Gelowiges is ryk!

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-06-07
Text: 
Efésiërs 1: 3
Reference: 
Serie: Efésebrief #1 [2023]
Preek Inhoud: 

Efesiërs 1,3
“GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”

Doel:    
-    Gelowiges entoesiasties maak oor die rykdom van seëninge wat hulle ontvang het
-    Hulle oproep om in Christus te bly deur geloof

Inleiding:

Sou jy graag ’n skat vind?
Daar is mense wat hul hele lewe na skatte soek.
Daar was altyd verhale oor seerowers wat hul skat op ’n onbewoonde eiland weggesteek het, en op ’n skatkaart aangeteken het waar hulle dit begrawe het. ’n Geweldige groot rykdom lê êrens verborge. Sou jy nie baie moeite doen indien jy geweet het dat die skat verseker daar was nie?
Dalk is dit in ’n kis, onder die grond. Of in ’n grot. 
Dink net dat jy eindelik die plek gekry het, en by die grot instap.
Dit sal oorweldigend wees wanneer jy die goud sien blink en skitterende edelstene in jou hande hou!

Vandag kry ons ’n skatkaart in hande. 
Die brief van Paulus aan die Efesiërs lei ons na ’n skatkamer.
Jy hoef nie die hele wêreld rond te reis op soek na die skat nie.
Lees maar. Elke gelowige is ryk! Jy het die skat gevind!

Tema:    Gelowiges is ryk!
1 -    Ontdek jou seëninge
2 -    bly in Christus!

1    Ontdek jou seëninge

1.1    Begin met lofprysing

Efésiërs 1 is die hoofstuk oor die uitverkiesing.
Waaraan dink jy by die woord ‘uitverkiesing’?
•    Het jy positiewe gedagtes daarby? 
•    Of dink jy ‘dit is iets wat vas lê en mense fatalisties maak’?
•    Iets wat… moeilik verstaanbaar is? Leergeskille…
•    ’n Leer wat jy ook maar moeilik kan verduidelik?

Die hoofstuk wat ons oor die uitverkiesing vertel, begin met hierdie woorde:
“GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”

Dit begin met ’n lofprysing!

Nou, dis ’n verrassing!
Is dit nie mooi nie?

Dit is hoe Paulus teologie benader. Dit is nie droog of afstandelik nie. Dit bring hom tot lofprysing.
Vir hom leef dit! 

Paulus wys hier vir ons hoe ons die leer van die Skrif moet benader. Wat ons moet maak met die waarhede in die Bybel, alles wat ons oor God en Christus en die Gees glo. Wat maak jy daarmee?
Verwonder jou. Prys die Heer. Dank hom vir die seëninge wat hy oor jou uitstort.

Die Dordtse Leerreëls sê dit ook vir ons:
Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, (sonder nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste) verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ’n lewende troos vir sy volk. (DL1-14)

Teologie moet lei tot doksologie: lofprysing.
Laat dit ons houding wees wanneer ons begin lees in hierdie brief.
Prys God vir sy goedheid en genade!

Jy sal sien: ons het die leer van die uitverkiesing eers goed verstaan en aanvaar wanneer ons troos daarin vind en wanneer dit ons laat uitbars in lofprysing.

1.2    Seëninge

Die rede vir die lofprysing is dadelik duidelik:
“God het ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”

En dan begin hy die seëninge opsom: ‘hy het ons uitgekies…, hy het ons aangeneem, ons sondes vergewe, vir ons ’n nuwe doel en toekoms gee: ’n hemelse erfenis en hy het sy Gees aan ons gegee as ’n waarborg en ’n bewys dat ons Jesus se eiendom is.

Al daardie seëninge: ken jy hulle? Leef dit vir jou? Leef jy daaruit?
Is hierdie seëninge vir jou belangrik? Soek jy dit, het jou aandag en is jou hart daarop gerig?

Kom ons wees eerlik. Hoe dikwels is ons besig met aardse besittings? Hoeveel tyd en energie neem dit nie?
Hoeveel sorge lewer dit ons op? Dink net aan die gevolge van die lockdown, wat baie mense armer gemaak het: laere inkomste, of geen inkomste meer nie. Of daar gaan vir langer tyd nie meer geld wees vir dinge wat jy vroeër nog kon bekostig: vakansie of ander luukse artikels.
Die lewer allerhande sorge op.

Ons aandag is so dikwels gerig op ons aardse skatte, wat ook seëninge kan wees.
Maar ons het die oë van geloof nodig om die geestelike seëninge raak te sien en te soek, en daarmee bly te wees.

Dit is moeiliker, want hulle is onsigbaar.
En partykeer moet jy dit eers verduidelik en ’n hele storie hoor voordat jy verstaan hoe mooi dit is.

Ons oë het hulp nodig om hierdie seëninge raak te sien.
Soos wanneer ’n toets bevestig dat jou oë nie meer ver kan sien nie. Dan sit die oogarts ’n bril met die regte glase op jou neus, en …. wow - nou sien jy alles doer ver!
Ons oë moet oefening kry om met die bril te leer kyk.

Wanneer jy by die huis is, sit rustig en lees die hs weer deur. En skryf dan neer watter seëninge jy hier vind. En dink dan ’n bietjie en skryf ook neer wat dit vir jou beteken, watter verskil dit maak.
Dit is ook wat ons motiveer om self Bybel te lees, saam Bybelstudie te doen, en om eredienste by te woon: om ons seëninge in Christus te ontdek.
En hoe meer Christus in jou woon en jy sy seëninge raaksien, hoe meer jy leer om daaruit te leef en God daarvoor te prys.

1.3    En ons aardse seëninge dan?

Maar wat dan van ons aardse seëninge?
Ons kry dit tog ook van God? Dit is tog belangrik? En ons behoort daarvoor tog ook dankbaar te wees?
Of lei die leer van die uitverkiesing daartoe dat ons altyd met ons kop in die wolke loop, en nie meer omgee vir wat op aarde gebeur nie?

Die aardse seëninge word dikwels in die Bybel genoem: jou eie wynstok en vyeboom. Kinders wat rondhardloop en speel en vrolike geluide in die strate laat hoor. Grysaards wat hulle kleinkinders vashou en geniet. 
Die Ou Testament noem baie van daardie seëninge.

’n Land wat oorloop van melk en heuning… dis konkrete, tasbare seëninge van God.
Vir die volk wat 400 jaar lank slawe in Egipte was, was die eie erfdeel en enige besit wat hulle ontvang het, ’n luukse! Hulle het vryheid en voorspoed ontvang in ’n land wat hul hul eie kon noem. Kanaän het Israel geword.

Maar ons moet goed onderskei.
Die hoofsaak was tog nie dat hulle hul eie land ontvang het nie. God het dit van hulle af gevat toe dit ’n afgod geword het.
Die hoofsaak was, dat hulle in daardie land met hul God gewoon het. Die eerste en blywende seën vir die slawe in Egipte was, dat hulle in die woestyn hul God sou vereer. Dat hulle sy eiendom sou wees en dat hy by hulle kom woon het. Dit was die regte seën.

1.4    Deuteronómium 28

Dit word duidelik in Deuteronómium 28.
Die hele lys van sigbare seëninge: kos, vrugbaarheid, oorwinning, begin met God se bevel om hom te gehoorsaam uit liefde en in geloof:
“al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.” (v2)
en
“Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou sal gee. [8]
Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel. En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees.” [9-10]

Die vervloekings wat ons vanaf v 15 lees, sal oor hulle kom as hulle weier om na God te luister. 
Die erns daarvan word duidelik as jy besef dat v 15-68 die vervloekinge beskryf wat oor Israel sal kom: die grootste deel van hierdie hoofstuk!

Om nie te luister na hul God beteken nl dat hulle God verlaat [v. 20] en agter ander gode aanloop om hulle te dien [v. 14]
Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het.

Hulle verbreek die verbond, soos ’n man of vrou wat ontrou word en egbreuk pleeg. En daarmee verloor hy/sy al die seëninge van die verhouding.
Lees in v 47:
Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie,
… sal hulle alles verloor: kos, klere, huise, en selfs die versterkte stede wat hulle ontvang het, sal hulle nie kan red nie. Hulle lewens kom in gevaar en hulle sal deur vyande oorwin word en weer slawe word. 
51-52: “En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het nie.
En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die HERE jou God jou gegee het.”

Al die sigbare seëninge was dus die sigbare tekens van die verhouding met God. Sodra hulle hom verlaat het, het hulle daardie seëninge verloor.
God het ons so geleer dat ons sy seëninge net kan ontvang wanneer ons in ’n regte verhouding met hom leef: deur in die verbond te leef, na hom te luister, hom lief te hê en sy wil te doen. Liefde vir God beteken onderwerping, gehoorsaamheid, vreugdevolle diens aan hom.

’n Nuwe verbond was nodig, omdat Israel hierdie gehoorsaamheid nie kon gee nie. Hulle het voortdurend hulle ruë op God gedraai en weggehardloop, agter ander gode aan.
In die Nuwe Testament vind jy nie meer die belofte dat gelowiges hier op aarde hul eie land sal ontvang nie. Ons aandag word nou gevestig op al die geestelike seën wat Christus vir ons gee, en op die erfenis wat kom op die nuwe aarde.
Vergewing van sondes en ’n herstelde verhouding van vrede met God: dit ontvang ons as een van die groot seëninge wat ons deur geloof ontvang.
Die seëninge wat elke gelowige ontvang, is geestelik en is in die hemel. Hoekom? Omdat Christus daar is. Hy het dit vir ons verdien deur sy lyding, dood en opstanding. En díe seëninge is jou eiendom deur geloof in Christus.

Wanneer ’n kind op bv 5-jarige ouderdom sy ouers verloor, besef hy nog nie die waarde van die erfenis nie. Maar dit is regtens sy eiendom, en hy sal dit ontvang wanneer hy volwasse is.

Wanneer jy ongelowig is en Christus nie ken nie, word jy opgeroep om jou te bekeer van jou sonde 
Wanneer jy Christus ken, is die hoofsaak vir jou dat jy jou vertroue op Christus plaas en in hom bly.

2    Bly in Christus!

2.1    In Hom!

Vat ’n highlighter en markeer die woorde ‘in Christus’ en ‘in hom’ in hierdie hoofstuk. Jy sal dit 10 maal sien oplig! Dit spring op jou af!
God het sy plan van verlossing deur Jesus Christus laat uitvoer. Hy het hom voorbestem, hom in die wêreld gestuur, en hom oorgegee as ’n losprys vir ons sondes, om ons te red, tot sy eer.
Die Seun van God het die verlossingsplan trou en nederig uitgevoer. Hy het mens geword, het gely en het gesterf, is begrawe, en het uit die dood opgestaan en die mag van die duiwel en die sonde oorwin. Daarom het God die Vader hom ’n naam bo alle name gegee en hom verheerlik.
So het ons sy eiendom geword. Hy het ons gered, sy lewe met ons gedeel, 

Al hierdie seëninge ontvang ons in eenheid met Christus, en die eenheid en gemeenskap met hom is teselfdertyd die grootste seën wat ons ontvang!
Ons is so ryk!
Prys die Heer!

Al daardie seëninge ontvang ons vanweë sy gehoorsaamheid. En ons ontvang dit net indien ons in hom glo. Sonder geloof is ons nie in hom nie en deel ons nie in sy gawes nie.
Daarom is die geloof so kosbaar. En word ons so dikwels opgeroep om in hom te bly, deur geloof.

Hierdie hoofstuk met die seëninge mag ons nie lui of sorgeloos maak nie.
Steeds weer roep die evangelie ons ernstig op om ons te bekeer en in Christus alleen te glo. 
Bly in my, sê Jesus vir al sy dissipels, soos ’n tak aan ’n wynstok. Net dan kan jy deel hê aan die wynstok en vrugdra.

Nog net ’n ander pragtige woord wat ek julle aandag op wil vestig:
“God het ons geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”

In ons tyd is dit gewild om te sê ‘daar is meerdere paaie om God te dien’, en ‘ek glo op my manier’ – wie is jy om dit te veroordeel? Dit klink arrogant en intolerant.
Maar dit is nie ons idee dat Jesus die enigste weg tot God is nie. Paulus sê dit duidelik: ‘alle geestelike seën’ is jou eiendom in Christus. Jy het dus niks anders nodig nie, en enige ander pad wat jy sou kies is ’n verwerping van Christus!
Al die seëninge gee God net deur sy Seun Jesus Christus, omdat hy die enigste offer is vir die sonde.
Wanneer Jesus sê ‘Ek is die weg, die waarheid en die lewe’ skryf hy dit met sy eie bloed!
Ons is dus nie arrogant wanneer ons sê dat Jesus die enigste weg is nie. Dit is nie ons idee nie. Ons sê dit as bedelaars wat vir mekaar vertel waar hulle brood kan kry. Ons sê dit omdat ons agtergekom het dat ons in die duisternis rondgetas het, maar die waarheid net gevind het toe God die lig aangeskakel het. Nederig en beslis moet ons vir mense sê: kom na die lig, die enigste lig: Christus. Net deur hom kan jy vrede met God ontvang. Al God se seëninge word joune deur geloof in hom!

Ons het nog maar net 1 vers gelees, en al so baie ontdek.
God is goed.
God is genadig in Christus.

Omarm hom in geloof.
Soek sy seëninge. Lees, graaf in die skatboek, en verwonder jou.
Bewonder al die seëninge wat God vir jou gee in Christus. Leef daaruit.
Moenie toelaat dat aardse dinge jou aandag en verbeelding in beslagneem nie.
Vestig jou hoop volledig op die rykdom wat aan ons geopenbaar sal word en wat jy nou reeds besit, in Christus.

Amen

Liturgie: 

Psalm: 48:1,4

Gebed

Skriflesings:
Efésiërs 1:1-14
Deuteronomeum 28:1-14 + 15-29 + 47-52

Psalm 21:1,2

Teks

Preek: Efésiërs 1:3

Skrifberyming 24:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis

Kollekte

Psalm 132:9-11