Op Golgota het ek my bekeer

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-06-07
Text: 
Lukas 3:7-18
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Vroeër vanjaar was ‘n reeks oor Paulus se brief aan die Kolossense die wegspringpunt vir ons besinning oor die jaartema: die geheim van my heilige lewe. En hooplik het dit vasgesteek in u geheue – en belangriker nog: in u hart! – dat die geheim van my heilige lewe nie in myself en my goeie werke lê nie, maar in Jesus Christus. Soos wat Sondag 32 ons leer: Christus het ons nie slegs met sy bloed gekoop nie, maar Hy vernuwe ons ook deur sy Heilige Gees (dis sy werk!). Goeie werke is daarom nie ons bydrae tot die verlossing nie; dit is sélfs nie in die eerste plek ons antwoord op die verlossing nie. Goeie werke en ‘n heilige lewe is in die eerste plek deel van die volle pakket van verlossing wat Christus vir ons verdien het. As jy in Hom glo, dan ontvang jy die tweeling-genade (duplex gratia) van regverdiging én heiliging!

En dan kom ons vandag by Sondag 33: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens? Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. En as jy vervolgens antwoorde 89 en 90 lees, waarin hierdie twee dele afsonderlik behandel word, dan lyk dit asof die Kategismus uiteindelik ruimte maak vir dít wat óns moet doen, ons verantwoordelikheid: ons moet die sonde haat en daarvan wegvlug (antw. 89), ons moet in alle goeie werke voor die Here lewe (antw. 90).

 

Maar, gemeente, as ons mooi hieroor nadink, dan besef ons dat die bekering waarvan die Kategismus hier praat – en waarin ons so ‘n aktiewe rol speel – eintlik maar net die oortjies van die seekoei is. Dié van ons wat al in die Wildtuin was, sal hierdie beeld verstaan. As jy ‘n seekoei in die water sien lê, dan steek dikwels net sy twee oortjies uit. Maar jy weet dat daar onder die water nog ‘n massiewe kop en lyf skuilgaan. Net so is die bekering van Sondag 33 maar net die oortjies van die seekoei – agter en onder Sondag 33 is daar baie meer aan die gang. Om dít vir u te wys, wil ek saam met u uit die Dordtse Leerreëls lees – hoofstuk 3/4, paragrawe 11 en 12 [lees]. Nou, dink gou saam met my: waar presies pas Sondag 33 in hierdie hele proses, waarvan ons sopas gelees het, in? Watter deel van paragrawe 11 en 12 gaan oor dít wat in Sondag 33 beskryf word? Sondag 33 gaan eintlik maar net oor daardie heel laaste woordjies van paragraaf 12: ‘glo en hom bekeer’. Maar voorafgaande hieraan is daar ‘n magtige en onbeskryflike werk van God. God verlig die mens se verstand, Hy dring deur tot die binneste dele van die mens, Hy open sy hart, Hy maak sag wat hard is, Hy besny wat onbesnede is; Hy maak die wil lewend en goed en gewillig en gehoorsaam. Op ‘n bonatuurlike, kragtige, aangename, wonderlike en verborge wyse werk Hy die wedergeboorte in ons – ‘n werk wat net so skouspelagtig is soos die skepping en die opwekking van die dooies. Hy dryf en beweeg hierdie weergebore mens, Hy laat hom daadwerklik glo. Dít, gemeente, is die seekoei onder die water! En dan die twee oortjies wat uitsteek: bekering, naamlik dat ons berou het oor die feit dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug; en dat ons ons verbly deur Christus om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Dit is die twee klein oortjies van die seekoei. En net om seker te maak dat ons nie moet dink dat hierdie twee oortjies iets is wat ons uit ons eie krag kan verrig nie, sê die laaste woorde van paragraaf 12 ook nog: “Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.” Deur die genade wat hy ontvang het... Tot by die twee klein oortjies toe, is dit genade!

Broers en susters, wanneer ons vandag oor hierdie twee oortjies gaan nadink, moet dan nie van die seekoei onder die water vergeet nie. Geen mens kan tot die ware bekering kom as hy nie eers op kragtige, aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike wyse deur God weergebore is nie. Wanneer jy in jou daaglikse lewe die bekering sien (want dit is waaroor dit in Sondag 33 gaan: die daaglikse bekering), dan moet jy weet dat dit die gevolg is van ‘n magtige Godswonder in jou lewe – gewerk deur die Gees, en moontlik gemaak deur Jesus Christus op Golgota. En dié wonder is die wedergeboorte. Jy is deur God lewend gemaak in en deur Jesus Christus, en dit is die enigste rede waarom jy beweeg word om jou tot Hom te bekeer. Of soos die bekende Nederlandse theoloog Hermann Friedrich Kohlbrugge na bewering sou gesê het: “op Golgota het ek my bekeer!” Pragtig, nie waar nie – die mens word nie uitgeskakel nie, en tog is alles aan Jesus Christus te danke. Kom ons maak dit die tema van die preek:

Tema: Op Golgota het ek my bekeer!

  1. Die hele bekering
  2. Die sigbare bekering

 

1. Gemeente, bekering – veral in die Ou Testament – moet ons onsself baie letterlik en baie visueel probeer voorstel. In die Ou Testament word daar ‘n Hebreeuse woord vir bekering gebruik (sjub), wat letterlik beteken om jouself om te draai. ‘n Voorbeeld waarin dit in hierdie letterlike sin gebruik word, vind ons in Rigters 3:18 en 19: “En toe Ehud die belasting volledig afgelewer het, bring hy die mense wat die belasting gedra het, weg; maar hy self het omgedraai by die gesnede beelde wat by Gilgal was...” Omgedraai! Die Nuwe Testament gebruik twee Griekse woorde vir bekering – metanoia en epistrofe – waarvan laasgenoemde ook weer dieselfde betekenis het as in die Ou Testament, naamlik ‘omdraai’. Dit lyk dus asof ons met ‘omdraai’ die kern van die Bybelse begrip van bekering raak. Bekering is: jy staan eers met jou gesig na die sonde en met jou rug na Jesus Christus toe; maar wanneer jy omdraai – wanneer jy deur die Here se krag en genade jouself bekeer – dan staan jy met jou rug na die sonde en met jou gesig na Jesus Christus toe. Paulus beskryf dit pragtig wanneer hy in Handelinge 26 voor koning Agrippa staan – dan vertel hy vir Agrippa van sy eie bekering oppad na Damaskus, en die taak wat die Here vervolgens aan hom gee. Hy moet ‘n getuie wees voor die heidene “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in God vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:16-18). Bekering (omdraai!) van die duisternis na die lig, van die mag van Satan tot God. Dit is hoe radikaal bekering is – jy moet jouself 180 grade omdraai!

 

En as ons die radikaliteit werklik tot ons wil laat deurdring, dan moet ons hierdie twee uiterstes deeglik bymekaar hou. Dít waarvandaan ons wegdraai (duisternis, Satan), en dít waarheen ons draai (lig, God), is deel van die een proses van bekering, hulle moet deel wees van die een proses. As jy een van die twee weglaat, dan is dit nie meer ware bekering nie, dan is dit nie meer egte omkeer nie. Johannes die Doper wys dit vir ons wanneer hy die skare in Lukas 3:7 aanspreek: “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?” Ja, sê Johannes eintlik, dis goed en wel dat julle uitgekom het na die woestyn om gedoop te word, maar dit sê op sigself nog nie soveel nie. Om gedoop te word, mag nooit ‘n daad van skynheiligheid wees nie. Dit mag nie wees dat jy net wegvlug omdat jy bang is vir die toorn wat aan die kom is, maar jou nie werklik voor God wil verootmoedig nie. Want dan is jy soos ‘n adder (“Addergeslag!”) wat uit ‘n brandende koringland wegvlug, maar intussen nog steeds ‘n adder bly. Nee, sê Johannes in vers 8, as jy aan die een kant van die toorn wegvlug, dan moet jy aan die ander kant ook vrugte dra wat by die bekering pas. Dit is die enigste manier hoe die boom gered kan word – want elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi; die byl lê al teen die wortel van die boom! (vers 9) Ware bekering, broers en susters, behels dus twee dele – nie los van mekaar nie, maar as een geheel, albei deel van die een proses van omkeer. En albei moet met ewe veel oortuiging, met ewe veel hartlikheid, deur die krag van die Gees in ons lewens uitgewerk word!

Dit is aan die een kant ‘n hartlike berou (soos antwoord 89 sê) – pyn, droefheid, woede, in sommige gevalle selfs trane, ‘n diepe spyt – nie net oor die gevolge van ons sondes nie, maar oor die feit dat ons God deur ons sondes vertoorn het. Dís waarvan Paulus in 2 Korinthiërs 7 praat – nie die droefheid van die wêreld nie; nie Judas se droefheid wat uiteindelik tot sy dood gelei het nie; nie die droefheid wat sê: “Ag, as ek dit maar net nie gedoen het nie, want kyk in watter gemors sit ek nou...” Nee, die droefheid volgens die wil van God, wat ‘n onberoulike bekering werk. ‘n Bekering wat maak dat ek hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug; en nog nooit het iemand wat van ‘n gevaar wegvlug na daardie gevaar toe gevlug nie; ook draai ‘n mens nie net halfhartig van die gevaar af weg nie. Nee, wegvlug beteken radikaal omdraai, weg van die afgrond, weg van die dood, weg van die sonde. Moenie op die afgrond bly rondspeel nie, moenie die gevaar uitdaag nie. Draai om!

En dit is aan die ander kant ‘n hartlike vreugde in God deur Christus (soos antwoord 90 ons leer) – ‘n hartlike vreugde gewerk deur Christus se onbeskryflike daad aan die kruis, en as gevolg daarvan ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Want kyk, sê Paulus in vers 11, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. Twee keer die woordjie ‘ywer’ – dis die lus en liefde waarvan die Kategismus praat. Ek wíl graag die Here dien!

Dus, ons draai van harte van die sonde af weg, en ons draai onsself van harte na God se vriendelike aangesig toe – albei sáám maak hulle deel uit van die daaglikse bekering.

 

Broers en susters, besef goed hoe belangrik dit is om hierdie twee dele bymekaar te hou; te dikwels vandag word hierdie twee dele van mekaar losgemaak. Hoe baie mense is daar wat sê dat hulle in Christus glo, maar intussen nog steeds adders bly. Hoe baie teoloë en predikers is daar vandag wat beweer dat reddende geloof in Christus beteken dat jy eenvoudig op Hom mag vertrou as jou Verlosser, maar dat dit nie noodsaaklik is om jou aan Hom as jou Heer te onderwerp nie. Met die gevolg dat daar ‘n hele generasie belydende Christene opgroei wie se lewens uiteindelik niks anders lyk as dié van die omringende kultuur nie. En dit moet ons bring tot selfondersoek. Dit moet ons bring tot die vraag of hierdie proses van bekering – met altwee sy dele: die afsterwing van die ou mens én die opstanding van die nuwe mens; die wegdraai van die sonde én die heendraai na God toe – of dit elke dag, hartlik en radikaal in ons lewens plaasvind. Of is dit by ons ook so dat ons Christus as ons Verlosser bely, maar intussen saam met die wêreld in die modder van die sonde bly rondrol? Gee die sola fide (deur die geloof alleen, wat ons so hartlik bely) aan ons die vryheid om maar dieselfde grappies as die sondige wêreld te bly maak, dieselfde taalgebruik as die wêreld te handhaaf, dieselfde eet- en drinkgewoontes as die wêreld te volg, dieselfde films as die wêreld te bly kyk, dieselfde lewenstyl as die ongelowiges te handhaaf? Gaan by ons die hartlike liefde vir Christus ook werklik sáám met ‘n hartlike haat vir die sonde in ons lewens?

Ja, die oortjies van die seekoei hang maar flouerig as ons eerlik hierdie vrae beantwoord. En as jy hier in skaamte jou kop moet laat sak – en wie van ons moet dit nie doen nie? – moet dan nie aktivisties aan die werk wil spring nie. Nee, soek van harte die Here Jesus op – in sy Woord, in die prediking. Laat Hy deur sy Gees hierdie bekering in jou werk, sodat jy saam met Kohlbrugge kan sê: op Golgota het ek my bekeer. Op Golgota ontvlug ek in Christus se krag die sonde, en mag ek in Christus se liefde die goeie soek. Afsterwing en opstanding, wegdraai van die sonde na God toe – die hele bekering... deur Christus.

Ons let vervolgens op die sigbare bekering.

 

2. Johannes die Doper se luisteraars het sy boodskap verstaan. Driemaal klink vervolgens die vraag – gestel deur die skare, die tollenaars en die soldate: “Wat moet ons doen?” Eintlik is dit baie mooi in die Grieks. In vers 8 sê Johannes: “Dra / produseer dan vrugte wat by die bekering pas...”, en in hulle vraag gebruik al drie groepe dieselfde woord: dra / produseer. Wat moet ons dan dra? Wat moet ons dan produseer? Hulle vra dus dat Johannes konkreet sal omskryf wat die vrugte is wat elke groep moet produseer. Opmerklik in Johannes se antwoord is dat hy telkens die onderline verhoudings tussen mense aan die orde stel. Wie klere of kos oor het, moet dit nie vir homself hou terwyl ander dalk gebrek ly nie: dink aan jou naaste, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Tollenaars, wat die belasting ingaar, moet van ander nie meer vra as wat wetlik deur die regering opgelê is nie. Die soldate, wat diens doen in die leër van Herodes of die Romeinse stadhouer, moet aan ander geen kwaad doen nie, maar tevrede wees met hulle betaling sonder om te plunder of te intimideer. Hierdie aksent op die onderlinge verhoudings word nog versterk deur die feit dat twee van die groepe wat hier genoem word, naamlik die tollenaars en die soldate, glad nie gewild was by die volk nie. Tollenaars en soldate is daarvan verdink dat hulle as gevolg van hulle werk teen die wet van die Here gesondig het. Nou, wanneer hulle hulself aan die opdragte van Johannes sal begin hou, dan sal daar weer goeie verhoudings groei tussen hulle en die volk.

Maar hoekom juis hierdie fokus op die onderlinge verhoudings, op die onderlinge liefde en eerlikheid? Wel, omdat dit Johannes se spesifieke taak is om vir die Here ‘n volk voor te berei. Dis wat Gabriël in Lukas 1:17 vir Sagaria aangekondig het, met verwysing na Maleagi 4: Johannes sal kom in die gees en krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei. Die koms van Elia – dus, Johannes die Doper – sal dien om die volk weer rondom die wet van Moses te verenig, soos wat ons in Maleagi 4:4 gelees het. Boetedoening – bekering! – voor God moet daarom blyk, moet sigbaar word, in liefde tot die naaste.

 

Ja, broers en susters, bekering verenig die gelowiges rondom die wet van die Here! Ons het ‘n gemeenskaplike geloof in Jesus Chrisus. Ons het ‘n gemeenskaplike doel: die eer van God. En dit verenig ons saam as gemeenskap – as kerk! – in ons uitleef van die wet van die Here. Dit is die definisie wat antwoord 91 van ‘goeie werke’ gee: slegs dié wat uit ‘n ware geloof, volgens die wet van God, tot sy eer gedoen word. My bede is dat dit ook in hierdie gemeente die geval mag wees: dat ons verenig sal wees in ons gemeenskaplike liefde vir die Here, en dat dit sigbaar sal word in ons gehoorsaamheid aan sy wet. Nee, nie ons eie goeddunke of die oorgelewerde gebruike van mense mag ons norm wees nie (dit is die laaste woorde van antwoord 91), maar die wet van die Here.

En uiteraard is ons uitleef daarvan binne ons gesinne en in ons huise nie oral en altyd presies dieselfde nie. Ons moet oppas om mekaar in ‘n keurslyf te wil dwing waar elkeen presies dieselfde moet dink en praat en optree. Ons wil nie, soos die Roomse Kerk, ‘n lys van sondes en daaraan verbonde sanksies byhou nie; ons wil ook nie, soos die Amish, almal dwing om presies dieselfde aan te trek en presies dieselfde te leef nie. Maar ons gemeenskaplike geloof in Christus en ons gemeenskaplike doel om die Here te eer, sal vanselfsprekend sigbare herkenning meebring. Wanneer ons in mekaar se huise kom, behoort ons ‘n gemeenskaplike leefstyl te herken, ‘n gemeenskaplike taalgebruik, herkenbare keuses rondom televisie- en intergebruik, soortgelyke reëls rondom die vryetydsbesteding van ons jongmense. En dit het nie in die eerste plek te make met ons kulturele agtergrond en ons tradisies nie – dit het te make met ons gemeenskaplike geloof, ons gemeenskaplike soeke na die eer van God en ons gemeenskaplike verbondenheid rondom die wet van die Here.

Goeie werke doen ons nie net op ons eie nie – ons doen dit in verbondenheid aan mekaar as gelowiges. Die sigbare bekering het ‘n kerklike, ‘n gemeenskaplike karakter. Ons doen dit sáám, ons versterk mekaar daarin, ons bemoedig mekaar daarin. Mag dít sigbaar word in hierdie gemeente, mag dít herkenbaar wees bymekaar. Mag dít leiding gee aan ons jongmense wat nog soek na wat die wil van die Here is en wat die grense van daardie wil dikwels uittoets. Laat ons vir hulle wys dat ons as gemeente een is in die geloof, een is in ons liefde vir die Here. En dat dit daarom vir hulle die moeite werd is om die wet van die Here te volg. En wat daardie wet is, en hoe daardie wet lyk – dít hoop ons om in die komende maande uit te werk in Sondae 34-44. Saam wil ons soek na die wil van die Here vir ons lewe in elkeen van die tien gebooie. Saam wil ons worstel met sy volmaakte wet. Saam wil ons onsself daarvoor buig. In Christus – want in Hom lê ons ware bekering. Op Golgota het ons ons bekeer.

Amen

 

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum en seëngroet

Sing Ps. 113:1 en 2

Wetslesing

Gebed

Lees: Maleagi 4:4-6; Lukas 3:7-18; 2 Korinthiërs 7:8-11

Sing Skr. 2:3 en 4

Teks: HK, Sondag 33

Preek

Gebed

Slotsang Ps. 51:6 en 8

Seën