Die HERE bring Dawid by die afgrond van die dood

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria
Date: 
2020-03-01
Text: 
Psalm 30
Preek Inhoud: 

Het jy al ooit ‘n amper-dood ervaring gehad?

In Psalm 30 ontmoet ons vir Dawid, kort nadat hy ‘n amper-dood ervaring gehad het.

Hierdie psalm is die gevolg van sy amper-dood ervaring.

Die HERE het dit so gelei dat Dawid op die afgrond van die dood gestaan het, of soos ons hedendaagse uitdrukking sê, met een been in die graf.

Dawid beskryf dit in hierdie Psalm asof hy in ‘n diep donker put gegooi is, waar hy self op eie krag nooit sou kon uitkom nie.

Soms lei die HERE ons lewens so dat ons ‘n amper-dood ervaring het.

In sulke omstandighede gaan daar emosies deur jou liggaam, en kom daar gedagtes in jou kop, kry jy insigte wat jy anders onder normale omstandighede nooit sou gehad het nie.

Dit het die Heilige Gees behaag om hierdie byna dood-ervaring van Dawid, en wat dit aan hom gedoen het, in die Skrif op te neem.

In Psalm 30 beskryf hy watter gedagtes dit by hom losgemaak het, wat dit hom oor God geleer het.

Watter impak dit op die vervolg van sy lewe gehad het.

Watter geloftes daaruit voortgevloei het.

 

Tema: Die HERE bring Dawid by die afgrond van die dood

  • Die doel van Dawid se byna-doodservaring
  • Die uitkoms van Dawid se byna-doodservaring
  • Die uitkoms van Christus se werklike doodservaring

 

  • Die doel van Dawid se byna-doodservaring

Nou sê die opskrif bo hierdie Psalm, dat dit as ‘n lied bedoel was by die inwyding van die huis.

Met hierdie huis word Dawid se eie paleis bedoel, wat hy vir homself laat bou het.

Mens kan daaroor lees in 2 Samuel 5 en 1 Kronieke 14.

Ons ontmoet Dawid naamlik hier op die toppunt, in die krag van sy lewe.

Na baie jare van stryd en onenigheid, het hy uiteindelik sy koningskap gekonsolideer.

Alle twaalf stamme was aan hom onderdanig.

Hy het die burg Sion verower, en daar het hy nou sy heerskappy gevestig.

Van alle kante ontvang hy nou respek en onderdanigheid.

In sulke lewensomstandighede, as alles net voor die wind gaan, is dit so maklik vir ‘n mens om te begin dink dat jy altyd sal standhou, dat jy alle situasies sal kan bestuur, dat jy elke uitdaging te bowe sal kan kom, dat niks jou sal onderkry nie.

So het Dawid ook geblom van selfvertroue.

Nadat hy die belangrikste dinge vir sy onderdane, vir sy koninkryk gedoen het, het die tyd nou gekom om ook aan homself en sy familie te dink.

Hy laat vir homself ‘n indrukwekkende paleis bou.

En die datum vir die amptelike onthulling van die paleis was al by wyse van spreke vasgestel, toe slaan die noodlot toe.

Maar soos ons weet uit die Skrif, die noodlot bestaan nie.

Nee, wat toe gebeur is dat die HERE ineens, totaal onverwag, Dawid op die afgrond van die dood gebring het.

Hoekom sou die HERE dit wou doen?

Wel, daarop gee hierdie psalm antwoord.

In hierdie psalm verwoord Dawid wat hy uit hierdie episode van ‘n byna-doodervaring geleer het.

Maar goed, van die een op die ander dag het Dawid ineens doodsiek geword.

Almal in sy huishouding het gevrees vir sy lewe.

Hulle het as’t ware al rouklere, sak en as, begin aanttrek.

 

Broers en susters, ken u lewe nie ook sulke tye nie?

Dat dit so voor die wind gaan, dat jy bewus of dalk onbewus op jouself begin vertrou.

Jy het ‘n pragtige huis waar ander begerig na kyk.

Jou werk is suksesvol, jy kan goed vir jouself en jou gesin sorg, ja jy kan selfs ‘n luukse lewensstyl vir hulle waarborg.

Jy beskou jouself as danig suksesvol ...

Wel, gemeente, presies toe Dawid in ‘n soortgelyke situasie was, toe besluit die HERE dis tyd vir ‘n volgende ervaring in sy lewe.

‘n Byna-doodervaring!

Hoekom?

Omdat die HERE hom nie sy voorspoed gegun het nie?

Nee, omdat die HERE vir Dawid nog groter geluk op die oog gehad het!

Maar om daarby uit te kom, moes hy die wankelrige fondamente waarop Dawid sy paleis, sy lewenshuis begin bou het, eers wegneem.

Die HERE tref hom met ‘n siekte.

In vers 6 lyk dit of die skielike siekte soseer sy liggaam aangetas het, dat die mense gevrees het dat hy nie die volgende oggend sou haal nie.

Daardie nag het daar ‘n doodstryd plaasgevind.

Dokters en familie en hofhouding het daardie nag onafgebroke gepoog om die siekte in sy liggaam te breek.

En Dawid het in sy siel geworstel, daar waar hy beland het in die put van die dood.

En toe die volgende môre aanbreek en die besef begin deurbreek dat Dawid se toestand nie verder verslegter het nie, maar dat die siekte oor sy ergste is, het daar ‘n gejuig in die paleis opgegaan.

En soos nog nooit tevore het die besef by Dawid deurgedring hoeseer dit genade is dat hy mag lewe.

‘n Besef wat hy sonder hierdie amper-doodervaring nooit sou gehad het nie.

 

In die hewigste van die doodstryd het hy met God geworstel, met die bedoeling van God met sy lewe.

Hy het met God geredeneer.

Watter voordeel is daar in as ek nou gaan sterwe?

Sal my liggaam U uit die graf kan loof?

Inderdaad, as Dawid sou sterf, sou daar een stem minder op aarde wees om God te loof.

Ons weet uit die geheel van die Skrif dat die gelowiges se lof aan God nooit sal verstom nie, ook nie na hulle sterwe nie.

Maar Dawid worstel hier met God se plan vir sy lewe.

En God het inderdaad ‘n plan met sy lewe gehad.

Hierdie byna-doodervaring was egter onderdeel van daardie plan.

Die HERE was nog nie tevrede met hoe Dawid in sy lewe Hom geloof het nie.

Dit was nog maar ‘n oppervlakkige loof.

Dit was nog gemeng met ‘n stewige dosis vertroue op homself en sy eie insigte en sy eie prestasies in die lewe.

God wou Dawid se lof op ‘n hoër plan bring, en daarvoor was hierdie diep dal van doodskaduwee nodig.

 

(Tema: Die HERE bring Dawid by die afgrond van die dood

  • Die doel van Dawid se byna-doodservaring)

 

  • Die uitkoms van Dawid se byna-doodservaring

Gemeente, kan u in u eie lewe ook sulke oomblikke waarneem?

Dat die HERE jou deur ‘n diep dal lei, juis om jou lof op Hom te vermeerder, juis om jou vertroue op jouself en jou eie insigte en prestasies af te breek, juis om jou nog meer te laat besef hoeseer alles net genade is?

Het jy al deur ‘n ervaring van ‘n siekte gegaan, wat jou met een been in die graf gebring het?

Dat jou familie al begin nadink het hoe die lewe gaan wees as jy nie meer daar is nie?
Het jy as ‘n ander mens – ek bedoel geestelik – daaruit te voorskyn gekom, of is jy nog maar steeds dieselfde ou mens?

Of, het jy al deur ‘n ervaring gegaan dat God jou werk en inkomste van jou afgevat het?

Het jy al deur ‘n ervaring gegaan dat God ‘n geliefde uit jou lewe weggeneem het?

Die HERE het Dawid by die afgrond van die dood gebring, met die doel om iets in sy lewe reg te kry.

En God hét dit in Dawid se lewe reggekry!

Watter ongekende belydenis hoor ons nou naamlik uit sy mond.

Wat ‘n geloofsbelydenis!

Al laat Hy ons ‘n oomblik bewe, sy goedheid duur ons ganse lewe!

Dawid kon dit sing.

Hy was dood en doodsiek gewees.

Dawid kon dit sing.

Hy het vyande gehad, waarskynlik meer as elkeen van ons.

Dawid kon dit sing.

Hy moes ‘n eie seun na die graf dra.

So het die HERE hom by hierdie belydenis gebring.

Daar het intense worsteling aan voorafgegaan.

Hy het met die HERE geredeneer.

Hy het dinge vir die HERE en vir sy naaste gesê wat nie gesê moes geword het nie.

Maar die HERE se genade het geseëvier.

En so eindig die psalm met ‘n weergalose belydenis, ‘n belydenis waarmee ons ons lewe ook kan eindig:

U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans.

U het my roukleed uitgetrek, en ‘n vreugdekleed my aangetrek.

Ja u laat ons vir ‘n oomblik bewe, maar u goedheid is oneindig.

So leer hierdie psalm ons iets oor God se karakter.

Eerstens, ja, God se toorn is werklik.

En as God toelaat dat siekte en dood ons lewe vat, staan Hy volledig in sy reg.

God se toorn is tereg verskriklik, sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen (HK Sondag 4).

En Hy staan in sy reg as Hy hierdie sonde in tyd en ewigheid straf.

Ons verdien nie om ‘n lekker lewe op aarde te hê nie.

As ons lewe in die middel van ons dae afgesny word, kan niemand met sy vinger beskuldigend na God wys nie.

Want dit geld vir Dawid en ook vir elkeen van ons, net soos vir Adam en Eva, dat ons onder aanhitsing van die duiwel, moedswillig ongehoorsaam was en is.

En hierdie besef het die HERE Dawid bygebring, deur hierdie byna-doodervaring.

Maar nie net dit nie.

God sy dank, nie net dit nie.

Hierdie Psalm en so ook die res van die Skrif leer ons naamlik dat sy toorn ook begrens is.

En dat op sy toorn sy liefde en genade volg.

So openbaar die HERE Homself aan sy kinders: “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou, wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.” (Ex 34:6,7)

 

En gemeente, daar is slegs een rede hoekom God se toorn ‘n grens het, en hoekom Hy na Dawid se hulpgeroep geluister het, en dit is Christus.

God het al hier in die Ou Testament in gedagte gehou wat sy eie Seun eendag sou doen.

Christus het God se toorn ervaar, nie net - soos toe Dawid vir ‘n nag op die afgrond van die dood gebalanseer het nie, maar gedurende sy hele lewe op aarde, en veral aan die einde daarvan.

Christus het deur sy plaasvervangende lyde dit moontlik gemaak dat ons nou versoening met God kan bereik.

In Christus het God bewys dat Hy in sy hart nie wraaklustig is nie.

Dit is die Satan wat wraaklustig is, en hy probeer om van ons ook wraaklustige mense te maak.

Soos Dawid se vyande, sien vers 2, wat juis bly geword het toe hulle hoor dat Dawid waarskynlik op sy sterfbed lê.

Het u al sulke mense ontmoet, wat bly is as ander mense doodgaan?

Het u self al soms sulke gevoelens gehad, dat jy bly word oor ‘n ander se dood?

Dat jy leedvermaak kry, as jy hoor iemand is ongeneeslik siek?

Of dat jy oor watter teenslag wat jou naaste ook al tref, leedvermaak kry?

So is Satan besig om jou hart te probeer verower.

Dawid het sulke vyande gehad, wat soos hyena’s staan en wag het vir hom om dood te gaan, om sodanig te verswak dat hulle kon aanval.

Dit is die werkwyse van Satan.

Survival of the fittest.

Maar God sy dank, Hy gryp in.

Hy laat Satan net sover toe, Hy stel paal en perk aan sy wraaklus.

God se karakter is nie so nie.

Hy is nie wraakgierig nie.

En Hy wil ook nie dat sy kinders so is na hulle naaste toe nie.

Uit ongekende genade het Hy ‘n heilsplan beraam.

Hulle wie sy vyande was, het Hy met liefde benader.

En al het Hy alle rede gehad om Dawid se lewe net daar en dan te beëindig, tog het Hy redes in Homself gevind om dit nie te doen nie.

Hy het nog ander planne met Dawid se lewe gehad.

Deur sy genade het Hy gesorg dat die lof uit Dawid se lewe verdiep en nog veel intenser word.

Deur sy byna-doodervaring het Dawid die ware doel van die lewe herontdek.

Die lewe is nie primêr om suksesvol te wees nie.

Die lewe is nie primêr om ryk te word nie.

Die lewe is nie om ‘n suksesvolle besigheid vir die nageslag na te laat nie.

Die lewe is nie om allerlei onderskeidings van instansies op aarde te verwerf nie.

Maar die primêre doel van die lewe is om God te loof en Hom te geniet (Westminster Belydenis vraag 1).

Ons doel is om God reg te ken, Hom lief te hê, en ewig met Hom te lewe om Hom te loof en prys (Heidelbergse Kategismus Sondag 3).

Dawid se byna-doodervaring het hom geleer dat hy te selfgesentreerd was.

En hier, as’t ware op die vooraand van die inhuldiging van sy paleis, bring die HERE hom terug aarde toe.

Dawid staan as ‘n heel ander mens van sy siekbed af op, gretig om nou aan almal te vertel hoe goed God vir hom was.

Wat ‘n inwyding van die paleis sou word waar koning Dawid en sy prag en praal sentraal staan, verander nou heeltemal van karakter.

Dawid skryf ‘n gedig, ‘n psalm, waarin hy getuig oor sy byna-doodervaring.

Hy skryf dit spesifiek vir die inwyding van sy huis, sien vers 1.

Dawid besef dat hy amper nie in hierdie huis sou gewoon het nie.

Die feit dat hy nou nog lewe, en die feit dat hy nou hierdie huis mag inwy, alles is net genade!

Alles in Dawid se lewe is net te danke aan God se reddingsplan.

 

(Tema: Die HERE bring Dawid by die afgrond van die dood

  • Die doel van Dawid se byna-doodservaring
  • Die uitkoms van Dawid se byna-doodservaring)

 

 

  • Die uitkoms van Christus se werklike doodservaring

Dit is opvallend dat toe ons Here Jesus sy byna-dood ervaring in Getsemane gehad het, hy nie soos Dawid met die HERE geredeneer het deur te sê: watter nut is daar as ek sterf?

Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil?

Ons moenie Jesus se byna-doodervaring onderskat nie.

Hy het gebid dat die lydensbeker aan Hom mog verbygaan (Matt 26:29).

Maar duidelik het Jesus besef dat daar wel ‘n voordeel in sy dood sou wees.

Hy het geweet dat Hy die Herder was wat vir die skape moes sterf.

Christus se dood het ongekende voordeel ingehou, vir God se kinders uit die Ou Testament, Dawid inkluis, en ook vir ons, gelowiges uit die heidene, in die nuwe bedeling.

Die HERE het Dawid deur ‘n kortstondige beproewing laat gaan.

Hy het hom op die afgrond van die dood laat balanseer.

Dit het sy blik op die lewe daarna totaal verander.

Hierin was Dawid ‘n voorafskaduwing van Christus.

Dit het die HERE behaag om sy eie Seun te verlaat, sodat Hy al die kwellings van die hel letterlik ervaar het.

Dit het die HERE behaag om sy eie Seun nie net ‘n byna-doodervaring te gee nie, Hy het selfs toegelaat dat die bande van die dood Hom beetpak.

Hy het letterlik gesterf.

Maar, soos ons al eerder gehoor het, sy toorn duur ‘n oomblik, sy goedheid duur vir ewig.

Op die derde dag het Hy sy Seun opgewek.

En sy plaasverangende dood het ‘n nuwe era in die wêreld gebring.

Dit was die allereerste begin van die herskepping van alle dinge.

So is Psalm 30 vervul.

So kan vers 13 letterlik waar word, as Dawid sing: HERE, my God, vir ewig sal ek u loof.

Christus het dit moontlik gemaak.

Hy het die skepping se roukleed uitgetrek, en dit vreugdeklere aangetrek.

Wil jy vir ewig lewe om God te loof en te geniet?

Beklee jou dan met Christus!

Christus gee jou nie die waarborg van prag en praal, van uitnemendheid en waardering in hierdie lewe nie.

Christus gee ook nie die waarborg dat elkeen van ons 90 jaar oud op aarde gaan word, en net vrede sal meemaak nie.

Christus gee jou wel ‘n wit kleed.

“Wie is hulle wat bekleed is met die wit klere ...?” 
“Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. (Openb 7:13-14)

Beklee jou met die kleed wat in Christus se bloed gedoop is (Openb 19:13).

“julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.“ (Gal 3:27-29)

Dit was die uitkoms van Christus se werklike doodservaring.

En dit was nie net ‘n gewone dood nie, maar ‘n dood tot in die hel.

Tog het Hy daardie ewige dood oorwin.

En so mag ons vandag lewe met die besef, dat ons dood wanneer dit kom, vroeër of later, nie meer ‘n straf is nie, maar ‘n deurgang na die ewige vreugde.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 42:1

Wet

Ps 42:2,4,5

Gebed

Skriflesing: Psalm 30

Ps 30:1-3

Teks: Psalm 30

Preek

Ps 30:4-6

Gebed

Kollekte

Ps 30:7,8

Seën