Die offers wat vir die Here aangenaam is!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-03-08
Text: 
Kolossense 4:2-6
Reference: 
Geheim van my heilige lewe (6)
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons kom vandag aan die einde van die reeks preke oor Paulus se brief aan die gelowiges in Kolosse. Ons het hierdie reeks aangepak in die konteks van ons jaartema: die geheim van my heilige lewe. En herhaaldelik – miskien tot vervelens toe, sou u sê – het ek u gewys op Jesus Christus en sy werk – ons het al die volheid in Hom! Ons regverdiging én ons heiliging is slegs in Hom! En selfs in die praktiese, konkrete dele van hierdie brief – vanaf hoofstuk 3 – was die fokus steeds op Jesus Christus, met Wie ons onsself beklee en in Wie ons anders lyk as die wêreld om ons heen: in ons huwelike, in ons gesinne, en by die werk. By hierdie volmaakte werk van Jesus Christus in ons lewens hoef daar geen bydrae en geen offer van ons kant af te kom nie. Die volmaakte offer is eenmalig deur Christus volbring! Prys die Here vir sy werk!

Nogtans kom Paulus aan die einde van hierdie brief, in ons teks, om vir ons te wys dat daar tog offers is wat vir die Here aangenaam is – en ek hoop om in die res van die preek vir u aan te toon hoekom ek hier spesifiek van ‘offers’ praat. Want dit is juis die offer-tema wat die oënskynlike los oproepe in ons teks aan mekaar verbind. En dan gaan dit hier nie oor offers wat ons vir ons regverdiging of heiliging hoef te bring nie – dit het Christus reeds volmaak volbring. Maar dit gaan oor offers wat daarvan getuig dat ons volledig in afhanklikheid van Jesus Christus lewe, en dat sy volheid ons lewens volmaak en laat oorloop. Ons wil vanoggend, as afsluiting van hierdie reeks, saam na hierdie offers kyk.

Tema: Die offers wat vir die Here aangenaam is! Daar is drie offers wat ek een vir een met u wil behandel, en ek gaan by elkeen van hierdie offers begin met ‘n gedeelte uit die Skrif om vir u te wys hoekom ons hier met ‘n offer te make het...

 

1. In Psalm 141 vind ons Dawid op sy knieë voor die Here: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer” (Ps. 141:1-2). En in Openbaring 5 lees ons iets soortgelyks: in die hande van die vier-en-twintig ouderlinge sien Johannes goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is (Op. 5:8; sien ook Op. 8:3-4). Sowel Dawid as Johannes noem gebed ‘n offer aan die Here. Net soos wat, in die tabernakel of die tempel, die rokie van die brandende wierook tot agter die voorhangsel en tot by die ark – die troon van God! – getrek het, en só ‘n heerlike geur vir die Vader in die hemel was, so is ook die gebede van sy volk! Die Here geniet van hierdie offer!

Nou, dit is presies dieselfde offer – dieselfde heerlike geur – waartoe Paulus die Kolossense oproep aan die einde van sy brief: “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging” (Kol. 4:2). Reg aan die begin van hierdie brief het Paulus die voorbeeld gestel deur self hierdie offer aan die Here te bring: “Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid” (Kol. 1:3). En nou roep hy die Kolossense op om hom hierin na te volg. Want daar is vir die Here geen aangenamer ervaring – geen aangenamer geur! – as dat sy kinders in gebed met Hom praat nie. Net soos wat ons Here Jesus die gewoonte gehad het om gereeld in gebed met sy Vader te praat, so mag ook ons wat ons met Hom beklee het die Vader in ons gebede opsoek. Dit is voorwaar ‘n offer wat vir die Here aangenaam is, sodanig dat ons belydenis in Sondag 45 van die gebed praat as die vernaamste – die belangrikste – deel van die dankbaarheid. Jy kan jou dankbaarheid en liefde en verwondering teenoor die Here nie beter wys as juis deur jou gebede nie!

 

Paulus noem drie kenmerke van die gebed van die gelowige:

In die eerste plek is die gebed volhardend. Of in effens ander woorde wat ons in 1 Thessalonicense 5:17 vind: Bid sonder ophou! Nou, ons almal verstaan dat Paulus nie bedoel dat ons 24 uur, elke minuut van die dag moet bid nie. Maar dit is soos wanneer ons van iemand sê: hy is altyd aan die sokker speel, of sy gesels onophoudelik met haar kêrel – dan bedoel ons nie dat dit al is wat hierdie mense doen nie. Maar dan bedoel ons dat dít is waarmee hierdie persone hulle graag besig hou – dit is hulle passie, dit het hulle hart. Net so is dit ook met ons gebede – die gesprek met die Here behoort iets te wees wat ons hart het. Want ons wil graag die verhouding met Christus en met die Vader onderhou, net soos wat enige verhouding onderhoud verg. Enige verhouding sonder kontak en kommunikasie loop uiteindelik dood. Volhard daarom in gebed! Maak tyd daarvoor, gee dit ‘n vaste plek in jou dagboek, maar gee dit veral ook ‘n spontane plek in jou lewe.

Vervolgens roep Paulus die gelowiges op om al biddende te waak – ja, die teëstander ken die krag van die gebed. En hy sal alles in die stryd werp om ons aandag af te lei na onbelangrike dinge. Die satan weet dat as jy volhard in die gebed, jou verhouding met die Here sal groei; en dat jy al hoe meer die dinge sal soek wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit (Kol. 3:1-2); en dat jy jouself hoe langer hoe meer met Christus sal beklee (Kol. 3:10). Die satan weet dit. Hy werp daarom alles in die stryd om ons juis op daardie strategiese plek aan te val – ons gebedslewe. Hy maak ons dagboeke vol sodat ons nie tyd het nie, hy maak ons harte lou sodat ons nie lus het nie, hy gooi ons prioriteite deurmekaar sodat ons dit onbelangriker ag as ander dinge, hy laat ons twyfel aan die krag van die gebed sodat ons eerder ons hulp êrens anders soek. Waak daarom teen die aanvalle van die teëstander, die satan. En hoe waak ons? Juis deur te bid!

En ‘n laaste kenmerk van die gebed is dankbaarheid (of ‘danksegging’, soos Paulus dit noem). Ons mag immers weet dat God alles in sy hand het, dat Jesus Christus die Oorwinnaar is, en dat die Heilige Gees meer as genoeg genade uitdeel om te kan volhard. Dit is uiteindelik nie ons stryd nie, maar God se stryd. Moet daarom nie vergeet om raak te sien wat God werk nie, en moenie nalaat om Hom daarvoor te dank nie.

 

Broers en susters, om in Christus te wees, om met Hom bekleed te wees en met Hom gemeenskap te hê, is ‘n heerlike werklikheid vir die gelowige. Maar daardie intieme band wil beoefen word – dit vra kommunikasie, dit vra gesprek. Dit vra gebed! Bring aan die Here hierdie offer – ek mag u verseker: dit is vir Hom soos heerlike reukwerk, Hy geniet daarvan!

In die begin van vers 3 vra Paulus ten slotte dat die Kolossense ook vir hom en sy medewerkers sal bid – waar hy in die begin van die brief vir hulle gebid het, vra hy dat hulle nou dieselfde vir hom sal doen. En daarmee maak hy tegelykertyd die oorgang na die tweede offer. Voordat ons verder gaan om na hierdie tweede offer te kyk, kom ons sing eers uit Ps. 141:1 en 2 van die offer van ons gebed.

Kom ons kyk nou na die tweede offer...

 

2. Net soos by die eerste offer, wil ek ook nou eers ‘n ander Skrifgedeelte aanhaal om te wys waarom ek hier van ‘n ‘tweede offer’ praat. Ek lees vir u uit Hebreërs 13:15: “Laat ons dan gedurig deur Hom [dit is: deur Christus] aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Die vrug van die lippe wat sy Naam bely – dus, die mond wat Christus verkondig en bely, is vir die Here soos ‘n offer van lof. Nou, dit is presies hierdie offer wat Paulus (in verse 3 en 4) graag aan die Here wil bring, maak nie saak of hy op daardie oomblik in boeie in die gevangenis sit of nie: Hy wil die Naam van die Here bely, hy wil die evangelie verkondig.

Paulus noem die evangelie in ons teks “die verborgenheid van Christus”. Oor daardie verborgenheid – daardie geheim – het hy al eerder in hierdie brief gepraat. Hy sê in hoofstuk 1:26 en 27 dat God die verborgenheid onder die heidene geopenbaar het, en dan vervolg hy: “dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons...” Die verborgenheid, die geheim, is dus Christus! Christus – en spesifiek die feit dat verlossing slegs in Hom te vinde is, ook vir die heidene, sonder dat hulle die Ou Testamentiese wet daarvoor hoef te onderhou – dít is die inhoud van Paulus se prediking aan die heidene. En die feit dat Christus gekom het en dat daarmee die geheim geopenbaar is, maak dit nie minder ‘n geheim nie. Ook vandag nog is Christus en sy werk waardeur Jode en heidene gered word, sonder dat hulle iets van hulle eie werke hoef toe te voeg, ‘n verborgenheid (‘n geheim). ‘n Geheim wat vra om verkondig te word! Elke keer wanneer die evangelie gebring word, word hierdie geheim nogmaals geopenbaar, bekend gemaak.

En juis vir hierdie doel vra Paulus vir die gebed van die Kolossense: bid vir my, dat ek die verborgenheid openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek. Selfs in sy boeie word Paulus gedryf om die verborgenheid openbaar te maak, om Jesus Christus te verkondig. En ons weet dat dit presies is wat hy gedoen het – in sy brief aan die Filippense skryf Paulus dat sy boeie op bevordering van die evangelie uitgeloop het, want daardeur kon hy Christus onder die hele keiserlike lyfwag verkondig (Fil. 1:12-14). Paulus se boeie maak hom nie monddood nie; nee, selfs in die gevangenis kan hy aan God die lofoffer bring – die vrug van sy lipppe wat die Naam van Jesus Christus bely.

 

En dit, broers en susters, is ‘n lofoffer wat op alle gelowiges se lippe behoort te klink! Nee, nie almal op dieselfde manier as Paulus nie. Nie almal van ons is bestem om as apostel van die heidene die geheim bekend te maak nie. Maar bíd ten minste vir die openbaring van hierdie geheim aan mense wat dit nog nie ken nie! En bíd vir diegene wat daagliks daarin arbeid! Bid vir ons sendelinge – di. Boersma, Breytenbach, Mnisi (wat volgende week kom preek), Magagula, Matlaela, Kgatle. Bid dat die Here die deur vir die Woord vir hulle sal oopmaak – dit is God wat die prediking by mense ingang moet laat vind. En as Hy nie die deur vir die Woord oopmaak nie, dan praat ons sendelinge teen ‘n muur vas. Bid vir daardie lidmate wat by Genadeplaas die evangelie bring – dat hulle die verborgenheid openbaar sal maak soos hulle behoort te spreek. Bid vir daardie lidmate wat by die Crossroads gevangenis-bediening betrokke is – hoe belangrik is dat juis daar ‘n deur, ‘n tronkdeur, vir hulle geopen sal word. Bid vir ons as predikante – dat ons die geheim van Christus met vrymoedigheid sal bring: vanaf die kansel, by die katkisasie-klas, in die huise, en waar ons ook al die geleentheid kry. Bid, broers en susters, dat die vrug van die lippe wat die Naam van die Here bely oral mag klink!

Maar ook u, ook jy word geroep om aan die Here daardie lofoffer te bring. Nee, nie almal voltyds, soos predikante en sendelinge nie. Ook nie almal is geroep om elke week Genadeplaas toe te gaan of met gevangenes korrespondensie te onderhou nie. Maar tog word elkeen van ons, deur ons verbintenis met Jesus Christus en ons deur ons liefde en dankbaarheid vir Jesus Christus, daartoe gebring (dit kan nie anders nie!) om in die gewone lewe van elke dag – by die werk, by die skool, op die sportveld, waar ons pad ook al gaan – die Naam van die Here te bely. Dis waar, die Here ruik graag die heerlike geur van ons gebede vir die verbreiding van die evangelie, maar Hy hóór ook graag die lofoffer van ons lippe wanneer ons sy Naam bely. Ons mag ons lewe – en onthou: ons lewe is Christus! – deel met mense wat Hom nie ken nie. Doen dit met dankbaarheid en vrymoedigheid!

Kom ons sing hiervan uit Psalm 9:7 en 10. En dan die derde offer...

 

3. Ek begin weer met ‘n aanhaling uit ‘n ander Skrifgedeelte – net om te wys waarom ek ook nou weer, wanneer ons kom by verse 5 en 6, praat van ‘n offer. Hierdie keer lees ek vir u uit Levitikus 2:13: “En jy moet al jou spysoffers met sout berei, en jy mag die sout van die verbond van jou God by jou spysoffer nie laat ontbreek nie; by al jou offers moet jy sout bring.” In teenstelling tot suurdeeg, wat as ‘n begin van bederwing beskou is, was sout juis bederfwerend. En daarom moes suurdeeg ver van alle offers weggehou word, terwyl sout juis ‘n vaste bestanddeel van alle offers was. Dit is in hierdie lyn dat ons Jesus se woorde moet verstaan wanneer Hy sy dissipels en ons die sout van die aarde noem (Mt. 5:13). In hierdie wêreld is Christene diegene wat, soos sout, bederfwerend werk en die egte smaak van die lewe na vore bring. Gesoute Christene weet waaroor die lewe werklik gaan, en hulle kan dit ook aan ander uitleef, in dade en in woorde.

Nou, dit is presies hierdie beeld van sout wat Paulus in verse 5 en 6 gebruik: “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit. Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” In hierdie verse gaan dit dus oor die offer van ons omgang – in dade en in woorde – met diegene wat buite is. Die ongelowiges, dus. Hoe moet ons as Christene teenoor hulle optree en met hulle praat? Paulus sê: wees wys teenoor hulle. Wysheid in hierdie konteks is die bereidheid om alles vir die ander persoon te wil wees om hom of haar vir Christus te wen, sonder om daarby die waarheid te verloën. Paulus self stel vir ons die voorbeeld wanneer hy in 1 Korinthiërs 9 sê dat hy vir die Jode soos ‘n Jood geword het om die Jode te wen; vir dié wat sonder die wet is, het hy soos een sonder die wet geword; vir die swakke het hy soos ‘n swakke geword; vir almal het hy alles geword om in alle gevalle sommige te red (1 Kor. 9:20-22). Wat ‘n pragtige voorbeeld, broers en susters, vir ons om na te volg in ons daaglikse omgang met ongelowiges wat op ons pad kom. Dink na oor wat dit beteken om vir die Afrikaner ‘n Afrikaner te wees, vir die bedelaar ‘n bedelaar te wees, vir die Afrika-mens ‘n Afrika-mens te wees. As ‘n dankbare offer aan die Here!

Om die wysheid nog verder te beklemtoon, gebruik Paulus die beeld van ‘n koopman, ‘n handelaar op die mark. ‘n goeie Handelaar weet presies hoe en wanneer om na vore te kom; hy speel in op die behoeftes van sy kliënt; hy kies die regte oomblik. En hyy weet ook hoe om soms in wysheid eenvoudig stil te bly. Net so moet ons weet hoe en wanneer om die ongelowiges te benader om die meeste impak op hulle te kan hê.

 

Verder moet die gelowige ook aan sy praatstyl (sy woorde) herkenbaar wees – nie net wanneer hy of sy die evangelie uitdra nie, maar te alle tye, dus ook in die alledaagse gesprekke. Daardie spreke moet altyd aangenaam wees. In Grieks staan daar letterlik: laat julle woord altyd ‘in genade’ wees. Ons het self soveel genade in Christus ontvang – laat daardie genade dan ook sigbaar word in ons woorde tot dié wat buite is. Laat ons nie hooghartig of afstandelik praat nie, maar aangenaam, vriendelik. Laat ons woorde met sout besprinkel wees – ons kommunikasie met dié wat buite is, hoef dus glad nie smaakloos te wees nie, dit hoef nie net altyd oor koetjies en kalfies te gaan nie, ons hoef nie net mooi dinge te sê om ander beter te laat voel nie. Inteendeel, ons gesprekke mag inhoud hê; dit kan maar pittige gesprekke wees; dit mag gesprekke wees wat gaan oor belangrike, wesenlike sake. Maar wees daarin altyd bereid om na mense te luister – luister goed wat hulle te sê het, luister na hulle vrae, hulle diepste lewensvrae, sodat jy kan weet hoe jy elkeen moet antwoord.  

In ons woorde en in ons dade moet ons dus soek na die hart van die naaste wat nie in Christus glo nie. Ons staan soms te min daarby stil dat daardie naaste deur die Here op ons pad geplaas word om met ons woorde en dade die liefde van Christus te wys. Laat ons baie bewus wees hiervan wanneer ons môre weer in hierdie wêreld uitgaan om ons dagtaak te verrig. Bring aan die naaste die offer van wyse dade en gesoute woorde.

-----------------

Gemeente, hier het ons dus, reg aan die einde van die brief aan die Kolossense, net voor die groeteboodskap waarmee Paulus afsluit, drie offers wat kinders van die Here mag bring. Drie offers wat vir die Here aangenaam is. Die eerste is gebed – daarmee wys ons ons totale afhanklikheid van die Here, asook ons begeerte om met Hom, aan wie ons verbonde is, te kommunikeer. Die tweede offer is belydenis, getuienis – daarmee wys ons dat ons harte vol is van die heerlike boodskap van verlossing, wat ons graag met ander deel. En die derde offer is wyse omgang en gesoute gesprekke met die ongelowiges – daarmee wys ons dat ons bereid is om hulle op alle moontlike maniere te soek en te wen vir Jesus Christus, met Wie ons self so ‘n heerlike verhouding het.

Broers en susters, die gedagte is nie om reg aan die einde van hierdie brief – nadat ons in die voorafgaande 5 preke voortdurend van Jesus Christus en sy allesomvattende werk gehoor het, nou weer ‘n swaar las op jou skouers te kom sit nie. Nee, die oproep is dié van ons Here Jesus self: “Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele, want my juk is sag en my las is lig.” Christus haal die las van selfwerksaamheid van ons skouers af, en Hy kom plaas sy sagte en ligte juk op ons. As ons in die geloof met Christus verbonde is, as Hy ons lewe is, dan begin daar – met val en opstaan, ek sê regtig nie dat dit elke dag ewe goed gaan nie – offers van dankbaarheid ons lewe vul: gebed, getuienis, en ‘n gesoute lewenswandel. En as ons daardie offers nog nie sien soos wat ons sou wou nie – en soos wat die Here sou wou nie! – oppas dan om dadelik weer aan die werk te spring en nóg harder en nóg beter probeer. Dit sou wees soos om ‘n kar, waarvan jy weet dat dit sonder petrol is, nogtans aan die brand te probeer stoot. Nee, gaan na Christus: “Kom na My, almal wat vermoeid en belas is.” Ontvang by Hom alles wat jy nodig het. En mag die Here dan aan al jou offers dink; en die offerbrand wat voor Hom geur, mag Hy dit met welgevalle aanskou. Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 108:1, 2 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 86:3, 6 en 8

Gebed

Lees: Kolossense 4:2-18

Teks: Kolossense 4:2-6

Preek

  • Ná 1ste punt: Ps. 141:1 en 2
  • Ná 2de punt: ps. 9:7 en 10
  • Amenlied Ps. 20:3-5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 116:7, 9 en 10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen