Jesus Christus hou ‘n maaltyd, en ons is die gaste!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-02-09
Text: 
Heidelbergse Kategismus - Sondag 28
Reference: 
HK 28-2
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ná die behandeling van die doop in Sondae 26 en 27 gaan ons vervolgens, enkele weke lank, luister na wat die Skrif ons leer oor die nagmaal. Drie Sondae, om presies te wees. Maar is dit nou regtig nodig om in ons dae nog so lank en uitgebreid oor die nagmaal te praat? Ja, natuurlik verstaan ons hoekom die Kategismus so uitgebreid oor die nagmaal praat – dit kom uit ‘n tyd van kerklike twis oor die nagmaal. Maar ons het vandag mos niks meer met Rome te doen nie? En wie van ons het nog enige stryd met Lutherane? Die nagmaal is mos ‘n eenvoudige, simboliese handeling van eet en drink!? ‘n Mens moenie alles so presies wil probeer uitpluis nie; dit gaan oor die gesindheid van die hart. Dit gaan daaroor dat ons ons rig op die offerande van Jesus Christus – die res los ons vir die teoloë.

En tog, gemeente, moet ons versigtig wees met so ‘n redenasie. Dit is opmerklik hoe dwarsdeur die geskiedenis, sodra die kerk duidelik begin formuleer waaroor dit presies in die nagmaal gaan, dat dan byna altyd ook die stryd ontbrand. Reeds in die Bybel sien ons dit gebeur. Nadat Jesus naamlik in Johannes 6 opdrag gegee het om sy vlees te eet en sy bloed te drink, hoor ons hoe baie van sy dissipels sê: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?” (Joh. 6:60), en dan begin hulle Hom een vir een verlaat. Jesus se preek oor die eet van sy vlees en die drink van sy bloed dien tot sifting van sy volgelinge. En sedertdien het dit nog nie verander nie. Ons sien dieselfde stryd in die vroeë kerk, ons sien dit in die tyd van die Reformasie, en ons sien dit ook vandag nog. Rondom die nagmaalstafel, die tafel van die eenheid van die liggaam van Christus, begin dikwels ook die verdeeldheid. Laat ons daarom die uitgebreide behandeling van die nagmaal ter harte neem, ook al kom dit uit ‘n ver verlede.

Tema: Jesus Christus hou ‘n maaltyd, en ons is die gaste!
1> Christus se beloftes
2> Ons deelname

1. Gemeente, in ons tyd stel ons gesamentlike maaltye as gesin dikwels nie meer so baie voor nie. Die spoed waarteen ons lewe en die vol program van elke lid van die gesin, beteken dat ons nie meer baie tyd aan maaltye kan spandeer nie. Ons heg ook nie geweldig baie waarde aan ons gesamentlike maaltye nie – dit is iets wat ons moet doen en agter die rug kry. Daar is altyd iemand wat weer haastig êrens heen oppad is. Ons gesamentlike maaltye het daarom dikwels nog maar weinig inhoud. Maar wanneer die Here ons na sy maaltyd nooi, dan is dit anders – die nagmaal is ryk aan inhoud! Ons lees in antwoord 75: “Christus het ons beveel om van die gebreekte brood te eet en van die beker te drink.” Goed, ons gaan dus eet. Máár, “daarby het Hy beloof…” A ha, die Here se maaltyd bevat beloftes! Nou, ek weet nie van julle nie, maar ons maaltye bevat nie regtig beloftes nie – behalwe miskien dat, as jy jou groente opeet, jy nagereg gaan kry. Maar wanneer ons by die Here se maaltyd aansit, dan kry ons ryk beloftes – kom ons kyk saam na hierdie beloftes…

Die eerste belofte is, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek en sy bloed vir my gestort is as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word – dit is die ‘ten eerste’ van antwoord 75. Dus, broers en susters, hierdie eerste belofte vra van ons om met ons oë te kyk! Die betekenis van die nagmaal is nie slegs in die eet en die drink nie, maar heel eerste in die kyk – en dit is iets wat álmal van ons kan doen, nie net die belydende lidmate nie. Seuns en dogters, julle mag miskien nog nie aansit om te eet of te drink nie, maar julle kan ook kyk na wat hier voor gebeur, en julle kan ook nadink oor die betekenis van wat hier voor gebeur, en julle kan ook die betekenis van die nagmaal op julle lewens toepas. 

Nou goed, wat sien ons dan as ons so kyk? Wel, ons sien die voorganger wat die brood breek. En as jy mooi kyk, sal jy sien dat ek dit baie bewustelik doen: saam met die woorde “die brood wat ons bréék”, gaan ook die aksie om die stuk brood in twee te breek. Hoekom doen ons dit so? Is dit maar iets wat die kerk self uitgedink het? Nee, gemeente, ons volg daarin die Here Jesus na, wat dit ook gedoen het. Hy het tydens die laaste paasmaaltyd die brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en aan sy dissipels gegee. Goed, maar was dit nie maar die algemene gebruik in daardie tyd om die brood te breek nie? Hulle het mos nog nie gesnyde brood geken, soos ons vandag nie? Dit is mos ook wat Jesus gedoen het toe Hy die skare met die vyf brode en die twee vissies gevoed het – Hy het eenvoudig die brood gebreek. In ‘n tyd sonder elektriese broodsnyers word die brood gebreek, of hoe? 

Nie so vinnig nie! Want in 1 Korinthiërs 11, waar Paulus die geskiedenis van die laaste Paasmaaltyd deurvertel soos dit aan hom oorgelewer is, wys die Here dat dit nie maar net ‘n gewone maaltyd-gebruik was nie. Daar sit meer hieragter! “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word…” Wanneer die voorganger, in navolging van die Here Jesus, die brood breek, dan neem ons nie maar net ‘n ou gebruik oor nie; nee, dan wys dit vir ons iets van die offer van die Here Jesus aan die kruis. Wanneer ons sien hoe die brood gebréék word, dan moet ons dink aan hoe Jesus Christus sy liggaam gegee het om gebréék te word onder die las van die sonde en die toorn van God; dan moet ons dink aan die spykers deur sy hande en sy voete en sy sy, dan moet ons dink aan sy koorsige liggaam in die warm middagson daar aan die kruis op Golgota. Sy liggaam is gebreek vir ons!

En ‘n gebreekte liggaam het tot gevolg dat daar bloed vloei – dit is die ander sigbare teken wat in die nagmaal vir ons gegee word: die beker met die wyn. En ook wat die beker betref, kan ons almal saam kyk, jonk en oud. Ons kan almal sien hoe die voorganger vanuit die kan ‘n beker vol wyn gooi, en ons kan almal sien hoe daardie beker sirkuleer tussen diegene wat hier voor sit. En wanneer ons dit sien, dan kan ons almal dink aan die Here Jesus wat sy bloed vir ons gestort het; dan kan ons almal dink aan hoe daardie bloed by sy wonde uitgesypel en stadig teen die kruispaal afgeloop het, dan kan ons almal dink aan hoe die doringkroon bloed by sy gesig laat afloop het, dan kan ons almal dink aan hoe die bloed op sy gegeselde rug begin verdroog het en vlieë aangetrek het.

Kyk met jou oë na hierdie dinge, elke broer en elke suster, van die jongste tot die oudste. Wees baie bewus van die breking van die brood en die skink van die wyn in die beker. En sien daarin hoe Jesus sy liggaam geoffer en gebreek het, en hoe Hy sy bloed gestort het… tot vergifnis van sondes (soos Hy self in Mt. 26:28 sê). Reeds in die sigbare gebeure rondom die nagmaal, selfs nog voordat ons enige iets geëet of gedrink het, kom hierdie belofte na ons toe.

En dan die tweede belofte wat die Here aan sy maaltyd gee, naamlik “dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet” – dit is die ‘ten tweede’ van antwoord 75. Dus, nadat ons gekýk het – en reeds daarin groot waarde gevind het! – mag ons nou ook uit die hand van die bedienaar ontváng. Hierdie laaste woorde verwys na ‘n tyd in gereformeerde kerke toe mense in een lang ry gestaan het, en een vir een na vore gegaan het om ‘n stukkie brood en ‘n slukkie wyn van die bedienaar te ontvang – ‘n soort lopende nagmaal wat ons vandag weer in sommige kerke van gereformeerde belydenis terugvind.

En hoewel ons dit hier by ons anders doen, bly die feit steeds dieselfde: ek ontvang die brood en die beker van die Here, deur middel van die bedienaar wat dit rondstuur. Ek vat ‘n stukkie brood van die bord af, ek kan voel hoe sag daardie stukkie brood tussen my vingers is, en ek sit dit in my mond. En dan voel ek met my tong die tekstuur van die brood, en ek kan die smaak daarvan proe. Dieselfde geld vir die beker – ek ontvang die beker, ek bring dit na my lippe, ek ruik die aroma van die wyn, en ek voel hoe die wyn deur my mond gaan en by my keel afgly. Dit is goed moontlik dat ons hierdie sensoriese belewing selfs geniet. In elk geval weet jy dat dit ég is – jy beleef dit dan eerstehands! En dit is nou presies waaroor die sakramente gaan: dit gee vir ons ‘n eerstehandse, lewensegte, fisiese ervaring om daarmee ons aandag te rig op ‘n gééstelike werklikheid!

En die geestelike werklikheid waarop die Here ons in hierdie tweede belofte wil rig, is die feit dat ons in die nagmaal gevoed en verkwik word. Net soos ons die brood en die wyn ontvang en met die mond geniet, net so word ons gevoed met die liggaam en bloed van Jesus Christus. Ons word in ons siele gevoed tot die ewige lewe met Christus se gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed. Christus belowe in die nagmaal vir ons dat ons besig is om onsself met Hom te voed, en dat ons in Hom versterk word. Dit is net so werklik as die smaak en die gevoel en die reuk van brood en wyn. En hoekom het ons dit nodig, gemeente? Wel, hoekom het jy nodig om elke dag te eet en te drink? As jy soggens opstaan en nie jou ProNutro of jou broodjie eet nie, hoe voel jy teen middagete? Op ‘n goeie dag voel jy dalk bietjie swak en honger, op ‘n slegte dag is jy sommer knorrig. Dieselfde gebeur met ons geestelike lewe. As ons nie deur ons Verlosser gevoed word nie, dan word ons geestelik swak. Dan het ons nodig om weer gevoed en versterk te word. En dit is wat die Here in hierdie tweede belofte vir ons aanbied. Die Here belowe, so seker soos wat jy die brood en die wyn eet en drink, dat Hy jou aan die nagmaal sal voed, sodat jy die krag en die lus kry om verder te gaan om as sy kind te lewe.

Dus, gemeente, die nagmaal is belofte-maaltyd! In die eerste belofte – deur eenvoudig te kýk na die brood wat gebreek en die wyn wat geskink word – word ek verseker van die werklikheid van Christus se gebreekte liggaam en uitgestorte bloed. En in die tweede belofte – deur daardie brood en wyn te voel en te ruik en te proe – ontvang ek Christus se lyding baie persoonlik vir die versterking van my geloof. Broers en susters, dit is wat in hierdie skynbaar eenvoudige handelinge vir ons belowe word. In teenstelling tot ons maaltye, waar dit dikwels ‘n kwessie is van hap-sluk-weg, neem ons die tyd aan die maaltyd van die Here, en gebruik ons al ons sintuie om hierdie ryk beloftes van die Here ons eie te maak. En daarom sal jy ook by ons nagmaalsviering sien dat, wanneer die laaste persoon ‘n stukkie brood geneem het, ek altyd nog ‘n rukkie wag voordat ek oorgaan tot die volgende handeling. Dit is nie maar net ‘n kwessie van: almal het gekry, dus ons gaan verder nie. Nee, elkeen wat hier aan tafel sit – ook die laaste een wat ‘n stukkie brood of ‘n slukkie wyn vat – moet die tyd kry om al sy sintuie in te span om die geestelike werklikheid te kan beleef. Christus se belofte daarin is geweldig groot! Genoeg rede om saam ‘n lofsang te sing, soos wat Jesus en sy dissipels gedoen het (Mt. 26:30).  [sing Ps 116v2-3]

2> In die tweede plek let ons op ons deelname.

Dus, jy het nou ‘n stukkie brood gevat en geëet, en jy het ‘n slukkie wyn gedrink. Dit is beide tekens en seëls (let maar op die woorde ‘wys’ en ‘verseker’ in vraag 75) daarvan dat jy Christus se gekruisigde liggaam eet en sy uitgestorte bloed drink. Máár, is vraag 76 se vraag, wat beteken dit nou regtig om die gekruisigde liggaam van Christus deur die geloof te eet en sy bloed wat vergiet is, deur die geloof te drink? Wel, net soos in die geval van antwoord 75, is ook antwoord 76 tweeledig…

In die eerste plek beteken dit dat ek met ‘n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aanneem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe verkry (dit is die eerste deel van antwoord 76). Dus, met die daad van eet en drink, wys ek dat ek glo dat Jesus Christus vir gely en gesterf het. As ek Jesus Christus in die nagmaal eet en drink, dan aanvaar ek dat sy liggaam vir my gebreek en sy bloed vir my gestort is. Dit is toe-ëiening van die werk van Jesus Christus! Só ontvang ek vergewing van sondes en die ewige lewe. Gemeente, waarmee ons ten diepste hier te make het, is die regverdiging (of: die regverdigmaking)! Onthou maar hierdie bybelse begrip. Regverdiging beteken dat God sê: “Omdat jy glo in wat die Here Jesus gedoen het, en omdat jy gelowig sy werk aanvaar vir jou lewe, daarom is jou verhouding met My weer herstel!” Dinge met God is weer reg, Hy sal ons nie meer veroordeel nie – nie op grond van ons werk nie, maar op grond van Christus se werk! Ons het die sekerheid dat ons in Christus as God se kinders aangeneem is, en daardeur deel het aan die ewige lewe: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid” (só sê Jesus in Joh. 6:51). 

Dus, met ons deelname aan die nagmaal vier ons in feite die fees van ons regverdiging. Hoewel ons dit totaal onwaardig is, verbly ons ons in die feit dat God, die Regter, deur middel van ‘n wetlike uitspraak, ons waardig verklaar het. Daarom mag ons seker wees, só sê die nagmaalsformulier, dat geen sonde of swakheid wat teen ons wil in ons oorgebly het, kan verhinder dat God ons in genade aanneem en waardig máák om deel te hê aan hierdie hemelse voedsel en drank nie. Nagmaalstyd is feestyd, want dan gedenk ons hoe Christus ons bevry het van die sonde en die dood sodat ons nou aan God kan behoort! Die nagmaal is nie ‘n dodemaal nie, maar ‘n feesmaal!

Maar, gemeente, ons moet nog ‘n treetjie verder gaan. Want om Christus se gekruisigde liggaam te eet en sy uitgestorte bloed te drink, beteken nog meer. Dit is waaroor die tweede deel van antwoord 76 gaan: “Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is… Dit wil sê dat ons deur een Gees – soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word.” Hier gaan ons dus nog ‘n treetjie verder as die regverdiging – hier gaan dit oor ons vereniging (ons eenwording) met Christus, die feit dat ons ‘in Christus’ is. Dit is presies wat Jesus van Homself sê in Johannes 6:56: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” Deur gelowige nagmaalsviering word ons opgeneem in die Persoon van Jesus Christus, en daardeur in die bestaan van die Drie-enige God! Dit beteken nie dat ek God word of op een of ander manier vergoddelik word nie, maar dit beteken wel dat God Homself oopmaak vir my, en my in Hom opneem. My bestaan is nou nie meer uit die aarde aards nie, maar ek voer nou ‘n bestaan wat vanuit die hemel gevoed word. Dit is ‘n onbeskryflike dog heerlike werklikheid, broers en susters; dit is ‘n geheimenis waaroor ons maar net al stamelend kan praat, ‘n geheimenis wat ons beter kan beleef as wat ons dit kan beskryf. En tog bly dit ‘n werklikheid – die diepe eenheid met Jesus Christus. Ek word opgeneem in sy Persoon. Ek het gemeenskap met God – Hy in my, en ek in Hom!

Máár, gemeente, moenie dat hierdie misterieuse eenwording verander in een of ander mistiek nie. Dit is ‘n misterie, dit is ‘n geheim, ja, maar daarmee is dit nog nie mistiek wat bo ons werklikheid sweef nie. Nee, die geheim van ons eenwording met Christus het baie praktiese implikasies vir ons daaglikse lewe. En antwoord 76 sê dit ook! Die Gees verenig ons nie slegs met die geseënde liggaam van Christus nie, maar Hy regéér ons ook! Ek word nie meer deur die luste en begeertes van die vlees regeer nie, maar deur die Gees van Jesus Christus. Iemand anders as die duiwel het nou bevel oor my lewe. En dit lei tot die geestelike oorlogvoering wat almal van ons veronderstel is om in ons lewens te ervaar – in hierdie oorlog moet die ou natuur hoe langer hoe meer doodgemaak word, en moet die nuwe mens hoe langer hoe meer opstaan. Gemeente, waar ons sopas met die regverdiging te make gehad het, het ons hier met die heiliging te make. Heiliging is die proses waardeur die ou mens in ons hoe langer hoe meer afsterf, en ons hoe langer hoe meer vir Jesus Christus begin lewe.

En ons kan hierdie laaste stukkie van wat dit beteken om Christus se vlees te eet en sy bloed te drink, nie sommer net weggooi as onbelangrik nie. Inteendeel, dit is noodsaaklik! Jou en my heilige lewenswandel wys of ons werklik gemeenskap met God het – só leer Johannes ons in hoofstuk 1 van sy eerste brief. Ons kan nie sê dat ons gemeenskap met God het – dat Hy in ons is, en ons in Hom – en intussen in die sonde bly lewe nie; ons kan nie sê dat ons deel het aan die goddelike natuur, en dan intussen in die duisternis bly wandel nie; jy kan nie jouself daarbuite presenteer as ‘n christen en intussen die lewe van ‘n heiden lei nie. Dan lieg ons, dan doen ons nie die waarheid nie!

Om gemeenskap met God te hê, beteken in die praktyk van ons lewens om dan ook in sy heilige lig te wandel. As ons besef dat God lig is, en in Hom géén duisternis is nie, dan besef ons ook dat die gemeenskap met Hom in dáárdie lig móét geskied. Duisternis is nie deel van daardie lig nie; dus, dan kan duisternis – die sonde – ook nie meer deel van ons lewenswandel wees nie. Ja, dan is daar nog wel baie duisternis rondom ons; ons lewe immers in ‘n wêreld vol duisternis, ‘n wêreld vol sonde en die gevolge van die sonde; maar dan lewe ons nie meer in daardie duisternis nie. Nee, dan word elke christen soos iemand wat op ‘n donker verhoog in die helder lig van die kollig loop; hy beweeg stadig vorentoe sodat hy in die lig kan bly, sonder om te verdwaal of te struikel; en terwyl hy in die lig wandel, doen hy die dinge wat pas by daardie lig, tree hy op soos ‘n kind van die lig, en lê hy alle werke van die duisternis af.

Gemeente, laat ons in daardie lig wandel. U wat uself ‘n christen noem, lewe ook soos ‘n christen, doen die werke van die lig! En as ons in God se lig wandel, dan is ons nie alleen nie, ons is nie enkelinge op die pad nie. Nee, ons ontmoet ander wandelaars in die lig, mede-gelowiges, die mense wat hier in die kerk om u heen sit, die mense saam met wie ons aan die maaltyd van die Here sit. Hulle is mede-wandelaars in die lig! U mag, nee, u moet met hulle gemeenskap beoefen; wandelaars in die lig wys mekaar nie af nie, laat mekaar nie alleen nie. Ons hou ons nie in hoogmoed afsydig van ons mede-wandelaars nie. Nee, ons vind mekaar juis in die besef dat ons almal, een vir een, reiniging van sonde nodig het in die bloed van Jesus Christus. Ons vind mekaar rondom die nagmaalstafel. En dan sê of dink ons nie: o, jy is die een wat dit of dat aan my gedoen het nie. Nee, dan sê ek vir jou: “Ek, ellendige mens, lewe van die vlees en bloed van Jesus Christus, en ek het die begeerte om vir Hom te lewe.” En dan sê jy: “Dit is wonderlik, ek ook!” En só ontmoet ons mekaar om die nagmaalstafel – wandelaars in die lig.

Sjoe, dit is ‘n mondvol wat die nagmaal alles beteken! Heelwat meer as wat ons dikwels daarvan maak, of hoe? ‘n Maaltyd propvol beloftes vir nou en vir die ewigheid; ‘n maaltyd met betekenis vir my lewe hier en nou. 

Amen

Liturgie: 

Votum: Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 113:1 (by die viering van die Pasga onder God se volk, is daar altyd ook sekere liedere gesing, in besonder die sogenaamde hallel-psalms – Psalm 113-118. By ons behandeling van die nagmaal vandag, wil ons ook uit enkele van hierdie psalms saam sing.)

Gebed

Lees: Johannes 6:47-59; 1 Korinthiërs 11:23-29;

Sing Ps. 115:7-8

Teks: HK, Sondag 28

Preek
Sing tydens preek: Ps. 116:2-3;

Amenlied Ps. 117;

Nagmaalsviering; Kort formulier
Terwyl tafel gereedgemaak:
Sing Apostoliese Geloofsbelydenis;
Aan tafel sing Ps. 118:12
Voltooi formulier + gebed

Kollekte;

Slotsang Ps. 118:13-14

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten