Die troos dat die HERE die hart van sy bondgenoot kan toets

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2020-08-16
Text: 
Psalm 26
Preek Inhoud: 

Hierdie psalm klink na die omgekeerde van wat daar byvoorbeeld in die Bybelboek Romeine staan.

Paulus skryf in  Romeine: Die regverdige sal uit die geloof lewe (Rom 1:17)

Maar Dawid skryf in Psalm 26:

Ek wandel in my opregtheid.

Paulus skryf: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” (Rom. 3:10)

Maar Dawid skryf in Psalm 26:

Ek vertrou sonder om te wankel.

Ek het in opregtheid gewandel.

Ek was my hande in onskuld.

Sal jy dit Dawid durf nasê: Ek het in opregtheid gewandel ...?

Ek was my hande in onskuld ...?

Ek bring my offers op u altaar ...?

Ek kom graag kerk toe ...?

Ek betaal my bydraes trou ...?

Daarom, HERE, doen aan my reg!

Sal jy dit Dawid durf nasê?

 

Is Dawid nie bietjie selfingenome in hierdie psalm nie?

Lyk hierdie psalm nie bietjie op die gebed van die Fariseër: O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” (Luk. 18:11-12)

Is Dawid nie bietjie farisees in hierdie psalm nie?

Moes hy nie eerder bid in die trant van wat Jesus sy dissipels geleer het:

“So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Luk. 17:10)

Klink Dawid nie bietjie baie soos die gesondes waaroor Jesus gepraat het, hulle wat nie ‘n geneesheer nodig het nie? (Luk. 5:31)

Is Dawid nie te vol van homself in hierdie psalm nie?

Mag ‘n mens, meer spesifiek as gelowige, wel so oor jouself praat?

So vol selfvertroue?

Is Dawid in hierdie psalm nie te veel soos die latere Fariseërs, wat op die hoeke van die strate staan en bid het nie?

 

Tema: Die troos dat die HERE die hart van sy bondgenoot kan toets

 

Gemeente, Psalm 26 is een van die sogenaamde onskuldpsalms.

Daar is nog meer sulke psalms, dink byvoorbeeld aan Psalm 18:

“Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; Hy het my vergelde na die reinheid van my hande.” (Ps. 18:21)

Hoe beskou Dawid homself eintlik in Psalm 26?

Is hy ‘n skuldbewuste sondaar, soos elke gelowige behoort te wees?

Of is hy ‘n Fariseër?

Gemeente, as ons hierdie psalm reg wil verstaan, dan sal ons tog anders na Dawid moet kyk,

nie as sondaar of goddeloos, maar ook nie as Fariseër nie, maar as iemand met wie God ‘n verbond gesluit het.

As Dawid skryf: Ek het in onskuld gewandel, kan mens dit ook vertaal as: Ek het onberispelik gewandel, of: Ek het opreg gewandel.

En hierdie uitdrukking herinner ons aan wat God van Abraham verwag het, toe Hy sy verbond met hom gesluit het.

Genesis 17:1: “wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.”

God het nie aan Abraham die eis gestel dat hy sondeloos moes wees nie.

God het geweet Abraham sou dit nooit regkry nie.

God het wel van hom verwag om voor sy aangesig te wandel.

Anders gestel: om niks vir God, sy hemelse Bondgenoot, weg te steek nie.

Om oop en eerlik, ja opreg, met Hom te wees.

Nou dieselfde geld vir Dawid.

As hy in Psalm 26 sing: Ek wandel in my opregtheid; of: Ek was my hande in onskuld, dan bedoel Dawid nie dat hy self sondeloos is nie.

Maar hy bedoel wel dat hy oop en eerlik is met sy God en niks vir hom wegsteek nie.

 

In nog so ‘n onskuldspsalm, Psalm 41, sê Dawid: “in my opregtheid ondersteun U my.”

Met opregtheid het Dawid egter nie bedoel dat hy sondeloos was nie, want in dieselfde psalm bely hy ook: “o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.” (vers 5)

Maar Dawid, al was hy sondig, het tog sy God te goeder trou gedien.

Dawid moes ook steeds vir homself offers op die altaar bring, ooreenkomstig die manier hoe die HERE die versoeningsdiens ingestel het.

Maar te midde van al sy swakheid en sondigheid, was hy tog ‘n troue bondgenoot.

 

Dit staan in kontras met hulle wat in hierdie psalm aangedui word as die goddelose.

Hulle wie se lewe nie ‘n oop boek vir die HERE is nie.

En daarom dat Dawid vra dat die HERE hom tog nie so behandel soos een van hulle nie.

Want Dawid is nie een van hulle nie.

Net soos Psalm 1 waarsku om nie te wandel, te staan of te sit in die kring van die sondaars, in die raad van goddelose nie, so bely Dawid hier voor die HERE, verse 4 en 5:

HERE, ek sit nie by valse mense nie, ek gaan nie om met slinkse mense nie; ek haat die vergadering van kwaaddoeners, ek sit nie by die goddelose nie.

Dawid se lewenskoers is anders as die van die goddelose.

En daarom pleit hy dat die HERE hom anders behandel, dat die HERE hom as ‘n bondgenoot behandel.

Ook al is daar hulle wat Dawid van die erge dinge beskuldig.

Dawid se hart is oop voor die HERE.

God kan maar daarin kyk.

Al die lelike dinge wat mense oor hom sê, dit is nie waar nie!

Maar gelukkig, dit is vir Dawid ‘n groot troos dat die HERE die hart van sy bondgenoot kan toets.

As dit nie so was nie, sou Dawid wanhopig geraak het.

Hy vlug na sy God, wat alles sien en weet.

 

Gemeente, Psalm 26 laat mens baie dink aan Job se situasie.

By die skryf van hierdie gedig was Dawid waarskynlik is ‘n soortgelyke situasie as waarin Job was.

Ook oor Job word daar in die Skrif gesê: hy was “vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.” (Job 1:1)

Dit beteken nie dat Job sondeloos was nie, maar die koers van sy lewe was wel reg.

Hy was opreg teenoor die HERE.

En juis daarom het dit vir Job so seergemaak, toe sy vriende hom van iets anders beskuldig het.

Toe sy vriende geïnsinueer het dat daar iets baie sondigs in sy lewe is wat hy probeer wegsteek, nie net vir sy vriende nie, maar ook vir die HERE.

Maar, het sy vriende aangegaan, mens kan dit nie vir die HERE wegsteek nie, en dit is die rede hoekom God nou vir Job begin straf het.

Hierdie redeneertrant van sy vriende, hierdie insinuasies het vir Job geweldig seergemaak.

En ons hoor dan ook in die boek Job hoe hy homself verdedig, hoe hy pleit vir sy onskuld.

 

Nou dieselfde doen Dawid in Psalm 26.

Die HERE moet asseblief nie luister na wat al die mense oor hom sê nie.

Ja Dawid het baie teenstanders gehad, ook selfs binne God se volk.

Dink aan koning Saul, selfs sy eie seun Absalom, wat hom van die mees verskriklike dinge beskuldig het.

Mens kan jou indink dat dit Dawid geweldig seer moes gemaak het.

Dat mense sulke komplotteorieë oor hom uitgedink het.

En dit, terwyl hy gewoon opreg voor God probeer lewe het, en terwyl hy die beste vir die volk gesoek het.

 

Iets soortgelyks het in die Ou Testament ook met Nehemia gebeur.

Ook teen Nehemia was daar baie aantygings, van binne en van buite die volk.

Sy goeie bedoelings is in twyfel getrek.

Maar ook hy het by die HERE gepleit:

“Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!” (Neh. 5:19)

Nehemia klop homself nie op die bors nie.

Hy pleit by die HERE, wat in sy hart kan kyk, dat dit wat hy vir die volk gedoen het, dat dit vir die beswil van die volk was.

Dat hy sy amptelike posisie nie misbruik het nie, al was daar bose tonge wat dit beweer het.

 

Gemeente, in Psalm 26 proe mens die pyn van iemand wat moet meemaak hoe ander die negende gebod oortree, hoe ander valse getuienis oor hom kwytraak.

En juis omdat hierdie stories so ver van die waarheid af was, so ver van wat eintlik Dawid se lewensintensie was, juis daarom het dit so seergemaak.

Daaruit het die behoefte gekom by Dawid om homself te verdedig.

Al die praatjies het Dawid onseker oor homself gemaak.

En in Psalm 26 probeer hy homself voor God te regverdig.

Dit is wie ek is, nie wat die mense oor my kwytraak nie.

 

Gemeente, in die Nuwe Testament het ons ‘n soortgelyke voorbeeld, in die boek 2 Korinthiërs.

Daar kan mens lees hoe die apostel Paulus ook deurgeloop het onder lasterpraat en komplotteorieë.

Terwyl Paulus al die gemeentes opgeroep het om vir Jerusalem te kollekteer, juis omdat hy hart gehad het vir daardie noodlydende kerk, het bose tonge in die gemeentes die storie verdraai dat Paulus se oproep om te kollekteer eintlik was omdat hy die geld in sy eie sak wou steek.

Hierdie aantyging het Paulus baie seergemaak, en in 2 Korinthiërs kan mens lees hoe hy homself verdedig.

 

Job, Dawid, Nehemia, Paulus, Bybelse persoonlikhede wat almal sondige mense was.

Ook vir hulle het gegeld wat ons in die Kategismus bely, ook hulle beste werke was nog met sondes bevlek.

Maar terselfdertyd was hulle tog troue bondgenote.

Hulle lewenskoers was nie soos die goddelose, dat hulle net vir hulleself gelewe het nie.

Hulle lewenskoers was diensbaarheid aan God en aan sy volk.

En as daar kwade tonge was wat die omgekeerde beweer het, het dit hulle baie seergemaak.

 

Gemeente, soorgelyke situasies is nie net iets van die verlede nie.

Ook vandag maak gelowiges wat lewe in God se verbond soortgelyke situasies mee.

Beskuldigings teen hulle, soms van buite die kerk, soms selfs van medegelowiges.

Ook in die kerk kan ons soms baie hard op mekaar wees.

Ons het soms die neiging om net die slegte in mekaar raak te sien.

As iemand net bietjie anders as ons is, dan sal ons sommer hom beskuldig dat hy nie Christus volg nie.

Ons is so maklik geneig om te dink ons sien dinge reg, terwyl ander dinge verkeerd sien.

Ons lees die Bybel reg, ander maak ‘n fout.

Ons sien dinge dieper, ander sien dinge oor die hoof.

Of, as iemand iets doen, dat ons nie gewoon daarvan uitgaan dat hy daarmee die beste soek vir sy naaste, vir die gemeente nie, maar dat ons hom verdink dat hy net sy eie belange soek.

Ons beskuldig, ons verdink, pleks van dat ons van ons mede bondgenote se integriteit uitgaan.

Komplotteorieë gedy maklik, pleks daarvan dat ons mekaar lojaal behandel, omdat ons saam in dieselfde verbond lewe.

 

Dikwels in sy lewe is Dawid nie lojaal behandel nie, ja ronduit onregverdig.

Daar is leuenstories oor hom versprei.

Sy skoonpa het net die slegste van hom gedink.

Sy seuns Adonia en Absalom het hulle pa in die rug gesteek.

Absalom het jarelank sy gesag ondermyn.

Sulke situasies het Dawid onseker laat voel.

Hy het die behoefte gevoel om in gebed na God te vlug, en om homself teenoor God te verdedig.

Is dit nie ook met ons so nie?

Ander mense kan jou soms baie onseker laat voel.

En dan het mens die neiging om vir God te sê:

HERE, ek is nie wat ander mense van my dink nie.

Kyk maar in my hart, HERE, ek het nie slegte motiewe nie.

Dit waarvan hulle my aankla, dit is nie waar nie!

Ek dien u met ‘n onverdeelde hart.

 

Gemeente, die duiwel word die groot aanklaer genoem (Openb. 12:10).

Laat ons nie navolgers van hom wees, deur ons medebroeders net te wil aankla, net kritiek te hê, net fout te vind nie.

Laat ons lojale bondgenote wees.

Ja ons almal bly sondige mense.

Ons almal val soms in sonde.

Maar, soos die uitdrukkig sê, om te struikel op die smal weg, is nog nie dieselfde as om te wandel op die breë weg nie.

Laat ons nie steeds die slegste van mekaar dink nie.

Maar laat ons mekaar aanmoedig, ja die goeie werk wat Christus in elkeen van ons begin het, toejuig.

Soms kan dit gebeur, gemeente, dat ons onbewus beïnvloed is deur die charismatiese teologie, wat daarvan uitgaan dat bekering een enkele ommekeer is in ‘n mens se lewe, met dag en datum.

En mense wat nog nie so ‘n dag en datum het nie, hulle bejeën ons in ons gedagtes as in wese ongelowig, ja nog onderdeel van die goddelose.

Psalm 26 wys ons egter die beter weg van die verbond.

In die gemeente is ons almal aangeneem as God se kinders.

Ons het almal die Heilige Gees ontvang, wat ons lewens op die pad van heiligmaking geplaas het.

Op hierdie pad mag ons groei, met val en opstaan.

Ons stap hierdie pad saam met ons mede gemeentelede, ons broeders en susters.

Ons benader mekaar nie met agterdog nie, ons behandel mekaar nie as onbekeerdes nie.

Ons ‘default setting’ is nie wantroue nie, maar dat ons lojaal is teenoor mekaar.

Ons mag, ja ons moet mekaar vertrou.

Ons kla nie mekaar aan nie, ons help mekaar verder.

Ongelukkig is hierdie nie altyd die geval nie.

Dit was nie in Dawid se dae altyd so nie, en ook vandag nie altyd nie.

En juis in hierdie omstandighede is Psalm 26 ‘n troosryke psalm om te sing.

En onthou: Christus het die duiwel, die groot aanklaer, uit die hemel verban.

God wil nie meer na sy stories luister nie!

Hy sien graag die beste in sy kinders raak.

Hy het hulle mos beklee met sy voldoening.

Hy het mos sy Gees in hulle lewens uitgestort.

 

As daar iemand was wat deurgeloop het onder agterdog, smaad, laster en dies meer, dan was dit ons Here Jesus Christus!

Elke woord van hierdie psalm van Dawid was profeties op Hom van toepassing.

Hy is gekruisig, omdat die Jode die komplotteorie geglo het, dat Hy van plan sou wees om die tempel af te breek.

In sy lewensgeskiedenis op aarde het geblyk hoe hardnekkig komplotteorieë kan wees.

As daar iemand was wat goed gedoen het, was dit Hy.

Die hoeveelheid wondertekens wat Hy gedoen het, was te veel om in die wêreld se boeke op te skryf (Joh. 21:25).

Tog het die mense nog steeds net die slegste van Hom gedink.

Waar Dawid by sy God troos kon vind met die woorde van Psalm 26;

waar Dawid die gevoel kon kry dat God hom wel verstaan, te midde van alle onbegrip van die mense om hom heen; was dit by Christus anders.

Nie net die mense het hulle rug op Hom gedraai nie, aan die kruis moes Hy ook uitroep:

“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark. 15:34)

Maar deur hierdie kruisoffer het Christus die verbond herstel, sodat ons nooit meer deur God verlaat sal word nie.

Sodat ons Psalm 26 kan sing met die seker wete, dat God ons hoor en verhoor, as ons die woorde van hierdie Psalm in die mond neem.

Dat danksy die feit dat Christus met liggaam en siel tot in die hel verneder is, ons nou seker kan weet dat God nie ons siel saam met die goddelose sal wegruk nie (vers 9).

Danksy Christus se genoegdoening, staan my voet nou op gelyk grond (vers 12).

Daarmee word bedoel: Hy sorg dat ek stewig staan in die lewe.

Deur sy Gees keer Hy dat ek uit die genadeverbond uitval.

 

Gemeente, om saam te vat:

In Psalm 26 is Dawid nie besig om soos ‘n Fariseër op die hoeke van die strate te wys hoe goed hy is nie.

In Psalm 26 ontmoet ons ‘n onseker Dawid, wat na die HERE vlug, wat die HERE in sy hart laat kyk.

Dit is ‘n troos dat die HERE die hart van sy bondgenoot kan toets.

Toets my gesindheid ... beproef my ...

Ek wandel in u waarheid – vers 3.

Ek is trou aan U.

Ek is lief vir u huis.

En bring my offers.

Maar, oor al die aantygings wat ander mense teen my inbring: wat daardie dinge betref was ek my hande in onskuld.

Dawid het nie iets om vir die HERE weg te steek nie.

 

Gemeente, op dieselfde manier is hierdie Psalm vir ons nog steeds uitermate bruikbaar.

Hulle wat as troue bondgenote by die HERE skuil, hulle mag in die verbond pleit.

Pleit dat die HERE hulle nie soos die goddelose behandel nie.

Jy is mos ‘n kind van God.

Jy wy mos, ten spyte van al jou swakhede en sondes, jou lewe toe aan Hom en sy diens.

Laat die mense dan maar praat ...

Die HERE sien die hart aan.

Hy weet wie ek is.

Wat Hy van my dink, dis wat saakmaak.

Dis u waarheid wat my lei op my lewenspad.

Op Hom, my Rotssteen, bou ek.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 18:1,10

Gebed

Skriflesing: Psalm 26

Ps 26:1,2

Teks: Psalm 26

Preek

Ps 26:3-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Kollekte

Ps 101:1,2,4,5

Seën