Christus in die middel van ons bestaan

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-06-14
Text: 
Genesis 2 en 3
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Tien Gebooie, ten spyte van die feit dat dit een geheel vorm, ken tog ‘n sekere indeling. Antwoord 93 wys baie mooi vir ons dat die wet die verlosde mens verantwoordelik stel – in die eerste plek teenoor sy God (die vertikale verhouding), en vervolgens ook teenoor sy medemens (die horisontale verhouding). Of soos die Here Jesus die twee dele saamvat: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en verstand en kragte, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (Mt. 22:37-39). Vandag maak ons ‘n begin met die eerste deel van die wet – die eerste vier gebooie. In hierdie vier gebooie leer die mens, wat deur God uit die slawehuis van die sonde verlos is, hoe hy hom teenoor sy hemelse Verlosser behoort te gedra. Want omgang met die Here is nie maar net ‘n spontane uiting van die religieuse mens nie; die driemaal-heilige God moet vir mense sê hoe hulle met Hom behoort om te gaan. En reg aan die basis van hierdie omgang met God lê die eerste gebod: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Maar bestaan daar dan regtig ander gode? Nou, op hierdie vraag moet ons ja én nee antwoord. Aan die een kant kan die profeet Jesaja die spot dryf met die feit dat mense ‘n stuk hout vat, en met die een deel ‘n afgod maak en met die orige deel braaivleis hou – hoe lagwekkend dat mense dít hulle god kan noem (Jes. 40:18 e.v., 45:14 e.v.). Paulus sê daarom tereg dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een (1 Kor. 8:4 e.v.). Dus, dit aan die een kant: afgode bestaan nie! Maar aan die ander kant skuil daar agter die afgode – die namaak-gode – wel werklike kragte wat mense in beslag kan neem, sodat Johannes sy eerste brief kan afsluit met die ernstige waarskuwing: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.” Dus, nee, afgode bestaan nie, maar die kragte wat hulle verteenwoordig bestaan verseker! En hierdie kragte is altyd ‘n bedreiging, ook vir God se kinders. Voortdurend moet ons op ons hoede wees dat ons die eksklusiewe liefde en trou, wat ons aan God verskuldig is – nie net vir wat Hy gedoen het nie, maar eenvoudig vir Wie Hy is! – dat ons daardie liefde en trou nie aan ander begin gee, of dalk met ander begin deel nie. Bewaar julleself daarom van die afgode, broers en susters, want die God wat ons verlos het, verdra geen ander gode voor sy aangesig nie.

 

Verlede Sondag het ons Kohlbrugge se uitspraak (“op Golgota het ek my bekeer”) as tema vir die preek gebruik. Vandag wil ek ‘n uitdrukking van ‘n ander bekende teoloog gebruik. Dietrich Bonhoeffer, ‘n Duitse teoloog en predikant, was ‘n uitgesproke kritikus van die Nazi-regime in die Tweede Wêreldoorlog. In 1943 is hy as gevolg hiervan gearresteer, en op 9 April 1945 is hy op 39-jarige leeftyd tereggestel, slegs 3 weke voordat Hitler selfmoord gepleeg het. En van Bonhoeffer is bekend dat hy die uitdrukking gebruik het: Christus in die middel. Wat hy daarmee bedoel het – en belangriker nog: wat die Skrif daarmee bedoel – sal ek in die preek verduidelik. Maar ek reken dat ons met hierdie uitdrukking die kern tref van ons gehoorsaamheid aan die eerste gebod: Christus in die middel. Christus is die kuur waardeur ons harte, wat volgens Calvyn eindelose afgodsfabrieke is, genees kan word.

Tema: Christus in die middel van ons bestaan!

 

“En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad” – so het ons gelees in Genesis 2:9. Twee bome in die middel van die tuin: die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad; van die eerste mag die mens en sy vrou wel geëet het, van die laaste nie. Hierdie laaste boom was naamlik die boom van gehoorsaamheid, waarvan die Here gesê het: “... van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie” – nie omdat die vrugte sleg of giftig was nie; inteendeel, die boom was goed om van te eet en ‘n lus vir die oë (Gen. 3:6). Dit het niks te make gehad met die vraag of daar fout was met die boom nie, maar dit het alles te make gehad met die vraag of die mens sou aanvaar dat God God is! Ná die voltooiing van die volmaakte skepping was hierdie boom die deurslaggewende toets om te bepaal of die mens sy plek as mens sou aanvaar, en aan God die eer sou gee as die enigste God en die hoogste Wetgewer.

Maar dan is dit belangrik, gemeente, dat ons hierdie toets sal sien teen die agtergrond van daardie ander boom in die middel van die tuin – die boom van die lewe, wat ‘n simbool was van die ewige lewe in gemeenskap met God. Daarvan mag die mens wel geeët het! Dus, die Here sit nie maar net die mens daar in die tuin neer, en trek Homself vervolgens terug om vanaf ‘n afstand dop te hou of die mens sy toets kan deurstaan nie. Nee, Hy gee heel eerste vir die mens, in die boom van die lewe, die lewe met Homself – ewige, heerlike lewe! En binne dáárdie konteks moet ons na die boom van kennis van goed en kwaad kyk. Die verbod om van hierdie boom te eet moet ons verstaan in die lig van die boom van die lewe. Die mens mag nie van altwee geëet het nie. “Mens, óf jy eet van die boom van die lewe – en ontvang daarin alles wat jy nodig het om in gemeenskap met My te kan lewe – maar dan laat staan jy die boom van die kennis van goed en kwaad; óf jy eet van die boom van die kennis van goed en kwaad – en bepaal daarmee sélf wat goed en kwaad is, en word jou eie wetgewer – maar dan is die weg na die boom van die lewe vir jou gesluit. Jy kan nie altwee wil hê nie.” En dit sien ons dan ook gebeur in die laaste verse van Genesis 3 – nadat die mens sy keuse gemaak het, stel God cherubs aan om die boom van die lewe te bewaak. Want die oomblik wanneer die mens self besluit wat goed en kwaad is – en daarmee sy eie god word – dan verbeur hy daarmee die gemeenskap met God (asook die boom wat dít uitgebeeld het).

 

Solank as wat die mens in geloof van die boom van die lewe bly eet het, solank as wat die mens daardie boom in die middel van die tuin bly opsoek het en saam met sy God gewandel het in die tuin in die aandwindjie (soos wat Gen. 3:8 die omgang tussen God en mens beskryf), het daardie ander boom (van die kennis van goed en kwaad) geen bedreiging vir hom ingehou nie, en was daardie ander boom inderdaad ‘n lus vir die oë, deel van God se volmaakte skepping. Die mens kon daarvan geniet... binne die riglyne wat God gegee het. Dus, die boom van die lewe was in die middel, en het gestaan tussen die mens en die boom van kennis van goed en kwaad. Slegs via die boom van die lewe (via die gemeenskap met God) was daardie ander boom wat dit bestem was om te wees – skepping van God en ook wet van God. Maar los van die boom van die lewe het dit vir die mens die dood geword – ‘n afgod waarvan die mens sy hande nie kon afhou nie, want (het die slang vir die vrou gesê) as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan, sodat julle soos God sal wees (Genesis 3:5). En die mens kon uiteindelik daardie verleiding – om soos God te wees! – nie weerstaan nie...

Nou, broers en susters, in die kruis van Jesus Christus ontvang ons deur die Here se genade ‘n nuwe lewensboom waardeur gemeenskap met God weer moontlik is. Wanneer God die boom van die lewe deur die cherubs laat bewaak, dan is dit om uiteindelik die nuwe lewensboom moontlik te maak. En die kruishout is die nuwe lewensboom wat deur God in die middel van hierdie lewe geplant is! Ja, die kruis van Christus staan in die middel van ons menslike bestaan, in die middel van die geskiedenis, in die middel van die natuur. En dit is slegs deur Hom (deur middel van Hom) dat ons reg met die lewe kan omgaan. Net soos Adam en Eva nie reg met die boom van kennis van goed en kwaad kon omgaan lós van die boom van die lewe nie, net so kan ek met niks en niemand reg omgaan nie – self nie met God die Vader nie! – as dit nie deur Jesus Christus is nie. As Bonhoeffer daarom van Jesus Christus in die middel praat, dan bedoel hy daarmee nie soseer Jesus Christus as die middelpunt van ‘n sirkel nie, maar eerder Jesus Christus as die middel tussen twee pole – Jesus Christus as die middel tussen my en die ander persoon, tussen my en die ander ding. Sonder Jesus Christus in die middel is my natuurlike geneigdheid altyd om van enige geskape ding ‘n afgod te maak – dis al wat die natuurlike afgodsfabriek in my hart wil doen.

 

En daarom plaas God vir Jesus Christus in die middel van ons bestaan! Hy is in die middel – tussen my en alle ander dinge en persone. Christus is in die middel tussen my en my vrou, sodat ek met haar verbonde is in Christus. Christus is in die middel tussen my en die kerk, sodat die kerk dít is wat God haar bestem het om te wees – die liggaam van Christus, waar die gelowiges gevoed word met al die vrugte van die boom van die lewe. Christus is in die middel tussen my en my werk, sodat ek my werk in die Here kan doen. Christus is in die middel tussen my en my land, sodat Suid-Afrika slegs in Christus betekenis vir my kry. Christus is in die middel tussen my en my geld, sodat ek my geld vir die regte doel kan gebruik. Christus is in die middel tussen my en my naaste – wit en swart – sodat beide wit en swart lewens vir my saakmaak. Christus is in die middel tussen my en my sport, sodat sport vir my die ontspanning bly wat dit behoort te wees. Christus is in die middel tussen my en my selfoon en my sosiale media, sodat dit die regte tyd en plek in my lewe inneem. Christus is selfs in die middel tussen my en God – soos Paulus sê in 1 Timotheus 2:5: “daar is een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” – want slegs deur hierdie Middelaar kan ek reg met God omgaan. Ja, hoe verskriklik dit ook al mag klink: sonder Jesus Christus as Middelaar sal ek selfs van God ‘n afgod maak (dit is in feite waaroor die tweede gebod gaan, waaroor ons volgende verder sal praat)!  

 

Broers en susters, laat ons die Here God dank dat Hy Jesus Christus in die middel van ons bestaan kom neersit het. Deur Hom is ons uit God gebore en het die Bose geen vat op ons nie (1 Joh. 5:18); deur Hom word die afgodsfabriek in ons harte lamgelê. Want Hy het aan ons die insig gegee om die Waaragtige te ken. En wanneer Johannes hierdie woorde in die voorlaaste vers van sy eerste brief neerskryf, dan is dit asof die sake so half deurmekaar begin loop – eers sê Johannes dat ons deur die Seun van God die Waaragtige ken, maar vervolgens blyk dat die Seun self die Waaragtige God en die ewige lewe is (1 Joh. 5:20). In Hom het ons te make met die Waaragtige! En met die Waaragtige bedoel Johannes die ware God, die egte, waarby geen afgod – geen namaak-god – ooit kan kom nie. Daar is niks oneg aan hom nie, Hy is geen namaak of vervalsing nie. Hy is die egte, die ware, die enigste God. En daarom Johannes se afsluiting: My kinders, bewaar julleself van die afgode!

 

In hierdie laaste verse van Johannes se eerste brief sien ons, broers en susters, hoe Jesus Christus, wat in die middel staan tussen ons en alle ander persone en dinge – selfs tussen ons en God! – dat Hy ook die grens is wat keer dat ons in afgodery verval. Die Waaragtige stel vir ons die grens teen die namaaksels.

Hy keer dat ek afgodery met my vrou en kinders bedryf (ja, dit kan gebeur!) – wanneer hulle só belangrik in my lewe word dat my hele lewe van hulle afhang, dat ek nie sonder hulle kan lewe nie, en sodoende my persoonlike verhouding met die Vader in die hemel skade ly. Christus in die middel help my om my vrou en my kinders heel eerste te sien vir wie hulle werklik is: ‘n suster in Christus, kinders in Christus, en dat ons mekaar in daardie verhouding ook kan loslaat wanneer die Here een van ons sou kom haal (hoe pynlik ook al).

Jesus Christus in die middel van my lewe gee die grense aan tussen my en die kerk – Hy keer dat die kerk vir my ‘n afgod word; Hy keer dat die kerkvraag altyd eerste staan en nie meer die geloofsvraag nie; Hy keer dat ons vuurwarm oor die kerk kan debateer, maar min te sê het oor die Heer van die kerk; Hy keer dat ons van “ons” kerkverband ‘n afgod maak, en Hy maak ons oë oop om sy ander getroue kerke buite ons eie kerkverband te kan herken en Hom daarvoor te prys; Hy laat ons ontspannender met die kerk omgaan, omdat die kerk nie óns eiendom is nie, maar sy liggaam.

Jesus Christus in die middel van my lewe gee ook die grense aan tussen my en my werk – Hy keer dat my werk vir my ‘n afgod word. Hy help my om te weet wanneer genoeg genoeg is en ek moet huistoe gaan; Hy help my om Hom te vertrou om vir my en my gesin te sorg sonder dat ek onmenslike lang ure hoef te werk; Hy keer dat ek my gesin en my geloofslewe afskeep omdat my werk alles in my lewe geword het; Hy keer dat my werk my ontvlugting word omdat dinge by die huis dalk nie so goed gaan nie.

Jesus Christus in die middel van my lewe gee ook die grense aan tussen my en my land en my volk – Hy keer dat my land en my volk vir my ‘n afgod word. Dit is wat ‘Christus in die middel’ vir Bonhoeffer beteken het in die konkrete situasie van die 1940’s – hy het radikaal standpunt ingeneem teen die afgodery van die nazi’s met hulle ras, bloed en bodem; vir hom was die probleem van die nazisme dat daar ‘n onbemiddelde verhouding ontstaan het tussen die Duitsers en hulle ras, hulle land, hulle Fuhrer. Bonhoeffer het homself daarteen verset, met opoffering van sy eie lewe. Net so staan die Here Jesus ook in die middel tussen ons en ons volk, tussen ons en  die Afrikaner – ‘n volk aan wie die Here baie genade deur die eeue gegee het, dis waar, maar wat daarom nog nie een of ander uitverkore volk is nie; Hy keer dat ek kerk en volk op dieselfde vlak plaas en daarmee die Afrikaner-volk (waarin daar vandag baie ongelowiges is) met die Christelike geloof begin identifiseer; met dankbaarheid mag ons kennisneem van die werk van organisasies soos Afriforum en Solidariteit, maar Jesus Christus in die middel keer dat die lyne van sulke organisasies en die lyne van die kerk mekaar begin kruis; Hy leer my om my volk te waardeer, maar nooit ten koste van ander volke nie.

Jesus Christus in die middel van my lewe gee ook die grense aan tussen my en my geld – Hy keer dat my geld en my materiële goed vir my ‘n afgod word. Hy keer dat ek daarmee omgaan asof dit my eie is om daarmee te doen wat ek wil, en dit nie meer in God se diens te gebruik nie. In Hom word ek gewillig en bereid om my geld en my goed in diens van my naaste te gebruik; in Hom word ek barmhartig teenoor my arm naaste. Jesus Christus plaas Homself in die middel tussen my en my bankrekening, sodat ek nooit afgodery sal bedryf met my geld en en my besittings nie.

Jesus Christus in die middel van my lewe gee die grense aan tussen my en my selfoon, en tussen my en my sosiale media – Hy keer dat Twitter en Instagram my afgod word. Hy keer dat ek daaraan verslaaf raak; Hy keer dat ek my gewildheid op sosiale media soek; Hy keer dat sosiale media-vriende belangriker raak as egte vriende; Hy help my om sosiale media op ‘n God-vererende wyse te gebruik.

Jesus Christus in die middel van my lewe gee die grense aan tussen my en my naaste, en tussen my en wat die media oor my naaste in my wil indril – Hy keer dat die linkse agenda my afgod word, die linkse agenda wat my dwing om altyd polities korrek op te tree teenoor die LGBTQ-gemeenskap, teenoor minderhede, teenoor swart mense (net omdat ‘black lives matter’); Hy keer ook dat ek deurslaan na die ander ekstreem en begin propaganda maak vir ‘white lives matter’; Christus in die middel tussen my en my naaste leer my om met my naaste om te gaan as beelddraers van God, ongeag hulle velkleur of kultuur of taal. En dít omdat Hy in die middel van my lewe staan – tussen my en elke ander persoon, organisasie, volk, skepsel of ding!

 

Gemeente, die boom van die lewe in die middel van die tuin het vir Adam en Eva die grens aangedui oor hoe hulle met die boom van kennis van goed en kwaad behoort om te gaan. Hulle kon nie onbemiddeld – los van die lewensboom – met die boom van kennis van goed en kwaad omgaan nie. Helaas het hulle van die boom van die lewe vergeet, helaas het hulle die boom van die lewe genegeer, en dit het daartoe gelei dat hulle van die boom van kennis ‘n afgod gemaak het. In plaas daarvan om hulleself oor te gee aan die gemeenskap met God, soos uitgebeeld deur die boom van die lewe, het hulle hul vertroue gestel op dít wat God uitdruklik verbied het, en het hulle geëet wat uitdruklik verbode was. Dis afgodery (volgens antwoord 95): om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord (of in hierdie spesifieke konteks: in die lewensboom) geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te hê waarop jy jou vertroue stel. Laat ons uit hierdie ingrypende en verreikende sonde van die mens en sy vrou leer.

Die Here het, uit genade, vir ons die kruis van Christus in die middel van ons lewens kom neersit. En daardie gekruisigde en opgestane Christus is my beskerming teen enige afgodery. Laat ons, soos antwoord 94 ons leer (en hoor dan die eksklusiewe taal!), hierdie enige ware God (die Waaragtige, soos Johannes sê) reg leer ken, Hom alleen vertrou, ons slegs aan Hom met alle nederheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Laat ons Hom met ons hele hart liefhê, vrees en eer. Só word alle magte wat ons tot afgodery kan verlei, geneutraliseer. Want ons het dan die ware God gevind! Of beter gestel: die ware God het Homself tussen ons en die afgode geplaas. En in Hom mag ek lewe – voluit lewe, met my vrou en kinders; voluit lewe in my land en tussen my mense; voluit lewe met my geld en my goed; voluit lewe in die kerk en in my werk; voluit lewe vir Hom, die Waaragtige! In Hom word al hierdie persone en dinge (vrou, kinders, volk, kerk, werk, geld, selfoon) heerlike gawes wat ons vir die eer van die Here mag gebruik. Broers en susters, bewaar julleself daarom van die afgode.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 96:2 en 3

Gebed

Lees:   Genesis 2:9, 16-17; 3:22-24

            1 Johannes 5:18-21

Sing Ps. 16:1 en 2

Teks: HK, Sondag 34

  • Lees wet by v/a 92

Preek

Antwoordlied Ps. 115:3-6

Bevestiging

  • Formulier
  • Sing Ps. 134:3 en 4
  • Voltooi formulier + gebed

Slotsang Skr. 30:2-4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen