Die Skrif maak die engele en hulle optrede vir ons sigbaar

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2020-03-01
Text: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 12
Preek Inhoud: 

Tema: Die Skrif maak die engele en hulle optrede vir ons sigbaar

  • Kort samevatting van die aard en werkinge van die engele
  • Die voortreflike beskerming van die engele volgens Psalm 91

 

  • Kort samevatting van die aard en werkinge van die engele

Art. 12 van die NGB vestig ons aandag ook op ‘n werklikheid wat in die Bybel openbaar word, wat vir alle praktiese doeleindes volledig uit ons gesekulariseerde samelewing verdwyn het, en dit is die bestaan en die optrede van die engele.

Maak nie saak in watter beroep jy deesdae arbei, maak nie saak of jy studeer op skool of op universiteit, nêrens word die bestaan van die engele meer bely, en nêrens word daar meer met hulle werkinge rekening gehou nie.

Dit is dus ‘n punt waar ons as gelowiges se denke, ons wêreldbeeld, drasties anders sal moet wees.

Ook in die verlede was daar al hulle wat die bestaan van die engele ontken het.

Dink aan die Sadduseërs in die tyd van die Nuwe Testament (Hand 23:8).

Tog is die bestaan en optrede van die engele nie ‘n obskure iets in die Bybel nie, maar die hele Bybel is vol daarvan.

Die Skrif openbaar aan ons dat daar engele is, en hoe hulle is.

Hulle is in die begin ook deur God geskape.

Hulle is egter, in teenstelling tot die mense, almal gelyk geskape, en hulle aantal bly konstant.

Hulle is onsterflik, hoewel die wat in sonde geval het, die ewige straf of tweede dood soos die Skrif dit noem, te wagte staan.

Hulle is wesens wat, alhoewel hulle vir die menseoog onsigbaar is, tog baie kragtig en invloedryk is.

Hulle het ook ‘n selfbewussyn (sien Luk 1:19).

Hulle het ook gevoelens (sien Lukas 15:10).

Hulle kan ook praat (1 Kor. 13:1).

Hulle aanbid ook God (Heb 1:6).

 

Dan is daar onder die engele ook verskillende soorte.

Daar is gerubyne of gerubs (Heb 9:5), daar is serafyne of serafs (Jes 6:2).

Daar is owerhede, magte en trone (Kol 1:16).

Elkeen van hulle is deur God met ‘n spesifieke doel geskape.

In die Skrif lees ons van verskillende take wat God vir die engele bestem het.

Sommiges se spesialiteit is om boodskappers te wees.

Die woord ‘engel’ het ook daarmee te make.

Engel kom van die Griekse woord ‘angello’, wat beteken om ‘n boodskap oor te bring.

In Hebreeus is die woord vir ‘n engel mal’ag, wat ook boodskapper beteken.

Hulle is een en al gewilligheid om pylsnel te gaan waarheen God hulle stuur.

In die Onse Vader hou die Here Jesus hulle aan ons as ‘n voorbeeld voor:

Laat u wil geskied, in die hemel net so ook op die aarde.

Die engele is een en al gewilligheid, gehoorsaam aan God se wil.

 

Verder, behalwe vir hulle taak om boodskapper te wees, lees ons in die Bybel ook nog ander take wat God aan die engele opgedra het.

Hulle moet bewaak.

In Genesis 3:24 staan dat hulle die boom van die lewe moes bewaak, na die sondeval.

Ook bewaak hulle God se troon in die hemel, en sy ark op aarde.

Verder ontvang hulle in die Skrif van God die taak om sy oordele uit te voer.

Dink aan die engel van die dood in Egipte.

Dink aan die sewe skale van die grimmigheid van God wat die engele op die aarde moes uitgooi in Openbaring.

Ook sien ons in die Skrif dat die engele ‘n liturgiese taak het.

In die hemel loof en prys hulle God.

En dan het hulle ook die taak ontvang om te beskerm.

Hulle staan as knegte in diens van God se kinders, om hulle te beskerm.

Hebreërs 1:14 noem hulle “dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe”.

 

Dit is ook die boodskap wat tot ons kom in Psalm 91, wat ons vanaand gelees het.

 

  • Die voortreflike beskerming van die engele volgens Psalm 91

Ons weet nie wie die digter van hierdie psalm was nie.

Hy begin deur die HERE aan te spreek.

En daarna, vanaf vers 3, begin die digter die persoon direk aan te spreek wat die psalm lees of sing.

Die psalm sluit af deur in die laaste drie verse God direk aan die woord te laat in die eerste persoon.

Dit is die hoogtepunt van die psalm, as God diegene wat die psalm lees of hoor of sing, direk aanspreek.

 

Psalm 91 is ‘n psalm wat oor beskerming handel.

Beskerming wat ‘n mens by die Allerhoogste vind.

In sy skuilplek.

In sy skaduwee.

In sy bergvesting.

Pragtige beelde om te beskryf dat wie naby Hom bly, nie hoef te vrees nie.

 

Daarna skenk die digter aandag aan watter gevare daar is.

Die net van die voëlvanger – dit is ‘n onverwagte onsigbare gevaar.

Die digter bly by hierdie beeld as hy die HERE vervolgens vergelyk met die vlerke van ‘n voël.

Soos ‘n arend of ‘n hen haar vlerke sprei oor haar kuikens om hulle te beskerm.

 

Ook die nag word deur mense geassosieer met gevaar.

Die skrik van die nag …

Maar ook oordag kan daar skielik gevaar opduik, soos ‘n pyl wat bedags vlieg teen ‘n onkeerbare spoed.

Dan is daar nog die pes.

Deesdae gebruik ons nie meer die woord ‘pes’ so baie nie, ons praat deesdae van epidemies, of pandemies.

So dreig die coronavirus om ‘n pandemie wêreldwyd te word.

Dis soos ‘n tsunami wat aankom, en waarteen mens nie veel kan doen nie.

Maar ook dan, sê die psalm, is die HERE my toevlug.

Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand, na jou sal dit nie aankom nie.

Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie.

 

En dan, in verband met hierdie ongelooflike beskerming wat die HERE bied, noem die psalm dan die engele.

Die engele speel dus ‘n rol in die beskutting, die beskerming van hulle wat by die HERE skuil.

Dit begin by ‘n bevel wat God gee.

Die HERE gee volgens hierdie psalm aan sy engele bevel om jou te bewaar op al jou weë.

Let wel: ons lees hier die meervoud, nie enkelvoud soos in die uitdrukking beskermengel nie.

Daar is ‘n tallose menigte, ja tallose hemelse leërmagte wat jou beskerm.

Iets soortgelyks lees ons in Psalm 34:8: “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”

Hier word met die uitdrukking “Die Engel van die HERE” die Aanvoerder van al die hemelse leërmagte bedoel.

Ons weet uit die openbaring van die Nuwe Testament dat dit die Here Jesus Christus is.

Met sy ontelbare engele maak Hy ‘n laer rondom die wat Hom vrees.

Dit is geweldig bemoedigend om te weet dat daar ‘n ontelbare menigte engele is, wat die gelowiges beskerm.

 

Die feit dat daar ‘n meervoud, ‘n menigte aan engele is wat jou bewaar, maak ook sin as jy besef dat daar ook ‘n menigte vyande is.

Dink aan Elisa se dienaar, toe hy die beleëring van al die perde en strydwanes rondom die stad Samaria gesien het.

Dit het hom wanhopig gemaak, en hy het vir Elisa gevra: “Ag, my heer, hoe sal ons maak?”

Elisa het toe die HERE gevra om sy dienaar se oë oop te maak vir die werklikheid van die engelemagte.

En ons lees dan: “En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.” (2 Kon 6:16-17)

 

Meestal het ons met ons menseoë nie sig op hoe die HERE sy engele inspan nie.

Soms kan Hy een engel oor meerdere nasies aanstel.

Soms kan Hy ‘n menigte engele aanstel om een van sy kinders te beskerm.

Dit is wat ons hier in Psalm 91 lees.

Psalm 91 gaan oor jou en my, oor elkeen wat by die HERE skuil, wat Hom wil dien met hulle lewens.

En die HERE stel dus ‘n menigte engele ter beskikking.

Hy doen dit, want Hy sien baie meer gevare, ja al die gevare wat ons nie sien nie.

 

Hierdie bewaring word vervolgens nader omskryf:

Hulle, daardie engele van die HERE, sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.

Die engele se bewaring is ook nie insidenteel nie.

Die Psalm sê: op al jou weë (vers 11).

Daar is nie ‘n moment wat hierdie ‘lyfwagte’ God se kinders alleen laat nie, nie snags nie, nie oordag nie, nie tuis nie, ook nie buitenshuis waarheen jy ook al vertrek nie.

 

Vers 13 omskryf die beskerming nog verder in die vorm van ‘n parallelisme.

‘n Parallelisme is wanneer dieselfde gedagte twee keer herhaal word, maar met iets ander woorde.

Die engele se beskerming veroorsaak dat jy nie die prooi word van ‘n leeu of ‘n slang nie, maar eerder dat hulle jou prooi word.

Jy sal hulle kan vertrap.

 

Die psalm gaan dan verder deur te verduidelik hoekom die HERE hierdie beskerming bied.

Dit is omdat hy My liefhet.

Met ‘hy’ word bedoel: elkeen wat by Hom skuil.

Omdat hy die HERE se Naam ken.

Ken is hier nie net weet van nie, maar ken is hier sinoniem vir die HERE van harte dien.

Soos daar in vers 15 staan: Hy sal My aanroep – deel van die diens aan die HERE.

En die HERE beloof dat Hy daardie roepstem sal verhoor.

In die nood sal Hy by hom wees.

 

Gemeente, Psalm 91 vind ons nog ‘n keer terug in die Bybel, en wel in die Nuwe Testament.

En raai wie haal hierdie psalm aan?

Dit was die duiwel, wat die woorde van hierdie einste psalm gebruik het om Jesus te verlei.

Die duiwel is die grootste skelm, en juis hierdie lied wat die gelowiges beskerm teen hom en sy slinkse planne, juis hierdie lied misbruik hy nou.

Maar Christus het hom nie laat mislei nie.

Hy het die duiwel bestraf: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” (Deut 6:16)

Hierdie vers wat Jesus aanhaal kom uit Deuteronomium 6, uit die Torah, die wet wat die HERE gegee het.

Die HERE het sy wet juis vir sy volk gegee om hulle te beskerm.

Hy het sy kinders gemaan: As julle op die weë van my insettinge bly, sal dit goed met julle gaan.

Maar as julle daarvan afwyk, moenie verbaas wees as die onheil jou dan tref nie.

Dis presies wat Jesus hier vir Satan sê.

Satan het ‘n vers uit Psalm 91 uit konteks geruk, en los van die HERE se wet toegepas.

Jesus konfronteer Satan egter met die fynskrif uit God se wet.

Daar is nie ‘n waarborg van God se kant af, dat as Ek van die dak van die tempel afspring, dat die engele My op die hande sal dra nie.

Dit is nonsens.

 

Gemeente, so kan ons ook vandag Psalm 91 toepas, net soos Jesus.

As ons dinge doen wat teen die HERE se wet indruis, dan kan ons nie aanspraak op Psalm 91 se beskerming maak nie.

Soms sien mens ‘n motorkar ry met agterop ‘n stieker waarop staan: Protected by Psalm 91.

Is dit waar?

Sal daardie motorkar deur die engele altyd op die hande gedra word?

Wel, as daardie motorkar homself nie aan die verkeersreëls hou nie, dan geld Psalm 91 nie.

Dit is die duidelike boodskap wat Jesus vir Satan gehad het.

God se beskerming, sy voorsienige sorg, sluit ons verantwoordelike optrede nie uit nie, maar in.

Juis deur sy Woord en Gees maak Hy ons meer verantwoordelike mense.

 

Ons raak in ons denke dikwels vasgevang in die dilemma, òf God doen alles, òf die mens doen alles.

Welke posisie van hierdie twee mens ook kies, in beide gevalle gaan sit mens op God se troon.

Ons moet versigtig wees met verregaande uitsprake in hierdie verband.

Met ons verstand gaan ons nooit die verhouding tussen God se beskerming en ons verantwoordelikheid volledig besef nie.

As ons dit probeer doen, dan is ons aanmatigend.

Christus wys ons ‘n beter weg, naamlik om gehoorsaam volgens God se Woord te lewe, met die vertroue dat God alles ten goede sal lei.

God bly trou, ten spyte van ons ontrou.

 

Want ook ons, God se eie kinders, val nog daagliks in sonde.

Laat ons eerlik erken, ons kan nie God se wette volledig nakom nie.

In die sin werk God se wet, wat gegee is as beskerming, nie meer vir ons nie.

Maar God sy dank, deur sy genade het Hy sy Seun Jesus Christus gestuur.

Christus het ons skuld, ons straf, vir ons gedra.

Hy het dit vir ons verdien, dat die engele ons weer op die hande dra, al was ons uit onsself nie meer daarop geregtig nie.

Toe die mensdom in opstand gekom het teen sy Skepper, toe het daar ‘n staat van oorlog ontstaan, ook tussen die mensdom en die goeie engele.

Alle kommunikasie is verbreek.

Die engelewêreld het vir ons onbereikbaar, onsigbaar geword, ja selfs ‘n vyandelike mag.

Maar deur God se genade, verdien deur Christus, herstel Hy hierdie engelebeskerming om ons.

Ja Christus het alle vyandskap weggeneem.

Danksy Hom is die engele weer ons bondgenote.

Ons lees in Efesiërs 1:10: God werk daarnatoe om nou “alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig”.

 

Dit is waarheen ons oppad is.

Dit is die heerlike toekoms waarvan ons ‘n glimps kry in die laaste Bybelboek, waar engele saam met die skare mense wat niemand kan tel nie, saam sing tot eer van die Lam.

 

Maar tans is die pad daarheen nog ‘n smal pad.

En tans is daar nog steeds gevare op daardie pad.

Meer gevare selfs as wat ons besef.

Johannes Calvyn skryf oor Psalm 91: ons besef nie hoe hard die engele vir ons werk nie.

Ons besef nie hoeveel struikelblokke hulle wegrol en strikke wat Satan vir ons span, hulle sorg dat ons nie daarin beland nie.

Dit kom as gevolg van ons eie swakheid en sondigheid aan die een kant.

Aan die ander kant ook die moeilikheidsgraad van die smal pad, wat vol rotse, kranse, dorings en distels is.

Die van ons wat al ‘n moeilike staptog of bergbeklimming gedoen het, sal weet hoe dit is.

So is die lewe van die gelowige op die smal pad ook.

Maar, en dit is die belofte wat die Here ons gee, as ons nie tou opgooi en terugkeer na die breë pad nie, as ons op die smal pad bly, dan sal sy engele daar wees om ons op die hande te dra, sodat ons ons voet nie teen ‘n klip stamp nie.

Sodat ons betyds die pofadder sien wat daar op die paadjie lê.

Sodat selfs die leeu en jongleeu ons niks sal kan maak nie!

En as ons soms op die smal bergpaadjie struikel en val dat ons knieë bloei, dan sal God sorg dat ons nie so hard val dat ons bly lê nie.

Hy sal hierdie val juis gebruik om ons weer te oortuig dat ons in onsself swak is, en die beskerming van sy engele nie kan ontbeer nie.

 

Psalm 91 sluit af met ‘n pragtige hoogtepunt.

Daar sê die HERE in die eerste persoon: Ek sal hom uitred, en selfs aan hom eer gee.

Onverdiende genade. Onverdiende eer.

Wat ‘n voorreg.

En dan sluit die psalm af met ‘n hoogtepunt, waar die HERE toesê:

Met lengte van dae sal Ek hom versadig.

Ek sal hom my heil laat sien.

Hierdie woorde is in Christus meer as vervul!

In Christus weet ons dat lengte van dae nie net dui op ‘n lang lewe nie, maar selfs op die ewige lewe.

En heil dui nie net op redding en geluk hier en nou nie, maar die heil wat Christus vir ons verdien het, dat ons eendag in geluksaligheid met Hom sal lewe, en Hom as Koning sal dien op die nuwe aarde.

Dit is ons eindbestemming.

En noudat ons nog op pad is daarheen – die smal pad – span God die engele in om ons op daardie pad te bewaar, en te verseker dat hulle wat God liefhet, daardie eindbestemming sal bereik!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum (sing Ps 121:1)

Seën

Ps 91:1-3

Gebed

Skriflesing: Psalm 91

Ps 91:4-6

Teks: Leerdiens oor tema in NGB art. 12

Preek

Ps 34:4,5,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 91:7,8

Seën