Wees baie bewus van Satan se begeerte, maar let nog meer op Jesus se gebed

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-11-15
Text: 
Lukas 22:31-32
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons kon vandag weer nagmaal vier. Vir die eerste keer sedert 9 Februarie – meer as nege maande gelede. Vir die meeste van ons hooplik ‘n bemoedigende gebeurtenis, moontlik selfs ‘n geestelike hoogtepunt: “Ná bange tyd van somerdroogte is daar die uitkoms weer... Ons sal ons in u huis versadig met hoogste gunsbewys: met heil’ge goed wat U milddadig laat stroom uit u paleis” – soos wat ons sopas uit Psalm 65 gesing het.

Die dissipels moes iets soorgelyks ervaar het in Lukas 22. Hulle het sopas die eerste nagmaal in die geskiedenis saam met die Here Jesus gevier – ‘n kosbare maaltyd! En ook al moes Jesus hulle daarna liggies vermaan oor hulle diskussie oor wie van hulle nou werklik die grootste geag moet word, tog het Hy dit in vers 29 opgevolg met ‘n heerlike belofte: “Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Luk. 22:29-30). Wat ‘n vooruitsig: die Messiaanse Koninkryk wat gevestig word, en die dissipels wat saam met Jesus regeer! Gepraat van ‘n geestelike hoogtepunt!

 

Maar Jesus is nog skaars klaar met hierdie heerlike belofte, of Hy vervolg in ons teks met ‘n baie sober uitspraak, een wat Petrus en die ander dissipels eensklaps terugbring aarde toe: die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Sodat die dissipels – én ons! – sal onthou: die Koninkryk is nog nie hier nie, dit moet nog kom. En in een nag val Petrus vanaf die hoogtes van vreugdevolle verwagting tot in die dieptes van mislukking: driemaal verloën hy sy Heiland. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween (Luk. 22:62). Petrus het op die harde manier geleer dat, voordat die heerlike beloftes van die Koninkryk waar word, daar nog eers ‘n stryd is om te stry. En juis op hierdie besondere Sondag, waarin ons ná ‘n lang tyd weer die vreugde ervaar het van die maaltyd met die Here, is dit goed om herinner te word aan die tyd waarin ons leef, en aan die intense stryd waarin ons onsself tans bevind: die Satan begeer vurig om ons soos koring te sif.

Tema: Wees baie bewus van Satan se begeerte, maar let nog meer op Jesus se gebed.

 

Die heel eerste nagmaal in die geskiedenis is sopas agter die rug – ‘n kosbare oomblik... voordat Jesus oppad gaan na die kruis. En dit is juis die komende lydensweg en kruis wat Jesus die ernstige woorde in ons teks tot Petrus en die ander dissipels laat rig: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif” (vers 31). Om soos koring gesif te word – wat word presies met hierdie beeld bedoel? Nou, vir die mense van Jesus se dae was dit nie ‘n onbekende beeld nie, maar ná meer as tweeduisend jaar het ons vandag ‘n bietjie verduideliking nodig. Wanneer koring in daardie tyd geoes is, is dit daarna op ‘n hoop op die dorsvloer bymekaar gebring. Daar is dit eers uitgewan. Hiervoor is ‘n gaffel gebruik (‘n hooivurk met vyf tande) – die gaffel is in die hoop koring ingesteek en dan is die koring, wat nog met die kaf vermeng was, in die lug opgegooi. Die kaf is dan deur die wind weggewaai, maar die koring (omdat dit swaarder was) het weer op die grond geval. Hierna moes die koring egter met ‘n groot sif skoongemaak word. Want teen daardie tyd was die koringkorrels vermeng met stof en allerhande vuiligheid wat daar op die dorsvloer gelê het. Dus, alles is in groot ronde siwwe gegooi, wat dan heen en weer geskud is – sodat die stof en vuiligheid deur die gate van die sif geval het, terwyl die koringkorrels in die sif agtergebly het.

 

Nou, dit is die beeld wat Jesus hier gebruik. Satan wil Simon Petrus en die ander dissipels soos koring sif; hy wil hê hulle moet deur sy sif val. Maar goed, wat beteken dit nou konkreet in hierdie spesifieke konteks van die dissipels in Lukas 22? Wel, Jesus se woorde in vers 32 kan ons help; Jesus sê daar: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie. Jesus wil voorkom dat die dissipels hulle geloof verloor – dus, hieruit kan ons aflei dat die Satan presies die teenoorgestelde probeer bereik het, naamlik dat die dissipels wel hulle geloof sou verloor. Hy wou hê dat die dissipels, in die moeilike ure en dae wat sou kom, hulle geloof sou opgee. Dat wat op die punt gestaan het om met Jesus te gebeur – sy gevangeneming, sy verhoor, sy marteling, sy Godverlatenheid, sy kruisdood – dat dít die dissipels sou laat besluit dat hulle tevergeefs in Jesus as die Messias geglo het, en dat sy dood eintlik maar die einde van die Jesus-beweging was. Jesus was nie regtig wie hulle gedink het Hy is nie – en daarom het dit geen sin om verder in Hom te glo nie.

Broes en susters, ons moet onsself Satan probeer voorstel met ‘n groot, ronde sif in sy hande. ‘n Sif met gekartelde gaas, en hierdie gaas het gate met ‘n baie spesifieke vorm: en daardie vorm is ongeloof en ontrou. En wat Satan wil doen is om mense in hierdie sif te gooi en hulle oor die gekartelde gaas heen en weer te skud – heen en weer, heen en weer – todat hulle die vorm aanneem van die gate. Totdat hulle so stukkend en swak en desperaat is dat hulle die geloof laat vaar en as ongelowiges deur die sif val, reguit in die versameling van al die ander ongelowiges. Let wel, geloof kan nie deur hierdie sif val nie – dit is die verkeerde vorm, dit pas nie deur die gate van Satan se sif nie; slegs ongeloof val deur hierdie sif.  

 

Dus, dat Satan Simon en die ander dissipels soos koring wil sif, beteken dat hy daarop uit is om hulle geloof te verwoes, veral in die ure en dae van Jesus se lyding en sterwe. En tot op vandag is dit die groot doel van Satan. En dit maak nie vir hom saak hoe hy dit regkry nie. As hy dit met lyding en swaarkry kan regkry, wonderlik; as hy dit met rykdom kan regkry, ook goed. Maar dit gaan vir hom oor die verwoesting van die geloof. Petrus het hierdie les geleer, want baie jare later skryf hy in sy eerste brief: “... julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof!” (1 Pet. 5:8) Daar het ons dit weer: die geloof! Jesus, aan die een kant, teken vir ons Satan as ‘n boer, wat die volgelinge van Jesus in sy sif heen en weer skud in ‘n poging om hulle van hulle geloof af los te skeur. Petrus, aan die ander kant, teken vir ons Satan as ‘n brullende leeu, wat juis deur die geloof teengestaan moet word. Die enigste persoon wat deur die gate in die Satan se sif pas, is die ongelowige; die enigste persoon wat deur die keel van die leeu pas, is die ongelowige. Geloof pas daardeur nie! En daarom is die geloof die enigste middel wat die Satan se sif kan oorkom en die leeu se keel kan weerstaan. Soos wat Johannes, een van die ander dissipel wat gedurende dieselfde tyd saam met Petrus in Satan se sif geskud is, ons leer in sy eerste brief: “dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Joh. 5:4).

 

Broers en susters, die Satan het nog nie verander nie. Hy skud nog steeds sy sif. Hy is uiteraard voortdurend hiermee besig (en hy doen dit op verskillende maniere in verskillende mense se lewens), maar ek reken dat die kerk van die Here – nie slegs hier in Pretoria of in ons land nie, maar wêreldwyd – in ‘n tyd lewe waarin die Satan besonder aktief besig is om ons te probeer sif. Predikante en kerkrade, gelowiges wêreldwyd, wonder (en dit word ook al hoe meer uitgespreek in preke en kerklike publikasies): met hoeveel gaan ons oorbly wanneer die pandemie en die beperkings wat dit meebring, eendag verby is? Hoeveel van die rofweg 460 lidmate van hierdie gemeente gaan oorbly wanneer ons eendag weer sonder beperkings kerk kan wees? Broers en susters, ons bevind onsself in ‘n uiters gevaarlike siftingsperiode – moenie daaroor enige illusie hê nie. Die Satan gebruik die pandemie, hy gebruik die beperkings op ons eredienste, die beperkings op die beoefening van die gemeenskap van die heiliges, die beperkings op sosiale kontakte, die beperkings op Bybelstudie, hy gebruik jou dikwels (nie altyd nie!) ongegronde vrees dat jy moontlik die virus kan kry as jy wel sou kerktoe gaan – Satan gebruik dit! Hy skud die gelowiges tans in sy sif om te kyk wie hy deur die gate van afval en ongeloof kan laat val. Hy werk kliphard daaraan.

Jy sit Sondae miskien lekker agter jou TV- of rekenaarskerm (pajamas aan, koffie in die hand) – jy het immers ‘n geldige verskoning: jy werk in ‘n risiko-volle beroep; jy is vanweë jou gesondheid ‘n risiko-geval; my klein kindertjies kan nie ‘n uur lank met ‘n masker opsit nie, dus bly ons maar almal by die huis. Ek vra baie versigtig: tot hoe ver strek die geldigheid van jou verskoning? Beantwoord hierdie vraag eerlik voor die Here. En miskien het jy aanvanklik tweemaal op ‘n Sondag so voor jou skerm gesit, maar dit het intussen ook al verwater tot een keer. En dalk is daardie een keer nie eens meer die hele diens nie, dalk net tot by die ‘amen’ van die preek – dan het jy genoeg gehad. Dalk het die grendeltyd vir jou die ideale verskoning geword om daardie Bybelstudie-vereniging waarvan jy teësinnig deel was, nou finaal op te gee; of dalk het julle Bybelstudie-vereniging in elk geval nie waffers gefunksioneer nie, en is die huidige situasie die perfekte geleentheid om dit maar ‘n stille dood te laat sterf. Moontlik is die grendeltyd selfs vir ampsdraers ‘n verskoning om nie te doen wat hulle – juis in hierdie tyd! – sou moes doen nie, naamlik om te waak oor die siele. Dalk bied die grendeltyd die ideale geleentheid vir jou om kerklike kontakte (kontakte met broers en susters) te laat verwater, en jou lewe te lei – iets wat jy moontlik al lankal wou gedoen het maar vanweë die sosiale druk nog nie durf doen het nie.

 

Broers en susters, wat die geval ook al mag wees, as kerkraad is ons bekommerd dat sommige lidmate juis in hierdie tyd dreig om deur die sif van die Satan te val. Juis in hierdie tyd, waar die toesig oor mekaar moeilik geword het en daar groter gewetensvryheid is om, as gevolg van Covid, die eredienste tuis te volg (of te sê dat jy dit tuis volg), juis in hierdie tyd skud die Satan verwoed aan sy sif. En dit wil vir ons voorkom asof veral sommige van ons jongmense en jong getroude egpare en jong gesinne besonder intens geskud word. Dit is hulle wat nie meer onder pa en ma se gesag staan nie, maar wat in baie gevalle ook nog nie ‘n gesonde en vaste patroon van kerklike betrokkenheid vir hulleself uitgewerk het nie. Ons indruk is dat hulle besonder intens geskud word. Daarom, broers en susters – jonk en oud, maar in besonder ons jongmense, ons jong egpare, ons jong gesinne, wat veronderstel is om aan hulle klein kindertjies ‘n voorbeeld vir die toekoms te stel – besef baie goed wat hier aan die gebeur is. Dit gaan hier nie oor jou, wat meer vrye tyd op ‘n Sondagmiddag het nie; dit gaan nie daaroor dat jy nou vry is van die wakende en knaende oë van jou ouderling of van jou mede-broers en -susters nie; dit gaan hier nie oor jou wat nou lekker jou eie ding kan doen nie. Dit gaan daaroor dat jy (en dalk jou man of vrou, dalk jou kinders saam met jou) deur die Satan heen en weer geskud word, heen en weer – hy skaaf aan jou geloof, hy ondermyn jou fondamente, hy breek jou weerstand af... totdat jy nie meer weerstand kan bied nie en jy deur een van die gate in sy sif val.

Broers en susters, is dit vergesog om te dink dat hierdie gemeente, wanneer die pandemie verby is, met 300 of 350 lidmate gaan oorbly, in plaas van die huidige 460? Dis moeilik om te sê, maar ons moenie verbaas wees wanneer dit wel gebeur nie. Die Satan werk, en ons moet deeglik bewus wees van die manier waarop hy in hierdie spesifieke fase van die geskiedenis werk. Laat ons die geloof en die beoefening daarvan nie verloor in die sif van die Satan nie.

------------------

Broers en susters, Jesus laat sy dissipels – en ons – egter nie gaan met die indruk dat ons oorgelewer is aan hierdie wrede boer met sy sif nie. Ons teks gee vir ons twee aanduidings – die een meer bedek, die ander baie openlik – dat ons nie aan die grille van die Satan uitgelewer is nie.

Die eerste het te make met die werkwoord wat hier gebruik word: die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Vurig begeer – dit is nie ‘n verkeerde vertaling nie, maar ‘n belangrike aspek gaan wel verlore met hierdie vertaling. Letterlik staan hier: Satan het versoek / geëis – of soos die nuwe 2020-vertaling dit weergee: Satan het daarop aangedring – om julle soos koring te sif. By wie het Satan hierop aangedring? Wel, waarskynlik by God self. In die boek Job word Satan vir ons voorgestel as iemand wat toegang tot God het en eise aan Hom kan stel. Luister maar na hierdie gesprek tussen God en Satan:

En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het – waarlik, hy sal U in u aangesig seën! Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie (Job 1:9-12).

En dan, wanneer Job se geloof, ten spyte van al sy verliese, standhou, keer Satan terug na God en sê:

Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; maar strek net u hand en tas sy gebeente en sy vlees aan – waarlik, hy sal U in u aangesig seën! En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe (Job 2:4-6).

Dus, sowel hier in Job as in Jesus se woorde in ons teks blyk duidelik dat Satan na God toe moet gaan vir toestemming voordat hy moeilikheid kan maak in die lewens van God se kinders. Satan kan sy mag slegs uitoefen wanneer God dit toelaat. Daar is dus nie twee absolute magte in hierdie wêreld – ‘n goeie mag (God) en ‘n kwade mag (Satan) nie. Nee, daar is net een absolute mag: God. Wanneer Satan die dissipels wil skud, dan moet hy eers na God toe gaan vir toestemming. ‘n Heerlike troos – ons is nie in die hande van Satan nie, ons is in die hande van die lewende God! En wanneer die Satan ons wel van tyd tot tyd in sy sif mag skud, dan doen hy dit omdat God dit toelaat.

 

Die tweede aanduiding dat ons nie aan Satan oorgelewer is nie, is nog baie duideliker. Jesus sê in vers 32: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” Ja, Satan sif, maar Jesus bid. En Jesus bid nie dat ons nie in Satan se sif sal beland nie, Hy vra nie dat ons nie versoek sal word nie. Wat Hy wel bid, is dat ons geloof staande sal bly, ook wanneer die Satan intens aan ons geloofslewe skud. So het Jesus vir Petrus gebid. En Jesus is volledig daarvan oortuig dat die Vader sy gebed sal verhoor, want Hy sê vervolgens: “en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.”

Drie maal het Petrus geloën dat hy Jesus ken. Was dit toe die einde van Petrus se geloof? Nee, want direk na die verloëning hoor ons dat Jesus Petrus aangekyk het en “Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween” (Lukas 22:62). Dit was trane van berou, geloofstrane. Na Jesus se opstanding bely Petrus sy liefde vir Hom (Johannes 21) – dit is die vrug van ‘n ware geloof. Nog later, op Pinksterdag (Handelinge 2), hoor ons die bang Petrus onverskrokke oor Jesus praat, en in Handelinge 12 lees ons dat die einste Petrus, ter wille van sy geloof, in die gevangenis beland. Jesus se gebed het waar geword – Hy het Petrus nie deur die Satan se sif laat val nie.

 

Wat is die geheim van Petrus en die kerk se geloofsvolharding? Die biddende Jesus. Sy gevoude hande. Deur sy gebed neem Hy ons in sy almagtige hande, en sy hande lê ons in die almagtige hande van sy Vader. En deur die eeue heen, dag vir dag, weerklink die Middelaarsgebed van Jesus, die gebed van Johannes 17:11: “Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het.” Volhard ons in die geloof, omdat onsself so sterk is? Nee, ons Here Jesus se gebed is so sterk. Hy bly vir ons bid, ook wanneer daar dae kom dat die Satan so aan ons ruk en skud dat ons geen gebed oor ons lippe kan kry nie. Juis in hierdie tyd, waarin die Satan ons heen en weer ruk en skud, mag ons weet: 1) Satan kan dit nie doen sonder toestemming van die Vader nie, en 2) Jesus Christus se kragtige gebed hou ons staande.

 

En dan is dit ten slotte pragtig om te sien hoe die een wat versterk is in sy geloof, uiteindelik self ‘n versterker van ander word (vers 32b). Dit is wat Jesus se gebed in Petrus uitwerk – hy, wat Jesus verloën het, word ‘n versterker van sy broeders. Mag die Here Jesus se gebed dit ook in ons uitwerk. Mag Hy gee dat daar onder ons ook sulke versterkers sal wees, genoeg om diegene te versterk wat in hierdie tyd swaar moet ly in die sif van die Satan. Die Satan is besig, ook in hierdie gemeente – moenie daaroor twyfels hê nie. Maar die Vader en die Seun span saam om ons uit elke benoudheid te red. Mag ons gemeente deur hierdie siftingsperiode kom, gelouter en gesterk in die geloof. En mag die Here gee dat nie een van ons deur die Satan se sif sal val nie.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet

Sing Ps. 36:2

Gebed

  • Nagmaal
    • Lees kort formulier
    • Voltooi formulier & dankgebed
    • Na die viering: sing Ps. 65:1-3

Lees:    Lukas 22:14-34

Teks: Lukas 22:31-32

Preek

Amenlied Ps. 31:6, 12, 17

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 27:2, 4, 6

Seën