Christus waarborg strome van lewende water

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-07-12
Text: 
Johannes 7:38
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 7:38

 

Vandag is ‘n feesdag.

Dit is Sondag, dit is die eerste keer wat ons weer in die kerkgebou eredienste hou.

Vandag is ‘n feesdag, want ‘n baba is vandag gedoop.

Christus gaan voort om sy kerk te bou, vir ‘n nuwe generasie te sorg.

Tog is daar ook gemengde gevoelens vandag.

Net ‘n fraksie van die gemeente mag kerk toe kom.

Ons sit hier in die kerk op ‘n heel ander manier as wat ons gewoond was.

Nie alle familie en vriende wat Henk en Jolanda graag hier sou gesien het, kan bywoon nie.

Ons bevind onsself nog in die midde van ‘n pandemie wat oor die wêreld raas.

‘n Pandemie wat nou ook hier in die Moot begin woed.

As daar een ding waar is van hierdie Corona pandemie, dan is dit die onsekerheid.

Daar is nog so baie onbekend oor hierdie virus.

Dat hy maklik versprei is ‘n feit, maar wie hy siek maak en wie nie, dit is tot op vandag nog tot ‘n groot mate ‘n raaisel, nie net vir ons nie, ook vir medici.

En dit maak mens so versigtig.

Maar wat ook vandag, te midde van die pandemie, nog onverminderd waar is, is dat geen haar van ons hoof sal val sonder Christus se wil nie.

Ja vir Christus is daar niks onbekend en onseker nie.

Hy weet wie daar gaan sterf as gevolg van die Covid 19 virus en wie nie.

Hoe die virus ook deur ons gemeenskap heen gaan beweeg, ons weet dat Christus weet.

En dit gee ons rus, ja berusting.

Wat ‘n voorreg om aan Hom te mag behoort, met liggaam en siel.

Ja dit is ook waaroor die doop gaan – oor die woordjie behoort.

Vandag het publiek duidelik geword, deur die doopsbediening, dat ook Lumarie behoort.

Sy behoort aan Christus.

Sy behoort aan sy kerk.

Sy is ‘n volwaardige lidmaat van hierdie gemeente.

Vandag is Christus se ryke beloftes publiek aan haar toegesê.

 

Tema: Christus waarborg strome van lewende water

 

Christus se bloed het gevloei aan die kruis tot versoening van sondes.

Sy kruisoffer is vandag publieklik ook aan haar beskikbaar gestel.

Sy mag ook daarvan gebruik maak vir die res van haar lewe, en haar ouers mag haar dit leer gebruik.

 

Christus se bloedstorting aan die kruis was die vervulling van die Ou Testament, van al die bloed wat gedurende al daardie eeue gevloei het.

Kon al die dierebloed in die Ou Testament die skuld van mense wegneem?

Ek gebruik soms die volgende voorbeeld om dit te verduidelik.

’n Laerskoolseuntjie gaan na die fietswinkel, want hy wil ’n nuwe fiets hê.

Maar hy het nie geld nie, net ’n sak albasters.

Met albasters kan mens nie ’n nuwe fiets koop nie.

Sê nou maar die verkoopsman by die fietswinkel kry hom jammer en gee tog vir hom ’n fiets.

Dan sal daar later wel iemand – byvoorbeeld sy pa – moet kom om die fiets met egte geld te betaal. So het God se volk voorlopig vryspraak van hulle skuld gekry.

Hulle het alles van God gekry, maar hulle kon nie daarvoor betaal nie.

God het medelye met hulle gehad.

Maar daar moes nog iemand kom om te betaal.

Die offerkultus by die tempel het hierdie besef by die mense wakker gehou!

Dit was dus die simboliese betekenis van al die dierebloed in die Ou Testament.

Maar toe Jesus die doodstraf aan die kruis gekry het, het Hy met sy bloed werklik vir die sondes betaal.

Hy het ook betaal vir die sondes van alle gelowiges in die Ou Testament, wat vir eeue lank hulle diere na die tempel gebring het.

Die manier hoe die Nuwe Testament nou oor Christus se kruisdood praat, herinner aan hierdie simboliek uit die Ou Testament.

Daar word gepraat oor die bloed van Christus.

Sy doodstraf aan die kruis word ’n offer genoem.

Sy bloed het, toe Hy aan die kruis gehang het, gevloei.

Hierdie woorde herinner aan die Ou Testament.

Dit herinner aan hoe die bloedstroom van afgeslagte diere onafgebroke gevloei het vanaf die tempel.

Daarmee vergeleke was die bloed van Christus maar min.

Dit was niks vergeleke met al die kiloliters dierebloed wat by die tempel gevloei het nie.

Tog was die bloed van Christus voldoende!

Want nou het bloed gevloei, nie van ’n dier nie.

Nou is die lewe van ’n mens geneem, en nie slegs van ’n mens nie, maar van ’n mens wat ook God was.

Wat in staat was om te betaal vir die skuld van die wêreld!

 

Behalwe vir die bloedstroom wat in die Ou Testament vanaf die tempel gestroom het, het daar ook ’n ander stroom uit die tempel gekom.

Die profeet Esegiël het ’n visioen gesien hoe daar nie meer bloed nie, maar water vanuit die tempel die vlakte ingestroom het.

Ons het daardie gedeelte gelees uit Esegiël 47.

Lewende water, dit wil sê varswater, wat skoon en suiwer is.

Dit was ‘n pragtige visioen oor hoe daar vanuit die tempel lewe sou ontstaan!

Allerhande pragtige bome het langs die rivier gegroei.

Die rivier het deur die vlakte tot in die see gestroom.

Die stroom was so kragtig, dat dit selfs die see verander het.

Die sout seewater het vars geword.

Dit gaan hier nie net oor ’n gewone see nie, maar oor die Dooie See!

Wie al ooit by die Dooie See was, weet dat die water van hierdie see so sout is dat jy daarin kan dryf sonder om te sink.

Lewe in die waters van die Dooie See is daarom so goed as afwesig, geen visse oorleef daarin nie. Maar in die visioen sien Esegiël hoe die water van hierdie see vars word en dat daar ’n menigte visse ingekom het.

Esegiël sien dus hoe daar vanuit die tempel nuwe lewe ontstaan.

 

Wat is die betekenis van hierdie visioen?

Is hierdie visioen ooit vervul?

Hierdie visioen het inderdaad in vervulling gegaan.

Esegiël het dit self nie meer meegemaak nie, maar in Christus is die visioen werklik vervul!

Deur die sterwe van Christus het die stinkende rivier van bloed vanaf die tempel opgedroog.

Toe Hy gesterf en sy bloed gevloei het, is daar betaal.

Toe het die tempel sy tyd gehad en die offers kon gestaak word.

Ongelukkig het die Jode bietjie agter die feite aangeloop.

Hulle het nog aangegaan met offer.

Maar toe hulle – na veertig jaar – nog nie opgehou het nie, hoewel die evangelie in die hele land ondertussen bekend was, en hoewel die Heilige Gees in Jerusalem uitgestort was, het God self ’n einde daaraan gemaak.

Hy het die Romeine gestuur wat die tempel verwoes het.

Sedertien het die bloedstroom finaal opgehou.

Christus het sy Heilige Gees uitgestort.

Hy is die rivier van lewende water.

Orals waar die Gees kom, bring Hy nuwe lewe!

Vanoggend het Lumarie ook die Heilige Gees ontvang.

Sy mog gedoop word ook in sy naam.

Voortaan sal daar dus ook vanuit haar lewe ‘n helder rivier ontspring.

Daarvoor staan die doopwater simbool.

 

Ja in die Ou Testament het daar konstant ‘n rivier van dierebloed vanaf die tempel weggestroom.

Die profeet Esegiël het egter ‘n indrukwekkende visioen ontvang van lewende water wat uit die tempel ontspring het (Eseg. 47:1-12). H

Hierdie visioen is vervul in Jesus Christus.

Die apostel Johannes beskryf hoe Jesus baie demonstratief by die tempel gaan staan het op die hoogtepunt van die Loofhuttefees en uitgeroep het:

As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:38)

Met hierdie woorde het Jesus almal daarop gewys dat die visioen van Esegiël in Hom vervul sou word.

Die evangelis Johannes voeg – heel verhelderend – nog daaraan toe:

En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:39).

Want die Gees was toe nog nie uitgestort nie.

Wanneer het hierdie visioen van Esegiël dus eg werklikheid geword?

Op Pinksterdag, toe Jesus vanuit die hemel sy Gees uitgestort het.

Die lewende water, die varswater, wat Esegiël uit die tempel sien stroom het, is ’n beeld van die Heilige Gees.

Varswater wat oorvloedig stroom en orals waar dit kom, wek dit lewe in die woestyn.

So is die Heilige Gees oorvloedig uitgestort, en orals waar die Gees kom, verwek Hy nuwe lewe!

Selfs die sout Dooie See word vars.

So kry elkeen wat die Gees ontvang ’n nuwe lewe!

Dit is die belofte wat Christus by die doop gee, die doop ook in die Naam van die Heilige Gees.

Sy doop is nie net ’n doop met water nie, maar met die Gees!

 

Soos julle weet het Johannes, voordat Jesus gekom het, ook gedoop.

Nie vir niks word hy Johannes die Doper genoem nie.

Johannes het gesê: “Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie – Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Luk. 3:16) Wat word presies hiermee bedoel?

Wel, gedoop word met water wil sê dat die water die vuiligheid van jou afwas.

Dit is ‘n teken dat jou sondes vergewe is.

Dit is waar die doop van Johannes opgehou het.

Meer kon hy die mense nie bied nie.

Maar soos ons almal weet, as jy jou een keer gewas het, bly jy nie skoon nie.

Elke dag moet jy weer gewas word.

 

Dit is die meerwaarde van Christus se doop.

Hy en sy volgelinge doop nie net met water nie, maar ook met die Gees.

So is Lumarie vanoggend gedoop met  Christus se doop, wat ‘n doop is ook met die Heilige Gees.

Wie die Gees ontvang, word nie net vir een keer gereinig nie.

As die Heilige Gees in jou lewe kom, dan word jy elke keer weer van binne uit gereinig.

Dan is dit, verduidelik Jesus, soos ’n lewende bron, wat uit jou binneste ontspring.

’n Dammetjie met stilstaande water word na ‘n rukkie troebel, as daar nie nuwe water inkom nie. Maar ’n lewende bron hou homself skoon en suiwer.

Verstaan julle die geweldig kragtige betekenis van die doop?

Jesus het beveel in Mattheüs 28:19: “doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”.

Gedoop in die Naam van die Vader wil sê dat jy ’n kind van Hom mag wees.

Gedoop in die Naam van die Seun beteken dat Hy sy bloed ook beskikbaar stel om jou skuld te betaal.

Gedoop in die Naam van die Heilige Gees wil sê dat Hy in jou kom woon, sodat jy self ’n lewende bron word, ’n bron wat homself skoon hou.

Nie stilstaande water wat na ’n rukkie troebel raak nie, maar ’n bron waaruit steeds nuwe water borrel, wat jou vars en gesond hou.

Jy word ‘n tempel van die Gees, waaruit daar lewende water stroom.

 

Doopwater is dus varswater, lewende water.

’n Mens word net een keer gedoop, maar dit is soos ’n fontein, waaruit aanhoudend nuwe skoon varswater borrel.

Die Heilige Gees sorg dat jy skoon bly.

Hy dryf jou elke dag na Christus toe, sodat jy elke dag gewas word, as jy in sy naam vergewing van sondes vra.

So bly jy skoon en hoop die sonde nie meer en meer soos vuiligheid in jou lewe op nie.

Jy word ook al hoe skoner, namate die Heilige Gees jou lewe al hoe meer toewy om God te dien.

 

Dit mag ook die uitwerking van die Heilige Gees op Lumarie se lewe wees.

Haar ouers gaan haar leer, soos wat sy opgroei, om Christus se beloftes te gebruik.

Al Christus se beloftes is vandag met die doop aan haar beskikbaar gestel.

Dis soos ‘n kredietkaart wat sy ontvang met die pinkode, ‘n kredietkaart met onbeperkte kapitaal.

Noudat sy nog ‘n baba is, beheer haar ouers hierdie kredietkaart vir haar.

Maar soos wat sy opgroei, leer haar ouers haar om dit self te gebruik.

Ja Christus gee nou al sy beloftes, ook al kan Lumarie nog nie self haar geloof bely nie.

Christus gee eerste.

Christus vra nie eers geloof, voordat Hy gee nie.

Hy gee eerste.

En deur dit wat Hy gee, maak Hy die geloof in ons wakker.

Daarin het Lumarie se ouers ‘n belangrike taak, as hulle aan hulle dogter ‘n geloofsopvoeding gaan gee.

Haar gaan leer om die kredietkaart te gebruik, om Christus se beloftes te gebruik.

Haar gaan leer om elke dag dit te gebruik.

Ja sy sal geen enkele dag met skuld deur die lewe hoef te gaan nie.

Christus se naam waarborg vergewing van skuld elke dag as sy in daardie naam voor die hemelse troon nader.

 

Ja in Christus is ons skatryk.

Wie in Hom glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water stroom uit sy binneste.

Water was, veral in Israel, ‘n droë waterarm land, ‘n simbool van oorvloed en rykdom.

Wie in Israel beheer gehad het oor ‘n fontein, was skatryk.

Ons, as stadsmense, vergeet soms hierdie konneksie.

Tog is dit nie moeilik om dit jou voor te stel, ook in ons land, in Suid-Afrika nie.

Wie beskikking het oor ‘n fontein van stromende water, kan van sy tuin ‘n lushof maak.

So kan Lumarie se lewe ook ‘n lushof word, omdat sy ‘n tempel van die Heilige Gees is.

Dit gaan die uitwerking van die Heilige Gees se werk in haar lewe wees.

 

Daarom is vandag ‘n groot feesdag, ten spyte van alle beperkende maatreëls.

Christus gaan verder om sy kerk te bou, en niks sal Hom teëhou nie.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 1:1,2

Wet

Ps 51:4

Gebed

Doopsformulier

Doop: Lumarie Bouwman

Ps 105:5

Skriflesing: Esegiël 47:1-12 & Johannes 7:37-44

Ps 124:1,2

Teks: Johannes 7:38

Preek

Sb 14:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 124:3,4

Seën