Paulus wys ouderlinge op hul roeping en op die troos wat dit vir hulle inhou.

Minister: 
Ds. R Pos
Church: 
Pretoria
Date: 
2019-11-17
Text: 
Handelinge 20: 28-32
Preek Inhoud: 

Gemeente van onse Here Jesus Christus. Broeders en susters, jongmense. Broeders ampsdraers. Moontlik het jy reeds 'n paar termyne in die gemeente in die amp gedien. En moontlik sou jy verkies het om liewer nog een of twee jaar ekstra vrygestel te word van die amp van diaken of ouderling. Maar jy besef: Hierdie werk is nie iets wat jy self kan kies nie. Jy word daarvoor geroep! Die Here roep jou om met die gawes wat jy van Hom ontvang het, in die spesiale amp te dien.

Dit is belangrik om in dié oproep, die Here se stem te herken. Dit is belangrik om ernstig te luister na wat die Here aan jou voorhou. Soos byvoorbeeld met die woorde wat Paulus aan die nog baie jong Timoteus skryf. Dit is eervol as jy jou oopstel vir ampsdiens en vir die implikasies daarvan. Ek haal aan (1 Timótheüs 3:13): "Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle ‘n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus." Jy doen jou ampsdiens nie terwille van hierdie voordele nie. Maar dit is wel 'n belofte van die Here. 'n Belofte wat jou kan help om nie al sugtende jou ampswerk te verrig nie.

In ons teks handel dit spesifiek oor die amp van die oudstes van Éfese. Amp en gemeente hoort bymekaar. Ons mag nooit hierdie twee dinge skei nie. Hulle hou verband met mekaar. Hulle bestaan nie onafhanklik van mekaar nie. Amp en gemeente. En dit beteken dat as ons vanoggend ernstig luister na die Woord van die Here, ons almal daarin aangespreek sal word. Ampsdraers sowel as gemeentelede.

Paulus wys ouderlinge op hul roeping en op die troos wat dit vir hulle inhou.

Gemeente van onse Here Jesus Christus. Lukas vertel wat gebeur het toe Paulus van Griekeland na Jerusalem op reis was. Paulus was haastig en het daarom besluit om nie by  die stad Efese aan te gaan nie. Ongetwyfeld sou hy homself nie weer so maklik kon losmaak van die gemeertelede waarmee hy in die verlede soveel te doen gehad het nie. Hy gaan by Efese verby. Tog neem hy tyd om die ouderlinge van Efese na die strand by Milete te ontbied. Hy kan daar met hulle praat en dan onmiddellik weer verder per boot reis.

Hierdie ontmoeting op die strand handel oor meer as slegs 'n afskeid. As ons let op Handelinge 20:17, sien ons dat Paulus ‘n boodskapper na Efese gestuur het met die versoek aan die ouderlinge van Efese om hom op die strand te ontmoet. Maar dit was nie 'n opsionele versoek nie. Daar staan leterlik dat Paulus hulle ontbied het. En dit beteken dat alles wat Paulus aan hulle sal sê, die krag van 'n goddelike woord het. Dit is nie slegs Paulus se persoonlike gedagtes of opsionele advies nie, maar dis die woord van die Here. En in dié konteks is dit goed om eers aandag te gee aan hoe Paulus hierdie ouderlinge aanspreek. Hy sê baie duidelik dat die Heilige Gees hulle as opsieners aangestel het oor die kudde, naamlik oor die gemeente van die Here Jesus.

Ek weet dat sommige broers moeite ondervind met die gedagte dat hulle deur God self aangestel is. Hulle is tog deur die gemeente verkies, nie waar nie? Is dit nie ‘n veels te groot uitspraak nie as mense sê: Deur God Self aangestel? Ja, die gemeente kies. En as ons realisties is, dan besef ons dat dié keuse op allerhande oorwegings kan berus. Beide goed en sleg. Die keuse van sommige mense berus selfs op niks meer as gerugte nie. Hoe kan ons dan sê dat diegene wat verkies is, deur God geroep is?

Tog stel die formulier van die bevestiging van ampsdraers heel spesifiek die vraag: "Is jy daarvan oortuig dat God self jou deur sy gemeente tot hierdie diens geroep het?"

Ek gaan 'n belangrike aanhaling lees uit art  31 van die NGB. Dit handel oor die wettige verkiesing van ampsdraers deur die gemeente. Daar staan: “Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.“ Daar sien ons, broeders en susters, dat ampsdraers, wat wettig verkies is tot die amp, deur God self geroep is. Dit is hoe ons belydenis dit stel. En dit is nie so vreemd nie, want dit is ook hoe Paulus die ouderlinge van Efese aanspreek. Hulle word aangespreek as opsieners van die gemeente, aangestel deur die Heilige Gees om toesig te hou.

Waarom beklemtoon ek vanoggend hierdie aspek van die amp? Omdat ons slegs deur hierdie manier van luister na die Woord van die Here, die regte waardering vind oor ons denke oor die besondere amp. Daardie amp waarin vanoggend ‘n aantal broeders bevestig word. Want dit is volledig uit pas met die denke van ons tyd, en moontlik ook met ons eie gevoelens. Maar dit is hoe die Woord van die Here daaroor spreek. Broeders en susters, ons bevestig nie vanoggend ‘n aantal broeders wat die gemeente verteenwoordig nie. Hier is geen nuwe broeders wat die menings van die gemeente binne die kerkraad verteenwoordig nie. Nee, hier is ‘n aantal manne wat deur die Here self aangewys is om Hom te dien in die midde van ons gemeente. En daarom meld NGB art 31 'n bietjie verder dat ons daarom ‘n besondere agting moet hê vir die werk wat hierdie broeders verrig. Elkeen moet sonder murmurering, twis of tweedrag, soveel moontlik in vrede lewe met ons ampsdraers. Dit is 'n tweesydige opdrag vir ons as gemeente en vir die ampsdraers van ons gemeente!

Wat die gemeente betref, sê Paulus nog iets meer. En dit is nie verwonderlik dat hy nie die gemeentelede direk aanspreek nie. Want die gemeentelede is nie op die strand van Milete aanwesig nie.

Daar, op die strand van Milete, verduidelik Paulus dit aan die ouderlinge van die kudde waaroor die Here hulle as herders aangestel het. Hy rig hom tot die gemeente van God. En dan handel dit natuurlik oor daardie spesifieke gemeente in Efese. Maar net soos die Here destyds die gemeente vergader het, so vergader die Here ook vandag ons as die gemeente hier in Pretoria. Daar is geen verskil nie. Wat Paulus daar op die strand aan die oudstes van Éfese sê, kan mens sonder enige voorbehoud toepas op vandag. Dit handel immers oor die kerk van God wat Hy verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Dit het die eiendom van die Here geword omdat Hy die volle prys daarvoor betaal het. En as Paulus dit sê oor die gemeente van Efese, dan is dit tog vandag presies dieselfde evangelie wat ons elke Sondag hier in Pretoria hoor. Ons is ‘n gemeente van Christus! Dit is hoe ons aangespreek word. Ons is eiendom van die Here. Presies dit wat Paulus sê.

Kan ons daarom verstaan, broeders en susters, dat die opdrag wat ons ampsdraers ten opsigte van ons gemeente het, ‘n besondere opdrag is? Dit betref immers 'n opdrag ten opsigte van die bruid waarvoor die Here Sy lewe gegee het. Die bruid van Christus. En die Here Christus gaan baie sorgvuldig met Sy bruid om. Dit kan ook nie anders nie!
En dit verskaf die regte denkraamwerk van die opdrag waarmee ons teks begin: "Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het......" Die kudde is ‘n kosbare skat van die Here.

"Gee dan ag op julleself en die hele kudde." "Want," sê Paulus, "ek weet dat na my vertrek manne sal opstaan wat verkeerde dinge sal sê om die dissipels weg te trek agter hulle aan. “Woeste wolwe”, is hoe Paulus hierdie mense kenmerk. Nee, hulle sal waarskynlik nie so lyk nie. Dit is dikwels baie liefdevolle mense. Hulle voorkoms lyk baie soos dié van die skape. Anders sou hulle geen wegspringplek in die gemeente kon kry nie. Maar hul doel is slegs om die skape te verskeur. 'n Wolf dood en verskeur sy prooi slegs vir homself. Die wolf het geen belang by die welsyn van die skape nie. Maar die wolf is slegs gerig op sy eie voordeel. So 'n wolf sal die skape eenvoudig daarvoor opoffer. Al kan hy sy persoonlike idees besonder welsprekend en sensitief onder woorde bring en voordra.

Ek kan my goed voorstel dat daar onder ons mense is wat meen dat Paulus se woorde in die algemeen wel waar kan wees. Maar dat dit vir ons hier in Pretoria slegs ‘n geringe praktiese waarde het. Kan daar werklik wolwe onder ons voorkom? Asook valse leer? Maar wie is dan wolwe of watter valse leer is dan aanwesig? Ander sal hierdie bedreigings bevestig. Ja, neem ons sinode wel altyd goeie besluite? Gee dit nie eerder te veel ruimte nie? Wat van die alternatiewe nagmaals formulier? En wat van die invoering van addisionele gesange?

U sal verstaan dat ek in die preek oor vanoggend se teks nie al hierdie sake kan hanteer nie. Dis ook nie die onderwerp van die teks nie. Wat Paulus wel sê, is dat die ouderlinge na hulleself en die hele kudde moet omsien. Omdat daar, wat Éfese betref, in die toekoms aanvalle op die gemeente sal plaasvind. En dan sê Paulus in ons teks nie presies hoe jy moet optree in geval van dwaalleer nie. Maar hy hou die oudstes wel voor dat hulle hul daarop moet voorberei. Ons kan mos nie valse leer herken sonder kennis van die ware leer nie?

Daardie dinge kan ek konkreet maak. En dan spreek ek eerstens die geroepe ampsdraers aan, maar nie slegs hulle alleen nie. Brs, hoe sou julle ooit in staat wees om dwaalleer te herken, en hoe sou julle ooit kan weet watter voedsel die gemeente nodig het anno 2019, as julle geen kennis dra van die Woord van die Here nie? As Paulus die oudstes van Éfese oproep om vir hulself te sorg, dan bedoel hy nie dinge soos om genoeg bedrus te kry, en om ook tyd vir ontspanning in te ruim nie. Nee, dit handel hier hoofsaaklik oor toerusting. Vir ons beteken dit dat ons die Bybel getrou moet lees. En voortdurend moet bid. En moet besin oor wat die Here ons sê in sy Woord.

En dit beteken vervolgens dat ons nie alle nuwe ontwikkelinge kan toets aan ons eie gevoelens of aan die meerderheidsgevoel in die kerk nie. Maar ons moet dit toets aan die Woord van God. En as Paulus praat oor sorg dra vir die hele kudde, dan bedoel hy presies dieselfde. Want dit is nie so dat die kerk van die Here bestaan uit ‘n spul dom skape en 'n paar alles wetende herders nie. Nee, die kerklidmate sal hulleself ook moet toerus. En dit is waarvoor die ouderlinge moet sorg dra. Want die aanvalle van wolwe en dwaalleraars is gerig op die gemeente. En lidmate van die kerk sal die regte toerusting moet ontvang om getrou die weg te kan navolg waarheen die Here dit wys. Toerusting is dus ook bedoel vir die gemeente. Aangemoedig en gelei deur ampsdraers. Hulle is immers verantwoordelik om goeie weiding aan die gemeente te voorsien. Sodat die gemeente goeie en voedsame voedsel ontvang. Presies daardie voedsel wat nodig is om gesond te bly. Om die rykdom van God se beloftes aan die volgende geslag deur te gee. Aan die kinders. Sodat dit ook suiwer deurgegee kan word.

En dan kan ons aan onsself 'n paar vrae stel. Wat van ons Bybelstudie? Gaan die Bybel saam met ons as ons vroeg Maandagoggend na alle moontlike bestemmings afreis? En watter boeke lees ons in die algemeen? Onthou jy nog daardie boek wat jy destyds as belydenisgeskenk ontvang het? Of staan dit nog steeds onaangeraak op jou boekrak – vol met jare se stof? Is dit reg dat ons ure bestee om ‘n spannende riller-verhaal te lees. Is dit reg om ure na die TV te kyk of om in die tuin te werk en dan slegs 'n paar minute te bestee aan boeke wat ons die weg na die ware lewe moet aanwys? Vaders en moeders: hoeveel van die geloofsopvoeding van julle kinders neem julle vir jul eie rekening en hoeveel laat julle oor aan ander? Hoeveel laat julle oor aan die skool? Of aan die kerk? Help julle jul kinders om iets van die preek te verstaan, of beskou julle dit as die predikant se probleem? En wat van daardie broer of suster, wat in sonde leef, is dit iets wat slegs die ouderlinge moet hanteer? Omdat dit immers hulle werk is? Of het jy dan nie presies dieselfde Woord van die Here ontvang nie? Het jy self ook nie 'n taak daarin nie?!

Sorg vir julleself, sê Paulus vir die ampsdraers. Dit beteken: Ontwikkel jouself en sorg dat jy goed toegerus is vir jou taak om verantwoordelikheid te kan dra vir die gemeente van die Here hier in Pretoria. En om paslike leiding te kan neem. Hou ook toesig oor die gemeente. Dit beteken: sorg dat die gemeente die nodige toerusting ontvang om 'n getroue gemeente van Christus te bly. Ons moet ons almal deur hierdie woord van Paulus laat aanspreek. En dat ons dit ook sigbaar sal maak in hoe elkeen van ons op ons eie plek hierdie diens vervul. Laat ons byvoorbeeld let op die wyse waarop ons oor die gemeente praat. Ook op die manier waarop ons oor ampsdraers praat. Omdat dit 'n amp is wat deur die Here God ingestel is. Ten behoewe van ons, ‘n genadewerk wat gerig is op ons welsyn. En ter wille van die toekoms van ons kinders.

Gemeente van onse Here Jesus Christus. Brs ampsdraers. Julle word dus deur die Here aangestel. Om toesig te hou oor die gemeente en om te waak teen gevare. Om die gemeente voor te berei op die koms van wolwe. Dit is valse leraars wat die gemeente wil verwoes. En dit alles in 'n tyd waarin almal hard moet werk om kop bo water te hou. En in 'n tyd waarin daar steeds minder agting is vir ouderlinge en diakens. As gevolg daarvan is dit nie verbasend dat dit in vele gemeentes van die Gereformeerde kerke al hoe moeiliker word om broeders te vind wat bereid is om in die spesiale amp te dien. Want om ampsdraer in die kerk te wees is nie meer so aantreklik nie. Verder, moet ons tot ons skaamte konstateer dat daar steeds minder broers is wat bekwaam is om geroep te kan word tot die amp. Hoeveel jong broers skep ruimte in hul lewe wat dit moontlik sal maak dat hulle te syner tyd deur die Here ook tot ampsdraer geroep kan word? Maar as ware kennis ontbreek broeders, dan lei dit uiteindelik daartoe dat standpunte ingeneem word nie op grond van Skriftuurlike argumente nie, maar op grond van gevoelens. Of op grond van tradisie: dit was nog altyd so en daarom moet dit nie verander nie. O ja, die navolg van tradisie het beslis sy voordele. Maar ook nadele. Vashou aan tradisie kan wel gevaarlike ontwikkelings afrem maar tradisie kan uiteindelik geen dwaalleer weerhou nie. Omdat tradisie geen norm bied waarvolgens ons tussen waar en vals kan onderskei nie. Tradisie alleen bied nie antwoorde op alles nie.

Ja, in die tyd van Paulus was omstandighede dalk anders. Maar regtig nie makliker as vandag nie. U kan daarvan seker wees. Het Paulus dit nie voorsien nie? Dat selfs mense uit die midde van die gemeente sal opstaan om hul eie volgelinge om hulle te versamel. Ten koste van die gemeente. En dit maak die situasie vir ampsdraers buitengewoon moeilik. Is dit nie baie moeilik om op te tree teen broers en susters, wat mens baie goed ken nie? Is dit nie baie moeilik om aan mense met wie ons reeds baie beleef het, die waarheid duidelik en skerp te moet sê nie?

Ek dink, brs en srs, dat dit nog altyd moeilik was om in die amp te dien. Ek is seker dat ampdraers in alle tye soms die gevoel kry dat hul werk vrugteloos is. Ek is seker dat vroeër of later alle ampsdraers die gevoel kry: ek is geroep tot iets waarvoor ek absoluut onbekwaam is. Ek moet iets doen, maar ek kan dit glad nie doen nie. Lees ‘n slaggie weer hoe  Paulus homself as voorbeeld stel. Dis nie baie bemoedigend nie. Ampsdraers is geroepe om te waak - net soos Paulus. En dan herinner Paulus die Efesiërs daaraan hoe hy dag en nag in hulle midde gewerk het. En dat dit hom baie trane gekos het. Paulus moes hard werk. Mens kan jou voorstel dat jou wykouderling of wykdiaken daarom soms met skuldgevoelens te kampe het as hy ook nog die weeklikse kooroefening bywoon. Of as hy op Saterdagmiddag tuinwerk doen. Omdat daar nog soveel onafgehandelde werk is wat hy as ampsdraer moet doen. Beide wat sy eie toerusting betref, asook besoeke in die wyk. Om mense te bemoedig of om hulle te vermaan.

Paulus stel homself as voorbeeld. Om ons te stimuleer om die werk getrou en met vreugde te doen. Maar beslis nie om ampsdraers die moed te ontneem nie. Paulus het dag en nag in Efese gewerk. Dit is absoluut waar. Maar noudat hy van Griekeland na Jerusalem op pad is, kies hy doelbewus nie die roete deur Efese nie. Hy ignoreer letterlik die gemeente. Alhoewel hy ongetwyfeld baie goeie kontakte daar gehad het. En hoewel hy ongetwyfeld ook geweet het dat baie kerklidmate teleurgesteld sou wees as hulle hoor dat Paulus nie die moeite doen hulle te ontmoet nie. Maar Paulus is haastig. Hy wil, soos ons in die hoofstuk kan lees, voor Pinkster in Jerusalem wees. En as hy eers nog Éfese aandoen, dan is dit verseker onmoontlik.

Daarin sien ons, broers en srs, dat Paulus duidelike prioriteite stel. Hy is bereid om dit te doen. Hy loop die risiko om mense teleur te stel omdat hy van mening is dat dit noodsaaklik  is om betyds in Jerusalem aan te kom. En dit dien vir ons as voorbeeld. Ons mag prioriteite stel. Ons mag sekere sake nalaat as ander sake belangriker is. Ons hoef nie die verwagtinge van kerklidmate slaafs na te volg nie. Amspsdraers mag die gemeente dien, maar terselfdertyd moet hulle besef dat die gemeente nie hulle kliënt is aan wie se verwagtings hulle moet voldoen nie. Want eerstens dien ons die Here God. En daarom is dit belangrik om op te kyk na God. Ons moet ons nie rig op mense nie, maar op God. Op ons Opdraggewer. Op 'n sekere manier rig  Paulus hom in sy spreke tot die ouderlinge uiteindelik op God. Hy spreek steeds tot die ouderlinge op die strand van Milete. Maar dan sê hy: "En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade." Dit beteken nie dat Paulus vir hierdie oudstes ‘n goeie woordjie sal doen by die Here nie. Nee, Paulus sê dat hy in sy gebed hulle en hulle werk voor die troon van die Here sal neerlê. Hy sal vir hulle bid. En Hy sal die Here herinner aan Sy beloftes wat Hy gegee het. Die woord van sy genade, soos Paulus dit noem. Die Belofte dat die Here self vir sy kudde sal sorg. Die Here laat dit nie aan mense oor nie. Nee, die Here gebruik mense. Maar dit bly Sy saak. Die Here sorg vir sy gemeente. Die gemeente is immers sy eiendom?

Paulus lê die werk van die ampsdraers van Efese aan die Here voor en maak dit vir hulle duidelik dat hulle nie self in staat is om die gemeente op te bou nie. Slegs die Here kan dit doen. Ampsdraers het 'n belangrike en verantwoordelike taak. Maar dit is 'n beperkte taak. Hulle moet getrou wees en aan die gemeente leiding gee en geestelike voedsel voorsien. Maar dit is en bly die Here wat die wonder van groei gee. Dit gee ons 'n groot gemoedsrus dat ons, brs en srs, mag weet dat wat groei betref, ons volledig van die Here afhanklik is. Nee, dit doen nie af van die getrouheid wat die Here van ons vra nie. Maar dit laat ons wel besef hoe beperk ons is. Ons bou nie die kerk nie, maar dit is die Here se werk. Ons hoef nie 'n groot en bloeiende gemeente hier in Pretoria te verseker nie. Die Here vereis slegs dat ons gehoorsame diensknegte moet wees.

Slegs die Here bewerk die wonder van opbou en groei. Net soos die Here uiteindelik die enigste is wat kan gee wat Hy beloof het. Ouers kan nie aan hul kinders vergifnis van sonde gee nie. Hulle kan ook nie aan hul kinders die ewige lewe gee nie. Net so min kan ouderlinge en diakens gee dit wat die Here aan ons belowe nie. Hulle kan dit slegs verkondig. Maar slegs God gee dit. En weer: dit gee ons 'n geweldige rus. As ons so opkyk na God. En  ons moet doen wat Paulus gedoen het: Om die ouderlinge op te dra aan die Here. En om mekaar op te dra aan die Here. En as ons dit doen dan is ons nie soos vreemdelinge wat by 'n onbekende God pleit oor 'n privaat saak nie. Nee, ons kom na God toe as manne wat die taak wat God aan hulle gegee het, wil uitvoer. 'n Taak wat alles te make het met die welsyn van die bruid van Christus. En sou die Here God dan nie ons gebed verhoor nie? As ons na Hom toe kom in die Naam van sy Seun?

Laat ons almal getrou wees. Elk met die uitvoering van hul eie taak. Veral ook in ons opregte gebed vir mekaar. En sou dit nie wonderlik wees nie, jongmense, dat ook julle daaraan kan deelneem nie? Om te bid vir die ouderlinge en diakens. En dan mag ons vertrou dat die Here oor ons, oor sy kudde, sal waak.

En wat van die ouderlinge? Ja, hulle mag en moet ook waak in opdrag van die Here. Die ouderlinge moet dit ook doen met die oog op die jongmense. Want dit is belangrik met die oog op die toekoms. En nie slegs vir vandag nie. Ons moet ook verder kyk na môre en oormôre. Na die jeug van die kerk. En na kinders wat nog gebore moet word. Want dit is absoluut seker: die Here soek die belang van sy bruid, broers en srs. Hy soek nie slegs  die welsyn vir ‘n gedeelte van sy Bruid nie, maar vir sy hele Bruid wat Hy gekoop het met sy eie bloed.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Psalm 34: 1

Wet

Psalm 34: 6,7

Gebed

Skriflesing: Handelinge 20: 13-38

Psalm 27: 3,4

Teks: Handelinge 20: 28-32

Preek

Psalm 111: 1,2,5

Formulier vir bevestiging van ampsdraers

Psalm 134: 1,2 (gemeente)
Psalm 134: 3 (ampsdraers)
Psalm 134: 4 (gemeente)

Gebed

Kollekte

Skrifberyming 35:3

Seën