Die vrug van vrede

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-03-15
Text: 
Galasiers 5:22 (vrede)
Preek Inhoud: 

Ons fokus vandag op die volgende vrug van die Gees, wat Paulus in Galasiërs 5:22 noem, naamlik vrede.

Die afgelope weke het ons al die eerste twee vrugte behandel: liefde en blydskap.

Ook vrede is ‘n sleutelwoord in die Bybel.

Ons kan dink aan die Hebreeuse woord shalom wat ons so dikwels in die Ou Testament lees.

Shalom oftewel vrede staan in die Bybel vir alles wat God in sy verbond skenk, omvattende gesondheid na liggaam en gees, vryheid, afwesigheid van angs en gebrek, en tevredenheid in die verhouding met God, ons naaste en die skepping.

Die woord shalom was die algemene woord waarmee die Jode mekaar elke dag gegroet het.

Ook Jesus het hierdie woord daagliks gebruik, soos wat Hy mense ontmoet het, toe Hy hier op aarde was.

Shalom – vrede sy met jou!

En dit het ook vir die apostel Paulus gegeld.

Ook in sy briewe vind ons die woord  vrede dikwels, soos in ons teks, Galasiërs 5:22, asook die gedeeltes wat ons gelees het.

 

Tema: Die vrug van vrede

  1. God het hierdie vrede gemaak en deel dit uit
  2. God roep op tot hierdie vrede

 

 

  1. God het hierdie vrede gemaak en deel dit uit

Die Bybelse vrede in sy alomvattendheid is die gevolg van die versoeningswerk wat God tot stand gebring het deur sy Seun Jesus Christus oor te gee om gekruisig te word.

Hierdie vrede is die gevolg van sy almag wat Jesus weer uit die dood opgewek het.

Vrede as vrug van Gees is dus nie in die eerste plek ‘n karaktereienskap wat ons het nie.

Dit is iets wat God bewerkstellig het.

God het dit eerstens bewerkstellig tussen ons en Hom.

Deur Christus se plaasvervangende lyde en sterwe het ons nie meer enige skuld voor God nie.

Tweedens het God in Christus ook vrede op aarde moontlik gemaak tussen mense.

In Romeine skenk Paulus uitgebreid aandag aan die vrede wat Christus bewerkstellig in sy gemeente tussen Jode en heidene.

Die geloof in Christus bewerkstelling eenheid en vrede tussen hulle.

                                                                              

Eerstens is vrede dus nie ‘n gevoel of ‘n deug nie, maar ‘n objektiewe saak.

In Christus het God die staat, die toestand van vrede herstel tussen hemel en aarde, en tussen mense onderling op aarde.

Dit is ‘n objektiewe feit.

Maar tweedens deel God nou ook hierdie vrede uit.

Hierdie vrede wat Hy self bewerkstellig het deur sy Seun Jesus Christus.

Paulus skryf in Romeine 5: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.”

Danksy Christus se geregtigheid, sy genoegdoening, deel God nou weer vrede uit, en ons mag dit in geloof aanneem.

Vrede met God beteken vrede in ons hart, vrede in ons gewete.

Daar hoef nou nie meer gevoelens van angs of skuld in ons hart, in ons gewete te wees nie.

Ons hoef nou nie meer bang vir God te wees nie.

Ons hoef nou nie meer bang vir die oordeelsdag te wees nie.

In Christus word ons regverdig verklaar.

Daar is geen rede meer om bekommerd te wees nie.

Om dit in Jesus se eie woorde te sê:

“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe ... nie. Kyk na die voëls van die hemel … Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Daarom moet julle jul nie kwel … nie. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:25-34)

Paulus herhaal hierdie gerusstelling van Christus in sy Filippensebrief: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Fil. 4:6-7)

Vrede is die afwesigheid van kwelling, van besorgd wees, van bekommerd wees.

God deel sy vrede uit.

Hierdie vrede is nie net ‘n lekker gevoel nie.

Dit is ‘n vaste vertroue in God se Vaderlike sorg, en ‘n vaste voorneme om nie op hol gejaag te word deur angsscenario’s nie.

Danksy Christus is daar naamlik nie meer angsscenario’s nie!

Die hele Skrif verseker ons hiervan.

 

Gemeente, ‘n lewe wat vervul is van hierdie vrede, wat God danksy Christus uitdeel, is ‘n lewe waarvan daar ‘n kragtige getuienis uitgaan.

So ‘n lewe is ‘n getuienis van die Evangelie.

Mense wat in tye van angs en onsekerheid rustig kan bly, hulle vrede in God vind, sulke mense staan uit, hulle val op.

Hulle Geestesvrugte van liefde, blydskap en vrede is nie afhanklik van eksterne omstandighede, of dat dit voor die wind gaan of nie.

Dit is ‘n innerlike vrede wat daar bly ook in tye van pyn, siekte, lyding en verlies.

Dit is ‘n innerlike vrede wat voortvloei uit die vertroue op die Here.

So om hierdie vrug van die Gees te koester, is nie dieselfde as om ‘n mooi gesig te trek aan die buitekant, terwyl jou hart binne-in jou onrustig bons nie.

Hierdie vrug van vrede het die Gees naamlik in jou hart self gelê.

Dit is die vrede wat die Vader uitgedeel het, en dit is die Seun wat hierdie vrede verdien het.

Ons besef dat dit aan ons gegee is, dat ons in eie krag en inspanning nie daardie vrede in ons lewe en in ons omstandighede sou kon gekry het nie.

Wat ‘n voorreg om dit te mag ervaar, veral in moeilike tye!

 

(Tema: Die vrug van vrede

  1. God het hierdie vrede gemaak en deel dit uit)

 

2. God roep op tot hierdie vrede.

Tot dusver het ons gesien dat God vrede gemaak het deur die kruis van Christus.

Dit is ‘n feit.

En dat God hierdie vrede uitdeel.

Dit is wat ons ervaar.

Maar vervolgens word ons opgeroep om met hierdie vrede in ons lewens te werk.

Dit is ‘n opdrag.

God roep ons op om in vrede met ander te lewe.

Om vredestigters te wees.

Omdat God die vrede herstel het tussen Hom en ons, en dit teen ‘n baie hoë prys, roep God ons as sy kinders nou ook op om in vrede met mekaar te lewe.

Vanweë ons sondige geaardheid is hierdie vrede egter nie iets wat vanself kom nie.

Dit is iets wat spesiale aandag moet kry, wat gekoester moet word, soos ‘n vrug wat besig is om te groei en ryp te word.

 

Neem byvoorbeeld die situasie in die gemeente te Rome, aan wie Paulus sy brief geskryf het.

In daardie stad het daar mense tot geloof in Christus gekom en deel van sy gemeente gewoord.

Onder hulle was daar Jode, maar daar was ook baie mense met ‘n volledig heidense afkoms.

Daar was kultureel gesproke, wat hulle lewenswyse betref, geweldige verskille tussen hierdie groepe.

Hulle was nou almal saam in dieselfde kerk.

Kort voor lank het daar wrywinge ontstaan.

Sommiges het enige vleis geëet, ander was ontsteld om dit van hulle medegemeentelede te sien.

Die verskille in kulturele en godsdienstige agtergronde het onenigheid en debatte veroorsaak.

Paulus bestee ‘n aansienlike deel van sy brief om dit aan te spreek.

Hy roep almal in die gemeente op om mekaar te aanvaar, om stryerye te voorkom.

Let op dat Paulus daarvan uitgaan dat daar altyd dinge gaan wees in enige gemeente waaroor daar verskil van mening gaan bestaan.

Ons sal nooit oor alles saamstem nie.

Die oplossing wat Paulus gee is nie dat ons oor alles altyd moet saamstem nie, maar dat ons mekaar moet aanvaar.

Hy skryf in Romeine 14: “neem hom aan [mens kan ook vertaal: aanvaar hom] wat swak is in die geloof ... Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.” (Rom 14:1-3)

Daar kan so maklik stryery en tweedrag ontstaan, want dit is nog die ‘default setting’, dit is wat nog normaal is vir ons ou sondige natuur.

Maar noudat ons die gawe van vrede van God ontvang het, nou word ons opgeroep om juis dit die botoon in ons lewe en in die gemeente te laat voer.

Vir die Christene van heidense komaf, wat hulleself as die sterkes beskou, beteken dit dat hulle nie die Joodse Christene moet verag, wat nog steeds gewetensbesware het teen die eet van alle vleis nie.

En vir die Joodse gelowiges beteken dit dat hulle die Christene van heidense oorsprong nie mag veroordeel nie, asof die roekeloos en nie streng genoeg sou wees nie.

Vir beide groepe roep Paulus op om veral na te jaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien (Rom 14:19).

Dit vanuit die besef hoe ‘n groot voorreg dit is dat elkeen van hulle deel mag wees van die gemeente!

Ons is almal deur dieselfde Here aangeneem.

Romeine 15:7: “Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God.”

In sy gemeente voeg Christus vir Homself ‘n nuwe volk saam, sowel uit Jode as heidene.

Die Evangelie maak ons een.

Dus as ek ander verwerp, of weier om saam met hulle in die kerk te sit, omdat hulle ‘n ander kultuur of taal of velkleur het, of ‘n ander godsdienstige agtergrond voordat hulle tot bekering gekom het, dan sê ek vir hulle:

God het jou dalk aangeneem, maar nie ek nie.

Christus heet jou dalk welkom, maar ons nie.

Dit kan natuurlik nie, as ons onsself navolgers van Christus noem.

 

Paulus herinner ons daaraan dat ons almal slawe van Christus is.

Een slaaf het nie die reg om ‘n ander slaaf te beoordeel nie.

Slegs die Meester het daardie reg.

Romeine 14:4: “Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.”

Dus skryf Paulus, as alle voedsel ‘n geskenk van God is, dan kan ons nie vir hulle oordeel wat vleis eet, terwyl ons persoonlik gewetensbesware daarteen het nie.

Maar wat vir ons almal belangrik is, is dat ons najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien (Rom 14:19).

As elkeen dit doen, dan sal daar vrede heers.

As jy vanuit die liefde die vrede najaag, sal jy jou vryheid in Christus nie op onsensitiewe wyse uitstal om ander daardeur aanstoot te gee nie.

Vanuit die liefde gemotiveer, veroorloof jy jouself dalk bietjie minder, sodat jy ander nie aanstoot gee nie.

Nou bedoel Paulus nie om te sê dat die hele gemeente net moet aanpas by die persoon wat die meeste gewetensbesware het, in Paulus se spraakgebruik, die een wat die ‘swakste’ is nie.

As dit die geval sou gewees het, dan sou die ‘swakste’ inderwaarheid die magtigste wees, omdat hy alles sal kan veto.

So werk dit ook nie in die gemeente nie.

Maar ieder en elk word opgeroep om meer en meer eenvormig met Christus te word.

Soos Paulus aan die Filippense geskryf het:
“Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” (Fil 2:3-5)

Christus het nie na sy eie belange omgesien nie.

As Hy dit sou gedoen het, sou daar geen vrede wees danksy sy kruisdood, wat die Vader kon uitdeel nie.

Laat hierdie gesindheid van Christus nou ook in sy gemeente heers!

Vrede tussen gelowiges beteken dat hulle mekaar aanvaar en dat hulle hard werk om in vrede met mekaar te lewe, ook as hulle nie oor alles saamstem nie.

Maar, as ons hierdie gesindheid nie deel maak van ons lewe nie, as ons behae daarin skep om aan te hou baklei en mekaar te veroordeel, dan het ons nie die Gees van Christus nie, dan maak ons ‘n bespotting daarvan om in die erediens wel saam te sing, dan beroof ons God van sy eer.

Vrede is nie net ‘n vryblywende gevoel nie.

Dit is ernstige sake.

Vrede is ‘n gawe en ‘n opgawe.

En daarom dat Paulus regtig baie keer daartoe oproep, let wel ‘n opdrag gee daartoe, ‘n bevel, ‘n imperatief:
“as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” – Romeine 12:18.

1 Korinthiërs 7:15, in verband met die huwelik: “Maar God het ons tot vrede geroep.”

1 Korinthiërs 14:33, in verband met die erediens: “want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede”.

2 Korinthiërs 13:11, in verband met onenigheid binne die kerk: “Verder, broeders … laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.”

Efesiërs 4:3: “Ek vermaan julle dan” om “ernstig” te “strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”

En Kolossense 3:15: “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.”

 

Geliefde gemeente, hierdie verse verklaar hulleself, hulle is nie vir misverstand vatbaar nie.

Laat elkeen van ons daaraan gehoor gee.

As jy in ‘n konflik betrokke is, los dit op.

Vermy om nog meer konflikte agter jou naam te kry.

Wees ook versigtig in jou uitsprake.

Vermy dinge wat maklik misverstand of verdeeldheid veroorsaak.

Wees vinnig om verskoning te vra, selfs al is jy nie die enigste een wat verkeerd was nie, selfs as jy dink die ander was meer verkeerd as jy.

Niemand van ons is volmaak nie.

Moenie oor elke dingetjie wat teen jou verkeerd gesê of gedoen word, ‘n bohaai maak nie.

Laat God toe om op sy tyd die waarheid te laat seëvier.

Paulus skryf byvoorbeeld aan die Korinthiërs: Dit is beter om onreg te lei, as om jou mede broeder of suster voor die regter te sleep.

En, onthou, Christus het nie om dowe neute vir ons instruksies gegee hoe om onreg en sondes onder mekaar uit te sorteer nie.

Maak gebruik van Christus se instruksies!

Moenie die bekende weg van Mattheüs 18 systap nie.

Gebruik dit, eerder te veel as te min:

“as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin” ensovoorts.

En, laaste maar nie die minste nie, vermy alle vorme van kwaadsprekery en skinder oor ander, veral oor mede-gemeentelede.

As daar een ding is wat die vrede kan skaad, dan is dit dit.

 

Ek sluit af met ‘n bekende gebed wat uit die kerkgeskiedenis tot ons gekom het:

Here, maak my ‘n instrument van u vrede;

waar daar haat is, laat ek liefde saai;

waar daar onreg gedoen is, vergewing;

waar daar twyfel is; geloof;

waar daar wanhoop is; hoop;

waar daar duisternis is, lig;

waar daar droefheid is, blydskap.

O Here God,

gee dat ek nie soseer soek om vertroos te word nie as om te troos;

om verstaan te word nie, as om te verstaan;

om bemin te word nie, as om lief te hê;

want dit is in om te gee dat ons ontvang;

dit is in om te vergewe, dat ons vergewe word;

dit is in om te sterf, dat ons gebore word vir die ewige lewe.

 

Gemeente, in Psalm 85 sing ons hoe heerlik hierdie vrede is wat God skenk:

“Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!

Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.

Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.

Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.”

Kom ons beaam nou die prediking met die sing van hierdie psalm.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 122:1,2

Wet

Ps 119:59

Gebed

Skriflesing: Romeine 14:13-15:13

Ps 34:6,8

Teks: Galasiërs 5:22 (vrede)

Preek

Ps 85:3,4

Gebed

Ps 128:4

Seën