Priesterlike liefdesdiens is wat van ons gevra word – nie net in die kerk nie, maar ook in die samelewing.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-07-26
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Reference: 
HK 39-2
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys” – so begin antwoord 104. Nou, hoe belangrik die rol van vader en moeder in hierdie sinnetjie ook al is – hulle is immers die enigste gesagsdraers wat by name genoem word, en nie sonder rede nie, want die gesin is uiteindelik die basiese boublok van die kerk en die samelewing – tog wil ek vandag ons aandag rig op een van die ander ‘wat oor my gestel is’: die owerheid. Dit is, na my mening, wat ons tyd vereis. Want ons lewens word in hierdie tyd baie direk – meer direk en meer ingrypend as onder normale omstandighede – deur die besluite en beleid van die owerheid bepaal. Ons moontlikhede vir werk en inkomste gedurende hierdie grendeltyd hang, vir baie onder ons, direk af van die reëls en regulasies van die owerheid; ons bewegingsvryheid word beperk deur die reëls van die owerheid; die skreiende – hoewel begryplike – verbod om geliefdes in die hospitaal te mag besoek, is ‘n gevolg van wat die owerheid bepaal het; die uitbetaling van werkloosheidsversekering hang saam met die vermoë – of in baie gevalle: die onvermoë – van die owerheid om dit beskikbaar te stel; en die, vir ons gevoel, onlogiese besluit om taxis met volle kapasiteit te laat hardloop, terwyl ons in ‘n groot kerkgebou soos hierdie slegs met 50 mense bymekaar mag kom, kom ook van die owerheid af...

En dit is juis in tye soos hierdie dat ons goeie, gereformeerde en van-jongs-af-geleerde visie op die owerheid deeglik op die proef gestel word. Respek vir die owerheid wat deur God daar gestel is – dit is die visie wat in teorie deur die oorgrote meerderheid onder ons gehandhaaf word... Maar skielik staan dit in die praktyk onder groot druk. Teorie en praktyk dreig in hierdie tyd om uitmekaar te groei; ons gereformeerde visie op die owerheid, en ons woorde en dade (en gedagtes) in die praktyk dreig om mekaar te begin weerspreek. En weet u, dalk is dit nie net iets van hierdie tyd nie; dalk is dit iets wat alreeds die laaste drie dekades onder die oppervlakte borrel. Dit is goed moontlik dat die gebeure in ons land in die vroeë negentigerjare van die vorige eeu ons teologiese fondamente oor die owerheid so diep geskud het, dat ons nie meer seker is wat daardie fondamente behoort te wees nie. En daarom is dit goed om juis in krisis-tye soos dié waardeur ons tans gaan, weer herinner te word aan die fondament. Wat bely ons, in die lig van die vyfde gebod, oor die owerheid wat die Here oor ons aangestel het? En hoe praat en tree ons vervolgens op, sodat dit in lyn is met ons belydenis? Dit is waaroor ons vandag saam wil nadink, vanuit Romeine 13.

Tema: priesterlike liefdesdiens is wat van ons gevra word – nie net in die kerk nie, maar ook in die samelewing.

 

Romeine 13 – die locus classicus (soos ons in die teologie sê), die klassieke bewysteks vir hoe ons teenoor die owerheid behoort te staan. En baie maklik word dit dan verselfstandig tot ‘n geïsoleerde gedeelte wat handel oor ‘die owerheid’. “Wat moet ons houding teenoor die owerheid wees? Romeine 13!” En as jy nie ‘n vreemdeling in Jerusalem is nie, dan weet jy onmiddellik wat hiermee bedoel word. Maar, gemeente, hoewel dit nie onwaar is nie, is dit nogtans nie die ideale manier om die Bybel te lees nie. Net soos wat ons verlede week Psalm 91 in sy breër konteks geplaas het – en dit is die beginsel wat ons by al ons Bybellees behoort toe te pas, naamlik dat ons die gedeeltes wat ons lees in hulle breër konteks moet plaas – só moet ons ook doen met Romeine 13:1-7. Ons moet dit lees as ‘n onderdeel van die vermaning tot offervaardigheid en liefde wat ons vóór en ná hierdie gedeelte vind. Kom ons kyk daarom na die breër konteks...

Romeine 12 begin soos volg: “Ek vermaan julle dan, broerders, by die ontferminge van God...” En dit verwys terug na die ontferminge waaroor Paulus uitgebreid in hoofstukke 9-11 gepraat het. Hoofstukke 9-11 gaan oor die wonder dat God Hom ook oor die heidene ontferm het, sodat hulle nou in sy volk Israel opgeneem kon word, want God is barmhartig oor wie Hy barmhartig wil wees, en Hy ontferm Hom oor wie Hy Hom wil ontferm (Rom. 9:15). Uiteindelik sal elkeen – Jood of heiden – wat met sy mond die Here Jesus bely en met sy hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, gered word (Rom. 10:9). En hierdie feit – nl. dat God se Israel uit Jode en heidene bestaan – lei Paulus uiteindelik tot sy pragtige loflied in die laaste verse van Romeine 11: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! ... uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid” (Rom. 11:33-36).

Nou, hierdie ontferming en genade van God vorm die agtergrond vir Paulus se vermaning in hoofstuk 12:1: Broers en susters daar in Rome – heidene wat tot geloof gekom het en nou deel mag wees van God se Israel – in die lig van hierdie onbeskryflike ontferming van God, wy nou julle lewens as ‘n offer aan die Here (stel julle liggame as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer)! Dit is julle redelike godsdiens – of anders gestel: dit is die ware (deurdagte) erediens (Rom. 12:1). En só roep Paulus die gemeente van Rome op tot priesterdiens – priesterdiens van ‘n baie spesiale soort, naamlik priesters wat hulle eie lewens offer in diens aan God en die naaste. En dit alles teen die agtergrond van God se groot barmhartigheid.

 

Hierdie priesterdiens, waartoe Paulus sy lesers in verse 1 en 2 oproep, vind in die eerste plek uitdrukking binne die gemeente. Ons sien dit in verse 3-8, waar die gemeente as ‘n liggaam beskryf word, waarbinne elke lid se gawes van belang is. Maar ons sien dit nog meer spesifiek van vers 9 af en verder. Vanaf vers 9 beskryf Paulus vir ons die grondtoon (die leidende motief) van hierdie priesterdiens. Paulus pak in hierdie verse vir ons as’t ware met ‘n klomp steentjies ‘n pragtige mosaiek uit. En wanneer hy al die steentjies so uitgepak het, dan sien ons dat hy daarmee een woord geskryf het: ‘LIEFDE’. Dit gaan dus oor liefdesdiens, priesterlike liefdesdiens. Priesterlike liefdesdiens teenoor broeders en susters in die gemeente: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde” (vers 10), “maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges” (vers 13), “wees eensgesind onder mekaar” (vers 16). Maar vervolgens ook priesterlike liefdesdiens binne die breër kring van die samelewing: “as dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (vers 18), “as jou vyand honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink” (vers 20).

Wanneer Paulus nou vervolgens in hoofstuk 13:1-7 oor die owerheid gaan praat, dan bly die offer van die liefde steeds die tema. Hoofstuk 13:1-7 word omring deur hierdie tema. Ons het reeds gekyk na wat aan hoofstuk 13 voorafgaan. Maar kyk ook wat daarop volg. Kyk hoe nou sluit hoofstuk 13:7 aan by vers 8. Vers 7: “Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is...” En dan begin vers 8: “Wees aan niemand iets skuldig nie...” Sien u die noue aansluiting? En dan vervolg Paulus in vers 8: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê...” Daar het ons weer die tema van die liefde. Ons kan dus nie hierdie verse oor die owerheid uit hulle konteks uitlig en maak asof dit met die deurlopende tema niks te make het nie. Ons kan hierdie gedeelte oor die owerheid nie hanteer asof dit, soos in ‘n soort handboek vir die etiek, vir ons ‘n saaklike visie gee van hoe die Christen teenoor die owerheid behoort op te tree nie. Nee, ook ons houding teenoor die owerheid moet deur priesterlike liefdesdiens gekenmerk word. Hierdie priesterlike liefdesdiens het sy ontstaan in God se ontferming in Christus (Rom. 12:1-2), en dit kring vervolgens uit vanaf die gemeente (12:3-16) na die samelewing (17-21), en tot by die hoogste gesagsdraers in die samelewing (13:1-7). Ook aan hierdie dikwels gehate figure – sowel in Paulus se tyd, as in ons tyd – is die Christen liefde verskuldig. Ja, u het reg gehoor: liefde. Net soos wat ons Kategismus ook sê: “Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys.” Liefde wat uiting vind in konkrete dade van gehoorsaamheid en respek en onderwerping.

 

Die Christene aan wie Paulus sy brief skryf, word opgedra om priesterlike liefdesdiens te bewys aan keiser Nero (nee, nie aan die instelling / instituut van die owerheid / die staat nie – dit het in daardie stadium nog nie bestaan nie; die gedagte van die staat as instelling, wat beskerm word in die grondwet, is iets wat eers vanaf die tyd van die Verligting in die 17de eeu sy opkoms maak; Paulus het nog nie in daardie kategorieë gedink nie, vir Paulus gaan dit eenvoudig oor die konkrete heerser van die dag). En aan daardie heerser, Nero, moet die Christene in Rome priesterlike liefdesdiens bewys. Aan Nero, wat die stad Rome aan die brand laat steek het en die Christene daarvoor geblameer en vervolg het; aan Nero, wat sy tuinpartytjies verlig het deur die lyke van Christene as fakkels te gebruik; aan Nero, wat waarskynlik verantwoordelik was vir die dood van sowel Petrus as Paulus. Dit is hoe konkreet (en konfronterend) dit is!

En net so word Christene in Suid-Afrika vandag opgedra om priesterlike liefdesdiens te bewys aan president Ramaphosa en sy kabinet, terwyl hulle oënskynlik die ekonomie die afgrond in help en heel waarskynlik besig is om hulle radikale ekonomiese transformasie-planne onder die dekmantel van die Covid19-pandemie deur te voer; aan president Ramaphosa en sy kabinet wat gedryf word deur hulle ideologiese Marxisme; aan president Ramaphosa en sy kabinet wat aan die plaasmoorde in ons land weinig of niks aandag skenk nie; aan president Ramaphosa en sy kabinet wat alle ruimte gee aan wydverspreide korrupsie. Priesterlike liefdesdiens aan sulke mense is ‘n baie kragtige vorm van die liefde, en dit vra van die meeste van ons baie meer as liefde teenoor familie of teenoor broers en susters in die gemeente. Dit is voorwaar ‘n selfopofferende liefde wat ons voor ‘n geweldige stryd plaas: die stryd teen ons eie harte. Broers en susters, ons word vandag opgeroep om daardie stryd nie uit die weg te gaan nie – om nie maar terug te val op ons standaard houding van siniese grappies oor die owerheid nie; of om dalk met die mond die teorie te bely dat God die owerheid oor ons aangestel, maar intussen die owerheid in ons harte te vloek nie; of om dalk rassistiese opmerkings oor die owerheid te maak nie. Nee, werklik die stryd aan te gaan teen ons sondige harte. En in daardie stryd wil Romeine 13:1-7 ons help. Kom ons kyk nou nog kortliks na die hooflyne uit hierdie verse.  

-------------------

In verse 1 en 2 van hoofstuk 13 lê Paulus die belangrike beginsel neer dat alle mag wat daar bestaan van God af kom en deur Hom ingestel is. En nou moet ons dit nie vanuit ons moderne staatsgedagte benader waarin ons ‘n onderskeid maak tussen ‘wettige gesag’ en ‘feitlike mag’ nie. Wat bedoel ek hiermee? Wel, vat byvoorbeeld president Putin van Rusland of Kim Jong-un van Noord-Korea – albei van hulle het feitlike mag (niemand wat dit sal betwis nie; en sou jy in een van daardie lande woon en dit wel durf betwis, dan sal jy waarskynlik êrens in ‘n sloot eindig). Dus, hulle het feitlike mag, maar ons moet sterk bevraagteken of hulle (of enige ander diktator) daardie mag wettiglik bekom het of wettiglik behou. Dus, hulle het feitlike mag, maar dit is te betwyfel of hulle wettige gesag het. Dis ‘n sinvolle onderskeid om te maak.

Maar onthou, dit is nie die onderskeid waarmee Paulus hier werk nie. Paulus beperk sy oproep tot onderwerping in verse 1 en 2 nie slegs tot daardie maghebbers wat die gesag wettiglik verkry het nie. Paulus sê nie: “Maak eers seker dat jou keiser of jou president die gesag wettiglik verkry het voordat jy hom erken en jou aan hom onderwerp nie.” Nee, hy gaan eenvoudig uit van die bestaande situasie – en hy wil hê dat sy lesers agter die bestaande situasie die Goddelike voorsienigheid moet raaksien. Want dit is God wat konings afsit en konings aanstel, soos Daniël in hoofstuk 2:21 van sy profesie sê. En dit word vervolgens baie konkreet in die boek Daniël bevestig wanneer die Here die hoogmoedige Nebukadnesar verneder en gras laat eet, net om hom daarna weer sy koningseer terug te gee. En dit word nogmaals bevestig wanneer die Here die koningskap van Belsasar weeg, te lig bevind, en sy koninkryk aan die Meders en die Perse gee. Dus, die koning se hart is voorwaar in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil (soos wat Spreuke 21:1 ons leer). Juis daarom kan ons – en moet ons – erkenning gee aan die owerhede wat oor ons aangestel is. As ons dit nie doen nie, weerstaan ons die instelling van God – só leer Paulus ons in Romeine 13:2. En as ons die instelling van God weerstaan, dan sê ons daarmee iets oor ons vertroue in die Here, in sy voorsienigheid – daardie almagtige en oralteenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand onderhou en regeer (wat ons bely in Sondag 10). En as ons onsself teen die mag, wat deur God ingestel is, versit, sal ons uiteindelik met God se straf te make kry – sy oordeel (Rom. 13:2).

 

Maar, gemeente, Paulus dreig nie slegs met God se straf nie – as dít is wat nodig is om sommige onder ons in toom te hou, goed so. Maar Paulus gaan nog dieper. Hy wil deurdring tot ‘n baie kragtiger motivering vir die gelowiges. Hy sê in vers 5: “Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.” Hiermee buig Paulus terug na die hooflyn van hoofstuk 12 en na die hele gees van hoofstukke 12 en 13. Die Christen word geroep om van sy lewe ‘n redelike – goed-deurdagte – offer voor God te maak (12:1). Daarom moet elke Christen hom- en haarself wy aan naasteliefde, sowel binne as buite die gemeente. Dit is vir die Christen ‘n gewetensaak om die hele lewe as ‘n heerlike offergeur voor die Here te bring. En daarom moet elke Christen ook gewetensvol sy houding teenoor die owerhede bepaal. Dit is nie genoeg om maar net lippediens teenoor die owerheid te bewys, net omdat jy bang is vir die straf van God nie. Nee, daar moet in die Christen ook ‘n bewustelike priesterlike bereidheid wees om die owerheid te benader met die wil om lief te hê – en om daarom gehoorsaam te wees en nie in opstand te kom nie. En dit is, soos ek reeds gesê het, geen vrybrief aan owerhede dat hulle maar kan doen wat hulle wil nie; dit beteken ook nie dat gelowiges maar ‘n slaafse en onkritiese houding teenoor die owerhede moet inneem nie. Ons mag en ons moet die owerheid verantwoordelik hou, maar altyd as priesters van die Allerhoogste! Die dryf moet dus nie slegs wees om die straf van God te ontkom nie, maar die dryf moet ten diepste gewortel wees in die gewete van die Christen, gewerk en gedryf deur die Gees van God.

In vers 6 gee Paulus vervolgens ‘n konkrete toets vir ons erkenning van die owerheid: daar is naamlik min dinge in hierdie lewe waarin die mens – ook die Christen – vanuit sy eie gewete so onaktief en onbereidwillig is as in die betaal van belasting. Daarom moet die owerheid ook in besonder toesien dat dit wel gebeur, want op hierdie gebied is daar bittermin mense wat vrywillig hulle samewerking verleen. En daarom skryf Paulus aan die Christene in Rome dat priesterskap in die samelewing juis ook die volgende impliseer: “Betaal julle belastings aan die belastinggaarders; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (Rom. 13:6 en 7). Juis hier, broers en susters, moet blyk dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig is nie, maar dat ons anders is deur die vernuwing van ons gemoed, sodat ons kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (Rom. 12:2).  

------------------

In Romeine 13:8 en verder gaan Paulus voort om oor die liefde tot die naaste in die algemeen te praat. Maar dit is opmerklik dat hy in verse 1-7 die tyd geneem het om uitvoerig – uitvoeriger as oor enige ander onderwerp in hierdie deel van sy brief – die Christen se houding teenoor die owerheid te beskryf. En dit is omdat hierdie onderwerp van die Christen se houding teenoor die owerheid spannender is as die voorafgaande of daaropvolgende onderwerpe. En dit is vandag nog net so spannend, broers en susters. En dit is in ons land op hierdie stadium besonder spannend. En dit is in baie opsigte begryplik.

Maar Paulus kom haal vanmôre die spanning uit hierdie onderwerp deur dit te plaas binne die breër konteks van ons priesterlike liefdesdiens. Uit dankbaarheid vir die Here se ontferming in Jesus Christus behoort ons ons owerheid te benader met liefde én as ‘n instelling van ons God. Laat ons dit doen as ‘n gewetensaak, en nie uit vrees vir die Here se straf nie. Laat ons mekaar daarin opskerp en daarby help. Tertullianus wys in die 2de eeu hoe die Christene van sy dae hulle van die ander mense onderskei het wanneer hulle op die mark is – hulle neem nie deel aan die wydverspreide gekla en gevloek nie (wat net vir ‘n oomblik verstom wanneer ‘n owerheidspersoon verbystap). Hulle bid in hulle samekomste vir die gesagsdraers in die stad en in die ryk: “Terwyl ons opkyk na die Here bid ons, Christene, steeds vir alle keisers, dat hulle ‘n lang lewe mag hê; ons bid vir ‘n regering wat vry is van sorge, vir die veiligheid van hulle huis, vir dapper leërs, vir ‘n getroue senaat, vir ‘n regskape volk, vir rus vir die wêreld – kortom, vir alles wat ‘n mens ‘n keiser kan toewens.” Kan ons dít vir ons president en sy kabinet toebid? Indien nie, gaan dan terug na die ontferminge van God, sien sy hart raak in Jesus Christus (vir Jode en heidene), en mag dit ons bring tot ‘n hart vir ons owerheid. En laat ons dan bid... Die gebod bring ons by die gebed. Laat ons dit nou doen...

Liturgie: 

Votum: Sing Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 27:1 en 4

Wetslesing

  • Genadeverkondiging (1 Joh. 1:8-2:2)

Gebed

Sing Skr. 35:1-3

Lees:    Romeine 12:1-2, 9-21; 13:1-14

Teks: HK, Sondag 39

Preek

Gebed

  • In aansluiting by die gebed, sing Skr. 49:3, 5, 6, 7

Slotsang Ps. 82

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen