Die Heilige Gees werk die vrug van blydskap

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-03-08
Text: 
Galasiërs 5:22 (blydskap)
Preek Inhoud: 

Die tema wat ons hierdie jaar as gemeente behandel, en waarin ons wil groei, is om diakonale gemeente te wees.

Die woord diakonaal beteken dienend.

Ons wil groei om ‘n meer dienende gemeente te wees.

 

In hierdie verband skenk ons in die prediking ook aandag aan die vrugte van die Gees.

Twee weke gelede het ons na die vrug van liefde gekyk.

Vandag gaan ons verder, vandag fokus ons op blydskap.

In reaksie op my vorige preek oor die liefde, het sommige gemeentelede my gevra:

Hoe werk dit nou?

In ons teks lees ons “vrug van die Gees” in die enkelvoud, maar dan staan daar vervolgens verskillende dinge hierdie vers: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid ensovoorts.

En dan het ek laas ook al genoem dat hierdie lys nog nie volledig is nie.

Ook iets soos gasvryheid is ‘n vrug van die Gees.

En verder noem Paulus in Efesiërs 5:9 ook nog goedheid, geregtigheid en waarheid as “vrug van die Gees”.

Hoe moet mens dit verstaan?

Is dit een groot vrug met verskillende kompartimente?

Dit mag dalk help as mens besef dat die Griekse woord vir vrug, as dit in die enkelvoud staan, ook oes kan beteken.

Of dink aan die Engelse woord ‘harvest’.

Die Heilige Gees produseer ‘n ryke oes in ons lewe.

Hierdie oes is nie net ryk nie, dit is ook gevarieerd.

Paulus skryf in 1 Korinthiërs 12:13 dat ons deurdrenk is met die Heilige Gees.

Dis soos wanneer indringende reën op jou tuin geval het.

Jou hele tuin is deurdrenk met reënwater.

Dis nie soos ‘n sproeiertjie wat hier en daar nat maak, terwyl die res droog bly nie.

Alles word deurdrenk.

Die gevolg van al daardie reën sal wees dat al die plante van jou tuin daarna gaan uitspruit, groei, blom en vrug dra.

So werk dit ook, as die Gees die tuin van ons lewe deurdrenk, dan kom al hierdie pragtige vrugte op.

Dit is die oes wat sy deurdrenking oplewer.

En dan, net vir die duidelikheid, is dit nie so dat ons kan ‘pick and choose’ watter vrugte ons wil dra nie.

As die Gees ons lewe deurdrenk, dan sal al hierdie vrugte opkom in die tuin van ons lewe.

Natuurlik is dit ‘n feit, dat die vrug van selfbeheersing in een tuin makliker gaan vrug dra, terwyl dit in ‘n ander tuin meer aandag gaan benodig.

In die een tuin groei gasvryheid weelderig, in ‘n ander tuin kort dit bietjie ekstra aandag.

Maar niemand van ons kan sê: ek spesialiseer net in een vrug en stel nie in die ander belang nie.

 

Dieselfde geld ook vir die vrug waarna ons vandag kyk: blydskap.

Daar is mense met ‘n blye geaardheid.

Daar is mense wat op ‘n kilometer afstand al nors lyk.

Tog is hierdie vrug van die Gees, blydskap, nie iets wat net by hulle groei wat optimisties van geaardheid is nie.

Blydskap is ‘n vrug van die Gees wat by alle karaktertipes voorkom..

En in vandag se preek gaan ons kyk hoe dit moontlik is.

Ons gaan kyk hoe die Heilige Gees die blydskap veroorsaak in ons lewens.

Ons gaan let op vier maniere hoe die Heilige Gees blydskap in ons lewe laat posvat, ja blydskap in ons lewens die botoon laat voer!

 

Tema: Die Heilige Gees werk die vrug van blydskap

 

Hy doen dit deur:

1 aan ons die geloof te gee

2 ons deel te maak van sy familie

3 ons ‘n toekoms te gee

4 ons te laat deel in sy fees

 

Hierdie vier dinge, wat die Gees ons gee, maak ons bly.

Ons gaan na elkeen van hulle kyk.

 

  1. Die Heilige Gees werk die vrug van blydskap deur ons die geloof te gee

Om te glo in die Bybel is nie om enigiets te glo nie, maar is altyd verbonde daaraan om spesifiek die Evangelie te glo.

En Evangelie beteken blye boodskap.

‘n Boodskap wat dus blydskap bring!

Die Evangelie is die beste nuus wat daar op aarde bestaan.

En dus is daar geen groter blydskap as om daardie nuus te glo nie.

Hoe is dit moontlik om nie bly te wees, as mens hierdie nuus ontvang het nie?

Hierdie goeie nuus is natuurlik dat Christus deur sy dood en opstanding die oorwinning behaal het oor die sonde, oor die dood, oor die Satan en alle bose magte.

Daar is min dinge wat blydskap so kan wegneem as die dood van ‘n geliefde.

Die geloof in die Evangelie van Christus se opstanding dra egter die vrug van blydskap.

En dit is ‘n vrug wat selfs dan nie wegraak nie.

Die blydskap in die geloof is ‘n vrug wat ook daar is, wanneer gelowiges om ‘n oop graf staan.

Die blydskap in die geloof dra mens deur sulke pynlike tye heen.

Oor hierdie blydskap wat steeds bly ook in moeilike omstandighede, sing Habakuk in sy bekende lied:

“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Hab. 3:17-18)

Ek sal bly wees in die HERE!

Jesus het sy dissipels opgedra om bly te wees as mense hulle beledig en vervolg en valslik kwaad teen hulle spreek (Matt. 5:11-12).

Dit mag na ‘n onmoontlike opdrag klink.

Maar ons sien later dat die dissipels inderdaad hierdie vrug gedra het!

In Handelinge 5 lees ons dat hulle bly was dat hulle waardig geag was om vir Christus se Naam oneer te ly (Hand 5:41).

En Paulus en Silas het selfs terwyl hulle in die tronk was, lofliedere van blydskap gesing! (Hand. 16:25)

 

So is blydskap dus ‘n vrug van die Gees, wat voortspruit uit die geloof in die Evangelie.

Wat Paulus in ons teks noem, is nie iets wat hy self uitgedink het nie.

Paulus volg bloot sy Heiland se onderrig op die voet.

Christus wil dat sy dissipels blydskap ervaar.

“Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.” (Joh 15:11)

Ja Christus se koninkryk is ‘n saak van blydskap!

Ons verwag die volle werkliking van sy koninkryk op die jongste dag.

Maar in sy kerk ervaar ons al ‘n voorsmaak van daardie blydskap.

Ons verwag sy koninkryk in geloof.

Die “koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” (Rom 14:17)

En in Romeine 15: “… mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap …” (Rom 15:13)

Hierdie blydskap wat ‘n vrug van die Gees is, is nie net ‘n emosie, ‘n gelukkige gevoel nie.

Dit is ‘n soort blydskap wat onskokbaar is.

Dit is meer as net ‘n emosie.

Dit deurtrek ons hele wese!

Ja die geloof maak ons bly!

 

2. Die Heilige Gees werk die vrug van blydskap deur ons deel te maak van sy familie

Om ‘n familie te hê, is ‘n groot bron van vreugde.

Mense wat ‘n man, vrou, kinders, kleinkinders, ouers, oupas en oumas het, besef lank nie altyd hoe ‘n groot seën dit is nie.

Mense wat nie familie het nie, voel alleen op die wêreld.

Hoewel daar meer as 7 biljoen mense op die wêreld is, is daar baie van hulle wat alleen en eensaam voel, soseer dat dit al hulle lewensvreugde ontneem.

Nou in die Skrif leer ons dat eensaamheid vreemd is aan God.

Ook in in sy verbond wat Hy gesluit het, is eensaamheid wesensvreemd.

Verbond en eensaamheid is antonieme.

Waar God se verbond in die Ou Testament nog meer beperk was, is dit in die Nuwe Testament nie meer so nie.

Hoeveel keer staan daar nie in die Nuwe Testament dat die deur nou ook vir die heidene oopstaan.

En dit is ‘n rede tot groot blydskap, soos Paulus skryf in Romeine 15:10: “Verbly julle, o nasies, saam met sy volk.”

Ja ook gelowiges uit die heidene word voortaan ingesluit in God se familie.

Hulle, gewese heidene, was voorheen sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef. 2:12).

Hulle het nie gedeel in die verbondsbeloftes wat God aan Israel in die ou verbond gemaak het nie.

Maar nou het dinge ten goede verander.

Paulus skryf: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.” (Ef 2:13)

“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.” (Ef 2:19)

Wat ‘n pragtige uitdrukking: huisgenote van God!

Familie van God!

Wat ‘n voorreg.

Wat ‘n bron van groot blydskap!

 

Soos ek genoem het, eensaamheid is ‘n geweldige groot probleem op aarde.

Daar is miljoenestede in China, Japan, Europa, Amerika, en ook in ons land, waar mense naby mekaar woon, dikwels bo op mekaar in groot woonstelblokke, maar tog ken hulle nie vir mekaar nie, praat hulle nooit met mekaar nie, stel hulle nie belang in mekaar nie, groet hulle nie vir mekaar nie.

Wat ‘n voorreg dat ons as ‘n familie elke Sondag bymekaar mag kom.

Hier groet ons mekaar.

Hier voel ons verbonde as ons saam sing, en saam bid.

Hier stel ons belang in mekaar, as ons na die diens ‘n koppie koffie of tee drink.

Gemeente, om ‘n familie te wees, is ‘n rykdom, wat ons dikwels nie besef nie.

Baie van ons kom uit groot gesinne, en ons dink dit is normaal.

Ons het nie ‘n benul wat ‘n lewe sonder familie, sonder geselligheid is nie.

Maar vra bietjie vir hulle onder ons wat alleenstaande is, wat op hulleself bly.

Ja familie is ‘n rede tot groot blydskap.

Die Heilige Gees verbind ons tot een familie, en die gevolg, die vrug is blydskap!

Want ons is deel van die grootste familie op aarde, en tewens die oudste familie op aarde!

Nou soos dit by elke vrug van die Gees werk, dit is sowel ‘n gawe as ‘n opdrag.

Paulus skryf in 1 Korinthiërs 12: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.” (1Kor. 12:13)

Die feit dat ons ‘n gemeenskap van heiliges is, is ‘n geskenk van die Gees.

En noudat ons dit is, is die opdrag om dit ook hande en voete te gee.

Ons is familie, dus ons sal sal mekaar nou ook as familie moet begin behandel – verstaan u?

‘n Familie groet mekaar, help mekaar, is saam bly, is saam verdrietig, ensovoorts.

So behoort ons met mekaar as lidmate in Maranata om te gaan, en ook met ons Familie in Pretoria gemeente, en in die Kandelaar – let wel ek praat nou steeds oor Familie met ‘n hoofletter, en met ons Familie in Mamelodi, en in Soshanguve, en in Nellmapius.

Dit is wat dit beteken om diakonale gemeente te wees, om mekaar te dien as lede van dieselfde familie.

 

3. Die Heilige Gees werk die vrug van blydskap deur ons ‘n toekoms gee

Een van die dinge wat ‘n groot domper op mense plaas, is al die doemscenario’s oor die toekoms.

Ons is hier in Suid-Afrika welbekend met doemscenario’s.

Sommige instansies en veral koerante floreer op die feit dat mense graag slegte nuus hoor.

Inderdaad, ‘n mens kan ‘n ongesonde verslawing kry aan die heeltyd net slegte dinge wil hoor.

En nie net hier in Suid-Afrika nie, wêreldwyd sirkuleer daar verskeie doemscenario’s.

Veral as dit gaan oor byvoorbeeld die opwarming van die aarde en klimaatverandering.

En dit is inderdaad nie iets wat mens bly maak nie.

Nou is die Skrif nie blind vir hierdie realiteite nie.

Inteendeel, die Skrif se diagnose is nog veel konfronterender.

Daar rus ‘n vloek op hierdie aarde, as gevolg van die sonde van die mens.

Die aarde sug en verkeer in barensnood.

Die aarde is gefrusteerd.

Die aarde is geskep met die doel om God te loof en prys (Rom. 8:20).

Maar die mens maak dit vir die skepping al hoe moeiliker om dit te doen.

 

Maar gelukkig is dit nie al wat die Skrif sê nie.

Ons vind in die Skrif ook die belofte dat die vloek in die toekoms weggeneem gaan word.

Openbaring 22:3: “En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie”!

En so omvat Christus se verlossingsplan nie net ons siele nie, maar hierdie hele aarde.

Ons, saam met die hele skepping, sal herskep word!

Dit is ons toekomstige hoop!

En dit is ‘n rede vir blydskap!

 

Ook weer hier, gemeente, werk die Gees die vrug van blydskap.

Hierdie vrug groei by die besef watter boodskap die Evangelie vir die toekoms het.

So werk dit nou eenmaal: Om na iets wat baie mooi is uit te sien, dit maak ons bly!

Om na so iets toe te lewe, gee blydskap!

Ons kan met so ‘n houding lewe.

Hierdie aarde behoort aan Christus.

Ook Suid-Afrika behoort aan Christus.

Christus het weer ‘n toekoms teruggegee aan hierdie land.

En aan die hele aarde.

Daarom maak dit sin om met blydskap jou dagtaak te verrig.

Dit maak sin om te trou, dit maak sin om ‘n gesin te stig.

Dit maak sin om te belê in die toekoms van hierdie land, en in die toekoms van die aarde.

Die kwaad sal nie die laaste woord hê nie.

Daarom, “Laat die ... aarde juig; laat die see en sy volheid bruis. Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.” (Ps. 96:12-13)

Wat ‘n pragtige Psalm oor hoe die Heilige Gees blydskap bring.

Ek dink ook aan Psalm 98: “Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.”

Ja daar is ‘n oordeel op koms.

Dus is daar ‘n toekoms!

Dan sal dinge herstel, herskep word.

En daarom kan die hele skepping bly wees, omdat daar ‘n toekoms ís.

In sy Woord openbaar die Gees dat daar ‘n oordeelsdag gaan wees.

Dit is ‘n rede tot blydskap.

Net soos Suid-Afrika bly gaan wees wanneer die dag kom dat voormalige president Zuma in die hof gevonnis gaan word.

En wanneer daardie dag nie gaan aanbreek nie, is dit nie goeie nuus vir die land nie.

Die oordeelsdag is egter wel op pad, dit staan vas in die Skrif.

En dit is ‘n rede tot blydskap vir heel die Skepping.

En vir daardie mense in wie die Gees werk.

Ja die Heilige Gees werk die vrug van blydskap deur ons ‘n toekomsvooruitsig te gee, en nie net vir ons nie – vir die hele skepping.

 

4. Die Heilige Gees werk die vrug van blydskap deur ons te laat deel in sy fees

As daar een groep mense is wat weet hoe om fees te vier, is dit kinders.

Kinders kan van ‘n partytjie gate uit geniet saam met al die klasmaats, kinders is bly as nefies en niggies kom speel op ‘n familiefees, kinders geniet onbeskaamd van ‘n troufees, as hulle soveel kan eet as hulle wil.

Ja blydskap en feesvier hoort bymekaar.

Daar is dae waarop daar feesgevier moet word.

Daar is genoeg rede in die lewe om van tyd tot tyd uitbundig fees te vier.

In die Ou Testament het die HERE sy volk selfs beveel om fees te vier!

Hulle moes vrolik wees!

Vrolik, dis ‘n sinoniem vir blydskap.

Deuteronomium 16: “Jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.” (Deut. 16:11)

“Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies, want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.” (Deut. 16:15)

En dan sê die HERE vir sy volk: Julle “mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hande ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.” (Deut. 16:.17)

 

Die boodskap is helder en duidelik.

Eerstens, die HERE gee sy kinders rede om fees te vier.

En tweedens, hulle moet dan ook feesvier.

Feesvier in die Bybel was uiteraard iets anders as die Kanaänitiese dronkpartye, vol immoraliteit.

Die Bybel verbied nie die geniet van wyn nie, maar wel dronkenskap.

Die Bybel verbied nie die geniet van kos nie, wel vraatsug.

Die Bybel verbied nie humor nie, wel platvloersheid.

Ook is duidelik uit die Skrif dat feesvier nooit eksklusief is nie.

Dink aan die teks wat ek nounet uit Deuteronomium gelees het: jy, jou seun en doger, en ook jou slaaf en slavin, ook die wees en weduwee, selfs die vreemdeling moet saamvier.

Feesvier volgens die Bybel is inklusief.

Hierop het die Here Jesus ook baie klem gelê, naamlik dat as jy feesvier, jy nie net jou naaste vriende en familie uitnooi nie, maar ook hulle wat gewoonlik nie uitgenooi word nie, die armes, die verminktes, die kreupeles, die blindes – Lukas 14:13.

Laat dit ons feesvier kenmerk, as Christene, ook ons as gemeente, dat ons feesvier inklusief is!

Dit is eintlik wrang dat Christelike feesdae soos Kersfees en Paasfees vir alleenstaandes soms die eensaamste dae is.

Hier lê ook ‘n baie dringende diakonale opdrag vir ons: Ons feesvier op hierdie dae moet inklusief wees.

Dit moet ook die alleenstaandes en hulle sonder familie betrek!

Dit is ‘n vrug van die Gees, naamlik dat die hele gemeente blydskap ervaar, omdat die hele gemeente in die feesvieringe betrek word!

Geliefde broeders en susters, kom ons benut die geleentheid wat ons jaartema ons bied, naamlik om te sorg dat die blydskap wat die Gees werk inklusief is.

Die Gees laat ons deel in sy fees.

Dit is die fees van die bruilof van die Lam.

In Hom is al die feeste van die Ou Testament vervul.

Die Paasfees, die Pinksterfees, die Loofhuttefees.

Die Heilige Gees gee aan ons ‘n toekomsvooruitsig, nie net van ‘n fees wat sewe dae gaan duur nie, maar vir ewig!

 

Ek sluit af.

Volgens ons teks werk die Heilige Gees die vrug van blydskap.

Hierdie vrug is sterker as net ‘n emosie.

Selfs by ‘n oop graf raak hierdie blydskap nie weg nie.

Hierdie blydskap werk die Gees in ons deur ons die geloof te gee, deur ons ‘n deel te maak van sy familie, deur ons  die uitsig te gee op ‘n pragtige toekoms, en deur ons te laat deel in sy fees!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:5-7

Wet

Ps 5:2,4,10,11

Gebed

Skriflesing: Deuteronomium 16:1-17

Ps 81:1-4

Teks: Galasiërs 5:22 (blydskap)

Preek

Ps 98:2-4

Gebed

Kollekte

Ps 100:1-4

Seën