sy roepstem is nie nuut nie, en dit is daarom straf vir ‘n lang lys van volhardende sondedoen. So ‘n opdrag word nie vanuit geringe oorsake gegee nie. Dink aan God se ernstige verwyt en oordeel hoofstuk 5. Is daar nie iets van ironie soos ouers soms met ‘n kind handel wat steeds ongehoorsaam is nie? Die ouer sal sê: Nou doen dan wat jy wil doen. Ek het jou aanhoudend gewaarsku. Stamp nou maar jou kop. ‘n Laaste middel om hulle kind terug te roep.

Jesaja sien die volk in hulle ondergang onder God se oordeel voor hom. 11 Hy vra: Hoe lank Here? ‘n Gebed vir sy volk vir uitkoms. Hy bring die boodskap in alle erns, selfs wanneer die volk hulle verhard. Hy het hulle vir wie hy preek lief. Sal die Here hulle nie genadig wees nie? Hoe moeilik dit mag wees, die hele raad van God aan ons geopenbaar, moet verkondig word. Die Here van die leerskare het die profeet op sy gebed geantwoord verse 11 – 13: Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot ‘n wildernis,  en die HERE die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die land.  En as nog ‘n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar soos by die terpentynboom en die eikeboom—as hulle omgekap word—’n stomp oorbly, so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees. 

In Johannes 12:39,40 pas Jesus Jesaja se boodskap toe op die ongeloof van die mense in Homself. Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het:  Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.  Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het. 

Jesaja moes preek dat hulle nie sal doen wat hulle beveel word nie. God wil hê dat sy volk Hom glo, maar nou kom ‘n boodskapper wat moet keer dat dit gebeur. God se opdrag dat almal glo word nie opgehef nie. Hulle wat sy woord nie glo nie word skuldig gehou voor Hom. Die volk het so gesondig en verhard dat hulle die saad van eie ondergang in hulle gedra het. Die teokrasie waarin God Juda en Israel as volk vir Hom verkies het, en waar Hy later met Juda voortgegaan het, en waarvan hy die Koning is, sal definitief tot einde kom. Dit moet oopgevlek word dat die mense kies om nie God se volk te wees nie. En dat hulle met reg in ballingskap sal gaan en die land verwoes agterlaat.

Dit sal seker wees, dit is bepaal deur God. In God se soewereine heerlikheid het Hy beskik dat hierdie volk met teenstand reageer teen die evangelie van genade, en tot niet gaan. Hulle blindheid en verharding moet aan hulle eie verdorwenheid toegeskryf word. Wanneer hy hulle oproep om te glo, beveel God hulle om van Hom redding te verwag. In sy prediking het Jesaja hoor, sien, verstaan aan ‘n dowe, blinde, agtelosige volk gebring. Die verharding op die boodskap moet toegeskryf word aan die verdorwenheid van oorgrote deel van hierdie volk. Die goddelose het geen reg om ‘n saak te maak teen die prediking van die waarheid asof die waarheid in sigself slegte effek het nie. Die mens se hart, het lewensbelangrike nood aan wedergeboorte. Hulle kan net hulleself blameer in die teenstand en weiering van God se Woord in hul lewens. 

Gaan na hierdie volk, lees ons … Die Here het nie meer verwagtinge van sy volk Israel of Juda nie. Hulle het afstand geskep deur hulle ongeloof. Hy het hulle nog nie oorgegee nie, Hy het bly soek, maar as volk wil hulle nie luister nie. Daarom Jesaja se boodskap.….Israel was gewoond aan God se Woord. Elke keer het dit in hulle ore weerklink. Elke keer het hulle dit nie ernstig geneem nie. Alles wat die Here vir die volk gedoen het het sy verwerp. Wie dan nie wil luister nie, sal ook nie luister nie. En hierin is Jesaja se taak, maak die hart van die volk vet, die ore swaar, bestryk die oë…sodat hulle hulle nie bekeer en genees word nie. Hulle het ‘n hart gehad wat traag is en nie meer reageer het nie. 

Wie is verantwoordelik vir Israel se ongeloof?........... Alleen maar hulleself.

Al die sorg het die eienaar bestee vir die wingerd. Jesaja 5. Hy het goeie druiwe verwag.  Die volk het egter hulle alreeds van Hom afgekeer en hulle afgesluit van sy woord. Dit was nie God se skuld nie. Hy het Jesaja gestuur en steeds geroep na sy volk. Jesaja het hulle oorvloedig met God se Woord bedien. Lees die opvolgende hoofstukke 7-12, Jesaja het nie net oordeel nie, maar ook die belofte van heil gebring. God se liefde vir sy volk bevestig. God het hulle nie vergeet nie en hulle nie laat vaar nie.

Maar waar mense hulle afgesluit het vir sy Woord en weier om hulle aan God se Woord oor te gee, het verdere konfrontasie met sy Woord tot gevolg dat die verset teen sy Woord sterker word. So gaan dit met verset teen die evangelie.

Jesaja se verkondiging sal God se oordeel laat hoor aan sy ongehoorsame volk, maar hulle sal hulle nie laat sê nie. En daarom moet hulle ook hoor hoe God se straf sal ontvou. Die wingerd van hoofstuk 5 word aan verlating oorgegee, word verwoes. Die volk sal soos ‘n boom afgekap word.
Die profeet moet veral die toorn van God aan die volk laat hoor. Aan sy geregtigheid moet voldoen word. So word sy heiligheid gehandhaaf. So word Hy in sy hoogheid as Koning erken.
Hy wil nie sy heil skenk aan onwillige, teenstaanders nie. Hy sal hierdie volk wat die uitvoering van sy heilsplan wil dwarsboom, nie toelaat nie. (29:18, 35:5)
Wil hulle hulle verhard? Laat hulle hulle gang gaan. 

……Maar die Here gee uitkoms. Die Here sal gee dat ‘n oorblyfsel hulle bekeer.

Alles sal nie vrugteloos wees nie. Die oordeel van die Here oor die afval van sy volk sou verset opwek. Dit sal wees soos die afkap van ‘n boom, ‘n eikeboom of terpentynboom, maar wat oorbly, die stomp, hou belofte vir die toekoms. Die oorblyfsel is ‘n groot saak in Jesaja se prediking.

As ‘n tiende deel nog in die land is, sal ook dit verwoes word. Net ‘n stomp sal oorbly, ‘n oorblyfsel. Wanneer ‘n booom afgekap word is daar nog lewe in die stomp. Dit is die heilige saad, die uitverkorenes. 

Hulle is heilig vir die Heilige God van Israel en hulle sal as heiliges voor Hom bestaan. Gered deur die barmhartigheid van God. ‘n Oorblyfsel wees wat standhou sodat God se beloftes in Christus vervul word.

Christus het later selfde as Jesaja ondervind. Ons hoogste profeet is die bewys van God se genade. God se genadewoord. Hy het soveel tekens vir die volk gedoen. Die volk sou tog soos een man in Hom glo? Dit het nie gebeur nie. Hulle het Hom verwerp en as misdadiger aan die kruis gehang. Die volk het hulle van God se Woord finaal afgekeer. Die verset teen God is met nog groter hewigheid begroet.

En tog in Paulus se droefheid oor Israel en haar toekoms, mag hy meedeel dat ten spyte van God se oordeel oor hulle, op grond van God se genade ‘n oorblyfsel is.

Rom 11:5-7:  Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.  En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.  Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. 

Ons staan by die hemelvaart en troonbestyging en die regering van Christus oor alles in hemel en op aarde. Ons lees Handelinge, ons lees Romeine, ons lees Openbaring, ons mag kom tot voor God se troon in die hemel. Ons hoor dat die weiering van God se volk en die geloof waartoe die heidene gekom het, te danke is aan God se raad, om sy wil in Christus deur te voer en dat wanneer Israel die Christus verwerp, daar tog ‘n oorblyfsel is, en dat die gereddes uit al die nasies deur geloof in Christus, in gehoorsaamheid aan God se Woord voor die heilige Koning wat in hemel en op aarde regeer, mag leef deur die versoening wat Christus bewerk het. Die Heilige Gees dra die werk van Christus in ons harte. Tot aan die einde van die aarde hoor en sien, verstaan die uitverkorenes van God die geregtigheid van God en keer tot God en word genees deur Christus se soenverdienste. Ons neem toe in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker Jesus Christus deur die Woord wat die Heilige God tot ons stuur. Wees daarom kragtige getuies van God se Woord. Reik ook in hierdie tyd uit na so baie mense wat in onsekerheid en opstandigheid en leegheid verdrink omdat hulle volhardend hulle aan God onttrek het.

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Genade vir u en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe geeste wat voor sy troon is en van Jesus Christus die getroue getuie die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen

Sing: Psalm 106:1,2

Gebed

Skriflesing: Openbaring 4, 7:9-12
Sing: Psalm 11:3,4,5

Teks: Jesaja 6
Ons het twee weke gelede hoofstuk 5 as teks gehad oor die liefdevolle verhouding tussen die eienaar en sy wingerd, dus tussen God en sy volk en God se terleurstelling en oordeel omdat Israel nie sy liefde met gehoorsaamheid beantwoord het nie. Ons teks sluit daarby aan.

Sing: Psalm 145:3,4

Apostoliese Geloofbelydenis
Sing: Skrifberyming 34:1

Dankgebed

Kollektes

Sing: Skrifberyming 32:1,2 (slotsang)

Uitspreek van die seën:
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee
Amen