God se vriendelike aangesig maak ons vriendelike mense

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2020-05-17
Text: 
Galasiers 5:22 (vriendelikheid)
Preek Inhoud: 

Ons het as Maranata gemeente ‘n jaartema vir 2020 gekies, naamlik wat dit inhou om ‘n diakonale gemeente te wees, ‘n diensbare gemeente.

Toe ons rondom November verlede jaar hierdie tema gekies het, was die Corona virus Covid-19 nog nie aan die wêreld bekend nie.

En toe ons as kerkraad ons openingsvergadering gehou het en afsprake gemaak het hoe ons hierdie jaartema gaan invul, dit was halfpad Januarie, het ons nog nie die vaagste benul gehad dat hierdie virus ‘n pandemie gaan veroorsaak, en dat dit ons hier in Suid-Afrika ook so diepgaande gaan raak nie.

Wie het dit ooit vermoed?

Toe Oktober verlede jaar die preekroosters vir 2020 opgestel is, wie het ooit vermoed dat in 2020 die kerkgeboue op Sondag verlate sou wees?

In elk geval, hierdie pandemie het wel veroorsaak dat dit wat vir jare in ons gemeente bietjie op die agtergrond verdwyn het, naamlik wat dit inhou om werklik diakonale gemeente te wees, dat dit nou ineens heeltemal op die voorgrond staan.

Die afgelope weke het ons sien gebeur hoe die diakens die leiding neem, inisiatiewe neem, en daar was nie ‘n keuse nie, die omstandighede dwing ons gewoon.

Skielik besef ons nou hoe wesenlik die diakonale amp is, en hoe wesenlik onderlinge diensbetoon is, naamlik om toe te sien, soos die bevestigingsformulier vir diakens dit opsom, om toe te sien dat niemand ongetroos moet lewe onder die druk van armoede, siekte, of eensaamheid nie.

 

Tema: God se vriendelike aangesig maak ons vriendelike mense

1 God se vriendelikheid in die Skrif

2 God se kinders se vriendelikheid in die Skrif

3 Die vriendelikheid van Christus se gemeente

 

1 God se vriendelikheid in die Skrif

Om vriendelik te wees is ‘n vrug van die Gees.

‘n Geesvervulde mens kan nie nors wees nie.

Nou wat beteken dit om vriendelik te wees?

As mens hierdie woord letterlik uit die Griekse teks vertaal, staan daar: vriendelikheid, of: goedhartigheid.

Ons vind hierdie begrip ook in die lys van vrugte van die Gees in Kolossense 3:12, en daar word dit met goedertierenheid vertaal.

Vriendelikheid – goedhartigheid – goedertierenheid.

Hierdie laaste woord bring ons op die spoor van ‘n woord wat ons dikwels in die Ou Testament vind, en wat in die Totiusvertaling met goedertierenheid vertaal word.

Dit is die Hebreeuse woord chesed, wat ook vertaal kan word as troue liefde; lojaliteit; verbondstrou.

So te hore hou hierdie woord in ons teks meer in as net ‘n glimlag.

Vriendelikheid as vrug van die Gees gaan baie diep.

En dit wil ons graag in hierdie preek probeer uitdelf.

Ons gaan dit doen deur weer eens, net soos in eerdere preke oor die vrugte van die Gees, na God self te kyk.

Na sy karakter, na hoe Hy self is.

 

In die Bybel word die woord vriendelikheid, oftewel goedhartigheid, dikwels gekoppel aan die woord vrygewigheid.

Agter ‘n vrygewige daad skuil meestal ‘n mens met ‘n vrygewige hart.

En dan begin ons deur eerstens na God self te kyk, soos ons Hom uit die Skrif ken.

Ons sing in Psalm 97: Gods vriend’lik aangesig, straal vrolikheid en lig.

God se vriendelike, goedhartige gesig kyk met ontferming na sy volk.

Hy is lojaal aan hulle.

Sy liefde en ontferming voel hulle.

Sy dade wys dat Hy trou is aan sy beloftes.

In Psalm 23 sing ons: Goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe.

Dawid getuig hier van God se goedhartigheid, sy goedertierenheid.

Laat ons, soos Dawid, ‘n punt daarvan maak om ‘n lys te maak van daardie dinge in jou lewe, waarin jy God se vriendelike aangesig kan waarneem.

Dink byvoorbeeld na oor die afgelope week: God se vriendelikheid, sy goedhartigheid, wat het dit die afgelope week vir jou beteken.

As julle nou, na hierdie diens, as julle miskien koffie drink, in elke gesin, as elke persoon een ding noem waarin jy God se vriendelike aangesig afgelope week ervaar het.

En as jy alleen na hierdie uitsending kyk, dan kan jy dit opskryf, maak sommer ‘n lysie.

 

So lysie het God se volk in die Ou Testament ook gemaak.

En dan dink ek spesifiek aan Psalm 136.

In hierdie Psalm het die Israeliete ‘n lysie van meer as twintig dinge gemaak, waarin hulle God se goedertierenheid, sy vriendelikheid, geproe het, juis in die geskiedenis van die bevryding uit Egipte.

En na elke ding wat genoem word, klink die refrein: Want sy goedertierenheid, sal bestaan in ewigheid.

Hulle geskiedenis was vol voorbeelde van sy vriendelike aangesig.

Ja, gemeente, ook ons het ‘n vriendelike God.

En sy vriendelikheid is nie net ‘n glimlag nie, dit het diepte.

Sy vriendelikheid is gewortel in sy verbondstrou.

 

In die Nuwe Testament, toe die apostels op hulle sendingsreise uitgetrek het, het hulle hierdie vriendelike God ook aan die wêreld gaan verkondig.

Paulus preek aan die mense in Lystra: Dit is hierdie God wat vir ons reën en vrugbare tye gee en ons harte met voesel en vrolikheid vervul (Hand. 14:17).

En die boodskap by uitstek wat die apostels saamgevat het, was natuurlik die Evangelie van Jesus Christus.

Juis deur sy eie Seun te stuur, het God sy vriendelike aangesig getoon, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe mag hê.

Titus 3:4-6: Maar toe die goedertierenheid – mens kan ook sê: die vriendelikheid – van God ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het ... wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser.

Ja in Christus leer ons by uitstek God se vriendelikheid, sy goedhartigheid, sy vrygewigheid, ken.

Hy het van sy eie gegee om ons op te hef.

Hy het nie agtergehou nie.

Ja sy vrygewigheid het pyn in sy hart gegee.

So ver het sy liefde vir ons gegaan.

 

2 God se kinders se vriendelikheid in die Skrif

In die tweede plek sien ons nou ook dat die Skrif hulle wat hierdie God dien, ook opgeroep word om van dieselfde inbors, dieselfde karakter te wees.

Daarna gaan ons nou in die tweede plek kyk.

En dan begin ons weer in die Skrif, waar ons verskeie voorbeelde vind van mense wat buitengewone vriendelikheid, goedhartigheid en vrygewigheid bewys het, en sodoende God se vriendelike aangesig op aarde laat skyn het.

 

Ons begin by een van die korste boeke in die Ou Testament: Rut.

Rut, ‘n vrou van heidense oorsprong, is in die Ou Testament ‘n onverwagte voorbeeld van vriendelikheid.

Haar selfopofferende houding teenoor haar skoonma Naomi was verbasend.

Dit het die Betlehemiete se monde laat oophang.

Mens kan geen verborge motief van eiebelang in haar optrede vind nie.

Haar optrede kan slegs verklaar word uit die feit dat Naomi se God ook haar God geword het.

So het Rut God se vriendelikheid en goedhartigheid weerspieel.

Rut se optrede was aansteeklik, en dit sien mens veral by Boas.

Rut se lojaliteit het hom daartoe gebring om ook lojaliteit te toon teenoor sy familie, omdat hy die losser was.

In Boas se optrede teenoor Rut en Naomi sien proe ons dan ook veral vrygewigheid.

Hy het rojaal gegee, maar as wat volgens die wet nodig was om aan die armes te gee.

Rut en Boas se optrede weerspieel so God se goedhartigheid.

Beide van hulle het beduidend meer gedoen as wat in hulle omstandighede redelikerwys van hulle verwag is.

 

Nog ‘n mooi voorbeeld van vriendelikheid en goedhartigheid vind ons by Dawid.

En dan moet ons net weer onthou, dat dit nie net ‘n oppervlakkige glimlag is nie, maar werklike lojaliteit.

Soos ons weet, Dawid en Jonatan was goeie vriende.

Jonatan was koning Saul se seun en in die sin bestem om troonopvolger te word.

Maar Jonatan was ‘n wyse jongman, en het raakgesien dat die Here ‘n ander gekies het om koning te word.

Hy het dit aanvaar, maar hy het Dawid toe wel ‘n eed laat sweer:

1 Samuël 20:14-15: “En sal jy my nie, as ek dan nog lewe, die guns van die HERE bewys nie, sodat ek nie sterwe nie? Jy sal ook nimmer aan my huis jou guns onttrek nie ...”

Die woord wat in hierdie verse met “guns” vertaal is, is dieselfde as waarmee ons in hierdie preek nog steeds mee besig is, die Hebreeuse woord “chesed”, wat ook vertaal kan word met lojaliteit, of goedertierenheid, of vriendelikheid, of verbondstrou.

Jonatan roep Dawid eksplisiet op om daardie karaktereienskap waarvoor God so beroemd is, om dit ook te bewys aan hom en sy huisgesin, die oomblik as Dawid die mag in hande gekry het.

Nou uit die Skrif weet ons dat, nadat Saul en Jonatan alreeds oorlede was, Dawid hierdie eed wat hy aan sy vriend gesweer het, steeds gehou het.

Daarin, in hierdie optrede was Dawid dus soos die HERE – betroubaar, lojaal.

Dawid het byvoorbeeld aan Jonatan se seun, Mefiboset, wat verlam was, guns bewys, hy was goedhartig teenoor hom.

Hy het gesorg dat Mefiboset al sy oupa, koning Saul, se grond geërf het.

En Mefiboset het steeds, staan daar in 2 Samuël 9, aan Dawid se tafel brood geëet.

Weer eens ‘n pragtige voorbeeld hoe ‘n gelowige sy God nageboots het, naamlik om goedhartig te wees, meer as wat sy omgewing van hom verwag het.

 

Dit is dan ook wat ons leer uit hierdie twee voorbeelde uit die Skrif, gemeente.

Rut, Boas, en Dawid: Die vriendelikheid, die vrygewigheid wat so eie is aan God se karakter, dit word ook deel van die karakter van sy kinders.

Deur die Ou Testament was dit ook die pleidooi van die profete: “bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander. En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.” Sagaria 7:9-10.

 

En ook in die Spreukeboek word hierdie karaktereienskap, ja hierdie vrug van die Gees, telkemale besing:

“Wie sy naaste verag, doen sonde; maar hy wat medelyde het met die ellendiges, hy is gelukkig.” (Spr 14:21)

“Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom.” (Spr 14:31)

“wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.” (Spr 19:17)

 

3 Die vriendelikheid van Christus se gemeente

Gemeente, die voorbeeld van alle voorbeelde in die Bybel, die vriendelikheid en goedhartigheid in eie Persoon, is natuurlik ons Here Jesus Christus.

En in navolging van Hom mag vriendelikheid, goedhartigheid, vrygewigheid, nou ook bepalend in ons lewens word.

Dit is ‘n vrug wat sy Gees in ons werk.

En soos dit met al die vrugte van die Gees is, dit is nie iets wat vanself kom nie, dit is nie eie aan ons ou sondige mens nie.

Maar deur die prediking van Christus word hierdie vrug in ons lewens geplant.

En deur die inwoning van sy Gees in ons lewe, word hierdie vrug meer en meer deel van ons karakter.

En soos ek aan die begin van die preek genoem het: ‘n Geesvervulde mens kan nie nors wees nie.

Inderdaad, ‘n Christen het rede om vriendelik te wees.

‘n Gelowige maak ‘n punt daarvan om elke dag vriendelik te wees.

‘n Dag sonder vriendelikheid is ‘n verlore dag.

En weer eens, vriendelikheid is nie net oppervlakkig nie.

Dit is diep geworteld.

Dit is die vrug wat gevoed word uit God se vriendelikheid, sy goedertierenheid, sy goedhartigheid, sy vrygewigheid.

As ons terugdink aan die afgelope week, dan kan ons ‘n lysie maak van al die dinge waarin ons God se vriendelike aangesig geproe het.

Selfs in hierdie grendelperiode, selfs met die gevaar van ‘n dodelike virus daarbuite.

Paulus en Silas kon lofliedere in die tronk sing.

Die ander gevangenes het daarna geluister (Hand 16:25).

Selfs in daardie omstandighede is hulle vriendelikheid nie van hulle afgeneem nie.

Paulus roep op in Filippense 4:5: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.”

Hierdie laaste vier woorde is die sleutel: Die Here is naby.

God se vriendelike aangesig skyn oor ons in alle omstandighede, selfs in die tronk.

En uiteraard ook nou tydens hierdie grendelperiode.

Die HERE is naby.

As die HERE naby is, dan hoef ek tog nie bekommerd te wees nie!

Ek weet mos, in lewe en in sterwe, is al die hare van my kop getel.

Hy bewaar my op so ‘n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie.

Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.

 

En omdat ons so daarvan deurdronge is, is ons ook in staat om self vriendelik te wees, goedhartig, vrygewig.

God se vriendelike aangesig maak ons vriendelike mense.

En dit bring ons weer terug by die jaartema: hoe kan ons ‘n diakonale gemeente wees.

Al sou ons self nie daarvoor gekies het nie, feit is wel dat die Here hierdie Corona krisis gebruik om van ons werklik meer en meer ‘n diakonale gemeente te maak.

Waar vir jare die diakens eintlik maar bietjie op die agtergrond gefunksioneer het, ons as gemeente nie veel van hulle gemerk het nie, daar neem hulle nou die leiding.

Die laaste weke het hulle ‘n ondersoek deur die hele gemeente gedoen.

En nou onlangs het ons elkeen van hulle ‘n brief ontvang.

In daardie brief proe ons die vriendelikheid, die goedhartigheid, die vrygewigheid van God.

Kom ons beantwoord die oproep van die diakens.

Kom ons wys dat ons vriendelikheid ook diepte het, ja oorgaan tot goedhartigheid en vrygewigheid.

En die in ons gemeente wat hulp gaan ontvang, julle mag God se vriendelike aangesig ervaar, juis ook deur hierdie liefdegawes.

Die diakens het ‘n aantal noodsituasies vasgestel, binne en buite die gemeente.

Ja ook na buite toe mag ons vriendelikheid bekend word.

Nie dat ons onsself op die bors klop nie.

Daar is niks wat ons het, wat ons nie ontvang het nie.

In dankbaarheid mag ons juis in hierdie tye uitdeel, ons gawes van geld, ons gawes van tyd, ons gawes van opregte meelewe, ons gawes van opregte betrokkenheid by ander.

En al hierdie goeie werke wat ons doen, werke wat die Gees in ons werk, word besprinkel met die sout van gebed:

Soos die Skrif ons oproep: Ek vermaan dan “dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd” (1 Tim 2:1-6).

Ja dit doen ons veral in hierdie tyd: baie bid en dank.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:11

Wet

Ps 25:3

Gebed

Skriflesing: Rut 2:11-23

Ps 89:1,2

Skriflesing: 2 Samuël 9

Ps 89:10,11

Teks: Galasiërs 5:22 (vriendelikheid)

Preek

Ps 97:7

Gebed

Kollekte

Ps 37:2,3,25

Seën