Die universele gesug oppad na die heerlikheid!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-08-23
Text: 
Romeine 8:18-30
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente,

In my gesprekke met Daniël tydens die laaste weke van sy lewe het ons ook oor sy begrafnis gepraat. Hy het twee tekste gehad wat vir hom mooi was vir die geleentheid: Filippense 1:21, wat ons gebruik het vir die begrafnis afgelope Vrydag. En Romeine 8:18, deel van vandag se Skrifgedeelte: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” In hierdie vers plaas Paulus lyding en heerlikheid op die twee kante van ‘n weegskaal om te sien hoe hulle teen mekaar opweeg. En hy kom tot die gevolgtrekking dat die resultaat van hierdie proef volledig ongebalanseerd is. Die huidige lyding kan eenvoudig nie met die toekomstige heerlikheid kompeteer nie; die lyding wat ons tans beleef, is nie opgewasse teen die komende heerlikheid nie. Paulus is heilig oortuig daarvan: die mooiste moet nog kom!

Gemeente, ons maak hier die oorgang na dié gedeelte in Paulus se brief, wat gaan oor die toekomstige verheerliking. Die struktuur van Paulus se brief aan die Romeine word verskillend verstaan, maar ‘n baie goeie moontlikheid is om in die eerste vier hoofstukke die verlede tyd van die verlossing te sien – die werk van Jesus Christus in sy sterwe en opstanding, tot ons regverdiging (Rom. 1:18-4:25). Daarna, vanaf hoofstuk 5, vind ons die teenwoordige tyd van die verlossing – daarin gaan dit oor die toepassing van Christus se werk in ons lewens hier en nou, deur die werk van die Heilige Gees (Rom. 5:1-8:17). En dan, vanaf Romeine 8:17, maak Paulus die oorgang na die toekomende tyd – ons is erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Dít is wat op die erfgename wag! En dit is hierdie toekomstige heerlikheid, waarvan Paulus in vers 18 sê: dit weeg soveel swaarder – dit is soveel heerliker en beter – as enige lyding wat ons ooit in hierdie bedeling sal beleef.

 

Daniël – en alle ander gelowiges wat reeds gesterf het – het ons voorgegaan na daardie heerlikheid. In hulle lewens het God die ketting van verlossing, soos wat ons dit vind in verse 29 en 30, tot voltooiing gebring: Hy het hulle vantevore geken, Hy het hulle verordineer, Hy het hulle geroep, Hy het hulle geregverdig, en – die finale skakel in die ketting – Hy het hulle ten slotte ook verheerlik! Ons, wat nou nog in die lewe is, is nog nie so ver soos hulle nie. Hulle mag die heerlikheid al beleef, ons moet nog met volharding daarop wag; hulle mag dit al aanskou, ons moet nog daarop hoop (verse 24-25). En dit is daardie hoop waarop ons vanaand wil let, en in besonder wil ons let op die manier waarop hierdie hoop tot uiting kom, naamlik in diepe versugting.

Tema: die universele gesug oppad na die heerlikheid! Ons gaan agtereenvolgens let op:

  1. Die sugtende skepping
  2. Die sugtende kerk
  3. Die sugtende Gees

 

1. Wanneer Paulus in vers 18 die lyding van die teenwoordige tyd opweeg teen die heerlikheid wat kom, dan gaan dit vir hom nie net oor die gelowiges nie. Nee, sowel die lyding van nou as die heerlikheid wat kom, gaan baie wyer as net die gelowiges. Dit is ‘n allesomvattende lyding; dit is ‘n allesomvattende heerlikheid. Sowel die lyding as die heerlikheid het kosmiese dimensies – die hele skepping, en selfs die hemel, is hierby betrokke! Ons sien dit heel eerste in die skepping (verse 19-22)

Die skepping, sê Paulus in vers 19, wag met reikhalsende verlange; en in vers 22 sê hy: die hele skepping sug tesame en is tesame in barensnood. Die skepping deel dus in die lyding van die gelowiges. En die rede hiervoor is dat die skepping iets moet verduur waarvoor sy nie gemaak is nie. Die Here het haar in Genesis 1 gemaak met die oog op lewe en bloei; sy is veronderstel om vol vitaliteit en skoonheid te wees. Maar dit is nie wat ons sien nie. Ons sien dat die skepping aan die nietigheid onderworpe is – nie gewillig nie, sy het nie daarvoor gekies nie, dis nie die skepping se skuld nie (vers 20). Dit is ook nie God se skuld dat die aarde ten dode opgeskrywe staan nie. Nee, dit is die mens se skuld; dit is vanweë die mens dat die skepping nou aan die nietigheid onderworpe is: deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood (Rom. 5:12). Die wanbeheer van koning ‘mens’ het die land tot by die rand van die afgrond gebring. En hoe sien ons dit nie!

Ons sien dit in die besoedeling van ons riviere, en in die ontbossing van die reënwoude. Ons sien dit in die plastiek wat ons oseane vervuil en die rook wat in die winter oor die kim van Pretoria hang. Ons sien dit in droogtes en oorstromings, in ekstreme temperature. Ons sien dit in die siektes van ons tyd. Ons sien dit in babatjies wat met gebreke gebore word en bejaardes wat dement raak. Ons sien dit in aardbewings en tsunamis. Ons sien dit in sosiale en politieke ongeregtigheid, in rassisme en onderdrukking, in diktatuur en swak bestuur. Ons sien dit in oorloë en gevegte. Oral is sigbaar dat mense en diere en die omgewing ly. Ononderbroke klink daar hieroor geklaag, gevloek en protes. En dít nie net van ‘n 17-jarige meisie in Swede nie, en die omgewings-aktiviste saam met haar nie. Nee, die hele skepping skreeu dit uit! Die skepping as geheel is nie tevrede nie, en daar is ‘n algemene besef dat die wêreld anders behoort te wees as wat sy tans is. Paulus druk hierdie universele lewensgevoel uit deur tweemaal in vers 22 werkwoorde te gebruik waarin die klem lê op die ‘saam’: tesame sug die skepping en tesame is sy in barensnood. Daar is ‘n algemene verlange na ‘n beter wêreld.

 

Maar daar is goeie nuus, broers en susters: daar is hoop vir die skepping, daar is uitsig! En daardie hoop is nie afhanklik van internasionale omgewingsverdrae soos die Kyoto-protokol of the Parys-verdrag nie; daardie hoop hang nie af van die politieke wil van die wêreld-leiers nie. Nee, daardie hoop is direk gekoppel aan die hoop wat God aan die mensdom gee. Dít wat met die skepping gaan gebeur hang af van wat met die kinders van God gaan gebeur. Kyk maar na vers 20: “Die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.” En ook in vers 21: “die skepping hoop om self ook vrygemaak te word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” Eers wanneer al God se kinders openbaar gemaak sal word, eers wanneer die kinders van God vrygemaak is en verheerlik is, eers dan sal die skepping dieselfde vryheid ontvang; eers dan sal die heerlikheid van God ook weer oor die hele skepping straal. Eers dan sal die skepping weer wees wat sy oorspronklik bedoel was om te wees. Die skepping het die vervulling van haar hoop en haar versugting dus nie in haar eie mag nie; die skepping kan nie haarself vernuwe nie. Verdrae en wêreldleiers gaan dit uiteindelik nie doen nie! Die vernuwing van die skepping is afhanklik van die verheerliking van die kerk! Die sugtende skepping kyk met verlange na die sugtende kerk...

Dit is ons tweede gedagte: die sugtende kerk.

 

2. By die sugtende kerk, broers en susters, is ons al ‘n stap verder as by die sugtende skepping. Want die versugting wat in baie algemene en ongedefinieerde terme deur die skepping geuit word – ja, die skepping skreeu woordeloos uit in elke oorstroming en elke droogte; die skepping sug op elke vullishoop en in elke besoedelde rivier – daardie versugting leef baie konkreet in die gelowiges. En die gelowigs kan daaraan woorde gee. Kyk maar saam met my na vers 23: “En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself – waarvoor? In afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.” Die gelowiges het dus meer as die skepping, ons kan ten minste verwoord waarna ons verlang. Want ons het die Gees – dit gee ons as gelowiges ‘n voorsprong bo die skepping. Ons het die Gees as eersteling – en die woord wat Paulus hier gebruik, dui op die eerste vrugte van die oes, daardie eerste bewyse dat die res van die oes ook oppad is. Só is die Gees die eersteling – die voorskot, die waarborg dat die volle heerlikheid oppad is. In en deur daardie Gees is ‘n klein deeltjie van die toekoms alreeds in die gelowiges werksaam. En daardie Gees maak dat gelowiges kan uitspreek, kan verwoord, dat hulle na nog meer verlang en waarna hulle nog meer verlang: “Here, ons sug, ons verlang na die volle aanneming! Ons voel, ons ervaar die eerstevrug – en ons dank en prys U daarvoor! Maar ons verlang na die volle oes, wat nie net ons siele en ons harte insluit nie, maar ook ons liggame!” Kyk na die laaste woorde in vers 23: “ons sug in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.” Op een of ander manier is ons aanneming as God se kinders nog nie klaar as dit nie ook ons verheerlikte liggame insluit nie. Ons aanneming sal eers volmaak wees wanneer ons nuwe liggame gekry het! En dit is nog nie die geval nie...

 

Want ook al het ons nou al die Gees as eersteling, as voorskot, bly die gelowiges nog steeds onderworpe aan lyding en dood. As gelowiges lewe ons onvrywillig in ‘n sterflike liggaam. En ons voel die pyn daarvan wanneer ons siek word; ons voel die pyn wanneer ons sien hoe ‘n geliefde se liggaam afgetakel word; wanneer ons ouer word en nie meer alles kan doen wat ons vroeër gedoen het nie, wanneer ons ouer word en die geheue nie meer so lekker wil saamwerk nie. Ons voel ook die pyn van die saamleef met ander mense wat ons kan seermaak, wat ons kan kwes. En net soos in die geval van die skepping, sug ons hieroor. Ons hoop op en sien uit na die tyd wanneer ons, behalwe nuwe harte, ook nuwe liggame sal kry. Want dan sal ons aanneming in die gesin van die Vader ook werklik in hierdie skepping kan begin funksioneer. Eers wanneer ons bevry is van die liggaam van die dood en beklee is met die glorie van die Vader in verheerlikte liggame, eers dan sal ons as aangenome kinders van God werklik in hierdie skepping tot ons reg kan kom. Eers dan sal ons kan doen wat Adam en Eva veronderstel was om te doen, maar deur die sondeval nie meer kon doen nie.

Sien u hoe konkreet Paulus hier die toekomstige verlossing verwoord? Ons laat die verlossing dikwels in sy geheel opgaan in die vernuwing van ons harte. Ons is dikwels net so piëtisties soos die Piëtiste self: wat met ons liggame gebeur, ag, dit is van minder belang. Dan sê Paulus: “Nee, die kerk se versugting het juis te make met die verlange na ‘n nuwe liggaam! Die gelowiges se aanneming as kinders van God is nog nie kompleet solank as wat ons nog nie ‘n verheerlikte liggaam het nie.” Eers wanneer die hele mens, liggaam en siel, verheerlik is – eers dan kan ons God dien soos wat ons veronderstel is. En tot daardie tyd verlang ons na die nuwe liggame – en ons verlang daarna omdat ons glo aan die opstanding van Jesus Christus, en omdat ons glo aan die opstanding van die liggaam. En in daardie geloof sug die kerk: “Here, ons lewens gaan gebuk onder pyn en lyding. Die kankers deurtrek ons liggame. Die hande wil nie ophou bewe wanneer ek my koppie tee wil vashou, of wanneer ek hulle wil vou om te bid nie. Die oë is nie meer skerp genoeg om die Bybel te lees nie. My bene wil my nie meer kerktoe dra nie. Ek raak aan die slaap wanneer ek wakker moet wees, en ek is wakker wanneer ek veronderstel is om te slaap.” Ons sug hieroor, ons verlang na nuwe liggame, en ons mag dit teenoor God verwoord! En wonder bo wonder, God doen iets hiermee, want sy Gees sug ook!

Dit is ons laaste gedagte: die sugtende Gees.

 

3. Gemeente, dit is so belangrik dat ons nie net ons eie sug en die skepping se sug sal hoor nie, maar dat ons ook die derde sug in Romeine 8 sal hoor – die sugtende Gees. Vers 26: “die Gees self tree vir ons met onuitspreeklike sugtinge.” Die Gees is dus nie net as voorskot in ons om ons te leer verwoord waarop ons hoop nie. Nee, die Gees sug ook self. En hoekom is dit so belangrik? Want, sê Paulus in vers 26, in ons versugtinge weet ons nie altyd reg wat ons moet bid nie; ons weet nie altyd watter woorde ons aan ons versugtinge moet gee nie. Ja, ons het die Onse Vader as voorbeeld in die Bybel, maar tog skiet die woorde dikwels te kort in ons gebede. Wat presies moet ons bid in tye van siekte? Dat ons gesond mag word? Wel, miskien is die siekte juis beter vir ons as gesondheid! Maar ken jy jouself goed genoeg om dit te kan verwoord? Somtyds kan ons agterna sê: hierdie siekte of hierdie ongeluk was goed vir my. En dan eers ontdek ons dat ons gebed om spoedige herstel effens kortsigtig was. Maar dit is dikwels eers agterna. Paulus het iets soortgelyks beleef – hy het gebid vir minder teëspoed en vervolging (die doring in sy vlees), maar dan wys God vir hom dat hy juis die engel van die satan in sy lewe nodig het om hom naby die genade van God te hou. Op dieselfde manier kan oorlog en vervolging soms nodig wees om die kerk staande te hou; of kan teëspoed en moeite nodig wees om die gelowige naby sy hemelse Vader te hou.

Dus, ons bid wel, broers en susters, maar dit is die gebed van kortsigtige kinders. Ons doen ons bes, maar uiteindelik staan elkeen van ons maar alleen in die kamer van ons harte – alleen, elkeen met sy eie uitsig deur die vensters van sy lewenshuis. Niemand wat jou daarby kan help nie. Want wie weet wat werklik in jou lewe aangaan? Ons sien van mekaar se lewens altyd slegs ‘n deeltjie; daar is baie dinge wat vir ons verborge bly in die ander se lewe. Wie van die mense wat hier saam met jou in die kerk sit, weet van die swak plekke in jou lewe? Wie weet hoe dikwels jy misluk in die stryd teen die verborge sondes? Wie weet watter dreigende siekte jy in jou liggaam ronddra, en hoeveel slapelose ure jy vannag deurgebring het? Wie verstaan hoe swaar jy soms kan kry as gevolg van ander mense se spottende woorde? Niemand nie!

Nie so vinnig nie! Daar is Een wat die uitsig met jou deel; daar is Een wat saam met jou in jou lewenshuis woon en dieselfde uitsig as jy het vanuit die vensters van jou huis. En hy of sy sit nie langs jou in die kerkband nie. Nee, Hy is nog baie nader. Hy woon in jou hart, en Hy sien deur jou oë, en Hy voel met jou hande. Dit is die Heilige Gees!

 

Wanneer ons bid en sug, is ons nie alleen nie, broers en susters. God het aan ons sy Gees gegee wat in ons en saam met ons bid. Hy is altyd in ons. Wanneer jy weer alleen by die huis kom; wanneer jy as enigste gelowiges tussen ongelowiges jou werk doen; wanneer dit dag is, maar ook wanneer die nag ons van ons naaste isoleer. Hierdie Gees oorsien die geheel van ons lewens deur óns vensters, en Hy kom ons te hulp deur te bid en te sug tot God. Ongesiens staan Hy agter ons – Hy bid wanneer ons soms vergeet om te bid; Hy roep nog wanneer jy reeds ‘amen’ gesê het; Hy pleit vir ons van binne-uit.

Want Hy ken ons beperkte vermoeëns; Hy weet dat as God die inhoud van ons gebede aan onsself sou moes oorlaat, dan sou dinge verkeerd gegaan het. En daarom bid Hy sy eie gebed saam mét en bo-oor ons gebede heen. As ons nie weet wat om te bid nie, dan weet Hy, want Hy ken ons lewens van binne-uit; Hy deurgrond ons harte beter as wat ons onsself deurgrond. En so is daar agter ons kinderlike en (dikwels) onverstandige gebede altyd die gebed van die Heilige Gees. En Hy weet wat Hy moet bid volgens die eise van die omstandighede. En die Vader in die hemel weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree (vers 27). So is daar, oor ons koppe heen, woordelose kontak en ‘n liefdevolle verstandhouding tussen die Vader en die Gees. En onder hierdie onsigbare liefdesboog is ons as onvolmaakte bidders volledig veilig, sodanig dat Paulus in vers 28 kan sê dat alles ten goede meewerk vir God se kinders. Nee, dit beteken nie dat wat in ons lewens met ons gebeur altyd aansluit by ons gebede nie, maar dit sluit altyd aan by die SOS-seine van die Gees wat in ons harte woon.

En laat ons daarom bly bid en sug, broers en susters – beskeie, want ons weet dat ons gebede aanvulling en korreksie nodig het, maar tog met vrymoedigheid omdat ons weet dat ons altyd die rugdekking het van die Heilige Gees. Ons gebede staan onder die veilige hoede van die sugtende Gees. En dit is die sugtende Gees wat ons as sugtende gelowiges en sugtende kerk die sekerheid gee dat, wat ook al met ons gebeur, die ketting van verlossing ook in ons lewens voltooi sal word; dat ons wat gekies is en geroep en geregverdig is, uiteindelik ook verheerlik sal word. En wanneer ons verheerlik sal word, dan word ook die sugtende skepping vry van die verganklikheid.

 

Die sugtende Gees waarborg die verheerliking van die sugtende kerk, en die verheerliking van die kerk is die waarborg vir die verheerliking van die sugtende skepping. En daardie heerlikheid van kerk en skepping sal onbeskryflik wees. Die lyding van vandag weeg eenvoudig nie daarteen op nie. Gemeente, bemoedig mekaar met hierdie boodskap wat ons juis in hierdie tyd so nodig het. Sug saam met die kerk van alle eeue, roep dit uit in u gebede. En luister en sien daarmee saam ook die woordelose versugting van die skepping. En weet dan in jou hart: die heerlikheid kom! Want ons is erfgename van God en mede-erfgename van Jesus Christus.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 88:1, 2, 3 en 10

Gebed

Lees: Romeine 8:18-30

Sing Ps. 142:1, 2 en 4

Preek

Amenlied Ps. 143:7-9

Gebed

Geloofsbelydenis (staande & singende)

(Kollekte)

Slotsang Skr. 20:5, 7 en 8

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen