Om Jesus te volg lei tot die kruis

Minister: 
Ds DM Boersma
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-07-12
Text: 
Lukas 9:23-24
Reference: 
2028
Preek Inhoud: 

Inleiding

Neem jou kruis op: verstaan ons nog wat dit beteken?
‘Elke huis het sy kruis’: uitdrukking van teenslag, moeites wat maar vir almal kom.

Maar dis nie wat Jesus bedoel nie!

  • Eerste plek:  wie Jesus wil volg, moet sy/haar kruis dra. Dit gaan dus nie oor die moeites wat almal in hierdie wêreld kan oorkom nie.
  • Tweede plek:  kruis = martelwerktuig. Vandag sou jy sê: elektriese stoel, waterboarding (VS in Irak, mbt terreurverdagtes te dwing om inligting te gee).  Iemand vasbind en sy naels uittrek, een na die ander, folterende pyn: dis kruisdra!

Jesus sê dus skokkende dinge hier!

Om Jesus te volg lei tot die kruis

  1. - Verloën jouself: die kruis is die rede
  2. - Dra jou kruis: die kruis is die model
  3. - Los die gevolge in sy hand: die kruis is die waarborg.

1 Verloën jouself

1.1 Teleurstelling…

Ek sou verkies dat Jesus ander woorde vir ons kon nagelaat het: ‘Volg my! Dit maak jou lewe beter. Ek verlos jou van alles wat jou pla. Ek gee vir jou die sleutel om jou gelukkig te maak. Mense sal jou respekteer as jy my volg.’

Dit klink nou vir my aantreklik.

Dit maak dit ook heelwat gemakliker om nuwe lidmate te rekruteer: ‘Kom na ons kerk, ek verseker jou jy sal nie spyt raak nie. Jy word net beter daarvan.’ Ek kan ’n preekserie daaroor hou: ‘your best life now’.

1.2 Jesus se kruis: eerste aankondiging

Lukas 9 volg na ’n hele klomp opwindende gebeurtenisse. Jesus het groot wonders gedoen: die slaaf van ’n centurion genees, ’n jong man uit die dode opgewek, ’n vrou se sondes vergewe, die storm stilgemaak, honderde demone uit ’n man uitgedryf, Jaïrus se dogter uit die dode opgewek, en die brode vermeerder om 5000 mense kos te gee. Dan vra hy vir sy dissipels: wie sê die mense is ek? Hulle sê wat die mense oor hom dink, en dan sê Petrus: ‘U is die Messias, die gesalfde van God!’

Hy verbied hulle om dit bekend te maak, en dadelik daarna sê hy vir hulle:
“Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.” (v.22)

Die eerdere gebeurtenisse is oorweldigend en wys Jesus se goddelike mag en eer. Hy het mag oor lewe en dood, oor die skepping, oor duiwelse magte. En dán skielik sê hy vir hulle dat hy baie moet ly, verwerp sal word en gedood word. Dit is die eerste keer dat Jesus sy lyding en sterwe aankondig. Dit was ’n groot skok dat die magtige gesalfde van God sal ly en sterf as ’n weerlose mens. Dat hy in hande val van slegte mense en dat die teenstand teen hom so groot is, dat dit tot sy dood lei.

En asof dit nog nie genoeg skok nie, voeg hy nou daaraan toe:
En Hy sê vir almal: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.
Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red."
(v23-24)

Jesus keer alles om! Hy pas die verwagtings van sy volgelinge oor hom aan: van sukses na ondergang. En vervolgings verander hy ook hul eie lewensverwagting: hy verlang selfverloëning en belowe hulle moeilikheid. Dis mos nie hoe ’n rabbi of enige religieuse leier volgelinge kweek nie!
Hoekom moet ’n dissipel van Jesus homself verloën?

1.3 Hoekom die kruis?

Ons kan dit net verstaan as ons eerste na Jesus se kruis kyk. Dis waar hy eerste oor praat. Die dissipels se lewe op aarde word bepaal deur die kruis.

Hoekom was die vernedering aan die kruis vir die Messias van God nodig? Hoekom kon hy nie seëvierend oor die aarde trek met sy leërs van miljoene engele, en al die teenstand neerslaan?

Die kruis was ’n verskriklik sadistiese straf vir slawe wat weggeloop het. Die Romeine het ’n voorbeeld gestel dmv ’n uitgerekte lyding aan ’n kruis: folterende pyn, wat vir ure aangaan.

Maar die kruis is selfs meer as dit.

Jesus het as onskuldige aan die kruis gehang. Die vernedering en lyding aan die kruis, die smadelike dood, was God se straf. Jesus het duidelik gesê dat hy gekom het om die wil van die Vader, wat hom gestuur het, te doen. En hy het hom volledig oorgegee aan God se wil. Dit was God se wil om hom te verbrysel (Jes 53) vanweë die sondes van die mensheid. God het hom selfs oorgegee aan die godverlatenheid van die hel. Dit is die straf wat God teen ons sondes geëis het. Jesus het die straf gedra vir ons opstand teen God.

1.4 Doel van Jesus se lewe, lyding en sterwe

So was Jesus teselfdertyd ons plaasvervanger en ons model. Jesus se lewensrigting, sy enigste fokus, was om God te gehoorsaam. Dit was nie in die eerste plek mense wat hom aan die kruis genael het nie, maar dit was sy gehoorsaamheid aan God wat hom gewillig gemaak het om homself aan die kruis te laat slaan. Dit is die ware lewe vir elke mens, dis wat dit beteken om regte mens te wees: om in gemeenskap met God leef, in afhanklikheid van hom, en in onderwerping aan sy wil.

So het Jesus in sy lewe en sterwe hom in alles aan God onderwerp.

En nou is hy besig om ’n volk te vergader wat God weer gaan dien. Hy roep mense om agter hom te kom, God se koninkryk binne te gaan, en hulle lewens aan Hom en daarom aan God toe te wy. En hy maak dit moontlik vir almal wat uit hom leef. Hy doen dit deur sy Gees. Dis hoekom die lewe van sy volgelinge ’n lewe van selfverloëning is: God kom eerste.

1.5 En ons?

Die kruis van Jesus wys vir ons die erns van ons opstand teen God. Wie by Jesus aansluit en deur hom geroep word om hom te volg, moet vanaf daardie moment sy sondige opstand teen God los, en homself / haarself verloën. Om jouself te verloën beteken dat jy God as Heer oor jou lewe erken. As Jesus dan inderdaad die Messias van God is wat jy as Heer bely, dan moet jy hom ook as Heer erken in alles. Dan behoort jy nie meer aan jouself nie (1Kor6,19-20), maar met huid en haar behoort jy aan Christus.

Solank ons op aarde leef, sal ons ou menslike natuur nog veg teen Jesus se koningskap. Ons moet leer dat dit ’n voortdurende stryd is om ons sondige natuur dood te maak. Dit is baie meer ingrypend as om net die paadjie te loop wat almal in die kerk stap: ’n bepaalde gedrag wat almal vertoon, en die getroue bywoon van aktiwiteite. Dit beteken dat ons ons eie hart leer ken en begin raaksien waar ons ’n kortpad vat: wat is presies my swakhede, waar kry die duiwel by my ’n voet in die deur? Dit is ’n groeiproses om Jesus as Heer te erken: wat bepaal my selfbeeld? Wat verlang ek van God en van mense? Is ek op myself gerig, of is my hart aan Jesus toegewy?

1.6 Konkreet

Om Jesus te volg is ’n radikale verandering.
Levi se lewe is totaal omgekeer. Van selfsugtige tollenaar het hy volgeling en evangelis geword.
Kamesh het in ’n Hindoegesin grootgeword. Toe hy oor die christelike geloof gehoor het, was dit vir hom onaanvaarbaar. Hy het gedink: ‘ek probeer om ’n goeie mens te wees, die probleme wat ek het, kan ek self hanteer. Ek het nie nodig om gered te word nie! Dis ’n belediging dat iemand my sondes moet dra.’

Christianity Today, 18 Mei 2020: “Sensing that I was missing something, my friend explained that Jesus Christ died bearing our sins to reconcile us to God. This was something I had never heard before. And it offended me! I was a deeply religious person, someone diligently striving to be good. How could my friend think that anyone, much less someone like me, was a sinner in need of salvation? Yes, I had problems, but wasn’t I capable of fixing them myself? Why would I need Jesus to bear my sins?
Maar God se Gees het hom oorwin.

Dink jy dat jou lewe nie so ’n groot verandering wys soos by ’n Hindoe of ’n tollenaar nie? Onthou, almal wat deur die kruis van Jesus gered word, verlang daarna om hulle wil aan God se wil te onderwerp en gelyk te maak. Ons moenie dink dat dit beperk bly tot die uiterlike reëls en gewoontes wat jy by lidmate van die kerk sien nie: eredienste bywoon, VVB betaal, in die amp of in ’n kommissie dien, netjies aantrek op ’n Sondag, ens.

Hierdie selfverloëning is ’n radikale breuk met ’n selfverheerliking en selfvertroue, wat ons as ’n default setting in onsself aantref deur die sonde.

Dit is ook in stryd met wat ons kultuur vir ons as doel en voorbeeld voorhou:
Ons konsumpsiesamelewing beloof vir ons voortdurend vryheid, genesing, ontspanning, troos, selfwaarde deur dinge te koop. Jy word voortdurend aangespoor om iets nuuts, iets beters te koop om jouself beter te voel en jou lewe se kwaliteit op te stoot. Daarom word ons voorgehou dat die grootste gevolg van Covid-19 vir ons land is die negatiewe ekonomiese groei, wat ons nie kan bekostig nie, en wat jare sal neem om van te herstel.

Selfverloëning beteken dat ons sukses, troos en genesing nie meer vir ons die doel is nie. Ons soek nie meer onsself nie, maar God se eer.

Dit het gevolge wat jy dalk nog verder moet leer ontdek en aanvaar:

  • Dit gaan nie meer oor my eer nie. Ek doen dus nie iets sodat ek raakgesien word en bewonder word nie, maar uit liefde en diensbaarheid.
  • Daar is nie meer ’n hoogmoedige verdediging van jouself nie, maar ’n nederige luister na kritiek, om te na te gaan of God daarin tot jou spreek. En dan aanvaar jy dit nederig.
  • Dit wys in jou houding teenoor ander mense. In tye van krisis en gevaar sal die selfgerigte persoon veiligheid soek en hom bekommer oor sy eie kos en inkomste. Hy soek so gou as moontlik ’n nuwe ‘normaal’, ’n nuwe posisie van sekerheid en probeer om dinge in beheer kry. Maar die persoon wat homself verloën, begin dan juis uitstaan met dade van opoffering vir ’n ander. Hy sal mense raaksien, hulle respekteer as beeld van God, luister en omsien na mense in nood.

2 Dra jou kruis

Dissipelskap en navolging het dus alles met die kruis van Christus te doen.

2.1 Aktief kruisdra

Aktief: dis nie die algemene teenslag wat ons in die lewe raakloop nie.
Jesus sê ‘neem elke dag jou kruis op’ – dis aktief.
Dis intensioneel.

Soos Jesus gebid het: ‘Vader, laat nie my wil nie, maar u wil gebeur.’

Hy het aktief sy wil onderwerp aan God se wil.

Hy het nie gewag tot mense hom verwerp het nie, maar die Woord van God gespreek, en daarvolgens opgetree. Dit het teenstand opgeroep. Hy het daardie pad gekies. Sy kruis was nie ’n tragiese gebeure wat hom soos ’n willose slagoffer oorgekom het nie.

2.2 Daagliks

Die afwys dinge wat teen God se wil is word gemotiveer deur ’n keuse vir God en sy eer. ’n Christen word dus nie iemand wat net teen alles is nie en nooit dinge kan geniet nie.
Nee, daar is ’n positiewe gerigtheid: ek gee my oor aan God se goeie wil, dit vind ek mooi, dit soek ek, en dis is my maatstaf vir alle dinge. Ek wy my toe aan God en soek sy eer.

Dit is nie ’n eenmalige keuse nie, maar ’n pad, ’n aanhoudende ketting van keuses. Dis ’n daaglikse ding.

Onthou jy die heiligingskursus?
“Elke dag staan ek op en begin ek soos ’n Fariseeër.”
Elke dag moet ek teen my sondige natuur veg. Ek doen dit vanuit my nuwe identiteit en posisie as geheiligde sondaar. Ek is al klaar aanvaar, en God reken my sondes my nie toe nie. Daarom wil ek elke dag my sondige begeertes doodmaak. Daarvoor het Christus die skande van die kruis gedra. Ek wil nie meer ’n slaaf wees van my vyand nie, ek behoort nou aan my nuwe Heer, Jesus Christus.

Daarom is dit nodig dat ons onsself daarop voorberei.
Begin elke dag om die aangesig van God te soek. Spreek jou verlange uit om hom te dien. Kyk na die take en keuses wat jy daardie dag verwag: bid dat God jou wysheid sal gee om hom daarmee te dien en te behaag.

Dit kan eendag daartoe lei dat jy jou lewe op die spel moet plaas: vanweë vervolging van christene, of om ’n ander te red: jou kind, of iemand wat hulp benodig. Maar moenie dink dat dit net oor daardie groot keuse gaan nie. Om Jesus te volg begin met daaglikse keuses en daaglikse gebed om daardie dag in gehoorsaamheid te leef.

3 Los die gevolge in sy hand

3.1 Beter of slegter?

Tot nou toe lyk dit ’n slegte deal om Jesus te volg: jy moet opofferings maak. Jy kan moeilikheid verwag.
Mense wat die christelike geloof wil bemark en meer lidmate in die kerk wil kry, het al die boodskap aangepas om die moeilik-aanvaarbare dinge meer verteerbaar te maak. Mense praat dan nie meer van sonde en straf nie, maar net van Gods liefde. En hierdie en ander uitsprake van Jesus wat nie hulle lewens mooier of gemakliker maak nie, word doodgeswyg.
Is dit wel aantreklik om Jesus te volg?

Daar staan baie op die spel:
Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. (v24)

Vir iemand met ’n natuurlike, sondige hart maak hierdie nie sin nie.
Maar wanneer jy mooi na Jesus luister, kom jy agter dat jou lewe onder God se oordeel lê. As jy jou lewe wil red – en dus nie aan Jesus wil oorgee nie, maar vasklou aan jou liggaam en asem en besittings en alles wat jou lewe die moeite werd maak, dan verloor jy dit.

Dit is vandag meer as ooit duidelik dat jy maar beter by die ‘haves’ en nie by die ‘havenots’ kan behoort nie. Mense wat geld het, het opsies, kan na hul tweede huis vlug, kan duur medikasie koop, het geld om deur die krisis te kom. Dis hoekom die sondige mens altyd besig is om sy posisie te verstewig, om meer geld, meer besit, meer invloed te verkry. Dan is jy voorbereid op alles en kan jy oorleef of selfs ’n baie aangename lewe hê.

Maar Jesus sê hier duidelik dat díe dinge wat jy bo Jesus verkies, verkrummel en jy selfs dit nie gaan oorhou nie. Jy kan die hele wêreld wen, maar jy bly onder God se oordeel. Jy staan met die verkrummelde besittings en sekerhede voor God, en jy kan nie bestaan in die vuur van God se heiligheid nie.

Maar almal wat hulle aan Jesus toevertrou, wat hulle lewens in sy hand lê en hulle lewens om sy ontwil verloor, verskyn voor God met hul verlosser aan die hand. Glo in hom, verloën jouself, vertrou op sy lyding, dan het sy dood het vir jou sondes betaal. Wie Jesus navolg, is veilig.

Dit lyk dwaas in vandag se wêreld as jy Jesus verkies bo die sigbare dinge en die sekerhede van die wêreld. Hoe kan jy dit nou doen?! Maar Jesus gee hier vir jou ’n belofte. Jy is nie dwaas nie. Jy maak die regte keuse:
“Jy is nie dwaas as jy vanweë Christus verloor wat jy nie kan behou nie, om te wen wat jy nie kan verloor nie.” (sendeling Jim Elliott, vermoor in Ekwador)

In die plek van besit, verhoudings, veiligheid of jou lewe wat jy aan hom toewy en om sy ontwil opoffer, gee Jesus nie ander dinge in die plek nie, maar homself. Jy ontvang vrede met God, God se goedkeuring, en ewige heerlikheid – in eindelose gemeenskap met God.

Dit is die regte lewe!

Amen

Liturgie: 

Psalm 117;

Gebed;

Lees: Lukas 9:1-36;

Psalm 40:2.4;

Teks: Lukas 9:23-24

SB 42;

Gebed;

Geloofsbelydenis;

SB 50:1,4-7