Die Boedda se kers is dalk geblus, maar die Gees wil die passie-vuur hoog laat brand!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-10-18
Text: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 44
Reference: 
HK 44-3
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, gemeente van ons Jesus Christus,

Maak die tiende gebod (‘jy mag nie begeer nie’) van ons halwe Boeddiste? Ons weet naamlik dat in Boeddisme ‘begeertes’ beskou word as die wortel van alle probleme en lyding. En daarom is die doel in Boeddisme om al jou begeertes te onderdruk; jy moet vry word – jy moet deur sekere tegnieke jouself vry maak – van enige begeerte of verlange. En wanneer jy dít regkry, dan sal jy uiteindelik ‘nirvana’ bereik – ‘n woord wat beteken “om uitgeblus te word”. Jou begeertes, jou hunkerings, jou verlangens moet uitgeblus word, soos ‘n kers deur die wind doodgeblaas word. Die enigste toelaatbare begeerte is om van alle begeertes ontslae te raak. Dit is die hoogste doel in Boeddisme.

En nou sê die tiende gebod vir ons: jy mag nie begeer nie. Is dit dieselfde gedagte as in Boeddisme? Moet ons as Christene ook van álle begeertes ontslae raak en daarna streef om volledige emosionele onaantasbaarheid te bereik? Gemeente, Paulus wys in Galasiërs 5 vir ons dat die Christelike lewe nie ‘n lewe léég van begeertes is nie, maar dat dit eerder ‘n lewe vól van die Gees is. Vol van die Gees! En die Gees sit nie maar net, soos die Boedda, onaangetas deur enige begeertes, met sy bene gevou en mediteer nie. Nee, die Gees begeer! Die Gees begéér teen die vlees, net soos wat die vlees begeer teen die Gees (Gal 5:17). En wat van die Gees – God self! – geld, geld ook vir ons wat deur die Gees wandel. Dít, broers en susters, is ten diepste waarheen die tiende gebod ons wil lei. As die laaste van die tien gebooie, sê maar die sluitstuk van God se goeie wet, wil hierdie gebod ons laat afsien van alle verkeerde begeertes en ons passievol laat smag – laat begeer! – om God lief te hê en sy gebooie na te kom.

Tema: die Boedda se kers is dalk geblus, maar die Gees wil die passie-vuur hoog laat brand!

 

“Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” – só leer Paulus ons in Galasiërs 5:17. Die Gees begeer teen die vlees – hierdie werkwoord ‘begeer’ is vir ons ietwat ongewoon, dis nie iets wat ons normaalweg met die Gees sal assosieer nie; ‘begeer’ is iets wat ons met die vlees assosieer, en dan in ‘n negatiewe sin: begeerte na materiële dinge of na mag, seksuele begeerte, begeerte na die verkeerde. En tog, sê Paulus, in die konfrontasie tussen die Gees (wat van bo kom) en die vlees (wat aards is), het ons te make met begeertes... van beide kante. Die een begeer teen die ander. Hulle staan teenoor mekaar omdat hulle radikaal teenoorgestelde begeertes het. Kyk maar na die lys van wat die vlees begeer: owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge (verse 19-21). Stel daarteenoor dít wat die Gees begeer: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (vers 22). Dit behoort vir enige gelowige duidelik te wees: hierdie twee lyste gaan nie saam nie, is nie versoenbaar nie. ‘n Kompromie is hier totaal buite die kwessie.

 

Maar... dit is nou presies die doel van hierdie opposisie. Want deurdat die Gees en die vlees teenoor mekaar staan en teenoorgestelde begeertes het, laat dit óns as gelowiges nie toe om maar te bly doen wat ons self wil nie. Ons moet kies. Óf ons laat ons lewens bepaal deur die begeertes van die sondige vlees, óf ons laat toe dat die Heilige Gees ons begeertes bepaal. Daar is geen ander opsie nie. En natuurlik wil Paulus graag sien dat die Gees ons lewens bepaal. Dit is immers waarmee hy hierdie gedeelte begin het: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (vers 16).

Maar as jy nie meer (of al hoe minder) die sondige begeerlikheid van die vlees volbring nie, dan beteken dit nie dat jy skielik begeerte-loos word nie; as die sondige vlees nie meer jou begeertes bepaal nie, dan word jy nie skielik soos die Boedda wie se kersie geblus is nie. Inteendeel, wanneer jy jou vleeslike begeertes uitblus (deur die krag van die Gees, uiteraard), dan steek die Gees terselfdertyd ‘n nuwe vuur in jou aan die brand – ‘n vuur van begeertes waarmee God verheerlik word! Dit is presies hoe die Kategismus dit in antwoord 113 verwoord: “selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie, [maar ons moet] ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê.” Sien u, die sondige begeertes word vervang deur die Goddelike begeertes; die werke van die vlees maak plek vir die vrug van die Gees; die vleeslike passie word uitgedoof, die Geestelike passie word aangeblaas.

 

Broers en susters, dit is so belangrik (ook in die konteks van die tiende gebod, en in die konteks van die hele wet) dat hierdie twee saamgaan. Die gevaar is groot dat ons die een doen, sonder dat die ander een ook in ons lewens plaasvind; dikwels stry ons teen die sondige begeertes (ja, ons stry om hierdie kersie van die werke van die vlees uit te doof), maar intussen is daar maar min ruimte vir die brandende vuur van die Gees. Dikwels weerspieël ons lewens ‘n sekere afstandelikheid teenoor die sonde (ons ken immers die reëls: ons mag nie dit nie, ons mag nie dat nie), maar die dors en versmagting na die Here (wat daarmee saam behoort te gaan) ontbreek. Dikwels, wanneer ons die sondige passie onderdruk, verdwyn sommer alle passie daarmee saam. En ek vermoed dat dit veral binne ons gereformeerde kringe sommer maklik gebeur – ons wat (tereg!) die leer van die Skrif benadruk, wat (tereg!) baie klem lê op die onderrig in die geloof, wat (tereg!) sterk nadruk lê op ‘n geordende kerklike lewe. Juis ons moet daarop let dat ons hierdie passie van die Gees – waaroor die tiende gebod ten diepste gaan: die begeerte na alle geregtigheid (antw. 113) – nie sal verloor nie!

 

En dit is hierdie passie wat ons so pragtig in die Psalms verwoord vind. Ons het saam Psalm 143 gelees, maar daar is ‘n klomp ander Psalms waarin ons dieselfde gedagte vind as waarvan ons lees in Psalm 143:6: “Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos ‘n uitgedorde land.” Hoor u dit? My siel dórs na u! Luister na Psalm 42:2 “Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God” (ons gaan dit na die preek sing). Dink ook aan Psalm 63:2: “o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water” (ons gaan dit aan die einde van die diens sing). Wie van ons ken nog hierdie dors na die Here, hierdie smagting na die God van ons heil? Het jy in hierdie grendeltyd, toe ons glad nie of baie min kerktoe kon kom, ervaar hoe jou tong spreekwoordelik aan jou verhemelte kleef omdat jy nie genoeg van die water van die lewe kon drink nie? Of soos die Koragiete in Psalm 84 dit verwoord: “My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE?” Ervaar jy die dorheid wanneer jy dalk ‘n Sondag nie in die voorhowe van die Here (in die kerk) kan wees nie, of ‘n dag dalk nie genoeg aan Bybelstudie en gebed spandeer het nie?

Daar is nog ‘n ander Psalm wat hieroor praat – effens anders, maar die gedagte is dieselfde. Psalm 119:40: “Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.” Daardie begeerte, daardie passie om die Here se wil na te kom in ons hele lewe, elkeen van die tien gebooie (jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie – met passie soek ek daarom die Here alleen, ook wanneer ander gode aanspraak maak op my sondige begeertes; gedenk die sabbatdag met passie, ook wanneer wêreldse vermaak op Sondae jou vleeslike begeertes aanwakker; eer jou vader en jou moeder en almal wat oor jou gestel is met groot vurigheid, ook die owerheid wat die sondige haat en veragting in ons wakker maak met hulle soms dwase uitsprake en besluite; jy mag nie egbreek nie – met passie veg ek vir my huwelik, ook wanneer ek dalk op ‘n stadium nie so lief vir my man of vrou voel nie of ons huwelik deur ‘n moeilike tyd gaan; jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek – vurig beskerm ek die goeie naam van my naaste) – hoe staan dit in ons dikwels stoere gereformeerde lewenswandel met hierdie passie, gemeente?

 

Nog gou terug na Psalm 143, wat ons saam gelees het... In Psalm 143 vind ons die dors en versugting van Psalm 42 en Psalm 63, maar ons vind ook die begeerte na God se gebooie van Psalm 119. Daar is aan die een kant vers 6: “my siel dors na U...” Maar daar is aan die ander kant ook vers 8: “maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.” En vers 10: “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land.” Sien u, die passie van die geloof gaan saam met (en vind uiting in!) gehoorsaamheid aan die wil en die gebooie van die Here. Dus, hier word baie duidelik gemaak, dat die passie en vurigheid waarvan ek die hele tyd praat, nie net ‘n saak van gevoel is nie; dit gaan nie daaroor dat ons die hele dag opgewonde bokspring en glimlag omdat ons kinders van die Here is nie. Nee, die passie wat die Géés werk (kyk hoe pragtig praat Psalm 143 van die goeie Gees: “Laat u goeie Gees my lei...” – vers 10) word onder andere sigbaar in ‘n lewe volgens God se wil. Of in Nuwe Testamentiese taal: die begeerte van die Gees word sigbaar in die vrug van die Gees – en, sê Paulus in Galasiërs 5:23, teen sulke dinge is die wet nie.

 

Broers en susters, met die tiende gebod wys die Here dat Hy meer verlang as net ‘n uiterlike nalaat van sekere verkeerde dinge: jy mag nie begeer nie. Ja, dis waar, selfs die geringste begeerte mag nooit meer in ons hart opkom nie. Ons moet die slegte begeertes aflê, ons moet daardie vuur blus. En daarom dat die Kategismus by die behandeling van die Tien Gebooie ook verskeie kere die vraag stel: wat verbied God jou in hierdie gebod? Maar daarmee saam kom ook die begeerte tot alle geregtigheid, die positiewe verlange, en daarom dat die Kategismus by die gebooie dikwels die vraag stel: wat gebied God jou? Saam met die nalaat, saam met die aflê van die slegte begeertes, kom die positiewe invulling, die passievolle nalewing, die vurige verlange na die wil van die Here – meer nog: die vurige begeerte en verlange na die Here sélf, wat die goeie Gees in ons werk.

Moenie toelaat dat ons kerklike lewe, dat ons eredienste, dat ons geloofslewe vervlak tot ‘n passielose pligpleging nie. Moenie toelaat dat ons kerklike en geloofslewe rustig voortdobber op die gladde waters van onverskilligheid en louheid nie. Laat ons passievol – let wel: nie fanaties nie, fanatisme pas nie by kinders van die Here nie – maar laat ons passievol nadink en debateer oor hoe ons saam die Here die beste kan dien (ook al bring dit soms struwelinge). Laat ons vurig wees in ons uitdra van die evangelie. Laat ons Sondae hier saamkom – smagtend, dorstend na die Here en sy Woord. Mag die Gees in ons ‘n diepe begeerte werk tot gehoorsaamheid, liefde en trou. En Jake, op hierdie besondere dag van jou doop, kom hierdie oproep ook tot jou. Glo passievol! Bely vurig jou geloof! Begeer hartlik om die Here se wil na te kom.

---------------

Maar ... hoe gemaak as dit nou nie daar is nie?

Dit is ‘n versugting wat ons soms as ampsdraers hoor. Lidmate wat kerk toe gaan, wat uiterlik ‘n Christelike lewe lei, wat hulle kinders na die Gereformeerde skool en na katkisasie toe stuur – jy kan die regmerkies invul – maar dis asof die vuur geblus is, asof die passie weg is. Sommige besef dit, ander is hulle salig onbewus van hierdie probleem en dryf maar eenvoudig saam met die stroom. En wie van ons kan sê dat hy of sy dit nog nooit ervaar het nie? Wat maak ons dan? Hoe laat ons hierdie rokende vuurtjie weer vlamvat?

Wel, Paulus wys vir ons die weg in die laaste verse van Galasiërs 5: hy wys daar dat diegene wat die begeerlikhede van die vlees gekruisig het en vervolgens deur die Gees wandel, dit is hulle wat aan Christus behoort (Gal. 5:24-25). Om aan Christus te behoort! Die passie en die ywer en die vuur het ons nie hier binne-in onsself nie; jy en ek het nie ons eie, interne passie-aansteker hier binne nie. Christus is ons bron! Wanneer jy dus tye in jou lewe ervaar dat die vlammetjie maar yl brand, of wanneer ons as gemeente moet konstateer dat die vuurtjie meer rook as vlamme gee, dan moet ons terug gaan na Jesus Christus. En volgens die Kategismus is dit ook die doel waarom ons Sondag na Sondag steeds die Tien Gebooie voorhou: “sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (onthou: die bron is nie hier binne-in ons nie!) en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek!

 

Die geregtigheid in Christus – dit vat ons nog eenmaal terug na Psalm 143, waar Dawid in vers 2 sê: “Gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” Geen geregtigheid in onsself nie – dit sit nie hier binne nie! En dan sy gebed in vers 11: “o HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in ú geregtigheid.” Die geregtigheid is by die Here, by ons Here Jesus Christus. Die geregtigheid in Christus – dís die aansteker, dís die hout van my passie-vuur aan die brand hou. En daarom mag ons – moet ons! – na Jesus Christus gaan, sodat Hy die vuur van die geloof in ons lewens weer kan aanwakker en aanblaas totdat dit passievol brand.

Nie self nie, onthou dit. Immers, die aanhef van die wet (“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het”) plaas ons in die vryheid – vry van die selfwerksaamheid, vry van die selfgedrewenheid. EK het jou bevry! En daarom is Jesus Christus die Een na Wie ons gaan, want Hy sal die dowwe lamppit (daardie vuurtjie wat skaars nog brand en wat meer rook afgee as vlamme) nie uitblus nie.

 

En dit gebeur deur die middele wat die Here gee – die lees van die Woord, die prediking op Sondae, die sakramente, die persoonlike Bybelstudie. Te veel kom rapporteer ouderlinge dat daar in gesinne nie regtig probleme is nie, maar dat daar aan die lees van die Here se Woord, die stilword in gebed, die persoonlike omgang met ons Verlosser, nie so baie gedoen word nie. Te veel hoor ons dit! Te veel hoor ‘n mens die versugting: maar my geloof voel so doods. En as jy dan deurvra, baie eenvoudige vrae: lees jy Bybel? Bid jy?, dan is die antwoord: nee, nie regtig nie; nie gereeld nie. Wel, as dit die geval is – en ek sê dit nie om hard te wees nie, maar dit is eenvoudig die realiteit – dan moet ons van die passie en die vurige ywer ook nie al te veel verwag nie.

Gebruik hierdie middele, broers en susters. Dit is nie middele wat die kerk uitgedink het nie, dit is middele wat uit die hemel aan ons gegee is. Met die doel om die passie-vuur van die geloof in ons aan te wakker, met die doel om die verkeerde begeertes in ons lewens van alle suurstof te ontneem sodat dit doodgaan, en om die goeie begeertes – die verlange, die smagting, die dors na, die passie – in ons hoog te laat brand. Maak tyd – persoonlik en in jou gesin. Gereeld. Vind ‘n gereelde roetine. En dis waar, Bybellees en bid is nie ‘n towerstokkie nie – dit gaan nie oombliklik die passie-vuur in jou aanwakker nie. En jy gaan nie elke keer wanneer jy Bybellees dieselfde uitkoms ervaar nie. Maar stadig maar seker gaan jy die verander ervaar, stadig maar seker gaan jy sien dat die sondige begeertes gedoof en die goeie begeertes aangewakker word. Stadig maar seker gaan jy die ernstige voorneme, waarvan antwoord 114 praat, in jou hart begin ervaar: die ernstige voorneme om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe. Stadig maar seker gaan jy sien waarvan antwoord 115 praat, dat ons meer ne meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word. Jy gaan dit sien – die Here is trou in daardie belofte! Hy maak van sy kinders, wat Hom soek in Jesus Christus, passievolle gelowiges; sy Gees laat die vuur hoog brand. Soek daarom Jesus Christus, soek Hom wat ons uit die slawehuis van die sonde uitgelei het, en ons in die vryheid gestel het om Hom met diepe begeerte, passie en ywer te dien – in ons gesinne, by die werk, in die kerk, in die samelewing: “Ek wil U prys my lewe lank, my hande ophef en U dank... Ja, ek is in die Here bly, met almal wat sy Naam bely.”

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 87:2, 4 en 5

Gebed

Geloofsbelydenis & volwasse doop: Jake Stols

  • Lees formulier + vrae
  • Kniel & doopsbediening
  • Dankgebed
  • Sing Ps. 134:4 (staande)

Lees:    Psalm 143

             Galasiërs 5:13-24

Sing Ps. 143:5, 7 en 8

Teks: HK, Sondag 44

Preek

Amenlied Ps. 42:1

Wetlesing

Sing Ps. 119:6, 7 en 14

Gebed

[Kollekte]

Slotsang Ps. 63:1, 3 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.