Heimwee na God en sy diens

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-03-29
Text: 
Psalm 42 en 43
Preek Inhoud: 

Smag van verlange na die lewende God.

Dit is waaroor hierdie lied, hierdie twee Psalms handel.

Meer spesifiek nog: smag en vol heimwee wees na die eredienste saam met God se volk.

En dit omdat die digter nie in staat was om by die tempel te wees nie.

Hunker om die lof van die HERE te sing saam met die gemeente.

Ek het onlangs met een van ons gemeentelede gepraat, wat vir maande nie in die kerk was nie as gevolg van siekte en ‘n operasie.

Sy het vir my vertel, die eerste keer toe sy weer in die kerk gesit het daarna, het daar trane in haar oë gekom.

Sy het die kerk toe gaan elke Sondag geweldig gemis.

Maar toe sy die eerste keer weer in die kerk kom, toe het sy eers voluit besef wat sy gemis het.

Ja altyd en orals was daar gelowiges gewees wat gekunker het na die lewende water van God se Woord, na die lafenis om deel te wees van die samekoms van God se kinders.

Lank gelede was dit so, toe hierdie Psalm geskryf is, deur die eeue was dit so by verskillende omstandighede, en vandag is dit nog steeds so.

Dikwels besef jy eers jou rykdom as jy dit moet mis.

En so het ons tans ook volledig buite ons beheer, weer in so ‘n situasie tereggekom.

So lank ek lewe, kan ek nie onthou dat daar so ‘n situasie was, dat die kerkraad nie in staat was om ‘n erediens te belê nie.

Ek hoor afgelope week van ‘n gemeentelid dat in die jare ’50 daar ‘n polio epidemie was wat ook gesorg het dat mense vir ‘n maand tuis moes bly.

En ons oudste gemeentelede onthou nog die Tweede Wêreldoorlog, toe die bywoon van eredienste dikwels ook nie ‘n vanselfsprekendheid was nie.

 

Tema: Heimwee na God en sy diens

1 Die agtergrond en struktuur van hierdie lied

2 Die depressiewe omstandighede wat spreek uit hierdie lied

3 Die vaste hoop waarin hierdie lied ons onderrig

 

1 Die agtergrond en struktuur van hierdie lied

In Psalm 42 en 43 het ons met ‘n soortgelyke situasie te make, al was dit waarskynlik net die digter wat weens omstandighede verhinder was.

Ons weet nie presies wanneer hierdie lied geskryf is nie, of dit in ‘n tyd was wat die tempeldiens gewoon gefunksioneer het, of dat dit in die ballingskap was, toe die tempeldiens self ook tot stilstand gekom het.

Waarskynlik was die eerste die geval, dat dit net die digter was, wat verhinder was.

 

Die digter, so sien ons in vers 1, was een van die kinders van Korag.

Korag was die agterkleinseun van Levi.

Uit die boek Numeri weet ons dat Korag saam met Datan en Abiram teen Moses se leiding in opstand gekom het.

Die HERE het dit nie geduld nie, en hierdie drie manne het omgekom toe die HERE die aarde laat skeur en hulle daarin geval het.

Ook Datan en Abiram se gesinne het omgekom.

Maar Korag se kinders was verstandiger as hulle pa.

Hulle het Moses se waarskuwing ter harte geneem en betyds padgegee uit die omgewing van hulle pa se tent.

So kon hulle aan die straf ontkom.

Hierdie nakomelinge van Korag is later deur koning Dawid aangestel om leiding te neem oor die sang by die tabernakel en later die tempel.

En, soos ons in hierdie Psalm sien, van hulle het nie net gesing nie, maar het self ook gedig.

Psalm 42 en 43 vorm ‘n pragtige gedig.

Daarin getuig ‘n verre afstammeling van Korag van sy verlange om by die tempel te wees, sy verlange na die HERE en sy diens.

En vanuit sy persoonlike situasie onderrig hy God se volk.

Soos daar in vers 1 staan, hierdie gedig is naamlik ‘n onderwysing.

 

Voordat ons inhoudelik na hierdie lied gaan kyk, eers net ‘n paar opmerkings oor die struktuur.

Wat u natuurlik opgeval het, is dat ons twee Psalms gelees het, 42 én 43.

Dit is nie toevallig nie.

Want as mens na die struktuur en inhoud van hierdie twee liedere kyk, word duidelik dat hulle saam eintlik een gedig vorm.

Hoekom hulle later opgedeel is in twee aparte psalms, weet ons nie presies nie.

Hierdie lied bestaan uit drie dele.

Deel 1 is verse 1-6 van Psalm 42.

Deel 2 is verse 7-12.

En deel 3 is dan Psalm 43.

Daar is duidelike ooreenstemming in elkeen van die drie dele.

Elke deel begin met ‘n klag, die digter kla oor die situasie waarin hy homself bevind.

Maar elke deel loop vervolgens uit op ‘n hoopgewende oproep, waar die digter uitstyg bo sy depressiewe gedagtes.

Elke deel eindig met dieselfde refrein, verse 6 en 12 en Psalm 43:5:

Elke keer vra die digter homself af: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my?”

En dan volg daarop die hoopgewende oproep in die refrein: “Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God!”

Uit hierdie refrein blyk baie duidelik dat die drie dele, en dus ook die twee Psalms, bymekaar hoort, dat hulle saam een geheel vorm.

Tot drie keer toe sak die digter weg in die put van wanhoop, maar elke keer mag hy daaruit opstyg as hy weer sy hoop vestig op God.

 

Die digter was dus ‘n Koragiet, ‘n afstammeling van Levi.

En soos ons weet, die Leviete het geen eie grondgebied in Israel gehad nie, hulle is deur God aangestel om die tempeldiens te behartig en die volk te onderrig.

Mens kan dink dat hulle nie so gelukkig was as die ander stamme, omdat hulle nie hulle eie grond,hulle eie plase, gehad het nie.

Maar mens kan dit ook andersom beskou.

Hulle was juis gelukkig en bevoorreg.

In teenstelling tot die ander Israeliete, wat net drie keer per jaar na die tempel gekom het tydens die feeste, mog die Leviete altyd daar wees.

Die opregte gelowiges onder God se volk was wat dit betref eintlik jaloers op die Leviete.

 

2 Die depressiewe omstandighede wat spreek uit hierdie lied

Maar om een of ander rede, en wat dit was word nie in die psalm vermeld nie, was dit tans by hierdie Koragiet nie die geval nie.

Op hierdie oomblik was die digter juis baie ver van God se huis af.

Uit dit wat hy in hierdie gedig noem, is dit duidelik dat hy homself ver na die noorde bevind het, teen die suidelike hange van die berg Hermon, die gebied waar die Jordaanrivier ontspring.

Nou wat natuur betref was hierdie juis ‘n baie vrugbare, ‘n baie waterryke gebied.

So het al die sneeu wat op die toppe van Hermon tydens die winter val, in die lente gesmelt en in bruisiende watervalle afgestort.

Tog lyk dit nie of hierdie ongerepte natuurskoon en onbedwingbare kragte van die water die digter enigsins opgebeur het nie.

Eerder die teenoorgestelde.

Hy begin sy lied met ‘n heel ander beeld:

Soos ‘n hert wat smag na waterstrome.

Al bevind die digter homself tussen bulderende riviere, voel hy in sy siel eerder soos ‘n woestynbok wat by ‘n droë rivierloop aankom, maar geen druppel water, geen poeletjie daarin aantref nie.

Sy gevoel spoor nie tans met die asemrowende omgewing waarin hy homself bevind nie.

Die natuur om hom heen is vir hom eerder ‘n bedreiging.

Die bulderende watervalle herinner die digter eerder aan die beproewinge, wat oor hom uitgestort word.

Al u bare en golwe gaan oor my heen, die een van die ander (vers 8).

Die gedruis van die waterstrome klink hom onheilspellend in die ore.

 

Gemeente, is dit in ons lewe nie ook dikwels so nie?

Na gelang van hoe jou eie gemoedstoestand is, so beleef jy ook die werklikheid om jou heen.

Tans is ons gemoedstoestand nogal gedemp, vanweë die bedreiging van die Corona Pandemie.

Dit bedreig ons gesondheid, dit bedreig ons inkomste.

Daardeur het ons outomaties minder oog vir die mooi dinge om ons heen wat daar wel is.

Soos byvoorbeeld die oorvloedige reën wat die HERE skenk en geskenk het die afgelope maande.

‘n Paar maande gelede het ons Biddag vir gewas en arbeid gehou, ons het die HERE gebid of Hy in hierdie seisoen genoeg reën wil stuur.

Rond hierdie tyd sou ons nou Dankdag gehou het.

Maar vanweë die pandemie moes dit uitgestel word.

En omdat ons gemoedstoestand af is, beleef ons al die reën ook nie tans werklik as ‘n seën nie, al is dit wel nog steeds dubbel en dwars ‘n seën!

Dieselfde was die geval met die digter.

Al daardie bulderende waterstrome het hom nie opgebeur nie, maar net nog meer mismoedig gemaak.

 

Nou wat was daar dan met hom aan die hand?

Hoekom was hy so ver weg van die tempel, daar waar hy as Leviet veronderstel was om te wees?

Die Psalm gee nie uitsluitsel oor hierdie vraag nie.

Was hy dalk daar as ‘n krygsgevangene?

Of was hy dalk ‘n vlugteling?

Was hy dalk ‘n reisiger wat op een of ander rede sy reis nie kon voortsit nie?

Was hy dalk siek?

Moes hy dalk weens ‘n aansteeklike siekte in afsondering wees?

Of is dit dalk eerder die geval dat die digter homself verplaas in die skoene van ‘n deursnee Israeliet, wat ver weg van die tempel af woon te midde van mense wat die afgode vereer?

‘n Duidelik antwoord op die vraag na die omstandighede hoekom die digter daar vertoef het, kry ons nie.

 

Wat wel duidelik is, is dat dit nie net die isolasie was, wat vir die digter erg was nie.

Nie net die feit dat hy so ver van die tempel af was nie, al was net dit al vir hom verskriklik erg, as hy teruggedink het aan hoe hy dit geniet het om saam met al die massas mense by die tempel te wees, te sing, te bid, bly te wees.

Maar tot oormaat van ramp bevind die digter hom ook hier in ‘n goddelose omgewing.

In ‘n omgewing waar die mense hom die hele tyd spot en treiter, juis vanweë sy geloof.

Juis dit het hom des te meer laat smag na God.

Soos ‘n wildsbok smag na ‘n waterstroom, so het hy gesmag na die waterstroom van die bediening van God se Woord, na die erediens van die tempel.

My siel dors na God.

Wanneer, o wanneer, sal ek weer voor God se aangesig kan verskyn?

Sy diepe verlange het uitgegaan na God se huis.

Om voor God se aangesig te verskyn, is ‘n uitdrukking in die Ou Testament wat gedui het op hoe die Israeliete by die tempel gekom het vir die drie groot feeste.

Hierdie dors van die digter laat ons dink aan wat Dawid gesê het in Psalm 27: Een ding het ek van die HERE begeer, dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel (Ps. 27:4).

 

Nou kan ons vandag nie meer hierdie verlange na die tempel hê nie.

Die tempelgebou bestaan nie meer in die nuwe bedeling nie.

Maar tog bevat hierdie gedig nog waarheid vir ons.

Want ook ons kan heimwee hê na God, en spesifiek na die Woordbediening in die samesyn van sy volk.

Ook ons het heimwee om God te ontmoet daar waar Hy Homself laat ontmoet.

Die tempeldiens is afgeskaf, meer nog, dit is vervul in Jesus Christus.

As die refrein sing, die verlossing van my aangesig, dan is dit in Jesus, die Verlosser, ultiem vervul, ook vir die digter toe, al het hy die reikwydte en diepte van God se verlossingsplan nog nie volledig besef nie.

En orals waar twee of drie in sy Naam bymekaar kom, daar is ons Verlosser in hulle midde.

So het ons vandag heimwee na die plek waar Hy Homself laat ontmoet, waar sy Woord en Gees is.

En dikwels is dit so, net soos by hierdie digter, dat ons eers besef wat ons mis, as ons dit nie kan kry nie, as ons dit moet ontbeer.

 

‘n Mens kan verhinder wees om kerk toe te gaan.

Dikwels is dit die geval as gemeentelede siek is, as hulle geopereer is en ‘n lang pad van herstel moet deurmaak.

Soms is daar uitsonderlike omstandighede, soos oorlog of epidemies, waardeur die eredienste nie gewoon kan voortgaan nie.

Ons verkeer tans in so ‘n omstandigheid, en juis dit laat ons nadink oor die wese en die nut van ‘n erediens, juis dit laat ons mis wat ons anders as so gewoon aanvaar het.

Maar soms kan dit ook gebeur, in sekere plekke, dat daar groot afval is, en dat gelowiges wat trou wil bly aan die diens van die HERE, nie ‘n kerk kan vind waar die Evangelie bedien word nie.

Miskien is daar wel kerkgeboue, of heiligdomme, maar daar word droë klippe pleks van die lewende brood uitgedeel.

Dit kan ook gebeur!

En dit klink of dit by die digter die geval was.

Hy was mylever van Jerusalem af, en daar waar hy homself bevind het, was daar glad nie geesgenote nie.

In daardie omgewing is ander gode vereer.

Hy was omring deur goddelose afgodsdienaars.

Hierdie mense het hom selfs gespot!

Hier is ons gode – kyk – en dan het die mense na hulle afgodsbeelde gewys.

Maar jou God, waar is Hy?

Ons sien niks nie!

Wat moes die digter daarop antwoord?

Inderdaad, hy het nie ‘n beeld gehad om vir die heidene of dalk afvallige Israeliete te wys nie.

Sy God het in sy wet juis verbied om van Hom ‘n beeld te maak!

Waar is jou God? het die mense smalend gevra ...

En as hy sou geantwoord het: My God se tempel is daar ver in Jerusalem, dan het die mense hom seker uitgelag.

Jerusalem ... waar is dit?

Is jou God só ver?

Wat help dit dan om op Hom te vertrou?

Kan Hy hier enigsins iets vir jou beteken???

 

Verstaan u, gemeente, hoekom die digter so somber en depressief was.

Die van God vervreemde wêreldbeskouing om hom heen, het hom afgetrek, het hom laat twyfel, het hom onseker gemaak.

Tot drie keer toe in hierdie gedig sink hy weg in depressiwiteit.

 

Miskien het sommige van u dit ook al meegemaak, broers en susters.

Soms gebeur dit dat iemand byvoorbeeld vir ‘n aantal jare in die buiteland gaan werk.

Soms is dit in ‘n ver en vreemde land, ‘n land soos China, of dalk Saoudi-Arabië, waar jy omring is deur mense wat ‘n heel ander godsdiens het, of dalk glad nie ‘n godsdiens het nie.

Hoe eensaam en geïsoleer kan jy dan nie voel nie.

Ja dan kan jy letterlik heimwee daarna kry om in Maranata kerk op Sondag te sit, saam te sing, te luister na die preek, na die tyd uit te stap en met die mense op die kerkplein te kuier ...

Dinge wat vir ons so vanselfsprekend is.

Iets wat vir sommige in ons gemeente te vanselfsprekend geword het, met die gevolg dat hulle dikwels afwesig is in die erediens.

Let u wel op, broers en susters, watter ander gemeentelede gereeld nie kerk toe kom nie?

Is u bekommerd oor hulle, omdat hulle so dikwels gemis word?

Nou sit ons elkeen in ons eie huis, nou op hierdie stadium kan daar geen sosiale kontrole wees nie, nou kan ons glad nie sien wie wel en wie nie teenwoordig is nie – in die gees altans.

Laat ons onsself voorneem om, as die gewone eredienste weer hervat, dat ons miskien bietjie meer op mekaar let.

Soms moet die HERE eers iets van ons afvat, voordat ons dit weer begin waardeer, voordat ons selfs heimwee daarna begin kry!

 

Ja die digter van Psalm 42 en 43 het letterlik heimwee gehad, wat hom somber en siek gemaak het.

Wat buig jy jou neer, o my siel?

Wat is jy onrustig in my? ... vra hy tot drie keer toe in die refrein.

Die digter praat met homself.

Hy konstateer sy eie gemoedstoestand.

Hy kan dit nie meer verdring nie.

Hy moet teenoor homself erken: ek is ongelukkig, ek is depressief, my omstandighede maak my baie somber. Hoe gaan ek ooit hier uitkom?

Hoe gaan ek ooit weer daardie vreugde ervaar soos toe ek by God se huis was?

Toe ek selfs voor die skare uitgetrek het.

Hoe ek selfs die feesvierende menigte kon voorgaan, kon lei in hulle lofliedere tot God.

Net die gedagte aan daardie mooi tyd het hom nog dieper in die put laat sak.

Die besef dat dit nou totaal buite sy bereik was.

 

Besef u dat die bejaardes onder ons soms hiermee kan worstel?

As hulle aan hulle eie liggaam voel dat dit al hoe swakker word.

As hulle nie meer self kerk toe kan ry nie.

As hulle afhanklik raak van ander se vervoer om hulle kerk toe te vat.

As hulle die dag sien aankom dat die kinders of dalk die bejaardetehuis waarin hulle is, vir hulle die advies gee: Dit is dalk beter dat u nie meer kerk toe kom nie ...

Besef u, veral julle jonger gemeentelede, hoe dit vir die bejaardes moet voel?

Hoe hulle wêreld al hoe kleiner word ...?

Hoe hulle al hoe meer geïsoleer word van die mooi dinge in die lewe, die vreugdevolle plekke in die lewe?

Wat buig jy jou neer, o my siel?

Wat is jy onrustig in my?

Wel, die digter, en ook baie vandag, het rede gehad om somber te raak.

 

3 Die vaste hoop waarin hierdie lied ons onderrig

Maar dan, geliefdes, sien ons terselfdertyd die bewys van die werk van God se genade in hulle en ons lewens.

Want die digter sluit sy gedig nie af in hierdie somber toon nie.

Die HERE lig sy gemoedstemming weer op.

En so eindig elke keer die refrein van hierdie lied, tot drie keer toe, met ‘n loflied, ten spyte van die digter se omstandighede.

Ja ook daar in sy geïsoleerde toestand, ook daar is die HERE by hom, ook daar hef Hy hom weer op en maak hom tog weer bly.

Ons sien dit aan die einde van die eerste deel van die gedig, waar die digter bely:

Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van sy aangesig! (vers 6)

Ons sien dit ook in die tweede deel van die gedig: Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees!

Ons sien dit ook in die laaste deel, in Psalm 43: U is die God van my toevlug (vers 2).

En die digter roep God op:

Stuur u lig en u waarheid, laat die my lei.

Ja bring my tog terug na u heilige berg en u woninge, dat ek kan ingaan na die altaar van my God, na die God van my jubelende blydskap, dat ek U weer kan loof met die siter.

 

Gemeente, hierdie bede mag ons ook vandag in ons uitsonderlike omstandighede tot God bid.

HERE God, wil U dit tog so lei dat hierdie ‘lockdown’ as gevolg van die Corona Pandemie so spoedig moontlik verby is.

Nie net sodat ons dan weer aan die werk kan spring en geld maak nie.

Maar ook sodat ons dan weer saam kerk toe kan gaan.

En as ons dit aan die HERE vra, laat ons as hele gemeente besef dat daar sommiges onder ons is, wat ook dan nie kerk toe sal kan gaan nie.

Die bejaardes wat te swak geword het om elke Sondag in die kerkbanke te sit.

Laat ons hulle nie uit die oog verloor nie!

Ja laat ons saam met hulle verlang om op God se tyd in die hemelse Jerusalem in te gaan!

Ja laat ons veral bid vir die dag as die hemelse Jerusalem op aarde sal neerdaal.

Dan sal die bede van Psalm 43:3 “Stuur u lig en u waarheid” eers volmaak vervul wees.

By die herstel en herskepping van alle dinge.

So word hierdie gedig volmaak vervul in die profesie van Openbaring 21, waar ons lees van die “heilige Jerusalem wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen” ...

“Ja die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”

“En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”

Vir die hoogbejaardes is dit iets wat naby is, haas op die drumpel, om opgeneem te word in die hemelse Jerusalem.

Maar nie net vir die hoogbejaardes nie, vir elkeen van ons.

En die Corona Pandemie laat ons net weer besef dat jong mense ook kan sterf.

Maar ons is nie wanhopig nie.

Ons hoop is op God, wat sy lig en waarheid in die vorm van sy eie Seun, die Lam wat vir ons geslag is, gestuur het.

Wat ons eendag, vroeër of later mag ontmoet.

En wat terug sal kom op die wolke van die hemel.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 42:1,2

Gebed

Skriflesing: Psalm 42 & 43

Ps 42:3-5

Teks: Psalm 42 & 43

Preek

Ps 42:6,7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 43:1-3

Kollekte

Ps 43:4,5

Seën